Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer - Страница 11
8
ОглавлениеJulia het net die bopunt van die trap bereik op pad na Rudolf se kamer wat sy vir haarself toegeëien het, toe sy plotseling versteen. Dit spook dan selfs helder oordag! Die geluide wat maak dat sy te bang is om snags te slaap, klink sommer hier reg agter haar rug op!
Sy loer versigtig oor haar skouer en kyk teen tant Betta se halfoop kamerdeur vas. ’n Ruk lank bly sy oorbluf staan, maar dan sluip sy steeds bewerig van die skrik nader om by die deur in te loer. Sy blaas verlig haar asem uit toe sy tant Betta bo-op die bed sien lê, haar lippe trillend soos die lug met die aakligste denkbare geluide wat daardeur ontsnap.
Sy gaan haar kamer met ’n gevoel van verslaentheid binne. Om te dink sy het dit net die vorige nag oorweeg om haar toekomsdrome as mevrou Mulder maar te laat vaar omdat dit so spook in die huis! Al die tyd is daardie spook toe tant Betta! En dan het sy, tant Betta, nogal die vermetelheid gehad om van Rudolf se voorvadergeeste te praat!
Wel, as tant Betta so vas slaap, kan sy gerus vir Rudolf gaan besoek. Tant Betta verwag mos van haar om tuis te bly wanneer sý hom gaan besoek. Eintlik wil die ou vrou dolgraag hê sy moet glad nie by Rudolf uitkom nie, maar sy sal haar tog daaraan steur! Nugter weet hoekom Rudolf haar hier in sy huis duld. Wanneer sy die dag mevrou Mulder word, sal die ou vrou moet maak dat sy wegkom. Dit is die één voorwaarde wat sy aan Rudolf sal stel.
Tant Betta slaap vas en lekker. Toe sy wakker skrik, is die middag-besoekure by die hospitaal verby. Sy is spyt daaroor, maar darem ook nie té spyt nie, want sy’t ’n tog alte gawe droom gehad. Sy weet nou presies wat sy moet doen om Julia uit die huis te spook!
Voordat sy haar plan vir Katryn uiteen kan sit, kom Julia terug van die hospitaal af. En toe sy langs die huis stilhou, hou daar nog ’n motor langs haar stil.
“En dít?” vra tant Betta verwonderd waar sy deur die kombuisvenster staan en loer. “Wat kom maak dokter Simpson dan hier? Sou Rudolf nie dalk . . . ? Nee, die doktertjie sal darem seker nie so tydsaam en vriendelik met Julia staan en lag en gesels as Rudolf iets oorgekom het nie.”
“Hy kom kuier seker vir juffrou Julia?” lug Katryn haar mening.
“Ag, sal dit tog nie ’n bestiering wees nie!”
Maar dokter Simpson kom nie vir Julia kuier nie. Hy kom na Rudolf se huis kyk met die oog daarop om dit te koop. In ’n geselsie tussen hom en Rudolf het dit geblyk dat Rudolf dit oorweeg om sy huis te verkoop. Die baie trappe maak die plek ongerieflik vir iemand wat in ’n rolstoel moet beweeg. En dokter Simpson soek huis, want hy is moeg vir die woonstellewe.
Toe tant Betta hoor wat die doel van sy besoek is, nooi sy hom eers vir tee, wat hulle sommer daar in die ontbythoekie van die kombuis sit en drink. Daarna stap sy saam met hom en Julia deur die huis. In die sitkamer aangekom, steek hy verbaas by die portret van Rudolf as kleuter vas.
“Wie is hierdie seuntjie?” vra hy vir tant Betta.
“Dis Rudolf, toe hy klein was.”
“Rudolf? Ek het nie besef hy en suster Jo is familie nie,” sê dokter Simpson verbaas.
“Ekskuus?” vra tant Betta. “Het u gesê suster Jo en Rudolf is familie?”
“Wel, ís hulle familie?”
“Nie sover ek weet nie. Het sý gesê hulle is familie?”
