Читать книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse - Страница 8

Оглавление

Hoofstuk 3

Op skool in die Karoo

Anton Rupert is die oudste van drie seuns. Hy heet na sy oupa aan vaders­kant, Anthony Edward, maar is op universiteit tot Anton vernoem nadat hy in sy jeugjare Boetie genoem is. Hy is op 4 Oktober 1916 gebore en sy twee broers is heelwat jonger as hy. Jan (gedoop John Peter) en Koos (gedoop Jacobus Albertus) is in onderskeidelik 1922 en 1929 gebore. Albei sou hom mettertyd na die Rembrandt Groep volg; albei op 24-jarige leeftyd. Die drie broers in die tabakhandel word vergelyk met die drie broers Reemtsma in Duitsland en die drie broers Reynolds in Amerika, wat in daardie lande onderskeidelik die grootste sigaretfabrieke opgebou het. Die broers Rupert het nog iets gemeen: Hulle het aanvanklik in hul vader se voet­spore gevolg deur almal in die regte te studeer, maar nie in die praktyk ge­tree nie.

Hul vader, alombekend as Oom John, was ’n gesiene gemeenskapsleier op Graaff-Reinet. Hy moes in die moeilike jare tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), toe krygswet in die Kaapkolonie gegeld het en baie Afrikaners, hoewel Britse onderdane, so erg soos hul noordelike taalgenote en bloedverwante in die republieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat verarm is, uitspring en gaan werk. Hy is daarna terug skool toe en het in 1909 aan die Graaff-Reinet Kollege klaar­gemaak.

Nadat hy op dié dorp sy ingeskrewe klerkskap by C.H. Maasdorp voltooi het, gaan hy aanvanklik elders werk, onder meer op Kimberley, Mosselbaai en Prins Albert, waar in die bloeitydperk van die volstruisveerbedryf altesame sewentien prokureurs was. Die firma Theunissen & Louw op Prins Albert bied hom ’n vennootskap aan, maar hy kry snuf in die neus dat alles nie pluis is nie en wys die aanbod van die hand. ’n Hofsaak daarna teen twee vennote bewys hom reg. Hy bly daarna altyd wantrouig oor ’n vennootskap – in teenstelling met sy suksesvolle seun se vertroue in en welslae met die filosofie van deelgenootskap – en begin sy eie prokureurspraktyk op Graaff-Reinet.

John Rupert stel aktief belang in die onderwys van die jeug en kinderwelsyn. In sy tyd as voorsitter van die Kinderwelsynvereniging is die sekretaresse die dorp se maatskaplike werker, Tini Malan, wat met John Vorster getrou het voordat hy in die oorlogsjare geïnterneer is en in 1966 eerste minister van Suid-Afrika geword het.

’n Ander latere eerste minister met wie John Rupert vroeg te doen kry, is J.G. (Hans) Strijdom, wat op die nabygeleë Willowmore grootgeword het. Strijdom se oom het hom nadat hy sy regstudie op Stellenbosch voltooi het, na Graaff-Reinet gebring om die moontlikheid van ’n klerkskap in Rupert se praktyk te bespreek. Rupert meen egter dat Graaff-Reinet se moontlikhede te beperk is en raai hom aan om sy geluk in Transvaal te beproef. Strijdom aanvaar klaarblyklik die raad en vertrek na Pretoria, van waar hy na Nylstroom verhuis en bekend word as die Leeu van die Noorde.

Jare daarna, voordat Strijdom die premierskap oorgeneem het, besoek hy Anton Rupert op Stellenbosch. Strijdom, in die jare vyftig Transvaalse leier van die Na­sionale Party, wou van dr. D.F. Malan, toe aan die hoof van die regering, wegbreek omdat hy oor die koms van ’n republiek met hom verskil het. Rupert stap twee keer saam met die vurige Strijdom om sy huis en oortuig hom dat hy ge­duldig moet wees; sy kans as leier sal kom. Strijdom neem daarna wel oor by Malan, maar word siek en sterf in die tuig.

John Rupert is ook die sekretaris en sy vrou ’n bestuurslid van die Hollandse Letterkundige en Toneel Vereniging op Graaff-Reinet, waarvan die ondervoorsitter dr. B.B. Keet is – die teoloog Bennie Keet wat aan die Stellenbosse Kweek­skool bekendheid met sy afwysing van apartheid verwerf. Hierdie drietal se name word vermeld in ’n brosjure oor ’n tentoonstelling van “oud- en aardighede” wat op 31 Augustus 1918 op die dorp gehou is. Verskeie inwoners het vir die tentoonstel­ling bydraes van antieke meubels en gebruiksware en ander besittings gelewer. Anton se latere belangstelling in oudhede is waarskynlik vroeg reeds geprikkel.

John Rupert raak ook in die politiek bedrywig as sekretaris van die eerste tak van die Nasionale Party wat ná genl. J.B.M. Hertzog se opsienbarende De Wildt-toespraak van 7 Desember 1912 op die dorp gestig is. Hertzog het algaande al hoe sterker met genls. Louis Botha en Jan Smuts se konsiliasiepolitiek en hul sie­nings van die taalkwessie verskil. Wanneer imperialisme in botsing met die be­lange van Suid-Afrika kom, is hy ’n “besliste teenstander” daarvan en stel hy Suid-Afrika eerste, verklaar hy. As gevolg van sy onwrikbare standpunt laat Botha hom uit die eerste Uniekabinet weg en stig Hertzog, die Vrystaatse regter en oorlogsheld, ’n nuwe party, die Nasionale Party. In 1913 veroorsaak Hertzog, wat Suid-Afrika se langs dienende eerste minister sou word, op ’n Stellenbosse taal­fees ’n opskudding toe hy ’n telegram van oudpres. M.T. Steyn, ’n reusefiguur in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, voorlees waarin aangehaal word: “Die taal van die veroweraar in die mond van die verowerde is die taal van slawe.”

Die NP groei tot die sterkste party op Graaff-Reinet namate ondersteuners van Botha en Smuts se Suid-Afrikaanse Party na die nuwe party oorloop. John Rupert se vrou, Hester, word die voorsitter van die vrouetak van die party, wat in 1924 die bewind sou oorneem.

John Rupert se stokperdjies is die digkuns en bestudering van tale; hy kon nege tale lees. Hy begin op 70-jarige leeftyd Frans studeer en kon spoedig klassieke werke daarin lees. Hy het egter nooit in die buiteland gereis nie, en kon in sy stu­diejare ook nie ’n studiebeurs na Nederland benut nie.

Hy tree op in verskeie druk bespreekte hofsake, waarvan sommige uit die Re­bellie van 1914 tydens die Eerste Wêreldoorlog gespruit het.

So verskyn hy vir twee koerantredakteurs, onderskeidelik van sy tuisdorp se Onze Courant en Aberdeen se Nuwe Tijd, toe hulle aangekla word van sedisie weens berigte oor genl. Manie Maritz, wat met sy troepe na die Duitsers oorge­loop het. Die klagtes van sedisie, strafbaar met die dood, is teruggetrek. Hy ver­de­dig nog ’n keer Onze Courant se redakteur, J.A. (Sambok) Smith, later ’n leiersfiguur in die Ossewa-Brandwag, toe ’n saak teen die koerant aanhangig gemaak word weens ’n berig dat die Britse lugmag bomme op stede van ’n neutrale land gegooi het. Die berig blyk waar te wees en ook hierdie aanklag word teruggetrek.

