Читать книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse - Страница 11

Оглавление

Hoofstuk 5

Klein begin in die sakelewe

Rupert se koersverandering, sy toetrede tot die sakelewe, is klein en be­skeie, maar dit sou ontkiem soos die mosterdsaadjie waaruit naderhand ’n groot boom groei.

Een van die sleutelbeweegredes wat hom van sy loopbaan as skeikundedo­sent laat afsien, is die “groot en blywende indruk” wat die nywerheidswese op die jong Boetie Rupert gemaak het terwyl hy met sy Tant Florrie die een na die ander fabriek in Port Elizabeth nageloop het. Hierbenewens word hy gemotiveer om uit die politiek te bly, veral ná die wyse raad van genl. Hertzog en die insident met Oswald Pirow. Net so deurslaggewend in sy besluitneming is Vader Kestell se woorde dat ’n volk homself moet red.

Voortspruitend uit hierdie reeks belewenisse word sy denke oor ’n rol vir die Afrikaner in die sakewêreld so sterk geaktiveer dat sy belangstelling in kleinsake sy toekomsplanne begin oorheers.

Terwyl hy nog aan die UP klas gee, betree hy reeds die sakewêreld, met ’n on­derneming in die Jakarandastad wat ’n nederige aanvang van sy opmars in die nywerheidswêreld verteenwoordig.

Hy begin aanvanklik saam met sy studentevriend Dirk Hertzog, toe in sy eerste jaar as prokureursklerk by die firma Couzyn, Hertzog en Horak, en dr. Nic Die­de­richs, latere minister van finansies en staatspresident, met ’n droogskoonmaak-onderneming.

Die droogskoonmakery, Chemiese Reinigers (Edms) Beperk, se standplaas was in Voortrekkerweg 535, Pretoria. Die stigtingskapitaal bedra £400, verdeel onder vier vennote. Rupert leen sy £100, terugbetaalbaar met rente, by die vierde direk­teur, Dawid de Waal Meyer, die halfbroer van Dirk Hertzog wat destyds Suid-Afrika se handelskommissaris in Kanada was.

Dirk deel die gevoel dat te min Afrikaners hulle in die handel bevind nadat hulle hulle oor baie jare tot boerdery en die professies beperk het, en dat die leemte aangevul moes word. Onwilligheid om tot die handel toe te tree was destyds so sterk dat toe sy halfbroer Dawid in 1919 na die Rotterdamse Handels­hooge­school gegaan het, sy tante aan hom gesê het: “Dawie, wil jy nou ’n ‘counter jumpertjie’ word?” Hertzog skryf sy eie belangstelling in besigheid daaraan toe dat dit, be­newens sy ouer halfbroer se opleiding, spruit uit die feit dat die Dirk Willem Hertzog na wie hy gedoop is, in die begin van die 19de eeu ’n drankwinkel in St. Georgestraat in Kaapstad gehad het, terwyl sy oupa aan moederskant, David de Waal, ’n ysterwarewinkel in Kaapstad bedryf het.

Hertzog is in daardie stadium geldelik beter daaraan toe as Rupert. Hy is die houer van spaarboekie nommer 22 by Volkskas in Pretoria, in ’n stadium toe die bank uit J.J. Bosman en twee dames bestaan. Hy sien ook humor in die nuwe on­derneming, en kenmerkend sardonies pen hy in sy memoires neer: “Wel, soos Frans Malan eendag gesê het, as ek nie bankrot is as ek 30 is nie, sal ek ’n mil­joenêr wees voor ek 40 is. Intussen word ek maar net grys – letterlik ook!”

Rupert, opgelei in chemie, dink aanvanklik dat die nuwe bedryf net vir hom is. Weens die tekort aan klere in die oorlogsjare is daar ’n goeie mark vir ’n droog­skoonmakery, want mense moet dieselfde klere oor en oor dra.

Vriende is meelewend. Christa Steyn, eggenote van Fritz Steyn, maak ’n rym­pie vir Chemiese Reinigers waarvoor sy £5 se gratis droogskoonmaakwerk kry:

Laat ons u klere chemies reinig

Silwerskoon en kos maar weinig.

Hoe die nuwe toetreders tot die handelswêreld hul mark aanvanklik beskou, kan afgelei word uit ’n advertensie in Ons Reddingsdaad, ’n brosjure wat in 1941 deur die hoofkantoor van die Reddingsdaadbond (RDB) uitgegee is. In die advertensie doen Chemiese Reinigers as Afrikaanse Droogskoonmakers ’n regstreekse be­roep op lede van die RDB:

“Ondersteun altoos die Eg Afrikaanse CHEMIESE REINIGINGSWERKE (ons verkies, net soos U, hierdie benaming bo die foutiewe anglisistiese woord: Droogskoonmakers).

“Ons onderneem die chemiese reiniging (droogskoonmaak) van alle soorte kledingstukke, tapyte ens., asook opknap van hoede.

“Ons apparaat is van die nuutste en beste. Ons werkers is spesialiteite.

“’n BETER, SNELLER EN SUIWER AFRIKAANSE NYWERHEID. Vra U Han­delaars om U klere na ons te stuur.

“Direkteure: Dirk Hertzog, B.A., LL.B.; Anton Rupert, M.Sc.”

Die onderneming slaag nie juis skouspelagtig nie, maar eindig ook nie as ’n mislukking nie. Dit was oorlogstyd en hulle moes die bensien vir die skoonmaak­proses oor en oor gebruik. Die Duitse bestuurder van die droogskoonmakery ver­vang die filters in die masjiene nie gereeld genoeg nie, en sommige mans wat ’n wit tennisbroek ingestuur het, ontvang ’n gryswitte terug. Boonop word Hertzog se verbolgenheid aangevuur deur klagtes van mense dat hul klere nie betyds af­gelewer word nie. Hulle maak planne dat Huberte die onderneming moet gaan bestuur, maar intussen het Rupert besluit om ’n nuwe loopbaan in Johan­nes­burg te begin.

Volgens Hertzog het die droogskoonmakery goed betaal. “Maar mense wou nie geld sit in vuil wasgoed nie – jy kan net nie kapitaal kry daarvoor nie. Ons dog wel, hulle mag geld sit in drank. Ons koop toe ’n drankwinkel en sowaar, die eerste duisend pond wat ons kry, is van ’n dominee; hy het sy lewe lank teen die duiwel geveg en hy het toe sy duisend pond daarin gesit.”1

Danksy die winsgewendheid van Chemiese Reinigers word die aandele later verkoop aan Ons Eie Droogskoonmakers (OED) en Empire Dry Cleaners, wat aan Tommy Beckley en ene Van der Merwe van Johannesburg behoort het.

Met ’n terugblik merk Rupert op dat die woord “Chemies” minder gelukkig was – want mense stuur hul klere juis na droogskoonmakers om van chemiese stowwe ontslae te raak. Advertensies soos dié in Ons Reddingsdaad is dus vroeg ’n les vir ’n entrepreneur wat uiteindelik ook in die buiteland om sy gesofistikeerde bemarkingstegnieke en advertensieboodskappe bekend sou raak.

’n Beroep op sentiment is eweneens geen wenresep nie, soos ’n ruk daarna ook met ’n paar van sy tabakprodukte blyk. Hy let op dat die mededingers wat Chemiese Reinigers oorgeneem het, hul diens aan albei taalgroepe bied. Bo­wen­al egter gee gehalte en dienslewering, ofte wel waarde vir geld, die deurslag vir ’n geslaagde sakeonderneming. Daarom sou dit ’n opperste stelreël in die Rem­brandt Groep word: Die kliënt is koning!

Die droogskoonmakery verteenwoordig nogtans ’n begin wat geïnspireer is deur ’n droom én ysere wil om suksesvol te wees. Dikwels daarna sou Rupert ’n Vlaamse spreuk aanhaal: “Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg – die wil word self die weg.”

Hierdie wil word versterk deur die nasionalistiese en republikeinse ideale wat gedurende hierdie tyd onder Afrikaners aanwesig is. ’n Gepaardgaande poging om Afrikaners ekonomies op hul eie voete te laat staan, kry stukrag in hierdie tye – in sommige opsigte ’n voorloper van die swart bemagtiging wat in die jare ne­gentig ná die African National Congress se bewindsoorname na vore sou tree, hoewel nie een wat op die oordrag van kapitaal met gunstige finansieringskemas of aandele-opsies berus het nie. Veral vind dit neerslag in die Red­dings­daad­bond, ’n organisasie wat hom intensief vir ’n staanplek vir Afrikaners in die sake­wêreld beywer, met die uitgesproke doel om alle Afrikaners tot ’n hegte eenheid saam te snoer ter bevordering van hul ekonomiese belange. Kapitaal moes vir Afri­kanerondernemings gemobiliseer word.

