Читать книгу Bloedwater - Douwleen Bredenhann - Страница 6
3
ОглавлениеIn die stort wonder Adriana waarom sy haarself toegelaat het om so heftig teenoor Woudstra te reageer. Hier leef sy in ’n ander tyd in ’n ander land, met die dinge van die verlede verseël en hoog weggebêre. Of dit was altans die doelwit wat sy dag sy lankal bereik het. Sy weet nie wat ontstel haar die meeste nie, sy arrogansie of die besef dat haar verweer moontlik nie so waterdig is as wat sy gedink het nie. Haar bestaan is relatief rustig omdat sy mense nie toelaat om in haar verlede rond te krap nie. Maar Woudstra is nie enige man nie, en hy het deur haar ma toegang tot haar wat ander nie het nie. En wat ’n pad het sy nie al geloop vanaf haar standerd 8-skooljaar toe sy hom ontmoet het nie. ’n Pad wat sy al so dikwels gewens het nooit met syne gekruis het nie.
Om haar te verweer teen Marlinda en Woud se verraad, het lank geneem. Maar in die proses het sy ’n gepantserde vrou geword. Aanvanklik was die enigste uitweg om hulle doelbewus uit haar gedagtewêreld te verban. Later het dit tweede natuur geword om eenvoudig nooit aan hulle te dink nie. Dit het haar uitstekend gepas dat Woudstra hul ooreenkoms van geen kontak so nougeset nagekom het. Wat haar betref, het sy nie meer ’n suster nie en nog minder ’n swaer. Siekte of dood sal geen verskil maak aan haar gevoelens daaromtrent nie, maar sy was onder die indruk dat sy die ergste bitterheid agtergelaat het.
Haar werksopset is gevarieer en sy sien normaalweg uit na die uitdagings wat dit bied. Maar vanoggend strek die dag lank voor haar uit en het sy min lus om klas te gaan gee vir die studente wat so geïnteresseerd is in die kookkuns van die land aan die suidpunt van Afrika.
Sy voel grimmig en veel ouer as die sewe en veertig jaar wat sy in September geword het. Gewoonlik lyk sy goed vir haar ouderdom, maar vanoggend skrik sy toe sy in die spieël sien hoe die versteurings van die nag uitpof in donker kringe onder haar oë. Hopelik sal die oogjel ’n klein wonderwerk vermag.
Dit was eers in Nederland dat sy geleer het om goed na haar uiterlike om te sien. As ’n lid van die Verhoeven-familie, wie se onberispelike smaak oor generasies heen aangekweek is, kon dit nie juis anders nie.
Met haar laaste druppel Pond’s Beauty Wash uitgepers, was dit destyds nodig om ’n nuwe produk aan te skaf, maar sy was geïntimideer deur die verskeidenheid ware wat in Nederlandse winkels beskikbaar was. Genadiglik het Stijn se suster haar hulp aangebied. Marjolein het dit geniet om die boorling uit Afrika vertroud te maak met die goedere en manier van doen in haar nuwe land. Met die grootste geduld het sy saam met Adriana rondgestap, vrae beantwoord, lysies gemaak van waar om wat te koop en haar persoonlik aan winkeleienaars gaan voorstel.
Marjolein was ook van groot hulp terwyl Adriana die Nederlandse taal moes aanleer. Dit was geensins ’n seepgladde proses nie en daar was dae wat sy verwyderd van alles en almal in Nederland gevoel het. Eers ná sy die taal behoorlik bemeester het, kon sy begin ontluik. Daarna was daar geen keer aan haar nie. Sy was ’n ontdekkingsreisiger wie se aangetroude taal ’n wêreld ontsluit het waarin dit ’n uitdaging was om nuwe inligting te absorbeer en toe te pas. Só het sy haarself geleidelik en doelgerig omskep in ’n goedversorgde en selfversekerde jong vrou wat met verloop van tyd soos topklas wyn verouder het. Iemand waarop Stijn en sy ouers trots kon wees.