Rupert tree ook meermale op vir gekleurdes van die omgewing in hofsake, by geleentheid pro bono – in ’n tyd toe so iets in konserwatiewe wit gemeenskappe soos dié op Graaff-Reinet skepties bejeën is. Bruin mense van die dorp het graag na hom as die Groot Seur verwys; later het sy seun Anton die Klein Seur geheet.

Onder sy goeie vriende en kliënte tel ook die NG pastoriepaar, ds. Jozua Francois Naudé, medestigter van die Afri­kaner-Broederbond (AB), die geheime organisasie wat as teenvoeter vir die Vry­messelaars en Sons of England gestig is om Afrikanerbelange te bevorder, en mev. Ada Naudé. Die egpaar was die ouers van die latere anti-apartheidstryder dr. C.F.B. (Beyers) Naudé en dogters genaamd Ligstraal, Hymne en Vryheidster. Beyers Naudé is genoem na kmdt. genl. Christiaan Frederick Beyers, die Boeregeneraal onder wie sy vader in die Anglo-Boereoorlog geveg het en wat in die Rebellie van 1914 in die Vaal­rivier verdrink het.

Ds. Naudé, eerste president van die AB, was ook die voorsitter van die beheer­raad van die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet, die eerste Afrikaansmedium-hoër­skool in Kaapland. John Rupert was medestigter en 21 jaar lank eresekretaris van die beheerraad van die skool, waar Anton sou matrikuleer. Hy verset hom in een stadium manalleen, en suksesvol, daarteen dat Latyn, wat hy as ’n noodsaaklike fondament vir taalonderrig beskou, aan die skool afgeskaf word.

Reeds in 1922, ’n jaar voordat Boetie Rupert begin skoolgaan, betrek die Hoër Volkskool – met as leuse Ons Sal Handhaaf – die statige gebou van die Mid­lands Seminary. Die hoof, dr. G. von W. Eybers, wat sy doktorsgraad in Londen verwerf het, voel sterk oor moedertaalonderrig. Hy begin al in 1919 in Afrikaans pleks van Nederlands klas gee. Dit ontketen ’n opvoedkundige taalstryd op die dorp wat lei tot die stigting van die Union High School, ’n Engelsmedium-kosskool wat die Springbokvleuel Chum Ochse onder sy oudleerlinge tel.1

Kerklike verdeeldheid ontstaan ook oor die taalkwessie nadat ds. Naudé, een van die ses Bittereinders wat aan die einde van die Anglo-Boereoorlog by die Vrede van Vereeniging geweier het om die akte van oorgawe te onderteken, as nuwe NG leraar sy intreepreek in 1921 in Afrikaans lewer. Beswaardes, onder wie heelparty wat Nederlands as die geskikte taal vir die kerkdiens beskou, pro­testeer heftig teen die gebruik van “Kitchen Dutch” in die Groot Kerk van die Murrays. Een Sondag speel die orreliste, Amy Asher (gebore Murray), selfs ná die erediens “God save the king” op die orrel van die indrukwekkende Gotiese kerkgebou. Die NG gemeente skeur oplaas en die Nuwe Kerk word afgestig.

Anton Rupert se eggenote, Huberte, vertel in ’n onderhoud dat haar skoonvader tydens ’n aanrandingsaak waarin hy vir die eggenote van ’n vriend op­ge-­tree het, kliënte verloor het, want mense het hom kwalik geneem dat hy haar verdediging help behartig het – ’n voor­teken van die lojaliteitsbeginsel wat in die latere sakeman se loopbaan so swaar sou weeg.

Toe Anton se pa in 1961 sterf, “het Anton gedink hy gaan vir Beyers Naudé vra om sy pa te begrawe,” sê Huberte. Dr. Naudé het ingewillig en die be­graf­nis­diens van die 73-jarige John Peter Rupert in die Groot Kerk op Graaff-Reinet gelei. Dr. Naudé, toe leraar van die NG gemeente Aasvoëlkop in Johannesburg, het van die kansel vertel dat hy as kind dikwels boodskappe van sy vader se pas­torie na die oorledene moes neem en dat hy deur sy “opregte beskeidenheid, ware volksliefde, ruimheid van visie en sin vir regverdigheid” getref is.

John Rupert ontmoet sy eggenote, Hester Adriana van Eeden, van wie hy ’n broer geken het, op die trein van Port Elizabeth na Klipplaat, ’n spoorweghalte naby haar vader se plaas in die distrik Jansenville. Hulle trou in Desember 1915, en ’n jaar later word Anton in hul kliphuis in Cradockstraat 110 op Graaff-Reinet gebore. Die oorspronklike geboortehuis bestaan nie meer nie; die tennisbane van die Laer Volkskool is daar gebou. Die gesin verhuis mettertyd na Cradockstraat 84, waar hulle regoor dr. Karl Bremer, later minister van gesondheid in die Malanregering, woon.

Anton Rupert se geboorte val midde-in die Eerste Wêreldoorlog, wat op 4 Au­­gustus 1914 uitgebreek het. Teen daardie tyd was die groter eensgesindheid in Suid-Afrika ná Uniewording in 1910 ook verby, en die land weer eens verdeeld oor Botha en Smuts se besluit om Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibië) binne te val en dus aan die kant van die gehate Britse empire te veg.

’n Rebellie breek uit nadat genl. Manie Maritz hom by die Duitse magte aan­gesluit het. Hoewel die Rebellie van 1914 gestuit word, neem verset teen Botha en

Smuts se konsiliasiepolitiek toe, veral nadat Hertzog met sy toespraak op De Wildt die meesleurende beleid Suid-Afrika Eerste verkondig het. Op die koop toe haal Smuts se teregstelling van die rebelleleier Jopie Fourie hom bittere verwyte op die hals wat hom sy lewe lank sou agtervolg.

’n Vername gevolg van die Rebellie is die stigting van die Helpme­kaar­ver­­eni­ging om rebelle uit geldelike moeilikheid te help weens boetes wat aan hulle op­gelê en skadevergoeding wat van hulle geëis is, juis terwyl die arm­blanke­pro­bleem ná die Anglo-Boereoorlog steeds vererger het. Voortspruitend uit die Helpmekaar se eerste insamelingsveldtog, wat spoedig ’n kwartmiljoen pond op­gelewer het, is op 22 November 1916 op Cradock, buurdorp van Graaff-Reinet, ’n volkskongres oor armoede belê – dus in die jaar dat Anton gebore is. Dit blyk dat daar 105 518 hulpbehoewendes is, van wie 39 021 “dood armen” en dat van die land se 280 000 kinders ’n kwart, 72 000, nie op skool is nie.

Hoewel die kongres weinig vermag het om die verarming te stuit, word die Help­mekaarbeweging een van die heel belangrikste lanseerplatforms om Afri­kaners se ekonomiese selfstandigwording aan te vuur. Uit die monstering van Afrikanerkapitaal tydens die Eerste Wêreldoorlog spruit ook die stigting van som­mige groot Afrikanerondernemings wat suksesverhale geword het, by uitstek die mediamaatskappy Nasionale Pers (later Naspers) in 1915 en die versekerings­reuse Sanlam en Santam daarna in die loop van 1918, ook die stigtingsjaar van die Koöperatiewe Wijnbouwersvereniging van Zuid-Afrika Beperkt (die KWV). Van hierdie ondernemings sou in Anton Rupert se lewe ’n rol speel, terwyl hy ook later by die Helpmekaar Studiefonds betrek is.

