Читать книгу Bloedwater - Douwleen Bredenhann - Страница 9

6

Оглавление

By die huis maak sy eers koffie; sommer van die Douwe Egberts-sakkies wat ’n goeie alternatief is om die koffiemasjien te systap. Die oproep in die restaurant het veroorsaak dat hulle hul koffie gemis het, want Adriana het haastig geraak en haar, en daarmee indirek ook vir Saskia, verskoon.

Saskia het niks verder gesê nie, maar haar een van daardie ondersoekende kyke gegee waarmee sy in mens se siel inkyk as jy nie in jou pasoppens is nie. Die jy-sê-dis-nie-belangrik-nie-maar-ek-weet-van-beter-kyk wat waarskynlik die een of ander tyd op ’n direkte vraag gaan uitloop.

Die vyftigjarige Saskia vervul toenemend die rol van ’n ouer suster in Adriana se lewe. Een wat nogal reguit is wanneer sy reken dis nodig om uit te vra. En, soos die meeste susters, hou sy nie daarvan om ’n spesmaas te hê dat sy doelbewus uitgesluit word of dat iets vir haar weggesteek word nie. Ná Adriana en Stijn se egskeiding het Saskia die taak as Adriana se kulturele beskutter by hom oorgeneem – om haar te beskerm voordat vele jare van Nederlands probeer wees in een oomblik ongedaan gemaak word deur die sê of doen van iets ondeurdags. Nie dat Adriana die soort mens is wat sommer iets onbesonne sal aanvang nie. Sy probeer haar bes, maar ’n nuwe nasionaliteit op papier bied nie outomatiese immuniteit teen die slaggate wat nog steeds opduik nie. Hoewel die mense in jou land van herkoms jou heel gou nie meer as een van hulle beskou nie, word mens nie sommer as ’n ware Nederlander aanvaar nie. Jy moet jou gedurigdeur bewys en jou bedoelings motiveer.

Sy wens Woudstra wil nou bel en sy pratery agter die rug kry sodat sy kan gaan stort. Haar klere ruik na rook en sy haat dit. Hulle kon nie die groepie mense vryspring wat digby Saskia se motor staan en rook het nie en moes letterlik deur die rookdampe stap om by die kar uit te kom. Daar is min dinge wat haar so ongewas laat voel as ou nikotienwalms wat uit wie weet watse verrinneweerde longe aan haar liggaam kom kleef. Om te dink mense kies uit vrye wil om elke dag, as’t ware elke minuut van hul rokerslewe só te ruik, sonder dat hulle weet hoe afstootlik dit vir ander kan wees. Sy vind dit moeilik om te glo dat sy self ook so na rook geruik het in die eerste paar aanpassingsjare in Delft. Stijn het weer begin rook en toe sy haar oë uitvee, het sy so ewe saam gerook.

Op skool en universiteit het sy nooit eens een keer gewonder waarna smaak sigarette nie. Maar, losgelaat tussen andersoortige Europeërs waarvan feitlik elke mens wat sy leer ken het ’n roker is, het sy besluit om dit ook te probeer. Dalk sou daardie gemeenskaplikheid haar meer deel laat voel van die omgewingskarakter waarin sy gesukkel het om behoorlik opgeneem te word. Dit het nogal goed gewerk. Sy kon dit presies nes honderd duisende ander Nederlanders doen. Want sy het hulle fyn dopgehou en al hul rookgewoontetjies nageaap. Met die sigaret tussen haar vingers en die dralende rookwolke rondom haar kop het sy ingeskakel by die rokerskultuur rondom haar. En gehoop dit sou haar meer aanvaarbaar maak vir diegene wat die Zuid-Afrikaner taamlik aardig gevind het en haar gedurig wou stenig oor apartheid.

