Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer - Страница 8

5

Оглавление

Rudolf is te bang om weer na sy medepasiënte te kyk. Ou Krimpvarkie en Ystervarkie is genoeg om enige mens die horries te gee, dink hy bitter. Hy sal nooit in hierdie saal kan slaap nie, die nagmerries sal hom bloots ry. Niemand kan van hom verwag om met dié ou siek spul te gesels nie.

Maar met oom Hansie se nuuskierigheid het hy nie rekening gehou nie. Kort voor lank word hy op die skouer geklop.

“Is jy wakker, nefie?”

“Nee,” mompel Rudolf van onder die laken.

“Hoesê?” vra oom Hansie. “Nefie moet harder praat. Ek is ’n bietjie dowerig, verstaan.”

“Ek slaap,” sê Rudolf geïrriteerd.

“Slaap! Maar jy praat dan met my?”

“Ek probeer slaap!”

“O. Nou maar dan wil nefie seker nie ’n lekkergoedjie hê nie?”

“Nee, dankie!” sê Rudolf hard en slaak ’n verligte suggie toe hy oom Hansie se rolstoelwiele hoor wegbeweeg. Maar sy verligting is van korte duur. Sal die ou man dan nie sommer net hier langsaan hom, by oom Thysie se bed, kliphard van hom skinder nie!

“Ek sêg, dis ’n ongepoetste buurman wat jy gekry het, nè, ou Thysie. Lig nie eens sy kop onder die komberse uit as ’n mens met hom praat nie!”

Oom Thysie se beskindering is nie veel sagter nie. “Ag, los hom maar, ou Hansie. Hy is op ’n duwweltjiepad. Hy sal nog eendag leer dit help nie om vir die lewe weg te kruip nie. Ons moet maar verdraagsaam teenoor hom wees.”

“Ja, lyk my hy dink hy kan die dorings sidestep deur met sy kop onder die laken weg te kruip.”

Oom Thysie se antwoord raak weg in ’n geroggel. Dan bereik oom Hansie se vraag weer Rudolf se ore.

“Dink jy die mannetjie sal darem geld hê om vir hom ’n rolstoel te koop, ou Thysie? As hy nie het nie, moet hy net sê. My Dingetjie kan vir hom kollekteer. Sy is baie goed met die kollekteerdery. Jy moet net sien wat vorder sy alles in op haar basaarlyste!”

“Jou Dingetjie sal nie nodig hê om vir dié mannetjie te kollekteer nie, ou Hansie. Dis Rudolf Mulder wat hier lê – daardie multimiljoenêr van wie die koerante so vol was.”

“Slaat my dood. En jy sêg my nou eers! Nee, maar dan moet hy maar sy eie rolstoel koop. Dalk het hy al klaar vir hom een bestel. Sal seker van daardie nuwe soort wees wat met die batterye werk. Hulle sêg my dis sulke handige stoele. Jy druk net knoppies, dan loop hy. Hoe lyk dit met ’n lekkergoedjie vir jou?”

“Nie nou nie, dankie, Hansie.”

“Nou maar dan gaan ek maar eers verder.”

Oor sy dooie liggaam sal hy in hierdie saal bly lê, besluit Rudolf opstandig. Die verpleegsters moet hom dadelik terugneem na sy private vertrek.

Maar of hulle die waarheid praat en of hulle opsetlik vir hom jok, weet hy nie. Sy kamer is glo reeds deur ’n ander pasiënt beset en daar is ook nie meer ’n ander private vertrek beskikbaar nie.

Hy lê nog so toe die man langs hom weer aan die hoes raak. En so uit die hoek van sy oog sien hy hoe die ou man sukkel om regop te kom in die bed en die dun armpie met die uitgeteerde hand wat op die bedtafeltjie vir die spuugbekertjie tas. Hierdie keer draai hy sy kop betyds weg, maar toe sy ontbyt opdaag, stuur hy dit net so terug. Kos sal beslis nie akkordeer met die naar gevoel wat hier in sy keel sit nie.

Met middagete bly hy weer sonder kos. Maar dit is nie net die mense om hom wat hom walg nie, dit is ook die rolstoele wat langs die beddens staan en die verpleegsters wat so behendig en vol grappe vir sommige pasiënte help om in en uit die stoele te klim. Hy sou verkies om nie sulke dinge te sien nie. Dit maak hom bang. Veral mense soos ou Ystervarkie. Gaan sy bene ook so maer en uitgeteer raak?

