Читать книгу Willem Poprok - Derick van der Walt - Страница 6
Оглавление2. Die dooie argitek
“Delila” maak Willem wakker, soos elke oggend die afgelope twee weke. Of dis iets wat soos “Delila” moet klink.
Bieep-bieep-bieep-bieep soos trappe van laag na hoog, en dan weer bieep-bieep-bieep-bieep van hoog na laag. Dis ’n onaardse gekerm en dis vals en dis verskriklik. Willem kreun en druk sy kop onder sy kussing in.
Coenie en sy beuel, soos sy pa dit noem. Coenie sien sleg en kan skaars ’n rugbybal op ’n rugbyveld raaksien, wat nog van vang. Daarom hóéf Coenie nie rugby te speel nie. Coenie ontgin nou ander talente, het sy ma een aand vir tannie Snip oor die foon gesê. Soos in die skool se blaasorkes, waar Willem vermoed Coenie nie sommer ’n verlore talent sal opspoor nie.
Nie ’n kadetorkes nie, sê Coenie gewoonlik vir enigiemand wat vaagweg belangstel. Blaasorkes. Ons marsjeer nie. Ons gee actually uitvoerings en so aan. Ons sit.
Die instrument is groot en silwer en ’n mens blaas daarop. Die ding het ’n naam wat Willem nie kan onthou nie en nie wíl onthou nie, want Coenie oefen soggens voor skool in sy rondawel wanneer normale mense nog slaap.
Dit klink vir Willem of Coenie nie lekker regkom met die beuel nie. Dis ’n wonder dat die Palworthies van langsaan nog nie oor die muur gegil het nie, hulle moet mos ook kan hoor. Willem kan sien sy ma en pa byt ook soggens op hulle tande oor die lawaai wanneer almal toustaan vir die badkamer. Hy kan nie dink dat daar iemand anders op hierdie aarde is wie se dag só begin nie.
Dis net Franna: “Maak stil daai mens! Druk ’n mieliestronk in die ding! Kan julle nie hoor dis vals nie? Ek kan nie wag om van hierdie huis af weg te kom nie!” Deur die badkamervenster.
Maar niemand anders sê iets nie. Dis net Lydia wat Coenie se lawaai waardeer; sy dans in die kombuis op die maat daarvan.
Willem het eenkeer sy pa vir sy ma hoor sê: “Die arme Coenie. Ek dink nie die kind is die skerpste potlood in die pakkie nie.”
“Sies, Hans,” het sy ma gesê, “die kind het ’n hart van goud.”
Coenie is oukei, dink Willem. Dis net Coenie wat vir Franna sal sê: “Pick your own size.” Dis net Coenie wat weet hoe om met Franna te werk, want hy is groter en sterker as Franna.
Willem loop kombuis toe vir ontbyt. “François,” hoor hy sy ma sê, “dis vandag jou beurt. As ek eenuur van die slaghuis af kom, wil ek jou varkhok pak.”
Willem sien Franna se kop ruk effens.
“Ek sal self my kamer regpak, Ma.”
“Nee, jy sal nie.”
“Ek belowe ek sal, Ma. Saterdag. Ek hou nie daarvan dat Ma in my goed krap nie.”
“François, ek gaan vanmiddag jou kamer ordentlik regpak en skoonmaak. Mense sê graad 11 is selfs moeiliker as matriek – vra maar vir Coenie. Jy kan nie leer as jou kamer só lyk nie. En ek sal nie in jou goed krap nie. Wat het jy in elk geval om weg te steek?”
“Niks nie, Ma.”
Willem glimlag leedvermakerig vir Franna. Hy dink sy broer steek meer as net sigarette in sy deurmekaar kamer weg.
Terwyl hy sy boeke in sy tas pak, kom staan Franna met ’n groot, bruin, toegeplakte koevert in sy deur. Hy kyk in die gang af en glip vinnig by Willem se kamer in. Hy maak die deur toe.
“Jy moet dié vir my in jou kamer bêre tot môre.”
“Ek sal nie.”
“Jy sal, want anders vertel ek vir Pa jy het twee weke laas rugby geoefen. En as jy dit oopmaak, vertel ek éérs vir Pa jy oefen nie meer rugby nie en dán donner ek jou dood.”
Hoe weet hy van die rugby? dink Willem verslae. Hy vat die koevert sonder ’n woord. Franna verdwyn met sy rugsak oor sy skouer gangaf.
Willem bekyk die koevert. Dis deeglik toegeplak. Daar is nie ’n manier hoe hy dit kan oopmaak sonder dat Franna sal weet nie. Hy is nie seker wat daarin is nie, maar hy is darem nie stupid nie, al kan hy nie wiskunde doen nie. Hy hou die koevert by die venster teen die lig. Dit lyk soos tydskrifte. Hy dink hy sien iets: ’n meisie met nie baie klere aan nie.
Hy druk die koevert onder die mat in, onder die deel wat onder sy bed is. Sy pa toet ongeduldig in die oprit.
Hulle ry in stilte skool toe.
“Ons moes eintlik eers ’n afspraak gemaak het,” sê Willem.
Sy pa antwoord nie; hy toet vir iemand wat voor hom indraai.
Willem wonder of daar ’n briefie oor die rugby ook gaan kom.
Die koerantplakkaat teen die boom regoor die skool se ingang sê ’n bekende argitek is in sy slaap oorlede.
By die hoofhek keer die wag hulle voor.
“Magtig, man, ek is haastig!” sê sy pa. “Ek kan nie heeldag hier rondhang nie. Ek het ’n besigheid om te bestuur!”