Een van die groot dryfkragte agter die Helpmekaarvereniging was ds. J.D. Kestell, wat ook mettertyd ’n deurslaggewende invloed in die jong Rupert se lewe sou uitoefen. Kestell het die begrafnisdiens gelei van oudpres. Steyn, wat aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe is nadat hy in sy laaste toespraak op sy sterfdag op 28 November 1916 in die Gedenksaal van Bloemfontein gesê het: “Die Helpmekaar is uit God gebore.”

In Anton Rupert se jeugjare op Graaff-Reinet woon verskeie bruin mense, des­tyds stemgeregtig, op die taamlik kosmopolitiese dorp; in Cradockstraat was daar 25 huise van gekleurdes. Die verwydering van gekleurdes uit middedorpe van plekke soos Graaff-Reinet en Stellenbosch ingevolge die Groepsgebiedewet sou vir hom een van die groot dwaashede van die NP bly.

Sy moeder, mev. Hester Rupert, een van tien kinders, was ’n sorgsame, lieftallige vrou wat “die familie bymekaargehou” en ’n groot invloed op Anton gehad het. Hy het meermale lewensriglyne aangehaal wat hy van haar ontvang het, soos: “Wat help dit om die wêreld te oorwin en jou siel te verloor?” En: “Werp jou brood op die water, en na vele dae sal dit na jou terugkeer.”

Sy moeder het volgens alle verslae baie vir haar medemens omgegee, en op haar begrafnis in 1944 kom ’n bruin vrou na haar skoondogter Huberte Rupert en sê dat sy “baie vir ons mense gegee het”.

Ná dr. D.F. Malan se vertrek uit Graaff-Reinet word mev. Hester Rupert in 1915 die sekretaresse van die vereniging Jong Zuid-Afrika. Die vereniging, aanvanklik genoem Zonen van Zuid-Afrika omdat dit as teenvoeter vir die Sons of England ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse patriotisme wou bevorder, het sy naam in 1912 verander toe vroue ook toegelaat is. Die doelstellings is tweërlei: eerstens die aankweking en versterking van ’n nasionale gees en ’n liefde vir die vaderland en die geskiedenis, en tweedens die handhawing en ondersteuning van die Hollandse taal en die bevordering van die stoflike en geestelike belange van die volk. Jong Zuid-Afrika se bestuur het mettertyd kant gekies teen die des­tydse premier, Louis Botha, en almal het ondersteuners van Hertzog en die NP geword.

Mev. Rupert se vader, mnr. Jacobus Albertus (Oom Kootjie) van Eeden, ’n Kaapse patriot en ’n medestigter van die Afrikanerbond van J.H. (Onze Jan) Hof­meyr, die eerste politieke party in die land, het eweneens ’n groot invloed op sy kleinseun Anton uitgeoefen. Tot sy dood op 84-jarige leeftyd het hierdie oupa aan moederskant, ’n suksesvolle boer wat op sy plaas, Gannavlakte, 500 morge land­bougrond onder besproeiing gehad het, dikwels met sy kleinseun landsake be­spreek.

Oom Kootjie, wat soos sy dogter Hester ook in 1944 oorlede is, is ’n afstammeling van een van die oudste Nederlandse families in Suid-Afrika. Die stamvader van die Van Eedens, Jan Janse van Eeden (Jan van Oldenburg), het in 1662 in Suid-Afrika aangeland en mettertyd op die plaas Kromme Rivier (waarvan die latere Bergzicht ’n deel was) by Stellenbosch geboer. Van moederskant is Anton Rupert ’n Suid-Afrikaner uit die negende geslag.

Oom Kootjie het ’n veelbewoë geskiedenis gehad. Hy beskryf dit in ’n geskrif wat hy nagelaat het, en wat hy afsluit: “Wat ’n lewe van moeite, sorg en kommer – dit is maar als ’n droom.”

Sy vader is op Somerset-Oos oorlede toe hy nege jaar oud was, en hy en sy sus­ter was vaderloos. Hy word toe, soos hy dit in die geskrif stel, “as wild en on­tembaar van natuur aan ’n ryk boer, ene C. Buys, as ingeboekte gegee”. Hy moet daar met drie ander seuns hout kap om stene vir ’n waterleivoor te brand. “Waar­lyk dit alles laat ’n mens dink aan die Israeliete by Farao in Egipte,” merk hy op.

Hy moet ook ’n plaasskool bywoon voordat hy ná vyf jaar teruggaan na sy moeder, wat intussen met ’n gegoede boer van Jansenville, C.J. Grobler, getroud is. Op die plaas word hy ingespan as bokwagter, maar hy loop weg om in die grensoorlog te gaan veg. Nadat hy gewond is, word hy transportryer totdat hy in die huwelik tree met Anna Gertruida Lötter, ook ’n weeskind. Hulle koop vee met spaargeld wat hy verdien het, en hy gaan ’n paar gewaagde spekulasies met grond aan wat hom “’n groot stoot” gegee het.

Ná 14 jaar koop hy Gannavlakte, ’n plaas aan die Sondagsrivier in die distrik Jansenville, vir £3 250 aan. In teenstelling met die latere waternood in die dorre Karoo kon destyds volop water vir besproeiing uit die rivier gepomp word. Dit stel hom in staat om ’n groot boerdery te behartig. Op die plaas was daar volgens sy oudste kleinseun, dr. O.R. (Boy) van Eeden, destydse hoof van Geo­lo­giese Op­names in Pretoria en ’n neef van Anton, ’n vrugteboord en wingerde, ’n smids­winkel, ’n brandewynstokery, ’n koringmeul, skaaptroppe en volstruise, waarvan die vere in die begin van die twintigste eeu hemelhoë pryse opgelewer het.

Sedert 1884 neem Oom Kootjie aktief aan die politiek deel, onder meer 22 jaar as voorsitter van die distriksbestuur van die Afrikanerbond, en hy is ook assistentveldkornet, voorsitter van die skoolkomitee, ouderling in die kerkraad en lid van die runderpes- en die brandsiektekomitee.

Hy word in die Anglo-Boereoorlog, waarin sy simpatie sterk aan Boerekant lê, ’n ruk op Port Alfred geïnterneer. Dit gebeur terwyl die oorlog teen die Brits-im­pe­riale oormag teen die einde in groot mate in Kaapland woed as gevolg van invalle uit die Boererepublieke Transvaal en die Vrystaat.

Sy twee oudste seuns, Frederick (Frik) en Francois (Soois) – ouer broers van mev. Hester Rupert – het hulle op 7 Maart 1901 as jong seuns by die verby­trek­kende Boerekommando van kmdt. Willem Fouché aangesluit. Ná ontberings op kommando het hulle hulle aan die Engelse kolonne oorgegee. As Kaapse rebel is die 17-jarige Soois op Graaff-Reinet deur ’n krygshof skuldig bevind aan hoog­verraad, strafbaar met die dood, maar hy is deur lord Kitchener begenadig en tot ’n jaar tronkstraf gevonnis. Die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 bevoor­deel hom, want ná net ses maande in die tronk op Grahamstad word ’n vry spoor­wegpas op 26 September 1902 aan hom uitgereik en kon hy huis toe gaan.