In die atmosfeer wat in die oorlogsjare heers, word Rupert aangemoedig om hom by die RDB aan te sluit, onder andere deur sy vriend Daantjie Malan, seun van minister Charlie Malan van Humansdorp, wat toe in Johannesburg as pro­ku­reur by Van Wyk de Vries praktiseer.

Op uitnodiging van dr. Diederichs, wat die hoofleier van die RDB geword het, bedank Rupert gevolglik einde 1940 sy lektorspos in Pretoria. Hy staak sy stu­die, doktoraal sowel as in die regte en die handel, en roep die akademiese lewe vaarwel toe om hom met huitjie en muitjie in die sakelewe te begewe. Voortaan sou sy leerskool die harde praktyk wees.

Op 24-jarige leeftyd begin Rupert as hoof van die RDB se kleinsakeafdeling werk.

Die bond spruit uit Kestell se jare lange oproepe om die Afrikanervolk tot “’n ekonomiese reddingsdaad” te wek. Sy herhaalde pleidooie val oplaas met die eeu­­feesviering van die Groot Trek in 1938 op vrugbare teelaarde en word die reg­streek­se aanleiding tot die Eerste Ekonomiese Volkskongres ’n jaar daarna. Dié kon­gres lewer ’n deurslaggewende bydrae om die Afrikaner – die eertydse trek­ker, togryer, boer en landskoonmaker wat in die professies hoofsaaklik as on­der­wy­ser of predikant verteenwoordig was – tot die rol van sakeondernemer te be­weeg.

Kestell, veldprediker in die Anglo-Boereoorlog, moderator van die Vrystaatse NG Kerk en rektor van die Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein, was die seun van ’n Britse immigrant met Afrikaanse afstammelinge, lid van ’n familie wat hul wortels in Cornwall, Engeland, gehad het. Dié legendariese figuur speel veral in die jare dertig, toe ernstige kommer oor die armoede onder die Afri­ka­ners heers, ’n allerbelangrike rol.

Die hartverskeurende armoede is die kumulatiewe gevolg van die verwoesting in die Anglo-Boereoorlog, toe honderde plase afgebrand en veestapels verwoes is, die Groot Droogte en die Depressie. “Terwyl buitelandse ondernemers met meer­dere tegniese en bestuurskennis rykdomme uit Suid-Afrikaanse goud en diamante opgestapel het, het die Afrikaner ’n vreemdeling, en in baie gevalle ’n sukkelen­de vreemdeling, in sy eie land geword. Die stedelike, kapitalistiese struktuur wat uit die mynbou gebore is, het die oorhand oor die Boer gekry.” As werkgewer kon die Afrikaner hom in hierdie stadium hoofsaaklik in sy tradisionele bedryf, die boerdery, laat geld; in die stede waarheen honderde getrek het, was hy grotendeels werknemer.2

Van heelparty Engelssprekendes was daar bitter min empatie vir die nood van die arm Afrikaners. Die skryfster M.E. Rothman (M.E.R.) rapporteer hoe sir Car­ruthers Beattie, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, ongeërg aan ’n openbare vergadering vertel het armblankes is “intellektueel agterlik en dat daar iets inherents in die Afrikaners is wat veroorsaak dat die verskynsel (van armblankes) in hulle geval sulke verontrustende afmetinge aanneem”.3

Tog bevind die Carnegiekommissie in 1932 dat die intelligensievlak van die arm­blankes geensins van dié van die res van die bevolking verskil nie. Die kommissie se raming van die getal armblankes is sowat 300 000 uit ’n wit bevolking van sowat 1 800 000.

In 1936, so bereken die Stellenbosse ekonoom prof. C.G.W. Schumann, bedra die inkomste per capita van Afrikaners £86 teenoor £142 vir ander blankes. Die Engelse voorsprong was aansienlik.

’n Artikel in Wapenskou oor die Reddingsdaadbeweging deur Diederichs, in daar­die stadium hoogleraar in staatswetenskappe en wysbegeerte in Bloem­fon­tein, verwoord die nood onder die armblankes: “Hierdie ekonomiese swakte van die Afrikaner het oral noodlottig ingewerk – op die godsdienstige, kulturele, maatskaplike lewe. Daar is geen terrein van ons volkslewe waar die armoede hom nie terdeë laat geld het nie. Dis die armoede wat derduisende van hul kerk ver­vreem. Dis die armoede wat duisende onbevoeg maak om ons kultuurgoedere be­hoorlik te kan geniet om nie eens te praat van produksie op kultuurgebied nie. Dis die armoede wat gesinne uitmekaar skeur, duisende na die agterbuurte van die stede laat trek, misdaad en allerlei sosiale euwels bevorder. Dis die eko­nomiese agterstand wat ons volk tot ’n volk van werknemers maak, afhanklik vir hul daaglikse brood van andere. En daardeur is dit die wortel van ’n afhanklik­heidsin en minderwaardigheidsgevoel wat invreet in die siel van ons volk.”

Hy som sy betoog om die volk op te hef op: “Kortom, die Afrikaner moet ook besitter en beheerder word in die handel, die nywerheid, die bankwese enso­voorts. Hy moet vir hom ’n eie staanplek verower in die ekonomiese lewe van ons land.”

Kestell het hom die lot van die duisende armlastige Afrikaners sterk aangetrek. Hy sien die oplossing van die armblankeprobleem as “Saamwerk, Help­mekaar, Redmekaar”; regeringshulp moet alleen as tydelik beskou word.

Met die aankoms van die feeswaens in Oktober 1938 in Bloemfontein pleit Kes­tell voor ’n skare van 20 000 dat tot “’n aanhoudende reddingsdaad” oorgegaan moet word. Sy wekroep oefen ’n groot invloed uit op Rupert, wat daarna meermale vermeld het dat ’n kerkman hom tot die sakelewe gemotiveer het.

Só ’n groot invloed was Kestell se besieling dat Rupert baie jare later voor ’n oor­wegend swart gehoor in KwaZulu-Natal in ’n uit-die-vuis-repliek op ’n toespraak van hoofman Mangosuthu Buthelezi steeds daarna verwys. “Ek het hom en al die Zoeloeleiers daar teenwoordig daaraan herinner dat my eie mense veer­tig jaar gelede vir ’n derde armblankes was. Maar dat ons onsself aan ons eie skoenveters uit die modder gelig het en dat ons vandag bereid is om hulle te help om hulleself te help.”

Dit is Kestell se denke wat hier herroep is, maar ook kom Rupert se siening van deelgenootskap sterk na vore.

Aan Kestell se pleidooi word oplaas gehoor gegee toe die Eerste Ekonomiese Volkskongres van 3 tot 5 Oktober 1939 in Bloemfontein byeenkom op inisiatief van die Ekonomiese Instituut van die Federasie van Afrikaanse Kultuur­ver­eni­gings (FAK), die kulturele front van die Afrikaner-Broederbond. Kestell is die na­tuurlike keuse vir die beskermheerskap van die kongres, en die voorsitter is ds. William Nicol.

In hierdie tye woed gedagtegisting onder Afrikaners midde-in die stuwing van die botsende ideologieë van die jare dertig. Aan die een kant broei onder baie Afrikaners steeds opgekropte verset teen Britse imperialisme, naas nog afkeer van gehate uitwasse van die kapitalisme, soos uitgedruk in die uitbuiterspookbeeld van Hoggenheimer, die aartskapitalis wat deur D.C. Boonzaier se spotprente in Die Burger berugtheid onder Afrikaners verwerf het. En aan die ander kant dreig Hitler se nasionaal-sosialisme en Stalin se kommunisme, albei gewortel in die ti­rannieke ideologie van die gesagstaat.

Die Afrikanerintellektuele aan die voorpunt van die ekonomiese worstel­stryd, verwerp die kapitalisme nie uitdruklik nie – soos niemand minder nie as genl. Smuts wel vroeg in die eeu in sy bekende Een eeuw van onrecht wou: “Als het beschikt is dat wij hoe nietig ook de eerste van alle volkeren zullen zijn die den strijd met de nieuwe wereldtiran van het kapitalisme moeten beginnen, zijn wij daartoe bereid.”

