Читать книгу 7 Dae - Деон Мейер - Страница 15

10

Оглавление

“Antwoord, asseblief,” sê Alexa met ’n ironiese glimlag.

Hy haal sy selfoon uit.

CARLA.

Hy staan op en loop na die eetkamer terwyl hy antwoord. “Hallo, Carla.”

“Fritz wil ’n tatt kry, Pappa,” sê sy dogter in haar beskuldigende ek-is-die-ouer-slimmer-suster-stem.

“ ’n Wát?”

“ ’n Tattoo. Oor sy hele arm.”

Sy kop nog nie heeltemal by die gesprek nie: “Watse tattoo?”

“Pa! Dit maak nie saak nie. Hoe gaan hy lyk op veertig?” Asof dit die ouderdom van verdoemenis is.

“Carla, ek … Waar kom dit nou vandaan?”

“Dis vandat hy vir Jack Parow speel, Pa. Ek is bekommerd oor hom.” Die moederlike Carla, ’n nuwe verskynsel sedert die egskeiding – sy ontferm haar nou graag oor haar pa en haar broer.

“Nee, ek bedoel hoe weet jy?”

“Hy’t my gebel, netnou. Hy sê hy gaan in die week na ’n tattoo parlour toe. Dis so … voorstedelik …”

“Ek sal met hom praat, dis net nou moeilik …”

“Shame, Pappa, is Pappa besig?”

“Ja. Bietjie van ’n dringende saak.”

“Ai. Moenie te hard werk nie, ek dog net ek sê vir Pappa.” Terug in haar gewone, bruisende, lewenslustige modus. “Sien Pappa volgende week?”

“Julle moet laat weet waar julle wil gaan eet.”

“Ek sal. Maar nie saam met ’n kind met ’n tatt nie. Lief vir Pappa.”

“Vir jou ook,” sê hy, en dan is sy weg met ’n vrolike “bye” en hy staan ’n oomblik om tot verhaal te kom. Hy loop terug kombuis toe, gaan staan in die deur, wydsbeen tussen twee wêrelde.

Ingedagte sê hy: “Fritz wil ’n tattoo kry.”

Alexa Barnard vee die blonde hare met haar hand uit haar gesig, en dan kom die lag vinnig oor haar. Haar kop omhoog, die geluid diep en oorrompelend en, klink dit vir Griessel, met heelwat verligting.

* * *

Die Chana-paneelwa ry by die Seepunt-biblioteek se parkeerterrein in, dan net regs van die Burgersentrum verby. Heel agter, vlak langs die M6 Westelike Boulevard, stoot dit agteruit in die laaste parkeerplek in, sodat dit maklik en vinnig sal kan uitkom.

Die sluipskutter skakel die enjin af, verlig oor die meevallers: Dié parkeerterrein is heeltemal leeg op ’n Sondagoggend. In die twee kantspieëls buite kan hy die vaal, oop stuk grond agter die voertuig sien, en dan die lang, geteerde rolbalklub-parkering waar ’n klompie motors meer as sestig meter van hom af staan. En reg langs die Chana, die skuiling van melkhoutbome tussen hom en die M6. Die blare en takke is stil. Daar is feitlik geen wind nie.

Deur die gaping tussen die twee bome kyk hy na die Groenpunt-polisiestasie anderkant die dubbelpad. Honderd-en-dertig meter, volgens sy Google Earth-berekeninge. ’n Lang skoot vir dié kaliber, vir sy vaardighede. Maar sy groter probleem is die SAPD-gebou se hoë heining. Sy enigste onbelemmerde uitsig op die ingang is deur die breë voorhek. Dit vernou sy uitsig dramaties, dit gee hom baie min tyd om ’n teiken te volg. Hy sal moet wag tot ’n polisieman na die deur toe stap, daardie oomblik wanneer hy talm om dit oop te trek …

En dan is daar die verkeer op die M6. Die trajek is bo-oor gewone motors, maar ’n bus of ’n vragmotor kan die skoot afkeer. En deur die klein opening in die Chana se sypaneel is sy gesigsveld te klein om tydsberekening te verfyn.

