Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer - Страница 10

7

Оглавление

Dit is soos oom Hansie gesê het, die lewe gaan voort, dink Rudolf met verwondering toe die verpleegsters hom na aandete help om terug te klim in sy bed. Niks het tot stilstand gekom omdat hy, Rudolf Mulder, in ’n motorongeluk was en die lewe in sy onderlyf verloor het nie. Die son kom nog op dieselfde plek op en gaan op dieselfde plek onder. Tafelberg het nie verskuif nie en die stadsrumoer het nie tot stilstand geruk nie. En net so min as wat Tafelberg skielik sal wankel of die son uit sy baan sal beweeg, net so min hoop het hy om ooit weer ’n normale lewe te hê.

Tog stem dit hom nie meer tot verbittering nie. Daar het vanmiddag onder die palmboom iets onnoembaars met hom gebeur. Hy het nie ’n engel gesien of gehoor nie. Hy’t ook nie die Here gesien of hoor praat nie. Hy weet net daar het na sy dankgebed ’n stille rustigheid oor hom gekom, en ’n gevoel van berusting in sy lot het oor hom gespoel. Van môre af sal hy sy samewerking gee. Hy sal die werkersklasse van die arbeidsterapeute bywoon en hy sal sy humeur teenoor die personeel beteuel, neem hy hom voor.

Maar toe oom Thysie begin hoes, draai hy onwillekeurig sy kop weg – totdat dit hom byval dat ook oom Thysie een van God se maaksels is. Hy dwing sy blik terug in die rigting van die bed langs hom en steek huiwerig sy hand uit om die spuugbakkie vir die ou man nader te stoot. Die diepe dankbaarheid in die weggesonke oë laat hom egter skuldig wegkyk.

Toe oom Thysie terugleun teen die kussings, roep hy na Rudolf. “Dankie, ou seun,” sê hy moeisaam met die min asem wat hy oor het. “Die Here sal jou seën.”

“Ag, dit was ’n plesier,” sê Rudolf verleë. “Oom moet maar sê as daar nog iets is wat ek kan doen.”

“Daar is iets,” sê oom Thysie. “Sal jy vir my Psalm 23 lees?”

Sy vreemde versoek betrap Rudolf onkant. Tog, hy durf nie weier nie. Daar is ’n effense bewing in sy vingertoppe toe hy die verweerde Bybel uit sy bedkassie haal en daardeur blaai op soek na Psalm 23. En sy stem klink onseker, huiwerig toe hy begin lees: “Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie . . .”

Algaande raak sy stem vaster. Sink die mooi woorde van die psalmdigter by hom in. Toe hy klaar is, kyk hy na oom Thysie. Hy lê met toe oë, maar op sy gesig is ’n tevrede uitdrukking. En ’n diep dankbaarheid dat hy iets vir hom kon doen, kom in Rudolf op. Hy vergeet van die dinge rondom hom toe hy voortgaan om ook Psalm 24 te lees.

Bossie betrap hom met die Bybel in sy hand. Verbasing staan oor haar hele gesig geskryf toe hy agterkom daar is iemand langs sy bed en hy opkyk. Sy eerste gedagte is om die Bybel vinnig toe te slaan, maar dan besef hy hoe kinderagtig dit sal lyk, dus glimlag hy maar net verleë.

“En wanneer het jy ontdek die Bybel is ’n interessante boek?” vra sy nuuskierig.

“Eintlik maar so pas.”

“O,” laat sy huiwerig hoor. “Wel, lees gerus verder. Jy sal verstom wees om te sien hoeveel krag jy daaruit kan put.” Toe haas sy haar dienskantoor toe om vir suster Jo en Mynhard te gaan vertel dat Rudolf uit die Bybel lees.

Suster Jo slaan nie veel ag op wat sy sê nie. Baie mense lees die Bybel, dink sy, maar dit maak nog nie van hulle Christene nie. Dit is moontlik net weer een van Rudolf se nuwe giere dié. Daar is ook nie tyd om daaroor te tob nie, want dit word ’n bedrywige aand toe daar twee nuwe opnames vir saal B4 opdaag.

Een van die opnames is ’n jong matriekseun. So aan die fluisteringe van die verpleegsters kom Rudolf agter dat hulle hom baie jammer kry. En toe hy Bossie uitvra, hoor hy dat die seun sy nek gebreek het.

