Читать книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse - Страница 5
ОглавлениеHoofstuk 1
Gesplete atome en parke vir vrede
Anton Rupert het net een keer in sy loopbaan willens en wetens ’n hele dag van sy kantoor weggebly.
Dit was toe hy van die eerste oorlogstydse kernontploffing gehoor het: die oggend toe die nuus Suid-Afrika bereik dat ’n atoombom op 6 Augustus 1945 verblindend bo Hirosjima gebars en die Japanse hawestad verwoes het. Die kort voorspel tot Japan se oorgawe en die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog het begin.
Die kernverskrikking, ’n regstreekse gevolg van die splyting van die atoom waardeur die mens die vermoë ontwikkel het om homself uit te wis, het die gang van die geskiedenis onherroeplik verander. En dit het die lewensuitkyk van Anton Rupert onherroeplik verander.
Die jong Afrikanernyweraar, opgelei in die natuurwetenskappe en bestem om sy land se innoverendste entrepreneur en die hoof van een van Afrika se twee rykste families te word, het onmiddellik aangevoel dat een van die bepalendste oomblikke in die geskiedenis aangebreek het; een van daardie seldsame gebeurtenisse wat voortaan as ’n keerpunt in die menslike bestaan aangeteken sou staan.
Hy was toe nog in Johannesburg, ’n onervare jong ondernemer met ’n fabriek wat pyptabak verwerk en in die knellende oorlogstoestande gesukkel het om kop bo water te hou. Toe hy die oggend verneem dat ’n atoombom Hirosjima verpletter het, bel hy sy kantoor om te sê dat hy die hele dag glad nie beskikbaar sal wees nie. Hy bly tuis om die vernietigende mag van die kernbom te oordink: “Ek het besef dat die mensdom soos skerpioene in ’n bottel geword het, met die mag om mekaar volkome te vernietig.”1
Iets soortgelyks gebeur met die Amerikaner Robert Lewis, medevlieënier van die Enola Gay, die B-29-bomwerper van die Amerikaanse lugmag waaruit die eerste atoombom in ’n oorlogsituasie op Hirosjima afgegooi is. “Kyk daar! Kyk daar! Kyk daar!” roep hy uit terwyl hy na die reusagtige sampioenvormige wolk oor die getroffe hawestad terugkyk. Toe skryf hy in sy joernaal: “My God, wat het ons gedoen?”
Daardie dag sterf 100 000 van die 245 000 inwoners van Hirosjima, platgevee deur die geweld van kernkrag, en nog 100 000 agterna. Drie dae daarna verpletter die tweede en laaste atoombom die skilderagtige hawestad Nagasaki, en nog 80 000 mense kom om.2
Die verwoestende kernbomme lui die slotepisode van Japan se deelname aan die oorlog in. Vyf dae daarna erken keiser Hirohito dat Japan vir die eerste keer in sy geskiedenis verslaan is. Hy het die oervrees vir Armageddon, die einde van die wêreld, uitgespreek. Die beelde van algehele vernietiging deur die twee atoombomme, Little Boy en Fat Boy, het nie net Japan se moed gebreek nie, maar die ganse mensdom geruk.
Anton Rupert, met sy kennis van chemie, waarvoor hy ’n meestersgraad verwerf het, begryp dat iets ontsettends gebeur het. By sy huis in Aucklandpark, Johannesburg, waarvandaan hy ’n paar maande later na Stellenbosch sou vertrek om ’n sakeryk op te bou wat uiteindelik dwarsoor die aardbol sou strek, sit hy en peins oor die implikasies van die atoomera.
Hy beskou die militêre gebruik van die kernbom as waarskynlik die belangrikste gebeurtenis wat hy in sy lewe sou beleef. Sy slotsom is dat daar voortaan nie meer groot oorloë sou wees nie, weens die gevaar van wedersydse vernietiging. Die noodwendige konsekwensie is dat daar voortdurend kleiner oorloë sou uitbreek, wat die moontlikheid inhou dat hy in sy leeftyd nooit weer standhoudende vrede sou beleef nie.
“Sedert die ontsluiting van die krag van die atoom – sedert Hirosjima – het alles verander, behalwe ons manier van denke. In hierdie atoomera is geen land meer so afgeleë dat dit ’n skuilplek geword het nie. Die Bybelse ‘Ek is my broeder se hoeder’ het ’n koue werklikheid geword; depressies is nou wêreldwyd; welsyn ook. In hierdie eeu waarin minstens twee volke oor genoeg bomme beskik om alles uit te wis, leef ons soos skerpioene in ’n bottel – en hy wat alles wil behou, sal alles verloor.”3
Voortaan, so tref die besef hom, sou slegs medebestaan die mensdom kon red. “Mense sal eenvoudig móét leer saamleef.”
