Читать книгу Willem Poprok - Derick van der Walt - Страница 9

4. Die poprok

Оглавление

Willem hou vir Pietie Palworthy deur die kombuisvenster dop terwyl hy sy middagete afsluk. Hy is honger, doodhonger.

“Nie so vinnig nie, Willem. Jy sal maagpyn kry,” sê sy ma terwyl sy vir Lydia voer. Lydia wriemel in die eetstoeltjie en wil uit. Elke keer as die volgelaaide lepel naby haar mond kom, pers sy haar lippe op mekaar en draai haar kop weg.

“Ag, Lydia,” sug sy ma.

“Self,” sê Lydia en gryp na die lepel. Sy ma laat haar begaan. Lydia vat die lepel en gooi die kos op die vloer.

“Ag, Lydia,” sug sy ma weer en staan op om ’n lap te gaan haal.

“Ek gaan daai kind nog vermoor.” Willem hou steeds vir Pietie deur die venster dop. Dié loer oor die heining en gooi die arme halfdooie Flip met suurlemoene. Die dowe hond lig kort-kort sy kop waar hy in die son lê en kyk onseker om hom rond.

Pietie se blonde kuifie verdwyn agter die betonmuur.

Willem draai na sy ma. “Gaan Lydia ’n partytjie kry as sy volgende week verjaar?”

Sy ma probeer steeds ’n paar lepels kos in Lydia se mond geprop kry. Sy antwoord nie.

“Aag, my kind,” sê sy dan, “ek gaan sommer ’n paar goedjies na die dagtannie stuur, hulle kan haar verjaarsdag sommer daar vier. Sy’s nog klein, ek dink nie sy gaan eers weet sy verjaar nie. En ek sal vir haar ’n koek bak en dan kan ons vir haar sing as julle almal by die huis is.”

Willem vervies hom. Daar is altyd geld vir ander goed, behalwe vir hom en Lydia. As Franna net vra, nog net die “t” van tokse sê, het sy pa al gekoop. En Coenie. Hy kan nie eens meer tel hoeveel brille Coenie al gekry het nie.

Sy oog vang weer die blonde kuifie wat blitsig bo die betonmuur verskyn. Dan sien hy die goue bom wat deur die lug trek en die arme hond sekuur teen die kop tref.

“Nou het ek genoeg gehad!” Willem vlieg op en loop by die voordeur uit. Hy sluip stilletjies langs die betonmuur af en raap een van die Palworthies se suurlemoene op wat aan hulle kant van die muur lê.

Maar Pietie sien hom en Willem hoor hy hardloop in die rigting van hulle huis. Hy weet uit ondervinding hy sal moet roer voor Pietie in die huis verdwyn. Willem loer oor die muur en gooi, maar weet dadelik dis mis. Die suurlemoen tref die Palworthies se kombuismuur.

Pietie lag met sy haasbek en steek vir hom tong uit.

“I’m going to murder you one day. Very dead,” sis Willem woedend, en is dadelik kwaad vir homself omdat hy nes Franna Engels met die simpel kind praat.

Pietie loer om die kombuisdeur en skree: “Jou pa-hulle het tog vier keer geseks!”

Willem moet homself keer om nie oor die muur te spring en die kind te verwurg nie.

Sy ma kom by die kombuisdeur uit. “Willem, Oupa het weer gebel. Gaan maak tog maar gou ’n draai. Hy kom nie reg met die internet nie.”

“Maar Ma, ek het hom al ’n honderd keer gewys!”

Wat hy eintlik wil sê, is dat hy nie wil weet wat in sy oupa se bankrekening aangaan nie. Hy wíl nie sy oupa se geldsake op die internet doen nie. Dit voel so half asof hy iets weet wat hy nie behoort te weet nie, soos wat in Franna se bruin koevert aangaan. Hy moet alles doen in hierdie huis, en dan wil hulle nog hê hy moet rugby speel en kuns neem en wat nie nog alles nie.

Maar hy kan nie help om tog ’n bietjie trots te wees nie. Sy oupa het nog nooit vir Franna of Coenie gevra nie, en hy betaal altyd iets as Willem hom gehelp het. En hy het sy oupa se name: Willem Johannes van Vuuren. Hy het ook eintlik geld nodig om vir Lydia ’n geskenk te koop vir die tweewordstorie, troos hy homself toe hy sy fiets onder die afdak gaan haal.