Stijn het haar gewaarsku, as sy later wou ophou rook, sou dit nie maklik wees nie. Hy kon met gesag praat nadat hy blykbaar lang periodes van onthouding en swig ervaar het. Maar sy was vas van plan om net ’n geleentheidsroker te wees. Aan die begin was die smaak van sigarette buitendien so aaklig dat sy nie kon begryp hoe enigeen daaraan verslaaf kon raak nie. Tot dit jou vat. Dan is jy in tel. Gereken. Een van die menigte. Een van die verslaafde fools, al weet jy dit nog nie dan nie. Want jy’s Europees, jy’s Hollands, in bleddie Nederland waar jou heil nou lê.

Woudstra se een uur het al byna twee geword. Sy kan die rookreuk wat nog in haar neus opstuif nie langer uitstaan nie. Maar as sy nou gaan stort, sal sy nie die selfoon kan antwoord indien dit Sy Edele behaag om juis dan van hom te laat hoor nie. Kyk net hoe gooi hy haar nou weer rond. Sy sal moet bad sodat sy die foon binne vatafstand kan neersit. Daarna sal sy haar hare apart moet was en droogmaak. Drie stappe wat twee kon gewees het. En dis al weer ná tien.

Sy moet seker getik wees om haar soveel onnodige moeite te laat aandoen deur die man wat haar so te sê voor die kansel gelos het. Hy kan sy oproep hou, dit sal sy skade wees. Sy gaan buitendien nie gehoor gee aan wat hy te sê gaan hê nie. Sy gaan nou dadelik stort, haar hare droogblaas en in die bed kom. Nog ’n slapelose nag is heeltemal uit.

Die eurogrootte kolletjie sjampoe is pas op haar kop ingeskuim toe sy onder die watergeraas deur die klanke van “Für Elise” registreer.

Verdomp! Sy gly amper met haar nat voete op die badkamer-vloer, kry die foon betyds beet en antwoord terwyl sjampoestraaltjies haar oë brand. In Nederland beantwoord mens ’n telefoon hoogs beskaafd deur jouself by naam en van te identifiseer. Enigiets anders word as werklik onbeskof ervaar. Maar Woud is nie Nederlands nie en, net soos gisteraand, kom hierdie oproep op ’n uiters ongeleë tyd.

“Jy weet, Woudstra, jy maak my so die vieste in! Ek wil eintlik glad nie met jou praat nie, maar ek het nog minder lus daarvoor wanneer my kop vol sjampoe is.”

“Ekskuus, iets het voorgeval. Ek is regtig jammer oor die ongerief,” probeer hy verskoning maak.

“Ongerief is nie ’n sterk genoeg woord nie. Ek moes papsopnat uit die stort en die sjampoe brand my oë iets vreesliks. So jou nuus beter die moeite werd wees of …”

“Of wat, Adriana? Onthou, ek mag jou net bel in ’n noodgeval. Ek ken die reëls. Dié ís ’n noodgeval. En hoe moet ek nou geweet het jy is in die stort? Loop spoel af jou kop, ek sal aanhou.” Die irritasie het ook in sy stem begin deurslaan.

Haar brandende oë dwing haar terug badkamer toe voordat sy kan terugkap en sê dat sy haar beslis nie deur hom gaan laat rond order nie. Sy weet hy gaan seker dink sy het opsetlik lank geneem, maar dis noodsaaklik om die duur opknapper wat sy vir haar getinte hare moet gebruik, reg aan te wend – sodra die sjampoe afgespoel is – en dan moet dit vir drie minute aanbly. Sy gaan sit toegewikkel in haar kamerjas op die bed met ’n handdoek om die kop.

“Is jy nog daar?” vra sy terwyl sy aan die een kant hoop hy het moed opgegee en afgelui. “Jy kan nou maar praat. Ek brand nie van nuuskierigheid nie, maar jy het my aandag.” Gelukkig is daar darem nog asemhaling aan die ander kant van die lyn. Daar beter wees, anders het sy haar verniet laat aanjaag en boonop ’n half-minuut van die conditionertyd afgeknyp.

“Ek weet nie mooi waar om te begin nie en sal daarom so min as moontlik sê. Ek moet jou ’n ontsettend groot guns vra. Is daar enigsins ’n moontlikheid dat jy Suid-Afrika toe kan kom vir so tien dae, twee weke op die langste? Dan kan jy terselfdertyd jou ma ook kom besoek,” vra hy so gewoon moontlik.

