Читать книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse - Страница 9

Оглавление

Hoofstuk 4

Student in die depressiejare

Vroeg in 1934, midde-in die Groot Depressie, vertrek Anton Rupert na Pretoria die Jakarandastad, ’n ontluikende Afrikaanse studentesentrum en ook die administratiewe hoofstad van Suid-Afrika waar hy die land se bekendste politieke figure sou teenkom.

Op 26 Februarie skryf hy sy naam as ’n B.Sc.-student in sy eerste jaar neer in die registrasieboek van die Universiteit van Pretoria (UP), die alma mater waarvan hy uiteindelik die kanselier sowel as die Oud-Tukkie van die Eeu sou word.

Sy besluit om in Pretoria eerder as aan die ouer universiteite van Stellenbosch of Kaapstad te studeer, hou regstreeks verband met sy liefde vir Afrikaans. Toe hy in 1933 in ’n koerant lees dat die stadsraad van Pretoria weens die Afrikaans­wording van die UP sy spesiale jaarlikse bydrae van £2 500 tot die inrigting teruggetrek het, besluit hy dat hy dáár moet gaan studeer, synde ’n leerling aan Kaapland se eerste Afrikaansmedium-hoërskool en dus ook lid van die eerste ge­slag in Kaapland wat volledig in Afrikaans opgelei is. Naderhand, sê hy self, was hy bevoorreg om in die eerste M.Sc.-klas in skeikunde te sit wat Afrikaans as voer­taal gehad het.

Jare later terwyl hy in die direksie van die Reserwebank gedien het (1971-’92), kom hy agter dat een van sy mededirekteure, E. O’Connell Maggs, die seun is van ’n voormalige raadslid van die UP, Charles Maggs, wat as gevolg van die destydse gebeurde in die raadsverkiesing uitgestem is. Maggs sr., ’n prominente Pretoriase sakeman en jare lange donateur wat een van die twee verteenwoordigers in die raad van die donateurs van die UP was, was ’n voorstander van tweetaligheid en gekant teen die gedagte van ’n eksklusief Afrikaanse universiteit, daarom is hy uit­gestem. Toe Rupert vir Maggs jr. daarop wys dat die stadsraad se besluit die regstreekse oorsaak daarvan was dat hy aan die Afrikaanstalige universiteit gaan studeer het, kon hulle maar net lag oor die gebeurde van lank tevore.

In sy eerste jaar, bedoel om toelatingskwalifikasies vir ’n kursus in die medi­syne aan een van die ander universiteite te verwerf, gaan Rupert in die mans­koshuis Sonop tuis. Die jaar daarna is hy in Buxton en in sy derde jaar keer hy terug na Sonop, waar een van sy studentevriende, dr. Hilgard Muller, ’n latere minister van buitelandse sake, in ’n kamer langs hom tuis gaan.

Soos ander eerstejaarstudente word hy aan ’n ruwe ontgroening onderwerp wat tien dae lank duur. Die eerstejaars, wat met min slaap moes klaarkom, is snags “gedop” – uit hul beddens gegooi. Daarby moes hulle as deel van die ontgroeningsproses met elke hand ’n baksteen optel totdat hulle nie meer kon nie. Hulle moes ook van die koshuis na die Uniegebou hardloop om die trappe te gaan tel. En hulle moes met ’n pennie van die seniors na die stasie hardloop om vuurhoutjies te gaan koop. Toe Rupert teruggestuur word om nog ’n dosie te koop, klop hy aan by die huis van dr. G. von W. Eybers, die Graaff-Reinetse skoolhoof wat intussen na Pretoria verhuis het, en leen geld. Daarmee koop die jong entrepreneur ’n hele klomp vuurhoutjies en gaan op die sportveld slaap voordat hy terugkeer, gereed om nog vuurhoutjies te gaan haal as hy weer so ’n simpel op­drag moet uitvoer. Die laaste strooi van die doopritueel was dat die groentjies deur ’n vol watersloot moes kruip waarvan vertel is dat doringdraad daarin weg­gesteek is.

Aan die einde van die ontgroening was twee eerstejaars in die hospitaal en ’n derde een in ’n gestig. Die gevolg is dat die rektor, prof. A.E. du Toit, op 7 Maart 1934 van eenuur daardie middag alle ontgroening in die koshuise summier stop­sit. ’n Komitee van dosente en studente is aangestel om die hele kwessie te on­dersoek. Ontgroening gegrond op “fisieke uitputting” en in die nagtelike ure word daarna verbied.

Midde-in die hardhandige mishandeling en slapelose nagte lê Rupert die eerste keer in sy lewe ’n intelligensietoets af en vaar so goed dat hy ’n beurs van £40 per jaar vir sy driejarige kursus ontvang – nog welkome hulp.

Hy is spoedig aktief in die studentelewe op ’n kampus waar die studentetal weens die Depressie gedaal het. In 1930 was daar nog 1 074 studente, maar die getalle het in die depressiejare afgeneem en eers weer in 1936 die duisendkerf verbygesteek. In Rupert se eerste jaar is daar in die tweede semester in Pretoria slegs 829 studente, binne- en buitemuurs, plus nog 25 in Johannesburg. Oor die algemeen het die studente op die Pretoriase kampus mekaar goed geken.

Anton is reeds ’n senior student toe hy ’n meisie ontmoet wat vorentoe ’n baie groot rol in sy lewe sou speel. Haar naam is Huberte Goote.

Hy kom van dié aanvallige medestudent te hore by ’n vriend, Colijn van Bergen, ’n student in die entomologie wat op die lemoenplaas Zebediela begin werk het voordat hy hom later ook as medikus bekwaam het. Hy vertel Anton van die “ou­like meisie” terwyl hulle in sy motor sit en gesels voor die huis van Fritz Steyn, waar Anton daardie tyd ingewoon het. F.S. (Fritz) Steyn, skrywer van die vermaaklike toneelstuk Die wildsboudjie en latere parlementslid, diplomaat en regter, was toe die UP se propagandasekretaris, onder meer belas met die pu­blikasie Universiteitsnuus.

Studentevriendinne vertel Huberte van die Afrikaans-Nasionale Studentebond, waar sy Anton ontmoet. Sy was ’n verteenwoordiger van die eerstejaars in die studenteraad, waarvan hy die voorsitter was. Huberte sou die volgende dekades binnegaan aan die sy van die lang swartkopstudent van wie sy in ’n onderhoud sê: “Anton was skaam, maar hy het charisma gehad. Ek was reeds op die eerste massavergadering al gefassineer deur hom.”

Huberte kom uit ’n Wes-Transvaalse familie, ook een wat swaarkry geken het.

Sy is die dogter van ’n weduwee, Johanna Adina Goote, gebore Bergh. Haar vader, Hubertus Gerardus Goote, ’n onderwyser wat as Nederlandse immigrant

in sy dagboekie op die skip geskryf het hoe hy verlang om in die “land van de helden-Boeren” aan wal te stap, is vyf maande voor haar geboorte in die Groot Griep van 1919 oorlede. Weens die destydse swak telegraafverbindings het haar oupa in Nederland, ’n predikant, verkeerdelik gemeen ’n kleinseun is gebore en hy het gevra dat die nuwe aankomeling met die familienaam Hubertus Gerardus gedoop word.

Dit is so gedoen, en die naam het naderhand allerlei tergery afgegee, onder andere deur ’n goeie familievriend, prins Bernhard van Nederland. Hubert, soos haar naam aanvanklik gespel is, het egter beswaar gemaak dat prins Bernhard haar “Hubertus Gerardus” noem. Hy het toe Huberta voorgestel, maar sy het gesê Huberta is ’n seekoei. Daarop het hulle tot die vroulike Franse vorm, Huberte, ooreengekom, die noemnaam wat sy verkies.