Eerder word ’n wisselvorm bepleit wat as volkskapitalisme bekend geword het. Soos prof. L.J. (Wicus) du Plessis dit op die Eerste Ekonomiese Volks­kon­gres uitdruk, die nuwe ekonomiese volksbeweging stel hom ten doel “om nie verder toe te laat dat die Afrikaanse volk verwoes word in ’n poging om hom aan te pas by ’n uitheemse kapitalistiese stelsel nie, maar om die volk te mobiliseer tot ver­owering van dié uitheemse stelsel om dit om te skep en aan te pas aan ons volks­aard”.4

Die paaie van ander toonaangewende sakeleiers wat op die Volkskongres van 1939 optree, sou later met Rupert s’n kruis, onder wie prof. C.G.W. Schumann van Stellenbosch en dr. M.S. (Tienie) Louw, naderhand voorsitter van Federale Volks­beleggings (FVB), wat as ’n regstreekse uitvloeisel van die kongres gestig word met die doel om Afrikanerkapitaal te mobiliseer.

Veral hierdie twee invloedryke denkers staan die gedagterigting voor dat kapi­taalkragtige ondernemings gesteun word om die posisie van die Afrikaner in die handel en nywerheid te versterk. Ander sprekers wat toesprake op die kongres lewer, is dr. Eben Dönges, latere minister van finansies; dr. Hendrik Verwoerd, wat oor verbruikerskoöperasies praat; en dr. Albert Hertzog, seun van die generaal, wat die organisering van arbeid bepleit.

Die gryse Kestell self open die kongres met Skriflesing en gebed en sluit af met die boodskap: “Ons moet ons oog hou die een op die ander, omdat ons bloed van mekaar se bloed is. Ons behoort aan mekaar – ons, die klein Boerevolk hier in Suid-Afrika, en dit dryf ons uit om toe te snel tot hulp van ons broers en susters wat in nood is, om hulle te help om hulleself te help. Ons doen dit in die vaste oortuiging dat ons as volk onsself moet red.”

Gehoor word gegee aan sy oproep tot ’n reddingsdaad wat die ekonomiese op­heffing van die volk beoog – ’n soortgelyke poging as die Helpme­kaar­bewe­ging waarvan Kestell twintig jaar tevore ook ’n voorste leier was. As nog ’n reg­streekse uitvloeisel van die Volkskongres, wat ook die stigting van FVB goed­ge­keur het, word op 1 Desember 1939 op ’n vergadering van die Ekonomiese Insti­tuut besluit om oor te gaan tot die stigting van die Reddingsdaadbond, die eerste volksorganisasie in sy soort, wat ’n week later op 8 Desember tot stand kom. Die eerste tak van die RDB word op 12 Februarie 1940 in Bloemfontein gestig, terwyl die Reddingsdaadfonds reeds in 1938 op aandrang van Kestell geloods is.

As gevolg van sy aansluiting by die RDB bevind Rupert, die seun van die stil Karoovlaktes, hom vroeg in die jare veertig in die Goudstad op die polsende Hoë­veld, die middelpunt van Suid-Afrika se industriële hartland.

In hierdie deurslaggewende tyd in sy lewe leer hy die behoeftes van kleinsa­ke­ondernemers intiem ken. En hier kry hy te doen met nog iemand wat ’n blywen­de invloed op sy lewe sou uitoefen: die sestigjarige dr. A.J. Stals, wat twee dae per week uit Pretoria as finansiële raadgewer na die kantoor van die RDB in die Voortrekkergebou langs die Johannesburgse stasie kom, waar hy die aansoeke van voornemende toetreders tot kleinsake saam met Rupert keur. Stals, in daar­die stadium ’n direkteur van Volkskas en die Voortrekkerpers nadat hy as voorsitter van die Raad van Handel en Nywerheid sowel as van die Skeepvaartraad bedank het, gaan elke aansoekvorm sorgvuldig deur en skryf dan in sy netjiese handskrif sy aanbeveling neer.

Rupert bejeën sy vroeë mentor Stals met groot respek – die soort Afrikaner wat hy graag as lid van die Afrikaneraristokrasie sou tipeer. Hy vertel dat Stals, seun van ’n bywoner op ’n plaas by Tulbagh wat twee doktorsgrade in die medisyne en die regte aan die universiteite van Berlyn en Dublin verwerf het, self sy we­du­weemoeder se vloere geskrop het gedurende universiteitsvakansies. Later in sy dokterspraktyk het hy ook net een keer ’n rekening aan sy pasiënte gestuur. ’n Pasiënt wat nie kon betaal nie, het nie weer ’n rekening gekry nie. Rupert be­stempel hom ook as die soort veelsydige mens wat volledige menswees behels – waarvan een uiterlike teken die alledaagse optrede is, soos weerspieël in goeie maniere en ridderlikheid. Stals, wat naas sy kennis van die medisyne en regte ’n voorste ekonoom was, het as minister van gesondheid meermale op reise die og­gendkoffie aan sy motorbestuurder bedien.

Die gematigde politieke denke van Stals, wat ’n kabinetslid sou word nadat Malan se Nasionale Party die Verenigde Party van Smuts in die verkiesing van 1948 verslaan het, dra daartoe by dat Rupert nooit ’n ideologies benepe mens sou wees nie.

’n Staaltjie wat Stals se eggenote vertel het, illustreer sy ingesteldheid. Hy het ’n kongres van die Nasionale Party bygewoon waar negatiewe besluite oor bruin mense se regte geneem is. Stals het toe van die verhoog gestap, sy eggenote aan die arm gevat en uitgeloop met die woorde: “Kom, Annie, hier is nie plek vir ons nie.” Rupert is oortuig dat die bruin mense nooit van die gemeenskaplike kie­serslys verwyder sou gewees het as Stals ná die 1948-verkiesing lank genoeg ge­leef het om sy invloed te laat geld nie.

’n Boesemvriend van Stals, wat ná die NP se oorwinning in 1948 as ’n minister in die Malankabinet aangestel is, het eenmaal van hom gesê: “Stals is nie ’n goeie politikus nie. Hy deel nie die lakens (baantjies aan sy partygenote) uit nie. Hy is te billik en regverdig.” Rupert se reaksie daarop was reëlreguit: “As billikheid en regverdigheid swak politiek is, hoort ek nie in die politiek nie. My vader was dus korrek in sy weiering om politieke poste te aanvaar.”

Dit is nog een van die redes waarom hy nooit geswig het voor pogings om hom by die politiek te betrek nie. Mettertyd huldig hy die mening dat die Afri­kaner oor die jare sy ekonomiese krag opgebou het juis deur die kanalisering van sy energie buite die politiek in krisistye, soos tydens die Tweede Wêreldoorlog.4

In die kleinsakeafdeling van die RDB moet Rupert ander op die been help kom. Hy kon lenings tot £500 toestaan.

Een van die aansoekers wat ’n sukses gemaak het, is D.W. Pienaar, jare lank ’n manshaarkapper wat langs die bekende Koffiehuis in die Groote Kerk-gebou aan Adderleystraat in Kaapstad sy onderneming bedryf het. Onder andere het verskeie parlementariërs hul hare daar laat sny.

“Die Reddingsdaadbeweging het die Afrikaner ekonomies bewus gemaak,” verklaar dr. Dönges op die beweging se tweede amptelike kongres op 14 Julie 1943 in Bloemfontein. Volgens hom het die RDB – die Ekonomiese Instituut se “veldwerker” – die Afrikaner se vooroordeel teen kapitaalbeleggings in sakeondernemings, veral Afrikaanse ondernemings, geleidelik afgebreek. Algaande sou ook Afrikaanse universiteite – Stellenbosch, Pretoria, Oranje-Vrystaat en Potch­ef­stroom – ’n rol in die kweek van sake- en bedryfsleiers speel deur etlike dui­sen­de afgestudeerdes in handelskursusse te lewer.

Ná ’n bestaan van vyf jaar het die RDB teen 1945 byna 400 takke in die land ge­had en die ledetal het tot 70 000 opgeloop. Tientalle Afrikaanse sakeondernemings is met lenings gehelp. Werkgeleenthede is vir duisende geskep en honderde het voorligting gekry of is met hul studie gehelp deur die RDB (wat later aanska­keling met die Helpmekaar Studiefonds gevind het).

