Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer - Страница 12

9

Оглавление

Suster Jo is in ’n neerslagtige luim toe sy die aand aan diens gaan. Die dinge van die afgelope weke raak te veel vir haar. Darius het al wéér gebel om haar te dreig, Mattewis sit met katgriep, haar wasbak het verstop, en dan is dit nog die ding met tant Betta en klein Anton se foto ook.

Haar grootste vrees is dat tant Betta vir Rudolf daarvan vertel het, want dan gaan hy bepaald onthou van ses jaar gelede se dinge. En hoe gaan sy aan hom verduidelik dat sy ’n aborsie ondergaan het terwyl daar ’n foto van die kind is?

As sy net kon verdwyn, dadelik op die vlug kon slaan met Anton! Maar dit is nie net vir inklim en ry nie. Dit lê nie in haar aard om sommer soos ’n sleg hond van die werk af weg te loop nie. Sy sal darem ’n bedankingsbrief moet inhandig, maar om ’n kennismaand te werk gaan te lank duur. Daar is haar huis ook. Sy kon nog nie ’n huurder kry nie. Haar meubels moet ook verkoop word, maar nie voordat sy nuwe huurders gekry het nie. En dan is daar nog die vrees dat Darius en Sanet haar kan betrap wanneer sy Anton op die plaas gaan haal. As dit moet gebeur, weet sy nie wat sy gaan doen nie.

Oom Thysie is weer die eerste om haar ongelukkigheid raak te sien. “Wat is dit dan tog met jou, sustertjie? Het jy op ’n duwweltjiepad beland, my kind?”

Tot haar ontsteltenis kry sy ’n vogtigheid in die oë oor sy besorgdheid. Maar sy erg haar dadelik daaroor, want sy is baie bewus daarvan dat Rudolf hulle dalk kan hoor. Hy lê verniet so sedig in daardie boek en staar. Sy sal haar kop op ’n blok sit sy aandag is nie by die boek nie, want sy’t hom nog nie een keer sien omblaai vandat sy die saal binnegekom het nie.

“Beland ons almal nie maar die een of ander tyd op ’n duwweltjiepad nie, oom Thysie?” antwoord sy hom met ’n teenvraag.

“Jy wil my nie daarvan vertel nie?”

“Nee wat, oom, dit sal tog niks aan die saak verander nie. Ek glo maar die son sal môre weer skyn. Hoe gaan dit met oom?”

“Goed dankie, sustertjie. Dis net die ou asempie wat so kort is.”

“Het oom pyn?”

“Nie so erg dat dit ondraaglik is nie, kindjie. Oom hou maar uit. Dit sal darem seker nie nou meer lank wees voordat die Here sy engel stuur om my te kom haal nie.”

Rudolf se boek val amper uit sy hand toe oom Thysie so gemaklik van die dood praat. ’n Oomblik wonder hy wat van hóm sou geword het as hy die motorongeluk nie oorleef het nie. Dit sou gewis nie ’n engel gewees het wat hóm sou kom haal het nie. Maar dan kom staan suster Jo by die voetenent van sy bed en ook hy sien dadelik raak dat sy moeg en tam lyk.

“Het u ’n goeie dag gehad, meneer Mulder?” vra sy haar gebruiklike vraag, maar ooglopend sonder werklike belangstelling. Sy kyk nie eens in sy rigting nie.

“Hoekom vra jy as jy nie werklik wil weet nie?”

Haar groen oë flits verbaas. “Ekskuus?”

“Jy het reg gehoor. Hoekom wil jy weet of ek ’n goeie dag gehad het? Jy stel tog nie werklik belang om te weet nie.”

Haar mond gaan oop, en weer toe. Sy staar hom eers ’n lang ruk in stilte aan. Toe laat sak sy haar kop en vroetel kamtig met die verslae by sy bed se voetenent. “Ek stel wel belang, meneer Mulder, want ek moet vannag ’n verslag oor u skryf. As u oor iets ongelukkig voel, moet ek dit daarin meld.”