“Selfs sy arms sal verlam wees,” deel sy hom mee. “Hy het glo van ’n duikplank af gespring en hom misgis met die diepte van die water in die swembad.”

Die seun se opname plaas ’n demper op almal se gewone bedrywighede in die saal. Selfs oom Hansie is stil, al bly sy oë pal op die bed by die deur van die saal. Oom Thysie, wat te swak is om hom op te lig en dus nie die nuwe pasiënt kan sien nie, wil by Rudolf weet wat aan die gang is. En toe hy hoor van die jong man se ongeluk, sluit hy sy oë ’n wyle asof die mededeling ook vir hom seermaak.

“Ons moet vir hom bid,” sê hy vir Rudolf. “Sy duwweltjiepad gaan erger wees as joune. Jy het darem nog die gebruik van jou arms, hy’t dít nie eens nie.”

Ja waarlik, dring dit tot Rudolf deur. Hy kan homself darem nog op ’n manier help, maar wat beteken ’n mens as jy nie eens jou arms kan gebruik nie?

Die volgende dag by die werkersklas van die arbeidsterapeute kom hy agter dat die lewe ook voortgaan vir diegene wat feitlik al hul lewensfunksies verloor het. Sy medepasiënte se humorsin en spitsvondige sêgoed verstom hom. Hy het te lank in sy eie kokon van verbittering en selfbejammering toegespin gebly, is die slotsom waartoe hy kom toe hulle terugkeer saal toe. Sy medepasiënte is nie anders as hy nie. Hulle het ook groot toekomsdrome gehad waarvan hulle skielik ontneem is. Hulle koester dieselfde vrees vir die toekoms as hy, maar hul wil om iets van hul menswaardigheid terug te win, maak hulle anders. Dit gee aan hulle lewensvreugde en, ja, ook diepte. Nie een van daardie gestremde persone wat saam met hom die werkersklas bygewoon het, sal ooit weer oppervlakkig na die lewe kyk nie.

Die middag toe Julia by hom besoek kom aflê, betrap ook sy hom met die Bybel in die hand.

“Het jy nou ’n Christen geword?” vra sy met bedekte spot.

“Ja,” sê Rudolf onomwonde. “Of laat ek dit só stel, ek is op pad om ’n Christen te word. Miskien weet ek nog te min van Christenskap om myself ’n volwaardige Christen te noem, maar ek hoop ek kan binnekort, want ek leer vinnig.”

Die erns op sy gesig oortuig haar dat daar wel ’n inkeer in sy lewe plaasgevind het. Dit neem die wind uit haar seile, want sy hou nie van ernstige dinge nie. Sy vertoef dus nie lank nie, want sy voel ongemaklik in sy teenwoordigheid. Dit is asof hulle skielik niks vir mekaar te sê het nie.

Maar op pad terug huis toe oordink sy die saak. Om Rudolf prys te gee net omdat hy skielik tot bekering gekom het, kan haar tot nadeel strek. Sy het reeds nie meer ’n werk nie, sy moes haar woonstel prysgee, sy moet haar skuldeisers ontduik, en die bietjie oorblywende spaargeld is boomskraap. Nee, sy kan nie vir Rudolf Mulder prysgee nie. Inteendeel, sy sal vinnig ’n plan moet maak om mevrou Mulder te word, want anders is sy werklik in die pekel! Daar is niemand anders wat haar nou kan help nie. Haar ouers is dood en die man wie se minnares sy soveel jare lank was, het haar tog op die ou einde verwerp om terug te keer na sy vrou en kinders.

Dokter Bertus Simpson aarsel toe hy op pad hospitaal toe deur Pinelands ry. Dan draai hy tog af in die straat na suster Jo se huis. Sy ken hom mos al goed genoeg om te weet van sy voortdurende koffielus, dink hy met ’n skelm laggie.

Suster Jo is meer verbaas as verras om hom te sien. Sy trek ietwat senuweeagtig aan haar ou huisdra-rokkie en verwens haarself omdat sy so gedraai het en nog nie haar diensuniform aangetrek het nie. Sy voel gestroop van haar waardigheid.

Sy voel egter meer op haar gemak toe hy vir haar sê sy lus vir koffie het hom laat besluit om by haar in te loer. En terwyl sy die koppies op ’n skinkbord sit, loer sy vlugtig na Anton se geraamde foto teen die muur, dankbaar dat sy dit van die sitkamer na die kombuis verskuif het.

