Читать книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse - Страница 13

Оглавление

Hoofstuk 7

Rembrandt: ’n Meesterstuk gebore

Buig of bars, Rupert wou sigarette vervaardig. Hy strewe hierdie droom van hom met deursettingsvermoë en doelgerigtheid na. Dit loop daarop uit dat die stigting van Voorbrand in 1941 gevolg word deur die stigting in 1946 van die Rembrandt Tabakvervaardigingskorporasie van Suid-Afrika Be­perk, waarin Voorbrand opgaan.

Tabak en drank sou die basis van die toekomstige sukses van die Rembrandt Groep vorm. Rupert verduidelik: “As ’n jong man het ek besluit dat tabak en drank die beste groeipotensiaal het, want as ’n jeugdige tydens die Depressie van die jare dertig het ek opgelet dat mense nie minder rook nie en, indien enigiets, waar­skynlik selfs meer drink.”1

Gevolglik konsentreer die groep ten aanvang bowenal op tabak en drank, maar ook omdat die eerste aandeelhouers hoofsaaklik wyn- en tabakboere was.

In daardie tyd was daar geen sprake van die gesondheidsrisiko’s van tabak wat ’n paar dekades later ’n oorheersende strydvraag in die hele tabakbedryf ge­word het nie.

Rupert spits hom in die beginjare veral op die tabakbelange toe terwyl Hertzog grootliks na die drankbelange omsien. Hertzog bly nietemin meer op die agtergrond, en hy noem meermale teenoor sy vriende en familielede dat dit beter so is, want ’n span kan net een kaptein hê: “Anton is die boegbeeld.”

Die klemverskuiwing van Voorbrand na Rembrandt is uit eie reg ’n belangrike innovasie.

Rupert het lank oor ’n nuwe naam nagedink: “Agter ’n goeie naam is daar net soveel arbeid (dinkwerk) soos agter die hele produk.” Hy besef dat Voorbrand nooit sou deug vir die sigaret waarmee hy die wêreldmark wou verower nie; ver­al nie die kieskeurige Afrikanermark wat so maklik die eie wantrou nie. Aan­vanklik dink hy aan Cigarette Cézanne, maar laat dit vaar toe die nuwe ingewing kom.

Een nag droom hy van Rembrandt se skilderye. Toe hy wakker word, weet hy dadelik wat die naam van sy maatskappy sal wees.

Hy maak sy vrou wakker om haar van sy besluit oor die naam in te lig: “Ons nuwe sigaret se naam is Rembrandt!”

Sy hou nie juis daarvan om in haar slaap gesteur te word nie; tog gebeur dit meermale dat hy smôrens vieruur wakker geword het met ’n oplossing vir ’n probleem wat in sy onderbewussyn gesluimer het.

“Ons was so opgewonde daaroor dat ons nie weer aan slaap gedink het nie,” vertel Huberte. “Ons het tee gaan maak en die nag nie weer ’n oog toegemaak nie. Ons het al twee sommer geweet die naam is doodreg.”

Rembrandt is immers ’n naam met universele trefkrag en ’n simbool van ge­halte. Dit kom eg voor en so emosioneel aangrypend soos die werke van Rem­brandt Harmenszoon van Rijn (1606-’69), die grootste kunsskilder van sy tyd en skepper van die wêreldberoemde Nagwag, wat in die Rijksmuseum in Am­ster­dam hang. Rembrandt was onmiddellik herkenbaar en het goed in Afrikaans en Engels en inderdaad alle tale geklink. En geen seksionele byklank kon daaraan gegee word nie.

Rembrandt se sterfdag, so blyk dit later, is ook Rupert se geboortedag: 4 Ok­tober.

Die geïnspireerde keuse van die naam is die begin van ’n groot nuwe avontuur wat die Ruperts en hul medestanders op ’n wentelbaan rondom die aarde plaas.

’n Briljante skuif wat Rembrandt grootliks sou bevoordeel, is reeds ’n ruk tevore gemaak. Dit was toe Rupert teen die einde van 1945 op sy eerste oorsese sakebesoek gegaan het, op soek na die nodige masjiene en om die verkryging van nood­saaklike tegniese dienste te probeer reël. Daar maak hy kennis met Sydney Roth­man van Engeland, hoof van Rothmans of Pall Mall, en sluit ’n strategiese oor­eenkoms wat verreikende gevolge gehad het.

Die 29-jarige Rupert was in daardie stadium in Johannesburg bevriend met Gordon Douglas, ’n Engelssprekende van Skotse afkoms wat die agentskap vir Rothmans in Suid-Afrika gehanteer het.

Douglas beteken in die beginjare baie vir Rupert. Met die oog op die jong Afri­kaner se buitelandse besoek maak hy hom touwys in die fyner kunsies wat ’n internasionale sakeman moet baasraak, waaronder fooitjies vir kamerbediendes en hotels waar hy moes tuis gaan.

Douglas wou Rupert onder meer voorstel vir lidmaatskap van die Rand Club, die eksklusiewe klub in die middestad van Johannesburg wat veral ryk Engels­sprekende sakelui en mynbase van die Rand onder sy lede tel en as die kantien van die Kamer van Mynwese beskou is. Maar die jong Afrikaner, wat met voorname soos Anthony Edward waarskynlik geredelik aanvaar sou gewees het, weier beleef. Hy verduidelik aan Douglas dat hy nie lid kan word van ’n klub wat nie vir iemand soos dr. Hendrik van Eck, die gerespekteerde Afri­kaner­ny­we­raar, plek het nie.

Rupert vertrek in Oktober 1945 met ’n vliegboot van die destydse BOAC na Londen, ’n reis wat ses dae en ses nagte sou duur. Vlugte was kort ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog net een keer in veertien dae beskikbaar, en dit het oor Afrika via die destydse Lourenço Marques (Maputo) oor die groot mere na Khartoem en Kaïro en van daar na Bournemouth in Engeland gegaan.

Die vlug het ’n groot uitwerking op sy denke. Vanuit die vliegboot wat op ’n lae hoogte 165 myl per uur haal, verkyk hy hom aan die uitgestrektheid en on­gerepte natuurskoon van Afrika.

Die kernbomme wat die Amerikaanse lugmag op bevel van pres. Harry Tru­man in Japan laat val het, het slegs twee maande tevore die hawestede Hiro­sji­ma en Nagasaki feitlik uitgewis. Rupert kom sterk onder die besef dat die des­truk­tiewe drang na mag deur positiewe kragte vervang sou moet word. En gedagtig aan die verwoesting wat die Tweede Wêreldoorlog in Europa gesaai het, geraak hy tot die slotsom: Imperialisme en kolonialisme is dood. ’n Nuwe toekoms wag op Afrika, waar die strewe na onafhanklikheid al hoe sterker sou word.

Sy blik op Afrika vanuit die vliegboot, gepaard met die besef dat die mens die mag verkry het om die hele mensdom uit te wis, versterk sy geloof dat mede­be­staan gebiedend geword het – tussen mens en mens, maar ook tussen mens en na­tuur.

“Die tydperk van paternalisme, waar alles vir ander gedoen moes word, het ge­faal. Voortaan sou sukses slegs behaal kon word as daar saam met ander beplan en gedoen word. Die tydperk van vis uitdeel aan die hongeriges was verby. Dit moes plek maak vir ’n benadering van hoe om hulle te leer om vis te vang. Van­daar die konsep van medebestaan deur deelgenootskap,” sê hy in ’n tydskrifartikel.

In die gehawende, gebombarbeerde Londen aangekom, bel hy op ’n Maan­dag­oggend na Rothman se kantoor om sy afspraak, wat reeds gereël is, te bevestig. Sydney Rothman sê egter hy kan Rupert eers die volgende Vrydag oor ’n week sien.

Rupert antwoord dat hy net vier dae verblyf het in Grosvenor House, die Lon­dense hotel aan Park Lane in Mayfair waar hy jare daarna steeds in dieselfde suite sou tuis gaan – net soos hy baie jare ’n kliënt by dieselfde bank, Volkskas, en dieselfde versekeraar, Sanlam, sou wees. As dit die geval sou wees dat hy Roth­man nie binne daardie vier dae kon spreek nie, sal hy moet omdraai.

Daarop kyk Rothman weer na sy dagboek en sê dieselfde middag om vieruur is in orde.

Die ontmoeting met Sydney Rothman is in vele opsigte ’n waterskeidingsge­leentheid. Rupert sluit met Rothmans of Pall Mall ’n ooreenkoms om Rothmans se handelsmerke in Suid-Afrika te vervaardig in ruil vir tegniese kundigheid.

Dié ooreenkoms word met ’n handdruk beklink; die kontrak is eers drie jaar nadat die eerste sigarette in 1948 van die fabrieksvloer in Paarl gekom het, for­meel onderteken.

Rothmans word die maatskappy by wie Rupert sy tegniese advies kry. Tipies van die egte entrepreneur ontsien hy geen moeite of koste om die regte advies in te win nie. Mense wat sy eie ondernemingsvermoëns kon aanvul, word aangestel en netwerke vroegtydig opgebou.

Die tegniese advies van Rothmans is goud werd. Want Sydney Rothman het diep wortels in die tabakbedryf gehad. Sy vader, Louis, ’n Russiese Jood wat in Kiëf in die Oekraïne gebore is, begin op vroeë ouderdom werk in ’n sigaretfabriek wat aan s´y vader en oom behoort het. Louis Rothman, wat tabak geblinddoek kon beoordeel deur daaraan te ruik en te voel, het egter nie van die tsaristiese Rusland gehou nie. Hy vertrek in 1887 op agttienjarige leeftyd via Wene na Londen, waar hy in ’n sigaretfabriek gaan werk.

Teen 1890, voordat hy 21 was, maak hy saans en oor naweke sigarette wat hy uit ’n klein tabakwinkel in Fleet Street verkoop. Hy verskuif in 1900 na Pall Mall. Die naam Pall Mall is afgelei van pelle melle, ’n Franse spel wat aan die hof van Lodewyk XIV van Frankryk gespeel is. Rothmans het wêreldbekend geword dank­sy onder meer joernaliste wat die sigarette na die buiteland geneem het. As inno­verende kleinhandelaar het Rothman die handelsmerk Pall Mall geregistreer en boonop mentolsigarette uitgevind. Koning Eduard VII het hom in 1905 ’n konink­like bevelskrif gegee – “By appointment to His Majesty the King” – en Roth­mans is in 1929 op die Londense aandelebeurs genoteer. Die mediabaas lord North­cliffe was ’n gereelde kliënt, so ook die Britse premiers Lloyd George en Win­ston Churchill en koning Alfonso van Spanje.

Louis Rothman se seun Sydney het in 1919 as vakleerling tot sy vader se onder­neming toegetree en in 1923 ’n vennoot geword. Hierdie seun van ’n Russiese im­migrant, deurwinter in die tabakbedryf, speel ’n belangrike rol in Rupert se op­mars deur die nywerheidswêreld.

Die terugvlug na Suid-Afrika duur nog langer as die heenvlug, bykans veertien dae. Die vliegboot het op die Nyl ’n ongeluk gehad, sy rug het gebreek. Die passasiers moes toe ses dae in Khartoem in die Soedan sit en wag voordat hulle na Kaïro kon terugkeer. Op die DC3 bestaan die vliegtuig se romp net uit onbedekte metaal, sonder enige isolerende bedekking, en Rupert kry so koud dat hy sy bene met koerantpapier moes toedraai. Hy kry wel ’n bevrore suurlemoen in die hande waaraan hy suig, en dit laat sy naarheid verdwyn – wat hom laat besef dat sy vlugsiekte aan te veel gal te wyte was.