Dankie tog vir grimering, dink sy terwyl sy die spore van moegheid op haar vel kamoefleer. Dalk het sy tog iets van haar ma se kunstalent geërf, want sy skep met ’n grimeerkwas soos haar ma met haar skilderkwas kon – iets uit niks. Die verskil is dat haar ma se talent aangebore was, terwyl Adriana haar vaardigheid met die grimeerkwaste by kursusse en werksessies moes aanleer. Sy wend haar grimering met ’n ligte hand aan, so natuurlik as moontlik, maar ken ook ’n hele paar geheime kunsies, soos om met slim skakering van oogskaduwee die kleur van haar vaalblou oë te manipuleer. Party dae is haar oë grys en soms meer blou. Met meer moeite kan dit selfs vir groen deurgaan.
Die grootste uitgawe ten opsigte van haar voorkoms is haar hare, wat maandeliks in skouerlengte lae gesny en by die haarwortels donkerblond gekleur word. Daarna word vier skakerings ligstrepies subtiel ingeverf. Toe haar haarkapster dit ’n paar maande gelede voorgestel het, was sy bang sy gaan soos ’n bontgeveerde parkiet daar uitstap. Sy het haar nietemin laat ompraat en dit nog nie weer anders laat kleur nie. Die resultaat is verstommend; elke haar lyk kerngesond terwyl dit lig weerkaats.
Soms kan sy nie glo daar was ’n tyd toe sy nie ’n benul gehad het van wat behoorlike grimering en haarsorg behels nie. Haar Nederlandse vriende en kennisse sukkel gewoonlik om die onopvallende skooldogter en student in haar fotoalbum te herken. Op skool was akademie en sport haar eerste prioriteite. Saans het sy haar gesig met water en seep gewas en aanvaar dat tienermeisies van tyd tot tyd ’n paar puisies gaan hê. Eers toe Marlinda op twaalfjarige ouderdom gevra het of niemand in hulle huis al ooit van behoorlike velsorg gehoor het nie, het hulle Pond’s Beauty Wash gekry, en iets om aan puisies te smeer.
Op hoërskool was dit die in ding vir meisies om in standerd 7 grimering te begin dra. Blou en groen oogskaduwee was min of meer die teken om te wys dat hulle in die mark is vir ’n boyfriend, hande vashou in die openbaar en skelm soene waar die geleentheid hom sou voordoen. Oogskaduwee het verseker dat die draers daarvan uitnodigings kry na aandpartytjies in motorhuise waar almal close gedans het. Koppe en lywe teenaan mekaar, kompleet asof hulle mekaar moes help regop hou.
’n Kêrel was ’n noodsaaklikheid. Sonder een was ’n meisie niks.
Omdat sy nie meegedoen het aan die gewaande volwassenheid nie, is Adriana grootliks deur die populêre vriendskapklieks uitgeskuif en geïgnoreer. Dit het haar geensins gepla nie. Sy was tevrede met die merietesertifikate vir haar akademie en sportprestasies en om een van net ’n paar kinders te wees wat provinsiale kleure in atletiek en tennis kon verwerf.
Die ander meisies was nie juis jaloers op haar nie want sy het geen bedreiging ingehou vir hul mededinging om die aantreklikste ouens in die skool nie. Hul houding het begin verander toe Woud in haar standerd 8-jaar belangstelling in haar begin toon. Hy was in matriek en self ’n slimkop wat medies wou studeer. In teenstelling met haar, was hy die volledige pakket waaroor die meisies mekaar wou teer en veer. Hy was lank, en sy ligte hare en donkerbruin oë het die eyeshadowbrigade tot raserny gedryf. Langs die rugbyveld het meisies elke beweging en balhanteerslag van die kaptein toegejuig, hoewel die meeste van hulle maar min van rugby af geweet het. Woudstra Bosman was die eerste prys.
In die derde kwartaal het hy almal verras deur ná nog ’n kortstondige verhouding vir Adriana te begin uitvra. Die madams wat die skool regeer het, kon nie verstaan hoe hy in die vaal meisiekind belangstel nie en was so jaloers dat hulle iets kon oorkom. Sy is deur haar lojale vriendinne, Gerrida en Mara-Louise, op die hoogte gehou van die katterigheid agter haar rug: slim Adriana wat so stuck-up is. Vaalgevreet Adriana. Seunsdom Adriana wat moes pasop dat Woud haar nie op die paal sit in haar oningeligtheid nie.
