Читать книгу Willem Poprok - Derick van der Walt - Страница 11
Оглавление6. Van Gogh se oor
“Mack the knife” is die nuwe liedjie. Wie sou so ’n simpel naam vir ’n liedjie gee? dink Willem.
Die deel wat Coenie speel, is bieep (in die middel), bieep (laer), bieep (hoër) en dan weer bieep (in die middel), en dan weer en weer en weer. Die middelnote klink reg, maar die laer noot en die hoër noot klink nie reg nie.
“Hoër, dêmmit, hoër,” sê Willem vir Coenie in sy kop terwyl hy in sy bed lê en wag vir sy beurt in die badkamer. Hy wag vir Franna se geskree. Dan kom dit deur die oop badkamervenster: “Ek gaan daai ding nog in jou agterent opdruk!”
Willem onthou Lydia verjaar. Hy wil self sy present vir haar gee. Terwyl hy stort, dink hy aan sy plan met die rugby. Dit kan werk.
“Maar jy sal jou steps moet ken,” sê hy hardop vir homself.
Hulle sing vir Lydia “Veels geluk, liewe maatjie” om die ontbyttafel in die kombuis, en sy ry ’n paar wilde draaie met die swart plastiekmotorfietsie wat hulle ouers vir haar gekoop het. Toe haal Willem die pakkie met die poprok agter sy rug uit. Lydia skeur dit oop en kyk nuuskierig na die stukkie lap.
“Sien jy, Lydia, dis vir Miempie, jy moet dit vir Miempie aantrek,” sê Willem.
Lydia bly kyk net na die poprok.
“Gaan haal vir Miempie, dan trek jy die rokkie vir haar aan,” sê hulle ma.
Maar Lydia het ander planne. Sy probeer eers haar voet in die poprok druk, maar toe dit nie werk nie, hardloop sy tot by die kombuistrappie en trek die rok oor Flip se kop wat in die oggendsonnetjie lê.
“Dis vir Miempie!” sê Willem afgehaal.
Lydia ignoreer hom en klim op die ou hond se rug. Sy ry hom soos ’n perd, met die blou-en-wit blommetjiesrok oor sy kop getrek, heen en weer voor die kombuisdeur.
Willem kan nie anders as om te lag nie.
“Toemaar, my kind, ons sal haar vanmiddag wys wat sy eintlik met die rok moet doen,” sê sy ma.
Terwyl Willem en Schalk skool toe ry, vertel hy vir Schalk dat hy die middag gaan rugby oefen. Dis stap een van sy plan.
“Hoekom sê jy nie maar net vir jou pa jy wil nie meer speel nie?” Schalk spoeg sy kougom voor hom in die pad uit.
“Daar’s nie ’n manier nie. Jy ken nie my pa nie. Rugby is vir hom anders as vir ander mense. Rugby is vir hom …” Willem soek na woorde. “Ek weet nie eintlik hoe dit vir hom is nie. Dis net nie vir hom soos dit vir ander mense is nie.”
Hulle steun die laaste bultjie uit voordat hulle voor die skoolhek stop en hulle fietse tot by die fietsloods stoot.
“My pa het vir Oos-Transvaal rugby gespeel toe hy 22 was,” vertel Willem. “Toe het hy sy knie seergemaak en hy moes ophou. Hy dink hy sou Springbok kon gehaal het as hy nie seergekry het nie. Nou dink hy ek en Franna is net so goed soos wat hy was.” Hulle sluit hulle fietse. “Hy dink hy kon vir die Springbokke teen Engeland op Twickenham uitgedraf het as hy nie sy knie seergemaak het nie.”
“Waar is Oos-Transvaal?” Schalk druk nog ’n stafie kougom in sy mond en hou die pakkie na Willem uit.
Willem vat ’n stafie en haal sy skouers op.
“En waar is Twickenham?”
“Ek dink dis in Engeland.” Willem gooi sy rugsak oor sy skouer. “Coenie is lucky dat hy nie mooi kan sien nie. Blérrie lucky.”
Hulle loop klas toe, Willem agter. Franna se ou skoene druk erg. Hy sal vanmiddag vir sy ma moet sê. Hy is lus en verkoop die nuwe tokse wat sy pa vir hom aan die begin van die rugbyseisoen gekoop het.
“Vincent van Gogh was ’n troubled soul,” sê juffrou Blom terwyl sy haar skootrekenaar aan die proxima koppel.
