Читать книгу Bloedwater - Douwleen Bredenhann - Страница 10
7
ОглавлениеDie e-pos land met dieselfde “dieng-dong” as elke ander boodskap. Haar ruggraat trek so styf dat sy wonder of daar fout is met haar rekenaarstoel. Ja, daar staan Woudstra se naam langs die geel koevertjie op die rekenaarskerm. Op die oog af onskuldig, net soos party van die e-posse wat met ’n ingeboude virus hier aankom. Soms waarsku haar instink dat sy ’n boodskap liewer nie moet oopmaak nie, ander kere nie. Hoe gemaak as sy weet ’n e-pos bevat nie ’n virus nie, maar ander inligting wat ook gevaarlik kan wees? Hoe verhoed sy betrokkenheid as sy nie weet waar dit gaan begin of eindig nie?
From: Woudstra Bosman
Sent: Thursday, 22 October, 2009 23:45
To: Adriana Coetzer
Subject: Moontlike besoek: datums en besonderhede
Beste Adriana
Wat ’n verligting dat ek uiteindelik met jou kon praat. Ek weet hierdie versoek maak nie vir jou sin nie. Ongelukkig het die een persoon op wie ek staatgemaak het om Marlinda te versorg laat weet dat sy nie meer alleen daarvoor kans sien nie.
Dis te verstane dat, as jy sou besluit om hierheen te kom, dit vir jou man net so ’n groot opoffering sal wees.
Ek moet van 9 tot 11 November in Londen wees vir seminare oor narkose wat ek nie kan bekostig om mis te loop nie. Ek vertrek op 7 November en is op die 13de weer terug. As jy op 4 November vlieg, kan jy darem uitrus en vertroud raak met die omstandighede hier voordat ek weggaan. Jy kan dan op die 14de weer teruggaan met die vroeë oggendvlug van hier af. Volgens die internet is daar nog plek beskikbaar vir daardie datums, maar dit sal so gou moontlik bespreek moet word.
Ek betaal vanselfsprekend jou vliegtuigkaartjie en enige inkomste wat jy in jou afwesigheid sal verloor. As jy ’n kosteberaming en jou bankbesonderhede aanstuur, plaas ek die geld oor na jou bankrekening.
Verskoon asseblief die trant waarin ek skryf. Dis nie dat ek aanneem jy sal kom nie, maar ek moet aan jou die nodige inligting oordra. Moet my asseblief net nie aan ’n lyntjie hou nie, anders sal alles nie betyds gereël kom nie.
Wat ook al jy besluit, sal reg wees. As jy net vir Kersfees kans sien, weet ek jy het dit minstens oorweeg. Sou jy egter besluit om te kom help met Marlinda, sal ek ongelooflik dankbaar wees. Vir jou vertroue, moeite en opoffering sal ek jou ongelukkig nooit kan vergoed nie.
Groete
Woudstra
Sy lees die e-pos drie maal deur. Dit pas net-net in op die rekenaarskerm sodat sy nie nodig het om af te scroll nie. Verskuil tussen die hoekige letters lê die geskiedenis van drie mense. Dit is netjies uiteengesit en lees bedrieglik onskuldig, maar is opgestel om reaksie by haar te ontlok.
Sy word gevra om terug te gaan. Net tydelik en dit behoort haar nie dood te maak nie, maar dis terug in die leeu se kake in. Sou daardie bek nou anders, meer onskadelik wees, en wat makeer die bek? Durf sy nee sê as dit werklik ’n kwessie van lewe en dood is vir Marlinda; die baba wie se handjies sy so gestreel het in die carrycot?
Van: Adriana Coetzer
Verzonden: Vrijdag 23 Oktober 2009 01:00
Aan: Woudstra Bosman
Onderwerp: RE: Moontlike besoek: datums en besonderhede
Woudstra
Dit gaan my verstand te bowe dat ek ná alles wat tussen ons gebeur het nou hier sit en ’n e-pos van jou beantwoord.
Ja, ek verstaan nie wat gebeur het en nou weer aan die gebeur is nie. Ek het gedink daaroor en weet nie juis hoe ek nee kan sê sonder dat dit ’n aanklag teen my as ’n mens, as ’n suster, sal wees nie. Dit beteken nie dat ek met ope arms vir almal daar gaan aankom en die verlede van die tafel af gevee sal wees nie.
Ek wil dit duidelik stel: Indien ek om enige rede nie kans sou sien om vir die hele periode te bly nie, sal ek na goeddunke reëlings tref om so gou moontlik terug huis toe te kom.
Dit beteken dat jy ’n plan B gereed sal moet hê, vir ingeval jou plan Z wat nou eensklaps plan A geword het, inmekaar duiwel. Moet asseblief nie daarop staatmaak dat ek net gedwee gaan inval by alles wat daar vir my voorlê nie. Ek is in die duister; jy is die een wat weet.