Die gifbekke het nie geweet sy was net so verbaas soos hulle dat die eerste seun wat in haar rigting gekyk het nogal Woudstra was nie. Sy was bang dat sy net ’n uitdaging was wat oorrompel moes word en kort daarna weer eenkant toe geskuif sou word. Aan die begin van die verhouding was haar senuwees op, want sy het gedurig gewonder of daar ’n volgende kuier sou wees.
“Woud,” het sy op ’n dag vir hom gevra, “jy moet darem seker ’n idee hê van die uitwerking wat jy op meisies het, en jy kan enigeen kry. Hoekom hou jy nou juis van my?” Sy wou nog wonder of hy gaan stotter, toe antwoord hy al.
“Jy is anders as die wandelende paintpotte waarmee ek voor jou uitgegaan het. Daai klomp stel eintlik net in hulself belang. Jy weet wat gaan aan in die nuus en dis lekker om met jou oor allerhande goed te kan gesels.” Hy het vir ’n oomblik stilgebly en toe ondeund vir haar geknipoog. “En met só ’n paar bene mag jy natuurlik enige tyd op jou hande loop!”
Oombliklik het sy haarself gesien met haar hande in ’n paar skoene geanker – rok oor die kop – hulpeloos uitgelewer aan wie ook al wou kyk. Haar kopvel het aan die brand geslaan en sy kon nie glo dat enige mens vir so lank so hewig kon bloos nie. Die kompliment het haar ook daaraan herinner dat behalwe vir die kleintydse babatekeninge, haar bene die enigste deel van haar liggaam is waarvan haar ma entoesiasties sketse gemaak het. Dosyne beensketse, as anatomiese voorbereidingsketse vir figuurstudies.
Kom, hou dit net so. H’m, h’m, jy beweeg te veel; hou stil jou bene, was van die instruksies wat sy gereeld gekry het. Sy het later presies geweet watter posisie sy moet inneem, maar wat ’n vervelige besigheid was dit nie om so stil te moes sit nie! Party keer het sy aspris beweeg in die hoop dat haar ma gouer keelvol sou raak en haar laat gaan.
Dit sou nie die waarheid wees om te sê dit was sleg om haar bene in skilderye te eien nie. Maar die genoegdoening het verflou wanneer die gelaatstrekke en gesigvorm in dieselfde skildery meestal dié van haar jonger sussie was. Aangepas sodat sy ’n paar jaar ouer kan lyk. Adriana kon tot geen ander gevolgtrekking kom nie as dat sy sleg teen Marlinda afsteek. Bene wat die vyfde, sesde, sewende beste plek beklee, is vir alle praktiese doeleindes dan mos nie juis in tel nie.
Daar was darem een troos. Ten minste was daar nog nie weer figuurskilderye soos dié wat haar ma in Adriana se sub B-jaar vir ’n uitstalling gemaak het nie. Dooie donkie, daardie goed het destyds byna veroorsaak dat … Nee, sy wou nie weer daaraan dink nie. Sy kon nie toelaat dat dit die dag bederf waarop sy besef het sy mag maar op Woud verlief raak nie. Hy kon tog nie vir haar ma se indiskresie blameer word nie.
Dit was lekker om te weet iemand is lief vir haar net soos sy is, sonder enige druk om mooier te probeer lyk of te karring aan wat die natuur vir haar uitgedeel het. Sy het gewens haar pa se twee sogenaamde skoolvriende op Niemandshoek kon weet dat die topou in die skool haar gevra het om uit te gaan. Miskien sou hulle dan die neerhalende woorde waarmee hulle haar en Marlinda een Kersfees met mekaar vergelyk het, terugtrek. Dit was nie die enigste keer dat sy dit moes beleef nie. Sy was van jongs af al bewus van die vergelykings, die sinspelings, die getjie-tjie en die stuitige gelag. Die spottende oë wat haar bekyk en laat voel het asof die kat haar opgediep het uit dieselfde mandjie waar sy kleintjies gekry het.
Vir wat was sy ook so nuuskierig dat sy alewig daar was waar niemand haar teenwoordigheid raakgesien of verwag het nie? Kon hulle nie eers rondgekyk het om seker te maak sy hoor nie iets wat nie vir haar ore bedoel was nie!
Of wou hulle hê sy moes hoor?
Of was dit sy wat wou hoor?