Rupert se pad loop nie enduit nie met die RDB, wat uiteindelik teen 1957 ontbind word. Maar in sy betrokkenheid by kleinsake leer hy self moontlikhede ken. Hy ervaar ook al hoe sterker die begeerte om iets te vervaardig, want “skei­kun­de en nywerheid is soos eie neefs”. Bowenal egter kom hy vanweë sy ervaring as kind van die Depressie tot die gevolgtrekking dat ’n entrepreneur wat die sake­wêreld wil betree, produkte moet verkoop wat teen ’n depressie bestand is. En as daar twéé depressiebestande produkte is, dan is dit tabak en drank.

Reeds in 1941 kom ’n geleentheid na vore om ’n insolvente tabakfabriek oor te neem, en dit lei spoedig tot sy volgende belangrike stap in die sakelewe, die stig­ting van die Voorbrand Tabakmaatskappy.

Voorbrand word gestig op ’n tydstip dat die sakewêreld in Suid-Afrika deur Engelssprekendes oorheers is. In die handel, nywerheid, finansies en mynwese was Afrikanerondernemings se omset in 1938-’39 slegs 5% van die totaal; in die nywerheid slegs 3%. Daar was destyds slegs enkele gevestigde Afrikaanse maat­skappye, soos die versekeringsmaatskappye Sanlam en Santam, die mediamaat­skappye Nasionale Pers (later Naspers) in die Suide en Voortrekkerpers in die Noorde, die begrafnisondernemer Avbob, asook Volkskas, die eerste Afrikaanse handelsbank, gestig in 1934.

Twee ander Afrikaners wat as pionier-entrepreneurs teen daardie tyd be­mag­tigings- en werkgeleenthede vir Afrikaners in semistaatsinstellings geskep het, was die chemiese ingenieur dr. Hendrik van Eck en die ewe briljante elektro­tegniese ingenieur dr. Hendrik van der Bijl. Van der Bijl, voorsitter van Evkom en daarna Yskor, het sy ideaal verwesenlik om goedkoop elektrisiteit en staal as die basis vir nywerheidsontwikkeling te verskaf. Die nywerheidsdorp Vander­bijlpark is na hom genoem. Hy is as voorsitter van Yskor opgevolg deur dr. Frik­kie Meyer, wat as voorsitter van die raad van die UP die eerste sakeskool ter wêreld buite die Harvarduniversiteit gevestig het.

Onder Van Eck se voorsitterskap van die NOK is belangrike staatsondersteun­de instellings soos Sasol, Foskor, Safmarine en Alusaf gestig en gefinansier. Michael O’Dowd, ’n direkteur van Anglo American, skryf hieroor: “The primary credit (for the policy) belongs to the Afrikaners, and it was in effect opposed by many, if not all, English-speaking South Africans.”

In die aandrang op ekonomiese mobilisasie in die jare veertig het talle nuwe ondernemings in die private sektor onder Afrikaners opgespring. Sommige was suksesvol, soos die ondernemende Willem Boshoff van Krugersdorp, wat reeds van die middel van die jare dertig af die grondslag vir Afrikanerdeelname aan die goudmynbedryf gelê het. Die meeste het egter misluk. In Johannesburg alleen was daar ’n stuk of vyftig sulke ondernemings.5

Uiteindelik sou uit die inisiatiewe van die jare veertig veral twee ondernemings in die private sektor groei en vooruitgaan.

Die een is Rupert se Rembrandt, wat uit Voorbrand ontwikkel het. Die tweede is Veka, die Volks- Hemde en Klerefabriek Beperk, wat onder Albert Wessels die handelspad aanvanklik met “Ossewa”-klerasie aandurf en later as Veka/Bertish bekend staan.

Soos ander in die destydse Afrikanerkringe aan die Rand het Rupert vir Wes­sels goed geken, en hy woon onder meer Wessels se verlowingsparty met sy eerste vrou, die bekroonde digteres Elisabeth Eybers, in Pretoria aan huis van die Eyberse by. Wessels maak later sy grootste vooruitgang met die verkryging van die handelsreg vir Suid-Afrika van die Japanse voertuigmaatskappy Toyota.

Geslaag of misluk, ondernemings soos dié was almal pogings van ’n volk wat homself ekonomies en maatskaplik wou red.

Hoewel Rupert ná sy aankoms in Johannesburg intens betrokke by die RDB was en aanvanklik nie die beweging wou verlaat om die nuwe terrein van ’n tabak­fabriek te betree nie, kon hy agterna oorvloedig dankbaar wees dat hy dit wel gedoen het.

Dit bring ook fasette van sy bedekte self na vore, wat hy egter nie as ’n teenstelling beskou nie: aan die een kant die doelgerigte, vooruitstrewende sakeman, en aan die ander kant die denker en dromer wat iets vir sy medemens wil be­te­ken.

Rupert se ommeswaai van die droogskoonmakery na die tabakbedryf is ewen­wel nie ongewoon vir ’n entrepreneur nie. Entrepreneurs is nooit getroud met ’n bepaalde bedryf nie. Hulle is rustelose, eksperimentele mense.

Die gewese akademikus word in die nuwe sakeomgewing in die woelige Jo­hannesburg spoedig toegegooi onder werk. Einde Augustus 1941 bel hy sy verloofde, Huberte, in die Merenskybiblioteek in Pretoria met die woorde: “Ons moet nou trou, want ek kry nie kos op die tye dat ek vry is om te eet nie!”

Huberte stribbel eers teen dat hy nie durf bel na die biblioteek, waar sy geen oproepe mog ontvang, en dan nog só iets sê nie. Sy huiwer nogtans nie om die jawoord te gee nie – gedagtig ook aan die wyse raad van sen. Martin Ver­meu­len, vader van haar Tukkievriendin Theresa Vermeulen. Terwyl sy ná haar verlowing by die Vermeulens op Lindley in die Vrystaat gekuier het, het hy oor ’n glasie sjerrie aan haar gesê: “Jy gaan trou met ’n leier van mense, iemand van wie ons baie verwag. Besluit vroeg om sy hulpmaat te wees. Someone must keep the home fires burning. Bly tuis en staan hom by as ’n ondersteunende krag wanneer hy tuis kom.”

Toe Rupert ouers gaan vra, sê Huberte se stiefvader, Piet Wessels, ’n onderwy­ser in boekhou en handelsrekene wat sy aanstaande skoonseun baie bemoedig het, aan hom: “Ek weet jy sal haar nie kan onderhou nie, maar ek het vertroue dat julle die mas sal opkom.”

Die twee word ’n maand later, op Saterdag 27 September 1941, in die Gere­for­meerde kerk op Krugersdorp deur ds. W.P. Venter in die huwelik bevestig. Rupert is lidmaat van die groter Nederduitse Gereformeerde Kerk, maar hulle trou in die Dopperkerk omdat sy vrou Enkel-Gereformeerd, ’n Dopper, is.

Die daaropvolgende Donderdag berig Die Transvaler dat die “sprankelende bruid” geklee was in “’n sierlike tabberd van ivoorkleurige satyn” toe sy aan die arm van haar vader (eintlik haar stiefvader, wat ook ’n bekende in Transvaalse rug­bykringe was) die kerk binnetree. “Deftige kenmerke van haar smaakvolle mondering was die besonder lang sleep en die lang sluier wat met ’n kunstige hoof­tooisel van lemoenbloeisels vasgeheg was. Haar ruiker was uit aronskelke saamgestel.”

Haar strooimeisies is haar vriendinne Theresa Vermeulen en Rona Wallace, dog­ter van ’n tandarts van Krugersdorp. Die blommemeisie is haar jong suster Vivia Wessels.

Die bruilof word in die Moon Hotel gevier. Nadat die gaste vir die dinee aangesit het, word die eerste heildronk deur Fritz Steyn ingestel, waarop die bruide­gom “gepas geantwoord het”. Verdere heildronke word ingestel deur J.H. van Dyk, dr. G. von W. Eybers, Dirk Hertzog en J.J. Botha. Daarop antwoord mnr. Piet Wessels en die twee strooijonkers, Jannie Rupert, jonger broer van Anton, en Boet Postma, seun van die rektor van die Pukke, die Potchefstroomse Uni­ver­siteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys.

Die bruidspaar vertrek in Rupert se motortjie, die DKW met die registra­sie­nommer TK 714, om ’n lewe te begin waarin Huberte haar man pal sou bystaan. Die motortjie se seildak lek wanneer dit reën, dan moet sy met ’n sambreel oor haar kop sit anders reën sy nat.

Hul wittebrood was amptelik ’n bekendstellingsreis van die RDB, en Rupert ver­sprei die boodskap van die reddingsdaad so ver soos hulle gaan. Onder an­dere bly hulle oor by bevriende predikante en ander vriende van die beweging.

