Читать книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse - Страница 12
ОглавлениеHoofstuk 6
Lokstem van die druif
Die begin van die nuwe beleggingsmaatskappy wat Rupert se voertuig sou word om toegang tot die drankbedryf te verkry, is weliswaar beskeie, soos die geval met tabak was. Die nominale kapitaal van Tegniese en Industriële Beleggings Beperk beloop net £5 000. Maar die beleggingsmaatskappy, spoedig bekend as TIB, sou binne drie jaar groei tot die moedermaatskappy van die Rembrandt Groep, wat toe reeds £1 miljoen sterk was.
Toe die £100 000-kerf bereik word, word Rupert besturende direkteur van TIB, maar nie voordat alle geld wat hy by Voorbrand verdien het, terugbetaal is nie.
Rupert gee in 1942-’43 aan die Reddingsdaadbond £700 se verskuldigde salaris wat aan hom betaal is, terug in die vorm van Voorbrand-aandele. Vyftig jaar later, op 16 Junie 1992, is bereken dat daardie aandele, as dit in Tegkor-aandele met die heersende markwaarde van R34,24 omgeskakel sou word, toe reeds R5 493 500 werd was.
By die stigting van die beleggingsmaatskappy sê Dirk Hertzog vir Rupert: “Man, Anton, ons eerste klein onderneming (Chemiese Reinigers) was nou nie juis ’n mislukking nie en ek vertrou jou en kan darem my naam aan jou leen.” Sy woorde word aangehaal in die eerste uitgawe van Tegniek, die Afrikaanse saketydskrif waarmee Rembrandt begin het en wat later die bekende Finansies & Tegniek in die Naspers-stal sou word. Inderdaad was Tegniek uit eie reg ’n belangrike poging om Afrikaners insig en inligting oor die sakelewe te gee, aangesien Afrikaanse koerante in daardie jare feitlik geen sakenuus gepubliseer het nie, nie eens beurspryse nie. Sakenuus spesifiek vir die Afrikaanse sakegemeenskap het hoofsaaklik gekom uit Volkshandel, die tydskrif waarmee J.G. (Kaalkop) van der Merwe van Heilbron vroeg in die jare veertig begin het.
TIB begin in Maart 1943 sonder sy eie kantore. Dit was oorlogstyd en geld was skaars. Rupert huur ruimte by die handelskunstenaar Kobus Esterhuysen in Johannesburg. Die kantoor het slegs ’n naambord buite gehad. Daar was ’n staalboekrak, maar geen telefoon nie. Wanneer jaarvergaderings gehou is, moes stoele geleen word om sitplek aan almal te verskaf.
Geen salarisse of direkteursvergoeding word in die eerste jaar betaal nie. Huberte Rupert is ’n lang tyd die onbetaalde sekretaresse, tikster, klerk en boodskapper. Sy beginsel geld: “Solank ons nie ons eie kapitaal het nie, moet koste vermy word.”
Die jong egpaar kry verblyf in ’n gemeubileerde woonstel in Joubertpark wat hulle 15 ghienies per maand kos, die helfte van Rupert se salaris, voordat hulle na ’n huis in Aucklandlaan 59 in die voorstedelike Auckland Park trek.
Hulle deel die woonstel in een stadium met Rupert se jonger broer Jan, wat toe ’n prokureursklerk in die firma Van Wyk De Vries, Malan & Steyn was, asook met Kobus Esterhuysen, wat op die balkon moes slaap. Esterhuysen, broer van Joubero Malherbe, grande dame van die Suid-Afrikaanse musiekwêreld, was die ontwerper van die land se banknote en hy doen in die begin vryskutwerk vir Voorbrand.
Huberte werk nie die hele tyd by TIB nie. Sy is ’n slag ook die sekretaresse van die Hoër Meisieskool Helpmekaar. ’n Studentemaat, Marié Opperman, help as sekretaresse van die beheerliggaam van die meisieskool en die seunskool. Sy is die eggenote van die digter Dirk Opperman, die “bonkige Zoeloelander” wat later ook ’n huisvriend van die Ruperts op Stellenbosch sou word, en hulle ontmoet hom toe hy ’n ruk lank onderwyser in Afrikaans van die seunskool was. En sy doen vryskutwerk by die SAUK voordat sy weer by TIB inval.
“Ek moes self uitspring om vir Anton te help,” vertel sy.1 “Totdat Hanneli vyf jaar oud was, het ek self al ons klere gemaak. Ek moes die lakens omdraai wanneer hulle skif geraak het van baie gebruik. Maar dit het ons nie gepla nie, want ons was Depressiekinders. Ons het geweet waarin jy woon, het niks te doen met die kwaliteit van jou lewe nie. Wat ons wel gepla het, was dat Anton ’n ding sou maak waarop daar geen wins was nie.”
Sy het in daardie tyd twee groepe vriende, die een haar tydgenote en die ander almal ouer as sy.
“In Johannesburg was dit ’n geroesemoes van mense gewees, maar vreeslik interessant. Jy het soveel stimulasie absoluut nodig. Ek moes my dissiplineer om in die sakewêreld in te gaan en belang te stel en mense te onthaal en iets te weet waarvan hulle praat. Dis hoekom dit ’n genade was dat ek gratis vir Anton-hulle gewerk het, sodat ek die besigheid van binne kon leer ken. Die mense wat dinge so maklik het, weet nie wat hulle mis en watter bevrediging dit bied om swaar te kry, maar te weet dat jy die ding kan doen nie,” sê sy later.