In Kaïro aangekom, hoor hy dat daar nie plek op ’n vlug na Suid-Afrika is vir die volgende week nie, ook nie vir die volgende twee weke nie, dalk oor twee maande. Slegs hoëlui soos generaals kon voorkeur kry – en hy was geen generaal nie, net ’n jong Afrikaner in Kaïro.

Wat nou gemaak? Hy onthou dat die dame agter die toonbank van die lug­diens nie meer te jonk is nie. Terwyl hy deur die strate van Kaïro stap, sien hy die mooiste rose wat hy nog in sy lewe aanskou het. Hy koop dadelik ’n groot bos rose en laat dit aan haar stuur. Die tikkie beïnvloeding was wel ietwat stout, maar toe hy by sy hotel aankom, wag daar ’n boodskap van die lugdiens.

“Ek moet sê, ek was op die eerste vliegtuig terug,” vertel hy later aan ’n groep geamuseerde Pretoriase handelstudente, sekerlik ’n wenk dat ’n galante gebaar in die sakelewe gunstige gevolge kan hê.

Die pad van die Rembrandt Groep was in die stigtingsjare nogtans allermins met rose besaai.

Ná TIB se flotasie, waarin aandele van 10 sjielings teen 12s 6p uitgereik is, had Rupert-hulle £120 000 kontant in die bank voordat hy vir ’n maand weg is na Lon­den. Hy spreek af dat enige finansiële aksies ná die beursnotering deur enige twee van drie direkteure van TIB – hyself, sy studentevriend Dirk Hertzog en Fritz Steyn, toe ’n prokureur in Johannesburg – goedgekeur moes word.

Terug op kantoor in Johannesburg laat weet Jan Hurter, rekenmeester en later besturende direkteur van Volkskas, dat Rupert hul rekening by Volkskas moet aansuiwer. Toe Rupert verbaas sê dat hulle £120 000 in hul bankrekening het, antwoord Hurter dat aandele teruggekoop is en dat daar ’n groot debiet is.

Rupert was verstom en wou onmiddellik van Hertzog weet of hy daarvan be­wus is. Hy sê toe nee, hy is nie geraadpleeg nie. Dit blyk toe dat Steyn aandele wat kort tevore teen 12s 6d uitgereik is, op aanbeveling van die borgmakelaar teen 16s 3d teruggekoop het om die prys te ondersteun – glo om die Afrikaanse pres­tige te handhaaf!

Rupert kon dit net as “die louterste kaf” bestempel. “Die prestige was dat jy die maatskappy daarstel en die prestige is dat jy goeie sake doen.”

Die maatskappy was nie insolvent nie, maar dit was ’n groot terugslag. Dit het lank geduur om die oortrokke rekening aan te suiwer. Agterna sê Rupert filo­so­fies hy het daar ook ’n groot les geleer: “sorg dat jy die regte advies kry”.

Een belangrike gevolg van die teenspoed was dat Rupert-hulle in 1946 ’n tweede beleggingsmaatskappy, Tweede Tegniese en Industriële Beleggings (later herdoop tot Tegniese Beleggingskorporasie ofte wel Tegkor), gestig het. Dit was weer eens sy eie vindingryke plan om kontant in die kas te kry en om TIB te help om sy verpligtinge rakende die opname van verdere aandele in Distillers na te kom. Verspreide beleggings word gemaak in tabak (Voorbrand en Rembrandt), wol (Wol­groeiers Afslaers Beperk), koffie en tee (Theal Stewart en Biesheuvel Eien­doms Beperk) en steenkool (Klipfontein-maatskappyegroep, waarvan aanvanklik geskerts is dat daar baie klip maar min steenkool in daardie myn is en dat dit eerder Koolfontein se klipmyne moet heet).

Uit TIB en Tegkor ontwikkel ’n piramidestruktuur waardeur die Ruperts en Hert­zogs die beherende belang oor die hele groep verkry. Rembrandt Behe­ren­de Beleggings, waarin Tegkor ’n belang van 40,6% gehad het, hou ’n belang van 51,1% in die Rembrandt Groep Beperk.

Heel boaan die piramide verskyn die Rembrandt Trust (Eiendoms) Beperk, waar­in die Hertzogs eintlik ’n taamlike klein belang van 5,6% gehad het, teenoor Anton Rupert se leeueaandeel van 80 tot 90%. Die Rembrandt Trust word die basis van sy rykdom, maar ook die rede waarom hy in later jare omtrent geen aandele op die ope mark gekoop of verkoop het nie, want hy het geredeneer dat enigiets wat hy sou doen, die mark kon beïnvloed.

Van 1945 af is hard gewerk aan die totstandkoming van Rembrandt. Die volgende jaar, 1946, trek die Ruperts na Stellenbosch, waar hy aanvanklik naby Distillers se bedrywighede sou wees. Sy sekretaresse, Sandra van Eck (Pienaar, gebore Du Preez), ’n Krugersdorper wat op 18 September 1945 in Johannesburg vir hom begin werk het met ’n salaris van R27,50 per maand – ’n “groot verhoging” teen­oor die R20,50 wat sy by Fritz Steyn se regsfirma verdien het – beskryf die trek na Stellenbosch in ’n geskrif oor daardie dae.

“Alles was nie maanskyn en rose nie, maar ons was ’n baie gelukkige perso­neel,” vertel sy oor die twee kantore op die tweede verdieping van die Volks­kas­gebou in Johannesburg. “Ons het geen geriewe gehad nie. Ek moes kantore uit­vee, koppies in ’n kommetjie was, vadoeke was, tee maak, ons voorraad aankoop, ens. En ai, wat ’n rotte-, muise-plaag – ons kos kon nooit onbewaak gelos word nie, anders moes ons honger ly.”

Toe kom die verhuising na Stellenbosch. Rupert vertrek eerste, gevolg deur twee manlike personeellede wat hul treinkaartjie se geld gebruik het om met die een se “karretjie” te ry.

“Ek moes eers nog wag, moes nog die laaste geld ontvang van Tweede TIB se aandele om te bank. En nou ja, my dag breek aan en ek kom met tikmasjientjie en al met die trein,” skryf Sandra van Eck.

“Niks is gereël, ek klim op Wellington af vir ’n konneksie na Stellenbosch. Wag in die wagkamer, toe kom mev. Rupert en (H.A.) Wenhold my daar haal nadat Paarl-stasie gesê het ek het daar afgeklim. Dit was 2 April 1946.

“Ek eet saam met dr. Rupert en mevrou, die Wenholds en mnr. P. O’Neill-Dunne by Glen Eagles (hulle was almal daar tuis).

“Die middag saam met dr. Rupert kantoor toe – Distillers. Ek moes dadelik no­tules tik. Hulle bou toe nog, daar ons kantore nog nie ruite in die vensters gehad het nie.

“Daarna is ons na Ou Rosenhof in Dorpstraat. Dr. Rupert het sy kantoor behou by Distillers. Soggens op pad het hy by my korrespondensie kom kry om te teken. Gedurende die dag skakel hy en dan moet ek oor die straat na Distillers gaan.

“Toe breek die dag aan en ons gaan Rembrandt-gebou toe. Dr. betrek die Raad­saal met so eenkant in die hoek sy kantoor. Dit was op die eerste vloer.

“Al het ek vir dr. gewerk, het ek ook uitgehelp o.a. vir mnr. Wenhold. Saans het ons gaan notules tik. Mnr. Wenhold en D.M. Hoogenhout proeflees wasvelle en mnr. Stals rol af. Ons het dit ook nie gebind nie en ek moes groen lêers gebruik en maar elke direkteur se naam tik en opplak.

“So het alles verloop en ek is in Julie 1955 weg.”2

Rupert verkies die rustige en landelike omgewing van die universiteitsdorp Stel­lenbosch bo die bedrywigheid en gonsing van die stad. Dit help om spanning te verlig, al werk sy brein teen topsnelhede.

Die dorp se inwonertal was destyds veel kleiner, sowat 12 000, met inbegrip van 2 400 studente. Teen die eeuwisseling ontstaan verkeersknope nadat die stu­dentetal op die dorp tot byna 15 000 aangegroei en die inwoners van die Stellen­bosse landdrosdistrik op meer as 82 000 te staan gekom het.

’n Bykomende voordeel van die dorp se ligging is dat dit slegs ’n halfuur se ry weg is van die Kaapstadse lughawe, van waar Rupert sy internasionale vlugte kon onderneem.

Die Ruperts sou uiteindelik een van Stellenbosch se beroemdste bates word, in bepaalde opsigte selfs wyer bekend as die universiteit. Rupert en Rembrandt word sinoniem met Stellenbosch, en Stellenbosch sinoniem met Rupert en Rem­brandt. Rupert maak die naam van dié rustige Bolandse dorp tewens ’n wêreldbekende handelsmerk.

Hul eerste huis is in Thibaultstraat in die wyk Mostertsdrift, waar hul oudste seun, Johann Peter, wat die stamvader se oorspronklike name gekry het, in 1950 gebore is. Kort daarna trek hulle na ’n huis skuins oorkant die boomryke straat, Thibaultstraat 13, waar hulle die res van hul huwelik sou woon. Hul twee jonger kinders, Anthonij Eduard en Hanneli, is daar gebore, onderskeidelik in 1952 en 1955.

Die dubbelverdiepinghuis aan die wal van die Eersterivier, dofpienk geverf, is aangekoop toe Rupert besluit om nie nog aandele te koop nie, maar eerder ’n woning. Hy meen ’n besturende direkteur moet hom nie met skuld omgeef nie. Later vertel hy dat dit miskien die duurste woonhuis in Suid-Afrika moet wees. Die koopprys van die huis was £6 100 (R12 200). Maar as hy destyds eerder aandele vir daardie bedrag gekoop het, sou dit teen die eeuwisseling meer as R300 miljoen werd gewees het!

Die woonhuis staan op ’n ruim erf met ’n swembad, maar is geensins vertone­rig soos sommige prag-en-praal-paleise van super-rykes nie.

Daar is nie ’n motorhuis nie, die silwergrys Mercedese staan onder ’n afdak. Binne die huis is daar wel Persiese tapyte, antieke meubels en duur skilderye van bekende kunstenaars wat oor baie jare versamel is. Uit die ontvangsportaal gaan besoekers na ’n sitkamer van gemiddelde grootte, met gemaklike leunstoele en ’n boekrak langs een muur vol boeke wat die bewoners se wye belangstel­lings weerspieël.

In die geheel straal die Ruperts se sober lewenstyl uit hul woonhuis. Dat hulle so lank in dieselfde huis bly woon het, is ’n kenmerk wat hulle met ander be­faam­de entrepreneurs deel.

’n Eietydse voorbeeld is die Amerikaanse miljardêr Warren Buffett, wat in 2004 op Forbes se lys van die 500 rykstes as die naasrykste man ter wêreld aangewys is, met bates van $42 900 miljoen (teenoor die $46 600 miljoen van die heel rykste, Bill Gates van Microsoft).

Buffett, bekend as die “Orakel van Omaha”, het steeds gewoon in dieselfde grys stucco-huis in Omaha, Nebraska, wat hy veertig jaar tevore gekoop het. En hy het saam met sy daaglikse steaks en hamburgers vir middag- en aandete pal ’n spesifieke drankie geniet, Coca-Cola, ’n maatskappy waarin hy sedert 1988 belê het. Hy is ook die enigste Amerikaanse sakeman wat Rupert ontmoet het wat die sake van Rembrandt indringend bestudeer het.

