Читать книгу 7 Dae - Деон Мейер - Страница 16

11

Оглавление

Met die dossier oop voor haar tik Mbali op die e-posse en sê: “I don’t get this guy. Is dit omdat my Afrikaans so sleg is?”

“Nee,” sê Griessel. “Ek verstaan hom ook nie. Last night I thought … it’s like he’s trying to sound like a crazy. I think … if you read the e-mails, he looks a lot like a wacko. But then he actually goes and shoots someone … I’ve never seen that before. If you look at that one e-mail, he said: You have two weeks to catch the killer. He was planning, back then. He was preparing. He’s … different. And he’s not … everyday crazy.”

Sy knik instemmend. “You think he knew Sloet?”

Dit is ’n goeie vraag, een waaroor hy al sedert gisteraand tob. Hy skud sy kop stadig. “I don’t know. Maybe. If he was part of her life, he must have known that it could lead us to him, eventually. So I have my doubts.”

“Unless he’s crazy.”

“Yes.”

“No candidates,” sê Mbali, ’n stelling.

“No.”

“No communists?”

“I don’t think he means a real communist. It’s a …” Sy Engels versaak hom.

“A metaphor?”

Hy is nie seker wat dit beteken nie. Sy sien dit. “Like he’s using a figure of speech. Maybe he means black people?”

“Something like that. As if he does not want to sound like a racist.”

“But he doesn’t mind sounding like a religious nut.”

“Yes.”

“So, any black suspects?”

“Maybe a coloured guy. The caretaker …”

Mbali maak die dossier voor haar toe, druk dit in haar handsak. “I’m going to send the e-mails to Ilse Brody at Investigative Psychology … but what else, Bennie? What am I missing? Where would you look?”

“There’s not much to look at …”

Aan die afwagting op haar gesig kan hy sien sy hoop op meer. Hy dink eers na, vra dan: “Nobody heard the shot? Not even the constable?”

“Nobody.”

“Then it’s probably a long-range weapon. A rifle, probably a scope. And a silencer. I’ll look at silencers, they are scarce, I don’t think you can buy them from a shop … Do you know Giel de Villiers? From the armoury?”

“No.”

“He’s the one I go to if I have questions about weapons. He’s very quiet, but he knows everything. That’s what I would do. Talk to Giel.” Griessel besef dis Sondag. “He lives out in Bothasig. He’ll probably be in the book.”

“Thank you, Bennie.” Sy staan op en vat haar handsak. “Why do you think they gave me the case?”

Dit betrap hom onkant. “How do you mean?”

“I’m new at CATS, I only got back on Friday. I was still unpacking …”

“You know how it is, everybody’s got too much work …”

Hy wil byvoeg omdat sy ’n goeie, metodiese speurder is, maar sy sê met ’n gesig vol agterdog: “Doesn’t make sense.” Dan lui haar selfoon en sy moet dit eers in die groot handsak soek voor sy kan antwoord.

Die gesprek is kort. Sy maak net enkele bevestigende geluide, sê dan: “I’m coming.” En aan Griessel, gelate: “He’s shot another one. The SC, at Green Point.”

* * *

Hy ry Bo-Kaap toe, net vier blokke, na waar die opsigter Faroek Klein in Bryantstraat bly. Sy kop is op te veel plekke, hy wil dink oor hoe hy die man gaan benader, oor Mbali se afskeidswoorde, maar die nuwe e-pos spook by hom. Julle weet wie dit is. Hierdie een nou aan hom persoonlik geadresseer.

In die heel eerste een was dit: Julle weet goed wie vir Hanneke Sloet vermoor het. In een van die ander: Julle weet hoekom sy vermoor is. Tussen al die wisselvalligheid van enkelvoude en meervoude en Bybelverse deur, dié herhalende tema.

Hy het die dossier gelees, hy was by die toneel, hy weet genoeg om te kan sê dis twak. Daar’s geen voor die hand liggende verdagte nie.

Mbali het gesê: “Unless he’s crazy.’ Wat hy kon byvoeg, was: “Maybe he’s even crazier than we think.” Want in normale omstandighede sou hy die e-posse geïgnoreer het as maar net nog ’n raaskop.

Dis die geweer, die teleskoop en die knaldemper wat die probleem is. Jy kan nie té mal wees as jy dit alles saam met ’n langafstandskoot bymekaarsit en daarmee wegkom nie. En die jongste e-pos: Daar is ’n nuwe toon daarin, ’n selfvoldaanheid, ’n sekere bewussyn van mag. Ek hoop nie so nie, want dan sal ek moet eskaleer. Dis ’n man wat die SAPD kon dwing om ’n saak te heropen, ’n afperser wat ernstig opgeneem word.

Dis moeilikheid. Dit voed sy frustrasie. Hy weet nog te min. Van alles.

* * *

Hy sukkel om parkering te kry, moet oor Bloemstraat ry om voor die St. Paul-laerskool te gaan stilhou. Griessel klim uit en loop terug, tussen die kleurvolle huisies deur. Bruin mense wat op stoepe sit, hul oë volg sy vordering met ’n sekere waaksaamheid. Hy dink aan Mbali daar by die straatkafee. Net voor sy wegstap, toe sê sy: “Thank you, Bennie, for not asking about Amsterdam.” Daar was ’n kwesbaarheid wat hy nog nooit gesien het nie. En sy was ingetoë vanoggend, nie haar ou, weerbarstige self nie.

Sodat hy nou self wonder wat in Holland gebeur het.