Haar noue betrokkenheid by Rupert se sakeondernemings sou oor dekades gehandhaaf word. In ’n vroeë stadium kry sy in Johannesburg ’n aanbod van Voortrekkerpers om daar vir ’n groter salaris as haar man s’n te gaan werk, maar sy wys dit van die hand – “want ek moes vir Anton verniet werk en ek ken hulle opset. Maar elke ding wat jy vermag het, was ’n avontuur gewees.”
Daaraan voeg sy toe: “Al die jare het Anton my as sy klankbord gebruik. Wanneer daar ’n probleem was, het ek geluister, die probleem saam met hom beleef. Maar dan sou hy dit op die ou einde self oplos.”
Dinge was stram, maar die sakepioniers byt vas. Nadat TIB op 16 Maart 1943 geregistreer is, sou dit uiteindelik ontwikkel in ’n maatskappy met verspreide belange in tabak, drank, steenkoolmyne, wolmakelaars, tee en koffie. Anders as wat soms in sakekringe vertel word, begin Rupert dus baie vroeg in sy loopbaan diversifiseer.
Weens die invoerbeheer en die gepaardgaande gebrek aan masjinerie vir sigaretvervaardiging, asook Voorbrand se teleurstellende vertoning wat produkte betref, moontlik omdat te veel op Afrikanersentiment staatgemaak is, wend Rupert en sy vennote hulle in hierdie vroeë stadium tot die drankbedryf. Hy en een van sy mededirekteure, Coenie (Oupa) Kriel van Wolgroeier Afslaers (WGA), besluit in September 1943 om aktief tot die drankhandel toe te tree. Teen dié tyd het Voorbrand se verliese opgeloop en hy besef dat die sterk mededingende tabakbedryf hulle nie ’n genoegsame vastrapplek in die nywerheidswese gee nie. Daar moes wyer gekyk word, ook suidwaarts.
Hy en Kriel begin navraag oor moontlikhede doen en ontmoet Canzius Pretorius, rekenmeester van die Koöperatiewe Wynbouersvereniging (KWV), in Oktober 1943 in die Paarl. Hy sê die enigste moontlikheid om die bedryf te betree is om die Kaapse dranksaak van Forrer Broers te koop.
In samesprekings wat gereël is met die Forrers, Joe en Herman, broers van Nederlandse oorsprong, bekom Rupert-hulle ’n belang van 50% vir £17 500. Forrer Broers se ouditeur, Roux van der Poel (stigter van die latere ouditeursfirma Theron & Van der Poel), “het ons baie gehelp”, vertel Rupert.
In die Noorde het geld vir kapitaaluitbreidings skaars geraak weens die mislukking van instellings soos Kopersbond en Spoorbondkas. Rupert wend hom dus tot die meer bestendig welvarende gemeenskap van die Boland en begin aandele vir vyf sjielings elk verkoop, by name aan die wyn- en uitvoerdruiwe-boere, wat die groot steunpilaar van sy sakeryk sou word. Die beleggers is uitsluitend Afrikaners; niemand anders stel belang nie.
Rupert moes toe tegelyk sakebelange in Kaapstad en Johannesburg behartig, en hy begin per trein tussen die twee stede pendel. Die jaarkaartjie vir die treinrit van duisend myl wat hy aanskaf, kos hom £50, en oor naweke bring hy twee nagte en ’n dag op die trein deur. In een jaar slaap hy 63 nagte, langer as twee maande, op die trein.
In sy werwingsveldtog kry Rupert baie hulp van De Wet Theron van die plaas Montpellier by Tulbagh, wat voordat hy gaan boer het, ’n wyndeskundige was by die KWV, waar sy vader, Hennie, die voorsitter was. Van die eerste kopers wat vertroue in Rupert toon, was Frank le Roux en Paul Roux van die Paarl, stigters van die KWV.
Rupert ry met sy klein motortjie die Boland plat saam met De Wet Theron, wat ’n klomp van die wynboere goed geken het. Hy verkoop die DKW eers nadat ’n winkeleienaar in Linden in Johannesburg die motortjie staan en bekyk en reguit sê: “Rupert, ek sal nie met jou sake kan doen nie.” Hy skaf uiteindelik ’n tweedehandse Studebaker aan.
Teen Januarie-Februarie 1944 beloop die uitstaande skuld op die koopsom van die Forrer Broers se onderneming nog £9 000, geld wat Rupert nie gehad het nie. Dit is nogtans wat entrepreneurs betref niks ongewoons nie: hulle is, anders as die populêre mening, dikwels nie mense wat met hope geld begin of toegang tot groot kapitaal het nie. Hulle is eerder ondernemers wat geleenthede raaksien en met passie die benutting daarvan nastrewe.
Desnieteenstaande druk die nood in ’n stadium wat Huberte as ’n “donker tyd” in die Ruperts se lewe beskryf.
Op Saterdag 29 Januarie 1944 bevind die Ruperts hulle in Kaapstad toe hulle tyding kry dat sy moeder die vorige aand oorlede is. Sy het ’n swak hart gehad en was in Port Elizabeth vir ’n operasie, maar sterf voordat dit uitgevoer kon word.
Mev. Hester Rupert, die sesde van Oom Kootjie van Eeden se tien kinders (ses dogters en vier seuns), was met haar oorlye betreklik jonk. Sy was pas 50, terwyl haar jonger suster, Johanna Sophia, die latere tant Hanna (Stefaans) Nel, haar met baie jare oorleef het. Op sy tant Hanna se 103de verjaardag op Jansenville, wat Rupert in 1999 bygewoon het, kon sy nog uit haar kop die geboortedatum van elke kind en kleinkind van die naaste familielede korrek meedeel.
