Читать книгу Bloedwater - Douwleen Bredenhann - Страница 5

2

Оглавление

Ná die ongewone nag het die outydse geskril van die wekker Adriana vir ’n oomblik so deurmekaar dat sy wonder wat aan die gang is. Hoekom dit by haar kant van die bed afgaan terwyl Stijn die een is wat ’n luitoon uit sy kinderjare verkies. Eers toe sy die leë plek langs haar voel, onthou sy weer waarom hy nie daar is nie en sy die wekker gestel het. Sy vervies haar weer van voor af vir Woudstra se onbedagsaamheid en probeer dit demp deur te dink aan die skuimerige “koffie verkeerd” wat Stijn soggens vir haar in die bed gebring het. Vir die eerste keer in ’n lang tyd wonder sy of sy ’n fout gemaak het toe sy haar geborge bestaan saam met hom opgesê het.

Stijn Verhoeven het ses maande ná Woud en Marlinda se troue in haar lewe verskyn. Nou nie so letterlik en dramaties die golwe in en uit soos ’n Wolraad Woltemade nie, maar hy het haar ook uit die diep waters gesleep waar sy beswaarlik kon water trap.

Hy was een aand in die restaurant van die hotel in Kaapstad waar sy die hoofsjef se regterhand was. Ná ete het hy gevra om persoonlik dankie te sê aan die persoon wat sy gereg voorberei het. Dit was vir haar ’n aangename verrassing. Sy was nog net ’n paar maande daar in diens en dit was goed om te weet iemand het ’n gereg wat sy gemaak het so geniet en waardeer.

Onseker oor presies wat om te verwag, het sy na die tafel gestap. Die man het halfpad tussen dertig en veertig gelyk, seker ’n goeie twaalf jaar ouer as sy. Hy het hoflik opgestaan en haar oë laat rek omdat hy so lank is – maklik die langste mens wat sy al ontmoet het. Met sy hand na haar toe uitgesteek, het hy hom voorgestel: Stijn Verhoeven van Delft, Nederland. In Suid-Afrika vir besigheid. Lank laas het hy so ’n keurig voorbereide maaltyd geniet. Hy was daar vir ’n paar dae en het uitgesien na nog van dié sjef se heerlike kos.

Sy blou oë het sonder ’n sweem van familiariteit of bedreiging na haar gekyk. Hy was net ’n kliënt wat sy tevredenheid aan haar wou oordra.

Die ingenome kliënt het ’n paar aande later weer na die “young chef” gevra. Hierdie keer om te hoor wanneer sy ’n aand van diens af sou wees want hy wou haar uitneem vir ete.

Daar was nie ’n vry aand in sig nie, altans nie voordat hy sou terugkeer Nederland toe nie. Adriana was dankbaar sy poging tot ’n afspraak was nie suksesvol nie. Sy het gevlei gevoel deur die man se waardering vir haar werk, maar nie lus gehad vir niksseggende ek-vertel-jou-en-jy-vertel-my-praatjies met ’n ooglopend ouer man wat op pad terug na sy land is nie. In Nederland het daar tien teen een ’n mooi blonde vrou en oulike kindertjies met klompe aan gewag dat hy met geskenksakke vol kralepoppies en houtrenosters huis toe kom. Buitendien, sy sou nooit weer in haar lewe ’n man kon vertrou nie. Nie eens een met sulke goeie maniere nie. Sy het vir die man geglimlag en sonder skroom gelieg. Gesê dit spyt haar werklik, maar dit sal nie moontlik wees nie. Die diensrooster kon nie verander word net om haar onthalwe nie. Hy het hom nie so maklik laat afskrik nie. Dan sou hy eenvoudig sy reisplanne verander en aanpas. Wanneer is haar eerste vry aand dan?

By die deftige restaurant waarheen hy haar geneem het, was dit duidelik dat die personeel hom redelik goed ken. Die hoofsjef het hom by die tafel kom groet en uitgevra na sy ouers. Daarna is die young chef en haar talente deur die hoogs tevrede kliënt aangeprys by haar ouer en meer ervare eweknie.