Nog ’n bekende entrepreneur wat dekades lank in dieselfde huis gewoon het, was Henry Ford van Model T-faam, wat van sy motorfabriek in Detroit, Michigan, na die nabygeleë Dearborn verhuis het. Daar het hy in 1915 ’n huis op ’n landgoed gebou wat ’n nasionale monument geword het, en waar hy in 1947 en sy vrou in 1950 oorlede is.

“Ons leef baie eenvoudig,” sê Rupert. “My vrou het groen vingers en sy sorg vir haar tuin, ’n baie klein een. Ons leef steeds in dieselfde huis wat ons vyftig jaar gelede gekoop het. Wat doen jy met ’n groter en groter en groter huis? Wat doen jy met sulke dinge? Dis vervelig. Dit maak my nie gelukkig nie. Ek moet help skep.”3

Sy dogter, Hanneli, bevestig dit: “Groot huise en luukse goedere maak nie my ouers gelukkig nie. Hul waardes is meer familiegerig. Hul vriende is universi­teits­professore, en hulle het nie luukse goedere nie.”

Huberte rig die Ruperts se huis in die rustige Thibaultstraat in as ’n tuiste, ’n rusplek en ’n veilige hawe.

Sy besef vroeg dat haar man ’n baie gespanne lewe lei. Hy moes oor naweke aandele verkoop en kon geen tyd vir ontspanning afstaan nie. Sy gee gevolglik baie aandag aan die gesin se dieet.

Sy het self ’n groentetuin aangelê en sorg dat daar vir middagetes, die hoofmaal­tyd van die dag, vars groente op die tafel is, droog gekook sodat die voedsaam­heid inbly. Toe die kinders begin skoolgaan, het hulle gehou van koue slaaie vir middagete, dan het hulle gerasperde wortels en appels met lemoensap daaroor gekry, ook tamaties en pynappel.

Hulle eet nie ryk kos nie, en wanneer hulle oorsee moet wees, verlang hulle na “Annie se kos” – die geregte wat Annie Booysen, hul kok van langer as veertig jaar sedert sy in 1956 by die Ruperts begin werk het, gereeld berei.

Smôrens voordat Rupert kantoor toe gaan, drink hy ’n vrugtedrankie, dikwels vars geelperskes en appels wat versap is. Saans geniet hulle meermale soep, ’n potage uit ’n verskeidenheid van ses, sewe soorte dik soep met groentesoep as basis wat vooraf in blokke gevries en teen die aand se kant ontdooi en verhit is.

Huberte glo dat dit Rupert gesond hou en goed laat slaap. Hy het nooit ’n maag­seer gehad nie.

Hul sosiale lewe word streng beperk. Eenkeer het hulle in ’n jaar se tyd slegs twee keer sosiaal uitgegaan, behalwe waar daar spesifieke uitnodigings was. Om­dat Rupert laat op kantoor gewerk het, was hy onder druk as hy saans in aanddrag swartdasgeleenthede in Kaapstad moes bywoon, en dit is ook tot die mini­mum beperk. Huberte hou haar belangstelling in musiek en teater vol en woon met vriendinne uitvoerings en opvoerings by.

Die nuwe intrekkers op die dorp, toe nog oorwegend deur akademici oorheers, word aanvanklik meesal eerder soos buitestanders en laat aankomelinge behandel, behalwe deur ’n paar aandeelhouers wat goeie vriende word. ’n Latere baie goeie vriend, prof. James Yeats van die regsfakulteit van die Universiteit van Stel­lenbosch, wat ook ’n direkteur van die Rembrandt Groep geword het, neem hulle onder sy vlerk. Yeats, wat in Argentinië gebore is, was ’n briljante student aan wie ’n Rhodesbeurs toegeken is. Soos sy mede-Rhodesbeurshouer Schalk Pienaar, een van die voorste Afrikaanse koerantredakteurs, dink hy hy mors sy tyd op Oxford en keer terug na Stellenbosch, waar hy saam met prof. J.C. de Wet van die belang­rikste Afrikaanse regsboeke skryf. Hy stel die Ruperts bekend aan akademici en ander inwoners en hulle word geleidelik in die gemeenskap ingetrek.

Heelparty akademici word stimulerende gespreksgenote van die Ruperts.

Onder die professore wat naby hulle in Mostertsdrift gewoon het, is C.G.W. Schumann, die ekonoom deur wie Rupert mettertyd as “’n praktiese dromer en ’n realistiese idealis” beskryf is; die landboukundige Len Verwoerd, die broer van Hendrik Verwoerd wat ideologies sterk met die latere premier verskil het; en die letterkundige F.E.J. (Fransie) Malherbe, wie se broer prof. F. du T. Malherbe in Pretoria vir Rupert in chemie klas gegee het; asook die komponis Arnold van Wyk. Die politikus Paul Sauer, latere minister, en sy eggenote, Deborah, het hoër op in die straat ’n huis gehad.

Dirk Hertzog en sy vrou het ook daar naby in Tuinstraat 2 ’n huis laat bou wat hy “Rus Roes” genoem het. Oorkant húlle het die digter Dirk Opperman en sy vrou, Marié, vriende van sowel die Hertzogs as die Ruperts, in Thibaultstraat 3 gewoon. Rupert se broers, Jan en Koos, hoewel meermale in die buiteland, het Stellenbosch ook hul basis gemaak en naby hom gewoon. Die wyk Mostertsdrift en spesifiek Thibaultstraat raak algaande moeilik bekostigbaar vir akademici, wie se salarisse mettertyd al hoe swakker aangepas is, en al hoe meer sakelui en me­dici trek teen die eeuwisseling in die buurt in.

Toe Rupert besluit om met sigarette te begin, val sy keuse vir ’n sigaretfabriek op die Paarl, geleë in die Bergriviervallei. Hy was oortuig dat die Paarl net die regte klimaat het vir die veroudering van tabak en die vervaardiging van sigarette.

Dit is na hierdie vallei dat Jan van Riebeeck, goewerneur van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie, in Oktober 1657 ’n ekspedisie gestuur het. Twee­honderd-en-negentig jaar later kom Rupert as ’n nuwe pionier na die Paarl. Soos Van Riebeeck het hy ook ’n droom gehad, maar daarby die wilskrag en inisiatief om sy droom werklikheid te maak.

Rupert begin met sy sigaretfabriek in die Paarl ondanks min kapitaal. Rem­brandt se aanvangskapitaal was net £125 000.

Daar was ook ander probleme. Ná Daan Hoogenhout se vertrek is Hennie van Zyl, verkoopbestuurder, gevra om as bestuurder van Voorbrand oor te neem. In 1946 besluit Van Zyl egter om saam met ’n vriend by SAPRO, ’n leerkofferbesig­heid, in Port Elizabeth te gaan werk.

Die enigste geskikte persoon wat Rupert kon vind om die taak by Voorbrand te onderneem, is sy jonger broer Jan, wat in daardie stadium in ’n prokureursprak­tyk in Port Elizabeth met sy vader, John Rupert, was nadat hy hom die vorige jaar as prokureur bekwaam het. Jan willig in om na Rembrandt te kom en reël die verskuiwing van die fabriek in Johannesburg na die ou meul in die Paarl waar Rupert van plan was om nuwe sigarette te loods. Voorbrand se produksiebates en handelsmerke word vir ’n bedrag van £70 000 aan Rembrandt oorgedra. Aandeel­houers in Voorbrand verkry vanweë die nuwe ontwikkelings ’n belang in Rem­brandt, wat steeds ook pyptabak verwerk. Rupert self word gemagtig om aansoek om £70 000 se aandele in Rembrandt te doen.

Van Zyl se besigheid by SAPRO het spoedig ook misluk en hy kom in 1948 terug na die groep as sigaretverkoper. Hy en Hoogenhout was van die eerstes van ’n hele aantal werknemers van Rembrandt wat die groep verlaat en daarna teruggekeer het, sonder dat Rupert hulle dit ooit verkwalik het.

Die groep se ander medestigter, Hertzog, was in die vroeë stadium steeds ’n vennoot van die prokureursfirma Couzyn, Hertzog & Horak in Pretoria. Weens ’n terugslag as gevolg van diefstal deur iemand in sy afdeling besluit Hertzog om hom eerder op Stellenbosch by die groep aan te sluit.

Sy skerp regsbrein was ’n bate vir die nuwe groep, maar ná ’n jaar sê hy hy wil teruggaan Pretoria toe. As kranige tennisspeler glo hy dat hy om gesondheidsredes minstens weekliks moes speel en die Kaapse winterweer maak dit nie altyd moontlik nie. Sy vrou, Lorraine (gebore De la Harpe), ’n Pretorianer, pas haar ook moeilik in die nuwe omgewing aan ná die verlies van ’n doodgebore baba en mis aanvanklik haar noordelike vriendekring.

Nadat Hertzog eers in Arcadia in Pretoria gewoon het, koop hy by sy terugkeer na die Noorde ’n huis in Waterkloof en praktiseer daar as regsgeleerde. Die aanpassing is egter moeilik en hy vra mettertyd om na Stellenbosch terug te keer. In die proses besluit hy om ’n klein besigheid wat hy met sy broer se geld bedryf het, te saneer of te verkoop. Die besigheid, wat haarkleurstof en toiletware ge­maak het, is uiteindelik verkoop en die verlies afgeskryf. Hertzog beëindig sy ver­bintenis met Couzyn, Hertzog en Horak in 1953.

Rupert merk in sy stigtersnotas op dat Hertzog, wat intussen begin gholf speel het, ná sy terugkeer tevrede in die Kaap was. Hertzog, wat die res van sy loopbaan in die Rembrandt Groep was, kon self ’n jaar nadat hy terug op Stellen­bosch was, in sy memoires daaroor opmerk: “Nou ja, dit is nou alles anders. Werk en speel is al byna net so volop as in Pretoria. My werk is veel meer bevredigend as daar. Kantoor is groter. Ek is beslis onderkant Anton. Hy het aangebied ’n mede-besturende direkteur, maar dit het ek afgewys en gesê ek wil onder hom werk van­weë die feit dat hy meer dan ek weet op die terrein. Hy is dus nou voorsitter van TIB en ek besturende direkteur – ons het omgeruil. By RBB is ek nou voorsitter en hy besturende direkteur.”

Die enigste probleem volgens Rupert in sy stigtersnotas was dat Hertzog, ’n ywerige polemikus wat talle briewe aan koerante geskryf het, op enige ander tyd as gedurende kantoorure moeilik beskikbaar was. Hertzog weer redeneer dat hy ’n volle dag se werk met volle konsentrasie insit en dus nie tuis of op die gholfbaan gepla wil wees nie. Hy glo boonop dat hy baie liggaamlike oefening moes kry omdat hy as kind sieklik was. Hy was ’n asmalyer wat op negejarige ouder­dom ook rumatiekkoors gekry het wat hartklepletsels gelaat het. Toe hy twintig was, het drie versekeringsmaatskappye sy aansoeke om ’n lewenspolis afgewys; volgens hulle was sy lewensverwagting “nie eens vyf jaar teen ’n premie nie”. (Hy korswil dat die versekeraars nagelaat het om ’n nul by die vyf te voeg.) Hy moes sorgvuldig op sy dieet let, met spoorelementpille en aanvullende mikro­voedingstowwe.