Huberte beskryf haar skoonmoeder as “’n lieflike vrou”. Voor haar dood, toe sy en Rupert sy moeder op Graaff-Reinet gaan groet het, was Huberte se laaste woorde aan die ouer vrou: “As my moeder nie meer daar is nie, dan sal ek nie sonder een wees nie, want u is soos sy.”
Rupert besluit die Saterdagoggend nadat hy die tyding ontvang het om dadelik na Graaff-Reinet te vertrek, ondanks die probleem dat brandstof in die oorlogsjare gerantsoeneer is en hulle nie meer koepons gehad het om tussen 6 vm. en 6 nm. petrol te kry nie. Hulle ry na Oudtshoorn waar een van sy direkteure, Jurgens Schoeman, sakeman en boer van die plaas Vadersgawe, die motor se petroltenk vir hulle vul, en is betyds vir die begrafnis.
Op pad vra Huberte dat Rupert eers stilhou sodat sy kan klaar huil oor haar skoonmoeder. Sy het geweet sy was nou, hoewel vroeg in die twintig, die moeder van die huis, want Koos, jongste broer van Rupert, was net veertien jaar oud.
Toe hulle op Graaff-Reinet aanland, stap Koos na Huberte en slaan sy arms om haar: “Jy vat my saam, nè?” Sy het reeds met Rupert afgespreek dat sy vader nie vir Koos sou kon sorg nie en antwoord dadelik: “Ek het dit reeds met Boetie Anton bespreek. Jy kom na ons toe.”
Rupert moes taamlik gou vir onafgehandelde sake na Kaapstad terugkeer en sy vrou bly op Graaff-Reinet agter om na die reëlings om te sien. Sy reël onder meer dat Koos saam met hulle terugkeer na Johannesburg, waar hy later aan die Hoërskool Helpmekaar sou studeer. Toe Anton-hulle Kaap toe trek, woon hy in by die Wesselse op Krugersdorp en voltooi sy matriekjaar aan die Hoërskool Monument.
Toe Rupert enkele dae ná die begrafnis by ’n hotel in die Paarl inteken en die middagkoerant oopmaak, sien hy ’n berig dat sy goeie vriend Jan de Kock, die hoofbestuurder van die Magaliesbergse Koöperatiewe Tabakvereniging wat hom so standvastig bygestaan het, saam met die MKTV se voorsitter, Nick Combrinck, in ’n rivier tussen Pretoria en Rustenburg verdrink het.
Die aanloop van die brug waaroor De Kock-hulle moes ry, het weggespoel. Hulle kon die relings sien, maar nie die verspoelde padoppervlak nie en hul motor is meegesleur. Twee seuns het lewend uit die ongeluk gekom. Die een was M.H. (Tienie) de Kock, later regter van die Kaapse hooggeregshof en voorsitter van die Wes-Kaapse tak van die Raad op Nasionale Gedenkwaardighede. ’n Gedenkplaat ter herinnering aan Combrinck en De Kock – “heengegaan in vloedwater-motorramp, Sterkstroom, middernag 2-3 Februarie 1944” – is in die MKTV se hoofkantoor op Rustenburg aangebring.
Vir Rupert was dit ’n dubbele slag: In een week het hy sy moeder en een van sy beste vriende verloor. De Kock was immers die man wat by dr. Stals, wat ’n bestuurshoof vir Voorbrand gesoek het, aanbeveel het dat daar net een persoon is wat die taak sal kan verrig, “daardie jong kêrel Rupert”.
Terwyl Rupert-hulle nog besig is om aandele te plaas, tref nog ’n terugslag hulle. Daan Hoogenhout, latere finansiële kundige van die Rembrandt Groep, deel hom mee dat hy bedank. Hoogenhout en sy vrou, vroeër sy sekretaresse, het besluit om in Botswana te gaan boer. Sy broer Imker Hoogenhout, konsul van Suid-Afrika in die Kongo, het ’n Griekse vriend gehad wat in so ’n boerdery wou belê.
Daan Hoogenhout doen egter reeds weer in 1945, toe die boerdery misluk en sy vrou ’n baba verwag, aansoek om terug te kom. Hy word as rekenmeester van Distillers Korporasie op Stellenbosch aangestel. In 1948 keer hy terug na die tabakgroep.
Kort ná die sware verlies van sy moeder en vriend ry Rupert en De Wet Theron een oggend in Maart 1944 na De Doorns, die vrugbare vallei in die Hexrivierberge wat om sy uitvoerdruiwe bekend is. Hy moes daardie dag die uitstaande bedrag van £9 000 aan die Forrer Broers betaal, en die oggend om agtuur weet hy nog nie waar hy dit gaan kry nie. Dit is een van die nouste van nou gapings waardeur hy in die begin van sy loopbaan moes kom – maar hy hét, deur daardie dag £11 000 se TIB-aandele te verkoop aan ’n paar boere wat ’n byeenkoms van belangstellendes op De Doorns bygewoon het. “Ek het ’n paar etikette (vir wynbottels) aan hulle gewys en my idees aan hulle verkoop. Ek het ’n droom aan hulle verkoop.”2
Hy ry via Wellington en Bainskloof – die Dutoitskloofpas is nog nie gebou nie – na Kaapstad terug en kon voor die bank se sluitingstyd die geld inbetaal.
Daardie aand bel Rupert vir Huberte in Johannesburg om die blye nuus mee te deel. Dit is die eerste langafstandoproep wat sy van hom ontvang. Sy waardeer dit ten seerste: “Die feit dat hy dit so belangrik geag het om dit vir my te vertel was ’n kleinood wat ek met my saamgedra het, want ons was saam in die ding.”
