Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer - Страница 6

3

Оглавление

Dit is of alles in saal B4 ’n paar oomblikke lank tot stilstand kom na Rudolf se wanhoopskreet. Selfs die getjilp van die dagbrekertjie buite die saalvenster waar oom Thysie lê, het stil geraak.

Oom Hansie Boonzaaier verbreek eerste die stilte. “Wie gil so nes ’n maervark?” vra hy.

Oom Thysie antwoord hom. “Dit was daardie man in die private vertrek. Hy het voor ’n duwweltjiepad te staan gekom. Ons moet vir hom bid.”

Bossie en Mynhard kyk stil na mekaar voordat hulle aarselend voortgaan om die laaste takies af te handel sodat die nagpersoneel van diens kan gaan.

Suster Jo stap die dienskantoor binne om Rudolf se tante te gaan bel. Haar stem is effens hees toe sy vir tant Betta sê Rudolf het sy bewussyn herwin en die dokter het hom ingelig omtrent sy gebreekte rug. Sy is koorsagtig van haas om weg te kom van die hospitaal af, weg van die pyn en lyding, weg van die man wie se kind sy in die lewe gebring het!

’n Rukkie later glip haar motortjie dan ook ietwat onverskillig deur die uitgang van die hospitaaltuine om met die verkeersvloei na Pinelands saam te smelt. Rudolf se kreet weergalm steeds in haar ore. Dit is of sy nie helder kan dink nie. Een ding is seker – hy mag nooit weet van klein Anton nie. Hy mag nooit weet dat sy opname in Conradie-hospitaal haar enigsins raak nie. Anton glo sy pa is dood. Vir haar bestaan hy ook nie. Hy is maar net nóg ’n pasiënt.

Haar kat kom haar bly tegemoet toe sy in die oprit van haar kothuisie stilhou, maar suster Jo sien hom skaars raak. Haar bewegings is stram en traag toe sy die huis oopsluit en binnegaan. Voor die vergroting van Anton teen die sitkamermuur steek sy vas. Haar blik gly soekend oor haar kind se laggende gesiggie. Oor die pikswart haartjies, lewendige donker ogies en laggende mond. Dit verstar op die kuiltjie in sy ken. Gaan hy net soos sy pa lyk wanneer hy groot is?

Die kat kom skuur teen haar bene. Sy tel hom op en druk haar wang teen sy sagte warm pels. “Ai, Mattewis, hoekom is die lewe so ingewikkeld? Hoekom moes my pad weer met dié van Rudolf Mulder kruis? Was daardie één keer dan nie genoeg nie?”

Sy sug liggies toe sy die kat neersit en agter hom aanloop kombuis toe om vir hom sy melk te gaan gee. Genadiglik hoef sy nie vanaand terug te keer hospitaal toe nie. ’n Koorsagtige haas neem van haar besit. Sy pak haar tasse vinnig in die motor. En nadat sy Mattewis se kos by die buurvrou gelaat het, ry sy vinnig uit die stad uit.

Eers toe sy Worcester nader, haal sy meer verlig asem. Nou moet sy net vir Anton op die plaas by sy peetouers gaan oplaai, dan sal sy nog beter voel.

Sy wil nie aan haar verlede dink nie, maar dit doem onwillekeurig in haar gedagtes op. Sy was in haar matriekjaar toe haar weduweemoeder onverwags aan ’n hartaanval oorlede is. Skielik was sy wees, en daar was nie geld om verder te studeer nie. Die skoolhoof het vir haar ’n uitweg gebied deur haar in kontak te bring met die skatryk Mulder-familie van Kaapstad. Dié goeie kennisse van hom het nie ’n dogter gehad nie en sou vir haar studie betaal as hulle haar soos ’n eie dogter in die huis kon neem.

Aanvanklik was sy baie ingenome met die toedrag van sake, onthou suster Jo. Dit was lekker om skielik so ’n weeldelewe te kon lei. Sy het haar bes gedoen met haar skoolwerk uit dankbaarheid vir hul bystand. Die Mulders se seun het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Daar was ook ’n foto van hom in die huis. En natuurlik kon sy sien dat hy aantreklik was, maar dit het haar nie geraak nie. Tot hy een Saterdagmiddag onverwags sy opwagting by die huis kom maak het terwyl sy alleen daar was.

