Читать книгу Willem Poprok - Derick van der Walt - Страница 10
Оглавление5. Sagte branders met ’n bietjie skuim
Hy en sy pa ry in stilte slaghuis toe. Normale mense slaap nog dié tyd van ’n Saterdagoggend, maar nie die Van Vuurens van die Blou Bul-slaghuis nie. Dis die prys wat ’n mens betaal om jou eie baas te wees, sê sy pa altyd. En: Dis die prys wat ’n suksesvolle besigheidsman betaal. En: Dis die verskil wat jou van die fly-by-nights onderskei. En: Die eienaar van ’n suksesvolle slagtery het nie ure nie. En, en, en. Willem ken al die enne.
Hy hoor dit gereeld al die afgelope vyf jaar sedert sy pa ’n pakket moes vat en die slaghuis in die sentrum begin het. Gereeld soos in amper elke dag.
Hy kyk deur die venster na die enkele mense wat draf of fietsry of met hulle honde stap.
“Wanneer begin julle wedstryde?” verbreek sy pa die stilte.
“Weet nie, ons moet nog span kies,” sê Willem ongemaklik en dink hard aan iets om te sê om die onderwerp te verander.
“Wanneer maak ons weer biltong?” vra hy vinnig.
“Vandag. Eintlik moet ons nou elke dag biltong maak sodat daar Saterdae genoeg is. Die Super 14 raak nou warm en die mense soek iets om te kou as hulle vir die Bulls skree.”
Hulle ry weer ’n ruk in stilte.
“Ek wens meneer Grobbelaar wil jou ’n slag op skrumskakel probeer.”
Willem besluit dis dalk beter om niks te sê nie.
“Jy het die ideale bou vir ’n skrumskakel. Ek is lus en gaan gesels met meneer Grobbelaar. Hy dink dalk net nie so ver nie. Hy sien dalk nie jou potensiaal raak nie. ’n Mens kan seker ook nie elke speler se belange op die hart dra as jy soveel spanne moet afrig nie.”
Willem bereken dis nog drie minute slaghuis toe. Net drie minute.
“Die nuwe juffrou? Weet sy darem? Ek bedoel … kan sy darem ’n bal skop met haar sykouse en hoë hakke? Nog nie eintlik gehoor van ’n vrou wat rugby afrig nie. Klink nie vir my te lekker nie.”
Hulle draai by die klein parkeerterrein aan die agterkant van die slaghuis in.
“Mind you, in die nuwe Suid-Afrika is enigiets seker moontlik.”
Willem klim vinnig uit en klap die deur toe, harder as wat hy bedoel het. Sy pa sê egter vir ’n verandering niks. Sy kop is klaar by biltong en droëwors en steak en hoender-wat-nie-eintlik-vir-vleis-tel-nie waarvan hy meer sal verkoop as van die “regte” vleis.
Oom Ravi se blou bakkie staan reeds onder die afdak.
Willem hoor die gekerm van die bandsaag wat deur murg en been sny en hy kry die reuk van vars, rou vleis nog voor hy vir oom Ravi gewaar. Oom Ravi druk stukke karkas versigtig deur die saag se lem en netjiese, klein, eetbare porsies kom aan die ander kant uit.
Hy kyk vlugtig op, maar kyk dan vinnig terug na die stuk karkas wat hy stadig en geoefen oor die skerp lem skuif. Hoewel oom Ravi toe-oë vleis sal kan opsaag, weet Willem hy sal dit nie doen nie. Die verlore middelvinger aan sy linkerhand getuig van ’n toeoog-oomblik jare gelede met net so ’n bandsaag.
“Hoe lyk dinge, Willem?” vra oom Ravi sonder om op te kyk.
“Goed, oom, môre, oom.”
Willem stap met die oranje blikkie met die kleingeld na die geldlaai. Hy is vandag op till duty, soos sy pa dit noem. Gewoonlik sy ma se werk, maar sy werk nie meer weeksmiddae vandat Lydia daar is nie, en Saterdae moet die seuns hulle sakgeld hier verdien. Hulle maak beurte, en Coenie en Franna werk vandag agter die toonbank, neem bestellings en pak die vleis in sakkies.
