Читать книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse - Страница 14
ОглавлениеHoofstuk 8
Vorentoe met innovasie
Twee van die redes wat Rupert vir die Rembrandt Groep se sukses uitsonder, is innovasie van denke en innovasie van produkte. Hy het dit wyer as die bedryfslewe probeer toepas.
Sy vernuwende denke, wat verreikende maatskaplik-ekonomiese implikasies ingehou het, kom sterk na vore reeds op die Tweede Ekonomiese Volkskongres, wat in 1950 in Bloemfontein gehou is in opvolging van 1939 se Eerste Ekonomiese Volkskongres. Dit is op hierdie tweede kongres, voordat Rembrandt enige buitelandse belange bekom het, dat hy die eerste keer deelgenootskap as sakefilosofie in die openbaar verkondig.
Hy bepleit ware deelgenootskap – waarby hy ook swartes wil betrek; ’n byna revolusionêre idee in die heersende tydsgees van daardie jare – as die enigste manier waarop die voordele van private onderneming tot seën vir die mensdom aangewend kan word.
Rupert hou sy toespraak, getitel “Die Afrikaner in die nywerheid”, twee jaar nadat dr. D.F. Malan die bewind in 1948 oorgeneem het deurdat die Nasionale Party genl. Jan Smuts se Verenigde Party verslaan het. Afrikanernasionalisme was op ’n hoogty, vol selfvertroue. Die doel van die kongres was om ’n opgawe van die vorige dekade se ekonomiese vordering te maak en besieling daaruit te put. Met die politieke koninkryk onder Afrikanerbeheer moes die ekonomiese terrein verower word.
’n Opname wat die FAK in 1949 vir vier ekonomiese sektore – handel, nywerheid, finansies en mynwese – onderneem het, toon dat die Afrikaners se bydrae ten opsigte van omset in die private sektor in die dekade sedert die Eerste Ekonomiese Volkskongres feitlik verdubbel het. Die sterkste vordering was in die handel, gevolg deur die nywerheid, maar tog kom die totale bydrae vir al vier sektore op slegs 11% te staan – steeds nie indrukwekkend nie, maar ten minste is ’n begin gemaak.
Rupert, wat op 4 Oktober 1950 op die eerste dag van die driedaagse kongres sy 34ste verjaardag vier, staan as ’n betreklike jong man tussen ander sprekers wat oor die algemeen ouer en meer ervare as hy is – dr. Malan, wat die kongres open, dr. Nic Diederichs, prof. C.G.W. Schumann, dr. M.S. Louw . . .
Hy begin sy toespraak deur die gehoor daaraan te herinner: “Maar ons persentasie bydrae tot die nywerheid is nog klein en nouliks 6% – veels te klein om nou al die stutte onder hierdie klein volksgebou uit te trek en brûe na ander te bou.”
Onmiddellik voeg hy daaraan toe: “Ons is altyd bereid om saam met julle te werk, maar nie altoos vir julle nie. Ons vra geen gunste of gawes nie want ’n volk red homself!”
Hy wei uit oor Suid-Afrika se nywerheidsontwikkeling in die vorige 25 jaar. ’n Kwarteeu tevore was die Suid-Afrikaanse nywerheidsproduksie minder as £100 miljoen per jaar; sedertdien het dit toegeneem tot £700 miljoen per jaar, ’n styging van 700%. “Ons het waarskynlik op nywerheidsgebied relatief vinniger gevorder as enige ander land in die wêreld – selfs vinniger as Amerika of Rusland.”
Rupert beskryf dit as ’n industriële revolusie. Hy skryf dit toe aan onder meer wetgewing wat die Nasionale regering van genl. Hertzog ná sy bewindsoorname in 1924 deurgevoer het, waardeur onder meer Yskor (die yster-en-staalkorporasie, later vernoem tot Iscor) tot stand gekom het, asook aan die rol wat Afrikanerentrepreneurs soos Hendrik van der Bijl, Hendrik van Eck en Frikkie Meyer in die opbou van die land se grootste basiese nywerhede gespeel het.
