Читать книгу Willem Poprok - Derick van der Walt - Страница 5
1. Die land sonder melk en heuning
ОглавлениеSy ma het gespringclean. Dis elke April se storie, al is dit nie “spring” nie, en niks is nou meer soos dit was nie. Sy kamer ruik na Handy Andy en Mr Min en Jik en jy wil nie weet nie. Al die reuke maak hom naar.
En sy goed is op plekke waar hy dit nie wil hê nie. Sy karatemedaljes van jare gelede hang nou regs van die boekrak in plaas van aan die spyker wat hy aan die linkerkant daarvoor ingekap het. Sy CD’s is terug in hulle kassies en staan op een van die boekrak se onderste rakke. Juanita du Plessis lê bo-op vir hom en lag. Hy sit die CD’s gewoonlik bó op die boekrak waar hy dit maklik kan bykom. Alles op sy lessenaar is in netjiese hopies gepak. Hopies wat hy een-een sal moet deursoek as hy iets wil hê. Deursoek soos in doodsoek, weet hy nou al uit ondervinding.
Sy Minki van der Westhuizen-poster is terug teen die muur. Dit het twee weke op die vloer, half onder die bed, gelê. Hy het dit daar gelos omdat hy nog oor die poster gedink het. Hy weet nie of ’n mens nog ’n poster van Minki van der Westhuizen teen jou kamermuur mag hê nie. Of na Juanita du Plessis se CD’s mag luister nie.
Hy weet deesdae maar min, veral wat hy mag en nié mag nie. Hy is ook nie meer so seker wie Willem van Vuuren nou eintlik is nie. Beslis nie Mr Cool wat saam met Schalk daai oggend in Januarie vir die eerste keer by die hoërskool se hekke ingestap het nie. Baie sterk en baie slim soos hulle verlede jaar heeljaar in graad 7 was, met hare regop vorentoe gejel in plaas van regop agtertoe soos verlede jaar. Hulle het eintlik so half alles geweet wat ’n mens behoort te weet.
Dit voel soos eeue gelede wat hulle met hulle nuwe skoolklere by die groot, swart hekke van die hoërskool gaan staan het. Dat hy ’n paar ou skoolskoene van Franna moes dra wat ’n bietjie gedruk het, was glad nie vir hom wat Willem is ’n probleem nie. Hy sal nooit vergeet hoe hulle ’n ruk voor die hek gestaan en kyk het na die kinders wat soos miere op die speelgrond krioel nie.
“Willem, ons is in vir the ride of our lives. Niks gaan óóit weer dieselfde wees nie. Ons gaan dié jaar goed doen wat ons nog nooit gedoen het nie.”
Schalk het half gefluister, onthou Willem. Opgewonde, so asof ’n mens respek moet hê vir hierdie wonderlike plek: die hoërskool waar hulle uiteindelik soos Israeliete ná veertig jaar in die woestyn aangeland het. Die land van melk en heuning en van goed wat mens doen en oor die helfte waarvan hulle nog nie eens kon droom nie.
Maar dit voel soos veertig jaar gelede.
Van al die uitsien het net die hopie hel oorgebly wat sy ma in ’n netjiese stapeltjie op sy lessenaar gepak het: sy handboeke. Hy druk die wiskundeboek, wat bo lê, vies heel onder in. Natuurwetenskappe lê nou bo. Amper net so erg.
Hy sien die simpel foto is ook terug. Waar sou sy ma dit uitgekrap het? Hy het dit lank nie gesien nie, het gehoop dat dit iewers heen verdwyn het. Hy en sy pa met hulle groen Springbokrugbytruie aan in ’n goue raam – die raam was sy ma se idee. Hand om die lyf staan hulle. Sy pa vrolik, bier in die hand. En hy wat Willem is, lyk asof hy wil vlug. Wegkom, dís hoe hy gevoel het by die pa-en-seun-aand in die laerskool se lapa.
Hy onthou hy het tóé al besluit hy is klaar met rugby. Hy moes nog net aan ’n manier dink om dit vir sy pa te sê. ’n Plan wat skrik vir niks, sodat sy pa nie dink hy drop sy pa se Twickenham-knie en al die Van Vuuren-voorsate nie. Voorsate, dis wat sy pa hulle noem. Die ou klomp en die dooie klomp. Wie sou ooit so ’n simpel woord uitgedink het?
Hy onthou met ’n skok van die briefie. Sou sy ma dit gesien het? Dit was iewers onder al die goed wat op sy lessenaar gelê het. Hy krap vinnig deur al die hopies. Dalk in sy klasgids.