“Jy kan daar skryf ek voel bitter ongelukkig oor ek gestremd is, want as ek nie was nie . . .” Hy byt vinnig sy tong vas en wonder wat hom besiel om sulke kaf kwyt te raak. Boonop raak sy wange gloeiend warm toe hy besef wat hy so byna kwytgeraak het – dat hy haar graag van nader sou wou leer ken.

“Gaan voort, meneer Mulder?”

“Nee, los dit maar. Vertel my liewer van die foto wat tant Betta daar in jou huis gesien het,” sê hy, onbedag daarop dat sy vraag daartoe sou lei dat sy gaan lyk soos iemand wat elke oomblik kan flou val!

“Jo,” sê hy onrustig toe hy sien hoe sy met ’n bleek gesig begin waggel. “Jo, wat skort? Wag, ek druk my klokkie dat die verpleegsters . . .”

“Nee, los,” sê sy vinnig. “Ek voel . . . reg. Dit was sommer ’n duiseligheid wat my oorval het.”

“Kom sit eers hier op die stoel langs die bed. Jy lyk of jy enige tyd kan omkantel.”

“Los my! Ek sê jou dan ek makeer niks nie!”

Rudolf skud sy kop. “Jy lyk of jy ’n spook gesien het, maar daar slaan die koppigheid al weer deur. Wat de duiwel is dit met jou?”

“Los haar, Rudolf,” praat oom Thysie skielik hier van langsaan. “Sy het begrip en simpatie nodig. Moenie nog meer distels op haar duwweltjiepad saai nie.”

“Maar om begrip en simpatie te betoon, moet ek tog weet wat skort, oom Thysie. En sy’s te koppig om vir my te sê wat aan die gang is. Elkeen in hierdie saal kan oom vertel dat suster Jo my nie voor haar oë kan verdra nie, maar ek mag nie die rede weet nie. Hoekom? Wat het ek haar aangedoen?”

Suster Jo los ineens ’n snakkie. En toe spuug haar groen oë weer vlamme in syne. “Jy vra nog! As jy maar weet wat jy my aangedoen het, meneer Mulder! Maar blykbaar is jou geheue net so stompsinnig soos jou gewete!”

En eers tóé dring dit tot haar deur wat sy in haar drif vir hom sê.

Sy mond gaap verbaas oop. “Waarvan praat jy?” Maar toe hy dié vraag vra, trek suster Jo al amper by die saal se deur uit. Sy loop nie, sy hardloop as ’t ware deur die saal.

“Sy is kwaad vir jou?” sê-vra oom Thysie hier van langsaan.

Rudolf draai sy kop verdwaas terug van die deur waardeur sy verdwyn het om na oom Thysie te kyk. “Ja, sy is kwaad vir my. Maar waaroor weet ek nie. Ek weet waaragtig nie, oom Thysie!”

“Het vir my geklink of dit iets is wat jy ’n tydjie terug moes gedoen het. Dié dat sy gepraat het van jou geheue en gewete.”

Rudolf antwoord nie, want hy het nie vir hom ’n antwoord nie. Maar sy verstand werk oortyd. Hy onthou weer van die keer toe sy iets kwytgeraak het van ses jaar gelede. Toe probeer hy om ’n legkaart in sy geheue te pak met al die woorde wat sy kwytgeraak het. Dalk maak iets sin . . .Dat sy sy rykdom teen hom hou, beteken dalk iets. Hy dink terug aan haar woorde: Julle ryk mense gee my ’n pyn . . . Natuurlik het ek al my sprankel verloor. Ek het dit ses jaar gelede al verloor toe jy . . . Vergeet wat ek gesê het . . . Meneer Mulder, jy’t baie erger dinge as die pes . . . Vriende en mans is eenders. Hulle is verraaiers en . . . los my arm, anders skree ek . . . Ekskuus, ek het nie bedoel om jou regtig te klap nie. Dis sommer ’n ou grappie.