Ná ’n motorongeluk in 1968 waarin sy vrou ernstig beseer is en ’n invalide vir die res van haar lewe geword het, vind Hertzog dit ook prakties moeilik om oor­see te reis.

Hy probeer vroeg-vroeg om Rupert in gholf geïnteresseerd te kry. Ná ’n paar probeerslae sê Rupert egter reguit dat hy op die gholfbaan net ’n gek van homself maak. Jare daarna raak Rupert se oudste seun, Johann, egter ’n geesdriftige gholfspeler. Hy is bevriend met gholfhelde soos Ernie Els en Trevor Immelman, dien as voorsitter van die PGA in Suid-Afrika en moedig die ontwikkeling van jong gholfspelers aan.

Twee ander bekendes verlaat die groep ook in ’n vroeë stadium.

Die een is J.F. (Freddie) Kirsten, boer van die Paarl, wat uit die direksie van TIB tree nadat hy ’n belang in ’n drankwinkel verkry het. Die ander is Fritz Steyn, die prokureur wat tevore TIB se aandele teen ’n hoër prys teruggekoop het. Rupert-hulle help hom om ’n dranklisensie te bekom. Hoewel Rupert-hulle die aansoek finansier, eis Steyn daarna die lisensie vir homself op. Toe Rupert hom daarop wys dat hy eintlik namens TIB, waarvan hy direkteur was, die lisensie verkry het, bedank Steyn in 1948 uit TIB se direksie. Rupert het Steyn, wat later ’n Trans­vaalse LUK, Volksraadslid, ambassadeur en regter geword het, nooit weer daarna gesien nie.

Rupert verwys in sy voorsittersrede van Rembrandt Beherende Beleggings in 1996 na diegene wat in die eerste tien jaar gekom en gegaan het, en dié wat terug­gekom en tot die einde gebly het: “Daar het min van ons oorgebly wat die geloof gehad het. Ek dink net dr. Stals en ek het werklik geglo. Ons het bly glo dat hier­die dinge moontlik is; dat hy wat nie in wonderwerke glo nie, nie ’n realis is nie.”

Stals, voorsitter van Voorbrand, word Rembrandt se eerste voorsitter, en Rupert die eerste besturende direkteur. Toe Stals in 1948 as minister in dr. D.F. Malan se nuwe kabinet aangestel word, word hy as voorsitter deur dr. Nic Diederichs op­gevolg.

Rupert boekstaaf sy hoë dunk van Stals by geleentheid van sy mentor se se­wen­tigste verjaardag, ’n paar maande voordat Stals op 5 Februarie 1951 oorlede is.

Hy doen dit in ’n artikel, onderteken deur A.E.R., in Tegniek se uitgawe van Sep­tember 1950 waaruit blyk dat Stals in ruime mate Rupert se geloof in mede­be­staan gedeel en waarskynlik verder geïnspireer het. Stals se “fynheid van gees” – een van die opperste komplimente wat Rupert aan ander mense gee – het ’n onuitwisbare indruk op hom gelaat. “Gedurende my lewe het ek nog nooit ’n mens teëgekom wat volgens my insig ’n volmaakter, eerliker, opregter Christen-mens is nie.”4

Benewens hy en Stals is die ander lede van Rembrandt se eerste direksie C.C. (Oupa) Kriel, D.W.R. (Dirk) Hertzog, I.M. (Ivan Makepeace) Lombard, J.H. (Jan) Steyn en R.L. (Roulou) Barry.

Die verhuising na Stellenbosch val saam daarmee dat Rupert ook in die nuwe omgewing by ’n afdeling van die Afrikaner-Broederbond ingeskakel word.

Tussen September 1945 en Januarie 1947 word in die AB besprekings oor eko­nomiese aangeleenthede gevoer waaraan Rupert deelneem as een van ’n veertigtal lede wat verteenwoordigend van die grootste Afrikaanse sakeonderne­mings is. Spanning blyk tussen AB-lede se volksentiment wat om ’n gemeenskap­likheid van strewe roep en hul besef dat markkragte en individuele inisiatief ten grondslag aan die stelsel van vrye mededinging lê. Die debat wat vroeër tussen ’n sosialistiese en vryemarkbenadering geheers het, word in hierdie tyd af­ge­rond met ’n lojaliteitsbetuiging teenoor die vrye mark.5

In hierdie besprekings, waar Rupert hom aan die kant van die vryemarkstel­sel bevind, vertel hy onder meer dat terwyl hy in die Noorde was, hy nie kon verstaan waarom daar ’n agterdog en argwaan van die kant van die Suide teen­oor alles van die Noorde bestaan nie. Hy pleit dat daar ’n beter verstandhouding kom en ook dat die groter instellings hulle oor die jongeres ontferm en omstan­dig­hede help skep waarbinne die kleiner ondernemings natuurliker en voordeliger sou kan groei.

Rupert se pleidooi is betekenisvol in die lig van slepende Noord-Suid-onmin in die Afrikanerpolitiek. Hoewel dit etlike jare voortsleep, kon hy nooit onmis­kenbaar met enige van die faksies vereenselwig word nie.

Binne die AB was daar ook groot verskille oor ’n verskeidenheid kwessies en Rupert het, soos hy dit self stel, “my standpunt gestel”. Dit behels onder meer dat hy medebestaan bepleit.

Hy neem nog deel aan besprekings in die jare vyftig. Op ’n bondsraad van 4-5 Oktober 1956 waar die Afrikaner se ekonomiese strewe hoog op die sakelys staan, stel sommige sprekers ’n kwotastelsel voor as ’n “magtige instrument” om aan jong en opkomende Afrikaanse sakeondernemings ’n vastrapplek in die handel en nywerheid te verseker. Die uitvoerende raad van die AB word versoek om ka­binetslede te bearbei om ’n grondslag te probeer vind “waarop Afrikaner-onder­nemings in meerdere mate deur die toekenning van kwotas begunstig kan word”.

Rupert, wat een van drie referate op die bondsraad lewer, wys egter daarop dat ’n eie sakestyl, realisme, entoesiasme en lojaliteit die belangrikste vereistes is om sukses te behaal. ’n Tweede referent, dr. A.D. Wassenaar van Sanlam, beklemtoon hierbenewens dat, benewens magte van buite wat teen die Afrikaners se voor­uitgang werk, die vernaamste struikelblokke geleë is in die Afrikaners se eie opvatting oor en benadering van hul probleme.

Die uitvoerende raad reageer “bra flou” op besluite oor sake soos ’n kwota­stel­sel, ’n idee wat vroeër ook deur dr. Hendrik Verwoerd gepropageer is. Kwo­ta­­stelsels, wat weer ná die bewindsoorname van die ANC in 1994 in die nuwe regering se transformasieplanne en regstellende aksie sou figureer, is binne enkele maande na die bondsraadsbesluite van 1956 van die uitvoerende raad se agenda geskrap.6

Rupert raak algaande ook tot die oortuiging dat die vroeëre noodsaak vir ’n organisasie soos die AB verminder het ná 1948, toe “ons eie mense aan die be­wind gekom het”. Sy vader was gekant teen geheime organisasies en h´y het nooit lid van die AB geword nie, al was sy vriend ds. Jozua Naudé ’n stigter en die eerste president van die bond. John Rupert het geglo dat daar altyd ’n knoeiery in ’n ge­heime organisasie ontstaan.

Sy siening laat sy seun mettertyd toenemend ongemaklik voel. Rupert se deel­name aan aktiwiteite van die AB, wat volgens hom mettertyd ’n “onding” ge­word en “kontraproduktief begin werk het”, neem algaande af. In die jare sestig word in ’n omsendbrief van die bond vermeld dat hy net twee van die jaar se maandelikse vergaderings van die afdeling Helderberg bygewoon het.7

Uiteindelik verval sy lidmaatskap. Maar hy skend nooit soos Beyers Naudé (wat 22 jaar lank lid en in Emmarentia die voorsitter van ’n AB-afdeling was) en Albert Geyser (wat nooit vir AB-lidmaatskap in aanmerking gekom het nie) die vertroulikheid van die organisasie nie.

Hertzog skryf in ’n interne memorandum oor ’n bewering in Dan O’Meara se Volkskapitalisme dat “the Bond-connection was vitally important to the early development of Rembrandt” die volgende: “Die lede van die Broederbond, die Red­dings­daadbond en tewens talle ander mense het Rembrandt ondersteun, maar dat dit deur die Broederbond gestig is, is kaf.” Hy sluit die memorandum af: “Rem­brandt het destyds voorsien aan ’n behoefte om die Afrikaner op ’n gesonde grond­slag na die sakelewe te voer en het daarna wyd bekend geword vanweë sy pionierswerk in 50/50 vennootskap met alles wat dit meebring aan internasionale en intergroep samewerking. Hiervoor en vir die handhawing van hoë gehalte in produkte en dienste sal Rembrandt bekend bly ongeag al die modder wat van tyd tot tyd gegooi word deur mense wat ’n eie byltjie te slyp het.”8

Oor ’n moontlike voorkeurbeleid vir Broederbonders is Rupert adamant: “Ek het nooit lidmaatskap van die Broederbond as ’n kriterium by aanstellings ge­bruik nie. Lidmaatskap van die Broederbond was nie vir my ’n rede tot voor­keurbehandeling nie.” Hy het dit ook beleid gemaak om nooit enigiemand in sy groep te verplig om Afrikaans te praat nie.

Juis so ’n Engelssprekende met wie hy ’n lang verbintenis sou handhaaf, be­soek Stellenbosch in 1946 – die Londense bemarkingskundige Patrick O’Neill-Dunne van Rothmans, vir wie ’n konsepkontrak opgestel word om Rothmans se produkte in Suid-Afrika te help bemark.

’n Ou koringmeul langs die Bergrivier in die Paarl word as die groep se eerste siga­retfabriek ingerig. Rupert moes tot 1947 wag voordat die eerste sigaretmasjiene opdaag. Dit kom uit Kanada. Hulle koop in daardie jaar met behulp van Dawid de Waal Meyer, Suid-Afrika se handelskommissaris in Montreal, die masjiene van ’n klein fabriek van ’n maatskappy in Kanada wat Dunhill-sigarette gemaak het en ná die oorlog nie die mas kon opkom nie.

In die begin van 1948, soos Rupert dit stel, “het ons uiteindelik met twee ou primitiewe sigaretmasjiene die stoute skoene aangetrek om sigarette te begin maak, met oorsese kennis en Suid-Afrikaanse kapitaal”.

Agterna wonder hy, gedagtig aan die relatiewe posisie van sy klein Gideons­bende en die wêreldmagte in daardie stadium, of hy die moed sou gehad het om dit weer te doen. Mense sê “A little knowledge is a dangerous thing”, maar as hy geleerdes en homself betrag, dink hy “A great deal of knowledge is a dangerous thing” – want jy word bang. Dit word ook een van die redes waarom hy graag jong mense aanstel om ’n moeilike taak te verrig – want ouer mense met meer kennis is geneig om net die gevare en slaggate raak te sien. Jong mense bou brûe om probleme.

Sy groep het ten aanvang ’n bietjie kennis gehad, maar heelwat moed en ba­siese integriteit. “As ek mag praat as die enigste oorlewende van die oorspronklike pioniers, wil ek sê dat ek nie skaam is om te noem dat ons die sakelewe betree het om ’n eie staanplek te verwerf nie. Om saam te werk met ander, maar nie altoos vir ander nie.”

