Читать книгу Bloedwater - Douwleen Bredenhann - Страница 8
5
ОглавлениеOok Den Blaeuwen Snoeck-visrestaurant is gerieflik na aan Adriana se blyplek. In die somer wanneer dit tot laat nog lig is, stap sy as ’n reël van daar af terug huis toe. In die laatherfs en wintermaande raak die stappery ingewikkelder. Dan is dit ’n geval van te na om te ry, maar net-net te ver en te koud in die donker om honderd persent op haar gemak te voel. Gewoonlik aanvaar sy dan Saskia, wat in Nootdorp aan die buitewyke van Delft woon, se aanbod om haar te gaan aflaai.
Haar vriendin wag reeds by hul tafel toe Adriana binnestap. Hulle hou daarvan om sommer vroeg, net ná werk al, hierheen te kom. Oor ’n glas wyn word die maand se nuus dan uitgeruil, bespreek en uitgepluis soos net vroue kan wat goeie vriendinne is.
Dis die soort eetplek waar mens rustig kan gesels. Kleinerig, sodat daar nie voortdurend ’n harde gedruis van stemme is nie, met geregte in ’n prysklas bokant die meeste beursies van die jolige jongklomp wat lank en luidrugtig aan die kuier kan raak.
Adriana geniet dit om te sien hoe op haar gemak Saskia voel. Die eerste paar keer was sy taamlik buite haar vaarwater. Dis nie ongewoon om in die aand twee vroue op hul eie in ’n restaurant te sien nie, maar dan is hulle meestal nie Nederlands en middeljarig nie.
Omdat Saskia se man weens sy werk in die toerismebedryf meer uitstedig as by die huis is, het Adriana haar op ’n aand gebel en voorgestel dat hulle iewers iets gaan eet. ’n Ongemaklike stilte het haar aan die ander kant van die lyn begroet.
“O nee, dit kan ons nie doen nie,” het Saskia gesê.
“Waarom nie?”
“Want dit doen jy nie, Adriana. Ons … ken dit nie. Dis nie heeltemal so eenvoudig soos jy dink nie.” Saskia het nie daarop uitgebrei nie.
Vir Adriana was dit juis eenvoudig. Sy is geskei, Saskia se man is in Denemarke en nie een van hulle het kinders om te versorg nie. Waarom kan hulle dan nie saam gaan eet, lekker gesels en dan weer na hul onderskeie huise terugkeer nie?
Sy was nie regtig verbaas toe Saskia nog ’n beswaar opper nie. Die uitnodiging is gerig op veels te kort kennisgewing. Teen daardie tyd was Adriana deeglik bewus daarvan dat haar nuwe landgenote verplig voel om afsprake weke vooruit te bedink en te notuleer. Hul dagboeke word vir selfs die onbenulligste afsprakie eers geraadpleeg om te sien of hulle beskikbaar sal wees. So weet jy byvoorbeeld weke vooruit wanneer jy by jou vriendin gaan tee drink. Niemand vind dit enigsins vreemd nie; bloot ordelik. In so ’n gereguleerde samelewing is daar nie ruimte vir onverwagte voorstelle en verrassings nie. Alles word haarfyn vooruit beplan en aangeteken. Soms nogal tot vervelens toe, vir ’n Suid-Afrikaans geborene. Gelukkig lok die weer mense nou en dan uit hul rigiede dagboeke. Wanneer ’n naweekdag onverwags warm sonskyn reg uit die hemel oplewer, vergeet al wat leef en beef van hul dagboeke en pak die trems wat Scheveningen toe loop op kort kennisgewing vol: see toe!
Dit het Adriana baie mooipraat gekos voor sy Saskia kon oorreed om die kwessie van die eteafspraak met haar man te bespreek. Tot haar verbasing was hy inskiklik en het gemeen dit kan vir die twee vroue van verskillende kulture ’n verrykende ervaring wees om mekaar op dié manier beter te leer ken.