Sy en ’n skoolmaat het pas ’n stel tennis agter die rug gehad. Van moegheid het sy op die bed gaan lê en aan die slaap geraak. ’n Vreemde geluid het haar laat wakker skrik. Toe sy haar oë oopmaak, het hy in haar kamerdeur gestaan, ongetwyfeld die aantreklikste man wat haar oë nog aanskou het! Sy het vervaard regop gebeur en haar kort tennisrokkie probeer langer rek.

Hy het gelag en nader gekom. “Gits, as ek geweet het my aanstaande stiefsussie is so mooi, het ek lankal kom kuier!”

Sy het skaam en verleë geglimlag. “Jy is Rudolf?”

“Dis reg, en jy, neem ek aan, is Jolene Jordaan?”

Hy het ewe vrypostig by haar op die bed kom plaasneem toe sy haar kop knik, en skielik het haar kop wolke toe gesweef.

Die aand, toe sy ouers tuiskom, was die atmosfeer gespanne. Sy het gou agtergekom waarom dit so was. Rudolf se ouers was bekommerd omdat hy soveel aandag aan haar gegee het.

“Sy is benede ons stand,” het sy sy ma hoor sê toe hulle gedink het sy kan hulle nie hoor nie. “Jy moet onthou haar pa het maar op die paaie gewerk. En na sy dood moes hulle van haar ma se ou pensioengeldjie leef.”

Sy het stil omgedraai en teruggeloop kamer toe. O, sy het teen daardie tyd geweet Rudolf se ouers is erg snobisties, maar sy’t nie gedink dit is só erg nie!

Van daardie oomblik af het sy Rudolf probeer vermy. Maar dit was asof haar afsydigheid hom net aangespoor het om haar al meer op te soek. Hy het tydig en ontydig huis toe gekom. En toe die Desembervakansie aanbreek, het hy moedswillig volgehou om haar met aandag te oorlaai. Aan sy ouers se afkeurende houding het hy hom min gesteur.

Op ’n dag het hy haar in die skemering van die trap vasgedruk en gesoen! Sy onthou nou nog daardie soen. Dit was die eerste keer dat ’n man haar só gesoen het. Dit het gevoel asof die hemelruim se sterre om haar neergetuimel het. Vir daardie aand het sy ouers ’n partytjie gereël gehad en alles moes net vlot verloop. Eers later het sy vasgestel dit was omdat daar ’n ministersdogter onder die genooide gaste was . . . spesiaal na die partytjie genooi sodat Rudolf met haar kon kennis maak.

Sy was verskriklik jaloers, maar sy het nie haar gevoelens getoon nie. Ondanks haar afsydigheid het hy onophoudelik met haar bly dans – totdat sy ’n hoofpyn geveins en kamer toe gevlug het omdat sy sy ma se kil blik en die misnoegde keep van haar mondhoeke nie langer kon verduur nie.

Die volgende aand is hulle na die minister se huis vir ’n partytjie genooi. Maar sy het gevra om verskoon te word en het die verligting op sy ouers se gesigte gesien. Daardie aand van die ministerspartytjie, terwyl sy haar hart gelê en uitsnik het in die kamer, het Rudolf onverwags teruggekom.

“ ’n Mens sal sweer ek is nie oud genoeg om te besluit met wie ek mag uitgaan nie,” het hy bars gesê en by haar op die bed kom sit.

“Hulle gaan jou kom soek,” het sy benoud gesê. “En die duiwel gaan los wees as hulle jou hier by my kry.”

Hy’t gegrinnik. “Toe maar, ek is nie so dom nie. Sien, Alta is saam met my daar weg. En sy sal weer saam met my teruggaan partytjie toe gaan . . . later.”

“O, waar is sy dan nou?”

“By die man wat sy liefhet. Iemand benede haar stand.”

Sy het aan die giggel geraak. Hy ook. En toe het dit skielik stil geword tussen hulle. Toe hy sy arms na haar uitsteek, het sy gevoel hoe haar weerstand verkrummel en ’n desperate poging aangewend om hom te keer.