Die jongste seun van die Van Eedens, hul vierde seun, is op 27 Maart 1901 ge­bore. In die naweë van die oorlog wat uiteindelik as die begin van die einde van Britse imperialisme beskou sou word, word hy met die enkele naam Smartryk gedoop. Sy naam verwoord die emosies van duisende Afrikaners, ook in die Kaap­kolonie, wat gely en in armlastigheid verval het as gevolg van die konflik. Vir sulke Afrikaners, ook in Oos-Kaapland, was die oorlog ’n ramp. Honderde het op die rand van hongersnood gestaan. Boonop het die Britse regering se ka­rige aanbod van £3 miljoen skadevergoeding aan die einde van die oorlog ver­dere bitterheid veroorsaak. Louis Botha, die eerste premier ná Uniewording in 1910, wat ’n aanbod van £900 vergoeding vir £20 000 se oorlogskade ontvang het, het die tjek teruggestuur.

Oom Kootjie, hoewel sonder veel boekgeleerdheid, is as ’n leier en raadgewer in die gemeenskap aanvaar. Hy en die predikant van Jansenville het meermale die sportbyeenkomste toegespreek wat ná Uniewording in 1910 jaarliks op Unie­dag, 31 Mei, op die plaas De Toekomst van ’n welgestelde boer, mnr. P. Weyer, gehou is. Wyse woorde van Oom Kootjie, aanduidend van die kaliber van ’n oupa wat Anton Rupert in sy vormingsjare leer respekteer het, word soos volg in ’n koerantberig aangehaal: “. . . the common fault on the sportsground, as well as in life, is to look at the man who is behind you. If we could keep the man in view who is ahead of us and make it our object to catch up with him the number of poor people would certainly decrease.”2

Nog ’n groot invloed op die jeugdige Boetie Rupert is uitgeoefen deur die verhaal van die Boereheld Gideon Scheepers, wat in die Anglo-Boereoorlog op 23-jarige leeftyd op Graaff-Reinet deur die Britse magte gefusilleer is.

Kmdt. Scheepers, van wie ’n standbeeld en ’n gedenksteen op die dorp staan, was ’n baasverkenner wat ’n skouspelagtig suksesvolle guerrilla-inval in die Kaap­kolonie gelei het voordat hy gevang is – volgens sommige hardnekkige bewe­rings nadat ’n verraaier hom as die Boere se befaamde Scarlet Pimpernel ver­gif­tig het, volgens ander rapporte nadat hy blindedermontsteking opgedoen het.

Anton Rupert oordeel self dat die verhaal van Scheepers soos sy vader dit aan hom vertel het, sy hele lewe verander het. Sy vader was as 13-jarige seun teenwoordig by die uitspraak van die Britse krygshof op Kerkplein op Graaff-Reinet.

Die vervolging van Scheepers was ’n skouverhoor wat Kaapse republikeinsgesindes ’n les moes leer – juis terwyl die oorlog Brittanje in Rudyard Kipling se frase “no end of a lesson” geleer het. Die Britse offisiere het Scheepers, wat heelparty Kaapse rebelle oorreed het om hulle by die Boeremagte aan te sluit en self getuig het dat hy sowat 1 300 Britte krygsgevange geneem het, ná aggressiewe vervolging aan dertig beweerde oorlogsmisdade skuldig bevind en ter dood ver­oordeel. Die vonnisse en teregstellings moes op bevel van genl.maj. John French in die openbaar plaasvind. Geblinddoek en sittende op ’n stoel is Scheepers die volgende dag, 17 Januarie 1902, op sy moeder se verjaardag, deur ’n vuurpeloton van die Coldstream Guards tereggestel. Ongebluste kalk is oor sy lyk in die graf by die toneel gegooi, maar sy oorskot is vermoedelik dieselfde nag verwyder om herbegrawe te word en het spoorloos verdwyn.

Hy was een van agt mense wat op Graaff-Reinet tereggestel is terwyl die meeste dorpe in oorlogstyd in die Kaapkolonie onder die fel omstrede krygswet en mili­têre sensuur was. Soos die konsentrasiekampe, wat die lewens van 28 000 vroue en kinders geëis het, en die Britse opperbevelhebber, lord Kitchener, se beleid van “verskroeide aarde”, waardeur honderde plaashuise afgebrand en veetroppe ver­nietig is, het die teregstellings van Kaapse rebelle en Boerekrygers bittere verset uitgelok. Sowat veertig rebelle het in die Kaapkolonie so hul lewe verloor, skrei­ende teregstellings wat die inspirasie vir die digter-dokter Louis Leipoldt se pro­tesgedig “Oom Gert vertel” was. Soos elders het die teregstellings die gevoelens van republikeinsgesindes op die verdeelde dorp erg laat verhard.

Op die nabygeleë Oudtshoorn het die onregverdige skynverhore van krygsgevangenes die skrywer C.J. Langenhoven, aanvanklik ’n anglofiel wat destyds as regsgeleerde die sake van Kaapse rebelle behartig het, so gekrenk dat hy hom aan die militêre howe onttrek het. Hy het ook as aanvanklike voorstander van Engels as amptelike taal omgeswaai tot een van die vernaamste Afrikaanse taal­stryders en skrywer van die volkslied “Die stem van Suid-Afrika”.

Die martelaarsgeskiedenis van Scheepers, geen Kaapse rebel nie maar ’n Oos-Transvaler wat ’n bevelvoerder van die Vrystaatse Staatsartillerie was, word een van die treurigstes uit ’n oorlog wat ’n blywende letsel op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelaat het. Sy graf is nooit gevind nie.

Sy moeder se jare lange soektog na sy stoflike oorskot is nooit beloon nie, en op haar honderdste verjaardag in 1956 sê sy dat sy nie vergeet nie, maar ver­gewe: “Laat ons eerder in liefde en vrede lewe as een onverdeelde volk.”3

Scheepers het ’n legende in Suid-Afrika geword; onder meer is drie gedigte oor hom geskryf. In sy aangrypende “Gebed om die gebeente” weerspieël Dirk Op­per­man die aanroeping van die treurende moeder van Scheepers, ’n kranige heliografis:

Seën, Here, al die bleek gebeente van die stryd (. . .)

(. . .) dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas

met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,

en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas

ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.

Digterlik het Opperman, ’n goeie vriend van die Ruperts, hier ook die idee van saambestaan vasgevang, wat as ’n leitmotiv deur die hele loopbaan van Anton Rupert sou strek nadat hy op vroeë leeftyd reeds begeester is deur die legende van Scheepers – hy wat, in Opperman se woorde, “leef in hierdie land nou ewig en altyd!”