En dit was ongetwyfeld die geval. Hulle het hul al hoe meer begin oopstel en mekaar se eienaardighede beter leer verstaan. Die vriendskap het van ’n redelik formele basis geleidelik gevorder tot een waarin hulle meer persoonlike geheime met mekaar kon deel. Nou nie die diepste geheime nie. Sekeres, soos jou matrieksuster wat jou verloofde gesteel het, moet liewer verborge bly. Adriana sien nie kans om allerhande vrae daaroor te beantwoord nie.
Die hegte vriendskap met Saskia is vir Adriana waardevol en kosbaar, veral vandat sy en Stijn amptelik uiteengegaan het. Al was dit moontlik die vreedsaamste egskeiding in Nederlandse heugenis, is dit goed om te weet dat sy ’n lojale vriendin het wat nie deur middel van die Verhoeven-netwerk in haar lewe gekom het nie. Iemand wat, indien dit ooit nodig sou word, saam met haar sou stelling inneem teen hulle.
Nie dat daar al ooit enige sprake van so iets was nie. Almal bly tot dusver goed bevriend met Adriana en sy drink gereeld koffie by Femke en Joris. Hulle was in elk geval vir haar eerder vriende as tipiese skoonouers.
Haar en Saskia se paaie het een Saterdagoggend in 1999 op ’n trein na Amsterdam gekruis. Stijn was weer landuit en sy alleen op pad na die Van Gogh-museum. In werklikheid was sy weer op die sending wat sy ’n paar maal tevore nie kon voltooi nie. ’n Besoek aan die Van Gogh-museum was hoog op haar museumprioriteitslys, maar wanneer dit haar beurt was om ’n toegangskaartjie te koop, kon sy nie daarmee voortgaan nie. Dan het dit gevoel asof sy daarvan weerhou word deur ’n onsigbare krag wat vermoed sy wil haar gaan verlekker in die wete dat sy, wat maar min van kuns af weet, daar kan wees.
Op ’n manier was dié museum … haar ma. Die plek was in haar ma se verbeelding seker heilige grond. Hoe sou sy tussen Vincent van Gogh se skilderye kon rondstap sonder om aan haar ma te dink? Daardie Saterdag was sy egter vas van plan om die museumskeiding oor te steek. Dit was tog belaglik dat die plek so ’n houvas op haar kon hê terwyl nie sy of haar ma al ooit daar was nie.
Vasberade het sy haar sitplek op die trein ingeneem. Kort daarna het ’n aantreklike blonde vrou met ’n dwergkeeshondjie aan ’n leiband opgeklim. Die trein het begin wegtrek voordat hulle kon gaan sit. Uit die bek tussen die pels het ’n blaf van protes gekom terwyl die hondjie haar probeer anker en na die vrou by haar gekyk het.
“Luna, zit,” het die hondema gesê en na die sitplek reg oorkant Adriana gewys. Soos ’n wafferse passasier het die hondjie gaan sit en by die venster begin uittuur. Sy het net begin kriewel wanneer die trein spoed verminder om iewers stil te hou. Dan het die mensmoeder haar gerus gestel: “Nog niet Amsterdam, Luna, blijf zitten.”
By Centraal-stasie het hulle al drie afgeklim en begin aanstap in die rigting van die bushaltes. Die tweestuks op die trein het haar aandag so gevange gehou dat daar nie tyd was om haar senuwees verder op te wen vir die museumbesoek nie. Daarom, en omdat die vrou en hond so ’n gemoedelike prentjie skep, het Adriana nader gestap om met die vrou te praat voordat sy en die hond tussen die bedrywigheid op die stasie sou verdwyn. Wat sou sy sê? Adriana het tot langs hulle gestap en die vrou toe met haar gehoorsame hond gekomplimenteer. Daarna het sy haar voorgestel, verduidelik dat sy ’n aangetroude Nederlander is en op pad was na Museumplein. Saskia het haar en Luna plegtig bekendgestel. Hulle is ook van Delft en op pad na Vondelpark vir Luna se maandelikse parkmanewales, waarna hulle met die vyfuurtrein sal teruggaan huis toe.
