Читать книгу 7 Dae - Деон Мейер - Страница 17

12

Оглавление

Hy ry huis toe, wil gaan ontslae raak van die drukking hier binne, die drang om te vloek en die stuurwiel te slaan. Daar’s tye wat hy nie ’n poliesman wil wees nie – om op ’n Sondagoggend aan ’n huis se deur te gaan klop, die rus te gaan verstoor, die moeilikheid daar saam met hom in te dra. Die Klein-gesin se saamstaan het hom op vreemde maniere ontstel. En die onverbloemde teregwysings: Ons is nie wit nie, ons is nie ryk nie, maar ons het ons values. Hy wou protesteer, wou sê dit het niks met kleur te doene nie, dit gaan oor wie sleutels en ’n misdaadrekord het. Hulle sou hom nie geglo het nie – dis wat hom so frustreer. Net in hierdie land … Kleur, alles oor kleur, altyd, jy kan nie jou gat draai nie, dan’s dit ’n ding. Jissis. Hy wil net sy werk doen.

Ons het ons values. Hulle sê eintlik vir hom dat hý nie het nie, dat sy blote teenwoordigheid dit bewys. En toe hy stert tussen die bene daar uitstap, het hy vlietend gewonder: As Anna en die prokureur trou, gaan hulle ook só op ’n rusbank sit met sý kinders, so ’n nuwe, gelukkige gesin, so gesamentlik vroom, vry van die sukkelende alkoholis-poliesman? Anna wat sal sit en vertel: “My eerste man was ’n bad apple, ’n suiper en ’n vroueslaner.” Sal hy ooit kan wegkom van die implikasies van sy swakhede?

Hy trek in by die Engen-vulstasie naby sy woonstel om middagete by die Woolies Food te koop. Hy kyk sonder begeerte na die broodjies en die mikrogolfdisse, van voor af kwaad vir Steers, want hulle maak nie meer ’n Dagwood-burger nie. “Dit vat te veel tyd, meneer, die kliënte wil nie so lank wag nie, meneer.” Wat word van die wêreld – mense wat nie wil wag vir ordentlike kos nie. Als moet vinnig wees; smaakloos, onooglik, maar vinnig.

Niks is ooit eenvoudig nie.

Hy onthou die herhalende droom van ’n maand of wat gelede, vier nagte in ’n ry: Hy speel saam met Roes, hy kry net nie die baskitaar se note om by die tempo te hou nie, hy neuk in die verkeerde sleutel, en die orkeslede kyk onderlangs na hom met vraende, bekommerde gesigte.

Dis hoe hy voel, al van gister af. Uit ritme met die wêreld. Uit harmonie.

Aan die ander kant, het hy die laaste tien jaar al ooit ánders gevoel?

* * *

In sy kombuis druk hy die hoender-en-broccoli-in-kaassous in die mikrogolf en bel vir Mbali.

“It is chaos, Bennie, they brought in forensics before I could call the PCSI task team. The whole station trampled my crime scene to help the SC. I had to interview him in the ambulance. He’s not sure where the shot came from, maybe from the tennis courts. But we are talking to the players, and they didn’t see or hear anything.”

“He was shot in the leg?”

“In the ankle. But there was another shot, Bennie. He hit the door first, the entrance door, we have two bullets to search for. It might help.”

“So he missed.”

“Yes. The first shot was a miss.”

* * *

By sy ontbyttoonbank eet hy die hoender direk uit die verpakking uit, sonder genoegdoening. Hy sit en staar na sy bergfiets wat al twee weke lank staan. Want soggens is daar nie meer tyd om te ry nie – hy moet vroeër opstaan om die verkeer al die pad na die DPMO se kantore in Bellville te trotseer. As hulle die verdomde brûe op die N5 net klaar wil bou. Maar die Wêreldbeker is nou verby, alles staan weer stil.