As jong seun maak Boetie Rupert ook kennis met ander Boerehelde. Een van hulle is kaptein Henri Slegtkamp, wat saam met die Skot Jack Hindon lid van Danie Theron se Verkennerskorps was. Op besoek aan Graaff-Reinet boei Slegt­kamp, ’n uitmuntende raconteur, die jong Rupert met sy verhale van die Boere­oorlog. Hy het as jong Nederlander na Suid-Afrika gekom “om avontuur te soek”; hy het in Transvaal geveg teen die Jameson-inval van 1895-’96, wat deur die geskiedskrywer C.W. de Kiewiet as “die mees berugte insident in die ge­skie­denis van die Britse empire” bestempel is; en hy het dadelik op kommando ge­gaan toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek. Die skrywer Dirk Mostert het uit Slegtkamp se oorlogsdagboek die werk Slegtkamp van Spioenkop: Oorlogsherinneringe van kapt. Slegtkamp saamgestel, waarin hy Slegtkamp en Hindon so tipeer: “Hulle (het) mekaar gebalanseer asof hulle weerskante van ’n weegskaal gehang het. Wat Hin­don uitgedink het, het Slegtkamp uitgevoer. Hindon was die dinamiet van die Verkenners, Slegtkamp die ontploffing.”

Met die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog in 1999 het Ru­pert die legger oor Scheepers wat vroeër in die besit van die Britse intelligensie­departement was, van ’n boekhandelaar in Kaapstad aangekoop. Daarin verskyn Scheepers se laaste briewe (aan sy moeder, aan pres. M.T. Steyn en aan genl. Chris­tiaan de Wet) en sy dagboekaantekeninge, soos vertaal deur John Gregorowski, wat in die Krygswetkantoor op Graaff-Reinet gewerk het. Daar is ook unieke foto’s van Scheepers en ander Boerekrygsgevangenes wat deur die Graaff-Reinetse fotograaf Ivie H. Allan in die gevangenis op die dorp geneem is. Die boekhande­laar beskou die Gregorowski-legger as die belangrikste versameling van Scheepers-memorabilia wat ooit gevind sou word.

Die monument van Scheepers en die ander tereggesteldes van Graaff-Reinet het ’n ander nadraai gehad, een wat op die toekomstige nyweraar Rupert ’n blywende indruk gemaak het. Die stadsraad wou ná die oorlog nie geld beskikbaar stel nie vir die monument, wat ’n sterwende Scheepers toon wat deur genl. De Wet gekoester word. Dit is toe in 1908 onthul op grond wat deur Jurie Laubscher, eienaar van die poppefabriek van Graaff-Reinet, geskenk is. Hy het meer as se­wentig werkers in diens gehad wat die welbekende Graaff-Reinet Pop gemaak het, waarvan daar etlike voorbeelde in die Reinethuis op Graaff-Reinet is.

“Toe die Paktregering van Nasionaliste en Arbeiders in 1924 ná die opstand van die mynwerkers in Johannesburg aan die bewind gekom het, het hulle die eerste superverligte arbeidswette gemaak,” onthou Rupert. “Jy moes soveel lig en soveel spasie toelaat, en meer as drie is ’n fabriek. Oom Jurie Losper, soos hy in die wandel genoem is, kon nie aan daardie vereistes voldoen nie – en toe is Graaff-Reinet se grootste fabriek daarmee heen. Dit het hy my nog self vertel.”

In sy kinderdae was Graaff-Reinet ’n tipiese plattelandse dorp: geen elektri­si­teit, geen lopende water en geen teerstrate nie. Drinkwater het uit ’n tenk ge­kom wat reënwater van die huis se dak opgevang het. Leiwater het gekom van Maggie se Put, ’n standhoudende fontein wat twee miljoen gelling suiwer vars water per dag gelewer het op die plek waar die dorpsdam vandag is. Die water is gekook vir badwater. Die dorp met sy stofstrate het eers laat in die jare twintig lopende kraanwater gekry.

Studietyd saans was aanvanklik by kerslig of ’n paraffienlamp. Elektrisiteit is met verloop van tyd verskaf, met gloeilampe wat in die middel van die vertrek aan ’n draad gehang het. ’n Elektriese eenheid het toe ’n sjieling gekos, dus was krag duur.

“Ek kom van een van ons oudste Karoodorpe waar ek in my jeug geen binnens­huise waterleiding, geen afloopbad, geen elektriese lig geken het nie,” vertel Rupert in sy bundel Wie in wondere glo om te illustreer hoe vinnig moderne ont­wikkeling geskied; hoe produkte vandag vervaardig word wat 25 jaar tevore on­bekend was. “Daar was geen radio, geen gehoortoestelle, geen radar, geen spuit­vliegtuie, geen diesel, geen bolpuntpen, geen selfopwenhorlosie, geen flitskamera, geen bandmasjien, ja, selfs geen papiersakdoeke nie.”

John Rupert het nog vroeg in die jare twintig vir ’n hofsaak in Kaapstad met sy Model T Ford op die grondpad na Beaufort-Wes gery en daarvandaan die trein gehaal. In die middel van die dekade het hy ’n Chevrolet aangeskaf wat naderhand in die Vervoermuseum, die gerestoureerde stasiegebou op Heidelberg in Gauteng, ’n laaste staanplek gekry het.

Een van Boetie Rupert se vroegste herinneringe is dat hy sy oumagrootjie Emma Susanna – “die klein ou vroutjie” – in ’n ouetehuis in Kaapweg, Port Elizabeth, gesien het voordat sy in 1919 oorlede is nadat haar man, die eerste Rupert in Suid-Afrika, haar reeds in 1882 ontval het. Sy moeder het ook ’n brief aan hom getoon wat oumagrootjie Emma, ’n Britse boorling, aan haar geskryf het, een wat sy met ’n boodskap met vyf kruisies afgesluit het: “And remember to give my love to Anthony.”

Hy groei op in tye toe die belangrikste mense op menige Suid-Afrikaanse dorp die predikant, die skoolhoof en die landdros was; gesagsfigure wat ’n stempel gelaat het op geslagte Afrikaners wat op die platteland grootgeword het.

Sondae op die dorp, sterk onder die invloed van die Murrays wat soos ander gestrenge Skotse kerkvaders leraars van die NG Kerk geword het, was streng Calvinisties. Kinders moes kerk en Sondagskool toe gaan, en sport op Sondae is as sondig beskou. Selfs naaldwerk was verbode, omdat die naald in God se oog sou steek.

Sy broer Koos beaam die streng Calvinistiese kultuur waarin hulle grootgeword het. “Ons pa was baie jare bevriend met die skoolhoof en die predikant. Maar my pa het nooit kerk toe gegaan nie; hy het gaan bergklim. Hy het ’n ge­dig oor die Verlate Vallei geskryf: ‘Dis die plek waar ek wil sit, dis die kerk waar ek wil bid.’ Ons het saam met my ma kerk toe gegaan. Ek het nie van Son­dag­skool gehou nie. Ds. Naudé het soms op die preekstoel gehuil, en dit het my baie ontstel.”

Rupert voeg hieraan toe: “Ons was nie eens veronderstel om op ’n Sondag te gaan stap nie. Dit was die Skotte se invloed.”

Alhoewel hul moeder godsdienstig was, loop sy nie daarmee te koop nie. Ook hul vader se waardes was Calvinisties: die etiek van hardwerkendheid, eer­baar­heid en soberheid. Omdat sy ouers egter nie wetties was nie, het Anton van vroeg af ’n afkeer gehad van reëls en regulasies wat innovasie en individualiteit verlam. Terwyl hy teen ’n wettiese lewenshouding is, het hy die dissipline, hardwerkend­heid en eerbaarheid van die Calvinisme sy eie gemaak.