Adriana het deur die museum se ingang gestap en haar oë vir ’n oomblik toegemaak. “Boggherof, Ma, hierdie besoek is myne,” het sy geprewel. “Jy kan nie heeltyd oor my skouer kom loer nie. En jy’t gesien hoe Marlinda was en niks daaraan gedoen nie. So vandag los ek jou net hier buite die poorte van jou Van Gogh-paleis.”
Van die skilderye was wonderskoon. Mens hoef nie ’n kunskenner te wees om die vitaliteit van lig in sonne en sterre raak te sien of die krieweling te ervaar wat Van Gogh se kwassirkels met die bewussyn speel nie. Hoe hard sy ook al haar ma probeer uitblok het, kon sy dit nie regkry nie. Emmerie het haar nie laat uitsluit nie. Sy het deur haar dogter se oë gekyk en gehuil totdat Adriana se kop wou bars en haar wange gegloei het.
Ure later het sy uitgestrompel en tussen die aandenkings begin rondkyk, sonder om te weet waarna sy op soek is. Oplaas het sy twee potlode en twee uitveërs, elk met ’n piepklein Van Gogh-nabootsing daarop, in ’n klein pakkie laat opmaak. ’n Klein genoeg pakkie om ongesiens in haar handsak te pas waar niemand dit sou sien om vrae daaroor te stel nie. Klein genoeg dat sy dit diep kon gaan wegbêre sonder om kort-kort daarteen vas te kyk. ’n Pakkie met gereedskap – vir wie? Die man op die maan om onmoontlike boodskappe die ruimte in te stuur en dit later, steeds onbeantwoord, uit te vee?
Teen halfvyf het sy reeds op Centraal-stasie gewag. Haar gemoed was so vol dat sy in trane uitgebars het toe sy die vrou en hond sien aankom. Saskia het haar getroos en gekloek; sy verstaan hoe die Afrikaanse Nederlander haar familie, en sekerlik haar ma veral, mis. Natuurlik kon die Nederlandse vrou geen benul hê van die bloedbande wat die Suid-Afrikaner stomp moes afknip omdat skoonbloei al uitweg was nie.
Ná ’n vriendskap van bykans tien jaar kloek Saskia nog gereeld om haar Suid-Afrikaans gebore vriendin wanneer sy reken dis nodig. Dikwels hier in Den Blaeuwen Snoeck oor ’n bord seekos.
Dit is Adriana se geliefkoosde restaurant, maar dit bly vir haar ongewoon dat ’n eetplek met so ’n onbetwisbaar Nederlandse naam in Franse geregte spesialiseer. Van bo tot onder is die spyskaart in Frans met Nederlandse onderskrifte. Alles wat sy tot dusver hier geëet het, was voortreflik, maar die filet d’espadon grillé – geroosterde swaardvis met olyfolie en knoffel – bly haar gunsteling. Wat nagereg betref, moet sy nog die mens ontmoet wat die geure van die beroemde heuning-en-kaneelparfait met warm kersies kan weerstaan.
Die oproep kom terwyl hulle juis op dié gereg wag. So bly is sy om ’n geldige verskoning te hê waarom sy nie met hom kan praat nie, dat die verligting bedrieglik baie na gemoedelikheid in haar stem klink.
“Jammer, Woud, ek is in ’n restaurant en kan nie nou praat nie. As dit regtig dringend is, moet jy my maar later by die huis bel. Ek behoort oor ’n driekwartier daar te wees,” kry sy die woorde beskaafd uit. Sy probeer ongeërg lyk, maar Saskia se oë word vraagtekens wat nie met stilswye om die bos gelei gaan word nie.
“A, en wie is Woud. ’n Nuwe boyfriend? Adrijáána! Is daar iets aan die gang waarvan ek nog niks weet nie?”