Huberte se moeder is ook gebore nadat háár vader gesterf het. Mev. Johanna Adina Goote was wees van haar sesde jaar toe háár moeder, ’n nooi Riekert met die getroude van Bergh, ook oorlede is. Huberte se oupa Bergh was ’n afstammeling van die Sweedse avonturier Olof Bergh, ’n lid van die Politieke Raad aan die Kaap, wat onder meer bekendheid as die leier van die tog na Namakwaland in 1682-’83 verwerf het. Hy was met Anna de Koning getroud. Huberte se moe-

­der het toe grootgeword by háár ouma en oupa, kmdt. P.J. en mev. Lenie Riekert, op die plaas Derdepoort, wat in die annale van die Anglo-Boereoorlog opgeteken sou word. Dit was in daardie omgewing, by Pilanesberg, dat Huberte se moeder haar vader, die Nederlander wat toe hoof van ’n drieman-plaasskool was, ont-

moet het.

Een van Huberte se helderste herinneringe wat sy van kindsbeen met haar saamdra, is die vertelling van die berugte moord op Derdepoort op 25 Novem­ber 1899, dus enkele weke nadat die oorlog op 11 Oktober uitgebreek het. Haar oupagrootjie, kmdt. Riekert, was die eienaar van die groot plaas Derdepoort langs

die Maricorivier aan die grens tussen Marico-Bosveld en die destydse Betsjoe­ana­land. ’n Boerenedersetting van sowat dertien huisgesinne op die plaas is aan­ge­val in die eerste aanval waarin die Britse magte gekleurdes gebruik het en Boere­vroue en -kinders slagoffers was.1

In later jare wanneer Huberte haar kleinkinders van die oorlogstydse ontbe­rings vertel het, het sy hulle ook gemaan om te onthou van die menslike warmte, van die mense wat haar voorouers gehelp het: “Julle moet altyd ewewigtig wees, want die oorsaak van oorloë is nie mense nie; dit is hebsug. Oorloë gaan altyd oor hebsug.”

Huberte is in 1919 gebore in pres. Paul Kruger se ampswoning in Kerkstraat in Pretoria, in ’n stadium toe die huis deur die Moedersbond gehuur is voordat dit die Krugerhuis-museum geword het. Sy het Kruger se jongste kleindogter, bekend as ouma Eloff, self geken. Totdat sy sewe jaar oud was, het sy, haar moe­der (wat sy Moeder of Moeke genoem het) en haar ouer suster, Bets, op Rusten­burg gewoon. “Moeder het klere gemaak vir haar vriendinne om kontant in die hande te kry om ons aan die lewe te hou, want sy het die plaas van die familie ge­erf, maar geen inkomste van hulle ontvang nie. Brandhout en beet is al wat ek kan onthou wat ons ooit van die plaas gekry het. Sy was baie knap met alles wat sy kon doen, maar sy had geen kontant nie. Pappie het net vir ses maande se pen­sioen gekwalifiseer omdat hy eers die Transvaalse matriekeksamen moes skryf, dus het sy niks daarvan gekry nie. Dis daarom dat ek respek het vir mense wat met hul talente kan woeker en aan die lewe kan bly. Ek het ’n afkeer van ‘handouts’; ’n mens moet jou onafhanklikheid en eer behou,” vertel sy.

Haar moeder is in 1927 weer getroud met Piet Wessels, ’n onderwyser wat later hoof sou word van die Hoërskool Monument op Krugersdorp, waar die gesin hulle gevestig het.

Huberte matrikuleer jonk aan die Hoërskool Monument nadat sy haar eerste drie skooljare in een jaar voltooi het. Vandat sy skool toe is, stel sy belang in die kunste in alle vorme. Sy speel toneel en sing hoofrolle in operettes sowel as in die skoolkoor en neem deel aan korfbal en hokkie.

Ná matriek beklee sy veertien maande lank die pos van kinderbibliotekaresse op Krugersdorp voordat sy met behulp van drie rentedraende lenings universiteit toe gaan. Haar hoofvakke is Afrikaans-Nederlands en Afrikaanse kultuur­geskiedenis. In haar eerste jaar in Pretoria raak sy goed bevriend met Kotie Roodt-Coetzee, dosent in kultuurgeskiedenis, wie se eggenoot, prof. P.C. Coetzee, die UP se bibliotekaris, van Huberte se biblioteekervaring te hore kom. Huberte kry daarna ’n pos in die biblioteek en haar klasgeld word haar toe kwytgeskeld. Sy pak gevolglik saam met haar B.A.-kursus ’n diplomakursus in die biblioteek­wese aan, wat toegelaat is op voorwaarde dat sy twee aande per week in die biblioteek diens doen. Sy werk ook in die kampus se nuwe Merenskybiblioteek, die gebou in Persiese boustyl met Afrikamotiewe wat deur die argitek Gerard Moerdyk ontwerp is en as ’n voorloper vir sy uitleg van die Voortrekker­monu­ment beskou word.

Rupert, wat meermale in sy loopbaan dankbare erkenning aan Huberte sou gee, roep hul studentedae in herinnering toe hy in sy voorsittersrede op Rem­brandt Beherende Beleggings se jaarvergadering in 1996 hulde aan sy eggenote bring:

“Ek kyk vandag terug oor 55 jaar waarin ek deur my wederhelf bygestaan is. In 1941 reeds het sy ’n groot rol gespeel, nie net in my lewe nie, maar ook in dié van die maatskappy. Sy was my mees lojale en troue ondersteuner en ook my grootste kritikus. Ek dink dit hoort so.”

Hy beskryf die moeilike beginjare: “Ons is beide kinders van die Depressie. In daardie dae . . . was omtrent ’n derde van alle Afrikaanssprekende blankes werkloos. Vandag is dit nog erger, met sowat 50% van die bevolking sonder werk. Dit was destyds ’n enorme probleem. Ek dink dit laat ’n merk op ’n mens en dit laat jou miskien op ’n ander manier na kapitaal kyk.

“Diegene wat motors gehad het (ek dink daar was drie aan die Pretoriase Uni­versiteit in daardie dae uit ’n totaal van omtrent 820 studente – vandag is daar 26 000 studente), het nie goed gedoen nie. Beide my vrou en ek het geld geleen om te studeer.

“Ek kon self net £100 bybring, maar was gelukkig genoeg om met ’n intelligensietoets ’n prys van £40 per jaar vir drie jaar te wen. Ons het egter die beskou­ing gehad dat geld is wat geld kan doen. Soms is dit ’n gevaarlike ding. Geld is soos ’n mes wat ’n snyarts kan gebruik om ’n operasie te doen, ’n mens se lewe te red. Dieselfde mes kan deur ’n moordenaar gebruik word om te moor. Geld is ook soos ’n tou. Jy kan die tou uitgooi in die vorm van ’n boei om iemand te red, of jy kan die tou gebruik as ’n galgtou. Dit is geld. Dit praat.”

As eerstejaarstudent is Rupert een van twee studente uit ’n klas van sewentien wat slaag met die nodige vereistes om aan die universiteite van Kaapstad of die Witwatersrand verder medies te studeer. Geldnood dwing hom egter om sy kursus na chemie vir ’n Baccalaureusgraad te verander.

Hy vertel self dat hy daarna as voorgraadse student nie watwonders aka­de­mies gepresteer het nie. Die oorsaak was dat hy in sy tweede studiejaar ’n maand of twee, drie geen lesings kon bywoon nie omdat hy middeloorontsteking opgedoen het, wat in daardie jare nie met antibiotika behandel kon word nie. Hy het ’n gat agter sy oor oorgehou van die destydse taamlik primitiewe doktersbehandeling.