“Hy was so half … hoe sal ek nou sê … hy was effens … Ek wil nou nie sê hy was versteurd of so iets nie, maar …” Sy steun terwyl sy buk en met die proxima se draad peuter.
“Hoe ook al, hy het wonderlike goed geskilder.” Sy werskaf met haar rekenaar, kyk kort-kort oor haar skouer of die beeld op die skerm reg is. “Wónderlike goed.”
Die arm woerts tot voor Willem en woerts weer terug. Hy skrik hom koud en kyk vraend na Mia langs hom, maar sy kyk nie terug nie. Voor hom lê ’n blokkie sjokolade. Hy druk dit verleë in sy mond.
Die eerste skildery op die skerm is van kraaie en geel sonneblomme. Alles is half skeef en rowwerig en beslis weird, dink Willem. Die goed wat die man geskilder het, lyk nie soos hulle in die regte lewe lyk nie. Hoekom sou juffrou Blom dink dis so wonderlik?
“Oe, dis absolutely beautiful,” fluister Mia langs hom.
Die volgende skildery verskyn op die skerm. Dis van ’n skewe straatjie met ’n hoekwinkeltjie. Juffrou Blom staar peinsend daarna. “Kyk nou byvoorbeeld dié een. Dis een van sy bekendste skilderye en dis my gunsteling. Kyk die kort kwashale en die wonderlike kleur. Hy het sy onrustige emosies met kleur uitgedruk.”
Sy kliek na die volgende skildery. “En hier …”
Snaakse wolke met sterre wat lyk soos die groot, blink balle wat sy ma elke jaar aan hulle Kersboom hang, dink Willem. Nie actually sterre soos hý hulle ken nie.
Kliek. “En kyk net weer die pragtige sonneblomme.” Sy beduie met haar rooi liggie na die linkerkantse deel van die skildery.
Kliek. Skewe kamertjie met ’n bed.
Kliek. “Die aartappeleters, een van sy bekendste werke,” sê juffrou Blom vol bewondering.
Willem is seker Lydia het al mooier goed by die kleuterskool geteken.
“Beautiful,” prewel Mia weer.
“Hoekom het hy sy oor afgesny?” vra die meisie wat lyk of sy uit die Addams-familie kom.
“Wel,” sê juffrou Blom, “daar is verskeie menings daaroor, maar oor die algemeen dink mense dit was omdat hy ... Hy het glo aan depressie gely. Hy was ook ’n ruk in ’n inrigting vir skisofrene.”
Sy eie oor afgesny! Nóú maak die skewe prentjies vir Willem sin. Die ou was koekoes.
“Nou ja,” sê juffrou Blom terwyl sy haar rekenaar afskakel. “Dis genoeg vir vandag. Volgende keer doen ons prakties.”
“Jippie!” skree iemand voor in die klas. Willem-kan-nie-eintlik-teken-nie se maag trek saam.
Toe hy op die stoep uitloop, sien hy dis nog ’n halfuur voor hy by die rugbyoefening moet wees. Hy bly besluiteloos staan. Hou die ander kunsklaskinders met hulle snaakse klere dop wat geselsend om die hoek verdwyn, Desmond skuifel-skuifel agterna.
Hy gaan sit op die trappie en haal sy toebroodjies uit. Hy loer nuuskierig wat sy ma op die brood gesit het. Ham en tamatie. Hy kou gulsig.
Agter hom hoor hy juffrou Blom die klas sluit.
“Hoekom gaan jy nie huis toe nie, Willem?”
“Ek oefen nou-nou rugby,” sê hy sonder om op te kyk.
Die juffrou kom sit langs hom. Sy steek ’n sigaret aan. Willem dink nie onderwysers mag by die skool rook nie, maar juffrou Blom mag dalk omdat sy so veelsydig is.
“Lyk my jy het toe besluit.” Sy buk vooroor en krap aan haar enkel. Rooi kouse met goue strepies. Dit lyk na nuwe tekkies.
Willem kou.
“Ek bedoel, jy het toe besluit jy speel tóg rugby.”
Hy wonder ongemaklik wat om te sê. Hy en die juffrou sit ’n ruk in stilte. Hy kou, sy rook.
“Het Van Gogh regtig sy oor afgesny?” vra hy later.
“Jip. Troubled soul, soos ek sê.” Sy steun toe sy opstaan. “Mind you, daar is mense wat meen sy pel, Gauguin, het dit eintlik gedoen, maar hulle twee het besluit om dit stil te hou om Gauguin uit die tronk te hou. Party mense glo hulle was lovers.”