“Nee, glad nie, dis … my ma se dokter uit Suid-Afrika wat wil hê ek moet haar oor Kersfees gaan besoek,” praat sy dit weg, hoewel sy weet Saskia gaan nie so maklik geflous word nie. Sy het al gewonder of sy iets daarvan teenoor Saskia moet noem, maar toe daarteen besluit. Later dalk. Laat sy eers hoor wat Woud te sê het. Hemel, het sy hom “Woud” oor die foon genoem? Met die verbreking van die verlowing het sy die besluit geneem om hom nooit weer as Woud aan te spreek nie. Sy was in elk geval so seergemaak dat hy van daardie oomblik af ’n persona non grata geword het vir haar.
Op pad huis toe besef sy dat sy haar kop bymekaar sal moet hou. Want Woudstra en Marlinda is steeds die onetiese mense wat hulle jare lank was, al is hulle nou al etlike jare getroud en die onsmaaklike storie in ander mense se oë koeie wat nie uit die sloot gegrawe moet word nie. Dit wil sê as hulle nog getroud is. Eintlik weet sy so bloedweinig van hulle af as wat sy haar voorgeneem het om te weet. Oor vastelande heen was dit in die dae voor selfone, e-posse en Skype maklik om jou oë en veral jou ore te sluit vir mense daar ver. Die enigste ander ding wat sy weet, is dat die kind ’n dogtertjie was en Celeste genoem is. Meer as dit het Adriana haar ma nie toegelaat om te vertel nie.
Die foongesprekke was stram om mee te begin en het gou onaangenaam en buite die orde geraak wanneer Adriana gedreig het om die foon neer te sit. Dit was die enigste verweer wat sy gehad het teen haar ma se pogings om iets in haar oor te probeer inglip oor Marlinda of “die kleintjie”.
Om haar ma só te hoor praat, was in die eerste plek vir haar vreemd. Haar ma het nie so oor haar eie kinders tekere gegaan toe hulle klein was nie. Kon sy dan nie die omvang van die pyn wat sy daarmee vir Adriana veroorsaak het, verstaan nie? Emmerie Coetzer is mos nie dig nie. Of was haar gedagtes tydens die telefoongesprekke ook in die naamlose plek – die plek waar Adriana in haar kinderdae begin vermoed het haar ma se gedagtes meestal was – ’n skildersutopie waarheen sy ontsnap het, weg van haar man en kinders af. Ver, ver verwyder van die alledaagse werklikheid in die breë sin van die woord sowel as die konteks van ’n gegewe situasie. Ná ’n paar jaar van begin en stop en dreig, het Adriana ’n besluit geneem.
“Ma, moenie my nou in die rede val nie, luister net. Los die bellery. Dit loop net op ’n bakleiery uit en ek stel nie belang in enige van die nuusbrokkies nie. My lewe in Suid-Afrika het op ’n misoes uitgeloop en ek kom nie terug nie. Aanvaar dit asseblief net. Hier het ek nou ’n behoorlike lewe en ’n man wat vir my lief is. Onder ander omstandighede sou julle kon trots wees op hom. Los my eerder nou net uit.” Sy het gewonder wat is daar nog verder om te sê. “Laat weet my as daar dringend iets te wete is van jou of Pa. Sê dit vir hom ook, asseblief. En as nie een van julle twee kan bel nie, mag Woudstra my kontak. Hoor Ma my nou mooi? Alleenlik dan. Ek wil nie weet van Marlinda of die kind nie. Ek kan nie toelaat dat dit my siel verder versondig nie.”
Toe het sy afgelui, vir die laaste keer oor haar ma en pa gehuil en aangegaan met die proses van leef in die vreemde wat later die bekende geword het. Of nee, die dag by die Van Gogh-museum was die laaste keer dat sy oor haar ma gehuil het. En oor haarself. Want toe sy die skilderye sien, het iets met haar gebeur wat sy nie ten volle kon begryp nie. Die penseelstrepe en kleure het stemme gekry en van die mure af met haar begin praat. Eers suutjies, skaars hoorbare fluisteringe. Ná ’n ruk het die stemme harder, dringender geword, totdat dit naderhand oorverdowend in Nederlands en Afrikaans in haar ore opgeklink het.
Maar dit was nie met haar wat hulle wou praat nie. Hulle het na Emmerie geroep.