Hy ry stadig deur die stil strate en kyk na die huise. Hulle bly in ’n ou deel van Pretoria. Sy pa sê hy gaan nog eendag die slaghuis vir ’n groot wins verkoop en dan trek hulle na een van die nuwe dele in die ooste van Pretoria, waar hy ’n smart slaghuis in ’n fancy sentrum gaan begin. Daar waar die mense geld het en nie kyk wat steak kos nie. Hulle soek gehalte en gee nie om om daarvoor te betaal nie, sê sy pa. Nie soos hier waar mense van mince en boerewors leef en probeer om jou vir elke sent af te stry nie, en dan koop hulle op die ou end hoendervleis. Asof hoendervleis regte vleis is.

Laurel en Hardy wag vir Willem op Madeliefie se stoep. Dis hoe sy pa Oupa en oom Fred noem. Willem kan nie onthou wie Laurel en wie Hardy is nie, maar sy oupa is die klein, maer een en oom Fred die grote, die ou met die groot maag waarop hy baie trots is. ’n Paar ander ou mense sit en gesels ook op die bankies voor die aftreeoord se stoep.

Oupa beduie met sy kierie terwyl Willem sy fiets aan een van die bankies vasketting. Hy is nog ver toe hoor hy al: “Willem, ek het al weer my password vergeet!”

Willem sug. Hy wonder partymaal of Oupa nie aspris sy wagwoord vergeet nie.

Oupa is soos gewoonlik baie bly om hom te sien, en oom Fred vroetel deur Willem se hare. “Hoe lyk die poppies in die hoërskool vir jou?” lag hy.

Oupa sukkel met sy kierie die lang gang af, met oom Fred agterna en Willem aan die einde van die tou. Die aftreeoord ruik snaaks, so surerig en benouderig, dink hy. Die ou mense wat hulle teëkom, groet vriendelik. Willem weet hulle ken hom al, nie seker of dit goed of sleg is nie.

By die glashokkie aan die einde van die gang stop die tou. Oupa loer om die deur na die tannie met die pers hare wat voor die rekenaar besig is. Sy wikkel op die sleutelbord, sien Willem beïndruk.

Oupa maak keel skoon, maar die tannie hoor nie, of maak of sy nie hoor nie. “Katrina, gaan jy nog lank wees? My kleinseun kan nie heeldag …”

“Wag jou beurt af,” sê die tannie kortaf sonder om op te kyk.

“Sy stuur seker ’n e-mail vir haar dogter in Amerika,” fluister oom Fred.

“Fred,” sê Oupa vies, “ek wil nie hê jy moet by wees as ek my persoonlike goed doen nie. Gaan sit solank buite op die stoep.”

“Aag, ou Willem, watse geheime het jy nogal vir my? Ek stel nie belang in hoeveel geld jy in die bank het nie.” Hy fluister vir Willem: “Sal jy vir ons wys waar hou hulle die stout goedjies op die internet?”

Oupa frons kwaai. “Magtig, Fred, kry jou ry!”

“Net so bolangs. Nie te rof nie,” fluister oom Fred.

“Man, Fred, loop sit op die stoep!”

Willem sug. Dié gesprek het hy al baie gehoor.

Die tannie staan op en stap uit terwyl sy hulle ’n kyk gee.

Willem verduidelik weer geduldig en doen vir sy oupa die oorplasing.

“Willem, jy aard na my. Jy weet hoe om goed te doen. Jy’s ’n regte Van Vuuren,” prys Oupa toe hulle voordeur toe loop.

“Ek dink jy’s baie slimmer as jou pa toe hy so oud soos jy was. Hy’t maar gesukkel met die somme, as ek reg onthou, of was dit nou die Engels? Ja, dit was Engels. Nee, dit was tog die somme, of was dit nou somme én Engels?”

Too much information, dink Willem. Hy wil nie sy pa se geheime weet nie. Maar hy wonder tóg oor die somme.

“Wag bietjie.” Oupa stop by die glasdeur en vroetel in sy broeksak. Hy haal dertig rand uit en druk dit in Willem se hempsak. “For a job well done.”

“Dankie, Oupa. Ek gaan vir Lydia ’n present hiermee koop. Sy verjaar mos volgende week.”