“Moenie, Rudolf. Moenie my soen nie. Ek is bang.”

“Moenie bang wees nie,” het hy skor in haar nek gefluister. “Ek sal jou nooit seermaak nie, daarvoor het ek jou te lief.”

Toe hy dit vir haar sê, kon sy nie meer weerstand bied nie. Sy het haar willoos laat meesleur deur sy hartstog.

Eers nadat alles verby was, wou sy beangs weet: “Wat gaan gebeur as ek swanger raak?”

“Dit gebeur nie so maklik nie,” het hy haar vrees probeer wegpraat. “Nie sommer van een enkele keer nie.”

Sy het hom geglo, want hy was soveel ouer en wyser as sy. Maar na daardie voorval het sy bly keer dat dinge handuit ruk en sy belangstelling in haar het gou begin verflou. Hy het haar nie meer so knaend opgesoek nie. En kort voor lank het hy en Alta saam begin tennis speel, saam gaan skaats, saam gaan fliek . . .

Sy het aanvaar dat sy uitgedien was. Nogtans was die vernedering baie groot. Dit was nie lekker om hom en Alta saam te sien nie. En die volgende jaar op universiteit het sy agtergekom hoe gewild hy regtig onder die meisies op die kampus was. As eerstejaarstudentjie kon sy nog minder op sy belangstelling aanspraak maak as tuis. En toe kom die naarheid, vind sy uit sy is swanger!

Hy wou dit aanvanklik nie glo nie. Later het hy ontken dat dit sy kind kan wees. Uit skone desperaatheid het sy ’n brief aan sy ouers geskryf – met rampspoedige gevolge.

Hulle het haar by die universiteit kom oplaai, al haar besittings reeds in tasse gepak, en toe het hulle haar by ’n derderangse losieshuis in een van die minder gegoede woonbuurte gaan aflaai. Sy pa het haar ’n stewige tjek en die adres van iemand wat aborsies uitvoer in die hand gestop en haar gewaarsku om nooit weer haar voete naby ’n Mulder te sit nie.

Suster Jo gee ’n suggie en verminder snelheid om in te draai by die afdraaipad na die plaas. Dit was weer haar destydse skoolhoof wat tot haar redding gekom het. Hy het ’n kinderlose egpaar geken. Gegoede mense wat bereid was om haar kind se peetouers te wees. En tot vandag toe, dink suster Jo, was sy nog nooit spyt dat sy Darius en Sanet van Zyl leer ken het nie.

Hulle het haar deur alles bygestaan. En na Anton se geboorte was dit vanselfsprekend dat sy die kind by hulle sou laat terwyl sy met ’n verplegingsloopbaan begin het. Hulle is ook die enigste mense wat weet wie die vader van haar seuntjie is. In ’n oomblik van swakheid het sy eendag teenoor Sanet gebieg. Maar hulle respekteer haar wens dat niemand anders dit moet weet nie, allermins Rudolf Mulder self.

Toe die plaasopstal in sig kom, roer ’n opgewondenheid in haar. Dit gaan die eerste keer in ’n lang tyd wees dat sy so lank haar kind by haar gaan hê. Sy kom kuier weliswaar gereeld hier op die plaas wanneer sy haar vry nagte het, maar om hom ’n hele maand net vir haarself te hê gaan wonderlik wees!

Dit is egter asof daar ’n stroefheid tussen haar en die Van Zyl-egpaar is. Sou dit wees omdat hulle ’n hele maand sonder Anton sal moet klaarkom?

Sy kom later agter die rede is iets heeltemal anders. Hulle het oor die radionuus gehoor van Rudolf Mulder se ongeluk . . .

“Ja, ek weet daarvan. Hy is gisteraand opgeneem in die saal waar ek werk.”

“En jy sê dit nou eers vir ons!” laat Darius verwytend hoor.

“Wel, ons het nog nie juis tyd gehad om daaroor te praat nie, het ons? Maar wat maak dit in elk geval saak? Julle weet hoe voel ek teenoor hom. Van my sal hy nooit hoor van Anton se bestaan nie. Sover dit hom aangaan, het ek destyds die aborsie ondergaan en klaar. Ek sal liewer sterf as om teenoor hom te beken dat ek dit nie ondergaan het nie!”