Tog beheer Afrikaners in daardie stadium minder as 1% van die mynbou- en nywerheidsondernemings, waarvan die markwaarde meer as £1000 miljoen op die beurs beloop.
Hy waag die mening dat die nywerheid die gebied is waar Afrikaners die beste sal presteer. “Alleen waar die nywerheid grens aan die handel lê ons probleme; probleme van bemarking, verkoopbaarmaking en reklame wat aanvulling en ondervinding verg wat nie op universiteite of uit teksboeke bygebring kan word nie.”
Hy was twaalf jaar tevore in Bloemfontein om namens die studente hulde te bring aan wyle vader Kestell op sy 84ste verjaardag. “Ek herinner my heel goed sy bedanking aan die studente, en op sy hoë ouderdom het hy gesê: ‘Ek leef nie in die verlede of die hede nie, maar in die toekoms.’”
’n Konstante blik op die toekoms sou ’n refrein in Rupert se loopbaan word. Hy bewys dit ook in sy toespraak van 1950 terstond met ’n pleidooi om opheffing van swart mense (wat hy in die heersende taal van destyds “naturelle” genoem het).
Hy voer aan dat Suid-Afrika deur die nasionale strewe van die Afrikaner omskep is in ’n nywerheidsland wat werk aan duisende Afrikaners in die stede verskaf. “Maar dit het ook werkverskaffing gebring aan honderdduisende naturelle. Die ongekende groei het meer as 30 000 naturelle per jaar na die stede gelok en meer naturelle uit die Noorde na Suid-Afrika getrek as ooit gedurende die vorige eeu.” Dit het veroorsaak dat elke stad in die land meer swart mense as wit mense het.
Hy bepleit die “ou beskawingstaak” as antwoord op hierdie ontwikkelings wat “een van ons grootste aktuele vraagstukke” meegebring het.
“Vir die bestaan van beide die naturel en onsself is dit nodig dat ons die meesterskap in eie gebied en voogdyskap in sy gebied sal aanvaar. Maar ’n meesterskap gebaseer op prestasie – Meester wees maar Meester werd.
“Ons moet ons nywerhede nog verder uitbou sodat ons finansieel in staat sal wees om reg te laat geskied en om te kan bestaan as goudontginning eendag verval. Ons moet ons staal- en petrolnywerhede uitbou om beide ons en die naturel te beskerm teen ’n vreemde juk in geval van ’n nuwe oorlog. Daar moet naturelle wees wat weet dat ons howe die basiese menslike regte beskerm en ook sal twyfel aan die voorgegewe vryheid uit vreemde lande.”
Rupert lê twee gedagtes in die gehoor se midde.
Die eerste is dat Afrikaanse nyweraars dit op hulle moet neem om met ’n aanvangskapitaal van £5 000 ’n maatskappy sonder winsbejag te stig – wat hy die Bantoe Ontwikkelingskorporasie noem – met die oog daarop “om lokale nywerhede in die naturellegebiede op beskeie manier aan te voer. Dit te doen as blyk van ons goeie bedoelings en opregte strewe.”
Sy tweede voorstel is die oprigting van ’n korporasie vir immigrasie uit Europese lande. “Ons het reeds ’n tekort aan geskoolde blanke arbeid selfs ook, meen ek, op ons plase. Ons moet hierdie twee hand aan hand laat gaan – die een moet die ander aanvul.”1
Rupert ontvang ’n staande ovasie van die kongresgangers, onder hulle ook sy vader, John, sowel as sy oudskoolhoof, dr. G. von W. Eybers.
Sy aandrang op ontwikkeling van swartes, hoewel agterna beskou paternalisties ingeklee in die woordgebruik wat destyds gangbaar was, hou inderdaad die idee van deelgenootskap in wat hy vorentoe met groot oortuiging sou verkondig.