Hy soek paniekerig na die klasgids, kry dit tussen die hopie handboeke. Blaai vinnig daardeur. Dis leeg. Hy hou die boek in die lug en skud dit ’n paar maal. Niks val uit nie. Hy soek weer deur die stapeltjies op sy lessenaar. Dis weg, dink hy verslae.
“Willem!” roep sy ma uit die kombuis.
Hy gaan sit op sy bed. Kyk deur die venster na die boom op die sypaadjie waarvan die blare geel word. Hy antwoord nie op sy ma se roep nie. Hy is lus en maak of hy slaap. Hy weet wat wag: Lydia en die parkie … En dalk ’n briefie wat eensaam in die middel van die kombuistafel lê waar almal dit sal raaksien.
Drie maande gelede was dit nog lekker om met Lydia in haar stootwaentjie deur die parkie te hardloop en haar op ’n swaai te stoot totdat sy kraai van die lag. Nou werk dít ook nie meer nie.
Daar is bekendes uit die land van briefies en ander horrors wat dink hy en Lydia is free entertainment. Lekker, Willem, my maat! Moet jy nie die pram ’n slag olie gee nie? Spin hom, my china. Gee bietjie woema. Moet jy nie die nappy change nie?
En so aan. Die seuns wat smiddae in die parkie rondhang en rook.
Hy staan met ’n sug op en loop kombuis toe. Kyk uit die deur na Lydia wat skoppend in haar stootwaentjie sit. Sy ma is besig om haar vas te gespe.
“Jou kamer is nou skoon. Probeer dit tog so hou,” sê sy terwyl sy orent kom.
Hy was op die punt om te sê hy kan nie vandag die parkie-ding doen nie, maar Lydia klap haar hande en sê opgewonde: “Ry, ry!” Hy weet hy kan nie nee sê nie.
Hy sal vandag ’n ander pad loop, die parkie uit ’n ander hoek benader. Dalk sien hulle hom nie.
Sy ma staan in die agterdeur terwyl hy die stootwaentjie by die trappies afsukkel.
“Ek het … toe ek jou lessenaar reggepak het …” Sy aarsel. “Ek sien meneer Van Rensburg het vir ons ’n brief gestuur … al drie dae gelede.”
Hy voel hy bloos. Hy kyk nie op nie, vroetel onnodig aan die stootwaentjie se wiele.
“Jy moet dit miskien maar vanaand vir Pa gee. Dan is dit verby.”
“Sal Ma nie maar nie … terwyl ons weg is?” Hy vermy haar oë.
Sy bly in die kombuisdeur staan en kyk hulle agterna. “Dis nie die einde van die wêreld nie, Willem!” hoor hy haar roep toe hulle reeds om die hoek is.
Ja, ja, dink hy. Dis maklik om te praat. Dis ék wat met die gemors sit.
Terwyl hy vir Lydia op die swaai stoot, wonder hy of sy ma die briefie vir sy pa sal gee. En wat sy pa sal sê oor die briefie al drie dae oud is. Hy gee eintlik nie meer om nie.
“Who cares? Moer my dan maar dood,” sê hy hardop.
“Moer dood,” sê Lydia.
Ná ’n ruk tel hy haar terug in die stootwaentjie. Sy sit haar teë, maar hy dwing haar om te sit en gespe haar vinnig was.
“Ons kom môre weer,” sê hy en stoot haar met ’n vaart weg voordat sy ’n keel kan opsit. Daar was gelukkig vandag geen bekendes uit die land sonder melk en heuning nie, dink hy dankbaar terwyl hy die terugtog aanpak.
Flip wag hulle by die groot hek in. Die ou hond swaai sy stert en lek aan Lydia se voete. Sy lag.
Sy pa se bakkie staan in die oprit. Willem stoot vir Lydia tydsaam om die huis.
Hy hoor stemme uit die rigting van die vyeboom agter Coenie se rondawel. Hy kan nie hoor wat hulle sê nie, maar hy weet dis Franna wat saam met Angelique van langsaan tussen die takke sit en nonsens praat. En rook.
“I mean to say, have a heart!” hoor hy Angelique sê. Haar lang bene met die swart toonnaels steek tussen die takke uit. Behalwe die bene kan Willem hulle nie sien nie. Hy kan nie hoor wat Franna antwoord nie, maar Angelique begin giggel.
“Franna,” sê Lydia en klap haar handjies.