Maar hierdie posisie is die enigste veilige opsie.

Hy bespied ’n laaste keer die omgewing. Hy is bewus van sy hart wat versnel, van sy wit kneukels op die stuurwiel. Hy is teleurgesteld. Hy het gedink hy sal die tweede keer kalmer wees.

* * *

Alexa sê vir Griessel sy het gehoor, in sy gesprek met Carla, dat hy ’n dringende saak het. Met die selfironiserende glimlag van die gevalle alkoholis sê sy sy het reeds vir mev. Ellis, haar A.A.-borg, gebel. Hy hoef nie bekommerd te wees nie, sy sal nie vandag weer drink nie. Hy moet gaan werk, hy kan haar vanaand of môre of wanneer hy ’n tydjie het, kom vertel van dit alles. En dat hy asseblief nie moet dink dit was sy skuld nie.

Sal sy asseblief vir Lize Beekman en Anton Goosen bel en namens hom om verskoning vra?

Dis onnodig, sê sy. Hulle is oorstuurde aanhangers gewoond.

Asseblief, vra hy.

Sy sal. Maar net as hy nou gaan werk.

Hy bel vir Mbali, en ry om haar te gaan ontmoet by ’n Groentemarkplein-straatkafee.

Hy is voor haar daar, sien die Zoeloe-speurder tussen die toeriste deur aangestap kom. Die kort, ronde, koddige lyf met die houding wat sê “moenie met my mors nie”. Sy is, soos altyd, in ’n swart broekpak geklee. Die groot swart handsak oor haar skouer, die Beretta 92FS aan haar heup, die SAPD-eieningskaart aan ’n band om haar nek vir die wêreld om te sien. Die oordadige donkerbril. En deesdae die wit serp, om die littekens te verbloem.

Hy voel ’n deernis vir dié vrou. Dalk omdat sy ’n sekere heldeverering vir hom het. Sy glo vas hy het haar lewe gered, maande gelede, toe sy geskiet is en hy die verskriklike wond aan haar nek toegedruk het tot die ambulans opgedaag het. Maar ook omdat daar heelwat SAPD-lede in die Kaap is wat ’n renons in haar het, want sy is uitgesproke en feministies, sonder skroom krities, pedanties en tydsaam. Sy hou haar mond vir niemand nie en haar selfvertroue grens soms aan die onaanvaarbare. Hy dink dit het alles te doene met die byna eksklusiewe manswêreld van die speuromgewing, en haar voorkoms. As dié persoonlikheid in ’n skraal, aantreklike pakkie gekom het, sou hulle tou gestaan het om saam met haar te werk. Sou hulle gesê het sy verdien haar bevordering na die Valke. Miskien is dit omdat hy ’n alkoholis en ’n fokop is dat hy met haar kan identifiseer. Omdat hy weet hoe dit voel as mense agteraf vir jou lag. Miskien is dit sy ervaring – ná ses-en-twintig jaar in die Mag weet jy goeie, betroubare speurders is skaars, dit maak nie saak in watter vorm hulle kom nie.

“Hi, Bennie.”

Hy staan op, groet haar, wag dat sy sit.

Sy doen dit met ’n sug, plaas haar handsak op die stoel langs haar. Sy vroetel daarin, bring ’n dun dossier te voorskyn, trek ’n enkele vel papier daaruit en plaas dit voor hom.

“This is for you.” Dan skuif sy haar donkerbril tot op haar voorkop en haar oë soek fronsend na ’n kelner.

* * *

Die Groenpunt-polisiestasie is stiller as wat die sluipskutter verwag het. Daarom wen die veer van spanning stadigaan stywer in hom: Hoe lank kan hy hier sit met die oop skietgat, die geweer in sy hande, voor iemand iets opmerk – iemand wat verbystap, ’n motor wat hier reg voor hom van die M6 aftrek? Dit is die onvoorspelbaarheid, die toevalligheid, die dinge waarvoor niemand kan beplan nie, wat die grootste risiko meebring. Hy weet dit. Hy het in sy voorbereiding, sy navorsing, sy herdink en deurdink elke keer by dié waarheid uitgekom. Die oplossing is om die invloed van die noodlot ten alle koste te beperk. Moenie oorgretig of te selfversekerd raak nie. Moenie hulle onderskat nie. Moenie talm nie. Moenie enige kanse vat nie.