Rupert, wat sy loopbaan deur ’n hoë prys op lojaliteit stel, sou nooit die steun vergeet wat hy in die jare veertig van veral die wynboere, maar ook van tabakboere, gekry het toe hy dit broodnodig gehad het nie. Daardie lojaliteit en voortgesette betrokkenheid by ’n bedryf wat ’n betreklike klein opbrengs toon vergeleke met die bestuursaandag wat daaraan bestee word, sou weer sterk na vore kom tydens 1979 se herstrukturering van die Suid-Afrikaanse drankbedryf.
Die koop van TIB se aandele word mettertyd ook ’n wederkerige voordeel. Verskeie aandeelhouers van Rembrandt uit die beginjare het miljoenêrs geword, sommige multimiljoenêrs. Die rykdom van ’n hele aantal ander welgestelde Bolandse families, dus inderdaad ook in groot mate die welstand van die Boland self, rus op die fondament van Rembrandt-aandele.
Een Paarlse boer het vir elk van sy vier kinders £2000 se aandele gekoop. Kort ná die eeuwisseling was elke kind se aandele R132 miljoen werd.
’n Afgetrede hoogleraar in ginekologie het in 2001, toe Rupert ná sy val in sy woning met sewe gebreekte ribbe in die hospitaal was, per brief uit Johannesburg laat weet hy was in 1944 op De Doorns die dag toe Rupert daar aandele verkoop het. Hy wou verder gaan studeer en het nie aandele gekoop nie; sy neef, wat ’n Packard wou koop, ook nie. Maar hulle was nie daarvan bewus dat die ginekoloog se moeder wel £500 se aandele gekoop het nie. Teen die eeuwisseling het die ginekoloog en sy suster “lekker geleef” uit die opbrengs van daardie aandele.
Een persoon wat later spyt was dat hy nie aandele gekoop het nie, was Piet Meiring, die Suid-Afrikaanse inligtingshoof by wie Rupert in Johannesburg kers opgesteek het oor die feesuitgawes wat hy tydens die Voortrekker-eeufees aangegaan het. Meiring skryf in sy herinneringe dat hy die dag onthou toe Rupert, wat daar naby by Voorbrand was, hom weer op kantoor besoek het. “Ek het, soos ’n dwaas, nie geswig vir sy voorstel dat ek aandele in die nuwe maatskappy koop nie.”
Dit berou Meiring erg juis omdat hy in die oorlogsjare saam met dr. Hendrik Verwoerd in groot skuld gedompel is. ’n Kollega van hulle by Die Transvaler, Rammie Botha, het naamlik besluit dat daar meer geld in besigheid as in koerantwerk steek, en hy begin saam met Whiskers van Niekerk, met Meiring en Verwoerd as mededirekteure, ’n garage en ’n markagentskap wat markprodukte by huisvroue aflewer. “Spandabelheid en wanbestuur het die twee ondernemings in duie laat stort, met my en dr. Verwoerd as borge by die bank,” vertel Meiring. Elkeen was R50 000 aan Volkskas en Sasbank verskuldig. Die banke was toegeeflik en het ’n deel van die skuld afgeskryf, maar Meiring moes sy motor en sommige van sy skilderye verkoop om die skuld te delg.3
Die petalje het ook ’n merk gelaat op Verwoerd, wat deur bemiddeling van Fritz Steyn deur die banke tegemoetgekom is. Rupert is oortuig dat hierdie finansiële mislukking die aanleiding daartoe was dat Verwoerd teen die kapitalisme gekant geraak het. “Hy was bevooroordeeld teenoor die sakesektor omdat hy self ’n negatiewe sakeondervinding gehad het.” Een van die gevolge was dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling wat Verwoerd later as eerste minister wou uitbou, misluk het onder meer omdat hy nie blanke kapitaal in die swart tuislande wou toelaat nie.
TIB brei in die stigtingsjare mooi uit deur verdere aandelewerwing en die aankoop van nog ondernemings. TIB se kapitaal is vroeg volskryf en dit lê ook die grondslag vir latere aandele-uitgifte en uitbreidings.
In die drankhandel word die kroon daarop gespan met die stigting van Distillers Korporasie op 11 Junie 1945 – die eerste Afrikaanse maatskappy wat op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer is.
Distillers se eerste direksie is soos volg saamgestel: S.A. (Sidney) Schonegevel (eerste voorsitter, twintig jaar lank), Anton Rupert (besturende direkteur), Dirk Hertzog, C.C. (Oupa) Kriel, J.J. (Jurgens) Schoeman, J.F. (Freddie) Kirsten, P.C. du Toit en F.S. (Fritz) Steyn. In ’n memorandum waarin Dirk Hertzog reageer op kritiek dat die direksie deur die Nasionale Party beheer is, skryf hy: “Daar was geen NP verband nie en tewens SAP lede op die raad.”4
Die geslaagde notering volg op ’n groot deurbraak vir die nuwe groep op 23 Maart 1945. TIB, as trustee van Union Distillers SA (Pty) Ltd, gaan ’n ooreenkoms aan om die grond, masjinerie en toerusting van die South African Farm Products Protective Association Limited te koop. Dié Stellenbosse maatskappy was in likwidasie.
Die terrein is geleë in die munisipaliteit van Stellenbosch aan die voet van Papegaaiberg, oorkant die stasie en aan die noordekant begrens deur die Plankenbrugrivier. Dit is sewe hektaar groot en het ’n ligging langsaan die skilderagtige universiteitsdorp waaroor ’n mens net kon droom. Rupert se oog vir geleenthede laat hom nie in die steek nie.