Hy staan ook nie alleen in sy pleidooi dat ekonomiese toenadering tot ander bevolkingsgroepe wenslik is nie. Dieselfde gedagte word op die volkskongres geopper deur dr. Diederichs sowel as prof. L.J. (Wicus) du Plessis, wat verklaar: “Noudat ons staanplek verower het in die sakelewe deur ons kragte onder mekaar saam te snoer, moet ons begin brugge slaan na die ander bevolkingsgroepe om ons invloed op en ons diens aan ons landsekonomie as geheel te versterk.”2
Rupert se toespraak, hoewel goed ontvang ondanks die destydse werklikheid dat die ekonomiese mag oorweldigend in die hande van Engelssprekendes was, was in belangrike opsigte ’n voorspel tot die debat wat jare later in Afrikanerkringe oor ontwikkeling van die swart tuislande, die rol van verstedelikte swartes en dergelike sake gewoed het.
’n Lang tyd het daar egter niks van sy voorstelle gekom nie. Rupert reageer lakonies daarop: “Daar was toejuiging, maar nie aksie nie.”
Hyself sou egter die idee van deelgenootskap veel verder voer, aanvanklik in sy sakeketting in Suid-Afrika en in die buiteland, en uitkringend na sy medemens en die natuur en diereryk.
Innovasie met produkte is ewe doelgerig deur Rupert nagestreef. Hiermee het Rembrandt, hoewel hy in die begin in werklikheid geen kontant gehad nie, baie dinge “geprakseer”, soos hy dit stel.
Die groep spits hom uit die staanspoor daarop toe om deur navorsing nuwe en beter produkte in die tabakbedryf te lewer. Hoewel die tabakbedryf ryk aan tradisies was, besef Rupert as entrepreneur ook dat tot die helfte van nywerheidsprodukte ’n kwarteeu tevore totaal onbekend was. “Ons het ons daarom doelgerig daarop toegespits om deur navorsing nuwe en beter produkte in die tabakwêreld te lewer,” beklemtoon hy. Innoverende produkte word op die mark gebring voordat mededingers dit kon doen. In die proses is hard gewerk. “Ons glo dat sukses behaal word deur diegene wat daardie ekstra bietjie lewer, en dat 24 uur in ’n dag eintlik te min is.”
’n Nuwe filter, die Golden Throat, en ’n nuwe verpakking, All Seal, word vroeg bekend gestel. Rembrandt het geen masjiene gehad om kartonpakkies te maak nie, en vervaardig toe papierpakkies met aluminium buite en binne: die All Seal.
’n Dramatiese innovasie is die eerste filtersigarette van koningsformaat wat in 1952 op die mark gebring word – ’n volle jaar voor enige ander maatskappy ter wêreld. “Weer eens omdat ons nie geweet het dat dit nie moontlik was nie,” vertel Rupert. Dié innovasie het mettertyd die rookgewoontes van die wêreld verander.
Rupert was nie gelukkig oor die gewone filtersigaret nie en begin hom dus toespits op die ontwikkeling van ’n heeltemal nuwe produk, ’n filtersigaret van koningsformaat. Oplaas roep Rupert sy hooftegnikus in en sê aan hom dat hy hom 30 dae – en nie 90 dae nie! – tyd gee om die masjiene so te verander dat dit filtersigarette van koningsformaat kan produseer.
Dit is nog ’n eienskap wat die entrepreneur Rupert kenmerk: Hy stel hoë eise aan sy werknemers, want hy glo dat spoed, tydsberekening en gehalte deurslaggewend in mededinging is. Met hierdie gees van dringendheid herinner hy sy medestanders gereeld daaraan: “Ons is katte op ’n warm sinkplaatdak.”