Hy doen sy bes om te onthou of hy ses jaar gelede enig­iemand op die een of ander manier aanstoot kon gegee het. Maar hy was daardie tyd oorsee. En terwyl hy daar was, het hy net die geselskap van ’n paar wynboere opgesoek. Hy’t nie eens een keer ’n jong meisie uitgeneem of enige Suid-Afrikaner daar raakgeloop nie. Hoekom het sy gesê vriende en mans is verraaiers? Dit het geklink of sy hóm van verraad beskuldig, maar hy ken haar dan skaars. Tog het sy so pas ook daarop gesinspeel dat hy haar iets aangedoen het! Gits, sou daar dalk regtig iets met sy geheue skeel?

Dit is meteens vir Rudolf ’n ontstellende gedagte, want dit is nie buite die kwessie nie. Tot vandag toe nog kan hy nie onthou wat die ongeluk voorafgegaan het nie. Hy onthou net van Julia se mondigwordingspartytjie. En hy onthou vaagweg dat hulle by sy huis weggery het, maar hy kan nie eens onthou dat hulle op pad Muizenberg toe was nie. Hy was stomverbaas toe Julia vir hom sê hy het haar pas voor die ongeluk gevra om met hom te trou. Hy onthou dít nie eens nie.

Maar ses jaar gelede het sy geheue tog niks makeer nie. Hy onthou baie dinge wat ses jaar gelede gebeur het. Of het daar dalk ses jaar gelede iets gebeur wat die ongeluk nou eers uit sy geheue gewis het? Het hy dalk wel daardie tyd vir suster Jo geken? Dalk ’n verhouding met haar gehad en ’n kind . . .

Meteens is dit of sy verstand botstil gaan staan. Hy kry om die beurt warm en koud. Sy hele menswees kom in beroering en hy ervaar so ’n warboel van gedagtes en emosies dat hy hom gejaag in sy rolstoel swaai om vars lug buite te gaan soek.

Maar ook daar vertoef hy nie lank nie, want dit is of die maan en sterre hom uittartend toelag.

Later die aand toe hy suster Jo in die saal gewaar, wink hy haar nader. “Ons twee moet gesels,” sê hy vir haar.

“Waaroor?” Die agterdog staan haar gesig vol geskryf.

“Oor jou probleme.”

“Mý probleme? Wat het mý probleme met u te doen, meneer Mulder?”

Hy kyk haar lank en deurdringend aan totdat sy blosend wegkyk. “Ek dink tog ons het iets om oor te praat.”

“Niks wat jóú raak nie! Hou jy en jou tante net jul neuse uit my lewe! Ek vra niks meer van julle nie!”

Hy kyk haar kopskuddend agterna toe sy vinnig die saal verlaat. As hy sy sonde nie ontsien nie, trek hy haar sommer oor sy skoot, dink hy enersyds teleurgesteld omdat sy so oorsensitief is, maar ook oor die bedekte beskuldigings wat sy telkens na hom slinger, en wat hy nou vir seker weet onverdiend is.

Hy kry haar nie weer naby sy bed nie. En toe hy hom met ’n groot gesukkel en sonder hulp in sy rolstoel swaai om dienskantoor toe te ry, is sy nie alleen nie. Dokter Simpson sit by haar in die kantoor. Albei lyk verbaas om hom in die deur te sien, maar dit is sy wat hom aanspreek.

“Wat doen u hier, meneer Mulder? Hoekom is u nie in die bed nie?”

“Ek wou met jou kom praat het, maar . . .”

“Ons twee, meneer Mulder, het net mooi niks vir mekaar te sê nie. En soos u kan sien, is ek en dokter Simpson . . .”

“Ja, toe maar, jy hoef nie te verduidelik nie, suster Jo,” val hy haar kortaf in die rede. “Ek weet wanneer ek onwelkom is!” Toe swaai hy onverskillig sy rolstoel om en haas hom terug saal toe. En of hy dit wil erken of nie, hy weet ineens dit is nie soseer haar afjak nie as dokter Simpson se teenwoordigheid daar in die kantoor wat hom so ontstel.