Dit is die toppunt van opportunisme. Sy kan sweer sy het so pas verkeerd gehoor. Die arrogansie om dit so nonchalant te laat klink asof sy op sy versoek gereeld na ander kontinente reis! “Jy is seker nie ernstig nie. Want as jy is, hoef jy nie eens verder te praat nie. Van wanneer af skuld ek jou ’n guns?” Haar stem het gestyg en hy kan daarvan maak wat hy wil.

“Ek weet maar alte goed, Adriana, jy hoef my nie daaraan te herinner nie. Dis net …”

“Net wat?” knip sy hom kort. “En moet dit asseblief nie ’n guns noem nie.”

“Wel, dan weet ek nou nie hoe om … e … verder te praat oor hoekom ek bel nie. Jy kan darem die wind so uit mens se seile haal.”

“Jy hoef nie so afgehaal te klink nie. Sê dit net. Van wanneer af is jy bang om reguit te praat? Ek was eintlik glad nie van plan om te luister na wat jy te sê het nie; hoekom moet ek? Maar jy het my nou op die lyn, en nou het jy nie die guts om my te sê waarom jy so graag met my wil praat nie. Wat is dit, hoekom wil jy eintlik hê moet ek Suid-Afrika toe kom?” Dis al laat, sien sy op die wekker. Haar hare moet droog kom.

“Ek moet in November vir ’n week Londen toe gaan. Daar is ’n seminaar oor narkose wat ek moet gaan bywoon. Iemand moet by Marlinda kom bly.”

Vir ’n oomblik is daar stilte aan beide kante.

“Verstaan ek jou reg? Soek jy ’n babysitter vir Marlinda? Ek weet die koerante op die internet is vol van die misdaad in Suid-Afrika, maar jy verwag tog seker nie regtig dat ek die persoon moet wees wat by haar moet gaan bly omdat jy vir ’n paar dae wil weggaan nie?” Sou hy nie dalk aan geheueverlies ly nie!

“Ek is doodernstig, Adriana. Iemand moet by haar kom bly en …”

“Jammer om jou so in die rede te val, swáér, maar daardie iemand sal beslis nie ek wees nie. Ek kan en wil dit nie doen nie. Sy kan mos vir ’n paar dae op haar eie bly, soos duisende ander mense in Suid-Afrika.”

“Sy kan nie op haar eie bly nie. Jy verstaan nie. Iemand moet na haar omsien.”

“Wat maak haar so spesiaal dat daar na haar omgesien moet word?” Sy sien visioene van Marlinda wat met ’n pruilmond protesteer dat sy nie alleen wil bly nie. “Hoekom vat jy haar nie saam nie? En waar is julle dogter; kan sy nie ’n plan maak nie?”

“Celeste werk op die oomblik in Londen. Sy sal nie kan kom nie.”

“Maar jy verwag ek moet al die pad van Nederland af kom? Marlinda het seker ’n vriendin of twee? Sy kan mos daar gaan oorslaap?” Waarom dit so moeilik is om vir Marlinda ’n slaapplek by iemand te organiseer, verstaan sy glad nie.

“Sy kan nie by iemand gaan oorslaap nie want sy is siek, Adriana. Glo my as ek sê ek kan haar nie net op haar eie los nie. Dis my professionele opinie.” Hy klink soos ’n dokter wat afsydig bevele uitdeel sonder om die realiteit van die pasiënt se huislike omstandighede in ag te neem.

“Nou sit haar dan in ’n hospitaal vir die paar dae. Julle dokters het mos omtrent almal aandele in die privaat hospitale. Jy kan dit darem seker gereël kry sonder dat dit van jou ’n arm man gaan maak. Wat makeer sy?”

“Dis moeilik om dit oor die foon te verduidelik. Sy het nie voltydse verpleging nodig nie. Dit sal die beste wees as sy hier by die huis is waar iemand net ’n oog oor haar kan hou.”