Tot sy spyt moet Rudolf die aand toe die nagpersoneel weer op diens kom, by Mynhard hoor dat suster Jo nie kom werk nie. “Sy sal vier nagte nie hier wees nie, want sy het haar gewone drie nagte vry én sy het vir Saterdagnag ’n uitruiling met suster Thompson aangegaan. Bossie sê sy’t gehoor toe dokter Simpson haar genooi het vir ’n vleisbraaiery.”

“Dit lyk my julle kry ook meer af as wat julle werk,” raak hy van sy viesheid ontslae. “Ek het my mes in vir daardie suster Jo van julle! Dit was ’n vreeslike dag hier tussen die klomp fossiele.”

Bossie sluit haar by hulle aan en wil weet van watter fossiele sy hom hoor praat het. Sy kyk geskok na hom toe hy met sy arm deur die saal beduie, bedoelende dat die pasiënte die fossiele is. En dit is nie al nie, hy vaar verder uit: “Daardie ou man daar oorkant, ou Ystervarkie, het amper vanmiddag die dak gelig met sy gesnork. Om nie eens te praat van ou Krimpvarkie hier langs my se aaklige gehoes nie!”

“Sjuut!” maan Mynhard hom fluisterend. “Arme oom Thysie. Netnou hoor hy jou. Hy het longkanker, weet jy. Hy kan enige dag sterf!”

“En dan lê hy hier langs my! Is ek nou veronderstel om te kyk hoe hy sterf, of wat?”

“Haai, skaam jou, Rudolf. ’n Mens praat nie so van ’n sieke nie,” sê Mynhard.

“Luister, julle behoort nie sterwende mense hier tussen ons ander toe te laat nie. Daar bestaan tog seker iewers ’n inrigting waarheen julle so ’n persoon kan stuur, dan nie?”

“Om daar in eensaamheid te sterf?” vra Bossie. “Jy moet onthou jy gaan ook eendag oud word en sterwend raak. Ek wil jou nie nou allerhande lelike dinge staan en toewens nie, maar dan moet jy oom Thysie uitlos. Ons ken hom al jare en is baie lief vir hom.”

Hulle laat hom alleen toe hy verontwaardig deur sy neus snork. Toe neem hy ’n boek op om te probeer lees, maar Mynhard moes liefs nie vir hom gesê het ou Krimpvarkie is feitlik sterwend nie, dink hy later moedeloos. Elke keer dat die ou man nou aan die hoes raak, wag hy dat hy sy laaste asem moet uitblaas. Hy lees dieselfde hoofstuk oor en oor, maar neem nie ’n woord in nie. En hoe later hoe kwater, besef hy soos die nag vorder. Van oral in die saal klink daar ’n gesnork op, maar geeneen kan ou Ystervarkie klop nie. Hy moet bepaald vergrote longe hê, dink Rudolf, om soveel lug op een slag in te trek. En daardie uitkomslag!

Iewers in die middel van die nag raak hy tog aan die slaap. En toe droom hy hoe hy en Julia wegkruipertjie speel op die oewer van ’n rivier. Sy glip telkens agter ’n ander boom in om vir hom van agter die stam te loer en hom guitig toe te lag. Hy doen sy uiterste bes om haar te vang, maar elke keer ontglip sy hom net-net. Totdat hy haar uiteindelik beetkry en hulle met ’n gestoei op die gras beland. ’n Rukkie sit sy haar teë, maar toe raak sy stil onder hom. Dit raak ook binne-in hom stil. Hy sien hoe sy haar oë sluit en wag, haar lippe effens oop. Dog, die oomblik toe sy mond aan haar lippe raak, begin sy woes spartel. Toe hy sy oë oopmaak om te kyk waarom, kom hy agter dit is nie meer Julia wat onder hom vasgepen lê nie, maar . . . suster Jo! Haar groen kykers vlam soos twee vuurtonge. En nog voor hy oor sy verdwasing kan kom, tuit sy haar lippe en tref haar spuugstraaltjie hom reg tussen sy oë!

