Читать книгу Willem Poprok - Derick van der Walt - Страница 12

Оглавление

7. Krokodille en olifante in die Okavango

Coenie en Marietjie staan diep in gesprek op die sypaadjie voor hulle huis toe Willem met Lydia van die parkie af kom. Hy kan nooit besluit wie van Coenie of Marietjie die dikste bril het nie. Partymaal is hy seker dit moet Coenie wees, maar as hy ’n slag na Marietjie se oë kyk wat soos ET s’n agter haar dik brillense lyk, besluit hy nee, Marietjie vat die koek.

Hy wonder dikwels hoe ’n soenery met al die brille werk. Hulle moet tog sekerlik aan mekaar vashaak. Hy het nooit gedink Coenie en Marietjie soen nie, tot een Saterdagaand toe hy in die donker op die stoep gesit het en die vreemde geluide agter die pilaar voor die kombuisvenster gehoor het.

“Nee, Coenie,” het Marietjie gesê, en na ’n rukkie meer beslis: “Nee, Coenie!” Toe het sy met deurmekaar hare verbygestap in die lig wat uit die kombuisvenster geskyn het, gaan staan en haar bril met haar mou skoongemaak. Coenie het vanuit die donker langs haar kom staan en oor haar hare gestreel. Marietjie het hom op sy wang gesoen en toe is hulle om die hoek van die huis. Willem het gehoor hoe die voorhek oopgaan.

Ou Coenie, het hy verbaas gedink. Ou Coenie, maar jy’s ’n rakker! Hy het gewens hy kan vir Franna van die vryery vertel, maar hy sal nie. Hy kan net dink wat Franna met so ’n storie kan doen, en hy weet Franna sál. En Coenie is nie ’n bad ou nie. Al is hy nie die skerpste potlood in die pakkie nie, is hy die soort wat daar is as jy hom nodig het.

Marietjie gee Coenie ’n piksoentjie, draai om en stap straataf. Sy waai vir Willem en Lydia.

Coenie kyk die love of his life, soos Oupa haar noem, agterna. Vandat Willem kan onthou, is Marietjie en Coenie bymekaar, so asof hulle as ’n item gebore is.

Lydia raak kriewelrig toe sy Coenie sien en wikkel om los te kom. Coenie maak haar los, tel haar op sy nek en huppel met haar die tuinpaadjie op, met Willem en die stootwaentjie op hulle hakke. Lydia lag aanmekaar.

Franna sny gras met net sy vuil rugbybroek aan. Dis nie sy beurt nie, maar hy het met Coenie ’n deal gemaak. Hy vat Coenie se beurt met die gras as dié vir een week eerder in die middag, wanneer Franna rugby oefen, op sy beuel sal oefen as soggens voor skool.

Aan Franna se gesigsuitdrukking kan Willem sien hy is lelik moerig vir die wêreld. Hy gaan kort-kort staan, nies en blaas sy neus. Willem dink die hooikoors is regtig, al dink sy pa nie so nie. Hy weet hy sal moet koes as Franna klaar is, want Franna sal maklik iemand ’n klap gee net om beter te voel.

Coenie staan op die agterste grasperk en gooi Lydia in die lug en blaas op haar maag sodat sy lag en lag en lag.

“Dis nou genoeg!” roep hulle ma by die agterdeur. “Bring haar dat ek haar kan bad.”

Coenie druk die skoppende Lydia in hulle ma se arms en draai na Willem. “As Franna klaar is, moet julle by die tuintafel kom sit. Ons moet iets bespreek.” Hy haal sy bril af en vee dit met sy T-hemp skoon. “Iets huge,” sê hy terwyl hy sy bril opsit.

Franna stoot die grassnyer tot onder die afdak. “Ons moes die donnerse ou ding lankal aan die brand gesteek het,” sê hy en gee die grassnyer ’n skop.

Hy gaan sit langs Coenie by die wit tuintafel, loer vinnig huis toe voor hy ’n sigaret uit sy broeksak haal en dit aansteek. “Willem, gaan haal vir ons koeldrank,” beveel hy en vat ’n vet teug van sy sigaret.

“Ek sal nie,” sê Willem.

“Wil jy hê ek moet vir Pa vertel jy is te sisgat om rugby te speel?”

“Ek hét vanmiddag rugby geoefen.”

