Читать книгу Bloedwater - Douwleen Bredenhann - Страница 7

4

Оглавление

Dis ’n verligting toe sy sien daar was geen verdere oproepe van Woudstra nie. Sy wil graag glo dat hy besluit het om haar nie verder te belas met wat ook al met Marlinda skort nie, maar haar sesde sintuig weet dit moet iets buitengewoons wees wat hom in die eerste plek daartoe gedryf het om haar te kontak. Iets wat nie gedurende die paar nanagure sou verdwyn het nie. Die een of ander tyd gaan hy seker moed bymekaar skraap om haar weer te trotseer. Ten minste sal sy dan beter voorbereid wees daarop. Intussen sal sy moet begin rondkyk hoe lyk die vlugbesettings net voor Kersfees. Sy sal haar sogenaamde plig by haar ma gaan doen vir so drie, vier dae, op voorwaarde dat sy Marlinda nie hoef te sien nie.

Die Europese winter kruip nou daagliks nader. Hier in Delft vind al hoe meer van die bladwisselende bome se blare hul val na die donkergroen oppervlak van die kanaalwaters. Die laat Oktoberoggendlug is koel op haar wange en om haar ore terwyl sy stap. Van haar appartement in Oude Delft af is dit net ’n paar minute te voet tot by Cuisine Academie Delft waar sy ’n kursus in Suid-Afrikaanse cuisine aanbied.

Sy verkies om soggens werk toe te stap eerder as om fiets te ry. Nie dat sy nie van fietsry hou nie, maar sy gebruik die staptyd om oplossings vir probleme te vind. Op die fiets moet sy te veel konsentreer. Sy kry dit nog steeds nie ten volle reg om met die aangebore vaardigheid van die Nederlanders kop te hou op ’n fiets terwyl haar gedagtes elders is nie. Vir die ma’s wat hul kinders en inkopies so behendig op die fietse balanseer, het sy eindelose bewondering.

By Bakker Jaap lok die geur van vars brode en ander gebak haar nader. Haar werksdagontbyt bestaan meestal uit krentenbollen en ’n groot beker koffie. As mens eers een maal van dié bakkery se besonderse broodjes geproe het, kos dit inspanning om verby die wit-en-geel streepdakkie te stap. En kort voor lank is jy so verslaaf daaraan dat jy jou dagtaak nie daarsonder kan aandurf nie. Toe sy vir haar bestelling gevra word, besef sy dat sy eintlik nie lus het vir enigiets nie. Dit moet van spanning wees dat haar maag so hol voel. Die melkbaard agter die toonbank rol sy oë vir haar en vir twee toeriste wat ook nie seker is wat hulle wil hê nie. Hy sal nog leer dat die toeriste wat hulle daagliks aan die eeue oue stadsgeboue en ander besienswaardighede verkyk, botter op sy brood help sit.

Verder op in die straat laai ’n paneelwa met die Verhoeven Keukenstudio-logo daarop boumateriale af. Nog iemand wat ontslae wil raak van muwwe kombuiskaste en lekkende krane. Huisverbetering het ’n florerende bedryf geword in ou stede waar daar nie ruimte vir nuwe woonuitbreidings is nie. Die Verhoevens het jare gelede besef daar is ’n behoefte aan funksioneel ontwerpte kombuise en het hul as markleiers op dié gebied gevestig.

Die Academie is ’n goed geoliede masjien wat oorspronklik ontstaan het as ’n praktiese vertoonlokaal waar die funksies van nuwe kombuistoestelle en -toerusting aan voornemende kopers gedemonstreer word. Later het versoeke gevolg vir klasse om die toestelle beter te leer benut. Een ding het tot ’n ander gelei en binne tien jaar het dit gegroei tot ’n volwaardige instansie waar sjefs opgelei word. Streng gekeurde studente kom van oor die hele Europa daarheen om op verskillende graderings kwalifikasies in internasionale cuisine te verwerf.

Op die oomblik is daar ’n magdom ekstra administratiewe take en e-posse waaraan sy tussendeur aandag moet gee. ’n Groep studente het gevra dat sy vir hulle ’n drie weke lange kostoer in Suid-Afrika moet reël. Hul entoesiasme daarvoor is so aansteeklik dat sy self ook daarna begin uitsien, al bly sy maar lugtig vir die land. Dit sal die eerste keer wees dat sy vir drie weke aaneen weer Suid-Afrika toe gaan. Oor die jare was daar ’n klompie sakebesoeke saam met Stijn, maar dit was elke keer net vir ’n paar dae. Drie weke klink lank, maar daar sal nie veel kans wees om te dink nie. Haar kop sal gevul wees met die uitdagings van kos en die verantwoordelikheid om almal gelukkig te hou. Sy behoort veilig genoeg te wees.

Ten spyte daarvan dat die dag sy normale besige verloop neem, betrap sy haar dat sy gis of en wanneer Woudstra weer gaan bel. Teen laatmiddag begin sy wonder wat hy vir haar wou sê. Raak sy dan nou simpel, sag in die kop?

Sy skrik dat sy eintlik voel hoe die beklemming om haar vou toe ’n boodskap op haar selfoon bliep. As dit weer hy is … waar is haar asem tog heen? Het sy nou ’n gevangene van haar foon geword? Sy praat binnetoe hard met haarself: Kyk, verdomp! Kyk van wie af dit is en hanteer dit. Jy is sterk, veg as dit moet, maar moenie toelaat dat hy weer jou bloeddruk opjaag nie.

Tussen haar vingers deur sien sy die SMS is van Saskia van Vechten, om haar te herinner aan hul eteafspraak by Den Blaeuwen Snoeck. Vir die afgelope vier jaar eet hulle twee op die derde Donderdagaand van elke maand daar. Dis ’n vaste afspraak en nie een van hulle het al ooit daarvan vergeet nie. Dit word net afgestel as een van hulle op reis is, maar vandag was daar nie plek vir Saskia of die restaurant in haar gedagtes nie. Gelukkig het die SMS haar weer aan die afspraak herinner.

Bloedwater

Подняться наверх