“Wil jy nou meer! Dis soos gister toe jy so groot was soos sy nou is, en kyk net hoe het jy gegroei. Waar vlieg die jare.”

Oom Fred sit buite op een van die bankies en waai vir Willem toe hy na sy fiets stap.

“Volgende keer moet jy my wys!” skree hy vrolik.

Willem wonder hoe dit voel om heeldag in ’n aftreeoord te sit sonder om eintlik iets te doen. Net storietjies te vertel oor jou jong dae en te sug oor die jare wat verbyvlieg en te wonder oor stout goedjies op die internet wat jy seker nooit in jou lewe sal sien nie.

Hy kan nie glo dat sulke ou ballies nog oor stout goedjies wonder nie. Hulle is dan al oud verby! Hy wonder of hy en Schalk nog pelle sal wees as hulle eendag so oud is. Sal hulle ook eendag saam op Madeliefie se stoep sit en hoop iemand kom vir hulle kuier? Hy hoop hy en Schalk het teen daai tyd darem al stout goedjies gesien.

Hy konsentreer op sy onmiddellike probleem terwyl hy sentrum toe ry. ’n Geskenk vir Lydia. Dertig rand is nou nie juis ’n fortuin nie, en sy ma het gesê dit mag nie lekkergoed wees nie. Dalk moet hy vir haar ’n boek koop waaruit hy vir haar ’n storie kan lees. Soos met baie ander goed moet hulle ook saans beurte maak om vir Lydia ’n storie te lees as sy in die bed is. Die huis van beurte, so terug op die brug as kan kom, sê Franna.

Willem vertel gewoonlik maar wat in sy kop kom as dit sy beurt is. Sommer iets wat hy op televisie gesien het, soos die program oor die Okavango wat hulle verlede week gekyk het. Die moerasse en die eilande en die diere, soos wat hy hom verbeel dit aan die begin van die aarde was, wild en woes en baie mooi soos die Here dit in Genesis kon gemaak het.

Tot Franna het gekyk sonder om soos gewoonlik ongeduldig rond te skuif. Coenie ook, vooroor gebuig met sy mond effens oop en sy oë op skrefies agter sy bril asof hy nie mooi kan sien nie. Dis min dat hulle almal saam na iets kyk sonder dat iemand iets simpels sê. Die Okavango het vir hom na ’n awesome plek gelyk.

Hy het Lydia die volgende aand vertel van ’n wilde leeu en ’n wilde tier wat mekaar eers wou opvreet en toe dik pelle geword het. Hy dink nie Lydia luister regtig nie. Dis maar net vir haar lekker as een van haar broers by haar op haar bed lê en haar nie heeltyd ongeduldig wegwens soos hulle dikwels doen nie.

As dit Coenie se beurt is, lees hy gewoonlik vir haar ’n storie uit ’n boek. Repelsteeltjie en Jan in die boontjierank en sulke stories. Willem dink nie Coenie kan ’n storie uitdink nie.

Maar Franna kan. Hy vat min sy beurt, maar dan is dit vreeslike goed wat soos Saw 5 klink, wat Willem en Schalk een middag by Schalk se huis gekyk het. Stories met baie bloed. Hulle ma het een aand in die gang verbygestap en die riller gehoor wat Franna vir Lydia vertel het. “François! Kry onmiddellik end! Lydia sal nie ’n oog toemaak nie!”

“Chill, Ma, dis dieselfde as Rooikappie, en wat van Hansie en Grietjie? Dís nou actually cruel, mense wat hulle kinders in ’n bos los om te vrek van die honger. Ma moan nie as Coenie sulke goed vir haar lees nie.”

Partymaal dink Willem Lydia hou meer van Franna as van hom en Coenie. Hy dink dis omdat Franna lekker rof met haar speel – nie dat hy baiekeer lus het om met haar te speel nie. Hy gooi haar in die lug en sleep haar rond totdat sy gil van lekkerkry. As hulle ma die horries kry, sê Franna net: “Chill, Ma, sy hou daarvan.”

Willem dwaal besluiteloos deur die sentrum. Hy besef gou, nadat hy ’n draai deur CNA geloop het, dat ’n boek nie sal werk nie – dertig rand is te min vir ’n boek. By Pick n Pay is ’n paar plastiekspeelgoed, die meeste duurder as dertig rand. Die goedkoop goed gaan nie langer as ’n dag hou nie. Hy ken vir Lydia. Sy het Franna se wilde geen geërf, meen Oupa.