“Is dit die een of ander soort kanker?” vra sy en hoop die antwoord is nee. Kanker is ’n ander soort siekte wat op mens se gevoel kan speel.

“In ’n sekere sin ja, maar nee, dis nie kanker nie,” antwoord hy.

Adriana kan net dink hy is seker verlig dat iemand uit die mediese beroepswêreld nie hierdie verwarrende antwoord van hom hoor nie.

“Wel, dan raak jou opsies nou min. Dit word vir my net al hoe duideliker dat daar geen rede is waarom ek als hierdie kant moet los om te gaan nie.”

“Sou jy gekom het as dit kanker was?” verander hy van taktiek.

“Dis ’n onbillike vraag. Jy sê mos dis nie kanker nie,” skerm sy. Toe kom ’n ander moontlikheid by haar op. “Het sy vigs? En moenie vir my lieg nie!”

“Nee, dis nie vigs nie. Jy het my nog nie geantwoord nie. Sou jy gekom het as dit kanker was?”

Sou die man hom verbeel het hy hoor ’n bietjie empatie in haar stem toe sy gevra het of Marlinda kanker het? Wel, hy het ’n fout gemaak. “Ek weet nie, maar jy het dan klaar gesê dis nie kanker nie, so ek gaan nie daarop antwoord nie. Ná wat in die verlede gebeur het, dink ek nie enigiets onder die son sal my oorreed om te gaan as dit om Marlinda se onthalwe is nie. Ek glo ook nie sy sal dit van my verwag nie. Nee, ek kan nie vir haar gaan sussie-sussie speel nie. En jy van alle mense behoort dit te verstaan.”

“Natuurlik verstaan ek dit, en glo my, ek wens dit was nie nou nodig om hieroor te praat nie. Maar ek is ’n dokter, Adriana, en ek sien daagliks baie ellende. Hoe mense wat dit nooit sal erken nie hul vrees vir die onvermydelike probeer ignoreer en hoop dit sal só weggaan. Marlinda se probleme gaan met of sonder hulp nie net verdwyn nie. Asseblief?”

Dit vang haar dat hy so knaend is. Hy verstaan nie wat beteken nee nie en behoort hom te skaam om so aan te hou. Hoe gaan sy hierdie gesprek afgesluit kry?

“Jammer, ek kan of wil jou nie help nie. Jy sou ook nie as jy ek was nie. Ek sal in die Kerstyd my ma kom groet, maar ek wil Marlinda nie sien nie. Sy mag nie weet dat ek daar gaan wees nie. Sê my nou, wat is fout met haar? Dit klink of dit omtrent ’n staatsgeheim is, of in elk geval ’n sosiaal onaanvaarbare toestand. Is dit regtig nie vigs nie?” Nou is sy feitlik seker dit is vigs. Dit is die een siekte waaroor niemand eintlik kans sien om te praat nie.

“Dit word laat, Adriana. Ek gaan nie herhaal wat ek gesê het nie. Dit is nie vigs nie, dit kan ek jou verseker. As jy van plan is om jou ma te kom besoek, kan jy mos netsowel vroeër kom en dit dan ook in daardie tyd afhandel.”

“Hierdie hele besigheid klink vir my verdag. Jy verwag ek moet allerhande planne maak en vroeër gaan, terwyl ek niks van die aard sal oorweeg voordat ek nie ten minste weet wat is Marlinda se probleem nie.”

“Wel, ek kan jou nie sê wat Marlinda makeer nie. Nie voor jy kom nie. Ek besef ek het geen reg om dit van jou te vra nie, maar ek kan nie anders nie. Vertrou my, asseblief, al gaan dit lynreg in teen wat vir jou logies klink.”

Sy kan nie glo hoe sy stem verander het nie.

“Ek kan nie eens vra dat jy dit om enigiemand se onthalwe moet doen nie. Dis nie direk vir haar of indirek vir my nie, dis … soos wanneer jy ’n dier … ’n hond … uit menslikheid moet doodskiet omdat jy weet daar is eintlik nie iets anders wat jy kan doen nie. Dis amper so iets wat ek van jou vra, Adriana.”