Teen haar verwagting in het die aand aangenaam verloop. Stijn was toe sewe en dertig en, as die buitelandse verteenwoordiger van sy ouers se familieondernemings, gedurig op reis. Hy was ’n perfekte gasheer en het onderhoudend gesels. ’n Wewenaar, het hy vertel, nadat sy vrou twee jaar tevore oorlede is aan servikskanker. Hulle het nie kinders gehad nie omdat sy eers haar loopbaan as ’n modeontwerper behoorlik wou vestig.

Twee maande later was hy weer vir besigheid in Kaapstad. Hy het haar gekontak vir ’n afspraak en geen geheim gemaak daarvan dat hy in haar geïnteresseerd is nie. Sy was nie gereed vir ’n verhouding van enige aard nie en in ’n poging om wal te gooi, het sy hom vertel hoe haar verlowing met Woud geëindig het. Van die detail moes sy verswyg omdat sy self nie geweet het wat dit behels nie. Want toe Woud met haar daaroor wou praat, het sy geweier om te luister. Al wat saak gemaak het, was dat hy die verlowing kort voor hul troue verbreek het om met Marlinda te trou. Omdat sy ’n kind van hom verwag het. Marlinda, wat skaars agttien en pas klaar met matriek was.

Adriana het dit aan Stijn duidelik gemaak dat sy oor niemand weer sou kon voel soos oor Woudstra Bosman nie. Sy het geen hoop gesien vir ’n normale verhouding tussen haar en Stijn nie. Hy sou net seerkry en besoedel raak met haar bitterheid oor ’n ander man. Nee, dit sou nie werk nie.

Tot haar verbasing was Stijn rustig daaroor en het hy haar besliste nee vertolk as ’n uitgestelde ja. Hy het aanvaar dat hy nie die ware liefde van haar lewe sou kon word nie, maar nou ja, sy was ook nie syne nie. Hulle het mekaar agt maande geken toe hy onverwags ’n verloofring te voorskyn bring en ’n huweliksaansoek gerig het: “Alsjeblieft Adriana, trouw met me? Beide van ons zijn onvolledig met veel tekortkomingen. Mogelijk zullen we nooit genezen maar we kunnen het toch wel proberen? In Delft wacht een goed leven op je, dat kan ik je beloven. Ik wil je wegnemen van deze plaats van beproevingen, anders blijft het altijd bij je.”

Sy het daaroor gaan nadink en besluit om Stijn se aanvoeling te vertrou. Op haar eie oordeel kon sy nie toe staatmaak nie. Sou sy ooit weer weet hoe liefde voel, dit herken as dit by haar wou aandoen? As hy dan nie die beste keuse was vir haar nie, was hy darem seker ook nie ’n heeltemal ongeskikte een nie. En as dinge tussen hulle later nie uitwerk nie, sou hy dit net moes verstaan. Sy was nie verlief of gelukkig nie. Maar sy het ’n gerusstellende gevoel van veiligheid ervaar en daar was weer ’n beduidenis van ’n platform onder haar voete – hoop dat sy kon begin bou aan ’n redelik vervullende lewe.

Vier dae later is hulle voor die landdros getroud. Stijn fors in sy donker pak, en sy in ’n knielengte blou rok met ’n ruikertjie geel rose in die hand. Dwarsdeur die kort seremonie het hy plegtig afgekyk na haar. Sy oë het haar geannekseer en op die plek vasgepen, asof hy bang was dat sy dit dalk net in haar kop kry om kort om te spring en te laat spaander.

Die versoeking om dit te doen, het nie by haar opgekom nie, maar sy het gestoei met die gedagte dat hierdie realiteit glad nie by haar jongmeisiedrome oor trou inpas nie. Sy wou nog altyd ’n roosblaarbestrooide kerktroue voor God en genoeg getuies hê. In ’n lang wit rok.