Boetie Rupert gaan in 1923 op sesjarige ouderdom skool toe. Die laerskool­kinders het nie skooldrag gehad nie, maar was gestewel; hulle het nie kaalvoet skool toe geloop nie. Op sy eerste skooldag beland Boetie met sy splinternuwe skoolklere in ’n watersloot terwyl hy die babawaentjie van sy pasgebore broer­tjie, Jannie, stoot, en hy moes ou klere gaan aantrek om droogvoets skool toe te gaan.

Hy voltooi die eerste twee standerds, sub A en sub B, in een jaar. Hy is links­handig, maar word nie, soos destyds dikwels gebeur het, gedwing om regs te skryf nie. Daarmee help dr. Karl Bremer, toe pas terug van oorsee, deur aan te beveel dat hy links bly skryf.

Een van sy klasmaats is Bremer se dogter Elizabeth (Van der Merwe, skryfster van kinderboeke). Sy onthou dat hy in sub A saam met haar aan ’n vierkantige tafeltjie vir vier gesit het. Die twee ander klasmaats was Hendrik Momberg en Marié van Schalkwyk (getroude van Pallister), die dogter van dr. Bremer se vennoot, dr. Johannes van Schalkwyk, skrywer van Raad in tyd van siekte, die eerste mediese handleiding in Afrikaans.

Aanvanklik verskyn Boetie Rupert se naam nie boaan die prestasielys nie. Eliza­beth van der Merwe onthou dat hul onderwyseres, mej. Bella Laubscher, dogter van die poppefabriek se eienaar, hom in sub B in die klaskamer na vore geroep het. Hy staan kop onderstebo terwyl sy sê die jonge heer Rupert staan negende, maar hy kan veel, veel beter vaar.

Die teregwysing sink in. Reeds in die laer standerds begin hy eerste staan in die klas. Elizabeth, wat met hom wou meeding, kon hom nooit inhaal nie. In st. 7, haar laaste jaar op Graaff-Reinet (Bremer het toe as Volksraadslid na Kaapstad verhuis), kon sy weer nie bybly nie. Sy gaan by sy moeder, wat sy as Missus Ru­pert aangespreek het, haar lot bekla, en sê huilend dat Boetie eerste staan, en nie sy nie. Boetie Rupert se moeder het haar getroos.

Vriende van die Ruperts soos Elizabeth het almal met groot lof van mev. Hester Rupert gepraat. Sy was liefdevol en gasvry, en het ’n besondere aanvoeling vir kinders gehad. Sy het gemaklik met hulle gesels en in hul doen en late belang gestel. Elizabeth het byvoorbeeld in st. 7 ’n nuwe rok wat sy gekry het, spesiaal vir mev. Rupert gaan wys want “sy het so ’n hart gehad”. Volgens Elizabeth was sy saggeaard, maar kinders het na haar geluister en gedoen wat sy gevra het “om­dat jy haar liefhet”.

In st. 4 het mev. Rupert en Boetie die boek Suffer little children gelees en dit by Elizabeth aanbeveel. Die boek het haar laat huil.

Sy onthou ook hoe die kinders van die Ruperts en die Bremers ná mooi reëns –altyd welkom in die Karoo – feesgevier het deur met stoele trein-trein op die stoep van hul huis te speel.

Boetie, wat kon lees voordat hy skool toe gegaan het, lees baie; saans meermale ’n kinderboek. En hy was weetgierig. In die goed toegeruste dorpsbiblioteek kon hy koerante sowel as tydskrifte soos die Scientific American en die Illustrated London News kry, en hy lees ook omtrent al die boeke.

In ’n ouerhuis waar dit nie aan liefde ontbreek nie, bly sy moeder saam met hom wakker wanneer hy saans laat sit en leer, en sy gee hom ’n warm drankie voordat hy gaan slaap.

Die Karoo, met Graaff-Reinet op ’n wye vlakte aan die voet van die Sneeu­berge en neffens die indrukwekkende Spandauskop en die Vallei van Verlatenheid (’n diep kloof met majestueus opgestapelde rotse wat die Ruperts verkies om die Berg­katedraal te noem), maak ’n onuitwisbare indruk op die jong skoolseun. Hy gaan dikwels saam met sy vader in die veld stap.

Hy beskou dit as ’n “absolute voorreg” dat hy as kind in die Karoo grootgeword het. “Weet jy, baie van die groot gelowe kom uit die woestyn. Christus, Moses en Mohammed was almal daar. Dis waar jy sewejaar-droogtes het, waar jy jou nietigheid ervaar as jy na die sterrehemel kyk en waar jy genoodsaak is om te dink. Daarteenoor het Karl Marx sy inspirasie vir die kommuniste se bybel, Das Kapital, in die Britse Museum gekry.”4

Hy koester ’n besondere liefde vir nie net die Karoo nie, maar ook vir sy mense. In later jare toe hy verneem dat die bestuurshoof van ’n groot onderneming af-wysend op ’n versoek tot ’n bydrae tot die Vredesparkstigting gereageer het, merk hy verontwaardig op: “En hy kom van Cradock af!”

In sy vader se prokureurskantoor doen hy vroeg reeds kennis van die regsbe­roep en regskwessies op. ’n Alombekende ingesetene van die dorp, Terry Whitlock, onthou dat hy meermale gesien het hoe die ouer Rupert sy eie state op ’n tikmasjien tik, en dat hy ook graag gedig en gedigte voorgelees het.

By sy prokureur-vader leer Anton om noulettende aandag aan detail te gee, iets wat bekwame regsgeleerdes kenmerk. Dit is ’n deug wat op sy beurt by sy seun Johann ingehamer is terwyl dié by die beleggingsbank Lazard Freres in New York gewerk het. Wanneer prospektusse uitgestuur is, het Lazard Freres daarop aangedring dat elke reël van voor én agter gelees word. Anton Rupert het in sy loopbaan ook opgelet dat suksesvolle sakelui met wie hy te doen gekry het, soos Harry Oppenheimer van Anglo American en Donny Gordon van Liberty Life, oneindige aandag aan detail skenk.

John Rupert skerp meermale by sy seun in: “Eerlikheid is die beste beleid. Jou woord moet jou eer wees.”

Nog ’n stelling wat sy seun sy lewe lank sou bybly, is ’n priemende oordeel: “Ek is nie bang vir die duiwel nie, maar ek is bang vir ’n skelm mens.” Sy ge­strenge benadering het John Rupert genoop om nie in die hof vir ’n beskuldigde te verskyn wat sy of haar skuld teenoor hom beken het nie.

’n Gekoesterde lewenswaarde van sy vader wat Anton in later jare meermale aanhaal, is dat ’n mens in jou pasoppens vir die verleiding van lof moet wees: “Van­dag skreeu hulle hosanna, môre kruisig hulle jou.” Soms wanneer hy ie­mand ’n kompliment toeswaai, sal hy byvoeg dit bring ook verantwoordelik­heid mee, want dan word van die persoon wat die kompliment ontvang, verwag om daardie vlak te handhaaf.

Boetie Rupert volg reeds as jong seun die politiek. Die eerste keer dat hy na ’n radio luister, is dit ’n kristalradio wat die uitslae van 1929 se verkiesing uitsaai. Hy was toe twaalf jaar oud en ’n groot bewonderaar van genl. Hertzog, wat ná sy bewindsoorname in 1924 vyftien jaar lank die eerste minister sou bly. Eliza­beth van der Merwe vertel dat hy in st. 4 of st. 5 ’n plakboek aan haar gewys het, met ’n foto van Hertzog: “Dit is my held!”