Ondanks haar beslistheid lyk dit nie of Darius en Sanet heeltemal gerusgestel voel toe sy en Anton oplaas die lang pad Durban toe aanpak nie.

Twee weke lank kry sy dit reg om heerlik vakansie te hou. Rudolf met sy gebreekte rug en die Kaap is daar ver. Sy geniet elke oomblik saam met haar kind. Soms raak sy self amper weer net so verspot soos ’n kind wanneer sy saam met hom in die branders baljaar of in die pretpark speel.

Maar van die derde week af begin sy dink aan die Kaap, en toe die laaste week aanbreek, kry sy ’n beklemmende gevoel. Soms oortuig sy haarself dat haar vrees oorbodig is. Rudolf kan haar tog niks aandoen nie. As hy haar herken en uitvra oor daardie tyd, sal sy maar net sê sy hét destyds ’n aborsie ondergaan en klaar.

Maar soms is sy bang sy kan nie oortuigend genoeg jok nie. Wat gaan hy doen as hy op ’n manier vasstel daar is wel ’n kind? Wie sê hy sal nie sy seun wil opeis nie? Dan het hy ’n erfgenaam vir al sy miljoene. Ondervinding het haar al geleer ryk mense kan wêrelde met hul geld versit. Sy sal geen kans teen hom hê nie as hy sy seun wil hê en dit loop op ’n hofsaak uit nie.

Rudolf Mulder kan aanvanklik nie glo sy onderlyf sal die res van sy lewe verlam wees nie. Hy wil dit nie glo nie. Aan almal wat met hom in aanraking kom, vertel hy die dokters en x-straalmasjien het ’n fout begaan.

Hy vertel dit ook vir Julia en tant Betta. Dit lyk of Julia hom glo, maar tant Betta kan die skeptiese uitdrukking op haar gesig nie wegsteek nie.

’n Week na sy opname begin hy self twyfel. Maar hy mág nie twyfel nie! Hy weier om enige verdere besoekers te ontvang. Dit is hulle wat hom laat twyfel, sê hy vir homself. Dit is die besoekers, dokters, verpleegsters en terapeute, almal doemprofete. Hy gaan almal nog verkeerd bewys!

In die tweede week na sy opname raak sy vertwyfeling al erger. As dit regtig so is, wat dan? En hoekom? Hy raak opstandig en humeurig. Die verpleegsters begin draaie om sy kamer loop, want as hy hulle nie verskree nie, weier hy om die noodsaaklike pille te drink wat sy liggaamsfunksies reguleer, of hy wil weet waar hy ’n dokter kan vind wat die lewe in sy onderlyf kan terugplaas.

Net een verpleegster vermy hom nie. Dit is die onaantreklike enetjie met die rooi hare, baie sproete en breë mond. Bossie dink niks daarvan om beenswaaiend bo-op sy bed te kom sit vir ’n geselsie, of om hom tereg te wys as hy sy humeur nie kan beteuel nie.

“Jy sal in jou spoor moet trap as suster Jo eers terug is,” lig sy hom een aand in. “Sy sal nie jou fiemies verduur nie.”

Dit is nie die eerste keer dat hy van suster Jo hoor nie! Mynhard en die dagsuster het hom ook al gewaarsku. “Klink my sy is ’n regte tiran?” sê-vra hy dus. “Hoe lyk sy?”

“Wel . . . e . . . hoe sal ek haar nou beskryf?” raak Bossie stuitig. “Mooi is sy beslis nie. Oorgewig, ’n haakneus, oë wat soos ’n valk s’n altyd op die loer bly, en so kwaai soos die duiwel!”

Rudolf besef sy oordryf dalk, maar in sy gedagtes bou hy vir homself ’n prentjie van die suster op. Vet, ongeskik, altyd op die loer om te sien of sy nie iemand met iets verkeerds kan betrap nie, met ’n tong so skerp soos ’n skeermeslemmetjie. “Is sy ’n oujongnooi?” wil hy weet.

“Ja, ’n tipiese oujongnooi. Vol fieterjasies. En ek hoor sy hou glo twee parakiete, ’n marmotjie, drie katte en twee keffende brakke in haar woonstel aan.”