Suster Jo dink baie verskonings uit waarom sy nie nodig het om weer die mansaal binne te gaan nie. Maar toe ontdek sy dat ’n botteltjie slaappille van die trollie naby die deur af verdwyn het en die verpleegsters weet nie een wat daarvan kon geword het nie. Die enigste moontlikheid is dat Rudolf dit moes geneem het toe hy daar in die deur in sy rolstoel kom sit het.

Sy besef ook maar alte goed die implikasies daarvan! Sy is die een wat daarvoor verantwoordelik is dat die pille nie in verkeerde hande beland nie. As so iets gebeur, sal sy nie net aangekla word van nalatigheid en moontlik geskors of afbetaal word nie, sy sal ook saam met haar gewete moet leef indien hy ’n oordosis neem! Daarom benader sy Rudolf nie juis baie vriendelik nie.

Hy vryf verdwaas oor sy oë toe hy hardhandig wakker geskud word. En dit duur ’n hele ruk voordat dit by hom insink waarvan hy verdink word.

“Pille gevat van die medisynetrollie in die kantoor af? Maar jy speel seker?”

“Speel! Nee, meneer Mulder, ek was nog nooit in my lewe so ernstig soos nou nie. U was die enigste persoon wat daar in die kantoor was buiten myself en die verpleeg­sters.”

“En wat van dokter Simpson?”

“Ja, en dokter Simpson. Maar hý sou nie die pille gesteel het nie.”

“So, jy beweer ék het die pille gesteel!”

“Of geneem. Feit bly, die pille is nie meer waar dit was nie, en u was die enigste wat dit kon . . . geneem het.”

“Wel, ek het nie. En as jy my nie wil glo nie, moet jy my maar deursoek.”

En teen sy verwagting in doen sy dit waaragtig. Sy pluk sommer die laai van sy bedkassie oop om te begin soek.

“En dít?”

’n Oomblik skrik hy so groot toe sy ’n handvol pille daaruit opdiep dat hy sy oë toeknyp. Hoe kon hy vergeet het! Daar is ’n klomp pille in sy laai. Pille wat hy bymekaar gemaak het toe hy dit vroeër oorweeg het om ’n einde aan sy lewe te maak. Hy’t skoon daarvan vergeet!

“Suster Jo!” roep hy haar agterna toe sy sonder ’n woord van sy bed af wegstap, maar sy hou haar doof.

Sy hou haar doof omdat die teleurstelling binne-in haar so groot is. Soveel pille in een mens se laai kan net een ding beteken . . . Dit het sy nie van Rudolf Mulder verwag nie. Sy’t gedink hy is ’n vegter. Rebels, opstandig en soms onverskoonbaar ongepoets, ja. Maar sy’t nooit kon dink hy is ’n lafaard nie!

By nadere ondersoek blyk dit dat die pille uit sy laai nie dieselfde soort is as dié van die botteltjie wat weggeraak het nie. Dit is alles doodgewone hoofpynpille wat ’n mens by enige kettingwinkel kan koop. Maar sy sien nie kans om hom ’n tweede keer te konfronteer nie. Hy sal tog nie erken dat hy dit geneem het nie, glo sy. En teen hierdie tyd sal hy dit so goed versteek het dat niemand dit sal kry nie. Dit maak ook nie saak dat die pille verskil nie – feit bly, hy was in besit van ’n ongeoorloofde aantal pille. Hy sal haar nooit as te nimmer daarvan kan oortuig dat hy dit nie met ’n doel daar in sy kassie gehad het nie!

Toe die dagpersoneel opdaag, voel suster Jo verplig om die saak aan te meld. Die dagsuster skud haar kop ongelowig. “Ek kan nie dink dat meneer Mulder sulke planne het nie. Hy is dan so anders vandat hy tot inkeer gekom het. Maar ons sal hom dophou.”