Die nuwigheid van die radiogolwe het aanleiding daartoe gegee dat Boetie en ’n maat self ’n kristalradio bou. As lugdraad gebruik hulle ’n lang, reguit stuk bloudraad wat hulle op die huis se dak wou vasmaak. Toe hulle op die dak klim, val die stuk draad oor kragdrade, gelukkig sonder dat hulle daaraan geraak het, en die kortsluiting skop die hele buurt se krag uit. Boetie se vader was woedend.

Ongeveer daardie tyd staan Boetie en Elizabeth op ’n dag toe die munisipa­li­teit ’n voertuigoptog gereël het, op ’n straathoek onder ’n uithangbord van sigarette. Die jong Rupert sê toe Suid-Afrika behoort nie sulke sigarette in te voer nie. “Ons behoort dit self te maak.”

Hy het hier ’n gevoel uitgespreek wat reeds geruime tyd onder Afrikaners vaar­dig was. ’n Paar dekades tevore het Di Afrikaanse Patriot op 19 November 1880 dit kleurryk verwoord: “Een van die vele snare wat ons aangeroer het en wat weer­klank gevonde het in die harte van duisende Afrikaners, en nog gedurig vorttril, is: dat vreemde geluksoekers die handel in ons land heeltemal in hulle hande het; dat die ver hulle verryk met onbillike winste te neem; en dan nog die eie geld van onse Boere gebruik om hulle te onderdruk soos gelukvools eers dik en vet is.”5

Hy ontwikkel vroeg ’n belangstelling in die nywerheidswese en museums. In Port Elizabeth het die Ruperts dikwels in vakansies gaan kuier by ouma Rupert en hul vader se jonger suster, mej. Florence Rupert. Tant Florrie, ’n onderwy­se­res, neem die jong Anton vroeg in die jare twintig, toe hy tussen agt en twaalf jaar oud was, na verskeie fabrieke rondom Algoabaai. Onder meer besoek hulle die eerste aanlegte van Ford en General Motors, waar motorvoertuie gemonteer is. Hulle kom ook by die Wolbeurs, Pyotts se beskuitjiefabriek en Mobs se skoen­fabriek. Hy vertel later dat hy al as seun ’n “redelike indruk van die begin van ons nywerhede” gekry het.

“Komende uit Graaff-Reinet waar daar geen nywerheid was nie, was dit vir my ’n droom en ’n sprokieswêreld om te sien hoe ‘iets’ gemaak word . . . lekkergoed, beskuitjies, skoene, ja selfs hoe ’n motor aanmekaargesit word, want destyds het ons nywerhede meesal uit ‘aanmekaarsit’ bestaan,” sê hy jare later aan skou­gangers in Port Elizabeth. “Vandag het u hier reeds die tweede fase van vervaar­diging binnegegaan en kan ’n mens met groter trots daaraan dink dat ’n motor al nader aan tuisvervaardiging staan as in daardie begindae.”6

Die land se oorgang van landbou en mynbou na ’n nywerheidsland het so ’n blywende indruk op hom gemaak dat dit sy beroepskeuse beïnvloed het. “Pro­duksie het my altoos gefassineer. Later op universiteit het ek besef hoe belang­rik die nywerheid as werkverskaffingsbron is,” sê hy in ’n radio-onderhoud.7

Die Ruperts se vakansieplek was Port Elizabeth, waar sy ouma Rupert van 1923 tot haar dood in 1930 gewoon het. Tant Florrie neem die jong Anton, wat ’n hele paar jaar ouer as sy broers was, ook na die plaaslike Slangpark en die Museum.

In Port Elizabeth sien hy sy eerste praatprent, The singing fool met Al Jolson in die hoofrol, nadat Jolson in 1927 met die eerste woorde in die eerste praatprent, The jazz singer, rolprentgeskiedenis gemaak het. Die eerste rolprente wat hy sien, soos die cowboyprente van Tom Mix, was sonder klank. In later jare het hy nooit in ’n bioskoop gekom of daarin belang gestel nie.

Hy blink nie as sportman uit nie, maar speel wel rugby en tennis sosiaal. Jare later wou ’n verslaggewer van die Amerikaanse tydskrif Fortune weet watter soort oefening hy doen. “I do mental gymnastics and I jump to conclusions!” antwoord hy.

Hy word een van die eerste lede van die Voortrekkerbeweging, waarvan hy ’n groen knopie in sy lapel gedra het. Die beweging, waarvan Japie Heese die stigter op Graaff-Reinet was, maak in die jare twintig sy eerste verskyning in die Hoër Volkskool – enkele jare voordat die landwye Voortrekkerbeweging in 1931 as ’n Afrikaanse teenvoeter vir die Boy Scouts tot stand kom.

Kleintyd speel hy saam met ander seuns “Cowboys en Indiane”. By een so ’n geleentheid is een van die dorp se groot karnallies, Robey Leibbrandt, betrokke. Leibbrandt, die latere Olimpiese bokser en Nazisimpatisant wat in die Tweede Wêreldoorlog weens hoogverraad ter dood veroordeel is, is in 1913 gebore en beland as ’n tienerseun op skool op Graaff-Reinet. Sy vader, ’n Boerekrygsman wat met Robey se begenadiging in 1948 deur Smuts as een van sy dapperste manskappe bestempel is, is van 1914 tot 1924 as ’n offisier in die staande mag op Graaff-Reinet gestasioneer. Hy huur in een stadium die Rupert-oupa se huis. Op ’n dag het Robey en sy broers in ’n spelery die skoolhoof se oudste seun, Von Welfling Eybers, met ’n tou aan ’n sipresboom opgehang. Sy tone het gelukkig grond geraak en van die ouer mans kon hom lossny. Die heelwat jonger Boetie Rupert, toe pas op skool, het die voorval self gesien.

In 1928 plaas die skool se jaarblad ’n Engelse opstel van Boetie, toe in st. 5, oor ’n besoek aan die Pretoriase Dieretuin wat sy latere belangstelling in die natuur en dierelewe weergee. “The first thing which attracted my attention was the gorgeously-coloured speaking-parrots. Then I came to the cage of the gorilla – a mighty big and strong animal. After a few minutes walking I came to the monkeycage from where I walked to the hippopotamus, a very large animal with the largest mouth I have ever seen.” Hy sluit af: “I thoroughly enjoyed this well-spent and interesting afternoon.”

Sy belangstelling in drukwerk, vorm en kleur – wat sou uitloop op die noulettende aandag wat hy as meester van bemarking aan al hierdie eienskappe van elke nuwe produk in die tabak- en drankhandel sou gee – begin ook vroeg. In st. 6 gaan kuier hy in die Oktobervakansie by sy oom Fred Knoetze, eienaar van ’n drukkery op Somerset-Oos wat die plaaslike koerantjie, Somerset Budget, uitgegee het. Die motorryer wat hom ’n geleentheid gegee het om saam te ry, ver­geet om hom weer op te laai, en hy moes gevolglik toe ’n hele week op die dorp deurbring. Sy oom het hom alles in die drukkery gewys. “Die hele drukproses, die lettertipes, die kleurmonsters het my absoluut gefassineer,” het hy later vertel.

In st. 8 is hy een van die tien beste leerlinge wat in Kaapland die Junior Serti­fikaat behaal. Hy slaag met vier onderskeidings.