“Nee, maar . . .” Toe hy sien hoe nuuskierig tant Betta en Julia hom aankyk, sê hy vinnig: “ ’n Oomblik het ek gedink dis ’n replika van ’n foto wat in suster Jo se huis hang. Maar ek sien nou daar is wel ’n verskil.” Toe stap hy vinnig verder, hopende dat hulle sy opmerking sal vergeet, want miskien het hy uit sy beurt gepraat. As hulle nie weet daar hang ’n feitlik identiese foto in suster Jo se huis nie, beteken dit sy het hulle nie daaroor ingelig nie. Maar sy nuuskierigheid is geprikkel.
Teen die tyd dat dokter Simpson vertrek, het tant Betta skoon vergeet van die portretvoorval. “Ek het my so geskaam vir Julia Saunders,” vertel sy in die kombuis vir Katryn. “Jy moes net sien hoe skaamteloos gooi sy haar flikkers vir die doktertjie. Maar ook eers nadat hy laat val het hy sal nog geld oorhê vir die aanbou van ’n woonstel vir sy ou weduweemoeder! Katryn, ek sê jou, daardie Julia is op soek na ’n ryk man. Geld is al waaragter sy is. Rudolf sal in sy spoor moet trap of sy gooi vir hom aas uit wat hy gaan sluk. Ons moet haar uit hierdie huis uit spook, so gou moontlik.”
“Ag, mevrou, hoe gaan ons dit tog regkry?” wil Katryn weet.
“Ek weet hoe. Ons moet net ’n rolstoel en ’n winkelpop in die hande kry.”
“ ’n Rolstoel en ’n winkelpop,” aap Katryn haar na. “En dan, mevrou?”
“Dan trek ons Rudolf se klere vir die winkelpop aan en ons sit die pop binne-in die rolstoel.”
“En dan, mevrou?”
“Dan wag ons tot die maan vol is. En nes hy sy eerste strale so tussen die donker skaduwees van die bome deur gooi, gaan staan ek onder Julia se kamervenster. Intussen moet jy op die skuinstetjie bokant die swembad met die spookpop wag.”
“Wie, ék?” vra Katryn benoud. “Alleen daar bo in die donker?”
“Jy kan mos vir Moos saamvat as jy bang is.”
“En dan?”
“Dan gil ek reg onder Julia se kamervenster. Hiehohahie . . .”
“Ja, toe maar, ek verstaan,” keer Katryn vinnig. “En ek, wat doen ek dan?”
“Sodra ek begin gil, los jy die stoel sodat hy oor die werf in die rigting van haar kamervenster gery kom. Katryn, stel jou voor hoe gaan daardie vroumens skrik!”
“En as sy nie skrik nie, mevrou?”
“Sy móét skrik! Ek bedoel, sy sál mos skrik, man. Stel jou voor . . . die onaardse geluide buite haar kamervenster, en as sy bang deur die venster loer, sien sy nog hoe Rudolf in die maanlig oor die werf in sy rolstoel gery kom!”
“En as die stoel dalk in die swembad beland?”
“Ag, teen daardie tyd het Julia al lankal flou geval van die bangheid.”
“Klink vir my na tronksake as ons gevang word,” brom Katryn.
“Ag nee wat, man. Teen die tyd dat Julia bykom uit haar floute, het ons lankal ontslae geraak van die rolstoel en pop.”
“En waar gaan mevrou nogals die rolstoel en pop vandaan kry?”
“Dis maklik. Die matrone by die tehuis vir bejaardes sal vir my ’n rolstoel leen, en die pop kan ek by my vriendin Sarie kry. Sy het poppe in haar modewinkel daar in die stad.”
“Ek weet darem nie,” toon Katryn haar onsekerheid, maar tant Betta laat haar nie daardeur afskrik nie. Sommer dieselfde dag nog bel sy die matrone en haar vriendin Sarie. Maar dit is donkermaan. Hulle sal moet wag totdat dit weer volmaan raak.
En vroeg die volgende oggend is tant Betta weer agter die motor se stuur. Net toe sy begin dink sy weet nou alles van motorbestuur af, trap sy egter die brandstofpedaal in plaas van die rempedaal en daar skiet die motor vorentoe, rakelings verby die hoek van die huis, dwarsdeur die blombedding, rondom die swembad en terug tot waar dit was voordat sy die brandstofpedaal getrap het.