Die hooftegnikus weifel nie. Hy doen wat Rupert vra. Die korter sigaret van 70 mm word vervang deur die koningsformaat, 85 mm saam met die filter, en die nuwigheid word gunstig ontvang deur rokers wat dit as beter waarde vir hul geld beskou. Oor hierdie baanbrekerswerk met filtersigarette wei Rupert uit: “Ek moet toegee dat ek nooit heeltemal gelukkig gevoel het oor gewone filtersigarette nie. want ek het aangevoel dat die publiek onbewustelik kon aanvoel dat hulle te kort gedoen word deurdat ’n gedeelte van die tabak vervang is deur ’n filter. Ons het ons dus daarop toegespits om ’n heeltemal nuwe produk te skep, naamlik ’n koningsformaat filtersigaret. Hierin het ons geslaag teen die end van 1951, en in 1952 het ons koningsformaat filtersigarette op die mark geplaas – ’n volle jaar vóór die Verenigde State van Amerika en enige ander land.”
Rupert was boonop nie tevrede met net één produk nie. Binne ’n week skep die maatskappy ook sy eie interne mededinging – ’n tipiese prosedure van Rupert om skeppende vernuf wakker te maak en mense te motiveer. Twéé koningsformaat-filtersigarette – die een Rembrandt van Rijn Filter de Luxe en die ander Rothmans King Size Filter, dus die eerste sodanige sigarette ter wêreld – bereik binne ’n week die mark. “Want,” merk Rupert op, “ek glo nie jy hardloop die resies alleen nie.”
Ander sigaretvervaardigers was baie skepties.
Hoewel Rembrandt tegniese advies van Rothmans in Engeland gekry het, het Sydney Rothman geweier om Rothmans King Size of Rothmans King Size Filter (wat Rembrandt onder lisensie in Suid-Afrika vervaardig het) in Brittanje te bemark. Hy het glad nie gedink dat daar ’n mark vir filtersigarette van koningsformaat is nie, so nuut en onbeproef was die nuwe produk op die wêreldmark. Dit het uiteindelik daartoe bygedra dat Rupert in staat was om Rothmans oor te neem. Toe eers het hierdie Rothmans-baba, soos Rupert die nuwe sigaret genoem het, in Londen die lig gesien. Op die koop het dit gebeur eers nadat dáár sukses behaal is met die Londens vervaardigde Peter Stuyvesant King Size Filter, dus die sigaret met die handelsnaam waaronder Rembrandt sy skouspelagtigste vordering gemaak het.
Sydney Rothman was ook nie die enigste twyfelaar nie. ’n Ander was die grootste vervaardiger van sigarette in Europa, die Duitser Philipp Reemtsma, met wie Rupert se broer Jan reeds in 1950 in Hamburg kennis gemaak het. Hy het toe aan Reemtsma ’n fotoalbum van Rembrandt se fabriek, verpakking en reklame getoon, en die Duitser was geïmponeer: “Produkte soos hierdie en sulke reklame kan nooit faal nie.”
Tussen Rupert en Reemtsma ontstaan gedurende die jare vyftig ’n hegte vriendskap. Rupert kon aanvanklik geen Duits verstaan of praat nie, terwyl Reemtsma, wat Rupert beskou as die grootste tabakman wat hy die eer gehad het om te ken, op sy beurt nie Engels magtig was nie. Tog het hulle mekaar gevind.
Reemtsma, een van die mense wat Rupert op ’n deurslaggewende wyse gehelp het, het vermoed dat die jonger man sy belangrikste mededinger sou word. Hy was ’n vlieënier uit die Eerste Wêreldoorlog wat in die Tweede Wêreldoorlog drie seuns verloor het, twee op die slagveld en die derde weens polio, en hy het homself afgevra: “Wat sou jy vir jou eie seun wou doen?” Hy het besluit om Rupert te help.
Die bordjies is later verhang. Reemtsma het Rupert minstens een keer per maand om advies gevra. En hy het daarop aangedring om Rupert te betaal. Hul vriendskap was so heg dat hy Rupert as trustee vir die belange van sy oorlewende seun, Jan Philipp Reemtsma, ’n kind uit sy tweede huwelik, wou aanstel. As trustee sou Rupert egter na Europa moes verhuis, en hy het nie daarvoor kans gesien nie.