In 1933, sy laaste skooljaar, is daar 35 leerlinge in die Volkskool se matriek­klas. Sommige het in 1922, die stigtingsjaar van die Volkskool, begin skoolgaan en is dus die eerste leerlinge wat hul volle skoolloopbaan daar voltooi het.

Vyftig jaar later, in Maart 1983, het agttien van die oorlewende oudleerlinge ’n reünie bygewoon. Anton, toe reeds ’n ereburger van die dorp, skenk toe namens die drie broers Rupert – Anton, Jan en Koos – wat van 1923 tot 1943 daar skoolgegaan het, ’n beeldhouwerk van Bill Davis aan die skool. Die beeld, getitel Sy hande, huldig die twee digter-broers Louw: Van Wyk Louw, wat getroud was met Truida Pohl, ’n oudleerling van die Volkskool, en W.E.G. Louw, wat jare lank ’n direkteur van Historiese Huise van Suid-Afrika was. Die beeld se tema spruit uit die gedig “Golgota” in Gladstone (W.E.G.) Louw se bundel Adam en ander gedigte (1944), en Anton haal daaruit aan:

Die wrede spykers word deur vlees en been

met felle slae ingejaag: Sy hande,

verstrak in laaste, Goddelike seën,

het Hy wyd uitgebrei oor alle lande . . .

Anton matrikuleer in 1933 met ’n klassieke vakkeuse. Hy behaal drie onderskei­dings, 83% in Engels laer en skei-en-natuurkunde en ’n uitstekende 92% (ofte wel 277 uit 300 punte) in wiskunde. Sy ander vakke is Afrikaans hoër, Latyn en ge­skiedenis, en sy gemiddelde persentasie is 78,9%. Hy wen die prys van £10 vir die skranderste matrikulant op die dorp, maar was al die vorige jaar gereed vir die Senior Sertifikaat en het sy matriekjaar vervelig gevind. Hy het reeds in st. 9 matriekvraestelle beantwoord en beter gevaar as in die volgende jaar se eind­eksamen!

Pas sewentien was hy van plan om universiteit toe te gaan en hom as medi­kus te bekwaam. Die Groot Depressie het egter met mening in Suid-Afrika toege­slaan.

Die Depressie, voorafgegaan deur ongekende snelle groei vroeg in die jare twintig in die Verenigde State toe tot 30 miljoen gesinne uit die Amerikaanse bevol­king van sowat 120 miljoen ’n aktiewe verbintenis met die aandelemark gehad het, het gevolg op die ineenstorting van Wall Street se aandelebeurs. Van Don­der­dag 24 Oktober 1929 tot die daaropvolgende Swart Dinsdag het die Dow Jones-indeks van 312,76 tot 230 punte gedaal, en die insakking het nog drie jaar voortgesleep tot ’n laagtepunt van 40,56 punte op 8 Julie 1932.

Die aandelepryse van groot Amerikaanse nywerheidsmaatskappye het met tot 90% geval. In ’n stormloop om geld te onttrek het talle banke toegemaak, derduisende deposante het hul geld verloor en die werkloosheidsyfer het tot 25% aangegroei. Die skokke is wêreldwyd gevoel, ook in Suid-Afrika.

Hier te lande het plattelandse armoede vererger en verstedeliking versnel in die naweë van die Anglo-Boereoorlog. Teen 1900 was minder as 10% van die Afri­kaners verstedelik; teen 1926 het dié syfer tot 41% aangegroei. En teen 1933, so bevind die Carnegiekommissie van ondersoek na die armblankevraagstuk, het die getal blankes wat as “baie arm” beskryf kon word, tot 300 000 toegeneem. Hierdie drievoudige toename van arm blankes sedert 1921 se geskatte 106 000 verteenwoordig sowat 30% van alle Afrikaners en sowat 17% van die wit be­volking van 1 800 000.

Die verstedelikte armes was in groot mate van welsynorganisasies afhanklik; diegene op die plase het in gehawende armoede geleef, ook weens die Groot Droogte van 1933-’34. Vir die mense van Graaff-Reinet, destyds ’n groter dorp as Stellenbosch, wat reeds met ’n universiteit kon spog, was dit buitengewoon moeilike tye. Verskeie boere van die distrik, soos boere elders in die land, is ge­dwing om na die stede te trek; in die Oos-Kaap meesal na Port Elizabeth. In die stedelike omgewing moes baie vroue hul gesin onderhou deur ’n losies­huis te bedryf.

Die Depressie het ’n ingrypende uitwerking op die jong Rupert se toekomsplanne gehad. Die enigste mediese fakulteite van destyds, aan die universiteite van Kaapstad en die Witwatersrand, was te duur. Sy vader se jaarlikse inkomste het in die depressiejare van £3 000 tot £120 gedaal, deels ook omdat eksekuteurs­kamers ’n aansienlike deel van prokureurs se inkomste weggeneem het. Die ge­sinsmotor moes ’n paar jaar in hul motorhuis toegesluit word.

Die ekonomiese knyptang waarin Suid-Afrika beland het, is hagliker gemaak deur die Hertzogregering se vasbeslotenheid om die goudstandaard te handhaaf. Juis omdat hy voorsien het dat die regering die goudstandaard sou moet laat vaar, het Anton op sestienjarige leeftyd sy eerste saketransaksie onderneem, soos hy dit self beskryf.

Engeland het die pond in 1931 gedevalueer, maar Suid-Afrika as goudprodu­serende land het nie gevolg nie. Dit het die Depressie verhewig, want uitvoerpro­dukte het tot 30% duurder geraak. In pond sterling was Australiese wol ná daar­die land se devaluasie omtrent 40% goedkoper as Suid-Afrikaanse wol. Die Suid-Afrikaanse mynhuise het goud in pond sterling verkoop en kon die opbrengs in die buiteland hou. Geld het die land uitgevloei namate al hoe meer teen die Suid-Afrikaanse pond gespekuleer is.

Anton, oortuig dat Suid-Afrika van die goudstandaard gaan afstap, smeek sy vader om sy pondnote vir goue ponde om te ruil. Die ouer Rupert staan egter vas, want hy het die minister van finansies, Klasie Havenga, as ’n man van sy woord vertrou.

Die kapitaaluitvloei, vererger deur die opportunistiese Tielman Roos se dramatiese terugkeer tot die politiek vanaf die regbank, dwing Havenga oplaas om op 28 Desember 1932 aan te kondig dat Suid-Afrika die goudstandaard laat vaar.

Op Graaff-Reinet erken Anton se vader dat sy seun gelyk gehad het. Hy wys na sy brandkas waarin sewe goue ponde gelê het: “Jy kan dit vat; jy verdien dit.” Elke goue pond was 27 pleks van 20 sjielings werd – ’n welkome meevaller vir ’n jong aspirantstudent wie se eerste jaar op universiteit £100 sou kos.

Nogtans was sy planne om medies te studeer voorlopig van die baan. Anton skryf hom gevolglik begin 1934 vir ’n B.Sc.-kursus aan die Universiteit van Pretoria in. Dit is ’n keerpunt in sy lewe, waaroor hy agterna gesê het: “Ek het die Voor­sienigheid dikwels dankie gesê vir dinge wat ek nie gekry het nie toe ek dit wou gehad het.”

Anton Rupert: 'n lewensverhaal

Подняться наверх