Klein se adres is ’n geel skakelhuis met wit pilare, en ’n boom wat die klein voortuintjie oorheers. Griessel reik na die rooi tuinhekkie om dit oop te maak. Sy selfoon lui.

Hy steek vas, herken nie die nommer nie, antwoord net: “Ja.”

“Hei, Bennie, dis Vaughn, waar is jy?” Kaptein Vaughn Cupido.

“Ek is in die stad, Vaughn.”

“Ek dog jy gaan laat weet?”

“Laat weet?”

“Jis. Die Giraffe het gesê jy sal my bel. Oor die Sloet-saak.”

Griessel probeer onthou wat kol. Nyathi gisteraand gesê het. “Sover ek weet is jy net op bystand, Vaughn, niemand het gesê ek moet jou bel nie.”

“Jissis, die brass … always mixed messages. Anyway, ek is keen om te help, Bennie. Kan ek die docket kom haal, get myself up to speed.”

“Ek is nog self besig daarmee. Luister, ek staan hier voor ’n …” As hy sê “verdagte”, gaan Cupido definitief die nuus die wêreld instuur dat Griessel groot vordering maak. “… getuie se huis, ek bel jou as daar iets is. Dankie, Vaughn, ek waardeer jou aanbod.”

Stilte op die lyn. Dan: “Cool,” sonder geesdrif.

Griessel beëindig die oproep. Cupido is nie sy gunsteling-speurder nie. Hy’s een van daardie ouens wat alles weet, en vreeslik ingenome is met die feit dat hy ’n Valk is. Vaughn was by die destydse Georganiseerde Misdaadeenheid, wat direk in die DPMO opgeneem is. Cowboys.

Hy bêre sy selfoon en maak die tuinhekkie oop.

* * *

Sy is slank en glad soos ’n kat, met lang swart hare en groot donkerbruin oë, beeldskoon, en nie veel ouer as sestien nie. Sy kyk Griessel krities op en af en roep dan oor haar skouer die huis in: “Dadda, die Boere is al weer hier.”

Sy gooi die reguit hare met misnoeë oor haar skouer, draai om en loop, asof hy nie bestaan nie.

Swaarder voetstappe op die houtvloer, ’n man loop in by die klein voorportaal. “Kan ek help?” Stug.

“Meneer Klein?”

“Dis reg.”

Griessel hou sy SAPD-eieningskaart uit. Klein kyk vlugtig. Hy is langer as Griessel, met ’n gemanikuurde stoppelbaard op sy bolip en ken, die dik swart hare teruggekam, die gesig sterk. Vroeë veertigs. Hy sê: “Wat wil julle nou weer hê?”

“Is daar ’n plek waar ons kan gesels?”

“Net hier is goed.”

Agter Klein verskyn ’n vrou. “Wat is dit, Faroek?”

“Boere.” Die bruin woord vir die SAPD, ongeag die polisieman se ras.

Sy kom staan teen Klein, middeljarig, met dieselfde bekoorlike erfenis van Maleier-gene as haar dogter, dieselfde renons oor haar gesig. “Nooi hom in,” sê sy, draai om en loop.

Griessel kan sien Klein is nie lus nie. Hy staan net, geduldig.

“Kom.”

* * *

Hulle is ’n verenigde front op die rusbank: Klein in die middel, die vrou en twee tienerdogters langs hom.

Griessel sit oorkant, in ’n gemakstoel, sy notaboek in sy hande. Hy kry nie kans om ’n vraag te vra nie. Die vrou sê: “Ek is Noor, dit is Laila, en dit is Asmida. Ek is Faroek se tweede vrou, hy is my kinders se stiefpa. Jy kan vir hulle vra of hy ’n goeie stiefpa is. Faroek se eerste vrou was ’n bad apple. Hy het haar gevang dat sy rondloop, en nie een keer nie. Toe hy nie meer kon hou nie, toe klap hy haar, toe gaan kla sy hom aan en toe maak hulle ’n saak. Hy het skuldig gepleit, hy het ’n opgeskorte vonnis gekry, hy het haar geskei. Sy is verlede jaar vir die vierde keer getroud.” Alles word met ’n feitelike infleksie gesê, sonder oordeel.

Die twee dogters gluur. Klein sit daar met ’n versteekte, tevrede glimlag, omring deur drie mooi vroue.

Griessel knik, hy trek sy asem in om iets te sê, maar sy gee hom nie kans nie.

“Die aand toe die Sloet-vrou vermoor is, was Faroek hier, by die huis. Saam met ons al drie. Ons het sewe-uur geëet, soos ons elke aand maak, toe sit die girls in die kombuis en huiswerk doen, en ek en Faroek kyk TV. Dié twee is bed toe, tienuur se kant, ek en Faroek so halfelf, want ons is al twee gainfully employed, and we take our responsibilities seriously. Ons is baie lief vir mekaar. Ons is nie wit nie, ons is nie ryk nie, maar ons het ons values. And they do not include lying if any one of us commits murder. Is daar nog iets wat jy wil weet?”

Hy maak sy notaboek toe. Daar is nog een vraag wat oorbly, maar hy vermoed die antwoord gaan nie sonder verdere kastyding kom nie. “Meneer Klein, is jy … kommunisties in jou politiek?”

Hulle lag vir hom, al vier van hulle.

“Nee,” sê Klein. Dan lag hulle weer.

Die lang, mooi vrou staan op. “We are about to have Sunday lunch, would you like to join us?”

7 Dae

Подняться наверх