Dokter Simpson merk dat die geraamde foto weg is van die sitkamermuur. Om homself te oortuig dat die lawwe idee dat dit dalk haar eie kind kan wees sommer onsin is, vra hy haar na die foto toe sy weer die sitkamer binne­kom.

“O, dit . . . e . . . is weggeneem. Ek het dit vir ’n verandering in my slaapkamer opgehang,” stamel suster Jo onkant betrap en baie bewus daarvan dat hy intens na haar kyk. En om te verhoed dat hy haar verder uitvra, verander sy vinnig die gesprek deur hom na een van die nuwe pasiënte se siektetoestand uit te vra.

Haar antwoord oortuig hom nie. Hy is nou nog sekerder as die vorige keer dat daar iets geheimsinnigs agter die foto skuil. Sy sou tog nie bloos en hakkel oor die verskuiwing van ’n doodonskuldige foto nie.

Toe hy opstaan om te ry, slaak suster Jo innerlik ’n suggie van verligting, want sy’t agtergekom sy oë bly dwaal na die kaal kol teen die muur waar die portret gehang het. Dalk weet hy sy het vir hom gejok. Hoe gouer hy ry, hoe skraler die moontlikheid dat hy haar weer kan begin uitvra.

Buite op die stoep talm hy. “Jo, sal jy volgende week weer een aand saam met my uitgaan? Moenie sommer nee sê nie.”

Die afwagting op sy gesig maak dat sy nie summier kan weier nie. Dus laat sy hom daar wegry met die vae belofte van: “Ons kyk maar eers hoe my diensrooster lyk.”

Hy ry stadig hospitaal toe en oordink sy kuiertjie by haar. Iets omtrent daardie foto is nie pluis nie. Die kind op die foto lyk boonop na haar. Of is dit maar net die donker hare van die kind wat maak dat hy hom allerhande dinge verbeel?

Hy doen eers ’n ondersoek op oom Thysie toe hy in saal B4 kom, en gesels daarna ’n rukkie met Rudolf. Maar deurentyd bly die raaisel omtrent die foto in sy onderbewussyn. Selfs die kuiltjie in Rudolf se ken en sy donker oë herinner hom aan die foto wat in suster Jo se sitkamer gehang het.

En by haar huis is suster Jo reeds op pad na haar motor om hospitaal toe te ry, toe haar telefoon lui. Die oomblik toe sy hoor dit is Darius, verwens sy haarself dat sy die gelui nie geïgnoreer het nie, want hy wil onomwonde weet of sy al die nodige vorms vir Anton se aanneming ingevul het.

“Nog nie, ons is baie besig by die hospitaal,” probeer sy tyd wen.

“Die sperdatum kom vinnig nader, jy weet, nè?”

As Darius klink soos hy nou klink, sal pleit of soebat nie help nie, flits dit deur haar gedagtes. “Ja, ek besef dit,” sê sy dus gelate. “Ek sal kyk of ek môre daarby kan uitkom.”

“Moenie draai nie. Ek en Sanet raak nou haastig om dinge agter die rug te kry.”

Toe hy sonder omhaal die verbinding verbreek, bewe sy van kop tot tone van ontsteltenis. Daar bly vir haar net een uitweg oor, besluit sy dan. Sy sal Anton soos ’n skelm ongemerk op die plaas moet gaan haal en stilletjies verdwyn. Maar waarheen? En hoe ver gaan hulle met haar spaargeldjies kom?

Oom Thysie se weggesonke ogies mis niks nie. Toe suster Jo die aand langs sy bed kom staan om te groet, wil hy dadelik weet wat skort. “Jy is baie bleek. Jy word dan by die dag maerder, my kind.”

“Ag, oom verbeel jou sommer. Ek makeer regtig niks nie!”

Haar en oom Thysie se gesprek lei daartoe dat Rudolf ook met meer aandag na haar kyk toe sy hom kom groet. “Oom Thysie het reg,” sê hy. “Jy lyk moeg, soos iemand wat al sy sprankel verloor het. Wat skort?” En nie in sy wildste drome verwag hy die uitbarsting waartoe sy vraag lei nie!

“Jý het nog die vermetelheid om te sê ek het my sprankel verloor!” sis sy haar ontsteltenis uit. “Natuurlik het ek my sprankel verloor! Ek het dit ses jaar gelede al verloor toe jy . . .” Sy besef plotseling wat sy kwytraak en vlieg kortom om tot Rudolf se verstomming haastig die saal te verlaat.

