Читать книгу Willem Poprok - Derick van der Walt - Страница 7
Оглавление3. Die cultural experience
“Jy moet maar oppas, ou Willem. Hulle sê daar is serious weirdo’s in die kunsklas,” sê Schalk toe hulle kortpouse hul toebroodjies op die muurtjie langs die skoolsaal eet.
Willem antwoord nie. Vir die eerste keer hierdie jaar voel hy nie lus om in ’n gat te klim nie. Hy het ’n plan, ’n plan wat kan werk. Daar is lig in die tonnel, soos sy pa dikwels vir oom Ravi by die slaghuis sê as die mense lekker baie op ’n Saterdag gekoop het.
“Wie is juffrou Blom?” vra hy met ’n mond vol brood vir Schalk.
“Jy kan my soen as ek weet,” antwoord Schalk met ’n mond vol brood.
“Ou Voete sê sy gaan rugby afrig. Ek het nog nie ’n juffrou by die oefening gesien nie.”
Schalk snork. “Ou Voete se kop kap aan. Hoe kan ’n vrou rugby afrig?”
Willem luister nie verder nie. Sy gedagtes is op ’n ander plek. Hy sal sy planne mooi agtermekaar moet kry. Dalk moet hy maar nog vir ’n week of twee rugby oefen, voordat hy die groot nuus aankondig: Alles is te veel.
Schalk het eenkeer vertel van iemand in sy nefie se skool in Johannesburg wat gecrack het van al die stres en sy memory verloor het. Hulle het hom twee dae later op ’n trein naby Beaufort-Wes gekry sonder dat hy geweet het hoe hy daar gekom het.
Willem was nie seker of hy Schalk moet glo nie, maar nou maak dit nie saak nie. Hy sal die storie so terloops vertel terwyl hulle almal om die etenstafel sit. Wie weet, dalk hoef hy ook nie meer gras te sny of skottelgoed te was nie. Hy leun agteroor teen die muurtjie en hoor net vaagweg wat Schalk praat. Ja-nee, die kunsding kan werk.
Maar Schalk was reg. Toe Willem Dinsdagmiddag met ’n gesukkel die kunsklas opspoor en om die deur loer waar die klas reeds vyf minute aan die gang is, sak sy moed in sy skoene. Dit ís die weirdo’s. Juffrou Blom lyk nogal na ’n nuwe meneer met haar groot lyf en kort hare. Sy dra jeans en tekkies en ’n lang, swart oopknoophemp wat los oor haar jeans hang.
Sy kyk na Willem wat onseker in die deur staan.
“Kom, kom, kom,” wink sy hom nader. “Wat is jou storie?”
Hy oorhandig ou Voete se briefie. Die juffrou lees, frommel die briefie op en gooi dit in haar snippermandjie. Sy kyk oor die klas.
“Daar by Mia,” beduie sy vir Willem.
Hy kan nie onthou wie Mia is nie.
“Toe, toe, toe. Daar agter,” beduie die juffrou.
Willem sien die oop plek agter in die klas raak langs die meisie met die deurmekaar rooi hare. Mia. Hy onthou nou: sy is die weird een met die klere wat lyk asof dit te groot is vir haar. Moet dit so wees, of is hulle arm? Dalk moet sy ook, soos hy Franna s’n, haar suster se ou klere dra.
Hy skuif ongemaklik langs die lang meisie in, wat hom nuuskierig bekyk.
Terwyl die juffrou haar lesing hervat, kyk Willem in die klas rond. Tien kinders: sewe meisies en drie seuns. Dis net hy en Desmond Holzapfel, wat hy van biologie onthou. Dis die vaak vis wat so stadig en skuif-skuif loop en lyk of hy van ’n ander planeet kom. Sy bril is byna so dik soos Coenie s’n. En Varkie. Varkie! Have a heart. Wat maak hý hier?
Varkie trek sy mondhoeke met sy vingers weg terwyl die juffrou iets op die bord skryf en wikkel sy tong in sy mond, waai dan woes vir Willem en gee ’n thumbs-up.
Willem ignoreer hom. Die meisies is meestal vreemd. Hy het een of twee al op die speelgrond gesien, maar hy is nie seker nie. Hy herken die een met die lang, swart hare en die wit gesig wat effens na Christina Ricci in The Addams Family lyk.
Een meisie het ’n eienaardige ding op haar kop, iets wat hy nog nooit tevore op ’n mens se kop gesien het nie. Die meeste ander lyk ook ’n bietjie af, so effens op ’n ander stasie. Dis net hy en Varkie wat skoolklere aanhet. Van die ander het weird klere aan, soos in baie weird.
Teen die mure is goed wat hy vermoed die kunsklaskinders gemaak het. Vreemde goed. Hoe op aarde gaan ek so iets uitgedink kry? wonder hy benoud. Want sy pa is reg: hy kan nie eintlik teken nie.
Die juffrou praat oor ’n skilder met ’n vreemde naam. Op die bord staan Matisse, maar sy spreek dit snaaks uit. Soos Maties, net met die klem op die laaste deel van die woord – tiés soos in niés. Sy wys voorbeelde van die ou se skilderye. Stokou goed. Willem is nie beïndruk nie. Hy dink die prentjie van Gansbaai wat teen hulle eetkamermuur hang, is baie beter gedoen.
Mia-met-die-groot-klere skuif blitsvinnig ’n rooi toffie oor die bank na sy kant toe sonder om na hom te kyk. Hy kyk onseker daarna. Druk dit dan in sy mond sonder om na haar te kyk.
Toe die klok lui en die kinders by die klas uitbondel, roep die juffrou hom: “Wikus!”
“Dis eintlik Willem.”
“Willem, jy sal moet vinger trek, jy is ’n kwartaal agter.”
Sy bly stil en kyk stip na hom. “Waar het ek jou al gesien?”
Hy weet nie. Hy antwoord nie.
Sy kyk steeds na hom. “Speel jy rugby?”
“Soort van.”
“Soort van? Wat beteken dit?”
Hy antwoord nie, want hy dink nie die vraag het ’n antwoord nie.
“Nou ja toe. Welkom. Ek is bly die klas groei. En glo my, julle klomp kan doen met ’n bietjie kultuur.”
Voor hy om die hoek verdwyn, kyk hy vlugtig om. Juffrou Blom staan op die stoep en teug aan ’n sigaret. Sy blaas die rook behaaglik die lug in. Sy lyk weird, maar hy dink hy hou van haar. Sy sê haar sê soos sy dit bedoel.
Varkie wag vir hom by die trappe. Hulle doen ’n high five.
“Wat maak jy by die art society, dude?” vra Varkie vir hom.
“Wat maak jý by die art society, dude?” vra Willem.
“Dis ’n lang storie, maar die kort version is dat ek net mag sport doen as ek ook iets kulturéél doen, sê my ma. Dis nou sing of dans of iets seriously boring. Die kunsklas is die kortste kultuurding op die menu hier rond, en ek moet anyway ná skool wag voordat ons rugby oefen. So dis my cultural experience hierdie, jy weet.”
Hy lig sy hand vir nog ’n high five. “En jy?”
“Jy weet dan,” brom Willem.
Toe hy met sy fiets huis toe ry, wonder hy of hy ’n weird kunsklaskind kan wees.