“Wat het mevrou dan nou aangevang?” vra Moos vaal geskrik.
“Nee, hoe vra jy dan nou vir my?” vra tant Betta, self bleek om die kiewe. “Die vervlakste ding kry dan sommer die wilde weghol in hom toe ek wou stilhou!”
Minute later bekyk hulle die skade aan die blombeddings. “Ek sal die beddings maar moet omspit,” sê Moos. “Dit lyk te aardig so met die motorspore dwarsdeur hulle.”
“Gits, en nou is Rudolf se bed al so omring van die blomme,” sug tant Betta. “Maar ek gaan dit mos nooit oor my hart kry om daardie orige blomme sommer weg te gooi nie, Moos. Ek dink jy moet dit maar pluk sodat ek dit kan weggee.”
“Vir wie gaan mevrou dit gee?”
“Ag, sommer vir een van die verpleegstertjies by die hospitaal. Dis beter as om dit weg te smyt. Ek wil tog vir Rudolf gaan besoek.”
’n Uur of wat later, toe tant Betta by die hospitaal opdaag, tref sy Rudolf buite op die grasperk aan waar hy en ’n paar ander parapleë ewe vrolik resies jaag met hul rolstoele. Sy staan eers ’n hele ruk vir hulle en kyk, ’n diep dankbaarheid in haar hart.
Dit lyk tog of Rudolf hom uiteindelik by sy nuwe lewenspatroon aanpas. Wat haar die meeste verbaas, is dat hy lag oor hy feitlik elke keer die verloorder is. Selfs vóór die ongeluk het hy nie daarvan gehou om te verloor nie. As sy rugbyspan of krieketspan die slag verloor het, was hy gou om te sê dit was die skeidsregter wat partydig opgetree het. Maar hier probeer hy nie verskonings soek nie. Hy aanvaar dat sy maats behendiger in hul rolstoele is as hy. Eers toe hulle moeg is en ophou met die spelery, stap tant Betta nader.
“Dis so warm,” sê Rudolf vir haar, “dat ons gerus sommer daar onder die boom kan gesels. Daar is ’n bankie waarop tante kan sit.”
“Ek kan ook nie lank bly nie, want ek het blomme in die motor,” sê tant Betta. “Dit sal verlep as dit lank in die kattebak moet bly.”
“Ek hoop nie dis nog blomme vir my nie,” sê Rudolf laggend. “Die verpleegsters weet nie meer waar om al die ruikers te pak nie. Die hele saal is al die ene blomme.”
“Nee, ek het gedink om dit maar sommer vir een van die verpleegsters te gee.”
“Hoekom gee tante dit nie vir suster Jo nie?”
“Ja, ek kan seker. Maar werk sy dan nie net in die nagte nie?”
“Ja . . . e, dit is so. Maar hoekom neem tante dit nie na haar huis toe nie? Bossie het nou die dag vir my gesê sy bly sommer hier naby die hospitaal in Pinelands. Die dametjie by ontvangs sal seker haar adres vir jou kan gee.”
“Nee, maar dan maak ek so. En sê vir my, hoe gaan dit nou met jou, Rudolf? Ek praat nie nou van jou liggaam nie, maar van jou gees. Sien jy al kans vir die toekoms, of . . .”
“Dit gaan wonderlik goed, dankie. Ek kry maar nog my oomblikke van swartgalligheid, maar ek besef dit sal nie help om daarin te versink nie. En, tant Betta, ek het tot inkeer gekom. Ek besef nou daar is ’n God wat groter is as ons almal.”
“Rudolf, wat vertel jy my!” roep tant Betta verras uit. “En wanneer het jy tot dié besef gekom?”
Hy vertel haar van die kind-en-bal-episode, en verstom hom oor haar blydskap. Die eerste keer dring die besef tot hom deur dat hy lief geword het vir sy pretensielose tante. Dit is ’n besef wat hom ongemaklik stem, want sy gaan nie hou van wat hy vir haar moet sê nie. Hy en Julia het die vorige dag lank gesels en . . .