Suster Jo verlaat die saal met dieselfde neerslagtige gevoel van die vorige aand toe dit tyd is om van diens te gaan. Sy verstaan haarself nie heeltemal nie. Eintlik behoort sy haar te verlekker in die kraak in Rudolf Mulder se karakter. Na regte moes sy so iets te wagte gewees het. Sy moes kon dink hy sou nie veel verstandiger geraak het in ses jaar nie. Tog kan sy dit nie regkry om haar in sy swakheid te verlekker nie. Haar teleurstelling en woede is groter as haar veragting. Veral die woede. Woede? wonder sy skielik. Hoekom ís sy so kwaad vir hom?

Omdat hy haar in die moeilikheid gedompel het, natuurlik, maak sy haarself wys. As hy daardie pille sluk, gaan sy gewis afbetaal word! Sy steek ineens in haar spore vas. Eintlik sal dit haar mos pas as die superintendent haar vra om maar sommer dadelik te gaan . . . sy wil dan wegvlug. Maar dié gedagte bring geen verligting nie. Sy is steeds kwaad vir Rudolf Mulder. Smoorkwaad omdat hy so swak is dat hy pille wil staan en drink omdat hy te lamlendig is om sy gestremde toestand te aanvaar. Dit is so onnodig. Hy sal mos nie heeltemal onproduktief deur die lewe hoef te gaan nie . . .

Haar gedagtes breek stomp af toe hy plotseling in sy rolstoel voor haar opdoem.

“Kom, nou gaan ons twee gesels!”

Daar is so ’n onverbiddelike uitdrukking op sy gesig dat sy half onwillekeurig toelaat dat hy haar na die stil hoekie onder die bome du.

“Sit daar op die bank!”

Sy gehoorsaam willoos.

“Om mee te begin, ek het nie daardie pille gesteel waarvan jy my verdink nie. En die pille wat jy in my laai gekry het, dit was maar . . . sommer.”

Sy aarseling skok haar verstand nugter. “So, dit was maar sommer. Om sommer te wat, meneer Mulder?”

“Kyk, suster Jo, miskien was jy nog nooit in ’n posisie waarin jy nodig gehad het om te wanhoop nie, maar . . .”

“Asof jy kan praat van wanhoop!” sis sy hom meteens onbeheers toe. “Jy wat alles het wat ’n mens kan begeer! Geld waarmee jy ’n hele toekoms kan koop as dit nie anders kan nie. Nee, meneer Mulder, jy weet nie wat wanhoop is nie. Wanhoop is wanneer die mense wat jy vertrou jou in die rug steek! Wanneer . . .” Sy swyg plotseling toe sy agterkom haar vinnige humeur het haar op die punt om hom ook te begin beskuldig oor dit wat hy haar ses jaar gelede aangedoen het.

“Wanneer die man wat jou ses jaar gelede ’n groot onreg aangedoen het, skielik maak of hy jou nie ken nie. Is dit wat jy wou sê?” waag hy ’n skoot in die donker. En dit blyk ’n voltreffer te wees.

“Ek gee hoegenaamd nie om dat jy maak of jy my nie ken nie, meneer Mulder. Om die waarheid te sê, dit pas my uitstekend!”

“En die kind?” waag hy ’n tweede skoot in die donker.

“Die kind? Watter kind? Ek het mos ’n aborsie ondergaan.”

“Het jy?”

Haar blik ontwyk syne en sy soek wild na ’n vasklouplek iewers teen die wit muur van saal B4. “Natuurlik het ek.”

“Jy is ’n swak leuenaar, suster Jo. Jou ontwykende blik en hees stem verraai jou. Waar is die . . . ons kind?”

Haar blik kom rus ineens vas in syne. “Hy is niks van jou nie, Rudolf Mulder. Vir hom is sy pa dood. Morsdood, verstaan jy? So dood as wat jy en jou ouers hom wou gehad het. En ek dink nie ons twee het enigiets verder vir mekaar te sê nie.”

Maar toe sy opstaan, skiet sy hand uit en hy dwing haar aan die arm om weer te sit.

“Voordat jy so haastig is om verskoon te word, verwag ek dat jy my om verskoning sal vra.”