Sy stem het so sag geraak en slaan so deur dat sy byna nie alles kon hoor nie.

Die stilte hang tussen hulle soos wanneer die vangnet onder sweefstokartieste weggeneem word en die gehoor weet nou is dit ernstige sake. Sy vermoed hy huil daar aan die ander kant. ’n Dier? As hy so ’n vergelyking gebruik, moet daar iets vreesliks verkeerd wees met Marlinda.

Sy onthou die keer op die plaas toe oupa Adriaan die koei wat in barensnood was, moes skiet omdat daar nie meer ’n ander uitweg was nie. Hoe sy gehuil het. Hoe Marlinda gehuil het. Hoe hulle mekaar vasgegryp en Marlintjies histeries aan haar bly klou het. Dit was moeilik om vir haar sesjarige sussie te probeer verduidelik dat hulp en ’n doodskoot soms blykbaar een en dieselfde ding is.

“Dria, sê vir Oupa hy moenie, sê hy moet Melkblom nie skiet nie, dalk kan sy nog die kalfie uitkry!” het Marlinda by haar ousus gepleit.

Maar die ousus het net so min sê gehad in die saak as sy. Oupa het hulle die huis in gestuur en sy en Marlinda het vingers in die ore onder hulle beddens gaan lê. Die skoot het oor die werf weerklink en teruggekring tot onder die beddens in. Hulle het seker nog ’n halfuur lank daar gelê. Dit was so stil dat sy gedink het Marlinda het aan die slaap geraak.

“As liewe Jesus plek vir kinders maak,” het Marlinda ná ’n ruk vir haar gefluister, “sal Hy darem seker ’n kalfie ook vat, en ’n koei?” Sy het drie dae lank oor Melkblom gehuil en met niemand gepraat nie.

Adriana besef sy moet iets sê, al sal dit beteken die stilte gaan disintegreer. Dit sal nou eers moet breek. “Woudstra, ek weet eerlikwaar nie wat om te sê nie. Ek SMS vir jou my e-posadres. Stuur die datums en ander besonderhede aan. Ek kan niks belowe nie, maar ek sal daaroor dink.” Nou het sy haar verbind tot ’n antwoord op skrif.

“Dankie, Adriana, ek stuur dit sodra ek jou SMS ontvang het. Ek moet binnekort vertrek, oor omtrent twee weke. Baie dankie, ek waardeer dit dat jy geluister het.”

Mens sê nie vir iemand goeie nag ná ’n gesprek wat die normaliteit van ’n deursneenag uitgevee het nie. Albei weet die res van die nag gaan een wees waarin min geslaap en baie gedink word, op verskillende vlakke. Die verlede en die hede moet in oënskou geneem en teen mekaar opgeweeg word. Antwoorde moet gesoek en deurdink word. Besluite moet geneem en oorgedra word. En daarna aanvaar en gerespekteer word, ongeag waarop besluit is.

Terwyl sy met die haardroër besig is, wonder Adriana of daar toe plek in die hemel was vir Melkblom en haar kalf. En oor die kwessie van bloedbande. Vir hoeveel jare al glo sy dat sover dit haar familie aangaan, bloed nie dikker as water is nie. En plotseling, ná een telefoongesprek, is sy nou nie meer so oortuig daarvan nie. Waarom anders oorweeg sy dit hoegenaamd om oor Woudstra se versoek na te dink? Miskien moet sy eerder daaraan dink om haar kop te laat lees.

Wat sê sy? Wat doen sy?

Die wêreld kan meer as een keer verskuif. Dit gebeur al millennia lank. Maar soms verloor die wêreld beheer oor sy baan en donder met soveel mag en mening onderstebo dat niemand weet of hulle kom of gaan nie.

Soms gebeur dit in iemand se binneleefwêreld ook. Daar waar oë nie kan sien nie, maar mens soms in ’n stem wat wegraak iets hoor wat jou laat oorweeg om van koers te verander. Al het jy jouself belowe om nooit weer toe te laat dat dit met jou gebeur nie.

Bloedwater

Подняться наверх