Hy voltooi nogtans sy graadkursus, met chemie as hoofvak en fisika en wis­kunde as tweedejaarsvakke, in die voorgeskrewe drie jaar, en einde 1936 kon hy B.Sc. agter sy naam skryf.

Die volgende jaar moes hy begin werk terwyl hy nagraads studeer. Hy begin op 20-jarige leeftyd aan die Tegniese Kollege klas gee nadat hy hom ook vir sy

meestersgraad in chemie ingeskryf het. “Dit was moeilike dae. Betrekkings was beslis nie volop nie, en jy was dankbaar as jy ’n werk kon kry,” vertel hy op 22 Augustus 1972 aan studente van die UP.

Die gemiddelde ouderdom van die buitemuurse aptekerstudente vir wie hy lesings gee, was 28, dus is hulle heelwat ouer as hyself. Hy begin algaande dink dat hy Afrikaners oplei om vir vreemdelinge te werk.

Die staatsdiens was sedert Lord Milner se “Kindergarten”, die groepie Engelse wat hy ná die Anglo-Boereoorlog uit Oxford laat kom het om die lands­adminis­trasie oor te neem, oorweldigend Engels. In 1925 was byna ’n derde van die staats­-

amptenare Engels-eentalig. Op kantoor het die taal oorwegend Engels gebly, aan-­

gesien die hoofamptenaar gewoonlik Engelstalig was.

In die sakelewe is van Afrikaners verwag dat, as hulle deel van die sake-elite wou word, hulle hul etniese bande moes versaak en Engels as kommunikasie­medium moes gebruik.

Baie Afrikaners het aangevoel dat Engelse op hulle neersien en hul taal en kul­tuur as minderwaardig beskou. Steeds was onder heelparty Engelse ’n gevoel vaardig wat tydens die Anglo-Boereoorlog, toe die Engelse koerante in Suid-Afrika oorwegend imperialisties-gesind en anti-Boer was, hoogty gevier het. Van die ergste jingoïsme het in die omgewing van Graaff-Reinet voorgekom.2

In die anti-Afrikaanse atmosfeer, wat ná die oorlogsbesluit van 1939 sou vererger, is byvoorbeeld lidmaatskap van die Rand Club geweier aan die briljante chemiese ingenieur dr. Hendrik Johannes van Eck, wat in Vanderbijlpark die hoeksteenlegger van die verdedigingspoging was. Hy was later die voorsitter van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en is as die vader van Suid-Afrika se nywerheidsrevolusie beskou.

Anton Rupert het al hoe sterker tot die oortuiging geraak dat die Afrikaners ’n eie staanplek in die sakelewe moet verwerf.

Die jaar toe hy begin klas gee, 1937, verskyn ’n nuwe Afrikaanse oggendblad, Die Transvaler, in Johannesburg. Anton doen aansoek om daar te gaan werk en voer ’n onderhoud met die redakteur, dr. H.F. Verwoerd. Ná ’n nag se oorweging

wys hy ’n redaksionele betrekking van die hand omdat Hendrik Verwoerd be­-

­klemtoon dat hy slegs deur middel van ’n korrespondensiekursus verder kon stu-

­deer. Sy besluit om terug te gaan en verder te studeer, beskou hy mettertyd as een van die belangrikste vroeë besluite wat hy geneem het – een van dié “wat my altoos helder voor die gees staan”.

Anton het nie ’n goeie indruk van die latere eerste minister oorgehou nie. Hy meen Verwoerd het in die onderhoud voorgekom as ’n “onrustige mens; ’n bie­tjie outokraties en eiewys” – ’n indruk wat in sy latere botsings met Verwoerd korrek bewys is.

In 1938, die eeufeesjaar van die Groot Trek, vind die landwye opstuwing van Afri­kanernasionalisme ook op die UP-kampus sterk neerslag. Die simboliese Osse­watrek is deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging gereël “om die na­geslag te laat besef hoe hul voorouers met klein, eenvoudige ossewaens en met groot ontbering die beskawing die binneland ingedra het”. Op die hoogtepunt van die fees kom ’n paar honderdduisend mense op Monumentkoppie byeen.

Rupert, toe reeds ’n dosent in skeikunde, dien daardie jaar as voorsitter van sowel die buitemuurse Studente Verteenwoordigende Raad (SVR) as die buitemuurse studentetak van die Afrikaans-Nasionale Studentebond (ANS), gestig in 1933 en die voorloper van die latere landwye Afrikaanse Studentebond (ASB). Hy is ook lid van die ANS se nasionale hoofbestuur onder voorsitterskap van dr. Nic Diederichs. Teen daardie tyd ná Samesmelting was hy ’n Malaniet, ’n volge­ling van Malan se Gesuiwerde Nasionale Party, die opposisie teen Hertzog en Smuts se regerende Verenigde Party.

Op die kampus heers onenigheid tussen die ANS en die National Union of South African Students (Nusas), die studentebeweging wat sterker aan Engelse universiteite was. Huberte vertel dat hulle “baie skimpende aanmerkings oor Voor­trekkerdrag van Nusas-ouens” gehoor het. Sy sê toe vir vriendinne van haar: “Kom ons kry vir ons Voortrekkerrokke, dan gaan ons een dag almal as Voor­trek­kers klas toe om te wys ons is trots op dié drag.”

Hulle kon by die Volksteater Voortrekkerrokke leen, “want ek en Anna Neethling-Pohl was van daardie tyd af al vriende. Die dag wat ek gekies het, was toevallig die 14de September. Toe Anton met iemand daaroor praat – ek weet nie of dit Fritz Steyn-hulle was nie – toe sê hulle, maar besef julle dit is die dag waarop die universiteit honderd persent Afrikaans verklaar is? Toe vier ons dit sommer. Toe’s dit ons eerste Lentedag.” ’n Week of twee daarna op sy verjaardag, 4 Oktober 1938, woon Rupert saam met Wouter le Roux as SVR-afgevaardigdes in Bloemfontein die huldiging van Vader Kestell by. Hy word besiel deur die eerbiedwaardige kerkleier se boodskap: “’n Volk red homself.”

Daardie woorde van Kestell, versterk deur latere ervarings wat hom teen ’n loopbaan in die politiek laat draai, gee die deurslag om Rupert tot die sakelewe te laat toetree. Dit het hom in sy oortuiging gesterk dat Afrikaners selfversorgend moet wees en hulleself aan hul eie skoenrieme moet optrek – in sy eie ge­val dat hy hom tot kleinsake moet wend. Inderdaad het dr. J.D. Kestell, wat as pre­diker te velde die hele Anglo-Boereoorlog te perd op kommando meegemaak het, die inspirasie gebied vir die ekonomiese opheffing van die Afrikaner wat in die Reddingsdaadbond neerslag sou vind.

Op die trein terug na Pretoria stel Le Roux voor dat hulle die dag vier. Toe eers op so ’n beslissende dag in sy lewe onthou Rupert dat dit sy verjaardag is, en hulle klink daarop ’n glasie Witzenberg in die trein.

In die studenteblad Trek sluit Rupert sy voorsittersverslag vir 1938 soos volg met ’n woord van dank aan die studente af:

“U weet wat u roeping is en waarheen u wil. Laat die Universiteit die Voor­trek­kerstempel bestendig en wees aan die voorpunt van die Trek tot op die hoogtes.