Hy soek na die euforie van gistermiddag, daardie lighoofdige hutspot van verligting en genoegdoening en selftevredenheid – hy het hulle uitoorlê, hy het weggekom, hy het teruggeslaan. Toe het hy geweet sy strategie is meesterlik, onfeilbaar. Maar nou vreet die twyfel weer. En die vrees om betrap te word.

’n Wit SAPD-sedan ry by die hek daar oorkant in.

Nog adrenalien.

Hy leun met sy wang teen die geweer, kyk deur die tele-skoop.

* * *

762a89z012@anonimail.com

Sent: Sunday 27 February. 06:57

To: j.afrika@saps.gov.za

Re: Aan Kaptein Bennie Griessel

Ek het die berig in die Weekend Argus gesien. Kan jy reg laat geskied (Spreuke 21:15)? Is jy ook kop in een mus met die kommuniste? Ek hoop nie so nie, want dan sal ek moet eskaleer.

Dit is ek wat gister die polisieman in Claremont geskiet het. Vandag sal daar nog een wees. Elke dag, tot jy die moordenaar aankla.

Julle weet wie dit is.

Griessel kyk op. Mbali sê vir hom genl. Afrika het dit vanoggend vir hulle al twee aangestuur, en gevra sy moet dit vir hom bring.

Hy bedank haar, en vra of sy iets in Claremont gekry het.

Sy tel die probleme een vir een, afgemete en stadig, op haar pof-vingers, haar gesig vol frustrasie. Een: Daar is geen ooggetuies nie. Niemand het die skoot gehoor nie, niemand het iets eienaardigs opgemerk nie. Twee: Die koeël wat konstabel Brandon April se knie verbrysel het, het heeltemal gedisintegreer. Drie: Die aard van die wond maak bepaling van trajek baie moeilik – hulle weet steeds nie van waar die skoot geskiet is nie. “If you take into account the parking area’s possible field of vision, it could have been from the school, or from a block of flats, but he would have had to be inside, or on the roof. All access was locked, and there is no sign of forced entry anywhere. It doesn’t make sense.” Dan kom staan die kelner langs haar en sy sê streng: “Coca Cola, but bring the ice separately, no half a glass monkey business.”

Die man lig sy wenkbroue, kyk na Griessel, wat wys hy wil niks hê nie. Dan loop hy.

“So we have no real crime scene,” sê Mbali. “And today he is going to shoot again.”

* * *

Luitenant-kolonel Bevan Dlodlo trek die deur van die Groenpunt-polisiestasie aan die aluminium-handvatsel oop.

Op daardie oomblik, met ’n dawerende klapgeluid, ontplof die glas hier reg voor hom.

Sy hele lyf ruk van die skrik, die brand van ’n glasskerf teen sy voorkop. Uitroepe van binne, geklingel van glas wat op die beton reën en breek. Sy instink is om te buk, om muur toe te beweeg, weg van die deur af. Sy hand reik na die dienspistool op sy heup.

Met sy rug teen die muur, met die pistool in sy hand, op sy hurke, sy kop na die deur toe gedraai, wil hy na binne skree om te hoor wat aangaan. Hy voel die warm krieweling van bloed wat teen sy voorkop afloop. Dan ruk iets aan sy enkel, met soveel geweld dat hy omval, op sy linkersy.

Hy kyk verstom na sy onderbeen. Hy sien die blou polisie-stewel is aan flarde, die bloed wat daardeur sypel en stadig in ’n groeiende plas op die beton uitdam.

Hy kyk deur die parkeerterrein. Daar is niemand nie.

Hy kyk na die straat buite. Daar is niks.

Dan eers voel hy die intense pyn.

7 Dae

Подняться наверх