Hulle begin “met waagmoed” in die tabakbedryf, wat van lank tevore dateer. Die oorsprong van sigarette word teruggevoer na inboorlinge van Noord- en Suid-Amerika soos die Asteke en Majas wat opgekerfde tabak in buisvormige pype gerook het. In die sestiende eeu maak sir Walter Raleigh pyprook in die Engelse koningshuis gewild, en in Spanje word tabakplante as medisinale kruie gebruik. Teen die sewentiende eeu word die verbruik van tabak verbied in Oos­tenryk, China, Persië (waar ’n tabakhandelaar lewend verbrand word) en die tsaris­tiese Rusland (waar lyfstraf vir ’n eerste oortreding geld en ’n tweede die dood­straf beteken).

Die rookgewoonte neem daarna veral tydens oorloë toe. In die Krimoorlog van 1854-’56, waarheen Rupert se voorvader bestem was om te gaan, leer Engelse en Franse soldate om Turkse sigarette te rook. Teen 1880 ontwerp en patenteer James A. Bonsack en James Buchanan Duke in die VSA sigaretmasjiene. In die twee wêreldoorloë neem tabakverbruik drasties toe, en genl. John Pershing kom met ’n dikwels aangehaalde kwinkslag vorendag: “Julle vra my wat is nodig om die oor­log te wen? My antwoord is tabak net soveel soos koeëls.” Met die toetrede van die VSA tot die Tweede Wêreldoorlog verklaar pres. Franklin Delano Roo­se­velt tabak tot noodsaaklike oorlogsmateriaal en hy verleen vrystelling van mili­têre diensplig aan tabakkwekers. Daarteenoor is die tabakrantsoene van die Nazi­troepe van Adolf Hitler, ’n nieroker wat ook die eerste moderne antirook-veldtog in die jare dertig begin het, streng beperk tot ses sigarette per dag.

Nog groot stukrag vir die sigaretbedryf is die koms van rolprente. Gewone mense kon nie die seiljagte, pelsjasse en luukses bekostig wat die akteurs en ak­trises in rolprente vertoon nie, maar hulle kon wel die sigarette rook wat hul helde van die silwerdoek openlik gebruik. Sigaretverbruik styg ná die Tweede Wêreldoorlog en beleef in die jare vyftig ’n hoogty.9

Teenkanting teen die rookgewoonte begin geleidelik nadat die tydskrif Reader’s Digest in 1952 ’n artikel getitel “Cancer by the Carton” geplaas het, en die Ameri­kaanse geneesheer-generaal bring sy eerste verslag oor rook in 1964 uit. Verskeie regerings begin in die dekades daarna maatreëls teen rook en tabakadvertensies instel; Suid-Afrika volg eers in die jare negentig.

Die eerste sigaret in Rembrandt se fabriek in die Paarl word op 4 Junie 1948 deur dr. M.S. (Tienie) Louw van die produksieband afgehaal. Aanvanklik wou Louw dit nie doen nie, aangesien hy ’n goeie vriend van Johannes du P. Oost­hui­zen van United Tobacco, ’n swaer van Klaas Havenga, minister van finansies, was. Maar Rupert oorreed hom dat hy die taak in sy hoedanigheid as president van die Afrikaanse Handelsinstituut kon verrig.

“Die eerste Afrikaanse sigaret was op die mark,” kon Tegniek kort daarna vreug­devol berig. Die sigaret was ’n Rembrandt, ’n korte; met ’n lengte van 70 mm dus korter as byvoorbeeld die latere langer koningsformaat-sigarette van 85 mm.

Die eerste sigaret is gemaak deur A.P. (Pappa) Thierack, wat Rupert in 1945 ontmoet en in 1947 die eerste stoomketel en standaardpakmasjiene in die ou meul geïnstalleer het. Onder andere help twee bruin werkers, Moos du Preez en James Martin, wat dekades lank by die groep sou bly, hom om die eerste sigaretmasjiene te monteer. Swart werkers hanteer die bale tabak en vol kartonne sigarette en pyptabak. Volgens Thierack is aanvanklik 100 000 sigarette per dag vervaardig. Mev. H.J. Muller het die eerste pakkie se sellofaan met ’n strykyster vasgebrand en ook die eerste aksynseël met die hand op die pakkie geplak. Sy vertel dat daar­na “met baie kopkrap, pas en meet, word daar ’n masjien gebou deur Bakoor Smit wat bestaan het uit ’n naaimasjienwiel en ’n fietsketting”.10

Die nuwe sigarette verskyn op die mark ’n week nadat die Nasionale Party van dr. Malan, wat ’n verkiesingspakt met Havenga se Afrikanerparty aangegaan het, in die verkiesing van 26 Mei 1948 die bewind by genl. Smuts se Verenigde Party oorgeneem het. Nasionalistiese gevoelens het hoogty onder Afrikaners ge­vier. Sommige politieke ontleders voer aan dat die NP se beleid van “apartheid” die deurslag in die nuwe Afrikanerregering se oorwinning by die stembus ge­gee het. Maar heelparty ander meen dat Smuts se besluit oor deelname aan die oorlog wat nie aan ’n volkstemming onderwerp is nie, die swaarkry in die oorlogsjare ná die Depressie, die diskriminasie teen Afrikaners in die staatsdiens en elders, asook die griewe van teruggekeerde soldate teenoor wie Smuts se beloftes nie nagekom is nie, ’n veel belangriker rol gespeel het. Malan verwoord die ge­voelens van baie Afrikaners: “Ons voel weer tuis in ons eie land.”

Aanvanklik konsentreer Rembrandt net op die Wes-Kaap. Soos Rupert dit later sou motiveer: “Sir Francis de Guingand (stafhoof van die Britse veldmaarskalk Montgomery in die Tweede Wêreldoorlog) het gesê: ‘If you overextend you are a Napoleon or a Hitler.’ Dis nie iets wat ons gedoen het nie.”

Area vir area is letterlik oopgeveg, en so word belangstelling in en ’n vraag na die nuwe groep se produkte geskep. Die voorposte skuif uit, van die Boland na die Suidwestelike Distrikte, die Karoo, Namakwaland, die Oos-Kaap, Kim­ber­ley, die Vrystaat. Eers ná ’n jaar word die Vaalrivier oorgesteek en arriveer hulle in Johannesburg, 1 500 kilometer van Kaapstad, hoewel hulle geweet het in die Goudstad wag ’n wins.

Die vervaardiging van Rothmans-sigarette onder lisensie verloop ook volstoom van 1949 af en die tegniese vaardigheid wat daarmee gepaardgaan, gee aan Rem­brandt ’n besonder mededingende voordeel. Rembrandt betaal aanvanklik tantième aan Rothmans vir die buitelandse kundigheid. Uiteindelik sou Rem­brandt beheer oor Rothmans of Pall Mall in Engeland oorneem.

Daar was aanvanklik nie veel kontant nie, maar werknemers is besiel met die oortuiging: ’n Boer maak ’n plan. Teen die muur van die fabriek is ’n plakkaat met die naam Rembrandt en ’n tekening van die grootmeester aangebring. Onder die naam staan die credo wat die werknemers inspireer: “Elke sigaret móét ’n mees­terstuk wees.”

Dit vertolk Rupert se klem op gehaltebeheer.

In die groep se kantore word ook ’n tekening aangebring wat die wedloop tus­sen die hasie en die skilpad uitbeeld. Die onderskrif lui: “Dit is die laaste tien tree wat tel.”

Die bedoeling daarvan is om werknemers daarvan “bewus te maak dat ’n mens nie op jou louere moet rus en gaan lê en slaap nie”.11

Dit is ’n tipiese karaktertrek van Rupert: Hy is nooit selftevrede nie. Hy was pal ongeduldig met die status quo. Hy daag dit selfs uit – voortdurend op soek na nuwe moontlikhede en geleenthede.

Die sakeman hier aan die woord is iemand van wie dit bekend is dat hy ’n harde werker is; dat hy tot twaalf uur per dag op kantoor deurbring. Almal wat hom ken, is dit eens dat hy ’n geweldige werkvermoë het. Hy is selfs by geleent­heid beskryf as ’n “marathonatleet”. Hy kon uur na uur volhou sonder om ge­spanne of geïrriteerd te raak.

Dit het sy senior personeel onder druk geplaas, maar ook geïnspireer. Die ge­volg was dat hulle baiekeer saans tot tienuur, soms selfs tot naby middernag, op kantoor gebly het. Verskeie mense in die groep beklemtoon dat Rupert laatmiddae op sy sprankelendste en aktiefste is.

Toe sy vrou hieroor uitgevra is, was Huberte se veelseggende antwoord: “Ander mans kom ook laat tuis, maar miskien van die gholfklub of die kroeg af. Nee, ek dink dit is sottigheid om te kla as jy weet jou man is besig om te werk.”12

Die personeel in die Paarlse fabriek was nie groot nie. Geld was te skaars. Daar is dag en nag gewerk. Uitbreidings aan die bestaande geboue is nie toegelaat om die produksieplan te kniehalter nie. Toe ’n ander gebou by geleentheid nodig word om die blaarafdeling te huisves, word dit rondom die bestaande gebou opgerig. Terwyl gebou is, kon die werk in die bestaande gebou dus voortgaan. Toe die nuwe gebou uiteindelik klaar was, is daar oor ’n naweek gewerk om die binneste mure uit te slaan en te verwyder.

Die hoeksteen van die Paarlse gebou word op 22 September 1951 deur mev. Annie Stals, weduwee van dr. A. J. Stals, eerste voorsitter van Rembrandt, gelê. Mettertyd brei die groep so uit dat van die oorspronklike gebou van 1948 naderhand net ’n muur en twee palmbome oorgebly het.

Een van die ernstigste probleemsituasies waarvoor Rembrandt vroeg te staan kom, is die kwotastelsel wat die nuwe regering opnuut ná die oorlogstydse rantsoenering van goedere heringestel het.

Die kwotastelsel berus op die status quo – die owerheid het eenvoudig ’n ba­siese tydperk uitgesoek waarin ’n besondere onderneming se verbruik vasgestel is en dan is die toevoer van voorraad aan so ’n vervaardiger op daardie hoeveelhede vasgepen.

Die gevestigde fabrikante word klaarblyklik uitermate bevoordeel en hulle maak sakkevol geld, maar die gevolge vir nuwe toetreders is dodelik. Sulke be­perkings strem hulle onhoudbaar. Dit was ook in die oorlogsjare die geval met die tabakkwotas en beperkings op die invoer van sigaretmasjiene en -papier.

Rupert se besware teen die kwotastelsel word belig in die tweede uitgawe van Tegniek, die Afrikaanse nywerheidsblad wat hy in Augustus 1948 in samewer­king met ander Afrikaanse ondernemings lanseer.

Hy skryf self in die eerste uitgawe van Tegniek hy glo dat die nywerheid die gebied is waarop die Afrikaner die meeste sal presteer. “Ons het die meganiese aanleg en kan arbeid hanteer. Is elke grootboer dan nie ’n kleinskaalse nyweraar van sy eie nie? Elke werkplek met 3 of meer is trouens ’n fabriek.” Hy wys daar­op dat die private fabrieksnywerheidswese verreweg die grootste bydrae tot die volksinkome lewer, naamlik £175,1 miljoen of 21,6%. “Omdat ons nog maar 1% van hierdie nywerhede beheer, lê ons toekoms voor,” sluit hy af.