Die oplossing is om te trek, om vir hom ’n woonstel in die noordelike voorstede te gaan soek. Hy wil nie. Hy hou van hier onder die berg bly, naby die stad en die Tuinesentrum. En die afstand van Anna af, van sy probleme en sy moeilikheid. Bellville is vol versoekinge, sy ou drinkplekke, sy ou drinkebroers …

Maar nou kry hy nie fiets gery nie.

Die lewe is nooit eenvoudig nie.

Hy sit die kosbakkie in die asblik, spoel die vurk in die wasbak af, maak weer die dossier oop. Hy blaai daardeur, sonder plan, half onwillig om aan die gang te kom, want hy weet nie waarheen nie.

Hy staan op, gaan lê op die rusbank, hande op sy bors. Hy voel die moeg van die min slaap, miskien moet hy net ’n vinnige uiltjie knip, ’n halfuur, om sy kop skoon te kry.

Jy sal moet wikkel. Hierdie mal bliksem gaan poliesmanne skiet tot jy die saak opgelos het. Afrika se gevleuelde woorde.

Hy probeer fokus. Beplande moord. Iemand wat sy geken het.

Nie die opsigter nie.

Geen ander verdagte nie. Geen motief nie.

Die probleem is, hy weet eintlik niks van Sloet nie.

Hy sug, staan op, kry die dossier, gaan sit weer by die ontbyttafel. Hy lees nogmaals die verklarings van mnr. Hannes Pruis, direkteur van Silberstein Lamarque, en Gabriélle (Gabby) Villette, Sloet se persoonlike assistent. Daar is detail oor die oggend toe die lyk gekry is, daar is breë inligting oor haar werk, maar hulle sê basies niks oor háár nie.

Hy trek sy notaboekie nader, soek die drie telefoonnommers, en skryf hulle neer.

* * *

Gabriélle Villette bly alleen in ’n meenthuis, agter in die Avenues-kompleks in Seepunt, weg van High Level-weg se geraas. Sy is kaalvoet, haar liggaam klein en skraal soos dié van ’n kind. Haar gesig is smal onder die kort blonde hare. Hy skat haar net duskant dertig. Haar mond is ’n suinige lyn, daarom dat haar hartlikheid hom verras. Griessel vra om verskoning vir die uur en die kort kennisgewing. Sy sê: “Ek slaap nie in die dag nie, kom gerus in,” met ’n glimlag wat twee prominente oogtande ontbloot, sodat sy vaagweg aan ’n vampier herinner. “Ek het die beriggie vanoggend in die koerant gesien.”

Die sitkamer is in vrolike blou en geel. Daar is ’n reeks geraamde kleurfoto’s van vrugte teen die muur, baie nabyskote van ’n gloeiende groen druiwetros, ’n rooi appel, ’n geel peer, ’n emalje-emmer vol helder oranje appelkose. Sy sien hy kyk. “Dis my stokperdjie,” sê sy, niks meer nie, en hy wonder of dit die vrugte of die fotografie is. “Sit gerus,” nooi sy en sy maak haar op die ligblou bank tuis. Haar oë is dieselfde byna grys skakering.

Hy gaan sit in ’n liggeel stoel, haal sy notaboek uit. Hy sien sy kruis haar bene en kyk na hom met afwagting.

“Ek probeer uitvind wie Hanneke Sloet was,” sê hy.

Sy knik stadig en peinsend, kyk na die nes van boeke, tydskrifte en koerante op die koffietafel. “Ek het drie jaar lank probeer. En ek is nie seker of ek veel vordering gemaak het nie,” sê sy byna afgemete, elke woord duidelik uitgespreek. En dan, asof sy tot verhaal kom: “Met alle respek teenoor haar nagedagtenis.”

“Enigiets sal help,” sê hy.

Weer die knik, asof sy die woorde oordink én beaam, die oë afgewend. Hy vermoed dit is ’n maniërisme.