Medebestaan, ’n oortuiging wat reeds in sy studentedae embrionies by hom begin posvat het, word hierna die kernbegrip wat Rupert die res van sy lewe sou aanvuur; ’n visie wat hy met oortuiging verkondig. ’n Blywende herinnering daaraan staan in sy kantoor: die beeldhouer Rodin se bekende Die Katedraal, ’n bronsbeeld van twee regterhande wat hy in die jare sestig aangekoop het. Dit is vir hom ’n beeld van medebestaan tussen mens en mens, die fondament waarop hy in die sakewêreld die filosofie van deelgenootskap ontwikkel het. Met deelgenootskap, ofte wel vennootskappe wat van land tot land aangegaan is, bou hy ’n uitgestrekte internasionale sakeketting op lank voordat globalisering ’n modewoord geword het.
Gepaard met sy siening van deelgenootskap gaan maatskaplike verantwoordelikheid, wat hy as een van die drie groot verpligtinge van ’n suksesvolle sakeonderneming beskou. Dit geld vir medebestaan tussen mens en mens, maar daarbenewens medebestaan tussen mens en natuur, die filosofie waarmee hy uiteindelik as bewaringsbewuste weldoener die konsep van vredesparke, ofte wel oorgrensparke, dwarsoor internasionale grense voer. Vredesparke – met as wenslike voorvereiste vrede tussen volke en nasies, sodat bedreigde spesies veilig sou kan voortbestaan ondanks ’n menslike bevolkingsontploffing wat die biologiese kringloop bedreig – word ’n dwingende visie wat Rupert tot in sy tagtigerjare dag-in en dag-uit na sy hoofkantoor terugbring.
In Millenniapark op Stellenbosch beywer hy hom met die energie van ’n veel jonger man vir die ontwikkeling van transnasionale wild- en natuurparke wat multilaterale samewerking tussen regerings van verskillende lande verg.
Vredesparke is miskien die verbeeldingrykste projek wat die weldoener Rupert aanpak in ’n lang sakeloopbaan wat hy aan vele fronte ten bate van die gemeenskap aangewend het.
Die Ruperts verskyn op die saketydskrif Forbes se lys van die wêreld se 500 rykste mense, die miljardêrs met geskatte bates van meer as 1 000 miljoen Amerikaanse dollar. Naas die Ruperts lys Forbes net een ander familie uit Afrika: die Oppenheimers, erfgename van die Suid-Afrikaanse mynmagnaat sir Ernest Oppenheimer en sy seun Harry.4
Die vernaamste verskil tussen dié twee Suid-Afrikaanse families, wat albei enorm tot die ontwikkeling van hul land sowel as gemeenskapsorg bygedra het, is dat Rupert met feitlik niks begin het om ’n internasionale sakeryk op te bou en ook nie op die basis van sy land se oorvloedige mineralerykdom staatgemaak het nie. In die media loop sy reputasie van die “Koning van Luukse” tot die “Geheime Bemarkingsreus”, die “Skaam Koning van Snob-rokers” en die “Ware Heer van die Sakewêreld”.
Die chemiestudent wat met ’n eie belegging van net £10 ’n internasionale maatskappyegroep begin het wat hom ’n wêreldbekende entrepreneur sou maak, word verbind met van die bekendste internasionale handelsmerke, die fondament waarop sy sakeryk gebou is. Van Cartier, die “koning van juweliers en die juwelier van konings”, tot die luukse goedere van Alfred Dunhill; van Mont Blanc se stylvolle vulpenne tot die oudste Switserse horlosiemakers val onder Richemont, die internasionale arm van die Rupert-sambreel. Dit is voorafgegaan deur die wêreldwye vestiging van ’n ketting van tabakbelange onder die vleuels van Rembrandt en Rothmans sowel as die produksie van die bekendste Suid-Afrikaanse wyne en spiritualieë.
Daarby ontwikkel Anton Rupert in sy loopbaan tot ’n man vir alle seisoene, met aktiewe belangstellings buite die sakelewe: bewaarder van sy land se historiese erfenis, beskermheer van die kunste; rigtingwyser op politieke mynvelde; weldoener wat ander help om hulleself te help . . .