Op bladsy drie van hierdie eerste uitgawe van Tegniek verskyn ’n fotoartikel onder die banieropskrif: “Fenomenale sukses van die Eerste Afrikaanse Sigaret.” Daarin word berig dat die blad Central News die geheim van Rembrandt se sukses, behaal binne een jaar nadat die eerste sigaret van die masjiene in die Paarl gekom het, soos volg verklaar: “Die uitbreiding en gewildheid van Rembrandt-sigarette is ’n vrug van die maatskappy se vaste beleid om aan die Suid-Afri­kaanse publiek die beste rookkwaliteit teen die billikste prys te verskaf, en aan die maat­skappy se ondernemingsgees om die beste gebruik te maak van nuwe ontwikkelings wat hierdie doel mag bevorder.”

In die tweede uitgawe van Tegniek word egter tot die aanval oorgegaan. Nuut ingestelde kwotas het so ’n bedreiging vir die welslae van die pas gestigte tabakmaatskappy ingehou dat dit die aanleiding is tot striemende kritiek op die kwo­ta­stelsel wat in hierdie uitgawe van Desember 1949 uitgespreek word. Die betrokke artikel deur ’n regsgeleerde (vermoedelik James Yeats) basuin in groot letters uit: “KWOTAS MAAK ONS DOOD! Die Afrikaner vra net die reg om te kompeteer.”

Die tydskrif beland op die lessenaar van die minister van ekonomiese ont­wik­keling en mynwese, Eric H. Louw, wie se foto groot op die voorblad pryk, ironies met sy eie gelukwensing daarby: “Ek wens Tegniek alle sukses toe.” Hy is woedend oor die artikel, waarin betoog word: “Dit word tyd dat ons as volk besef dat rant­soenering op die status quo-basis ’n kniehalter om die been van Afrikanersake is wat so gou as moontlik losgemaak moet word!”

’n Paar harde waarhede word kwytgeraak: “Die feit dat langdurige rant­soe­nering op ’n vaspenbasis monopolieë in die hand werk, aanleiding gee tot ’n swart­mark in kwotas en dergelike algemeen bekende nadele word egter in Suid-Afrika oortref deur ’n ander ernstiger gevaar van nasionale aard: In byna alle gevalle is die gevestigde belange in die hande van uitlanders terwyl die opkomende sake in die hande van Afrikaners is. Nie alleen is dit die posisie van die Afri­kaans­spre­kendes nie; maar dit geld ook vir Engelssprekende Afrikaners teenoor uitlan­ders . . .”

Die staat word daarvan beskuldig dat hy uitlanders beskerm ten koste van die ontwikkeling van landsburgers se ondernemings en Afrikaners van staatsweë belet om hul bedrywe ten volle te ontplooi.13

Hoe woedend Louw ook al was, die logika is onweerlegbaar – des te meer omdat die artikel beklemtoon dat die Afrikaner “hier geen beskerming of be­voor­regting vra nie, hy vra slegs die reg om te kompeteer”.

Rupert, vasbeslote dat die kwotastelsel ingrypend gewysig en rantsoenering afgeskaf moes word, was bereid om tot aktivistiese optrede oor te gaan. Hy dreig teenoor die sekretaris van handel en nywerheid, Frans du Toit – wie se assistent Dawid de Waal Meyer was, die halfbroer van Dirk Hertzog – dat hy die fabriek in die Paarl gaan sluit as hy nie sy regmatige kwota kry nie. Hy was ook van plan om meisies met spesiale Voortrekkerrokke na die opening van die parle­ment te stuur om op die trappe te gaan sit en tot ’n jaar lank daar te betoog met plak­kate waarop staan: “Kwotas maak ons dood!”

Rupert vertel self dat sy dreigemente ’n “gefladder in die duiwehok” veroorsaak het. Die regering, gewaand goedgesind teenoor Afrikaanse ondernemings, swig eerder “onder druk en dwang”. Uiteindelik word van regeringskant om voor­stelle oor die kwotastelsel gevra. As gevolg van die bedryfsvertoë word ’n soepeler stelsel ingestel voordat die kwotastelsel finaal afgeskaf is. Daarvolgens kon vervaardigers self hul behoeftes bepaal en dit kon dan sesmaandeliks op­waarts of afwaarts aangepas word op grond van die betrokke tydperk se produksie. Die groter vermoë tot mededingendheid dien as ’n verdere hupstoot vir Rembrandt.

Nie ’n mens wat wag vir dinge om te gebeur nie, maar iemand wat self dinge laat gebeur, registreer Rupert baie gou Rembrandt se handelsmerk in sewentig lande. Dit is in daardie stadium iets seldsaams, want van Afrikaanse kant is slegs die KWV se handelsmerk in die buiteland geregistreer. Rupert se vroeë besef van die belang van handelsmerke, iets wat mettertyd byna ’n obsessie by hom word, sou ’n deurslaggewende faktor wees in die welslae wat sy groep wêreldwyd behaal.

Die naam Rembrandt vind spoedig so wyd ingang dat die groep in die middel van die jare vyftig in advertensies in die pers moes waarsku dat misbruik van die naam aanleiding tot vervolging kon gee.

Verkoopverteenwoordigers van Rembrandt ry nogtans in die beginjare nie met spoggerige motors nie. Meermale kom hulle met kartonne sigarette op hul skou­ers by handelaars aan.

Die eerste sigarette word ook aan aandeelhouers verkoop, nie gratis aan hulle gegee nie. Dit geld onder andere vir tabakboere wat aandele begin koop het, be­moedig daardeur dat ’n jong Afrikaner opgang maak in ’n bedryf wat voorheen deur andertaliges oorheers is. Verteenwoordigers kry opdrag om minstens een kar­ton sigarette aan aandeelhouers te verkoop. Want, sê Rupert, “jy gee nooit vir iemand iets vir niks nie, omdat hy jou nie daarvoor respekteer nie en in elk geval geen waardering het vir wat hy kry nie”.

Mededingers spot aanvanklik met die bedrywighede langs die Bergrivier. Daar was nie baie geld vir reklame nie; in die eerste ses maande net £300 per maand. Rupert-hulle was egter vindingryk met hul skrapse bemarkingsmetodes. Voer­tuie is in twee kleure geverf, die een helfte groen en die ander helfte rooi, iets heeltemal nuuts in Suid-Afrika, en as bewegende reklameborde gebruik. En klei­ner reklameborde van metaal is op strategiese punte geplaas.

Bemarking sou ’n vername kragbron vir die Rembrandt Groep word. Rupert se tydgenote het die klem nog op vervaardiging geplaas; hy gee aan bemarking ’n nuwe gewig wat goud werd word. Hy bou spoedig ’n goeie biblioteek oor be­marking en reklame op, en vereis dat sy medestanders dit lees. Hy teken in op tyd­skrifte soos Fortune en koerante soos The New York Times en The Wall Street Journal.

Rupert het benewens sy aanvoeling vir die mark en kopers se voorkeure ’n groot waarheid omtrent reklame gereeld by sy bemarkers ingeskerp: “Adve­rten­sies kan nooit eenvoudig, opreg en herhalend genoeg wees nie.”

Daarby is Rembrandt se fabrieke spoedig meer gemeganiseer en sy werksaam­hede meer kapitaalintensief as dié van mededingers, terwyl hy terselfdertyd groot klem op produktiwiteit plaas.

In die beginjare is daar meer as een voorval wat Rupert net meer vasbeslote maak om te slaag, afgesien van die aanmerking oor “klein Voorbrand” van United To­bacco se grootbaas, M.E. Risien.

Rupert gaan ’n slag in Kaapstad by die Nasionale Pers navraag doen of hy met sy skraps advertensiebegroting ’n advertensie op die voorblad van Die Huis­ge­noot, die grootste gesinstydskrif, kon plaas. Die Pers se destydse advertensie­be­stuurder het die advertensies van Die Burger sowel as Die Huisgenoot gehanteer. Die lang, skraal man was kort tevore in ’n motorongeluk en sit met sy beseerde been uitgestrek op ’n stoel toe Rupert in Keeromstraat in Kaapstad aankom. Hy reageer afwysend, aangesien United Tobacco reeds die voorblaaie lank vooruit bespreek het. Half spottend sê hy aan Rupert: “Man, ek wens julle word ook so groot soos jul opposisie, dan kan julle ons eendag ook afdreig.”

Rupert gaan daar weg met die vaste voorneme dat hy dit inderdaad sou reg­kry en dat sy groep ook prima advertensieruimtes sou bekom. Kort voor lank ge­beur dit wel: Met verloop van tyd oorheers Rembrandt se volbladadvertensies maande lank die buiteblaaie van Die Huisgenoot en vele ander tydskrifte. En Rem­brandt se aggressiewe reklameveldtogte word ’n voorloper in die advertensie­bedryf.

In die beginjare ontstaan die verdere probleem dat geen fabrikant vir Rupert sigaretdose wou maak nie. Hulle maak dit aanvanklik self met die hand. Uit­ein­delik doen ’n fabrikant wat die masjiene gehad het en vir Rupert se opposisie kar­tondose maak, dit ook vir hom.

Weer eens word ’n aanvanklike nadeel in ’n voordeel omgeskep; die soort ge­beurtenis wat Rupert vas laat glo dat elke terugslag ook ’n geleentheid bied. Rem­brandt kon ’n beter produk en beter verpakkings ontwikkel. Teen 1972 behoort die helfte van die betrokke fabriek wat die kartondose maak, aan die Rem­brandt Groep en die ander helfte aan St Regis, ’n groot groep in die VSA.

Die snelle vordering van Rembrandt word vroeg reeds beskryf in Inspan, die orgaan van die FAK en die Reddingsdaadbond: “Nieteenstaande ’n sterk mee­din­gende mark het Rembrandt met sy beleid van kwaliteit eerste een van die lei­dende sigarette in Suid-Afrika geword en word waarskynlik deur meer blankes gerook as enige ander sigaret.” Hierdie verbasende sukses het ook in die buiteland opspraak gewek waar Rembrandt as die suksesvolle naoorlogse sigaret van die Westelike Halfrond bestempel word. Die Huis van Rembrandt is dan ook voorloper in die opsig dat sy handelsmerke reeds wêreldwyd geregistreer is.

“Die kwaliteitskontrole wat deur Rembrandt toegepas word, is seker uniek vir dié van ’n Suid-Afrikaanse maatskappy. In die voorbereiding van ’n pakkie siga­rette is daar in die fabriek alleen meer as 50 punte aan kwaliteitsbeheer. Ook in die bestuur word die mees wetenskaplike metodes toegepas. Die stelsel van koste­berekening, byvoorbeeld, is sodanig dat die bestuur elke maand tot ’n tweede desimaal van ’n pennie weet wat die koste per 1 000 sigarette vir elke item van ver­vaardiging en bemarking is. Ook word gesorg dat Rembrandt met tegniese ont­wikkelings altyd ’n stappie voor is. Die modernste en doeltreffendste masjinerie word in die buiteland aangeskaf.