“Ons van die geslag wat nou gaan plek maak vir die nuwes sal u doen en late met gespanne aandag volg en as ons oud is nog saam met dr. Kestell sê: ‘Ons hou van die vuur en ywer van die jeug want hulle voer ons mee!’ ”

Rupert neem aktief deel aan die Ossewatrek van 1938, wat ’n hoogtepunt be­reik op die destydse Geloftedag, 16 Desember – die herdenking van die Slag van Bloedrivier, waar die Voortrekkers ’n oorwinning oor ’n Zoeloe-oormag behaal het nadat hulle ’n gelofte afgelê het.

Reeds ’n paar weke tevore reis Rupert en Fritz Steyn namens die Tukkie­ge­meenskap na Bulhoek om die geboortedag van pres. Paul Kruger op 10 Oktober, Krugerdag, saam met die trekgeselskap daar te herdenk. Volgens Ad Destinatum, gedenkblad van die UP, word by die geleentheid namens die studente ’n versoek tot die hoofleier van die Ossewatrek gerig om ’n wa wat as blywende besieling vir die studente kon dien. “Op die aand van 14 Desember het Henning Klopper (later speaker van die parlement) aan die menigte rondom Monumentkoppie buite Pretoria waar die Voortrekkermonument in aanbou was, meegedeel dat die wa Louis Trichardt aan die studente van die Universiteit van Pretoria ter bewaring toevertrou gaan word. Op die oggend van 17 Desember (die dag ná Geloftedag) het die studente die tweede Voortrekkereeu ingelui met die trek van die wa na die universiteit.”3

Ook op die universiteitskampus is die Voortrekkerfakkel brandend gehou wat van Jan van Riebeeck se standbeeld in Kaapstad na die onvoltooide fondamente van die Voortrekkermonument gedra is. Rupert herinner hom dat sy jonger broer Jan toe, as jong Voortrekker op besoek uit Graaff-Reinet, die fakkel moes vashou terwyl hy sy oopdakmotor so moes bestuur dat die fakkel nie doodwaai nie.

Die tradisie word gevestig dat die uittredende studenteraadsvoorsitter jaar ná jaar die versorging van die kakebeenwa aan sy opvolger oordra. In ’n oor­kon­de wat in Ad Destinatum afgebeeld is, teken Rupert as eerste sodanige voorsitter dat hy die wa – “teken van die adel en vryheidsdrang van ons voorouers” – oordra aan Hans Nel, wat “dit sal beskou en huldig as simbool van ons Afri­kaanse verlede wat elke geslag van die jeug opkommandeer om Kristelik, eerbaar en eendragtig te stry vir die volle ontplooiing van die Afrikaanse nasie en moont­likhede in ’n vrye, magtige en regverdige Boerestaat”.

Rupert het boonop tydens die hoogtepunt van die Ossewatrek ’n koerant uitgegee, een wat weliswaar net vier dae bestaan het. Hy word die uitgewer, redak­teur en reklameman van De Oude Emigrant, en die geskiedskrywer Gustav Preller die erehoofredakteur. Die naam is ontleen aan die eerste koerant in Transvaal, wat in 1859 op Potchefstroom in Nederlands verskyn het.

Die koerant, uitgegee in opdrag van die hoofbestuur van die ANS, bevat nuus en artikels oor die eeufees van die Groot Trek en die Ossewatrek. Rupert gaan be­spreek in Johannesburg die feesblad met die destydse nuusredakteur van Die Trans­valer, Piet Meiring, latere hoof van die Suid-Afrikaanse inligtingsdiens. Hy vertel aan Meiring, ook ’n boorling van Graaff-Reinet, dat hy byna ’n koerant­kollega van hom geword het, aangesien Verwoerd hom die jaar tevore ’n be­trek­king aangebied het. Daaroor merk Meiring agterna op: “Ook maar goed dat hy dit geweier het, want soos later geblyk het, het hy en dr. Verwoerd meer dikwels met mekaar verskil as saamgestem.”

Snags nadat hy die feesuitgawes versorg het, lê en slaap Rupert sommer op die loodtafels van die Voortrekkerpers se drukpers. Die uitgawes verskyn as vier dagblaaie op 13, 14, 15 en 16 Desember 1938. Die hoofartikel vertel iets omtrent die jong studenteleier: “Op die drempel van ’n nuwe eeu staar ons met vertroue die toekoms in, want ons moet die Voortrekkerstempel bestendig. Ons moet die fakkels brandend hou sodat ons hulle kan oorhandig aan dié wat ná ons sal kom.”

Die verkope van De Oude Emigrant word egter ’n katastrofe. Die reëlings vir die verspreiding was heeltemal onvoldoende. Ná die fees moet Rupert duisende on­verkoopte eksemplare verbrand.

“Daar het ek ’n les geleer,” vertel hy later. “Die verkooporganisasie het in duie gestort. Onthou, jou produk kan goed wees en tog ’n mislukking word as jou ver­koop­organisasie en distribusie nie goed is nie.”

Die golf van Afrikanernasionalisme het daartoe bygedra dat Afrikaans­wor­ding ’n brandende kwessie op die Pretoriase kampus gebly het – dermate dat die UP in een stadium die Voortrekkeruniversiteit genoem is (hoewel nooit amptelik nie).

Gevoelens het hoog geloop. Tukkies het in bioskope eiers vol ink na die skerm gegooi wanneer “God save the king” gespeel is, soos in daardie jare die gebruik was.

Rupert, as studenteleier sterk patrioties en ’n vurige redenaar, doen onder meer ’n belangrike voorstel oor Afrikaans. Op ’n spesiale monstervergadering op 10 April 1939 stel hy voor “dat 14 September (die datum van die Afrikaans­wor­ding van die universiteit) jaarliks feestelik herdenk sal word deur ’n studentefunksie, die aard waarvan deur die Studenteraad bepaal sal word”. Dit word eenparig aanvaar.

Die datum is nie heeltemal korrek nie; dit moes inderdaad 13 September ge­wees het. Volgens Ad Destinatum is die Afrikaanswording daarna gereeld gevier as Herdenkingsdag. Aanvanklik was die patroon van die viering ’n oggendbyeen­koms op die kampus waar die ossewa, Voortrekkerdrag en nasionale vlae prominent was. Die middag was daar boeresport en die tradisionele rugbybotsing tussen Transvaal en die Vrystaat. Die aand is met ’n dansparty afgesluit. Dit het voortgeduur tot 1944, toe die dag op voorstel van Steve de Villiers, voorsitter van die SVR, tot ’n jaarlikse universiteitsvakansiedag verklaar is.

Op 13 September 1961 is Rupert die spreker op die Lentedagviering van die UP en hy verwys daarna dat hy 23 jaar tevore op die eerste viering ook die rede ge­voer het. “By daardie geleentheid het ons doodeenvoudig, sonder om vooraf Se­­naats­verlof te kry, die rektor gevange geneem, in ’n groot stoel na die ou Klub­saal gedra en begin vier. Dit was eers die volgende jaar, in 1939, dat Lentedag offi­siële status in die Universiteitskalender gekry het.”

Hy voer sy gehoor terug na die baie pogings wat in die beginjare van die UP aangewend is om ’n eie tradisie in te stel.

“Sedert die stigting van die eerste universiteit, dié van Salerno in Italië in die negende eeu, was die universiteit steeds die belangrikste sentrum van onderwys en wetenskaplike arbeid waar die gees van ondersoek en kritiek gewek en ontwikkel is. Ons universiteite is jonk in vergelyking met dié van Oxford, Cam­bridge en die Sorbonne in Parys uit die twaalfde eeu, of in vergelyking met Rome en Heidelberg uit die middeleeue. Selfs Leiden in Holland en Harvard in die VSA dateer van voor Van Riebeeck . . .