Dáárdie wit rok waaraan die ontelbare sag glimmende pêreltjies omtrent alles al vasgewerk was. Die rok wat verkoop moes word voordat die finale aanpassessie kon plaasvind en waaraan ’n ander niksvermoedende bruid se gaste hulle sou vergaap.

Daar staan sy toe, aan die sy van ’n hemelbesem van ’n Hollander in wie se land ’n kerktroue nie eens wettig is nie. Maar miskien was dit ook al waarvoor sy toe in die boek van reg of verkeerd kon kwalifiseer, want teen daardie tyd het sy haar suster al hoeveel keer dood gewens en Woud nog verder die verdoemenis in. God sou Hom in elk geval seker nie laat voorskryf het en die huwelik van ’n vrou met sulke bloeddorstige gedagtes seën nie, al was die omstandighede wat daartoe gelei het hoe verpletterend.

Later die dag het sy net haar ouers en twee vriendinne laat weet dat sy getroud is en binnekort Nederland toe verhuis. Haar pa en ma was geskok. Veral haar pa was erg ontsteld omdat die kind wat na hom vernoem is, sonder om enigiemand vooraf daarvan te sê “soos ’n donnerse skelm voor ’n magistraat gaan trou het met ’n uitlander wat gans te oud is vir haar”. Hy was seker teleurgesteld omdat hy nie vir een van sy twee dogters ’n behoorlike troue kon gee waarop hy die onbevange breëborsvader van die bruid kon wees nie. “Here, Adriana, selfs Marlinda is met haar boepens en al in die kerk getroud, al was hulle eers onder kerksensuur!” het hy oor die telefoon gesê.

Soos te wagte, was ook Stijn se ouers uit die veld geslaan toe hulle van die troue hoor. Maar hy het Adriana verseker hy ken hulle goed genoeg om te weet dat hulle “gereserveerd afwachtend” is en nie ongevraagde en kwetsende beskuldigings na hulle sal slinger nie. Joris en Femke Verhoeven was nie onkundig oor Suid-Afrika nie en het besef daar is meer aan die land en sy mense as wat deur die lense van ’n apartheidsbril sigbaar was.

Agttien maande ná die breekspul met Woudstra het mevrouw Adriana Verhoeven met een tas klere en ’n fotoalbum in Delft aangekom; die album waaruit sy alle foto’s waarop haar suster en swaer verskyn, verwyder het. Ongelukkig was die uitroeiproses wat sy in haar geheue moes uitvoer, nie so suksesvol nie. Want hoewel sy nou hernieude afkeer jeens hom ervaar, kan sy ná gisteraand se oproep tot in die fynste besonderhede onthou hoe Woud lyk.

Met haar aankoms in die nuwe land was sy volks- en taalvreemd en nog glad nie seker dat sy mevrouw Verhoeven wou wees nie. Sou sy die nuwe skoonmense en hul gevoelens kon peil as hulle inderdaad gereserveerd afwachtend is? En wat het dit in elk geval beteken in verstaanbare Afrikaans?

Sy was nie seker of sy ooit behoorlik sou verstaan wat met die term bedoel word of waarom Stijn in haar belanggestel het nie. Was sy ’n liefdadigheidsprojek vir hom, iemand wat uit haar omstandighede verlos moes word om daarna stap vir stap opgehef en gepoleer te word? Is dit waarom haar skoonouers so hoflik en bedagsaam teenoor haar is? Of was hulle bloot goed gemanierd terwyl hulle wonder of hulle seun of die familieskatte vir die jong meisie uit Afrika die grootste aantrekkingskrag inhou? Trouens, sy het self gewonder watse bydrae ’n ongekunstelde meisie soos sy in die gekultiveerde bestaanswêreld van die Verhoevens kon lewer, behalwe haar beperkte werkservaring. Sy het haar in hulle skoene probeer indink en tot die slotsom gekom dat sy nie eens kwalifiseer om beskou te word as slegs ’n sieraad aan Stijn se arm nie.

Bloedwater

Подняться наверх