Skuimseep waarmee sy kan bad, het sy ma voorgestel. Hy weet nie wat skuimseep kos nie, en hy wou nie sê sy sakgeld is lankal op nie. By Clicks krap hy tussen die badgoed rond, maar niks geval hom nie, dis óf te duur óf te lelik. Hy moes vir Schalk saamgebring het. Schalk het twee ouer susters.

Hy gaan staan voor die tuisnywerheid se venster en kyk na die koeke en terte en lekker goed wat ’n mens kan eet. Die pasteie, wat die tannie self maak, kos tien rand. Hy weet, hy en Schalk het al baie hier kom koop. As hy ’n pastei koop, het hy net R25 oor, dis nou saam met die vyf rand wat Schalk hom geskuld het en wat hy vanoggend terugbetaal het.

Willem huiwer. ’n Mens moet eet ook, en hy is honger. Miskien kan hy tog maar vir Lydia lekkers koop en maak of hy sy ma verkeerd verstaan het.

Dan vang sy oog die poprokke wat teen die linkerkantse muur in ’n ry aan hakies hang. Handgemaak, staan op ’n bordjie wat bokant die ry aangebring is. Hy stap huiwerig nader en kyk versigtig na die prys: R23.50 elk. Hy kan sy oë nie glo nie. Hy kyk weer. R23.50 elk, lees hy weer.

Hy ruik die pasteie. Sy mond water. Hy probeer onthou hoe groot Miempie is. Is die rokke groot genoeg? Hy dink so. Miempie is nie ’n baie groot pop nie. Hy kyk selfbewus in die winkel rond. Daar is gelukkig nie ander mense nie. Die tannie by die geldlaai is druk besig en kyk nie op nie.

Watter rok? Hy besluit op die bloue met wit blommetjies en ’n paar wit valletjies. Hy gryp die rok van die hakie af en pyl op die pasteie af. Barbeque beef.

Die tannie kyk op toe hy die rok en die pastei op die toonbank neersit. “Dis vir my sussie,” sê hy vinnig. Sy druk die rok in ’n grys plastieksakkie en hy raap dit en die pastei op nadat hy betaal het.

Lydia gaan erg van die poprok hou, dink hy ingenome toe hy kouend deur die sentrum stap. Baie erg, en hy is seker Franna en Coenie sal nie eens onthou dat sy verjaar nie. Hy sal vra dat sy ma die rok mooi toedraai.

Coenie en Franna eet toebroodjies by die kombuistafel toe hy by die huis kom. Coenie vertel van die nuwe liedjie wat die orkes die middag geoefen het, iets te doen met ’n knife.

Franna het rugby geoefen. Sy rugbytrui is vuil en vol groen grasvlekke. Hy ruik na sweet en sy voete stink. Sy tokse en kouse lê eenkant op die kombuisvloer.

“Wat het jy gekoop?” Franna se oë is op die grys sakkie in Willem se hand. Coenie bly afgehaal stil, maar hy kyk ook nuuskierig na Willem.

“Dis my saak.”

Willem probeer vinnig by hulle verbydruk kamer toe, maar Franna gryp die plastieksakkie uit sy hand. Hy skud die inhoud al kouend op die tafel uit. Coenie leun nuuskierig vorentoe. Franna lig die poprok met ’n vinger op en kyk daarna.

“Moer my dood, Willempie. Nou kort jy nog net die pop.”

“Jou simpel aap, dis nie vir my nie!” sê Willem kwaad.

Coenie het nog nie die kloutjie by die oor gekry nie. Hy druk onseker met sy vinger aan die hopie materiaal. “Is dit ’n panty?”

Willem gryp die poprok en druk dit terug in die sakkie. Terwyl hy kamer toe loop, hoor lag hy Franna in die kombuis. Dié vertel vir sy ma dat Willem vir hom ’n poprok gekoop het.

Hy sal nie verbaas wees as hy nog eendag vir Franna met een van sy pa se vleismesse steek nie.

“Ek het vir Kokkie Kok en Klein Kokkie Kok van Kokkies’ Motors by die bank raakgeloop,” sê Willem se pa die aand aan tafel terwyl hy ’n beentjie aflek. “Groot Kokkie sê hulle het ’n karavaan ingekry. ’n Bargain.” Hy suig aan die beentjie. “Ouerig maar tog.”