Franna loer met ’n grynslag tussen die takke deur.
“Skoert, Akkerkop,” sê hy vir Willem terwyl hy sy stompie oor die Palworthies se muur skiet.
“Don’t throw your stuff in our yard!” giggel Angelique gemaak verontwaardig. Sy loer ook tussen die takke deur van waar sy in ’n mik van die boom sit.
“Hi, Willem,” giggel sy. “How’ve you been?”
Willem staan besluiteloos na hulle en kyk. Hy is nie lus vir hulle nie, maar hy is ook nie lus vir sy pa wat waarskynlik nou al die Groot Tyding onder oë gehad het nie.
Lydia begin vroetel en beur om uit die stootwaentjie te kom.
“Uit! Uit!” steun sy.
“Vat jou sussie en vat die pad. Die grootmense wil nie gepla wees nie,” sê Franna.
Angelique giggel steeds. Sy vat ’n trek van haar sigaret.
Terwyl Willem met Lydia in die rigting van die agterdeur loop, hoor hy Franna sê: “Willem is a very little outjie. He must eat more pap, ek sê.”
Willem maak asof hy nie hoor nie. Franna is self nou nie actually Mr Tarzan nie. Dis net sy bekspiere wat hy kan afshow. Hy weet ook nie hoekom praat Franna Engels met die meisie nie. Hy maak ’n gat van homself, want hy kán nie Engels praat nie.
En Angelique hou haar verniet so erg Engels. Haar ma is ’n nooi Botha van Boksburg, sê sy pa altyd. “Dis net ou Pete wat ’n propperse Pommy is. Ek weet nie wat van die arme kinders gaan word so sonder wortels nie. Wat moet hulle nou eintlik wees? Kyk maar vir klein Pietie, die kind kan nie behoorlik Afrikaans óf Engels praat nie!”
Willem se ma is besig in die kombuis.
Sy vee haar hande aan ’n vadoek af en vat Lydia by hom. “Kom, dis badtyd vir jou.”
Willem bly in die kombuisdeur staan. Hulle oë ontmoet vlugtig. Sy hoef niks te sê nie, hy weet. Op ’n manier voel hy verlig. Wat moet gebeur, moet nou maar gebeur.
Hy gaan lê op sy bed met sy kussing oor sy kop. Staan traag op toe sy ma hom later vir ete kom roep.
Die ander sit al aan die eetkamertafel toe hy op sy plek inskuif. Coenie vertel ’n lang storie oor sy matriekklas se planne om geld in te samel vir ’n geskenk vir die skool voor hulle die einde van die jaar die pad vat. Willem sien sy pa luister ongeduldig, sy kop op ’n ander plek. Sy ma stuur die bakke rond.
“Hoekom is die gras nog nie gesny nie?” vra sy pa geïrriteerd terwyl hy met niemand spesifiek praat nie.
“Dis Franna se beurt,” sê Coenie.
“Dis Willem se beurt,” sê Franna.
Willem kan nie onthou wie se beurt dit is nie. Hy gee ook nie om nie. Dis gewoonlik maar sy beurt.
“Willem het verlede week gesny. Dis jou beurt,” sê Coenie vir Franna.
“Ek kry hooikoors. Miskien moet ek nie meer … Hoekom wil niemand my glo nie!” sê Franna verontwaardig.
“Ek wil nie ’n diskussie hieroor voer nie. Die gras moet môre gesny wees as ek by die huis kom,” beëindig hulle pa die gesprek.
Hulle eet ’n ruk in stilte. Dis net Lydia wat geluide maak en in haar kos rondkrap asof sy haar gate uit geniet.
“Eet jou kos,” sê hulle ma vir Lydia.
“Hoe is dit dan met julle en die somme?” vra hulle pa onverwags.
Hier kom dit nou, dink Willem moedeloos. Hy het gehoop sy pa sal sy sê sê as hulle alleen is.
“Toe ek op Bosfontein was, al was dit net ’n plaasskool … Man, ons kon álmal somme doen!” sê hy heftig.
“Hans …” Hulle ma gluur oor haar bril vir hulle pa.
“Koeks, ek bedoel maar net … Hoe gaan hulle eendag die besigheid se boeke doen as hulle nie …?”
“Hans, ék doen die slaghuis se boeke en ek het nie wiskunde op skool gehad nie,” sê sy kwaai.
Besigheid, of slagtery. Hulle pa praat nie soos ander mense van ’n slaghuis nie. Willem sien Coenie en Franna kyk onderlangs na mekaar.