“Maar ons het ’n eie tradisie, ’n tradisie wat ons met trots moet bewaar. Ons het ’n tradisie van jeugdigheid en veerkragtigheid; ’n tradisie van lewe in plaas van bakstene en beton. Dit is die tradisie wat ons optrede, ons denke en ons ge­sindhede moet beheer, want in ons land en met ons uitdagings moet ons helder kan dink.”

Op die veertigste Lentedag in 1978 oorhandig Rupert weer ’n besondere sken­king aan die UP. Dit is die handgeborduurde ampserp van pres. Paul Kruger, wat deur ’n Britse soldaat in die Anglo-Boereoorlog gebuit en daarna lank in Engeland was, waar Rupert dit opgespoor en teruggekoop het. Die universiteit onderneem toe om die serp, beveilig in ’n houtkissie met ’n glasdeksel, in die kan­toor van die studenteraadsvoorsitter te bewaar.

By die geleentheid sê Rupert met verwysing na die Ossewatrek en die Voor­trekkerfakkel wat brandend gehou is: “Maar waarom al hierdie dinge? Iemand wat die vlam van die onbekende soldaat sien brand het by die Arc de Triomphe in Parys en by die Victor Emmanuel-monument in Rome sal weet waarom. ’n Volk moet weet waarvandaan hy kom om koers te hou.

“Die ossewa was (vir die Voortrekkers) die kerk, die kraambed en die wieg van ’n nuwe geslag. En daarom staan hierdie klein wa hier as simbool en as wag dat ons nooit sal vergeet hoe klein ons begin het en hoe nederig en dankbaar ons moet bly nie.

“Die brandende fakkel moet ons herinner aan die geslagte wat voor ons die fakkel van die godsdiens en die beskawing van hand tot hand oorhandig het. Dit moet ons, in die gevleuelde woorde van die Groot Gryse, herinner aan die goeie uit die verlede om daarop ons toekoms te bou.”

Ondanks sy patriotiese gevoelens sou Rupert se sin vir regverdigheid selfs in die emosiebelaaide atmosfeer van die tyd ná die Ossewatrek na vore kom. In die besonder blyk dit uit ’n insident kort daarna rakende ’n Engelssprekende dosent, John Agar-Hamilton.

Die aanloop daartoe was ’n jare lange taaltwis. Reeds voordat die UP in 1930 as ’n onafhanklike instelling ontstaan het uit die Transvaal University College (die TUC – vandaar die naam Tukkies vir die studente) was daar sterk gevoelens dat meer Afrikaans op die kampus gebruik moet word. Die aanvanklike 50-50-taalbeleid het onder druk gekom. Spanning tussen studente en dosente, wat destyds nog in ’n toga klas gegee het, het toegeneem.

In 1932 het die universiteitsraad op voorstel van die rektor, prof. Du Toit, be­sluit dat die voertaal van die UP Afrikaans moet wees. Dit het ná die opsienba­rende teer-en-veer-episode van Lamont gebeur. H.P. Lamont, senior lektor in Frans aan die UP, het onder die skuilnaam Wilfred Saint-Mandé ’n boek getitel War, wine and women geskryf waarin neerhalende aanmerkings oor Afrikaners gemaak is. Hy is deur die universiteit ontslaan nadat hy in sy aanranders se verhoor erken het hy is die skrywer van die omstrede boek.4

Ondanks die raadsbesluit oor die voertaal besluit die UP se senaat later daar­die jaar dat eentalig-Engelse dosente hul taalvaardigheid moet verbeter sodat hulle Afrikaans kan verstaan, maar nie sodanig dat hulle in Afrikaans lesings hoef te gee nie.

Agar-Hamilton, senior dosent in geskiedenis, gaan voort om in Engels lesings te gee. Volgehoue protes daarteen lei op 14 April 1939 tot ’n boikot van sy klasse. Die studente wat uitgeloop het, hou onder aansporing van daardie jaar se voorsitter van die SVR, Albert Geyser, ’n protesvergadering op die kampus waar hulle die Vierkleur hys.

Die voorval ontstel Rupert, want Agar-Hamilton mog tot die einde van die jaar nog in Engels klas gegee het. ’n Monstervergadering word belê waarop hy voor­stel dat Agar-Hamilton om verskoning gevra word, aangesien hy ’n gas op die kampus is. Hy versoek ook dat die Engelssprekende studente nie aan die stemming deelneem nie, omdat die Afrikaner se eer op die spel is.

Rupert se voorstel word met ’n oorweldigende meerderheid aangeneem. Maar Geyser weier om namens die studenteraad apologie aan te teken teenoor Agar-Hamilton (wat hom ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 by die lugmag aansluit en die kampus vir goed verlaat).

Die episode met Agar-Hamilton is nie net aanduidend van Rupert se vroeë besef van die noodsaak van medebestaan nie. Dit openbaar ook ’n oortuiging wat ’n lewensfilosofie sou word, dat die Afrikaner beskaaf en hoflik teenoor ander moet optree.

Op die koop toe was dit nie die einde van Rupert se botsing met Geyser nie. Geyser, ’n teologiestudent van die Hervormde Kerk wat jare daarna, in 1963, toe hy professor aan die Universiteit van die Witwatersrand was, saam met Beyers Naudé die lekkasie van Broederbond-dokumente aan die Sunday Times geor­kes­treer het, was nie alomgewild toe hy in 1939 as studenteraadsvoorsitter gedien het nie.

Geyser het Rupert, toe ANS-voorsitter, “ondergrawe” in die woorde van ’n SVR-lid, Ria Hugo (die latere geskiedenisdosent dr. Maria Hugo). Sy stel op ’n vergadering van die studenteraad ’n mosie van wantroue in Geyser voor wat aan­vaar word.

Kort daarna begin Geyser en sy trawante ondersteuners van Rupert aanrand, onder wie At Stadler en die broers McDonald. En een aand lê Geyser, sy broer Hendrik en vyf of ses ander studente, onder wie Modderbul van Rensburg, op die kampus vir Rupert, toe reeds ’n dosent, voor om hom te teer en veer. Hulle keer sy motortjie, ’n omgeboude rooi MG sonder dak of sitplekkussings wat hy tweedehands aangeskaf het nadat hy dosent geword het, naby die Ou Lettere­gebou voor en dwing hom hardhandig uit die voertuig.

Colijn van Bergen, wat saam met Rupert gery het, kon wegglip en hy hardloop na die Merenskybiblioteek waar hy vir Huberte Goote, wat die aand aan diens was, skreeu dat sy die polisie moet ontbied. Hulle kom gou-gou op die toneel en snel Rupert te hulp in ’n nabygeleë saal, waar sy aanvallers reeds besig was om sy klere uit te trek.

Rupert weier daarna om ’n klag teen die Geysergroep in te dien, nóg by die polisie nóg by die universiteitsowerheid. Hy het hul optrede as blote afguns beskou. Hulle vra hom uiteindelik een vir een om verskoning; Geyser jare daarna die heel laaste. Dit was in 1977 toe hy as professorale verteenwoordiger van Wits die inhuldiging van Rupert as kanselier van die Universiteit van Port Eliza­beth bywoon.

Rupert gaan ná die Ossewatrek met sy goeie vriend Colijn van Bergen, wat ook belas met die ANS-Filmburo was, op reis met ’n rolprentvertoning, onder meer ’n rolprent wat van die Trek gemaak is. Films van die beeldhouer Anton van Wouw en die letterkundige figure Jan F.E. Celliers, D.F. Malherbe en Totius was daarby aangelas, maar die enigste musiek vir die prent was ’n plaatopname van “Die stem van Suid-Afrika”.