Die prys was vir daardie tyd nie min nie: £25 000. Die ooreenkoms word namens TIB onderteken deur Schonegevel, een van die oorlewendes van die Slag van Dellville-bos in die Eerste Wêreldoorlog waarin 2 400 Suid-Afrikaanse soldate op Franse bodem gesneuwel het. Die ooreenkoms maak voorsiening daarvoor dat die trustees kon optree namens ’n maatskappy wat nog gestig moet word.
Op 11 Junie 1945 word die nuwe maatskappy, Distillers Korporasie (SA) Beperk, onder die Maatskappyewet geïnkorporeer. Die kapitaal bedra ’n aansienlike £1 300 000, verdeel in 2 200 000 gewone aandele van 10 sjielings elk en 200 000 voorkeuraandele van £1 elk. Die wynboere se vertroue in Rupert was so sterk dat die aandele-uitgifte oorvolskryf is.
Heftige en selfs neerhalende kritiek begroet die geboorte van die nuwe speler in die drankbedryf, wat met agt drankwinkels wegspring. In die tydskrif Wine and Spirit van die KWV, ’n belangrike koöperatiewe speler in daardie tyd, skryf die redakteur ietwat venynig dat hy die kritiek selfs vreemd vind, “. . . as we know that businesses without prospects of a future are usually left severely alone; left to their own fate”.
Verder kritiseer hy die leierskap van die nuwe maatskappy oor sy gebruik van Afrikaans: “Why they should continually refer to the Afrikaans origin of the company, they alone know.”
Vir Rupert is daar egter ’n goeie rede om ook Afrikaans te gebruik. Trou aan sy wortels en deurdrenk met die begeerte om te bewys dat Afrikaners in die nywerheid kan slaag, is hy nooit skaam of huiwerig om die vlag vir Afrikaans te hys nie.
Daar is ook ’n ander beweegrede. Hy wou die wynboere, meestal Afrikaners, tot hul reg laat kom. En hy wou landgoedwyne bevorder, ’n droom wat hom lewenslank besig hou en verwesenlik is deur onder meer die betrokkenheid van die Ruperts by landgoedere wat gehaltewyn produseer.
Hy kon in die beginjare nie veel vir die wynboere aanbied nie, maar daar was ’n sterk begeerte by hulle dat Afrikaners inspraak in die drankhandel kry. Die onbevredigende situasie van destyds laat een van die boere opmerk dat die wynhandel in die hande is van “whiskydrinkers wat die wynbottels in die drankwinkels regop laat staan”.
Die gevoel dat sulke mense nie respek vir wyn het nie, is ’n vername rede waarom Rupert met landgoedwyne begin, en waarom hy die wynboer die eer wou laat toekom. Sy eerste landgoedwyne kom van Montpellier, Theuniskraal en Alto. Hoewel die etikettering van wyne wat waarborg dat hulle van ’n spesifieke landgoed en sy wingerde afkomstig is, ofte wel appellation contrôlée, algemeen in Duitsland en Frankryk was, is die gebruik nie in Suid-Afrika toegepas totdat Rupert dit ingebring het nie.
“Dit was ’n interessante bemarkingsidee,” vertel hy. “Dit het die boere ingeskakel, dit het hulle op die landkaart geplaas en hulle op hul voete gebring.”
Teen 1946 het sowat twintig wynboere hulle aangesluit by die sambreelorganisasie wat as die Bergkelder bekend geword het. Die bekendstes van hierdie pioniers is Andries Jordaan van Theuniskraal, Tulbagh; De Wet Theron van Montpellier, Tulbagh; Manie Malan van Alto, Stellenbosch; baron Von Carlowitz van Uitkyk, Muldersvlei; Danie Roux van Provence, Franschhoek; P. Bruwer van Mont Blois, Robertson; en P. Beyers van Riversmeet, Groot-Drakenstein.
Landgoedwyne kry egter eers ’n kwarteeu later, in 1972, algemene erkenning en wetlike beskerming in Suid-Afrika.
Rupert begin ook die idee toepas om die prys van goeie landgoedwyne op te stoot. Paul Sauer, latere minister en self ’n wynboer van die Stellenbosse spogplaas Kanonkop, kritiseer Rupert aanvanklik oor die duurder wyne. Maar sy verweer is moeilik weerlegbaar: “Gaan kyk watter wyn mense bestel wanneer hulle gaste onthaal. Hulle koop buitelandse wyne omdat dit duurder is. Hulle wil nie lyk asof hulle suinig is deur goedkoper wyne voor te sit nie.”
Op die koop toe verken hy reeds van 1946 af moontlikhede om tot die bierhandel toe te tree – ’n vroeë verkenning op die terrein van nog ’n lonende produk wat uiteindelik sou uitloop op die bieroorlog, wat deur heftige botsings tussen uiteenlopende persoonlikhede en mededingende instellings gekenmerk sou word (sien hoofstukke 16 en 20).
Distillers begin onder baie moeilike omstandighede, want die verwoestende Tweede Wêreldoorlog was pas verby. Geld en goedere was skaars. Die verspreiding van boumateriaal is van regeringsweë deur ’n kwotastelsel gereguleer.
Rupert se nuwe maatskappy moes van ou geboue gebruik maak. Hy kon ’n permit verkry om boumateriaal ten bedrae van slegs £5 000 aan te koop. Prioriteit nommer een was daarom die bou van tenks. Onderdakwerkgeriewe was maar prioriteit nommer twee.
Daar kon ook nie aan ’n luukse kelder gedink word nie. Teenoor die moderne luukse kelders moes Rupert met veel meer beskeie hulpmiddele klaarkom in sy poging om in die drankbedryf in te breek. Afdakke is gebou om ’n mate van beskutting te verleen. Dié is later toegebou namate stene beskikbaar geword het.