Daar is nie ’n manier dat hy wat Willem is eendag in die slaghuis gaan werk nie. No ways, al staan sy pa op sy kop. Hy weet Coenie en Franna wil ook nie.
“Hans, ek het dan gevra dit moet wag tot ons klaar geëet het,” sê hulle ma vies.
“Ek weet, Koeks. Dis maar net …”
Hulle eet in stilte verder. Willem sien sy broers loer steeds ongemaklik na mekaar. Hulle wonder oor die opmerking oor die wiskunde. Vir wie was dit bedoel?
“Wie se beurt is dit om skottelgoed te was?” vra hulle ma terwyl sy die borde bymekaarmaak.
“Dis Franna se beurt,” sê Coenie.
“Dis Willem se beurt,” sê Franna.
Willem kan nie onthou wie se beurt dit is nie. Hy gee ook nie om nie. Whatever.
“François, as ek reg onthou, het Coenie gisteraand gewas. Hy’t mos die glas … Ja,” sê hulle ma dan beslis, “dis jou beurt.”
“Jaa, Maa.” Franna volg haar kombuis toe en skouer Willem in die verbygaan. “Is jý die moroon wat nie kan wiskunde doen nie?” vra hy net sag genoeg sodat hulle pa nie kan hoor nie.
Willem probeer terugstamp, maar Franna koes en hy verloor sy balans. Hy tref die muur met ’n slag. Franna grynslag terwyl hy deur die kombuisdeur verdwyn.
Willem staan sy skouer en vryf. Hy hou sy pa dop, wat in die rigting van die agterstoep loop.
“Willem, skink vir my ’n knertsie en dan kom sit jy by my op die stoep,” sê hy oor sy skouer.
Wat is daar om te sê? wonder Willem. Ek kán nie flippen wiskunde doen nie en klaar. Ek wíl nie flippen wiskunde doen nie en klaar.
Sy pa sit en wieg in die rottangstoel op die agterstoep; Willem kan hom vaagweg in die donker uitmaak. Hy oorhandig die glas en gaan sit op die stoeptrappie. Flip sukkel-sukkel nader en kom lê by hom. Hy krap die hond se maag met sy voet. Hy wag.
Hulle sit ’n ruk in stilte en luister na die geluide uit die kombuis. “Nie so hardhandig nie! Jy gaan die goed breek,” hoor Willem sy ma sê.
“Kan Franna of Coenie jou nie met die wiskunde help nie?” vra sy pa oplaas.
Willem antwoord nie, en aan sy pa se gesug weet hy sy pa verwag ook nie regtig ’n antwoord nie. Wiskunde is nie in die jonger Van Vuurens se bloed nie.
“Ons moet maar môre vroeg by meneer Van Rensburg ’n draai maak en hoor wat gaan vir wat,” sê sy pa later.
Willem bly stil. Dit lyk of sy pa nie agtergekom het die briefie is al drie dae oud nie.
Die lawaai in die kombuis het opgehou. Iemand sit die kombuislig af en dis nou pikdonker op die agterstoep. Willem hoor krieke in die naaste blombedding. Flip steun in sy slaap.
“Skink maar vir Pa nog ’n nightcap, en speel vir my ’n CD van Nana,” verbreek sy pa die stilte.
Willem gaan haal die drankie en die draagbare CD-speler. Hy prop dit by die muurprop op die stoep in en sit ’n CD van Nana Mouskouri op. Sy pa se gunsteling.
Sy pa sug van genoegdoening terwyl hy ’n sluk van sy drankie neem. “Aag, maar die vrou sing mooi. Sy is sweerlik een van Griekeland se nasionale bates.”
Willem sit op die stoeptrappie en kyk na die donker en na sy ma se kruietuin wat hy net vaagweg kan uitmaak. Dit ruik na allerhande vreemde goed. Coenie se rondawel langs die vyeboom is donker. Hy is seker by Marietjie.
“Ja, wat, die ou lewe,” sug sy pa.
Toe die CD stop, staan sy pa op en gaan staan in die kombuisdeur. Hy skakel die lig aan. Hy draai na Willem en staan ’n ruk na hom en kyk.
“Jy kan dalk nie somme maak nie, maar ek is seker jy kan eendag vir die Springbokke uitdraf as jy jou kant bring. Skrumskakel. Jy’s ’n natural.”
Willem se maag trek op ’n knop. Hy loer na sy pa wat in die kombuis verdwyn. Hy wonder verbaas wanneer sy pa so kort geword het.