“Hanneke was … My eerste baas by Silberstein was Barry Brink. Vir hom moes ek alles doen. Sy pos en e-pos oopmaak, sy selfoon beantwoord, sy haarafsprake maak, sy vrou bel as hy laat gaan wees. Ek het vir sy dogter gehelp met skooltake, op die internet. Hulle het my saamgenooi na hulle strandhuis by Jongensfontein, of Sondag-middagetes in Blouberg. Barry was ’n oop boek. ’n Mens kry twee soorte base, kaptein. Barry was ’n insluiter. Hanneke was die ander soort. ’n Uitsluiter. Ek verkies hulle, want hulle is baie makliker om voor te werk. Die grense is duidelik: Hanteer die dagboek, liasseer, soek die verwysings en hofsake en artikels, antwoord die kantoor se foon, en my sel net as ek in vergadering is. Persoonlike goed is heeltemal uitgesluit. Ná haar dood het ek eers besef hoe min ek van haar weet. Want ’n mens wonder, as die ergste skok eers verby is. Jy kan nie help nie.”

“Hoe lank het jy vir haar gewerk?”

“Amper twee jaar.”

“Hoe was sy? As jou baas?”

“Ek het van haar gehou,” sê sy, hierdie keer vinniger, sonder die knik en die bepeinsing.

Hy reageer nie, wag dat sy meer moet sê.

Die stilte strek, sy vou haar hande saam. Hy kén die reaksie, die piëteit vir die dooies. Hy wag.

“Ek het haar bewonder,” kom die stem effens sagter, die oë op die vloer. “Sy was mooi én slim. En hardwerkend. So gefokus. Sy het baie ure ingesit. Sy was presies, in alles. Georganiseerd. Altyd betyds. Altyd goed versorg. En regverdig.” Gabby Villette kyk op na hom, asof sy dankbaar is dat dít haar bygeval het. “Sy het my met groot regverdigheid behandel.”

Nie veel meer as wat in die dossier staan nie. Hy vra hoe Hanneke Sloet se tipiese dag gelyk het. Voor Villette antwoord, is die aarseling terug, die deeglike oorweging, die stadige knik. Dan sê sy ’n mens moet onderskei tussen verlede jaar, en Januarie. Sloet het waarskynlik stad toe getrek omdat sy geweet het haar pas gaan haar uitbrand. Terwyl sy in Stellenbosch gebly het, moes sy seker halfvyf opstaan om kwart voor ses by die gim te wees, die Virgin Active in Jettystraat. Sy het geoefen tot kwart voor sewe, en sy was kwart oor sewe elke weeksoggend op kantoor.

“Hoe weet jy sy was in die gim?”

“Dis waar sy haar diktering gedoen het. Op die oefenfiets. Ek kon dit hoor, op die opnemer.”

Hy vra oor die res van die dag. Sy sê Sloet het voorberei tot halfnege, dagbeplanning saam met Villette gedoen tot nege, wanneer die vergaderings begin het. Daar is baie vergaderings in die span-omgewing van Silbersteins. Smiddae tussen een en drie het sy oproepe en e-pos beantwoord, dan gewerk aan kontrakte en verslae, meestal tot omstreeks aguur saans. Villette weet, want sy het nooit voor haar baas huis toe gegaan nie. Daar was soms sake-middagetes en aand-skemerkelke, daar was kort sakereise na veral Gauteng, daar was twee wintersdae wat Villette kan onthou dat Hanneke Sloet met ’n hees, nasale stem ingebel het om te sê sy is siek soos ’n hond, in die bed met griep en ’n hoop medisyne. En met die operasie, verlede jaar, was sy ’n week af …

Die subtiele infleksie van die woord “operasie” laat hom vra: “Watter operasie?”

“Die boob job,” sê sy terwyl sy vlugtig na haar eie klein borsmaat afkyk, die stemtoon net ’n tikkie té neutraal.

“Wanneer verlede jaar?”

“April.”

Hy weet dit is die regte tyd vir die vraag. “Het almal van haar gehou?”

Villette se oë duik af koffietafel toe. Sy skud stadig haar kop voor sy sag sê: “Nee.”

7 Dae

Подняться наверх