Teen 1954 veroorsaak die nuwe konsep van koningsformaat-filtersigarette ’n ommekeer in die Amerikaanse mark, maar die Europeërs bly skepties. Rupert redeneer ’n slag tot laatnag met Reemtsma in Bad Gastein in Oostenryk oor die innovasie, maar kan hom nie oortuig nie. Reemtsma volhard met sy mening dat daar nie ’n mark vir die filtersigaret bestaan nie.
Rupert, nie iemand wat maklik tou opgooi nie, bly egter ewe volhardend in sy redenasie. Uiteindelik is dit al amper vieruur die oggend en Reemtsma, waarskynlik uitgeput van die stryery, besluit om ’n kompromis aan te gaan.
As filtersigarette 6% van die mark verower, gee hy oplaas toe, sal hy Rupert gelyk gee.
Rupert, allesbehalwe kleinmoedig, sê dit sal 80% wees – ’n persentasie wat wel later bereik is. En teen die jaar 2000 het 93% van alle sigarette wat in die wêreld gerook is, filters gehad. Filtrona International bereken dat die wêreldmark in 1999 altesame 5,7 triljoen sigarette bedra het, waarvan 5,3 triljoen filtersigarette was. Die filtermark is oorheers deur sellulose-asetaatfilters, waarvan Estron die voorloper was: 69% teenoor die naasgrootste produk, polipropileenfilters met 21%, hoofsaaklik in China.
Die episode met Reemtsma vertel heelwat van die mens Rupert. Hy is ’n fynbeskaafde mens, gekultiveer en netjies, en altyd hoflik. Maar hy is ook iemand met vaste oortuigings; iemand wat kon volhou wanneer ander tou opgooi. En as hy iets gedoen wil hê, wou hy dit gedóén hê. As hy oortuig is dat ’n innovasie die regte ding op die regte tyd is, laat hy hom deur niks en niemand stuit nie. Daarom kon sommige van sy goeie vriende sê dat hy ’n man van staal is.
Ander innovasies waarmee Rembrandt die voortou geneem het, is die wêreld se eerste mentolfiltersigaret; die wêreld se eerste koningsformaatsigaret met “Multifilter”; die wêreld se eerste sigaret met superporeuse “Multivent”-papier; die wêreld se eerste sigaret met die ultramoderne gouebandfilter; en die wêreld se eerste sigaret van luukse lengte.
Teen 1953, skaars vyf jaar ná ’n beskeie begin in ’n koringmeul in die Paarl, beheer Rembrandt ’n groot deel van die mark in sigarette in Suid-Afrika.
Dit stel Rupert egter nie tevrede nie. Bedag op mededinging en die moontlikheid van ’n prysoorlog, sowel as besiel deur sy droom om te bewys dat die Afrikaner in die beste geselskap kan slaag, begin hy na die buiteland kyk.
In November van daardie jaar kom hy van ’n vriend in Londen te hore dat Rothmans, die ou maatskappy wat in 1890 in Engeland gestig is, besig is om aan ’n nog ouer Britse tabakhandelaar, Carreras, uit te verkoop.
Dié ontwikkeling hou gevaar in vir Rembrandt, aangesien die lisensie-ooreenkoms oor die handelsmerke van Rothmans en Consulate, wat met groot sorg tot winsgewendheid opgebou is, ná tien jaar verstryk en teruggeneem kon word.
Die transaksie was al byna afgehandel, maar toe kom Carreras af op ’n belastingprobleem met Rothmans. Die moontlikheid ontstaan dat Carreras drievoudig aangeslaan kon word weens oorlogstydse belastings wat die belastinggaarder as nie heeltemal bevredigend beskou nie. Die onderhandelings word daarna tydelik verslap.
Rupert, toe reeds van inligting bedien deur ’n netwerk wat mettertyd in die moderne terminologie as ’n “korporatiewe intelligensiediens” bekend sou staan, besluit om blitsig toe te slaan. Hy vra sy vennoot Dirk Hertzog om onmiddellik na Londen te vertrek met net één opdrag: Doen vir Sydney Rothman ’n aanbod mits hy onmiddellik ja of nee sê.