“Verder volg Rembrandt ’n doelbewuste beleid van werkverskaffing aan blanke dogters. Honderd-en-twintig dogters is reeds in diens en met die gedurige uitbreidings is daar openings vir nog baie meer. Om hulle in aangename om­stan­dighede te laat werk is lugkondisioneringstoestelle in die fabriek aangebring en is ook met gerieflike ruskamers gesorg vir hul gesonde ontspanning tussen werk­ure,” lui die artikel14. In ’n vroeëre artikel in Volkshandel, amptelike orgaan van die AHI, word verklaar: “Rembrandt volg die beleid van werkverskaffing aan blanke dogters en het daarin geslaag om arbeidskoste af te bring na laer as die wêreld-gemiddeld. In teenstelling met hierdie prestasie het die Raad van Handel en Ny­werheid so pas bevind dat die tabakvervaardigingsbedryf in die Unie al hoe meer van nie-blankes en manlike werkers gebruik begin maak en dat die arbeidsproduktiwiteit die afgelope tien jaar gedaal het.”15

Die artikel in Inspan gaan voort: “Aan landseuns word deur ’n spesiale opleidingskema die geleentheid gegee om die sigaretbedryf in al sy vertakkings te leer ken.” Dit sluit af met ’n onmiskenbare verwysing na die nasionalistiese gevoelens van Afrikaners: “Was dit blote toeval dat die eerste Afrikaanse sigaretfabriek ontstaan het in die Paarl waar die Eerste Afrikaanse Taalbeweging 75 jaar ge­lede begin het? Want elke volk het sy eie nodig – dinge wat werklik saak maak – sy eie taal, sy eie grond, sy eie fabrieke, sy eie sukses . . .”

Die “Afrikaanse sigaret” se klem op die volkseie blyk in die beginjare van Rem­brandt baie sterk te wees. In 1949 stuur die groep byvoorbeeld 63 fabrieksdames in Voortrekkerdrag uit die Paarl op maatskappykoste na die inhuldiging van die Voortrekkermonument in Pretoria. Rembrandt verskaf aan elkeen ’n Voortrek­ke­r­uitrusting.

Rembrandt vertoon ook ’n uitstalling op die Van Riebeeck-fees van 1952, toe die 300-jarige aankoms van Jan van Riebeeck in die Kaap van Goeie Hoop ge­denk is. Een van die besoekers aan die fees, ’n koninklike wat Rupert eers later sou ontmoet en wat ’n groot rol in sy aktiwiteite rakende natuur- en wildbewa­ring sou speel, is prins Bernhard, gemaal van die Nederlandse koningin, wat in 1961 saam met Peter Scott die Wêreldnatuurfonds (WWF) gestig het.

Voorts is ’n bekende Afrikaanse kultuurfiguur, dr. P.J. (Piet) Meyer, ’n latere voor­sitter van die Afrikaner-Broederbond, in 1951 as die groep se hoof van open­bare betrekkinge aangestel. Meyer, met ’n doktorsgraad in die sielkunde, het sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad in Bloemfontein begin en was die hoofse­kretaris van die FAK. Hy was die politieke korrespondent van Dagbreek en Son­dagnuus toe hy by Rembrandt begin. Hy bly agt jaar lank die groep se skakelhoof, totdat hy in 1959 in die Radioraad aangestel word. Daarna dien hy ’n dikwels om­strede termyn as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie uit. Hy word ook die voorsitter van die Maatskappy vir Europese Immigrasie sowel as die voorsitter van die Antikommunistiese Komitee van die Afrikaanse Kerke.

Die eerste jaar ly Rembrandt ’n verlies van £63 000. “Dit was die mees kritieke tyd in my lewe,” sê Rupert. “Die moeilikste was om moed te hou by jou organisasie. In tye van krisis is ek altyd kalm. As iedereen met spanning rondloop, word ek al hoe kalmer.”16

Die volgende jaar maak Rembrandt ’n wins van £104 000. “Ek dink nie dis net ons goedheid nie,” sê Rupert daaroor toe Rembrandt sy 21ste verjaardag in die Paarl vier. “Ek sê altyd: 99% perspirasie en 1% geluk, 99% harde arbeid en 1% geluk van die faktore wat ons nie beheer nie.” Die wiel het egter gedraai: “Toe het ons nie weer teruggekyk nie. Net vooruit.”

Tog is Rupert in die begin deur mededingers onderskat. Sommige van hul ver­teenwoordigers met blink motors en bestuurders kyk met meewarige glimlagge hoe Rembrandt se verteenwoordigers met kartonne sigarette op die skouers die handelaars besoek. Op ’n byeenkoms van tabakvervaardigers verwys sommige neerhalend na Rupert ten aanhore van Bertie Levenstein, wat uitvoerende poste by Rand Tobacco en Cavalla beklee het voordat dié twee maatskappye deur Rem­brandt oorgeneem is en hy daar ’n direkteur geword het.

Levenstein verskil lynreg met die mededingers wat Rupert as voor op die wa of ’n “upstart” afgemaak het: “Ek dink hierdie man is dinamiet!” Hy gaan ver­der: “Ek het dit nie heeltemal reg gehad nie; ek moes liewer gesê het hierdie man is ’n atoombom.”17

Rupert self beskou 1950 as die jaar waarin Rembrandt sy groot deurbraak ge­maak het. Die deurbraak val saam met die tekens van oplewing wat die Suid-Afrikaanse ekonomie met die aanbreek van die jare vyftig getoon het. Die oorlogstydse industrialisering wat Smuts onder leiding van sy direkteur-generaal van oorlogsbehoeftes, dr. Hendrik van der Bijl, laat aanpak het, het wyer begin deurwerk. Dit is die soort ontwikkeling wat aanleiding gee tot die geskiedkun­dige C.W. de Kiewiet se dikwels aangehaalde uitspraak: “South Africa advanced politically by disasters and economically by windfalls.”

Rembrandt benut die oplewing. Van Junie 1948, toe die eerste pakkie Rembrandt-sigarette van die masjien afgehaal is, word markaandeel stadig maar seker ver­ower, hoewel daar toe ’n sestigtal sigaretsoorte op die mark was. In die eerste drie jaar daarna bring sy mededingers 24 nuwe sigaretsoorte op die mark om Rembrandt die loef af te steek. Dit het nie gewerk nie.

In sy mededinging met die magtige British American Tobacco se filiaal in Suid-Afrika, United Tobacco Company (UTC), wat die mark oorheers het, kry Rem­brandt se sigarette baie gou ’n trotse groep Afrikaanse ondersteuners. ’n Humo­ristiese gesegde doen selfs die ronde: “Rook vir jou vaderland en hoes vir jou land.”

Hertzog beskryf die ontwikkelende situasie rakende die destydse sigaret­be­dryf soos volg: “Toe ons nou reken ons is naby die tyd waar ons met sigarette iets kan doen, het ons al klaar een ding agtergekom. Dit is dat Voorbrand met Patriot-tabak en Oom Bart en so aan te beperk is. Nee, jou mark is groter, jy bemark nie net aan Afrikaanssprekendes nie. Ons het toe Rembrandt, en tegelykertyd Rothmans onder lisensie, verkry. Nou het jy darem ten minste twee bene op die twee lands­tale.

“Toe ons nou daardie stadium bereik, kry ons ’n man wat ons baie gehelp het, somtyds ook probleme veroorsaak het: Patrick O’Neill-Dunne. Hy en ek het dieselfde verjaardag, behalwe daarvoor is ons taamlik verskillend. Hy is baie meer aktief en hardwerkend dan ek, onder meer. Hy sê vir ons: ‘You two boys trying to bash British American Tobacco make me think of two fleas crawling up the back of an elephant with rape in their mind.’ Al rede hoekom ons voortgegaan het, is waarskynlik die rede wat die Wright-broers in staat gestel het om te vlieg. Toe hulle al die Kitty Hawk gevlieg het, was daar nog professore by Harvard wat gesê het ’n mens sal nooit vlieg nie, want alles wat hulle het om te gebruik, is swaar­der dan lug en hy sal nooit in die lug kom nie.

“Die Wright-broers se voordeel was dat hulle nie geweet het dit was on­moont­lik nie. U weet, die spesialis ken al die redes hoekom ’n ding nie gedoen kan word nie en ek het dit nog keer op keer gevind dat spesialiste goeie mense is, maar hulle hou by die gebaande weë. Hulle het so vasgeval daarin dat hulle nie daaraan dink dat daar miskien ’n ander manier is om ’n ding te doen nie.”18

Uiteindelik sou UTC se markaandeel tot ’n onbenulligheid teenoor Rembrandt se snelle groei krimp, dermate dat Rembrandt naderhand saam met Rothmans byna 95% van die Suid-Afrikaanse mark beheer het.

Rembrandt betaal einde 1950, toe die omset byna £2 miljoen haal, sy eerste divi­dend: 3% op gewone aandele, wat £14 250 beloop. Dit is ook dieselfde jaar waar­in Rupert se oudste seun, Johann, gebore is.

Die Huis van Rembrandt omsluit in daardie jaar volgens ’n advertensie in Volks­handel die bedrywighede van die volgende maatskappye, met die voorsitter tussen hakies: Tegniese en Industriële Beleggings Beperk (mnr. A.E. Rupert), Tweede Teg­niese en Industriële Beleggings Beperk (mnr. D.W.R. Hertzog), Rembrandt Tabakkorporasie (SA) Beperk en dogtersmaatskappye (dr. N. Diederichs) en Distillers Korporasie (SA) Beperk (mnr. S.A. Schonegevel).

Een van die verreikendste besluite wat Rupert se filosofie as sakeleier-weldoener vroeg beslag laat kry het, word in 1949 geneem, in die tyd toe Rembrandt die deur­braak gemaak het waarop sy skouspelagtige welslae gevolg het.

Dit het gebeur omdat die Londense bemarkingskundige Patrick O’Neill-Dunne, die Ier wat in Suid-Afrika met die Rothmans-poging kom help het, op 2,5% van Rembrandt se netto wins geregtig was. Dit moes klaarblyklik dan ook vir die be­sturende direkteur geld.

Rupert versoek die direksie egter om die 2,5% van die netto wins waarop hy bo en behalwe sy salaris geregtig was, eerder vir goeie dade en goeie sake aan te wend. Sy versoek word toegestaan, en die geld sou na die diskresie van die direksie aangewend word. Uit daardie besluit vloei mettertyd ’n reeks goeie dade en stigtings; deurentyd ’n proses waarin ook op die terrein van maatskaplike ver­antwoordelikheid gewigtige strategiese vennootskappe aangegaan is. Hier­die proses kry in die jare sestig momentum en die naam Rupert word as ’n weldoe­ner en ’n man van waarde landwyd en mettertyd internasionaal bekend.

Rembrandt se eerste jaarvergadering word op 11 Februarie 1950 in die Banket­saal op Stellenbosch gehou. Die voorsittersrede word gelewer deur dr. Nic Diederichs, die voormalige hoofleier van die RDB wat in 1948 tot LV vir Randfontein verkies is.

Diederichs vermeld in sy rede dat alle aangebode aandele uitgereik is, sodat die kapitaal op £475 000 te staan kom, met £25 000 aan reserweaandele. Hy gaan voort: “Ons is dankbaar dat ons die vooruitgang van Rembrandt, waarin soveel belangstel, kan rapporteer. Want met sy wye opset behoort die maatskappy nie aan enkeles nie, maar aan die volk self.” En hy voeg by: “Dit sal elke vriend verheug om te verneem dat u maatskappy se winste tans ongeveer £10 000 per maand beloop.”

Diederichs verklaar dat die suksesvolle verkoopbevordering van Rembrandt geen toeval is nie. “Goeie advertensie verkoop tog slegs een maal die produk en daarna verkoop die kwaliteit van die produk homself. Nie dat ons die waarde van advertensies onderskat nie, want dit is uiters noodsaaklik om die belangstel­ling van die publiek te hou, ou rokers te behou en nuwes te kweek. Maar die feit dat Rembrandt sy verkope kon verdubbel, verdriedubbel en vervierdubbel en dik­wels meer verkoop in nie-Afrikaanse areas as in Afrikaanse areas, is toe te skryf aan die beleid wat ons steeds naarstiglik volg, naamlik om kwaliteit voorop te stel.”