Tog, ondanks die mediablootstelling wat met sy openbare optredes gepaardgaan, bly hy ’n intens private persoon; iemand wat nie geredelik media-onderhoude toestaan nie en wie se private lewe soos sommige van sy groot saketransaksies dikwels in geheimsinnigheid gehul is.
Rupert se rustelose gees en sy alsydigheid is bewonderend opgesom deur die digter Dirk Opperman, wat hierdie “Prins van die Handel” beskryf as iemand wat die handel, wetenskap en kuns kon versoen.5
Uit sy veelsydigheid spruit ook sy belangstelling in die natuur en dierelewe, die grondslag waarop die idee van vredesparke ontwikkel.
Die Vredesparkstigting, met Rupert as die eerste voorsitter, het as emeritusbeskermheer oudpres. Nelson Mandela, ’n ikoon van die twintigste eeu, wat graag na Rupert as sy “ouer broer” verwys.
Agt staatshoofde van lande in Suider-Afrika is erebeskermhere van die stigting, wat oorgrensparke stig en ontwikkel. Rupert beskou dit as ’n katalisator, ’n begrip wat hy met sy agtergrond as skeikundige telkemale in sy lang loopbaan gebruik – ’n stof wat sonder om self ’n verandering te ondergaan ’n verandering in ’n ander stof bevorder.
Die Vredesparkstigting se fondse, hoofsaaklik verkry van private individue en instansies en groot multinasionale maatskappye, word aangewend om die transnasionale bewaringsgebiede uit te bou, maar ook om mense in die toerisme- en dienstebedryf sowel as veldwagters op te lei.
Vir ’n wêreld met krimpende hulpbronne kan Afrika met sy wye, steeds onbewoonde ruimtes ’n laaste toevlugsoord vir ’n onvervangbare dierelewe en ongerepte natuurskoon wees. Dit is waarom Rupert die idee van vredesparke begin koppel het met nasionale parke.
Boonop kan wild- en natuurbewaring as die basis dien om baie Afrikalande se armoede en werkloosheid teen te werk. Want daarmee hang saam die wêreld se grootste bedryf, toerisme, wat op die konflikgeteisterde kontinent nog ligjare ver van sy groot potensiaal ontgin is.
Hy kon dit beleef dat ses vredesparke regstreeks met sy vaderland verbind word slegs enkele jare nadat die projek beslag gekry het. Die “Afrikasafari” as ’n gesogte toeristebestemming word reeds aanmerklik uitgebrei met hierdie sestal transnasionale parke en bewaringsgebiede wat by Suid-Afrika aansluit en waaroor ooreenkomste met die onderskeie regerings onderteken is.
Saam met twee ander vredesparke in Suider-Afrika sal die agttal, met hul rykdom van wild en natuurlewe, sowat 60 miljoen hektaar beslaan. Daarby is ’n verdere veertien oorgrens-bewaringsgebiede in Suider-Afrika geïdentifiseer om oor die volgende dekade ontwikkel te word. Die 22 vredesparke sal meer as 100 miljoen hektaar dek, so groot soos Frankryk, Duitsland en Spanje tesame.
Die idee van vredesparke groei steeds, met belangstelling van elders in die wêreld, soos die gedemilitariseerde gebied tussen die Koreas, die bergpark Mont Blanc, Suid-Amerika en elders.
Verreweg die omvangrykste van die projekte waarby Suid-Afrika regstreeks betrokke is, is Groter Limpopo, die wildpark wat die grootste diereryk ter wêreld kan word. Die wêreldbekende Krugerwildtuin sal aansluiting vind by drie nasionale parke in Mosambiek en met die Gonarezhou- nasionale park in Zimbabwe. Die beoogde vredespark, vier keer so groot as die reeds aansienlike Krugerwildtuin, sal ’n versameling van Afrika se diere, voëls, visse, plante en bome huisves wat ongeëwenaar in die wêreld sal wees. Met hierdie transnasionale park, wat oor die grense van drie lande strek, word beoog dat dit aanvanklik 35 000 km2 sal beslaan wat uiteindelik tot 100 000 km2 kan aangroei – groter as Portugal, Hongarye of Oostenryk.6
Grootwild is reeds uit die Krugerwildtuin na die Mosambiekse terrein oorgeplaas. Uiteindelik gaan onder meer duisend olifante na die Mosambiekse kant gebring word; dus na ’n gebied waar wilde diere tydens Mosambiek se burgeroorlog meedoënloos uitgeroei is, maar ook die land waaruit die eerste olifante vir die latere Krugerwildtuin dekades tevore geskenk is.