“Willem, gaan haal vir ons Coke,” sê Coenie.

Hy haal ’n koerantknipsel uit sy sak. “Dit,” en hy waai die stukkie papier in die lug, “kan ons lewe verander, soos in major.”

Hy vou die knipsel op en druk dit in sy broeksak. Franna en Willem wag; hulle kyk vir Coenie.

“En?” vra Franna ongeduldig.

“Willem, gaan kry eers Coke,” sê Coenie.

Willem loop kombuis toe. Hy gooi vir hom en Coenie elk drie ysblokkies in hulle glase, maar net een vir Franna. Hy roer sy vuil vinger met genoegdoening in Franna se glas. Hy wil mos.

“Hoor net hier,” sê Coenie nadat Willem sy sit gekry het. Hy haal weer die koerantknipsel uit sy sak en vou dit oop. “Marietjie het dit Sondag uit die koerant gesny.” Sluk. Stilte.

“En?” vra Franna ongeduldig.

“Hulle soek die Pa van die Jaar, die koerant. Dis ’n kompetisie.” Slukkie, stilte.

“En?” vra Franna ongeduldig.

“Die eerste prys is ’n trip vir ’n gesin van vyf na die Okavango. Kos en verblyf en als,” sê Coenie opgewonde. “Én hulle vlieg tot daar! Mense soos ons wat nog nooit in hulle lewe gevlieg het nie, sal vir die eerste keer soos ander mense in ’n vliegtuig vlieg!”

“En?” vra Franna weer. “Ek hoop nie ek dink wat jý dink nie.”

“Hulle sê hulle soek nie noodwendig ’n famous pa nie. Hulle soek iemand wat … wel, volgens hulle ’n gewone pa.” Hy vou die knipsel oop en lees: “ ’n Pa wat nog sy sout werd is en ’n regte pa is.”

“You must be joking,” sê Franna.

“Wel, ons kan mos maar net probeer. Dink net! Die Okavango, oh, my soul!” sê Coenie terwyl hy sy bril regskuif.

“Jy kan nie serious wees nie. Dis Pá!” sê Franna.

“Pa sal nie vir sulke nonsens val nie. Hy het ’n besigheid om te bestuur,” sê Willem.

“Ons gaan nie vir hom sê nie. Ons skryf hom in, dan kyk ons wat gebeur.”

Coenie kyk afwagtend na Franna en Willem se skeptiese gesigte. “Kyk, julle, dis ’n chance in a lifetime. Ons kan net probeer. Ons secret weapon is Marietjie. Sy wen elke jaar die redenaarskompetisie én sy is ’n kandidaat vir matriek met onderskeiding. Sy sal ons inskrywing só goed maak dat ons net moet wen. Piece of cake. Die Okavango, julle!” sê Coenie opgewonde.

“Wat moet ons alles doen?” vra Willem. ’n Gesin van vyf. Hulle is ’n gesin van ses. Hy dink nie sekere stomperige potlode kan lekker somme maak nie, en dan praat hulle van hóm.

Coenie tel die berig op en lees. “Ons moet ’n opstel skryf oor hoekom ons dink ons pa moet die Pa van die Jaar wees.”

Hy lees ’n ruk in stilte. “Ons moet sê hoekom ons dink hy is die beste pa in die wêreld.”

Hy hou op lees en kyk onseker na Willem en Franna. Hulle sê niks.

Hy lees verder. “As hy ’n finalis is, moet die kinders vir ’n onderhoud gaan … en die pa ook.”

Hy kyk op, nie meer so seker van sy saak nie. “Dit kan seker nie só moeilik wees nie. Ons kan hom mos goed brief.”

Franna snork en trek aan sy sigaret.

“Ons kan dalk … Ons kan vir hom iets funky op Ma se Edgars-rekening koop vir die onderhoud. Iets wat sy maag wegsteek. En ons kan hom vra om al sy hare af te skeer, alles soos in heeltemal kaalkop … En wat van ’n oorbel?” vra Willem effens meer entoesiasties.

“Dis Pá, jou moroon!” sê Franna terwyl hy na Willem se voet skop.

“Ons moet by die opstel begin,” sê Coenie beslis. “Ons moet strategies dink. Ons moet een ding op ’n slag doen. Marietjie ken van opstelle. Sy sal vir ons die beste opstel op aarde skryf. Daar is nie ’n ander manier hoe ons ooit in die Okavango sal kom nie.”