Om by die kasregister te werk is die lekkerste. Jy sit en jy keer kleingeld uit en jy sê: “Dankie vir die ondersteuning, kom weer” en afhangend van wie die klant is: “Mag die Bul se horing vanmiddag skerp bly” of “Nou die Blou” of so iets. Hulle weet al teen dié tyd wie skree vir wie. As dit iemand is wat die Sharks of die Stormers of die Cheetahs ondersteun, sê jy: “Mag die beste span wen” of: “Die Sharks is darem op topvorm dié jaar.”
Willem is al verby die klein, donker kantoortjie sonder vensters waar sy ma in die week die slaghuis se administrasie doen, toe hy besef die lig is aan en dat iemand agter sy ma se rekenaar sit. Beslis nie sy ma nie. Hy loop stadig agteruit en loer binnetoe.
Sy het lang, blink, swart hare wat in ’n poniestert vasgemaak is en ’n vel soos heuning en ’n klein goue dingetjie aan die een kant van haar neus en groot, donker oë. Hy staan ’n ruk agteroor geleun en kyk. Die meisie konsentreer op die rekenaarskerm en sien hom nie raak nie.
Hy stap vinnig verby om die kleingeld in die geldlaai te gaan pak. Hy sorteer die hopies note en die munte versigtig op hulle plekke. Hy weet nie wie die meisie is nie, maar dit moet seker familie van oom Ravi wees.
Hy hoor sy pa en oom Ravi bespreek die gehalte van die karkasse wat vanoggend afgelewer is. “Goeie kwaliteit, uitstekende kwaliteit,” sê oom Ravi terwyl hy die toonbank met ’n nat lap afvee.
Willem se pa praat ongeduldig op sy selfoon. “Waar bly julle? Ons maak oor ’n halfuur oop. Dis Saterdag, dit gaan besig wees. Magtig, man, roer julle!”
Coenie of Franna. Gewoonlik laat, want hulle wil nie saam met Willem en sy pa in die bakkie ry nie. Hulle ry met hulle fietse.
“Ek weet nie na wie aard die blerrie kinders nie, Ravi,” sê Willem se pa. “As jy nie ’n fly-by-night wil wees nie, is daar nie ’n ding soos ure nie. En jy is áltyd betyds.”
Willem vermoed oom Ravi hoor ook dieselfde stories oor en oor, elke dag.
“Koffie, Willem!” roep sy pa. “En vra vir Alesea of sy ook wil hê.”
Nou onthou hy: oom Ravi se dogter. Alesea. Dit klink soos iets waarin jy die see hoor. Nie rowwe branders nie, maar kleintjies, rustige branders.
Hy loer weer versigtig om die kantoordeur. Die meisie konsentreer nog hard op die rekenaarskerm.
“Wil jy koffie hê?” vra hy verleë.
Sy skud haar kop sonder om op te kyk. “Julle rekenaar is oud, dit werk baie stadig,” sê sy met ’n swaar Engelse aksent.
Willem hou haar dop. Hy is beïndruk. Sy praat Afrikaans met ’n régte Engelse aksent, nie so fake soos Angelique Palworthy nie. Hy huiwer en wil net omdraai toe sy opkyk. Sy kyk krities na sy Blou Bul-hempie, die hempie wat hulle almal Saterdae móét dra. Dis goeie bemarking, meen sy pa.
“Het jy ’n naam?” vra sy effens geïrriteerd. “Ek is Alesea.”
“Willem.” Sy stem klink vir hom skielik baie hoog, amper soos Lydia s’n.
“Willem,” sê hy weer, so laag as wat hy kan. Beter.
Sy kyk ’n oomblik na hom. Toe draai sy weg en konsentreer weer op die rekenaar. Hy bly huiwerig in die deur staan.
“Move it, Boetie Poprok,” sê Franna agter hom en klap hom teen die kop.
Willem wil hom eers iets toesnou, maar dan onthou hy van die meisie. Hy loop na die kombuisie en skakel die ketel aan.
Teen elfuur kom Alesea met ’n groot, groen kitaarsak oor haar skouer uit die kantoor. Sy sê iets op Engels vir haar pa.
“Ek gaan net gou vir Alesea aflaai,” sê oom Ravi oor sy skouer vir Willem se pa.
Willem kyk hulle agterna. Alesea. Groenerige branders, met net ’n bietjie wit skuim aan die punte.