“Tante, daar is nog iets wat jy moet weet,” sê hy met soveel huiwering dat tant Betta hom aanpor.
“Wat is dit, Roelfie? Jy moet net praat as ek jou met enigiets kan help.”
“Dis . . . ek en Julia . . . Ons gaan trou, tante.”
Dit het sy nie verwag nie. ’n Paar oomblikke staar sy hom sprakeloos aan. Toe staan sy bleek en styf van die bankie af op. “Nee, dan is dit seker maar reg so, Rudolf. As jy gekies het, het jy gekies. Ek groet dan maar.”
“Tante,” keer hy toe sy sonder meer wegloop, “moenie dit vir my so moeilik maak nie. Tante kan nog altyd by ons bly. Ek sal vir jou ’n woonstelletjie aanbou agter by . . .”
“Dit sal nie nodig wees nie, dankie, Rudolf. Ek het nog my huis op Malmesbury.” Toe gee sy hom nie kans om verder te pleit nie, want sy stap haastig oor die straat na die ontvangskantoor toe.
Toe Moos ’n rukkie later voor suster Jo se huisie stilhou, gee tant Betta ’n diep sug. Hoe bring ’n mens ’n man dit aan die verstand dat die lewensmaat wat hy gekies het nie die regte een vir hom is nie? wonder sy. Moet sy vir hom sê dat Julia twee jaar lank die minnares van ’n getroude man was? En as dit van enigiemand anders gekom het, kon sy dalk nog getwyfel het, maar dit was daardie getroude man se eie suster wat dit vir haar vertel het!
Suster Jo wonder wie dit kan wees toe haar voordeurklokkie lui. Sy verwag elke dag dat die Van Zyls haar sal kom besoek om te hoor hoe ver sy gevorder het met die invul van klein Anton se aannemingsvorms. Sy is dus verbaas, maar tog ook baie verlig om te sien dit is maar net tant Betta wat met ’n groot bos blomme voor die deur staan.
“Môre, sustertjie. Rudolf het vir my gesê ek moet die blomme vir jou bring,” val sy dan ook sommer met die deur in die huis.
“Baie dankie,” sê suster Jo verwonderd omdat juis Rudolf vir haar blomme stuur. “Dis pragtig!”
“Jy moet Roelfie se tuin sien! Ek bedoel, jy moes dit eintlik voor die verwoesting gesien het.”
“Verwoesting?” vra suster Jo met ’n fronsie.
“Mens, ek had mos so ’n ou ongelukkie met die motor. Dwarsdeur die blombeddings gery – twee keer, weet jy! Ek leer mos bestuur.”
“Wil u nie binnekom nie?” vra suster Jo glimlaggend.
Tant Betta kyk op haar horlosie. “Jy wil seker gaan slaap?”
“Ag, ek is nie haastig nie. Ek slaap deesdae nie so waffers nie.”
“Nou maar dan kom ek net ’n rukkie in.”
“Sekerlik. Ek gaan gou vir ons tee maak. Kom binne, dan sit tante solank hier in die sitkamer.”
Maar tant Betta gaan sit toe nie in die sitkamer nie. Toe suster Jo die kombuis binnestap, loop sy agterna. En toe suster Jo haar kom kry, praat tant Betta hier reg agter haar rug vanuit die binnedeur.
“Dis ’n oulike ou plekkie wat jy hier het, sustertjie. Behoort dit aan jou?”
“Nee, ek huur maar net die huisie, tante.”
“En wie hou die tuin in stand? Ek sien jy het nogal ’n groot grasperk om te sny.”
“Ek sny maar self die gras. Maar soos tante sal sien, ek maak nie eintlik fyntuin nie.”
“Ja, dit is groot werk om ’n fyntuin in stand te . . . En dit?”
Toe suster Jo omkyk, voel sy hoe die bloed haar gesig verlaat. Sy kan nie ’n woord uitkry nie, want tant Betta se blik is vasgenael op die foto van Anton teen die muur.
“Dis wraggies ’n foto van Rudolfie,” sê tant Betta verbaas toe sy terselfdertyd dokter Simpson se opmerking onthou van toe hy die foto daar in Rudolf se huis gesien het. “Waar kry jy dan hierdie foto van Rudolf, sustertjie?”