Juffrou Blom buk en maak haar tekkie se veter vas. “Wat ook al, die oor was nie meer aan sy kop nie. Maar dit was blykbaar nie sy hele oor nie, net ’n stuk. Ek hou nogal van die idee dat hy dit self gedoen het. Dit moes baie guts gevat het. Hy het later selfmoord gepleeg – hy het homself geskiet. Die arme troubled soul.”
Sy trap haar sigaretstompie in die gruis dood. “Sien jou netnou by die B-veld. Ek begin vandag.”
Willem kyk haar agterna soos sy rekenaarsak oor die skouer na ’n wit Toyota 4x4 stap wat onder ’n boom naby die houtwerkklas getrek is.
Eenoor Van Gogh. Vanaand gaan hy ook iets hê om aan die eettafel te vertel. Hy kan al hoor wat Franna sal sê: Moer my dood.
Hy gaan trek sy oefenklere in die kleedkamer aan en stap tydsaam B-veld toe. Sy tweede laaste rugbyoefening in sy lewe, sy héle lewe, as dinge uitwerk soos hy beplan.
Schalk-hulle is reeds besig om op te warm en die bal rond te gooi toe hy sy rugsak en sy oefensak onder die pawiljoen inskuif. Daar het lekker baie seuns vir die oefening opgedaag, sien hy tevrede. Juffrou Blom staan langs meneer Grobbelaar.
Meneer Grobbelaar blaas op sy fluitjie en roep die seuns nader.
“Manne, dié van julle wat nog nie vir juffrou Blom ontmoet het nie, dis nou juffrou Blom.” Grobbies beduie in die juffrou se rigting. Die seuns kyk nuuskierig na haar.
“Juffrou Blom gaan vanjaar die onder 14’s afrig.”
Die seuns fluister en proes onderlangs. “Have a heart,” sê Varkie langs Willem.
“Stilte!” bulder juffrou Blom.
Daar sak ’n stilte neer oor die seuns, wat verbaas na die juffrou staar. Willem sien Grobbies lyk ook effens van stryk gebring.
“Jammer, meneer Grobbelaar, dat ek in jou sop val, maar ons moet ’n paar dinge sommer van die begin af duidelik maak: dissipline, dissipline, dissipline. Op die veld en van die veld af. Dissipline te alle tye.”
Grobbies probeer iets sê, maar die juffrou maak hom stil. “Jammer, meneer. Ek wil net gou die sakie afhandel. Om die veld, vyf keer, nóú.”
Die seuns begin huiwerig beweeg, nie seker of dit ’n grap is nie.
“Move it!” bulder sy. Toe laat waai hulle.
“Die ou koei gaan ons lewe hel maak,” sê Varkie vir Willem en Schalk toe hulle hygend hulle vyfde rondte voltooi.
Hulle tree uitasem by juffrou Blom aan, wat hande in die sye langs die veld wag. Party staan gebukkend, hande op die knieë.
“Nou ja, noudat ons mekaar mooi verstaan, kan ons begin oefen.”
Sy kyk hulle fronsend aan. “Te oordeel na hoe julle nou lyk, is julle nie danig fiks nie. Julle kan vergeet van wedstryde wen en drieë druk as julle nie fiks is nie. Ons sal dit moet regstel. Rugby is nie grappies nie, en as jy dalk dink dis grappies, moet jy dit eerder los en saam met die meisies gaan netbal speel. Right, nog drie rondtes.”
Toe hulle haar ongelowig aankyk, bulder sy weer: “Move it!”
Tweede laaste keer, die tweede laaste keer in my héle lewe, dink Willem toe hy en Schalk uitasem by die juffrou gaan staan met hulle hande op hulle knieë.
Sy gil op die agterosse wat sukkel-sukkel aangedraf kom: “Opskud, opskud. Move it! Dis al daai Chesterfields wat julle skelm rook. Julle wil mos grootmeneer wees! Vat so!”
Toe die laaste een daar is, sê sy tevrede: “Right, nou kan ons begin oefen.”
Sy verdeel hulle in vier groepe. Toe moet hulle met die bal hardloop en toe oefen hulle om te skrum en toe hardloop hulle weer ’n paar rondtes en toe sê sy uiteindelik: “Right, dis genoeg vir een dag.”
Hulle sak stokflou op die gras neer.
“Nee, moer,” sê Schalk. “Sy gaan ons vrek maak.”
Willem haal diep asem. Die tweede laaste keer. Die héél laaste tweede laaste keer. Die héél, héél laaste tweede laaste keer.