Môreoggend vroeg sal ek my hoof kontak. Ek verwag dat dit redelik taai sal gaan en dat ek inkomste sal inboet omdat ek onbetaalde verlof sal moet neem. As ’n lid van die administratiewe liggaam voel ek ongemaklik om verlof te gaan aanroer. Ek behoort eerder ’n voorbeeld te stel deur my daarvan te weerhou om onbillike versoeke op kort kennisgewing te rig.
Ek laat weet jou so gou moontlik wat ek kon uitrig. Terloops, ek is geskei.
Groete
Adriana
Nadat sy drie keer “groete” ingevoeg en weer uitgevee het, los sy dit die vierde keer daar al wil sy nie vir hom groete stuur nie. Hoe anders beëindig mens ’n brief, al is dit so ’n onpersoonlike een?
Sy verwag nie vannag al ’n antwoord terug van hom af nie. As die reëlings net nie teen so ’n gejaagde tempo getref hoef te word nie. Dit voel asof sy skaars tyd kry om behoorlik asem te haal of te dink. Virgo’s hou van presisie en, waar nodig, behoorlike beplanning. Sekere dinge vra wel om maande vooruit aangeteken te word in ’n dagboek. Soos ’n buitelandse besoek vir werk- of vakansiedoeleindes. Maar hierdie buitelandse reis val nie in enige gewone kategorie nie. So sy sal eenvoudig hierdie holderstebolder terpentyn-in-die-agterent-gevoel moet probeer ignoreer en aanvaar dat daar nie tyd is om te verspil of bedaard te besin oor die gewigtige besluit wat sy geneem het nie.
Vir die tweede agtereenvolgende nag kry sy omtrent geen rus nie. Dis koud, maar die bed brand haar. Tot haar kopkussing later uit die sloop begin peul. Vader tog, is dit dan nou weer sy, tee in die flentergatstoel en die kanaalposkaart deur die venster?
Maar sy haal nie daardie stoel nie. Sy beland met haar tee voor die rekenaar op KLM se webwerf. Om te wag tot sy later die saak met Kees Kampman kan bespreek, sal eintlik sinneloos wees en net onnodige vertraging veroorsaak met die bespreking van haar vliegtuigkaartjie. Laat sy dit liewers nou doen en klaarkry.
Sy vang die bevestigende boodskap terwyl die drukker nog die papier uitstoot. Sy het sommer haar treinkaartjie van Delft af na Schiphol ook bespreek. Om ses minute voor sewe die Woensdagoggend moet sy opklim. Daar staan dit amptelik, swart op wit: Woensdag, 4 November 2009: 10:25 vlug KL 597 vanaf Amsterdam. Arriveert 23:00 Kaapstad. Zondag, 14 November 2009: 00:05 vlug KL 598 vanaf Kaapstad. Arriveert 11:00 Amsterdam.
Finansgewys is daar geen omdraaikans meer nie.
Vir die eerste maal vandat sy betrokke is by Cuisine Academie Delft gaan sy op ’n Vrydagoggend inbel om verlof vir die dag in te sit. Hulle moet maar dink wat hulle wil; sy was nog nooit skuldig aan langnaweekmakery nie. Sy laat op Kees Kampman se antwoordmasjien ’n boodskap om te hoor of sy hom tweeuur kan spreek in verband met twee weke se onbetaalde verlof wat sy onverwags benodig. Hy gaan seker in sy broek dinges as hy hoor dis in die tyd van die graderingseksamens. Hopelik sal hy nie te veel uitvra nie. Dit kan moeilik raak om te verduidelik dat sy haar siek suster moet gaan oppas sonder dat sy eens weet wat die probleem is. Sy sal dalk maar eerder die moederkaart moet speel. Dit aandik vir wat dit werd is.
Die vrou storm soos ’n gewonde dier op Woudstra af waar hy voor die rekenaar aan die slaap geraak het. Sy stamp die wieletjiestoel dat hy en die stoel saam sydelings oor die vloer skiet. Weer eens verstom die krag in die dunne lyf hom terwyl hy die momentum met sy voete probeer stuit.
“Wat de hel sit en doen jy hier voor die computer?” skree sy in sy gesig. “Hoekom is jy nie by die werk nie? Die goeie dokter kyk seker weer skelm na vuilgathoere met kanne wat so vol plastic gepomp is dat iemand tussen daardie outsize-goed kan versmoor. Jy vergeet mos jy’t ’n vrou om happy te hou. Hiér’s vir jou ’n hoer as jy een wil hê!” Sy ruk haar bostuk af.
Haar slegte asem laat hom ril. In hierdie bui is sy so klouerig en sterk soos ’n seekat. Hy sal behoorlik moet duck and dive voor hy sy kamerdeur gesluit kry.