Rupert bereken dat die opbreekwaarde van Rothmans £750 000 beloop, met geen klandisiewaarde nie, en dit is al wat hy bereid was om te betaal. Hy het Rothman goed geken en weet dat hy nie vinnig besluite neem nie.
Hy gee Hertzog opdrag om, as Rothman hom nie dadelik wil meedeel of hy ja of nee sê nie, dan na die Vasteland uit te wyk en daar te wag sodat Rothman kans kon kry om die saak te oordink.
Hertzog doen dit. Toe hy ná ’n ruk in Londen terugkeer, sê Rothman aan hom: “Goed, ek sal nou vir jou antwoord op jou aanbod.”
Hertzog bied, soos vooraf afgespreek, £750 000 aan, dus R1,5 miljoen. En Rothman sê ja.
Eensklaps bekom Rembrandt ’n onderneming wat in Brittanje sake gedoen het sedert die vorige eeu, toe Louis Rothman sy kiosk in Fleet Street in Londen geopen het. Maar toe Hertzog die transaksie beklink, beskik Rembrandt oor sowat £125 000 kapitaal, met ’n bietjie reserwes. Rupert moes skielik iewers meer as £700 000 vind, maar waar?
Op die aand van Woensdag 18 November 1953 ontmoet Rupert vir A.D. (Lens) Wassenaar, hoofbestuurder van Sanlam, in die ou Hotel Carlton in Johannesburg. Hy vra Wassenaar of Sanlam nie kan help met ’n lening nie, want hy het ’n groot bedrag nodig. Juis die Sanlamgroep se besturende direkteur, dr. Louw, het vyf jaar tevore die eerste sigaret van Rembrandt se Paarlse fabriek in ontvangs geneem.
Maandag 25 November 1953 is bepaal as betaaldag vir die oorname deur Rembrandt, dus is daar nog net vier dae oor om die geld te vind. Wassenaar laat nie gras onder sy voete groei nie. Hy is die volgende dag terug in Kaapstad en belê ’n buitengewone vergadering vir Vrydag van Sanlam se dagbestuur, wat gewoonlik op Woensdae vergader. Die saak is so dringend dat ’n motor die Vrydagoggend na Riebeek-Wes gestuur word om een van Sanlam se direkteure, F.S. Malan, te gaan haal.3
Vir die eerste keer in Sanlam se geskiedenis word ’n buitestander toegelaat om die direksie toe te spreek. Rupert se voorlegging, gelewer met al die oorredingskrag waaroor hy beskik, word so goed ontvang dat hy magtiging kry om omskepbare skuldbriewe ten bedrae van £500 000 te bekom. Sanlam skiet die helfte van die bedrag voor, sy filiaal African Homes Trust (later Homes Trust, uiteindelik Metlife) en Bonuskor en FVB, wat albei deur Sanlam gestig is, die ander helfte. Die orige kwartmiljoen kom van Volkskas.
Die geld moes die daaropvolgende Maandag om twaalfuur in Londen wees. Rupert gaan wag daardie oggend in Pretoria by Jan Hurter, toe hoofbestuurder van Volkskas, in sy kantoor vir finale bevestiging dat die geld oorgeplaas is. Hy ken Hurter, latere besturende direkteur en voorsitter van Volkskas, van die dae toe hulle twee kantoortjies op die tweede verdieping van die Volkskasgebou in Johannesburg gehad het – “waar jy dit nie kon waag om jou toebroodjies in die laai te sit nie. Die volgende oggend was dit weg, want daar was so baie rotte”, volgens Rupert.
Albei is gespanne, want as jare lange vriende weet hulle wat op die spel is. Dit word later kwart oor elf, maar die teleksboodskap of telegram van Sanlam kom nie deur nie. Om halftwaalf tel Hurter die telefoon op om die teleksdame te roep. “Anton, ek gaan nou die teleks deurstuur om te sê die geld is daar,” sê hy.