“Goeiste, en dan wil sy ander leer van higiëne! Kyk, sy moet my net uitlos. As sy met my bodder, gaan ek haar op haar plek sit.”

Soms wil Rudolf moedeloos raak, selfs glo hy is verlam. Maar hy mag nie so glo nie. Hy móét bly veg. Iewers in die wêreld moet daar ’n wonderdokter wees wat iets vir hom kan doen. Hy kan nie die res van sy lewe in ’n rolstoel slyt nie. As dit moet gebeur, wil hy liewer doodgaan. Toe hy by dokter Simpson wou weet tot wie hy hom kan wend om weer op sy voete te kom, was sy antwoord baie vaag: “Ek weet daar word in Amerika met elektroniese toerusting op parapleë geëksperimenteer, maar daar het nog geen noemenswaardige deurbraak plaasgevind nie.”

Die laaste dag van suster Jo se verlof word sy weer ’n paar keer in sy kamer bespreek. Dit blyk tog dat die verpleegsters respek het vir die oujongnooi as hy so na hulle luister. Maar eintlik klink haar naam al net so irriterend as die daaglikse getjirts van die rolstoelwiele in die gang verby sy deur. Hy sal nie in ’n rolstoel klim nie, besluit Rudolf. Oor sy dooie liggaam! As hy nie op sy twee bene by die hospitaal kan uitloop nie, dan . . . wel, dan pleeg hy selfmoord!

Sommer met die intrapslag in die saal moet suster Jo hoor hoe ’n moeilike pasiënt Rudolf Mulder is. “Hy is nou in die fase van vertwyfeling en opstand,” sê die dagsuster. “Geen mens kan met hom huishou nie.”

Suster Jo luister met ’n uitdrukkinglose gesig na verdere klagtes oor Rudolf. Sy hoop niemand kom haar senuweeagtigheid agter nie. Sy het al oor en oor vir haarself gesê Rudolf Mulder kan haar geen skade aandoen nie. Sy moet hom maar net groet soos ’n mens ’n halfvergete ou kennis sal groet en hom verder waar moontlik ignoreer.

Tog loop sy lang draaie om die private vertrek waarin hy lê, hopende dat hy al sal slaap as sy laataand eers haar verskyning daar maak. Maar as nagsuster is dit haar plig om persoonlik na elke pasiënt se welstand te verneem, en teen tienuur kan sy nie langer haar plig versuim nie.

Dankie tog, hy slaap, dink sy verlig toe sy suutjies die vertrek betree en hom met toe oë sien lê. Nou kan niemand sê sy het hom vermy nie. Net toe sy egter weer saggies na buite wil sluip, laat sy stem haar ruk van skrik.

“Wie is jy en wat soek jy?”

Oombliklik is haar kalmte daarmee heen. “Ek dag jy . . .Wel, ek wou net kom hoor hoe dit gaan. Ek bedoel, het u ’n rustige dag gehad, meneer Mulder?”

Hy herken dadelik haar stem as dieselfde onsimpatieke een wat hom beveel het om sy arm stil te hou daardie oggend toe hy sy bewussyn herwin het, en sy oë vlieg oop. Daar keep ’n frons tussen sy oë toe hy haar by die voetenent van sy bed sien staan.

“Wie is jy?” vra hy sagter, half verwonderd.

“Ek? O, ek is suster Jo.”

“Suster Jo . . . maar my bliksem, dan het . . .”

“Ekskuus?” vra suster Jo verbouereerd toe hy skielik swyg en haar net aanstaar. Het hy haar herken?

Rudolf los nog ’n knoop in sy gedagtes. As hy Bossie in die hande kry, draai hy sweerlik haar nek om!

“Nee, ek wonder sommer hoekom julle ’n mens nie kan uitlos nie,” sê hy sommer net om iets te sê, want dat suster Jo se skoonheid die wind uit sy seile geneem het, is gewis. Verwag jy nou dat sy soos ’n ou geroeste skip moet lyk, en dan lyk sy al die tyd soos ’n swaan!

“Dit sal ’n plesier wees om u uit te los, meneer Mulder. Goeienag.”

