Читать книгу Bloedwater - Douwleen Bredenhann - Страница 11
8
ОглавлениеWoudstra verwens die wekker toe dit 06:00 afgaan. Die verdomde ding het geen respek vir ’n arme siel wat aan slaaponthouding ly nie. Maak nie saak hoe moeg mens nog is nie, genadeloos sal dit die vrolike ou pligdeuntjie uitbasuin. Hy haat wekkers en selfoonalarms, maar dit is nou eenmaal noodsaaklike euwels. Het hy ooit geslaap? Vanmôre gaan hy beslis gebruik maak van die ekstra vyftien minute se lê wat sy selfoonalarm hom waarborg. Só maak hy elke aand dubbeld seker dat hy môreoggend betyds wakker word.
Vyftien salige minute. Hy is so moeg dat hy dadelik weer wegsink in die diepe slaap wat vroegoggend die lui van ’n alarmverpesting voorafgaan.
Onder die stort is hy spyt dat hy nie al na die eerste wekkerlui opgestaan het nie. Hy het nou net vyf minute om skoon te kom en die uitputting van hom te probeer afspoel. Vandat Marlinda nie meer soggens vir hom ontbyt maak nie, volg hy ’n fyn uitgewerkte skedule om betyds klaar te kry. Voordat hy in die stort klim, sit hy solank die ketel aan en sy papmelk in die mikrogolfoond. Binne tien minute vandat hy opgestaan het, sit hy dan skoon, aangetrek en geskeer met sy pap en koffie voor hom. Daarna pak hy die skottelgoed in die opwasmasjien, versorg sy tande en is gereed om werk toe te gaan. Dis nou as daar niks onverwags gebeur soos sy tandeborsel wat per ongeluk val of Marlinda wat uit haar kamer kom nie.
Dit val hom by dat hy nog wou kyk of Adriana sy e-pos beantwoord het. Hy storm die gang af om gou te gaan loer. Daar is ’n antwoord. Sy maag voel skielik snaaks, maar hy het nie nou tyd om wegkruiper te speel nie. Hy moet spoedlees en kry effens lag vir haar formaliteit. Sy is nog net so deeglik soos sy altyd met alles was. En sy laat hom goed verstaan dat sy op haar eie terme kom. Dis goed so. Hy kan tog niks meer van haar verwag nie en is net te dankbaar dat sy wel besluit het om te kom. Dit is reeds niks minder as ’n godswonder nie.
Tog voel hy erg skuldig. Miskien moes hy haar maar gesê het. Of haar beter voorberei het op wat sy hier gaan aantref. As sy moet weet waarvoor sy twaalf uur suid gaan vlieg … Hy ys as hy daaraan dink dat sy dit oor net ’n paar dae gaan uitvind. Sy kop gaan seker ingeduik word. Maar hy weet wragtig nie hoe hy die erns van die situasie behoorlik aan Adriana moes oordra nie. As hy probeer het, sou sy sweerlik geweier het om te kom. En hy sou haar nie kon kwalik neem nie.
Dan is daar nog Marlinda se reaksie waarmee hy sal moet rekening hou. Praat van die voorspelbare onvoorspelbare. Op die minste gaan sy nie daarvan hou om haar man vir twee dae onder dieselfde dak as Adriana te hê nie. Die hele besigheid is so verdomp kompleks en buite beheer.
Noudat hy weet hy gaan by die seminaar wees, begin hy darem ook uitsien na die paar dae in Londen. Om beskaafd te kan wees tussen mense wat nie amper die hele tyd half van hulle trollies af is nie, klink wonderlik. En dan kan hy sommer self gaan kyk of dit so goed gaan met Celeste as wat sy hom wil laat glo.
Hy sluit toe en gooi ’n voordeursleutel met ’n variasie op die gewone briefie daarby in die buurvrou se posbus: Ek is heeldag in die teater. Hou asseblief weer vir my ’n ogie. Sy gaan seker meestal slaap. As dinge dalk moeilik raak, laat weet vir Claudia by my spreekkamer, sy sal weet wat om te doen. Nogmaals dankie, ek waardeer jou hulp geweldig. Groete, buurman W.
Nou moet hy hom roer of hy is laat. Gelukkig neem dit hom met die agterpaadjies waarlangs hy ry, net ses minute van die huis af tot by die hospitaal.
Vandag se teaterlys is lank. Pasiënt nommer een van die vier keisersneë wil nie die veiliger opsie van ’n spinale blok hê nie. Sy kan nie die gedagte verduur dat daar aan haar gesny word terwyl sy by haar bewussyn is nie. Swanger pasiënte intubeer moeilik en dit sal gaaf wees as sy nie kaak- of tandprobleme het wat die plasing van die trageale buis nog verder bemoeilik nie.
Soms tref hy ongemaklike verrassings aan. Hopelik wag daar nie in ’n saalbed ’n besonder lywige liggaamsmassa wat probleme kan veroorsaak by die toediening van narkose nie. Teen halfagt wil hy klaar wees met die eerste vier saalbesoeke om die toerusting in die teater na te gaan en die anestesiemiddels voor te berei.
En hopelik is daar ook nie vandag ’n aanstaande pa wat in die teater omkap nie.