Die eerste drie maande van hul huwelik gaan hulle tuis by die Wesselse op Krugersdorp. ’n Merkwaardige toeval omtrent die Wesselse se huis was in later jare ’n groot verrassing vir die Ruperts se oudste seun, Johann. Hy het as skool­seun by sy oupa en ouma Wessels op Krugersdorp gebly wanneer sy ouers met sy suster Hanneli vir behandeling aan haar oë in die buiteland was. Toe hy daarna ’n slag op Krugersdorp die Wesselse se huis aan sy aanstaande, Gaynor Dow­nie, gaan wys, vertel sy dat sy in dieselfde huis grootgeword het! Haar vader het die huis naamlik uit die boedel van Wessels se weduwee gekoop. Afgesien daar­van dat sy in dieselfde huis en dieselfde slaapkamer as haar skoonmoeder groot­geword het, het Gaynor, soos Huberte, aan die UP gestudeer, waar sy die jool­koningin was; sy het ook aan die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg skool­gehou en op die koop toe ’n ruk by die SAUK gewerk, waar Huberte vryskutwerk gedoen het.

’n Week voor Anton en Huberte se huwelik word die Voorbrand Tabak­maat­skappy op 21 September 1941 formeel gestig en die volgende dag geregistreer – dus word 22 September 1941 daarna aangedui as die amptelike stigtingsdatum van die latere Rembrandt Groep, wat uit Voorbrand ontstaan het. Die dag daarna word die eerste direksievergadering gehou.

Rupert se vennote met die aanvang van Voorbrand is drr. Stals en Diederichs. Hul beleggersteun is twee lenings van £2 500 elk wat hulle onderskeidelik van Kopersbond en FVB ontvang. Die nominale aanvangskapitaal beloop dus £5 000.

Rupert self kan net £10 kontant bydra (ofte wel R20 ná desimalisering van die geldeenheid). Uiteindelik word daardie £10 ’n belegging waaruit ’n internasio­nale sakeryk van miljarde sou groei.

Welmenende vriende beskou dit as dwaasheid dat Rupert met net £10 in sy sak, en feitlik eiehandig, die gedugte tabakbedryf aanpak, wat vir 90% deur United Tobacco Company (UTC) oorheers word. Sommige reis van ver om hom van die plan te laat afsien. Mense soos die joernalis Willie Muller van Port Elizabeth, ’n medestudent in Pretoria, wou van hom weet “wat op die aarde hy nou aanvang”.6

Rupert is op aandrang van Jan de Kock, hoofbestuurder van die Magalies­berg­se Tabakkwekersvereniging (MTKV), deur Stals genader om die nuwe taak te on­derneem.

De Kock, wat die MTKV tot ’n modelkoöperasie vir tabakboere van Rus­tenburg en omgewing help uitbou het, was ’n sleutelfiguur in die oprigting van die Tabakbeheerraad, wat die bemarking van tabak op die voordeligste wyse vir tabakplanters en -verbruikers wou reguleer.

Hierdie dinamiese ondernemer in die tabakbedryf, ook die hoof van die sambreelliggaam van tien koöperasies, die Sentrale Koöperatiewe Tabakmaatskap­py, het so ’n hoë dunk van Rupert gehad dat hy met niemand anders as die gewese jong Tukkiedosent by Voorbrand sake wou doen nie. Hy grond sy standpunt daar­op dat die tabakbedryf een van die moeilikstes is om ’n greep op te kry, en as dit nie iemand met karakter en deursettingsvermoë is wat die taak onder­neem nie, gaan ’n volgende Afrikaner dit nie probeer doen nie.

’n Hegte vriendskap ontstaan tussen die twee nadat Rupert die bestuursverant­woordelikhede van Voorbrand oorgeneem het. De Kock stel ook een van MKTV se jong manne, Corrie Coetzee, ’n gradeerder, tot beskikking van Voorbrand om met die vervaardiging van pyptabak te help.

Die nuwe maatskappy pak die stryd aan met ’n aantal lede van die direksie wat diep spore in die Suid-Afrikaanse sakelewe sou trap. Dit dui boonop ’n tendens aan wat latere, ook buitelandse direksies van die Rembrandt Groep kenmerk: Ru­pert kon knap medestanders om hom saamtrek.

Die eerste voorsitter van Voorbrand se direksie is dr. Stals, wat in 1948 as mi­nister van onderwys, gesondheid en volkswelsyn in die Malanregering aange­stel is voordat hy in 1951 oorlede is. Een van die eerste direkteure is dr. Diederichs, later minister van finansies en uiteindelik staatspresident, wat Stals ná sy kabinetsaanstelling in 1948 as voorsitter van Rembrandt sou opvolg. Kopersbond het twee verteenwoordigende direkteure, Barend J. Pienaar, ’n ruk lank konsul van Suid-Afrika in Milaan, en Johannes Jacobus Fouché. Ander direkteure is Ivan Makepeace Lombard, bekende Afrikaanse kultuurfiguur aan die Rand, wat die naam Voorbrand uitgedink het; William Bedford Coetzer, die geoktrooieerde reken­meester wat later voorsitter van Federale Mynbou en Gencor sowel as di­rekteur van tot sestig maatskappye was; dr. Etienne Rousseau, later voorsitter van Sasol, wat ’n wêreldleier met die grootskaalse vervaardiging van olie uit steen­kool geword het; en C.C. (Oupa) Kriel van Wolgroeiers Afslaers (WGA). As se­kretaris en publieke amptenaar dien Anton Rupert.

Op versoek van Diederichs bly hou Rupert tot einde Januarie 1942 toesig oor die RDB se kantoor. Sy salaris by Voorbrand word vasgestel op £500 per jaar, £41 13s 4d per maand. En twee aandele in die maatskappy word aan hom toegeken.

’n Ruk ná die stigting probeer een van Voorbrand se direkteure, Fouché, om Rupert na die kapitaalkragtiger Kopersbond weg te lok. Hy bied hom ’n hoër sa­laris aan, maar Rupert wys die aanbod van die groothandelsmaatskappy, wat naderhand ondergegaan het, van die hand.

In die vroeë stadium van Rupert se toetrede tot die tabakbedryf is daar reeds vier ander sigaretmaatskappye in die Suid-Afrikaanse tabakmark, wat ’n jaarlikse wins van £2 miljoen oplewer, maar waarin ’n sestigtal sigaretsoorte om markaandeel meeding. Tabakboere kla steen en been dat hulle swaar kry weens die wurggreep wat prysvasstelling op die bedryf uitoefen. Daar is bereken dat die netto wins wat UTC, ’n filiaal van British-American Tobacco, jaarliks aan sy oor­sese moedermaatskappy oorbetaal het, méér beloop het as die totale jaarlikse bruto inkomste van almal wat die tabakblaar hanteer, onder wie die boere, meesal Afrikaners.

Die situasie roep om sterker mededinging, en Rupert sien ’n geleentheid daarin. Die Depressie en die Tweede Wêreldoorlog het dinge op ekonomiese gebied weliswaar baie bemoeilik. Mense was arm en geld was min. Hy redeneer desondanks tereg dat mense sekere basiese behoeftes het, en daarin moet voorsien word. Tabakverbruik is een hiervan. Dit was nie iets wat deur die oorlog beïnvloed is nie.

Hy begin ’n studie maak van maatskappye wat depressiebestand is en bevind dat tabakmaatskappye wêreldwyd van die heel beste vaar. Onder hulle is die grootstes in die VSA soos R.J. Reynolds, Lorillard, American Tobacco en Liggett & Myers. Hy bestudeer ook maatskappye in Spanje, Italië, Japan en China. In Frankryk besit die staatsmonopolie Seita bekende handelsmerke soos Gauloise en Gitanes. In Brittanje is daar onder meer Players en British American Tobacco asook Imperial Tobacco, wie se voorsitter, lord Winterstoke, hoof van die Wills­familie, in 1901 die rykste man in Brittanje was op Cecil John Rhodes na, wat sy fortuin in Suid-Afrika gemaak het.

In Voorbrand se tabakfabriek bevind Rupert hom in die oorlogsjare in die mid­destad van Johannesburg. Die Voorbrand Tabakmaatskappy se standplaas is ’n gehuurde perseel in Kommissarisstraat 200, tussen Mooi- en Goudstraat, digby His Majesty’s Theatre en die destydse radiokorporasie, dus naby die latere Carl­tonsentrum.