Die administratiewe vleuel van die gebou bestaan uit vier klein afgeskorte kantore en ’n groot kamer. Rupert, sy sekretaris, J. van R. Maartens, en Hoogenhout het daar gesit. In die vierde kantoor was ’n paar klerke, onder wie Fanie Botha, die latere minister van arbeid.
’n Vroeë terugslag was die rantsoenering van rabatbrandewyn deur die KWV, wat kwotas vir proefspiritus vir die drankbedryf op grond van aankope in die verlede ingestel het. Hoewel Distillers in die begin 40 000 gellings per jaar in die vooruitsig gestel het, word weens rantsoenering slegs 9 000 gellings aan hom toegeken op grond van sy oorname van die veel kleiner Forrer Broers.
Gevolglik, ondanks aansienlike kapitaal en veredelingsgeriewe, was Distillers “all dressed up and nowhere to go”, soos Dirk Hertzog dit in ’n interne memorandum gestel het. “Dit het swoeg en sweet gekos om ten spyte van hierdie inperking van Regeringsweë tog suksesvol sake te doen.”5
Distillers moes sowat 80% van sy toegesegde kwota proefspiritus aan die ouer gevestigde maatskappye soos Castle Wine & Brandy afstaan. Die wiel draai egter wel: In ’n ironiese nasleep is hierdie reus in die drankbedryf in 1969 oorgeneem deur die Oude Meester Groep, wat uit Distillers voortspruit.
Wat Rupert-hulle aan voldoende voorraad en geboue ontbeer het, word vergoed deur gehaltebeheer wat die produksieproses betref. Dit is dwarsdeur Rupert se lewe een van sy sterk punte. Hy het byna ’n obsessie oor gehalte. Distillers lê hom dus van die begin af toe op die vervaardiging van gehaltebrandewyn soos Oude Meester en vele ander.
Huberte Rupert besoek dikwels die kelder en wys besoekers rond. Sy toon deurentyd ’n lewendige belangstelling in haar man se sakeaktiwiteite. Haar besoeke sorg soms vir drama: Die nuwe onderneming moes destyds ou bottels gebruik, want daar was nie ’n glasfabriek in die Kaap wat bottels gemaak het nie. Die skoonmaak van die bottels word ’n hele proses, en dit speel voor die laboratorium af; nie juis ’n aanskoulike gesig vir besoekers nie. Daarom het ene Milton, die hekwagter, ’n paar harde blase op ’n fluitjie gegee wanneer Huberte op besoek kom. Dit is die teken vir die bottelwassers om in die kelder te verdwyn. Huberte en haar besoekers het dan ’n minder belemmerde toegang tot die laboratorium gehad.
In die naoorlogse jare tree ook een van die tipies menslike fasette van Rupert en sy vrou na vore, twee mense wat intens met die wel en wee van hul werknemers saamgeleef het.
Die moontlikheid ontstaan dat een van sy kundigste werknemers, Alfred Baumgartner, ’n Duitser wat uit Swakopmund in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) afkomstig was en in 1946 as wyntegnoloog vir Distillers begin werk het, ná die oorlog as ’n vyandige vreemdeling met sy gesin uit Suid-Afrika na Duitsland gedeporteer sou word. Die Baumgartners het trouens al die meeste van hul huisraad verkoop en het met net hul beddens en vyf kleretasse op die gevreesde deportasiebevel gewag.
Op ’n dag stel Huberte voor dat sy vir die drie Baumgartner-kinders sal sorg en na hul ouers in die verwoeste Duitsland sal terugneem wanneer hulle in staat is om hulle te ontvang.
Baumgartner, vader van die Stellenbosse kunstenares Regine Kröger, is oplaas nie gedeporteer nie, maar hy was baie aangedaan. “Ek was so stomgeslaan deur hierdie groothartigheid, so oorval deur diepe waardering en dankbaarheid, dat ek my gevoelens skaars kon uitdruk. Al die onaangename voorvalle gedurende die oorlog, internering en die bedreiging van deportasie het voor Anton en Huberte Rupert se groot vriendskapsgebaar verdwerg. Nadat die nuwe regering (in 1948) permanente verblyf in Suid-Afrika aan my toegestaan het, het ek gedink daar is net een wyse waarop ek my dankbaarheid kon betoon, en dit was om vir die res van my beroepslewe in Anton Rupert se nywerheidsonderneming te dien,” skryf hy.6
Die episode kenskets iets omtrent Rupert en sy vrou wat nie algemeen bekend is nie: Hulle maak meer dan eens die lotgevalle van hul werknemers hul eie. Waar hulle kon, help hulle.
Een so ’n geval is Annies Breytenbach se vrou, Loretta, wat weens mislukte kornea-oorplantings oogprobleme gehad het. Rupert stuur haar oorsee vir behandeling, waarna Breytenbach sê hy sal nooit weer vir ’n ander firma werk nie.
Huberte was ook baiekeer die hart en ore van werknemers. By een geleentheid word diefstal in ’n afdeling deur middel van ’n naamlose briefie onder haar aandag gebring, en sy lig die afdelingshoof daaroor in. Toe die misdryf stopgesit is, ontvang sy weer so ’n briefie wat net lui: “Dankie, mevrou.”