In die linnekamer ruk suster Jo tot stilstand. Wat het haar besiel! Sy stamp hard met haar kop teen een van die rakke van skone ergernis omdat sy haar nie kon beteuel nie. Maar deur haar ergernis heen begin die trane ook vloei en sy kry dit om die dood nie gestop nie. Hoe meer sy probeer om op te hou huil, hoe vinniger vloei die trane. Toe gee sy haar maar oor en huil haar hart uit – oor die dilemma waarin sy verkeer; oor Rudolf Mulder nie eens kan onthou dat hy haar ses jaar gelede geken het nie; oor dokter Simpson haar nie wil uitlos nie; oor sy nie genoeg geld het om uit die land te vlug met haar kind nie; en les bes, oor sy so bitter alleen op die aarde voel.

Rudolf lê lank en peins oor die woorde wat sy hom toegesnou het. Dit het so beskuldigend geklink, asof sy wou beweer dis sy skuld dat sy haar sprankel verloor het! Wat wou sy sê van ses jaar gelede, wonder hy. Ses jaar gelede . . .

Ses jaar gelede was hy dan in Amerika. Sou hy dalk iemand na aan haar te na gekom het? Watter kant toe hy ook al dink, haar hewige aanval op hom bly ’n raaisel. Maar in sy geestesoog sien hy weer daardie twee vuurspuwende groen oë van haar, herinner dit hom aan die droom wat hy gehad het toe dit nie meer Julia was nie, maar sy wat onder hom gelê het. En tot sy ontsteltenis laat die herinnering aan die droom hom sweerlik bloos!

Toe sy later noodgedwonge die saal moet binnegaan, sien Rudolf dat sy versigtig is om nie na sy kant toe te kyk nie. Hy is skielik half bly daaroor, want as hy aan die drome moet dink terwyl sy na hom kyk, is hy dalk kapabel om weer te bloos. Sy sou haar wat verbeel, die klein geitjie!

Toe die saal se ligte vir die nag gedoof word, lê hy nog lank die donkerte en instaar met gedagtes wat maal. As hy gesond was, sou hy nie gras onder sy voete laat groei het om suster Jo beter te leer ken nie. Hy sou die vrymoedigheid gehad het om vir haar te sê hoe mooi sy vir hom is. Hy sou vir haar kon sê hy is nie meer kwaad vir haar omdat sy hom saal toe verskuif het nie. Hy sou vir haar kon sê dat hy werklik bekommerd is omdat sy so ongelukkig lyk. Hy sou . . .

Maar, besef hy, dit is alles net asse. Hy kan niks sê nie. Hy durf niks sê nie! Hoe gouer hy dus ophou om meer as gewoonweg aandag aan haar te gee, hoe beter vir homself. As daar dalk ’n gevoel vir haar in hom begin ontwikkel, is dit nou die tyd om dit in die kiem te smoor.

Toe hy eindelik so tussen oom Thysie se gehoes en oom Hansie se balkesaery deur aan die slaap raak, kom sy egter weer in ’n droom na vore. Hierdie keer is dit hy en sy wat wegkruipertjie speel tussen die bome. Sy is egter siedend kwaad vir hom en hy weet nie waaroor nie. Toe hy haar uiteindelik gevang kry, is die eerste ding wat hy wil weet dus hoekom sy vir hom kwaad is. Sy gluur hom eers aan, maar toe vra sy skielik sag: “Weet jy dan nie?”

“Nee, ek weet nie. Vertel my?”

“Omdat . . .”

En kaplaks! dawer dit meteens deur die saal sodat ook hy met ’n ruk wakker skrik. Almal is wakker van die slag en oral gaan daar bedligte aan. Ook suster Jo, Bossie en Mynhard kom die saal binnegestorm.

En toe praat die skuldige skielik vanaf oom Hansie se bed: “Askies tog as ek julle laat skrik het, gehoor. Dis Dingetjie se kosblik wat ek per ongeluk van die bedkassie afgestamp het.”

Toe suster Jo haar omdraai en woordeloos die saal verlaat, wink Rudolf vir Bossie nader. “Wil jy my nie help om in ’n rolstoel te klim nie?”

“Dis dan amper middernag. Wat wil jy nou in ’n rolstoel doen?”

“Ek is nie vaak nie. Ek wil graag daar by die venster gaan sit.”