Die nuwe maatskappy kon sonder geld of toerusting geen sigarette, die groot geldverdiener, vervaardig nie en spits hom aanvanklik op pyptabak toe. In die oorlogsjare het valutabeheer en invoerbeperkings boonop die inbring van sigaret­masjiene en verpakkingsmateriaal verbied.

Voorbrand ontvang as nuwe toetreder tot die tabakvervaardigingsbedryf ’n maksimum allokasie van 1% van die Tabakbeheerraad, en dit is vir pyp-, snuif- en sigarettabak. Die sigarettabak moes ’n hele paar jaar opgeberg word terwyl slegs die pyptabak verwerk is. Dit is eers sewe jaar later gebruik toe Rembrandt oplaas in 1948 die Suid-Afrikaanse sigaretmark betree.

Die “Afrikaanse indringer” in die tabakbedryf kom te staan teen gedugte me­dedinging en leer ken die harde werklikheid, onder meer fluisterveldtogte en kwaadwillige gerugte.

Reeds in 1941, kort nadat hulle met die klein tabakfabriek begin het, ontvang Rupert-hulle ook ’n aansienlike aanbod van UTC se grootbaas, M.E. Risien, om uit te verkoop – vir £50 000, op voorwaarde dat Voorbrand onderneem om nie sigarette, die lonendste produk, te maak nie. Klaarblyklik sou dit UTC se reeds oorheersende posisie in die mark verder versterk. Voorbrand wys die aanbod van die hand, want Stals reageer pront: “Ons verkoop nie ons eersgeboortereg nie.”

Rupert, hoewel altyd hoflik en bedagsaam, toon vroeg ook die staal wat sy werk­nemers sowel as mededingers mettertyd met ontsag vervul. Dit gebeur juis in ’n voorval waar hy met Risien te doen kry. By ’n geleentheid waar tabakvervaardigers byeenkom om oor bedryfsprobleme te beraadslaag, vra die man van UTC half spottend aan Rupert: “En hoe gaan dit met klein Voorbrand?” Rupert is dadelik gereed met ’n antwoord aan sy ouer mededinger: “Mnr. Risien, volgens alle wette van waarskynlikheid het ons ’n goeie kans om u te oorleef.”

Risien sou daarna nooit weer so met Rupert praat nie. ’n Ironiese nasleep van die voorval – die soort gebeurtenis wat Rupert aan “die billikheid van die Voor­sienigheid” toeskryf – is dat Risien se seun jare daarna ’n betrekking by Rem­brandt gevra het. Daar was toe geen geskikte vakature nie.

’n Medestander wat ’n lang pad met Rupert sou saamloop, sluit hom in hier­die vroeë stadium by Voorbrand aan: sy rekenmeester, Daan Hoogenhout. “Soos my geslag kom hy uit die jare van depressie, toe ’n derde van ons mense armlastig was,” herinner Rupert die rouklaers veertig jaar later in ’n huldeblyk op Hoogenhout se begrafnis. “Selfs hy, as seun van ’n onderwysman, het menigmaal, met ’n donkiekarretjie se groente, mark gehou op die dorpsplein.”

Daniël Marais Hoogenhout, twee jaar jonger as Rupert, het aan die UP buitemuurs ’n B.Com.-kursus gevolg en van die Voortrekkerpers na Voorbrand oor­gekom. Hy was ’n kleinseun van die taalstryder C.P. Hoogenhout.7

Rupert en Hoogenhout deel ’n vertrek by die ingang van die gebou – “ons eerste klein fabriekie” – wat Voorbrand betrek. Hul twee kantoortjies, eintlik af­skortings van kartonbord, is so klein dat elkeen net een stoel agter en een stoel voor sy lessenaar kon inpas. Die dak laat stof deur en toe Hoogenhout een dag daar opklim om dit skoon te maak, val hy dwarsdeur die plafon tot op die lessenaar. Die dak was egter so laag dat hy nie beseer is nie.

In die oop ingangsportaal is daar plek vir ’n tikster. Die plek word ná ’n hele paar maande ingeneem deur Huberte, wat diens aanvaar as onbetaalde klerk, tikster, telefoniste, sekretaresse en bode. Sy kon net met vier vingers tik. Rupert belas Huberte – “die enigste vroulike wese”, soos sy haarself beskryf – spoedig ook met bestuurstake. Sy bestudeer onder meer die Maatskappyewet om kennis­gewings van direksievergaderings op te stel, briewe aan belanghebbendes uit te stuur en dergelike maatskappyreëlings vir die uitbreidende onderneming te tref.

“Ons het goed saamgewerk, want sien, daar is ’n goeie verstandhouding tus­sen ons. As hy in min woorde ’n ding vir my sê, ken ek die agtergrond so goed dat ek maklik die versoek kan uitvoer. Waar my spoed in tik te kort geskiet het, was die akkuraatheid van gegewens goed,” vertel sy.

In die praktyk was sy inderdaad die latere magtige Rembrandt Groep se eerste maatskappysekretaris.

Langsaan die kantoorruimte was daar ’n vertrek waar ses jong vroue, die eerste werknemers, om ’n blok plaasgeneem en met die hand die tabakhouers vir Voor­brand se enigste produk, pyptabak, van ’n vorm moes maak. Agter was ’n werk­plek met ’n paar masjiene wat hulle van hul insolvente voorganger oorgeneem het, maar hulle het net die kerfmasjien gebruik. As werkvoorman is Carl Lan­genstrass aangestel.

’n Hele ruk gaan dit maar broekskeur met die nuwe onderneming, en kon die weeklikse lone Vrydagmiddae soms net met moeite betaal word. Een staaltjie waaroor Rupert en Hoogenhout hulle later sou verkneukel, maar wat ook illustreer hoe die nuwe onderneming op dun ys beweeg het, is ’n slag vertel in die teenwoor­digheid van Mike Botha, wat ’n lang ruk Rupert se persoonlike assistent was.

By geleentheid moes Hoogenhout die weeklikse loontjek vir £25 by Volkskas se tak in Markstraat gaan wissel. Die bankklerk weier egter om die bedrag uit te betaal, omdat daar nie genoeg geld in die rekening is nie. Hoogenhout verdui­delik dat Voorbrand se vroue Vrydagmiddae vroeër loop en dat die verkoopmanne wat kontant sou inbring, opdrag het om heeldag te werk en Vrydagmiddae eers om vyfuur terugkeer. Die bank bly egter adamant, en Hoogenhout is verplig om dr. Stals, toe ’n direkteur van Volkskas, in Pretoria te bel. Stals deponeer daarop ’n persoonlike tjek in Voorbrand se rekening en bel die Johannesburgse bank­bestuurder om die £25 uit te betaal. Voorbrand kon met sy bedrywighede voortgaan.

’n Ander keer kon Voorbrand nie sy ouditeur, Meyernel, vir sy dienste vergoed nie. Die Pretoriase ouditeur is verplig om die verskuldigde bedrag van £5 af te skryf. Dit is iets wat Rupert nooit vergeet nie. Nadat hy na Stellenbosch verhuis het, bly Meyernel, ’n voorloper van die latere groep PricewaterhouseCoopers, ondanks die afstandsprobleme die ouditeur van die latere uitgebreide Rem­brandt Groep.

Een van Voorbrand se ander probleme was om van snuifblaartabak ontslae te raak. Die joernalis J.J.J. Scholtz, destyds by Die Transvaler en later assistentredak­teur van Die Burger, stel Rupert aan twee Indiërsakemanne voor: Yusuf Ahmed Cachalia, wat ’n tekstielwinkel gehad het, en Donath Desai. Dié twee help Rupert om met die hulp van ander Indiërhandelaars ’n afset vir die snuifblaartabak te vind.

’n Goeie vriendskap ontstaan tussen die Ruperts, die Cachalias en die Desais. Hulle besoek mekaar nie alleen aan huis nie, maar gaan by geleentheid ook saam bioskoop toe. Sowel Cachalia, broer van die aktivis Mauldi Cachalia, ’n leiersfiguur in die Transvaal Indian Congress, as Desai was sterk teen Britse imperialisme gekant en het later ’n prominente rol in die politieke verset teen apart­heid gespeel.