Niemand sê iets nie. Hulle eet in stilte.

“Groot Kokkie sê die karavaan moet skuif voor die einde van die week.”

Willem se ma sug.

“Vakansies is deesdae so duur.” Sy pa skep nog ’n stuk skaapvleis op sy bord. “Met ’n karavaan kan jy enige plek gaan vakansie hou en sommer teenaan die see stilhou,” gaan hy voort.

“Ag, Hans,” sug hulle ma. Sy sit haar mes en vurk hard neer. “Kan ons nie maar liewer … Dis so ’n gesukkel met die een badkamer.”

Willem sien sy pa hoor nie. “Kokkie sê …”

“Kakka,” sê Lydia terwyl sy ’n ertjie op die vloer gooi.

“Lydia!” raas hulle ma.

“Wie leer die kind so lelik praat?” vra hulle pa vererg.

“Dis Willem Poprok,” grynslag Franna met ’n mond vol kos.

Willem word kwaad, so kwaad soos hy nog nooit in sy lewe was nie. Voor hy hom kan keer, gooi hy vir Franna met sy broodrolletjie. Franna koes en die rolletjie tref die muur agter hom.

Daar is skielik ’n ysige stilte om die tafel. Hulle pa se vurk hang in die lug. Almal kyk vir Willem. Franna grynslag steeds. Willem wil hom vermoor.

“Willem,” sê sy pa stadig terwyl hy sy mes en vurk bymekaar op sy bord sit. “Gaan wag vir my in jou kamer.”

Willem wil huil so kwaad is hy. Hy sit op sy bed en wag. Hy gee nie om wát sy pa aan hom doen nie, hy sal vir Franna terugkry. Hy gaan sommer nou vir sy pa vertel van die goed in die bruin koevert wat Franna onder sý mat wegsteek.

Ná ’n ewigheid kom sy pa in en maak die deur toe. Hy gaan sit op die voetenent van die bed. Hy kyk na die poster van Minki van der Westhuizen.

“Dis darem ’n mooi meisiekind,” sê hy half ingedagte.

Willem wag.

Sy pa draai na hom. “Willem. Ek wil jou nie foeter nie. Jy is te groot.”

Willem sien hy wonder wat om volgende te sê.

“En ek wil jou nie hok nie. Dis rugbyseisoen en jy moet oefen.”

Hy bly stil. Willem wag.

“Jy moet jou nie so baie aan François steur nie. Hy terg jou maar net.”

“Maar hy maak my so kwaad!” sê Willem heftig. “En hy lieg! Dis nie eintlik ek wat vir Lydia geleer vloek het nie!”

Sy pa sê niks. Hy kyk weer na die poster. Willem sien sy pa is nie regtig kwaad nie. Sy gedagtes is op ’n ander plek.

“Hoeveel mense kan in die karavaan slaap, Pa?” vat hy die gaping.

“Man,” sê sy pa opgewonde terwyl hy weer na hom kyk, “nie te veel nie. Maar die ding is, hy het ’n tent wat jy langs die karavaan opslaan, sê oom Kokkie. Julle seuns kan daarin slaap, en ek en jou ma en Lydia in die karavaan. Ek sal kampbedjies vir julle koop. Teenaan die see, dis waar ons Desember gaan staan. Sommer reg langs die water waar ons die see kan hoor en ruik. En ons kan elke aand braai terwyl ons vir die see kyk.”

“Ek dink Pa moet hom koop.”

“Sal maar moet sien. Sal moet hoor wat jou ma sê.”

By die deur draai sy pa om. “Jy moet die hele week skottelgoed was. Alléén, en niemand mag jou help nie. Nee, magtig, man, in hierdie huis mors ons darem nie met kos nie.”

Terwyl Willem water in die kombuiswasbak tap, dink hy hy sou baie eerder ’n pak slae wou hê, of ’n week se hok. Hy háát dit om skottelgoed te was en hy háát dit om rugby te oefen.

Sy ma haal ’n vadoek uit die laai en begin die glase afdroog.

“Ek dink ’n poprok vir haar verjaarsdag was ’n baie goeie idee.” Sy gee hom ’n drukkie.

Willem Poprok

Подняться наверх