“Dit . . .” Sy is verplig om eers haar keel te skraap, maar haar stem klink steeds vir haar onnatuurlik dik. “Dis nie Rudolf daardie nie, tante. Dis . . . sommer ’n ander foto. Ek bedoel, dis my peetkind.”
“Peetkind?” Tant Betta kyk verbaas om, maar suster Jo staan met haar rug na haar gekeer.
“Ja. Dis . . . e . . . goeie vriende se seuntjie.”
Tant Betta beskik ongelukkig nie oor dokter Simpson se takt nie. “Nooit gesien nie!” sê sy beslis. “Die kind op hierdie foto is Rudolf. In Rudolf se sitkamer hang, jy kan maar sê, die seimste foto! Net die klere op die twee foto’s verskil.”
Suster Jo bly besig by die rak waar die koppies gebêre word. “Tante maak ’n fout. Dit is nie ’n foto van Rudolf nie. As jy mooi kyk, sal jy sien die kind se naam en die datum toe die foto geneem is, staan onderaan geskryf.”
“Anton Jordaan,” lees tant Betta hardop. “Wel, ek weet nie. Jy kan my vertel net wat jy wil, maar die kind op hierdie foto is Rudolf. Elkeen kan sien dis ’n Mulder. Ek kan my nooit so misgis nie. Jy sê jou vriende se van is Jordaan?”
Hoekom het sy tog Anton se van daar laat inskryf? wonder suster Jo onthuts. Sou tant Betta weet dit is ook haar van, of glo sy haar van is Jo? Sy voel ineens totaal verstrik, en dit maak dat sy ’n nog groter blaps begaan.
“Ek dink hulle kon die kind dalk aangeneem het. Ek bedoel, sy van is Jordaan, maar sy ouers se van is iets anders.”
Tant Betta se oë vernou skielik. Iets is nie pluis nie, tref dit haar. Suster Jo bly te lank doenig by die rak en hoekom klink haar antwoorde so onoortuigend?
“Wel, ek weet een ding, die kind op hierdie foto het Mulder-bloed in sy are. En niemand sal my oortuig dat dit nie so is nie.”
“Daardie foto is twee jaar gelede geneem,” sê suster Jo meteens kil. “Hoe kan dit Rudolf wees?”
“Twee jaar gelede? Dan is dit Rudolf se kind,” hou tant Betta hardnekkig vol.
“Tante, ’n mens kry tog iets soos ’n dubbelganger? Mense wat feitlik eenders lyk.”
“Nie só eenders nie, dit laat ek my nie vertel nie. Maar wag, ek sal daardie foto in Rudolf se huis vir jou bring –dan kyk jy self.”
“Hoe hou tante van jou tee?” vra suster Jo om weg te kom van die dinge wat haar so die bewerasie gee. “Sterk of flou?”
“So tussen sterk en flou, dankie, sustertjie,” sê tant Betta. Maar sy merk suster Jo se senuweeagtigheid op en daar bestaan by haar geen twyfel nie dat die jong vrou baie meer weet as wat sy bereid is om te sê. Vir wie skerm sy so? wonder sy. Is dié Anton se ma dalk ’n goeie vriendin van haar? Is die kind werklik aangeneem, of weet suster Jo dalk Rudolf is die pa? Iets is beslis nie pluis nie!
Suster Jo gee haar egter geen kans om weer na die geraamde foto teen die muur te verwys nie. Sy sorg dat hulle oor ander dinge aan die gesels bly. Maar toe tant Betta in die motor klim, beveel sy Moos om dadelik terug te ry Conradie-hospitaal toe. Dubbelganger of eenders lyk se voet! Iewers is daar ’n slang in die gras. Rudolf sal moet uitkom met die waarheid!
Sy loop hom dan ook sommer trompop. “Hoekom het jy my nooit vertel jy het ’n kind nie?”
“Hoe nou?” vra Rudolf onnoselrig.
“Hoekom het jy dit vir my weggesteek dat jy ’n kind het? Toe, uit daarmee!”