Toe sy eenkeer in teetyd in die Paarl gaan vra of daar probleme is, sê een vrou: “Ja, ons voel seer dat getroude dames nie pensioenregte het nie.” Huberte gaan daarop reguit na die rekenmeester en vra dat dit reggestel word, want die betrokke groep was boonop die getrouste werkers. Van toe af is hulle op die pensioenfonds. Jare later kry Huberte ’n brief gerig aan “Ons moeder” – om haar te bedank dat die betrokke werknemer ’n kommerlose oudag kan geniet. “Dit is die soort waardering wat die lewe die moeite werd maak,” merk sy op.
Sy en ander eggenotes van senior werknemers reël Kersmaaltye en Kersgeskenke vir die personeel. Sy wens ook Rembrandt-werknemers wat in sport uitblink, persoonlik geluk wanneer hulle presteer deur byvoorbeeld provinsiale kleure te verwerf.
Haar beskouing is kortom dat sy as meelewende eggenote van die uitvoerende hoof baie meer vir die personeel kon beteken as wat sy as ’n beroepsvrou met ’n loopbaan van haar eie sou kon vermag.
Die egpaar se meelewing met die personeel verklaar ten dele die lojaliteit van Rupert se werknemers teenoor sy organisasie en homself.
Huberte druk haar beskouing van haar man se verhouding met sy personeel só uit: “Die een ding van my kant gesien wat ek moet noem, is dit: Dit is nie die sigbare goed wat Anton gedoen het wat hom vir my ’n groot mens maak nie. Dit is eerder die vermoë wat hy het om mense te besiel om buite hulleself te presteer. Hy het die vermoë gehad om sy gedagtes oor te dra aan mense wat hulle tot nuwe hoogtes binne hul eie ontwikkeling gebring het.
“Dit behels doelgerigtheid, eerbaarheid en eerlikheid – dié dinge wat wesenlik in die wêreld saak maak. Dit is nie gelukkies wat langs jou pad val nie. Dit is hierdie doelgerigte eerbaarheid wat op die ou einde vir jou blywende sukses bring, want dan kan jy ook met leerstellings klaarkom. Ek praat nie in godsdienstige sin nie; ek praat uit die sin van eerbaarheid, en dit is wat Anton se krag nog altyd vir my was.
“Die mense wat met hom saamgewerk het, het almal anderkant uitgekom as begeesterde, beter mense met ’n intense lojaliteit.
“Dit is iets wat ’n leier maak; ’n mens wat dít kan doen. Dit help nie om entrepreneurs met kapitaal in die bank te wees nie; dis slegs meevallers. Sonder Anton se mensemateriaal om hom, mense wat hy kon besiel, sou hy niks kon vermag nie.”7
Lojaliteit word een van die vernaamste sentrale begrippe van die Rembrandt Groep. Rupert gee inderdaad aan die woord “nuwe betekenis”, soos die ervare sakejoernalis David Meades by geleentheid van Rupert se tagtigste verjaardag in 1996 skryf. Hy voeg by: “Dis seker die enkele sterkste bousteen van sy sakeryk. Sy mense is bereid om alles vir die groep op te offer.”8
Rupert wei self uit oor karakter as die belangrikste bestanddeel van leierskap in ’n lesing wat hy reeds in 1965 hou en wat in 1967 in sy boek Leiers oor leierskap opgeneem word. Die goeie bestuurder “het ’n kode van waardes wat uit sy etiese en geestelike lewe voortspruit”. Dit sluit die volgende eienskappe in: eerlikheid, integriteit, betroubaarheid, lojaliteit, nederigheid, opregtheid en standvastigheid.
“In enige sakeonderneming wat lank wil voortbestaan, is eerlikheid inderdaad die beste beleid. En ons moet onthou dat dit lank duur om ’n goeie naam op te bou, maar dat daardie goeie naam binne ’n oomblik kan verdwyn as gevolg van een wandaad. Betroubaarheid word slegs deur die tyd bewys,” gaan hy voort.
“Lojaliteit is een van die mooiste bates in die lewe – die één eienskap wat nie met geld gekoop kan word nie en verdien moet word. Dit is ’n karaktereienskap wat ek bo alle ander stel.”
’n Barometer van die werknemers se lojaliteit is die lae personeelomset. In 1997 getuig Johann Rupert, naas sy vader die enigste ander hoof uitvoerende amptenaar in die bestaan van die Rembrandt Groep, voor die Waarheid-en-versoeningskommissie dat die personeelomset in die groep oor al die jare slegs 2% beloop.9
Rupert vereis inderdaad onverdeelde lojaliteit. Vir hom begin dit in die gesinskring. Hy glo dat ’n ontroue eggenoot wat nie meer lojaal teenoor ’n lewensmaat is nie, ook teenoor die groep dislojaal kan word, en hoe kan so iemand in sy of haar werk vertrou word? Kantoorverhoudings tussen getroudes en ongetroudes was vir hom ’n doodsonde. Almal in die Rembrandt Groep het dit geweet, en enkeles wat oor die tou getrap het, is verplaas of het elders gaan werk in die dae voordat die samelewingsnorme toeskietliker geword het.
Amptenare van Rembrandt wat gereeld oorsee moes reis, kon by geleentheid hul vroue saamneem. Dit geskied ook op aandrang van Huberte. Sy het Rupert oortuig dat vroue behoort te deel in die ervarings wat hul mans in die buiteland beleef en dat daardeur ook suksesvolle huwelike in stand gehou word wat ’n bate vir die groep sou wees. Die gebruik is deur hul seun Johann voortgesit toe hy die uitvoerende hoof van die groep geword het.