Die tweetal wat die rolprent wou vertoon teen ’n halfkroon per kop, destyds ’n stewige bedrag, vertrek een aand teen sesuur uit Pretoria na Graaff-Reinet, volgelaai met al die apparaat vir ’n twee uur lange vertoning. Teerpaaie was nog skaars, en die nag laat ry hulle naby Trompsburg van die grondpad. Rupert se motortjie, sy tweede, het omgeslaan.

Albei insittendes was gelukkig betreklik ongedeerd, met net ’n sny aan die kop, want die DKW met die seilkap en laaghout kon nie alte vinnig ry nie – die topsnelheid was 45 myl per uur (sowat 70 km/h). Maar die plaat met “Die stem” het middeldeur gebreek.

Dit verhinder hulle nie om voort te gaan met die vertoning van die rolprent nie, wat oral groot gehore trek. In Port Elizabeth word dit bygewoon deur onder andere dr. D.F. Malan, die opposisieleier wat in 1948 eerste minister van Suid-Afrika sou word.

Die rolprent, wat besondere historiese waarde gehad het, raak soek in die oorlogsjare. By die oorhandiging van die Van Wouw-huis in 1974 aan die UP, wat met ’n skenking van die Rembrandt Groep moontlik gemaak is, maak Rupert weer melding daarvan. Die Filmburo onder leiding van Colijn van Bergen het voor die oorlog ’n besoek aan die huis verfilm sowel as die gieting van Van Wouw se beeld Vrou en dogter vir die Voortrekkermonument, asook die begrafnis van die digter Jan F.E. Celliers. Rupert loof ’n beloning van R500 uit vir enigiemand wat die waar­devolle Africanarolprent opspoor.

Van Bergen het meermale op Graaff-Reinet by die Ruperts gekuier. Hy ont­hou Anton se moeder as ’n “wonderlike vrou” wat besonder gasvry was en mense tuis laat voel het. Hy en Anton het in die winter laatnag voor die kaggel gesit ter­wyl Anton gefilosofeer het. Hy onthou ook dat een van die besienswaardighede van Graaff-Reinet wat Anton heel eerste aan sy vriende gaan wys het, die standbeeld van Gideon Scheepers is.

Rupert het ook jare later steeds gepraat van die raad wat hy in sy studentedae van sy vader ontvang het. Toe hy op 26 April 1962 in Racine, Wisconsin, die Ameri­kaans-Suid-Afrikaanse Leiersuitruilprogram (Ussalep) toespreek, het hy daarna verwys:

“My oorlede vader was op sy manier ’n filosoof. In my jong dae, toe ek ’n studenteleier was, het hy dikwels gesê: ‘Mens dink met jou hart en rasionaliseer met jou verstand. Pas op daarvoor. In elke volk is daar goeies en slegtes. ’n Man sonder hart is ’n materialis. Die hart is belangrik – maar sorg dat jou kop altyd jou hart balanseer.”

Teen die einde van sy studenteloopbaan was Rupert ’n dosent in die departe­ment chemie aan die UP, ’n pos wat hy tot einde 1940 sou beklee. Hy gee ’n jaar lank klas in die plek van die uittredende prof. D.F. du T. Malherbe, die hoogleraar in organiese chemie wat in die jare ná sy aftrede op gevorderde leeftyd die Stam­register van die Afrikaanse volk opgestel het – die soort veelsydige mens vir wie Rupert groot bewondering koester.

Rupert verwerf einde 1939 sy M.Sc. in toegepaste chemie. Dieselfde jaar en die jaar daarna studeer hy in regs- en handelsvakke aan die Universiteit van Suid-Afrika terwyl hy ook met ’n doktorsgraad in spektroskopie aan die UP begin.

Huberte neem, voordat sy die graad B.A. en ’n diploma in biblioteekwese verwerf, entoesiasties aan die studentelewe deel, sodanig so dat sy agterna ietwat berouvol skerts dat sy later in haar lewe daarby baat sou gevind het as sy meer tyd aan haar studie bestee het.

Haar belangstelling in die kunste verdiep. Sy het onder andere onder die kultuurkenner prof. Matthys Bokhorst gestudeer, wat Nederlandse kultuurge­skie­­de­nis gedoseer het en naderhand direkteur van die Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad was. Onder meer dien sy in die Castalides-kunskomitee en is sy redak­sielid van die blad Castalia. Sy en ’n groepie van haar medestudente, onder wie Katinka Kempf en Ria Hugo, bespreek gereeld kunsuitstallings. “Daar het ek my kritiese vermoë vir die kunste ontwikkel.”

Sy is, soos haar vroeg gestorwe vader, lief vir musiek – hy was besonder musi­kaal, met ’n pragtige tenoorstem en hy kon klavier, orrel en viool speel. Sy word lid van ’n musiekgroep wat gereeld Sondae byeenkom om na plate te luister. Boon­op is sy die voorsitter van die ANS se toneelgroep en speel sy in die Volksteater toneel saam met bekende aktrises soos die passievolle Anna Neethling-Pohl. In later jare wanneer sy soms ’n bietjie opgewonde oor sekere kwessies kon raak, moes Rupert haar maan: “Moenie soos Anna Neethling-Pohl wees nie!”

In 1939, terwyl oorlogswolke begin saampak, dien Rupert as die voorsitter en Huberte as lid van die binnemuurse bestuur van die ANS op die kampus. Hy is ook hoofbestuurslid van die ANS en redaksielid van Wapenskou, die studentebeweging se amptelike blad.

Die sterk gevoelens onder Afrikaanse studente in die spanningsvolle laat jare dertig word weerspieël in die vryheidsmanifes van die ANS, wat in Wapenskou gepubliseer is. Daarvolgens eis die ANS dat die Unie van Suid-Afrika, lid van die Britse Gemenebes en met die Britse vors as staatshoof, omgeskep word tot ’n re­publikeinse staat onder ’n “regering van gesag”. Voorts word onder meer ’n gro­ter blanke bevolking beoog deur “die aanmoediging van natuurlike aanwas en ’n verstandige immigrasiebeleid met assimileerbaarheid as vereiste”. Vir “in­heemse nie-blankes” word voorgestel dat hulle onder voogdyskap van die staat staan. “Deur middel van ’n differensiasiebeleid sal parallelle ontwikkeling volgens eie tradisionele kultuuropvattings en gelykheid deur apartheid vir hulle moontlik gemaak word.” Wat natuurlike en produksiebronne betref, sou die staat dit ten bate van die hele gemeenskap regverdig aanwend en “hierin sal nie ge­skroom word om gevestigde belange aan te tas nie”. Vir die taalkwessie word voorgestel: “Afrikaans sal geld as amptelike taal en Engels sal sy volle regte geniet as tweede taal.”

Verskeie van die idees in die manifes sou nie ná die verhitte atmosfeer van die oorlogsjare staande bly nie; inderdaad is ook gedagtes voorgestaan waarmee Rupert mettertyd in sleutelopsigte al hoe uitdrukliker sou verskil.