Die wag laat hulle deur.
Hulle sit in stilte in die ontvangsvertrek en wag vir ou Voete, wat iemand anders in sy kantoor het. Iemand wat ’n áfspraak gemaak het, sê die kantoortannie vermanend.
Hulle het vandag die eerste periode wiskunde en Willem hoop ou Voete se besoeker is nie haastig nie. Hy wat Willem is, is glad nie. Hy het heeldag tyd. Sy pa kyk kort-kort ongeduldig op sy horlosie.
“Julle kan maar deurgaan, meneer Van Vuuren,” sê die kantoortannie ná ’n ruk. Willem sien teleurgesteld dat die wiskundeperiode nog nie eens begin het nie.
Ou Voete skud sy pa se hand en nooi hulle om plaas te neem. Sy pa en ou Voete gesels eers oor die weer en toe oor die Blou Bulle en toe oor die toestand van die ekonomie. Toe maak ou Voete keel skoon.
“E … nie alle leerders is aangelê vir wiskunde nie, maar dit bly ’n belangrike vak. Willem se punt vir die eerste kwartaal …” Hy loer na ’n dokument op sy tafel.
Jy kan maar sê, dink Willem. Almal weet seker al teen dié tyd, die Pretoria News ook. Dit was 19% vir die eerste kwartaal. Net Paul Siebert het minder gekry, al is hy nou die tweede keer in graad 8.
“Wiskundige geletterdheid is verpligtend vir alle leerders tot graad 12. Ons vind aanvullende klasse help gewoonlik baie,” gaan ou Voete voort.
Hy bly stil en loer oor sy bril na hulle. Willem se pa skuif ongemaklik rond.
“Ons beveel gewoonlik vir doktor Schoeman aan. Hy het reeds afgetree en bly in die omgewing. Ons hoor net goeie dinge van die kinders wat by hom aanvullende klasse kry en … hoe sal ek sê … so ’n bietjie meer aandag nodig het.”
Willem kyk by die venster uit, maar hy sien niks raak nie. Bietjie meer aandag nodig het. Mooi woorde vir stupid, dom, moroon. Who cares anyway?
“Wiskunde bly ’n belangrike vak, veral as ’n mens jou oog op universiteitstoelating het,” gaan ou Voete voort.
Ons kry die boodskap, dink Willem geïrriteerd.
“Wat ons nie kan verstaan nie, is dat Willem nie eintlik so baie met somme op laerskool gesukkel het nie,” verbreek sy pa sy stilswye.
“Graad 8 is maar vir al die leerders ’n aanpassing. Die meeste kom tog gou reg,” sê ou Voete goedig.
Hy draai na Willem. “Wat wil jy eendag word, seun?” vra hy terwyl hy oor sy bril loer.
Willem weet nie wat om te sê nie. Hy weet nie wat hy wil word nie. Hy het geen idee nie. Definitief nie ’n slagter nie.
Ou Voete en sy pa kyk na hom. Hulle wag.
Willem soek in sy kop rond. Veearts, speurder, IT boffin … nee, nie regtig nie. Hy raak paniekerig.
“ ’n Argitek,” kom dit van iewers. “Ja, ’n argitek,” sê hy met meer selfvertroue.
Sy pa lyk uit die veld geslaan. Willem weet nie regtig wat ’n argitek doen nie, maar dis iets. En dit klink of hy lank oor die saak gedink het.
“Wel, wel,” sê ou Voete verbaas. “Dan moet jy beslis ’n vak soos kuns oorweeg. Dit verskaf nogal … e … agtergrond vir argitektuur, dinge soos ruimtelike perspektief en … Dis die eerste jaar dat ons kuns addisioneel aanbied,” sê ou Voete trots vir Willem se pa.
Hy kyk weer na Willem. “Juffrou Blom het vanjaar by ons aangesluit. Sy gaan oral ’n handjie bysit. Ons betaal self vir haar dienste. Sy gaan kuns gee, én sy is nie skaam om ’n hamer en ’n saag vas te hou nie. Ons gaan haar selfs in die houtwerklokaal inspan as dit moet, én sy gaan help om van die junior rugbyspanne af te rig. Praat van veelsydig!” Hy trommel ritmies met sy vingerpunte op sy lessenaar. “ ’n Ware aanwins,” voeg hy glimlaggend by.
“Die kunsklasse is Dinsdae en Donderdae ná skool,” sê ou Voete, die wêreld se probleemoplosser, tevrede vir Willem.
Willem se mond wil-wil oopval. You must be joking! wil hy sê. Julle wil hê ek moet ekstra wiskundeklasse neem én kuns én rugby speel én al die ander vakke se huiswerk doen én gras sny én skottelgoed was! Én nog met Lydia gaan stap!
“Kuns?” vra Willem se pa terwyl hy onseker na Willem kyk. “Maar Willem, jy kan mos nie …”
Hy draai na ou Voete. “Willem kan nie eintlik teken nie,” sê hy verskonend.
Toe kliek iets in Willem se kop. Niemand sal mos van hom verwag om ál die goed te doen nie. Hy is seker sy má sal nie.
Hy sal iets moet los. Iets wat hy nie wíl doen nie, iets wat hy haat. As sy loopbaan as argitek op die spel is, sal almal mos verstaan. Hy weet niks van kuns nie, maar énigiets moet beter as rugby wees.
“Ja, ek wil graag kuns neem,” sê hy beslis en ignoreer sy pa se geskokte gesig.
Ou Voete glimlag tevrede. Nog ’n jongeling op die regte spoor gehelp, sê sy glimlag.