Desai se dogter Zureena, ’n medikus, was in die jare sestig in die nuus vanweë ’n verhouding wat sy met prof. John Blacking, hoogleraar in die sosiale an­tropologie aan Wits, gehad het. Die veiligheidspolisie het na aanleiding daarvan dinge vir die gesin baie moeilik gemaak. Desai klop toe om hulp aan by Rupert, maar hy kon hom nie help nie. Artikel 16 van die destydse Ontugwet, wat verhoudinge oor die kleurgrens verbied het, was in daardie tyd in volle gang en selfs Rupert was onmagtig om iets daaromtrent te doen.8

Huberte Rupert vertel dat hulle dikwels by die Desais aan huis was. Sy meen dat die snuifblaarsukses waarskynlik Voorbrand se voortbestaan verseker het.

Snuiftabak was nie die enigste probleem wat Voorbrand te bowe moes kom nie. Verliese loop ’n paar jaar op; teen 1948 bedra dit sowat £30 000. Dit was “klein verliese as jy vandag daaraan dink – miskien ’n paar minute se reklame, maar dit was verliese”, vertel Rupert agterna.

Sy mededingers, bevoordeel deur bestaande kwotatoekennings wat nie vir nuwe toetreders tot die bedryf beskore was nie, het in die moeilike tye tydens en ná die oorlog vryspel gehad, “maar daar het ek ook geleer”.

Die vernaamste les is dat Voorbrand hoofsaaklik produkte verkoop het wat hy as C-produkte bestempel. Hy onderskei drie klasse produkte: A-produkte beskou hy as beter as sy teenstanders s’n, B-produkte gelykstaande aan en C-produkte swakker as dié van mededingers. Die les wat hy later by sy werknemers in­skerp, is om slegs A-produkte of minstens B+-produkte te loods. Die enigste ander manier is nabootsing of afslagpryse, wat hy afkeur as normaalweg nie ’n opsie vir gehalte-entrepreneurs nie. Sy buitengewone groot klem op gehalte sou ’n op­perste kenmerk van die groep word.

As nuwe tabakfabrikant kon Voorbrand in die oorlogsjare ook wat die pyp­tabak betref, geen permit kry om verpakkingsmateriaal in te voer nie. Mede­din­gers, synde bestaande fabrikante, is egter toegelaat om materiaal in te voer waar­mee hulle na Rupert se mening pragtige pakkies kon maak.

“Ons verpakking was net nooit reg nie. Die ander het ’n plastieksak gehad met ’n binnekant met ’n loodvoering en skuimrubber,” vertel hy.

Uit daardie vroeë leerskool spruit sy latere sorgvuldige en noulettende aan­dag aan verpakking en bemarking, ’n proses waaraan hy soms ure en dae kon be­stee.

Voorbrand registreer verskeie handelsmerke wat Afrikaans en patrioties aan­gedoen het, soos Oom Bart (in die plek van die spotprenttekenaar T.O. Honiball se bekende karikatuur-figuur Oom Kaspaas, waarvoor die Nasionale Pers aanvanklik gebruiksreg weier), Patriot (in die plek van Voorloper), Landdros, Voor­brand, Spoor en Vonk.

Drosdy, ’n pyptabak, word geadverteer as: “’n Unieke ontdekking: tabak in ou wynvate beleë – medium-sterkte.” Die reklame vir Landdros lui: “Die goeie van die verlede verbeter tot dié beste in die hede – medium-sterkte.” Vir Patriot, wat in vier geure verkoop is, is daar vier kleure, geel, blou, rooi en groen.

Los tabak word bemark onder handelsmerke soos Oom Bart (“’n Gewilde, middelmatige sterkte swart en wit mengsel”) en Spoor (“’n Sterk, suiwer ta­bak”). Drie soorte Oom Kaspaas is aangebied: Magaliesberg, Transvaal en Kango. Vir Engelse kopers is daar Stop Press (“extra special edition”), Bandmaster, Care­free en Sunkist Golden Mixture.

Een van die Ruperts se goeie vriende in Johannesburg, die digter W.E.G. (Glad­stone) Louw, gee die jawoord vir ’n reklamespreuk vir die pyptabak: “In ou wyn­vate beleë.”

Louw, wat op 21-jarige leeftyd met die gesogte Hertzogprys vir Poësie be­kroon is, was in daardie stadium ook by die RDB werksaam, in die afdeling vir kuns en kultuur. Hierdie jonger broer van N.P. van Wyk Louw lewer, soos ander in die Ruperts se vriendekring, insette in die nuwe onderneming, wat Drosdy-tabak aanvanklik in ou wynvate berg. Die Ruperts leer Van Wyk Louw ook ken deur middel van Anna Neethling-Pohl, suster van sy tweede vrou, Truida Pohl. Die Rupert- en die Pohl-kinders het almal op Graaff-Reinet grootgeword.

Vriende in die Noorde stel Rupert in die oorlogsjare terwyl hy nog in Jo­han­nesburg was, sonder sy wete voor as lid van die Afrikaner-Broederbond. Ander lede van die AB uit daardie jare is die voorste letterkundiges Dirk Opperman en Van Wyk Louw. Rupert se naam is destyds, soos gebruiklik in die geheime or­ganisasie, in ’n omsendbrief gesirkuleer. Hy word lid nommer 3088.

Dirk Hertzog, ook ’n lid, wys in sy memoires daarop dat die ledetal van die AB in die oorlogsjare, waarin genl. Smuts noodregulasies laat uitvaardig het wat staatsamptenare en onderwysers verbied het om tot die beweging te behoort, slegs ietwat meer as 2 000 was. Afrikaners soos hy was gebelg dat Smuts mede-Afrikaners met aansien weens hul AB-lidmaatskap gedwing het om uit die staats­diens te bedank. Onder hulle was Wennie du Plessis (wat, in ’n ironiese nadraai, Smuts in 1948 in Standerton verslaan het) en prof. Avril Malan (die latere voorsitter van Volkskas, wat volgens Rupert voldoen aan die drie groot B’s wat hy as vereistes vir ’n bankier stel: betroubaar, bestendig en beskaaf).

Rupert is ook een van die 75 afgevaardigdes en sakemanne wat op 24 Au­gustus 1942 in die Vissersaal in Bloemfontein die stigtingskongres van die Afri­kaanse Handelsinstituut bywoon, dus is hy daar as ’n stigterslid.

Die AHI, deel van die opdrag van die Ekonomiese Volkskongres, is onder leiding van die RDB gestig met die doel om die belange van bestaande en opko­men­de Afrikaanse sakelui en entrepreneurs te bevorder.

Die voorsitter van die eerste bestuur is J.G. (Kaalkop) van der Merwe, sakeman en regsgeleerde van Heilbron in die Vrystaat, en M.S. (Tienie) Louw van Sanlam is die eerste ondervoorsitter.9

Rupert word in 1949 lid van die hoofbestuur van die AHI en in 1950 voorsitter van die nywerheidskomitee, maar tree uit toe sy internasionale belange so uit­brei dat dit te veel aandag verg.

Volgens ’n streng geheime en vertroulike omsendbrief van 14 Januarie 1944 in die Rembrandtargief op Stellenbosch het Voorbrand nadat die maatskappy begin 1942 tot die pyptabakbedryf toegetree het, in 1943 sy produksie met 300% laat styg. Teen daardie tyd het die maatskappy 40 geregistreerde handelsmerke, 11 soorte verpakte tabak en 8 soorte los tabak gehad.

In ’n omsendbrief aan “U as kenner van pyptabak”, gedateer 15 Februarie 1943, beklemtoon Rupert aan kliënte dat Voorbrand vir ’n verskeidenheid make voorsiening maak en die gehalte van die verskeie tabaksoorte handhaaf. “Ons fabriek is geheel en al onder beheer van Afrikaners en Afrikaanse kapitaal. Ons tabak word deur Afrikanerhande bewerk en verpak in sierlik ontwerpte pakkies,” gaan hy voort, en nooi verbruikers om hul bestellings regstreeks van die fabriek in enige hoeveelheid teen kleinhandelspryse te bestel.

In direksienotules word egter opgemerk dat sentiment nie die gewenste uit­wer­king op Afrikaanse kopers het nie. “Deels weens vroeë teleurstellings van mislukte besighede en grotendeels weens ’n gevoel van minderwaardigheid ag die Afrikaanse publiek hul eie goed nie goed genoeg nie.” Dit is bewys deur Veka se handelsmerk Ossewa en Kopersbond se Kobo. Afrikaners verkies Ambas­sa­dor-hemde bo Kobo-hemde hoewel dit deur presies dieselfde fabriek gemaak is. “Ook word die naam van ‘duur’ vry algemeen aan Afrikaanse besighede uitgedeel,” lui die notule.

Klaarblyklik om hierdie redes word begin om produkte met Engelse name te vervaardig, terwyl pogings eweneens vroeg reeds aangewend word om die mark vir swart mense en Indiërs te betree.