Lank nadat sy by die deur uit is, lê Rudolf nog verdwaas en staar na die kolletjie waar sy gestaan het. Net één gedagte oor haar was reg, dink hy oplaas met ’n grinnik. Haar tong ís ’n skeermeslemmetjie.

Suster Jo gaan neem in die dienskantoor agter die lessenaar plaas, dankbaar dat sy haar plig vir die nag teenoor Rudolf Mulder afgehandel het. Die res van die nag kan die ander verpleegsters maar na hom omsien. Sy trek die nagverslag nader om met aantekeninge oor die pasiënte te begin, maar sy kry nie haar aandag daarby bepaal nie. Telkens betrap sy haar dat sy wonder of hy haar herken het. Sy het geprobeer om hom nie reguit aan te kyk nie, maar het dit gehelp? Sy kamer se vervlakste hoofligte is so sterk. Nugter weet hoekom hy nie soos die meeste ander pasiënte by sy bedliggie kan lê en lees nie!

Twaalfuur is dit etenstyd vir die personeel in die verpleegsterstehuis. Suster Jo besluit sy sal saam met die nuwe verpleegster agterbly en vir eenuur se ete wag. Alles is tog rustig in die sale. As iemand iets benodig, sal dit maar net ’n bedpan of ’n bottel wees. Dit kan die verpleegster of sy self maar vir hulle gaan gee.

Van Rudolf se worsteling in die private vertrek is sy salig onbewus.

Hy het met sy eie oë gesien sy been gee ’n paar rukke. Dit is dus glad nie so leweloos soos hulle hom wil wysmaak nie, het hy besluit. Dit is bloot ’n kwessie om hulle van die bed af te kry. As hy net eers een keer op sy bene staan . . .

Hy is later natgesweet van sukkel om sy bene van die bed af te kry. Maar hy het dit reggekry, ondanks die ver­skriklike pyne van sy borsbesering. Nou moet hy net die bedstyl los en orent kom. Maar dit is hier waar hy vashaak en nie sonder hulp verder kan vorder nie. Oplaas is hy genoodsaak om sy bedklokkie te druk.

Suster Jo kyk gesteurd op van die nagverslag toe sy ’n rooi liggie op die paneelbord sien flits. Dan sien sy van waar die noodsein kom en kyk hulpsoekend rond. Nee, die nuwe verpleegster is iewers in die groot mansaal doenig, val dit haar by. Die ander is met ete. Sy sal self moet gaan hoor wat Rudolf wil hê. Daar is niemand anders om te stuur nie.

In die deur van sy private vertrek steek sy geskok vas toe sy hom aan die bedstyl sien klou, sy onderlyf heeltemal van die bed af. “Meneer Mulder, wat gaan hier aan?” roep sy ontsteld uit. Toe storm sy nader en beur haar bolyf onder hom in. “Lê terug met jou bolyf dat ek jou bene op die bed kan tel!”

Maar Rudolf se begrip van werklikheid het vervaag in sy doelgerigtheid om te kan loop. “Gee pad hier onder my. Hou net my bolyf vas sodat ek orent kan kom.”

“Jy kan nie. Jy wéét mos jy kan nie staan nie!”

“Moenie vir my kom voorskryf wat ek kan en nie kan nie, vroumens. Ek sal self besluit of ek kan staan of nie. Help my net dat ek op my voete kom!”

“Is jy gek? Laat sak dadelik jou bolyf terug en los die bedstyl sodat ek jou bene kan optel. Toe, ek raak moeg!”

“Gee dan pad as jy moeg raak. Ek sal self regkom.”

“Meneer Mulder, asseblief, jy gaan val as ek padgee.”

“Luister, ek gaan nou die bedstyl los, want my arms raak moeg. Gee pad hier onder my.”

“Ek sal nie!”

“As jy nie padgee nie, gaan jy seerkry. Toe, gee nou pad.”

“Ek kan nie toelaat dat jy op die vloer beland nie. Lê nou dadelik terug sodat . . .”

“As jy dan nie wil hoor nie, moet jy voel.” Toe los hy die bedstyl en albei plof op die vloer neer, sy stewig vasgevang onder sy fors liggaam.

Elza Rademeyer Omnibus 6

Подняться наверх