Maar Rupert gooi wal; hy besef dat Volkskas, in daardie stadium nie ’n groot bank nie, geruïneer kon word as die transaksie skeefloop. Hy druk Hurter se hand vas: “Mnr. Hurter, ek ken jou van 1941 af, ons kom ’n lang pad saam. Jy was rekenmeester by Volkskas in Johannesburg, en jy is nou hoofbestuurder. Ek het destyds aan dr. Stals en Oupa Kriel gesê: ‘Hier is julle volgende hoofbestuurder.’ Maar ek gaan nie dat jy jou hele toekoms waag om my te help en Rembrandt vandag te help nie.”
Die minute tik verby. Om tien voor twaalf kom die bevestigende berig uiteindelik deur, en om twaalfuur arriveer die geld in Londen.
Sanlam kon homself op die skouer klop: “So het Sanlam ’n Suid-Afrikaanse maatskappy gehelp op sy eerste tree om ’n wêreldmaatskappy te word.”
Rupert was weer eens deur die nouste van nou gapings. Filosofies spreek hy hom daaroor uit: “As jy weet watter probleme vir jou voorlê, begin jy nooit nie!”
Jare daarna toe hy gevra word of hy ooit deelneem aan Lotto, die amptelik goedgekeurde gelukspel waaraan miljoene hoopvolle Suid-Afrikaners elke week deelneem, antwoord hy glimlaggend: “Nee, ek het genoeg groot waagstukke in my lewe aangegaan!’
Hy voeg by dat dit statisties gesproke eintlik beter is om, as jy aan Saterdagaand se Lotto wil deelneem, nooit reeds die Maandag tevore ’n kaartjie te koop nie, maar te wag tot Saterdag – want die kanse dat jy voor die Saterdagtrekking sal doodgaan, is baie beter as om die gelukpot te wen!
Met die aangaan van die lenings waarmee hy sy uitbreidende sakeryk finansier, begin hy ook ’n gebruik volg wat mettertyd groot dividende afwerp. Wanneer hy geld vir uitbreidings en so meer nodig het, vra hy gewoonlik meer as wat hy nodig het – en dan dra hy sorg dat hy die lening vóór die bestemde tyd aflos. Oor baie jare het sy groep sodoende ’n benydenswaardige reputasie van kredietwaardigheid opgebou.
Eensklaps was daar vanweë die nuwe ontwikkelings met Rothmans heelwat werk in die buiteland, aangesien 29 tabakwinkels daar verkoop moes word.
Rupert se jongste broer Koos, senior dosent in die regte aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein, sluit hom in Januarie 1954 by die groep aan. Sy eerste taak is om te kyk na die afhandeling van kontrakte. As koördineerder, eers gestasioneer in Londen en daarna in New York, word hy kort daarna die Rembrandt Groep se eerste buitelandse verteenwoordiger. Onder sy leiding word 27 van die 29 tabakwinkels van Rothmans verkoop, en dit lewer ’n welkome inkomste. Net die winkels in Pall Mall en die Burlington Arcade word behou.
Rupert is adamant dat sy twee broers, Jan en Koos, van sy lojaalste en hardwerkendste ondersteuners was. Een van hul deugde is, in sy woorde, dat “hulle nie skaam was om ’n karton sigarette op hul skouers te sit om dit te gaan verkoop nie”. Saam met hom lees hulle altyd ook al die jaarstate en kontrakte voordat dit gedruk word.
Toewyding en lojaliteit is inderdaad die soort onderskeidende kenmerke wat die trek na die buiteland moontlik gemaak en ’n nuwe fase inlui vir Rembrandt en Rupert, wat deur ouer werknemers “Meneer A.E.” genoem is om hom van sy broers, “Meneer J.P.” en “Meneer J.A.”, te onderskei. Van sy werknemers fluister soms goedig: die A.E. staan vir “All and Everything”.
Spoedig sou hy een uit vyf dae op vliegtuie deurbring, soos sy seun Johann dit ook later sou doen.