“Ons is ses en nie vyf nie,” sê Willem huiwerig.

“Lydia sal maar by iemand moet bly. Dis net ’n week,” sê Coenie.

“By wie?” vra Willem.

“Aag, man, ek weet nie, ons sal ’n plan maak,” sê Coenie ongeduldig terwyl hy opstaan. “Ek gaan vir Marietjie bel en vra wat sy dink ons volgende moet doen.”

“Jy kan bly, dan vat ons vir Lydia saam Okavango toe,” sê Franna vir Willem.

Willem antwoord nie.

“Hoe ver is die Okavango?” vra hy ná ’n ruk.

Franna het ’n stuk ys uit Coenie se glas gegrawe om te suig. Hy haal die ys uit sy mond. “Jou aap, wat leer hulle jou in die skool?”

“Nie oor die Okavango nie.”

“Wel, hulle behoort. Jy moet jou pa se skoolgeld terugvra.” Hy gooi sy stompie oor die Palworthies se muur terwyl hy wegstap.

Willem dink aan die hoop huiswerk wat wag en die rugbyplan waaraan hy nou ernstig moet begin werk en die prakties in die kunsklas en aan sy pa. Pa van die Jaar. Hy weet darem nie.

Al is Marietjie hoe goed, hy dink nie sy kan toor of wonderwerke doen nie. En ás sy dit op een of ander manier regkry om hulle te laat wen, kan hulle mos nie vir Lydia vir ’n week iewers gaan dump terwyl hulle ander lekker olifante en krokodille kyk nie?

“Die gras is half gesny,” sê hulle pa die aand aan tafel terwyl hy weglê aan ’n stewige stuk boerewors.

“No ways!” sê Franna heftig.

“Die voorste gras. Daar is bultjies tussen die bane. Plekke wat jy gemis het.”

“Weet Pa watse effort is dit vir my om gras te sny? My oë traan en my neus loop en alles jeuk. Ek kry hooikoors, soos in erg!”

“François, ek wil nie ’n diskussie oor die saak voer nie. Die hooikoors is jou verbeelding. Die gras is half gesny en jy moet dit môre weer sny.”

“Maar Pa …”

Willem kan sien Franna het hom vet gepluk. Hy kry lekker. Hy glimlag leedvermakerig vir sy broer, lekker ver buite bereik van sy moewiese klappe.

“Dis die simpel grassnyer se skuld. Ons moes die ou ding lankal by die swop shop ingegee het!” sê Franna kwaad terwyl hy Willem onder die tafel op sy maermerrie skop.

Willem vryf sy seer maermerrie. Hy weet nie hoe Franna dit regkry om altyd die laaste sê te hê nie. Maar hy sal sy beurt kry. Hy gaan nog eendag vir Franna lekker terugkry, soos in huge.

“Kan ons nie asseblief één ete in vrede eet nie,” sug hulle ma.

Lydia smeer ’n lepel kos oor haar gesig, stadig van bo na onder. Toe sit sy en glimlag met die geel streep pampoen wat soos ’n kwashaal oor haar gesig lê.

Sy lyk soos iets wat Eenoor Van Gogh kon geteken het, dink Willem. Hy wag nog vir sy kans om almal met sy storie van die af oor te beïndruk, maar hy is nie haastig nie. Hy sal wag vir die regte tyd. Nie vanaand nie, almal is te tense. Hulle sal nie eintlik luister nie.

“Lydia! Wanneer gaan jy tog grootword?” vra hulle ma moedeloos terwyl sy Lydia se gesig met ’n nat vadoek afvee.

“Ek wens ek was jy wat volgende jaar kan skuif,” hoor Willem Franna later in die gang vir Coenie sê. “Bultjies tussen die bane! Watse stront is dit? Please get a life!”

Willem skink vir sy pa ’n knertsie om in die rottangstoel op die agterstoep te geniet. Hy sit Nana Mouskouri se The white rose of Athens in die CD-speler. Sy pa neurie saam.

Pa van die Jaar … Hy weet darem nie. Hy wonder wanneer sy pa se maag so groot geraak het en sy hare so min.

Willem Poprok

Подняться наверх