Hy sluit af: “Veral gaan ons dank uit aan ons besturende direkteur, mnr. A.E. Rupert, wat nou reeds baie jare homself die grootste moeite en opoffering ge­troos om ons maatskappye tot die stadium te bring waar hy vandag staan. Die feit dat ons vandag ’n gevestigde, winsgewende saak is, is tot ’n groot mate aan sy ywer toe te skrywe. Vir hom is dit die verwesenliking van ’n droom. Sonder sy werk en toewyding sou ons seker nooit ons doelwit so gou kon bereik nie.”19

Binne drie jaar ná sy stigting rook meer wit mense Rembrandt as enige ander si­garet in Suid-Afrika. Teen 1951 het Rupert reeds ’n 10%-markaandeel en die groep begin die Suid-Afrikaanse mark oorneem. ’n Nuwe, langer sigaret word op die mark gebring – Rembrandt van Rijn, deur Rupert aangeprys as “die ideale ‘dinee’-sigaret, ’n kwart langer as die standaard-grootte en van dieselfde meestermengsel van room-van-die-oes-tabak wat Rembrandt beroemd gemaak het”.

Die produktiwiteit van die Paarlse werksters word ook spoedig ruim beloon. Op 27 April 1953 kondig Rupert aan dat hy die minimum loon vir blanke werksters en jong seuns tot £1 per dag verhoog. Dit is £2 8s 3d per week meer as die aanvangsloon van £2 11s 9d per week waaroor ander tabakfabrikante kort tevore in Bloemfontein met die vakbond Tobacco Workers’ Union ooreengekom het, dus byna dubbel soveel. Rupert se verhoging van minimum lone vir blankes blyk ’n voorspel te wees tot die hoër minimum lone vir gekleurdes waarmee hy ’n de­kade later met nog ’n waagmoedige sprong groot opspraak in die Suid-Afrikaanse ny­werheidswêreld wek.

Hertzog reageer ook in ’n interne memorandum op die innuendo in Dan O’Meara se boek Volkskapitalisme dat “boeredogters” in diens geneem is omdat dit goedkoop arbeid was:

“(Dit) . . . rym nie met die feit dat die lone wat aan hulle betaal is destyds ge­adverteer is en dat die Rembrandt-organisasie kapitaal-intensief eerder as arbeids­intensief is en tewens nog nooit klagtes oor lae lone moes ontmoet nie. Tewens, Rembrandt het oor die jare konstant hoër lone betaal as sy konkurrente . . .”20

Rupert motiveer sy loonsverhoging van 1953 só teenoor die werknemers: “Weens die moderne toerusting en hoë meganisasie kos dit ons minder om ’n duisend sigarette te maak en kan ons beter tabak en materiale gebruik en hoër lone betaal vir die beste arbeid. Ons het reeds voorlopige ruskamers en ontspanningsale aan u verskaf, maar in die nuwe personeelgebou wat eersdaags gaan verrys, word voorsiening gemaak vir ruskamers en ’n saal vir 200 dames en dit moet die mooiste moontlik wees. Ons ontwerper, wat tans in die buiteland is, het opdrag om die beste wat daar is te gaan besigtig.”

Hy wei daaroor uit: “. . .ons kan alleen so ’n progressiewe beleid volg as ons beter en harder werk as elkeen van ons mededingers se werknemers, anders kan ons nie kompeteer nie. Ons is egter bereid om hierdie hoë lone te betaal omdat die direksie weet dat u ons nie in die steek sal laat nie.

“Omdat die blanke werkers en werksters van ons land grotendeels ons eie mense is, het ons gevoel dat Rembrandt as Afrikaanse maatskappy die toon moet aan­gee. En omdat ons produk so goed is, kan ons dit bekostig om te sê dat ons Afri­kaans is en trots daarop is. Dit plaas egter op elkeen van ons die dure plig om steeds ons beste te lewer, om presies en net te wees in ons werk en toe te sien dat die leuse ‘Elke Rembrandt-sigaret moet ’n meesterstuk wees’ getrou nagekom word.”

Sy trots op hierdie Afrikaanse produk vind mettertyd wyer weerklank. In Teg­niek van Januarie 1956 verskyn ’n artikel oor ’n tweetalige houer vir sigaretpapier wat uit Amerika ontvang is:

“Die Afrikaanse taal ontvang erkenning buite die grense van Suid-Afrika, selfs in internasionale handelskringe. Toe die Rembrandt-fabriek in die Paarl ’n besending sigaretpapier van die Ecusta Paper Corporation, Noord-Carolina, VSA, ontvang het, was die werknemers aangenaam verras om tweetalige etikette te sien op die houers waarin die sigaretpapier verpak is. Hiermee het Ecusta geskiedenis gemaak, want sover vasgestel kan word, is dit die eerste keer dat ’n oorsese lewe­ransier Afrikaans op hierdie wyse erken. Die blote feit dat Ecusta uit eie beweging die taal van sy kliënte respekteer, is sonder enige twyfel een van die faktore wat tot die suksesvolle ontwikkeling van hierdie onderneming bydra.”

Rupert verkoop in die beginjare nie net geesdriftig aandele nie, hy koop self ook uit sy eie salaris aandele in die Rembrandt Trust, wat die houermaatskappy van die Rembrandt Groep geword het.

Rembrandt Tabakkorporasie word in 1956 op die Johannesburgse Aandele­beurs genoteer, en soos TIB en Tegkor word dit ’n belegging sonder weerga. In 1999 wys Rupert daarop dat iemand wat in 1948 aandele van R1 000 in die Rembrandt Groep gekoop het, toe R17 miljoen daarvoor kon wys, sonder dat dividende bygereken is. In 2002 is bereken dat die eerste aandeelhouers wat R1 000 se aandele gekoop het, in die nuwe millennium oor ’n fabelagtige bedrag van meer as R30 miljoen sou beskik. Dit is as die waarde van Remgro, VenFin en Richemont saam bere­ken word. Uit aandele wat in waarde met 3 000 000% toegeneem het, het Rembrandt van baie mense miljoenêrs gemaak.

Elke nuwe aandeelhouer ontvang in die beginjare “as ’n lid van die Huis van Rembrandt” van Rupert ’n brief van verwelkoming wat hy persoonlik onder­teken. Sy werkdag begin gewoonlik met ’n paar leggers briewe en korrespondensie wat hy moet onderteken.

In die verwelkomingsbrief verduidelik hy die posisie van die maatskappye. Rem­brandt Tabakkorporasie is die moeder- of beherende maatskappy wat kapitaal belê in twee filiale. Die een is die vervaardigingsmaatskappy, Rembrandt Tabak­ver­vaardigingskorporasie van Suid-Afrika Beperk, wat die beroemde Rembrandt-sigaret en bekende pyptabaksoorte soos Drosdy, Rembrandt, Bandmaster en Spoor vervaardig, en die ander Rembrandt Tabakkorporasie (Oorsee) Beperk, die verkoops­maatskappy wat die beroemde Rembrandt-sigarette na oorsese markte uitvoer.

“Al die maatskappye in hierdie groep staan 100% onder Afrikaanse beheer en word nie deur buitelandse maatskappye beheer nie. Ons is trots op ons produkte en ons is trots op ons afkoms,” lui die verwelkomingsbrief.

“Om hierdie status te bevestig het ons u hulp in drie opsigte nodig:

“Eerstens wil ons u versoek om elke dag ’n nuwe Rembrandt-roker te kry.

“Tweedens vra ons u om van tyd tot tyd enigiets van gemeenskaplike belang aan ons te rapporteer. Met hierdie doel voor oë stuur ons binnekort aan u ’n klein voorraad memo-vorms en antwoordbetaalde koeverte sodat u dit net op die pos kan doen.

“Derdens wil ons u vra om nie ligtelik u aandele te verhandel nie. Bewaar dit vir die nageslag.”

Daarna word gekonstateer dat die Afrikaanse boer ongetwyfeld die beste tabak kweek en dat die hoë standaard wat Rembrandt met sy produk en verpakking stel, hom die “mees gesogte sigaret in Suid-Afrika” gemaak het.

“Die aanvraag na ons sigarette is natuurlik aansienlik groter as ons produksie en indien u in ’n area woon waar Rembrandt nog nie beskikbaar is nie, vra tog asseblief u vriende om ’n bietjie geduld te beoefen – REMBRANDT KOM!

“Die Afrikaner het ontwaak in die handelswêreld in die algemeen en in die ta­bak­bedryf in die besonder en hierdie ontwaking is ’n sterk gety wat deur niks ter wêreld gestuit kan word nie.

“Ons nooi u uit om by hierdie gety aan te sluit, sodat ons met trots ’n waardige erfenis aan ons seuns en dogters van die volgende geslag kan oorhandig.”

Die brief is onderteken deur die persoon wat sy eie raad gevolg en aandele be­waar het wat ’n fortuin werd geword het:

“Met opregte groete

“Agtend, die uwe

“A.E. Rupert

“Besturende direkteur”

Rupert het die drakrag van tabak korrek getakseer. Sy seun Johann, wat die voor­sitterskap van die groep oorgeneem het, verklaar in hierdie verband: “The reason my father went into tobacco is because he studied those industries of the thirties that survived the Depression and tobacco was the only one that didn’t get blown out of the water, so he felt that he wasn’t going to spend his whole life building a company and then find some exogenous facet like a major depression wrecking everything.”

In Mei 1953 beantwoord Rupert op ’n konferensie van verkoopbestuurders self die vraag waarom Rembrandt in die tabakbedryf is. Eerstens, sê hy, moet onthou word dat tabak van die vroegste jare af ’n ruilmiddel was. Dié funksie het sigarette tydens die Tweede Wêreldoorlog vervul. In die ou tyd het tabak onder die Ameri­kaanse Indiane die plek van mirre en wierook ingeneem. Ten tweede is sigarette depressiebestand. Groot voorrade tabak kan nie oornag hul waarde verloor nie.

Daarbenewens is ’n sigaret volgens Rupert “iets intiems en persoonliks”. Trou­ens, en hy verwys met ’n sekere mate van irritasie daarna: “Ons, die Afrikaners, was die enigste Westerse volk sonder sy eie sigaretfabriek. Elke beskaafde volk het sy eie sigaret. Ons moet ook ons eie hê.”

Hy vervolg dat die sukses wat tot dan toe behaal is, die illusie verbreek het “dat dit slegs Engelse en Jode is wat kan besigheid doen. Dit was noodsaaklik dat ie­mand die illusie breek.”

Rupert, wat besef het dat sy produkte twee keer so goed soos ander mede­din­gers moes wees as hy blywende welslae wou behaal, bou algaande ’n sterker mede­dingende voordeel op. Vanweë die steeds stygende aanvraag word die fa­briek in die Paarl vergroot en weer vergroot, gemeganiseer deur nuwe masjiene aan te koop, en produktiwiteit steeds opgestoot terwyl gehaltebeheer streng vol­gehou word.

Nogtans, bedag daarop dat ’n prysoorlog sy groep erg kon seermaak, besluit hy om na die buiteland te beweeg. Hy doen dit om lonende nuwe markte op te bou, en in die proses kom hy ook vorendag met innovasies wat mededingers agtergelaat en rookpatrone internasionaal verander het.

Anton Rupert: 'n lewensverhaal

Подняться наверх