“Ek weet nie wat suster Jo gaan sê as . . .”

“Ek sal vir haar sê ek het self in die stoel geklim, as sy wil weet. Dis in elk geval wat ek gaan doen as jy my nie wil help nie.”

“O, en as jy weer op die vloer beland?”

“Dan is dit jou skuld.”

Bossie kan maar net lag vir sy slimmigheid. En nadat sy hom gehelp het, beweeg hy dadelik venster toe. Hy maak saggies die venster wyer oop om die vars lug in te adem, amper asof hy daarmee die droom uit sy geheue wil wis.

Hy sit steeds daar toe suster Jo, onwetend van hom, lank na middernag ’n saalronde doen.

Toe sy vlugtig met haar flitsliggie oor sy bed skyn, verbeel sy haar die bed is leeg. Sy lig weer, ’n rukkie langer hierdie keer, en knip haar oë verbaas. Die bed ís leeg!

Net toe sy paniekerig wil raak, sien sy die chroom van sy rolstoel voor die venster in die maanlig blink. Sy loop saggies maar met drif op hom af.

“Wat soek jy hier? Hoekom slaap jy nie?” vra sy fluisterend, maar hy hoor die ergerlikheid deurslaan.

“Ek is nie vaak nie,” fluister hy terug. “Jy het gisteraand dinge gesê . . .”

“Vergeet wat ek gesê het,” onderbreek sy hom summier, maar toe sy wil loop, gryp hy haar aan die arm.

“Hoekom is jy so ongeskik teenoor my?” eis hy.

“Moenie u allerhande dinge verbeel nie, meneer Mulder. Ek behandel al my pasiënte eenders.”

“Sowaar?” sê hy spottend. “Snaaks, maar ek verkeer nie onder daardie indruk nie. Die ander verpleegsters ook nie.”

“So, hulle beskinder my?”

“Dit het ek nie gesê nie. Maar hulle het agtergekom jy vermy my soos die pes. Hoekom? Dink jy ek hét dalk die pes?”

“Meneer Mulder, jy’t baie erger dinge as dit! Los my, ek wil loop!”

“Hoekom haat jy my so?” vra hy ernstig.

“Ek . . . ek haat niemand nie.”

Hy wens hy kan haar gesig sien, maar dit is te donker. “Goed, as jy my nie haat nie, hoekom kan ons nie vriende wees nie?”

“Vriende!” spoeg sy die woord uit. “Nee, meneer Mulder, ek verkies om die lewe sonder vriende deur te gaan. Vriende en mans is eenders. Hulle is verraaiers en . . .!”

“Wie het jou so seergemaak, Jo?”

“Suster Jo vir jou! En los asseblief nou my arm. Daar is pasiënte wat my hulp benodig.”

“Daar sal iemand anders wees om hulle te help. Ek laat jou nie gaan voordat jy my nie sê hoekom ons nie vriende kan wees nie.”

“Wat bedoel jy met ‘vriende’?” wil sy sarkasties weet.

“Jo . . . suster Jo, is dit werklik nodig dat ons mekaar altyd in die hare moet vlieg wanneer ons mekaar sien?”

“Dis nie ek wat . . .” Sy swyg, want sy weet sy wil ’n leuen vertel. Eintlik is dit seker maar sy wat elke keer so vinnig op haar perdjie klim. Maar vervlaks, hy hou hom so onskuldig, asof botter nie in sy mond kan smelt nie. Asof hy haar nog nooit in sy lewe gesien het nie!

“Dan is dit seker maar my skuld,” sê hy beskeie. “Sal ons in die toekoms vriendeliker met mekaar probeer wees?” Hy hoor haar sug, maar dan gee sy tot sy verbasing toe.

“Goed, ons kan probeer. Maar los asseblief nou my arm, anders skree ek!”

Hy los haar arm, maar dink: Daar gaan ons al weer! As sy nie haar sin kan kry nie, gaan sy skree. En hy is doodseker sy sal dit doen. Want sy is heeltemal anders as al die meisies met wie hy tot dusver te make gekry het. Sy probeer bepaald nie om sy guns te wen nie!

Eers teen vieruur die oggend besluit hy om terug te gaan bed toe. Toe hy sy rolstoel dienskantoor toe stuur om iemand te gaan soek wat hom kan help om terug te klim in die bed, tref hy suster Jo alleen daar aan. Hy sien duidelik hoe sy rondkyk, asof sy hoop iemand anders sal opdaag om hom te help, maar besef dit gaan nie gebeur nie.