Rudolf vloek gedemp toe hy wakker skrik. Wat ’n nagmerrie! Die res van die nag lê hy wakker en luister teësinnig na die ander se snorkende slaapgeluide. Sy gedagtes is ’n warboel. Wat gebeur as ’n mens sterf? Hoe voel dit? Is dit pynlik? Hy dink aan maniere om selfmoord te pleeg. Skiet, maar dan moet jy ’n pistool hê. Hy kan vir tant Betta sê sy moet sy pistool vir hom bring, want hulle wil skyfskiet. ’n Tou om die nek of om van ’n verdieping af te spring is te bisar. Hy sal dit nooit regkry nie. Pille? Ja, dit klink die maklikste en skoonste. Maar waar gaan hy soveel pille in die hande kry?

Sy gedagtes, kom hy later agter, laat hom sweet. Dit maak hom bang om aan die dood te dink. Maar watter ander uitweg is daar? Dit gaan iets allerverskrikliks wees om die res van sy lewe aan ’n rolstoel vasgekluister te sit. Daarvoor sien hy ook nie kans nie.

Net na die ontbyt, waaraan hy smaaklik weggeval het totdat oom Thysie met sy gehoes begin het, kom tant Betta opgewonde by hom aan met ’n splinternuwe rolstoel wat sy vir hom gaan koop het.

“Vir wat sal jy nou soos ’n armlastige sukkel met die ou uitgediende rolstoele van die hospitaal, Roelfie. Jy moet net hierdie tjek teken dat ek dit kan gaan betaal. Ek het dit sommer solank op skuld gekoop.”

“O, noudat ek nie meer geld kan mors nie, doen tante dit!”

“Watwou vermorsing van geld. Jy móét mos ’n stoel hê. Dit is ’n lekker ligte rolstoel, hoor. O ja, en noudat ek daaraan dink, ou Hangsnor sê hy sal oor ’n week of wat klaar wees met jou motor.”

“Hangsnor . . . my motor . . .? Waarvan praat tante?”

“Gits, het ek dan vergeet om vir jou te sê?”

“Wat te sê?”

“Dat ek daardie geel motortjie van jou by die garage ingegee het?”

“Vir wat het tante hom by die garage ingegee?”

“Sodat die man sy pedale en dinge kan opskuif stuurwiel toe waar jy hulle met jou hande kan bykom. Ou Hangsnor sê hy weet hoe om dit te doen, al lyk hy so onnosel.”

“Het tante tog nie my Porsche loop ingee vir die veranderinge nie?” vra Rudolf ontsteld.

“Wat anders? Die BMW het jy afgeskryf en die Mercedes moet jy hou vir wanneer jou vrou eendag die kinders skool toe en sportveld toe moet rondry.”

“Vrou en kinders? Moenie my laat lag nie!”

“Ag, ekskuus tog, Roelfie. Ek het vergeet van jou verlamming. Maar ’n mens weet nooit, dalk kan jy en jou vrou eendag ’n paar kindertjies aanneem.”

“Ja, wie weet,” sê hy sarkasties, maar tant Betta keer haar rug op hom om die spuugbakkie vir oom Thysie aan te gee toe hy begin hoes.

“Sies tog,” fluister sy vir Rudolf toe sy haar terugdraai. “Ek kry hom so jammer. Jy moet goed wees vir hom, hoor. Dit lyk my hy gaan nie meer lank leef nie.”

Rudolf het vir haar geen antwoord nie. Dit sal nie help om by haar te kla omdat hy na die saal toe verskuif is nie. Sy is ’n ander soort mens as hy. Sy kan met enigiemand kommunikeer, van die mees armlastige tot . . . Ja, hy weet nou nie of sy by die Kaapse elite sal kan inskakel sonder om van haarself ’n gek te maak nie.

“Jy lyk nie lus vir gesels nie,” beskuldig sy hom tromp-op. “Maar ek het in elk geval net jou stoel gebring sodat jy solank kan oefen om daarmee reg te kom.”

Katryn staan ontsteld vir tant Betta buite op die werf en inwag toe sy van Rudolf af terugkeer. “Hoekom het mevrou nie vir my gesê Julia gaan hier by ons kom intrek nie?”

Tant Betta gaap haar aan. “Wie sê vir jou sy gaan hier kom intrek?”

“Sy’t klaar ingetrek. Sak en pak, binne-in meneer Rudolf se kamer nogal!”

“Oor my dooie liggaam! Waar is sy?”

“Nee, ek weet nie waar sy nou is nie. Sy’t net haar goed afgelaai en is toe weer hier weg met haar op-skuld-motor. Sy’t nie gesê waarheen sy gaan nie.”