Rupert beskou lojaliteit sodanig as een van die opperste deugde dat hy graag ’n staaltjie omtrent homself vertel. By geleentheid waar hy ’n moeilike situasie omtrent ’n kollega moes hanteer, sê sy vriend prof. James Yeats van Stellenbosch aan hom: “Anton, jy is té lojaal.” Rupert staan op agter sy lessenaar, stap na Yeats en gee hom hand met die woorde: “Dankie, Jamie, dankie; dit is die grootste kompliment wat jy my kon gee.”
Lojaliteit is een van die faktore wat meegehelp het dat Distillers sowel as die latere Rembrandt van krag tot krag gegaan het. Nog ’n bydraende faktor is dat Rupert mededingers met wetenskaplike deurbrake voorgespring het. As opgeleide wetenskaplike het hy voortdurend nuwe tegnologieë benut.
Distillers se eerste tegniese bestuurder was Gerhard Schröder, wat baie gou ondanks die taamlik primitiewe omgewing ’n laboratorium aangelê het. Schröder, ’n perfeksionis wat aan die Institut für Gärungsgewerbe in Berlyn opgelei is, het die laboratoriumwerk grotendeels opgedra aan Baumgartner, wat sy doktorsgraad in plantfisiologie summa cum laude aan die Universiteit van Freiburg verwerf het. Baumgartner meen dat Rupert nie ’n beter persoon as Schröder kon gevind het nie: “Gerd Schröder was getroud met Distillers. Hy het nooit gerus totdat ’n taak perfek afgehandel is nie en hy was altyd bereid om enige tyd van die dag of nag aan diens te wees.”10
Schröder, ’n doelgerigte en harde werker wat hom deur niks laat stuit nie, benodig op ’n dag ’n voertuig om wyn in Kaapstad af te lewer, maar net die motor van Fanie Botha, die latere minister, was beskikbaar. Hy vra Botha om van Stellenbosch na hom in die Paarl te ry, en toe Botha by hom aankom, sê hy daar skort iets met sy wiele. Toe Botha uitklim, spring Schröder agter die stuurwiel in en ry weg. Die ontstelde Botha bel Rupert en kla steen en been oor sy gekaapte motor. Rupert ontbied Schröder na sy kantoor, maar die hardkoppige Duitse vakman weier om te kom. Daarop lees Rupert hom die leviete voor: “Mnr. Schröder, u kom dadelik na my kantoor of u word afgedank!” Schröder sien toe in wie die baas van die plaas is, en hy gehoorsaam. Van toe af, sê Rupert, was Schröder een van sy lojaalste werknemers.
Reeds in 1947 bestel Schröder uit Frankryk, land van die sjampanjemeesters, masjinerie en gistingstenks wat Distillers in staat stel om die enigste moderne, ten volle outomatiese vonkelwynaanleg in die land te bedryf. Vier soorte vonkelwyn is onder die handelsmerk La Residence geproduseer.
Onder Rupert se aanmoediging word brandewyn van ’n baie goeie gehalte gemaak, waardeur die hele plaaslike brandewynbedryf ’n hoër plato bereik. In 1949 behaal Distillers die hoogste punte van alle Suid-Afrikaanse maatskappye wat aan die Rykswynskou (Empire Wine Exhibition) in Londen deelneem. Die prestasie word in 1950 herhaal, die jaar waarin Oude Meester aangewys word as die beste brandewyn wat in die Britse Gemenebes vervaardig is.
Rupert, wat van 1948 sy aandag toenemend sou toespits op die tabakbedryf wat met Rembrandt se stigting momentum verkry het, ontwerp die bekende handelsmerk van Oude Meester vir Distillers. Later stel hy ook die naam Amarula voor vir die roomlikeur wat ’n wêreldtreffer geword het.
In daardie stadium was brandewyn en spiritualieë Distillers se grootste geldverdieners. ’n Remmende faktor was dat die maatskappy van die KWV vir rabatbrandewyn afhanklik was en in die eerste vyf jaar ’n allokasie van net 1,3% kon kry.
Rupert hoor in 1951 die eerste keer van koue of “beheerde” gistingsmetodes, ’n proses wat onder leiding van die Duitser Wilhelm Geiss in Kalifornië ontwikkel is. Sy personeel bestel onmiddellik vier hoëdruktenks uit Duitsland. Die nuwe tegnologie, tesame met sy klem op gehaltebeheer, stel Distillers in staat om wyne van ’n voorspelbare gestandaardiseerde gehalte, geskik vir die massamark, te produseer. Handelsmerke soos Grünberger Stein, gebottel in die spesiale Bocksbeutel-fles wat die Franke in Duitsland gebruik het, en Kupferberger Auslese het baie gewild geword.
Net soos in die geval van tabak bring Rupert aanvanklik ’n wye reeks handelsmerke op die mark om uiteenlopende smake te bevredig. Sommige was in mededinging met mekaar, ’n tegniek wat hy meermale volg om almal binne die groep op hul tone te hou. Mettertyd is handelsmerke egter, soos ook met tabak, verminder en op die suksesvolstes gekonsentreer.
Die drankmaatskappy sou ’n grootse suksesverhaal word – en wêreldberoemd met van sy wyne en brandewyne. Van die bekendste handelsmerke11 was (met die 1951-pryse per bottel, omgesit in rand, wat toon watter uitwerking inflasie sedertdien gehad het):
Oude Meester Brandewyn R1,25
Richelieu Brandewyn R1,10
Old Master Medium Sherry 43c
Theuniskraal Riesling 54c
Stellenheimer Rooderust 37c
La Residence Vonkelwyn R1,09
Van der Hum R1,01c
Terwyl ’n suksesverhaal in die drankbedryf ontvou, het die dramatiese uitbreiding van Rupert se tabakryk sowel as ’n opspraakwekkende bieroorlog voorgelê.