Tog het die ANS in 1939 in die dreigende oorlogsklimaat sterker op die politieke terrein beweeg. Protesvergaderings ten gunste van neutraliteit is onder die ANS se vaandel gehou. Maar dit was vergeefs. In die parlement word genl. Hert­zog se neutraliteitsmosie met 80-67 stemme verslaan. Hy bedank nadat die goe­werneur-generaal, Patrick Duncan, sy versoek van die hand wys dat ’n ver­kie­sing uitgeskryf word. Genl. Smuts word die nuwe eerste minister en hy lei Suid-Afrika op 6 September 1939 die Tweede Wêreldoorlog binne – ’n oorlog wat tot in 1945 sou duur en die land weer diep verdeel.5

Kort ná die uitbreek van die oorlog word Rupert een middag deur een van die fisikadosente, prof. J.S. van der Lingen, vir ’n drankie aan huis genooi. Van der Lingen, wat saam met Albert Einstein, vader van die relatiwiteitsteorie, in Europa gewerk het, verklaar tot Rupert se verbasing kategories dat Duitsland die oorlog gaan verloor. Rupert wys daarop dat Duitsland met sy Blitzkrieg oor Pole ge­loop het. Maar Van der Lingen bly adamant dat die oorlog net soos die Eerste Wêreld­oorlog sou verloop. Hy voer aan dat, ondanks tegnologiese kundigheid, die Duit­sers nie massaproduksie verstaan nie en dat wanneer die VSA tot die oorlog toetree, Duitsland uit die lug gebombardeer en platgeskiet gaan word. Boonop wil die Duitsers altyd ’n produk verbeter, sê Van der Lingen, pleks van massas kryg­s­tuig vervaardig wat in ’n oorlogsituasie gebiedend is.

Toe Rupert jare daarna vir dr. Joachim Zahn, voorsitter van Daimler-Benz in die jare sewentig, van Van der Lingen se voorspelling vertel, was die Duitse ny­weraar hoogs verbaas oor die Suid-Afrikaner se insig. Zahn vertel toe dat dit presies is wat met hóm gebeur het: Hy het aan die einde van die oorlog by Piedemunde gewerk aan ’n interkontinentale ballistiese missiel, ’n gevorderde variasie van die V1- en V2-vuurpyl met hul kragtige plofkoppe waarmee die Duitse weermag verwoesting in Londen en ander Britse stede gesaai het. Die oorlog was verby voordat dié vuurpyl gereed was.

Enkele maande ná sy gesprek met Van der Lingen vind twee ander gebeur­tenisse plaas wat Rupert se politieke beskouings ingrypend beïnvloed. Teen­woordig by albei was sy studentevriend Dirk Hertzog, wat ’n medestigter van die Rembrandt Groep sou word.

Dirk Willem Ryk Hertzog, gebore op 1 Desember 1914, is byna twee jaar ouer as Rupert. Hy was die enigste seun van genl. J.B.M. Hertzog se oudste broer, Dirk, wie se name hy gekry het. Sy halfbroer, Dawid de Waal Meyer, sewentien jaar ouer as hy, was ’n kind uit sy moeder, Rykie de Waal, se eerste huwelik met ds. Theo Meyer van Jagersfontein. Sy moeder, ’n niggie van genl. Hertzog se vrou, Mynie (geb. Neethling), was 42 en sy vader 60 toe hy gebore is. Sy vader, ’n boer, diamantdelwer en transportryer van Jagersfontein in die Vrystaat, het in 1926 na Pretoria verhuis toe hy as lid van die sentrale raad van die Landbank aange­stel is, en Dirk het daar aan die Afrikaanse Hoër Seunskool gematrikuleer.6

Dirk Hertzog het aanvanklik politica as hoofvak vir sy B.A. aan die UP gehad, maar Stephen Leacock se waarskuwing dat “to reconcile electioneering with statecraft” die kernprobleem van die parlementêre stelsel is, laat hom van staats­leer na die regte wegskram. Hy het self vertel dat, hoewel hy genl. Hertzog en die skrywer-politikus adv. J.H.H. de Waal albei goed geken en dikwels met hulle ge­sels en selfs gekorrespondeer het, sy eie vader se “vriendelike en gebalanseerde lewenshouding vir my ’n ideaal gebly het – moontlik omdat ek so selde daar naby kon kom!”

Volgens Hertzog ontmoet hy en Rupert mekaar deur middel van studente­be­drywighede in die oorlogsjare. “Daar was ’n protesvergadering oor die inter­ne­ring van een van ons senior studente, lid van die studenteraad, en so aan. Dr. Rupert het gepraat en toe niemand anders praat nie, het ek gepraat, en toe het die res hul mond gehou – daar was te veel speurders in die gehoor,” vertel hy.7

Die politieke belangstelling van Dirk Hertzog was bydraend tot die twee be­palende insidente wat Rupert se lewensloop help vorm het.

Die eerste is ’n ontmoeting vroeg in die oorlogsjare met genl. Hertzog op sy plaas Waterval aan die Wilderivier naby Witbank, nadat die generaal hom ná sy tydelike hereniging met Malan aan die politiek onttrek het. As broerskind van die generaal het Dirk Hertzog die gesprek gereël.

’n Stuk of ses hoofbestuurslede van die ANS, onder wie hyself, Rupert en Demps van der Merwe, gaan na die veteraanleier om te vra wat hulle in die dae van storm en drang te doen staan en of hy hulle leiding sal gee.

Die gryse Boeregeneraal, toe reeds in die sewentig, is eers afwysend: “Wat kom julle nou by my soek; julle het my al die jare verguis, nou kom julle by my raad vra?” Hy wys daarop dat baie van die studente tot onlangs nog sy Afri­ka­ner­skap en trou in twyfel getrek het. Uiteindelik wou hy weet of hulle sy raad sou aanvaar.

Die jonger manne vra of hulle eers kajuitraad kon hou. Toe sê Rupert hulle sal dit doen en sy raad onvoorwaardelik aanvaar. Hy voeg by: “Wat my betref, ek het kom raad vra omdat ek raad nodig het.” Die oudpremier se nederigheid maak ’n groot indruk op hom. “Ek was nog jonk en net ’n student, maar die generaal het daarop aangedring dat hy self die brood sny en die koffie skink.”

Daarop sê genl. Hertzog die volgende aan die jongelinge, soos hulle dit ont­hou het: “As jy ooit beheer wil voer, moet jy eers leer om te gehoorsaam, en die ware toets van gehoorsaamheid is nie wanneer jy saamstem nie, maar juis wanneer jy van mening verskil. Jan Smuts het ’n oorlog verklaar waarmee julle nie saamstem nie. Soos julle weet, het ek ook nie saamgestem nie. Maar dit is wettiglik gedoen onder ’n grondwet wat ek help opstel het. Ons is dus as wetsgehoor­same burgers daardeur gebind. Smuts het my die versekering gegee dat hy nie sal opkommandeer vir diens buite ons landpale nie en ek glo hom. Ek het vir hom gesê as hy konskripsie of die krygswet invoer en julle opkommandeer, sal ek julle self rantjies toe lei. Ek dink hy het in 1914 ’n les geleer. Hy sal daardie fout nie herhaal nie.

“Nou wil ek vir julle sê: Gaan terug en berei julle voor om oor te neem, want die wiel gaan draai en die tyd gaan kom dat julle die leiding moet neem, en dan moet julle voorbereid wees daarop. Gaan terug na julle studies, doen julle plig en gehoorsaam die wette. En onthou alles wat julle doen, sal aan julle gedoen word.”

Hertzog se woorde het op Rupert, wat verwag het dat hulle aangespoor sou word om teen die Smutsregering in opstand te kom, ’n groot indruk gemaak; der­mate dat hy toe al besluit het dat dit altyd beter is om positief op te tree. “Dit het my totaal laat omskakel van ’n protesteerder na iemand wat iets prakties wou doen.”

Hy beskou daardie besluit as nog belangriker as die besluit om hom nie by Die Transvaler aan te sluit nie. Dit was twee jaar voordat Hertzog in November 1942 oorlede is – die leier wat beskryf is as “Boer, Krygsman, Staatsman, Prins van ’n Mens” deur sy eertydse private sekretaris Wennie du Plessis, later ambassadeur in Washington, wat LV geword het toe hy Smuts in die waterskeidings­ver­kie­sing van 1948 in sy vesting, die Hoëveldse kiesafdeling Standerton, verslaan het. Smuts se nederlaag het ook ’n einde gebring aan die era van die Boeregeneraals wat Suid-Afrika sedert Uniewording in 1910 geregeer het.