Die verskuiwing van die eerste trop olifante uit die Krugerwildtuin vind plaas op 4 Oktober 2001, op Rupert se 85ste verjaardag. Die eerste oorplasing van grootwild na die beoogde vredespark is vir hom ’n verjaardaggeskenk sonder weerga: die verwesenliking van ’n tien jaar lange droom.
Steeds aan Rupert se sy by hierdie groot eksperiment in die Laeveld is sy eggenote, Huberte. Die sterk en aantreklike vrou is reg deur sy loopbaan, van hul studentedae af, sy steunpilaar en klankbord, die lewensmaat met wie hy ’n week tevore op 27 September 2001 hul diamantbruilof, die sestigste herdenking van hul huwelik in 1941, gevier het.
Rupert sê meermale die idee is sterker as die mens. Sy oortuiging dat niks so onstuitbaar is soos ’n idee waarvoor die tyd aangebreek het nie, is vroeër ook waargeneem deur die ekonoom John Maynard Keynes: “The ideas of economists and political philosophers, both when they are right and when they are wrong, are more powerful than is commonly understood. Indeed, the world is ruled by little else. I am sure that the power of vested interests is vastly exaggerated compared to the gradual encroachment of ideas.”7
Vir Anton Rupert val dit in sy tagtigerjare te beurt dat die idee van vredesparke al hoe wyer posvat – ’n idee wat vir hom, die sakeleier wat deur ’n internasionale handelsmerkdeskundige as die orakel van handelsmerke beskou word, miskien sy grootste en blywendste handelsmerk kon word. Niks sou hom groter bevrediging gee nie as dat so ’n begeesterde, hoopgewende idee internasionaal uitbrei vanuit Suid-Afrika, sy vaderland; die tuiste waarheen hy pal teruggekeer het nadat hy feitlik die hele wêreld deurkruis het.
Hy put inspirasie uit die denke van Albert Schweitzer oor eerbied vir die lewe. Die Duitse dokter-filosoof en filantroop, wenner van die Nobelprys vir Vrede in 1952, het sy lewe aan die genesing van Afrikane in sy hospitaal in Lambarene in Gaboen gewy. Hy het etiek beskou as niks anders nie as eerbied vir die lewe. “Eerbied vir die lewe gun aan my my fundamentele beginsel van moraliteit, te wete dat die goeie bestaan uit die handhawing, bystand en bevordering van die lewe, en dat om die lewe te vernietig, te skaad of te belemmer, boos is,” het Schweitzer verklaar.
Eerbied vir die lewe word ook weerspieël in ’n aangrypende bronsbeeld in die ingangsportaal van Rupert se kantoorgebou op Stellenbosch. Daar stap besoekers verby die Duitse kunstenares Käthe Kollwitz se Mutter mit Zwillingen, die uitbeelding van ’n moeder wat haar tweeling in haar arms koester.
Op ’n verdieping daarbo in ’n kleinerige kantoor, naas ’n ontvanglokaal waaroor Rodin se Katedraal waak, het Rupert ná sy aftrede sy dagtaak voortgesit.
In sy tagtigerjare loop die eens energieke donkerkop-entrepreneur geboë weens ruggraatverkromming. Hy begin in later jare moeilik lees. Alle korrespondensie en leeswerk moet met behulp van ’n videoskerm op sy lessenaar vergroot word. Sy oogprobleem is dalk die gevolg van ’n sonsverduistering sestig jaar tevore, toe hy en sy jongste broer, Koos Rupert, wat soortgelyke oogprobleme het, in Oktober 1940 op Graaff-Reinet na die algehele sonsverduistering gekyk het deur film wat waarskynlik nie genoeg beskerming vir hul oë gebied het nie. Tipies van Rupert wend hy sy swakker sig as ’n bate aan – soos hy meermale in sy loopbaan ’n nadeel in ’n voordeel probeer omskep het. Omdat hy minder kon lees, bied dit aan hom “die kans om meer te dink”.
Die merkwaardige lewensverhaal van hierdie entrepreneur-weldoener, ’n sakeleier wat as een van Afrika se legendes beskou word, oorspan teen die eeuwisseling byna ’n kwart van die moderne Suid-Afrika se geskiedenis. Dit begin byna nege dekades tevore met sy geboorte tydens die Eerste Wêreldoorlog in sy geliefde Karoo, waar die Rupert-familie deel van die land en die land deel van hulle geword het.