Terwyl sy hom help om terug te klim, wonder sy of dit werklik nodig was, want hy kom baie goed op sy eie reg. Hy het klaar die kuns bemeester om sy lyf met ’n swaaibeweging van die stoel tot op die bed te hys deur sy boarms te gebruik. Toe hy reeds bo-op die bed lê, vra hy haar om nader te kom.

Wat toe gebeur het, sou suster Jo nie later kon sê nie, maar toe sy haar kom kry, is sy arms om haar lyf, kompleet asof in omhelsing.

En voor Rudolf sy bolyf gemaklik kan maak op die bed, kry hy ’n klap teen sy wang wat sy ore laat tuit!

Toe die dag breek, staan suster Jo verslae en nikssiende deur die venster van die dienskantoor en kyk. Want sy het na deeglike selfondersoek tot die ontsettende ontnugtering gekom dat Rudolf Mulder haar glad nie so koud laat as wat sy gedink het nie. Ondanks haar afkeer en veragting vir hom, raak sy ontsenu deur sy nabyheid . . . Doen en sê sy dinge wat nie regtig in haar aard is nie. Kyk net wat ’n gek het sy van haarself gemaak deur hom te klap toe hy sy arms om haar lyf gesit het om homself gemaklik te maak in die bed. Hy is nie die eerste pasiënt wat dit gedoen het nie. Feitlik elke parapleeg doen dit wanneer jy hul kussings wil pof. Wat Rudolf Mulder na dese van haar moet dink, wil sy liewer nie weet nie!

Rudolf weet nie wat om te dink nie. Dit was die eerste keer in sy hele lewe dat hy ’n klap van ’n meisie gekry het. En as hy nog daarvoor gesoek het, maar . . .

Hy skud sy kop en raak aan sy wang. Dit brand wraggies nou nog! Nee, dit was g’n grappie, soos sy hom agterna probeer wysmaak het nie. Haar klap was met mening, bedoelende om seer te maak! Sal hom niks verbaas as die merke van vyf vingers geswolle op sy wang afgeëts lê nie. As hy net kan weet waarom sy so onverdraagsaam is teenoor hom!

Nie dat hy met homself wil spog, of reken hy is onweerstaanbaar vir meisies nie, dink Rudolf, maar geen meisie het hom nog so sleg behandel soos suster Jo nie. Gewoonlik was hy die een wat moes keer om in verhoudings betrokke te raak, maar hierdie keer soek hy vriendskap en nou . . .

Nee, stuit hy vinnig sy gedagtegang, hy soek nie haar vriendskap nie. Hy soek niks van haar nie! Dit is tog duidelik dat sy nie al haar varkies op hok kan hê nie. Verbeel jou, om hom te klap net omdat hy homself gemaklik in die bed wou maak!

Maar dit is nie so maklik om te glo sy is nie by haar volle positiewe nie. Hy het haar te dikwels dopgehou wanneer sy met die ander pasiënte omgaan. Daar skeel niks met haar verstand nie. Dit is net teenoor hom dat sy so duidelik ’n gevoel van antipatie toon. En of hy dit nou wil weet of nie, hy voel in sy eer gekrenk. Hy voel selfs of hy háár ’n paar warm klappe kan gee omdat sy hom presies laat besef hoe magteloos en nikswerd hy is!

En toe suster Jo by die hospitaalhekke uitry, dink sy: Vandag nog moet ek my planne agtermekaar kry. Hoe gouer sy met Anton wegvlug, hoe beter. Die Kaap is hopeloos te klein vir haar én Rudolf Mulder. Haar oorspanne senuwees sal maak dat sy nog self aan hom verklap wie sy is.

En as hy moet vasstel sy het nie destyds die aborsie ondergaan nie . . . As hy haar kind ook nog van haar moet wegneem . . . Nee, dit sal erger as die dood wees, want dan gaan sy niks hê nie. Heeltemal niks nie. Nie eens ’n kind om haar te troos teen die verraad van dié man wat sy geglo het sy sal haat solank sy lewe nie. ’n Haatgevoel wat totaal misluk het!

Want niks maak seerder as die wete dat hy haar nie eens onthou, of besef dit was hy wat ses jaar gelede die sterre uit die hemelruim op haar laat neerplons het nie.

Elza Rademeyer Omnibus 6

Подняться наверх