Die studentevriende het Hertzog se raad gevolg en hulle akademies bekwaam op Demps van der Merwe na, wat tydens die oorlog geïnterneer is. Van der Merwe, ’n teologiestudent wat toe pas uit Nederland teruggekeer het, was nader­hand die hoof van die Gereformeerde Kerk se Transvaalse opleidingsentrum vir swart teologiese studente op Hammanskraal.

Huberte meen Hertzog se advies aan die studente was die wonderlikste raad wat ooit gegee kon gewees het. “Dit het Anton geïnspireer, dink ek persoonlik, om na die Reddingsdaadbond te gaan toe hy gevra is om dit te doen.”

Die tweede beslissende insident wat Rupert in die oorlogsjare beïnvloed het, het plaasgevind in 1940, toe Dirk Hertzog hom omgepraat het om een aand saam te ry na Swartruggens om ’n politieke vergadering van Oswald Pirow by te woon. Pirow, voor die uitbreek van die oorlog minister van verdediging in die Hert­zog­regering, het ná die skeuring van 1939 met die Nuwe Orde, nog ’n regs-totalitêre beweging, begin.

Terug in Pretoria ontvang Rupert ’n oproep van Pirow se suster, Sylva Moer­dyk, eggenote van die bekende argitek Gerard Moerdyk en lid van ’n Trans­vaalse politieke driemanskap van haarself, adv. J.G. (Hans) Strijdom, latere eerste minis­ter, en prof. L.J. (Wicus) du Plessis van Potchefstroom. Sy nooi hom vir ’n koppie tee.

Daar gekom, vra sy hom dadelik: “Anton, hoekom gooi jy jou toekoms so weg?”

Verbaas wil Rupert weet wat sy bedoel.

Sylva Moerdyk antwoord toe: “Hoekom gaan jy met so ’n man soos Oswald Pirow rond?”

Toe hy oorbluf sê dat hy nie verstaan nie, sê sy: “Ons is besig om jou groot te maak as leier in die party.”

Hy was geskok dat ’n suster so oor haar broer kon praat. Daardie aand sê hy aan Huberte: “As dit is soos die politiek is, dan wil ek niks daarmee te doen hê nie. Ek is klaar met die politiek.”

Sy besluit om uit die politiek te bly het verskil van die besluit in soortgelyke omstandighede wat later geneem is deur die erfgenaam van die ander groot Suid-Afrikaanse familiefortuin, Harry Oppenheimer, wat in 1947 tot Volksraadslid van die Verenigde Party verkies is. Oppenheimer het in 1958 met die dood van sy vader, sir Ernest, voorsitter van Anglo American geword en toe uit die politiek getree, stellig omdat hy ’n belangekonflik tussen sy rol as politikus en as die hoof van ’n magtige goud-, diamante- en mineraleryk aangevoel het.

Dirk Hertzog het op sy beurt van sy oom, genl. Hertzog, met wie hy dikwels op sy plaas Waterval gaan stap het, raad gekry wat hom van die politiek weg­ge­keer het, hoewel hy ’n slag as kandidaat gestaan het. Hy het in sy memoires aangeteken dat hy sy oom Barry oor Stephen Leacock se siening oor die politiek uitgevra het. “Ja, ou seun, Leacock het reg,” het die ouer Hertzog geantwoord. “Smuts en ek het die politiek betree met ’n aansien wat ons in drie jaar in die Anglo-Boereoorlog opgebou het. Ons kon nog by geleentheid iets vermag. Maar as jy van onder af moet begin, sal jy soveel hande moet soen om bo te kom dat jy teen daardie tyd niks meer sal vermag nie. Dit is in ieder geval altyd ’n moeilike besluit of jy moet doen wat gewild is by die publiek – en dit is altyd maklik om te weet wat gewild sal wees – en of jy liewer moet doen wat jyself met meer kennis en ervaring weet is op die lange duur in hul werklike belang. As jy kies om te doen wat jy glo is reg moet jy dit vir lief neem dat jy straks ongewild sal wees, en as jy gewild wil wees moet jy dit vir lief neem dat jy ontrou aan jou eie oordeel moet wees, om nie te sê aan jou eie gewete nie.”

Rupert het ’n groot bewondering bly koester vir genl. Hertzog, wie se statuur ná sy dood gegroei het. En hy beskou die internasionale staatsman genl. Jan Smuts, premier van 1939 tot 1948, saam met die digter-natuurkenner Eugène Marais as twee ware genieë wat Suid-Afrika opgelewer het.8

Rupert se besluit om uit die politiek te bly, was ’n lotsbepalende keuse, ook omdat die meeste van sy studentevriende oortuig was dat hy vir ’n politieke loopbaan bestem was. Dr. Colijn van Bergen het ’n besliste mening daarop na­gehou: “As Anton in Hendrik Verwoerd se plek eerste minister geword het, sou Suid-Afrika ’n totaal ander wêreld gewees het.”

Teen daardie tyd in die oorlogsjare het Rupert se verhouding met Huberte vaster vorm aangeneem. Die twee maak hul verlowing bekend op Krugerdag, 10 Oktober 1940. Hul foto’s verskyn prominent op Die Transvaler se sosiale blad, “In Maatskaplike Kringe”. Die onderskrif lui dat hy lektor in skeikunde aan die Voortrekkeruniversiteit is en sy lid van die personeel van die Merensky­biblio­teek van die UP. Voorts word verklaar dat die verlowing “algemene belangstelling in republikeinse kringe sal wek”.

In dieselfde uitgawe verskyn ’n lang artikel oor die heldinne van die Anglo-Boere­oorlog. Daarin word uitvoerig aangehaal uit ’n brief van Smuts in die eerste helfte van 1901 aan pres. M.T. Steyn waarin hy die verwoesting van die land en die mishandeling van vroue en kinders beskryf. Dit het Huberte bygebly omdat Smuts, ’n vriend van haar oom Tienie Riekert, in sy brief onder meer met lof na haar oumagrootjie Lenie Riekert verwys.9

Vir Huberte en haar verloofde het 10 Oktober 1940 eweneens midde-in be­proewende oorlogsjare geval. Want ook in die verdeelde Suid-Afrika, hoewel ver van die oorlogsteater, is die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog reeds gevoel. Streng rantsoenering is ingestel, en teen die einde van die oorlog sou 200 000 Suid-Afrikaners in uniform deel van die oorlogpoging wees.

Vir die jong verloofdes het nogtans ’n nuwe lewe voorgelê. Toe sy in Mei 2001 na hul verlowing verwys het, het Huberte laggend gesê: “O, ons was so verlief!” Hulle het ’n diamantring by die Amsterdam Diamond Cutting Works in Jo­han­nesburg gaan koop. “Die mense was so opgenome met die jong paartjie dat hulle skoon vergeet het dat ons nie betaal het nie. Ons was al naby Pretoria toe sê ek: ‘Anton, ons het nooit betaal nie!’ Hulle het nog gesê ek moet my trouring kom haal, want hulle gaan vir my ’n trouring present gee. Ons het die volgende dag dadelik gaan betaal. Die mense sê toe ons was al ’n ent weg, toe het hulle besluit hulle glo ons sal kom betaal. Kan jy glo?”

Hy was pas 24, sy ’n jaar of drie jonger. Hulle sou ’n jaar later trou, nadat die vurige skeikundedosent ’n heel nuwe rigting ingeslaan het.

Anton Rupert: 'n lewensverhaal

Подняться наверх