Rupert stel in die begin van 1943 vir Voorbrand se direksie ’n omvattende verslag oor die tabakbedryf saam. Daaruit blyk sy wetenskaplike agtergrond dui­de­lik. Hy ontleed onder meer die soorte tabak, droogmaakmetodes van die tabak­blaar en die byvoeging van geursels, stroopmengsels en preserveermiddels.

In daardie stadium was daar 14 000 tabakboere in Suid-Afrika, almal lid van een of ander tabakkoöperasie, en ongeveer 50 tabakfabrieke, wie se produkte hy almal tabuleer. Aangesien die Tabakbeheerraad in daardie stadium voorraad aan fabrikante op grond van die vorige jaar se produksiesyfer toeken, kom Rupert tot die logiese gevolgtrekking dat enige nuwe fabriek slegs geleidelik en baie stadig kon uitbrei.

Voorbrand is gekortwiek deurdat hy nie sigarette mog vervaardig nie, maar Rupert beveel toe reeds aan dat sigarettabak met die oog op “die grootheid en omvang van die sigaretbedryf” behou en bewaar word. Die oorlogstydse be­per­kings op sigaretvervaardiging was nogtans ’n opperste beletsel vir uitbreiding, sodanig dat sekere direkteure geneë was om uit te verkoop.

Verdere probleme volgens die verslag is die tekort aan petrol vir Voorbrand se handelsreisigers, aangesien die hoofpetrolkontroleur in die oorlogsjare geweier het om enige petrol aan nuwe reisigers toe te staan. Verkryging van voorraad ver­oorsaak eweneens moeilikhede, want die maatskappy kry ook te doen met an­der kontroleurs, naamlik die kontroleurs van papier, van voertuie, van rubber, van sakke en van nywerheidschemikalieë. Op die koop toe is Voorbrand weens die tekort aan vuurhoutjies “die verdere slagoffer aangesien ons nie vuurhoutjies saam met die tabak kan lewer nie”.

Rupert wys in sy verslag op die dominante posisie van UTC en die greep wat dié maatskappy op groot- en kleinhandelaars asook op reklame en advertensie­ruimte kon uitoefen.

“Weens die natuurlike traagheid van die mens om verandering te maak, is dit heel duidelik dat reklame en aanhoudende reklame die enigste middel tot sukses is. Advertensie is trouens ’n essensiële uitgawe in die werwing van nuwe kliënte en dien ook om die handelaar aan te moedig en die reisiger selfvertroue te gee.”

Hy stel ’n reeks aksies voor, waaronder kontak van verteenwoordigers met sleu­telpersone in hul omgewing, plakkate, kalenders, rolprent- en persadver­ten­sies, kompetisies, pryslyste en persoonlike skrywes en omsendbriewe.10

Reeds in 1943, skaars ’n jaar ná Voorbrand se ontstaan, sien Rupert dus in dat reklame en advertensies een van die fondamente moet wees van welslae. Dit word die begin van die gesofistikeerde reklame- en bemarkingsbenadering waar­mee hy mettertyd ’n internasionale reputasie opbou.

Op 4 Desember 1944 word die Voorbrand Tabakmaatskappy se derde algemene jaarvergadering gehou. Dit is in hierdie jaar dat Voorbrand ’n publieke maatskappy word. Die kapitaal word van £25 000 tot £50 000 vermeerder. Aandele ten be­drae van £36 980 is uitgereik.

Rook is destyds, soos ook later, deur die staat as ’n weelde en luukse gesien. Aksynsbelasting was hoog en het winsgewendheid benadeel, terwyl die rege­ring in die oorlogsjare met kwotas en invoerbeperkings bestaande vervaardigers ui­termate bevoordeel het. Half moedeloos wonder Rupert en sy vriende op die jaar­vergadering: “Watter hoop, wil ’n mens vra, is daar vir jong nywerheidsonder­nemings om onder sulke omstandighede op die been te kom?” En hulle verskaf met volgehoue idealisme self die antwoord: “. . . ons glo in ons toekoms, en ons sal oorwin.”

’n Kwarteeu later kyk hy op die 21ste verjaardagviering van Rembrandt op 4 Junie 1969 in die Paarl terug na die begindae van Voorbrand: “As ’n mens, soos ek veertien dae gelede, die geleentheid gehad het om te kyk hoe lyk die wêreld vanaf 200 000 myl op ’n televisiestel teruggesend, dan besef jy eers hoe werklik nietig die mens is. Maar kyk, dit was altyd ons wete . . . dis baie eenvoudig en ek probeer om dit vir my kinders te leer: as julle by Hermanus loop en julle sien daar myle en myle van sand, dan is die mens niks meer as ’n sandkorreltjie nie. En as jy nou gekyk het van 200 000 myl en dis ’n niks, ’n oogwink in die heelal, lyk die wêreld soos ’n tennisbal. Maar onthou altyd, die ander man is ook niks meer as ’n sandkorreltjie nie. Dan kan jy nooit verwaand wees nie. Jy is nederig, maar jy kan tog nooit ’n gebrek aan selfvertroue hê nie. Ek neem nou die basiese konsepsie, wat ons klein groepie mense wat begin het en dié wat hier sit, gedra het tot die feit dat ons vandag een van die grootste groepe in die wêreld is. Jy is niks, maar die ander manne nie meer nie.”

Tabak is inderdaad ’n produk wat die latere Rembrandt Groep deur dik en dun sou dra. Dit het daartoe bygedra dat terugslae as geleenthede aangegryp kon word – ’n deurlopende filosofie van Rupert, wat dikwels daarop gewys het dat die Chinese woord vir “krisis” uit twee simbole bestaan: die een beteken “ramp”, die ander “geleentheid”.

“As ons die ramp wil vermy, moet ons die geleentheid met alle mag aangryp,” sê hy op 24 Februarie 1967 toe hy die landbou-en-nywerheidstentoonstelling in Port Elizabeth open.

’n Vroeë voorbeeld van hoe hy ’n terugslag as ’n geleentheid aangegryp het, kom voor toe FVB teen die einde van 1942 aan die toekoms van die tabakmaat­skappy begin twyfel. Die ironiese gevolg is ’n volgende verreikende inisiatief, ’n vernuftige uitweg wat deur Rupert bedink is: om met ’n nuwe beleggingsmaat­skappy te begin wat deur aandeleverkope sy kapitaalbasis kon versterk.

Die vindingrykheid wat hy meermale in sy sakeloopbaan aan die dag lê, lei tot die stigting van ’n aanvanklike klein beleggingsmaatskappy, Tegniese en In­dus­triële Beleggings Beperk.

Hertzog som die situasie so op: “Intussen word dr. Rupert bestuurder van ’n pyptabakfabriek en toe kom die dag dat ’n maatskappy vir ons sê: ‘Kyk, ons wil weet of julle ’n koper kan vind vir ons aandele, ons sien geen toekoms in hierdie bedryf nie, en as julle nie kan nie, gaan ons die aandele opsit vir tender.’ En toe besluit ons, ons gaan nou maar die droogskoonmakery verkoop en hulle aandele koop. Tegniese Beleggings begin met die droogskoonmakery se geld daar­in. Toe kom ek, kort nadat ek begin het, op Voorbrand se raad.”11

Rupert spring self in om Tegniese Beleggings se aandele te verkoop. ’n Keer­punt op pad na die eerste £5 000 word bereik toe dr. P.C. du Toit, ’n geneesheer van Boshof in die Vrystaat wat ’n vriend van Oupa Kriel was, ’n mooi klompie aan­dele by hom koop. FVB se 2 000 aandele in Voorbrand kon gevolglik vroeg in 1943 teruggekoop word, ook danksy die wins wat uit die verkoop van Che­miese Reinigers gemaak is, en daardeur word beheer verseker. Toe FVB jare later ontbind is, was daardie 2 000 aandele meer werd as al sy bates.

Die belang van Kopersbond is intussen ook deur Rupert-hulle teruggekoop. En danksy die welwillendheid van Voorbrand se direksie is Rupert toegelaat om aandele in Tegniese Beleggings te plaas.

Met die stigting van Tegniese Beleggings kom die eerste tekens na vore dat Rupert aan die beweeg is. Die beleggingsmaatskappy lê die fondament vir een van die skouspelagtigste uitbreidings in die Suid-Afrikaanse nywerheidswese, die Huis van Rembrandt.

Anton Rupert: 'n lewensverhaal

Подняться наверх