“Verskoning waaroor?” wil sy ergerlik weet.

“Omdat jy my daarvan verdink dat ek pille gesteel het.” Dit is bloot iets wat hy uit die lug gryp om haar langer daar te hou sodat hy sy gedagtes kan orden, want haar onverwagse bekentenis van die kind het hom onverhoeds betrap. Hy het net ’n raaiskoot gewaag en nie verwag dat dit tot ’n bekentenis sou lei nie. Die waarheid laat hom sidder.

“Jy sal lank wag vir ’n verskoning van mý, meneer Mulder. Nog langer as wat ek gewag het op ’n verskoning van jou gedrag destyds.”

“Baie mans het meisies al in die steek gelaat,” opper hy versigtig.

“Ja, baie het. Maar almal van hulle is nie so lafhartig om agter hul ouers se omkoopgeld te gaan skuil om van die meisie en kind ontslae te raak nie.”

“Ouers se omkoopgeld?” lok hy haar verder uit.

“Wat help hierdie redenasie ons tog? Jou ouers het my met die geld vir ’n aborsie in die stad gaan aflaai en ek het uit jul lewe verdwyn. Van my kant het ek dus woord gehou dat ek nooit, maar nooit weer met ’n Mulder kontak sou maak nie. Dis jý wat jou verskyning hier in die hospitaal kom maak en alles bebodder het!”

“Sê my net een ding,” vra Rudolf ernstig. “Het my ouers jou regtig geld gegee om ’n aborsie te ondergaan?”

“Moenie maak asof jy dit nie weet nie! Ek sal nie een enkele oomblik glo dat jy nie kop in een mus was met hul besluitneming oor my en my kind nie!”

“Wat is die outjie se naam?”

“Wat traak dit jou wat sy naam is?”

“Toe maar, ek weet sy naam is Anton. Is hy gesond?”

“Los my kind uit! Jy’t niks met hom uit te waai nie!”

“Jy haat my verskriklik, nè? Maar ek dink . . . ek verstaan. Net een vraag nog . . .”

“Wat?” wil sy weet, haar mooi groen oë die ene agterdog in haar bleek gesiggie.

“Gaan jy met dokter Simpson trou?”

“Trou! Met dokter Simpson? Waar kom jy aan so iets?”

Hy voel plotseling lighoofdig van verligting. In hom ontstaan daar, soos in sy droom, ’n onweerstaanbare drang om sy arms om haar te sit, maar hierdie keer weet hy waarom hy so ’n drang koester. Dit is omdat hy, ondanks haar verlede, vir haar omgee. Hy het ’n gevoel vir haar wat hy nog nooit vantevore ondervind het nie. ’n Gevoel waaraan hy nie ’n naam durf gee nie.

“Ek het gedink dat, wel, dat julle ’n verhouding het.”

“My private lewe gaan jou in elk geval nie aan nie. En nou moet ek gaan. Tot siens, meneer Mulder.”

Hy los haar hierdie keer dat sy loop, want sy gedagtes en emosies is van so ’n aard dat hy nie sal weet wanneer hy wys of onwys optree nie. Hy sal self moet wag op kalmte voordat hy verdere besluite kan neem.

In die eerste plek is daar Julia. Hy het haar so half en half laat verstaan dat hulle moet voortgaan met die troue as die saak vir haar van soveel erns is. Nou sal hy weer vir haar moet sê om te vergeet van ’n trouery. Hy sal in elk geval nie met haar kan trou na hierdie ontdekking dat hy Jo . . . Ja, laat hy dit maar erken, liefgekry het nie. Maar hoe hy Jo se vertroue moet wen, weet hy nie. Sy sal glo hy is verwaand as hy sy gevoel vir haar laat deurskemer. En nugter weet wat sy sal doen as sy moet agterkom hy is nie die persoon wie sy dink hy is nie. Sy sal hom sekerlik wil vermorsel!

Elza Rademeyer Omnibus 6

Подняться наверх