“Is tante koorsig?”
“Moenie vir jou so onskuldig hou nie, Rudolf Mulder. Jy weet waarvan ek praat!”
Rudolf kyk vinnig of die ander pasiënte nie dalk die gesprek tussen hom en tant Betta kan hoor nie. “Waar kom tante aan sulke onsin dat ek ’n kind het?”
“Onsin! Ek het die kind met my eie oë gesien! Die foto, bedoel ek.”
“Die foto van mý kind? En waar, as ek mag vra, het tante nogal die foto gesien?”
“In die nagsustertjie se huis.”
“Die nagsustertjie se huis. Watter nagsustertjie?”
“Die swartkoppie met die groen oë, suster Jo, se huis.”
“ ’n Foto van my kind in suster Jo se huis! As dit nou nie die belaglikste ding is wat ek al . . .”
“Die seuntjie se naam is Anton Jordaan en hy is vyf jaar oud. Hy lyk net soos jy. As jy daardie foto van jou in die sitkamer by die huis neem en langs die een van suster Jo plaas, sou ’n mens glo dis presies dieselfde kind.”
Rudolf gee ’n laggie. “Ai, tant Betta, jou verbeelding is darem . . .”
“Dis g’n my verbeelding nie, Rudolf. Moenie maak of ek kinds raak nie. Daardie Anton Jordaan lyk presies net soos jy op daardie ouderdom gelyk het.”
“Wel, ek het geen kind nie.”
“Behoede my! Wil jy vir my vertel jy’t ’n kind gemaak en jy weet nie eens daarvan nie?”
“Praat sagter, tante. Die mense kyk al hier na ons kant toe.”
“O, nou is jy skaam dat jou dinge op die lappe moet kom, nè. Maar vyf, ses jaar gelede was jy nie skaam nie!”
“Vir die laaste maal – ek weet nie waarvan tante praat nie. Ek het geen kind nie. As ek ’n kind gehad het, sou ek daarvan geweet het. Wat sê suster Jo, waar kom sy aan die foto?”
“Volgens haar is dit glo vriende se kind van wie sy die peettante is. Maar toe ek haar invra na die kind se ouers, het sy so aan die hakkel geraak dat sy amper nie kon praat nie. Sy weet toe skielik vir my te vertel hy kan dalk ’n aangenome kind wees, want sy ouers se van is nie Jordaan nie.”
“Wat het sy gesê, wie is die ouers?”
“Nee, dié wou sy nie sê nie. Sy’t aanmekaar begin babbel en oor allerhande ander twak gepraat, duidelik om te keer dat ek verder uitvra.”
“Ai, tante, ek dink jy oordryf. Het jy jou bril opgehad toe jy na die foto gekyk het?”
“Nee, ek het nie, maar selfs sonder die bril kon ek sien daardie kind moet joue wees. My oë is nie só sleg nie.”
“Vat môre tante se bril saam en gaan kyk weer,” raai Rudolf haar aan. “En tot dan moet tante liewer maar vergeet van die storie. Netnou lê dit die hele wêreld vol dat ek ’n kind het van wie ek nie weet nie. Ek is doodseker daar sal ’n logiese verklaring wees vir die hele storie.”
“Hm, jou hele naam sal daarmee heen wees as die koerante van die spulletjie te hore moet kom.”
“Hulle sal net daarvan hoor as tante sulke onsin aan hulle gaan vertel. En dan kan jy daarvan verseker wees ek sal met jou afreken!”
“Gmf, asof ek nie weet wanneer ek my mond moet hou nie,” sê tant Betta vies. “Ek loop nou. Miskien val dit jou by waar jy destyds kwaad gedoen het as ek jou alleen laat.”
Toe sy die saal verlaat, skud Rudolf sy kop ongelowig. Een ding is seker, dink hy: Waar tant Betta in die omtrek is, gebeur daar altyd snaakse dinge. En as daar die slag niks gebeur nie, span sy haar verbeelding in om aan die doodnatuurlikste ding iets geheimsinnigs te verleen. Dit is nou maar hoe sy is, en dit is te betwyfel of sy ooit sal verander.