“Maar sy kan mos nie sommer net hier kom intrek asof die plek aan haar behoort nie?” sê-vra tant Betta ongelowig. En toe Katryn net haar skouers lig, loop sy dadelik telefoon toe om Rudolf te gaan bel. En die oomblik toe sy sy stem in haar oor hoor, val sy weg met ’n lang relaas.

Rudolf, wat die oproep in die dienskantoor beantwoord het, loer vinnig na die dagsuster wat agter die lessenaar sit. “Wag, ek sal tante terugbel,” sê hy vinnig. “Gee my net ’n rukkie kans om buite by die telefoonhokkie te kom.” Toe verbreek hy sonder omhaal die verbinding.

Op pad na die telefoonhokkie buite die saal dink hy skuldig daaraan dat hy skoon vergeet het om vir tant Betta te sê dat hy Julia toestemming gegee het om in sy huis in te trek. Miskien was dit ook nie heeltemal die regte ding om te doen nie, want hy weet immers hoe sy tante oor Julia voel. Maar dit is darem nog altyd sy huis. Hy het tog die reg om wie hy wil daar te laat bly. En wie weet, dalk kom tant Betta agter Julia is glad nie so onaardig wanneer sy haar eers beter leer ken nie. Maar tant Betta is hoogs ontstoke oor die telefoon.

“Dan sal ek maar my goedjies pak en teruggaan Malmesbury toe, Rudolf. Ek deel nie ’n huis met Julia Saunders nie,” sê sy na ’n lang relaas.

“Maak dan maar soos tante goed dink,” erg hy hom en hang die gehoorstuk terug.

Tant Betta blaas stoom af soos ’n lokomotief toe sy haar weer by Katryn in die kombuis aansluit. “As ek my sonde nie ontsien nie, pak ek regtig my goed! Dis óf Julia óf ek, maar saam kan ons nooit onder een dak bly nie.”

“Ag, ons kyk maar eers hoe dit gaan, mevrou,” paai Katryn. “Dalk is dit nie so erg nie.”

“Kies jy nou haar kant, Katryn?”

“Nee, mevrou, ek kies nie kant nie. Maar moenie vir jou so ontstel nie. Netnou kry mevrou ’n hartaanval of ’n ding, beland pens en pootjies in die hospitaal, en dan sit ek alleen met juffrou Julia in die huis opgeskeep.”

“Ag ja, dit kan ek jou tog nie aandoen nie. Nou maak dan maar vir ons ’n bietjie tee sodat my humeur kan afkoel.”

Na Rudolf se gesprek met tant Betta gaan hy nie dadelik terug saal toe nie. Hy stuur sy rolstoel in die straat af na die ingang van die hospitaal. Toe hy daar kom, kyk hy met ’n verslae gevoel in sy binneste na die vinnige verkeer voor die hek verby. Almal lyk haastig. Hier en daar is darem ’n passasier wat in die rigting van die hospitaal kyk. Maar niemand verwerdig hom of haar om ’n tweede keer te kyk nie.

Kan jy hulle kwalik neem? dink hy sinies. Hoeveel keer het hy nie self hier voor die ingang verbygery sonder om ’n enkele stonde te wonder oor die lewe hier binne nie. Hy was bewus daarvan dat ’n gedeelte van die hospitaal ingerig was vir gestremdes, ja, maar dit is ook al. Nie in sy wildste drome sou hy kon glo hy sou eendag self hier beland nie.

Hy ry stadig terug saal toe, maar sy gemoed is ineens so vol dat hy nie kans sien om die saal binne te gaan nie. Hy kan om die dood nie die trane keer wat in sy oë opwel en oor sy wange drup nie. Hoekom moet so iets met hom gebeur het? Here, hoekom!

So deur die waas van sy trane stuur hy die stoel in die rigting van ’n skaduweekol onder een van die bome. En toe hy agterkom daar sit reeds iemand onder die boom, is dit te laat om om te draai en weg te vlug.

“Ja, nefie, dis maar nie ’n maklike ding nie,” sug-sê oom Hansie. “Ek voel ook nog party dae om sommer aan die huil te raak, maar dit help nie. Die lewe stoot aan en ons moet maar saam – of agterbly en onsselwers tot niet treur.”

Rudolf probeer ongemerk sy wange afdroog. “Wat het oom oorgekom?” verbreek hy half teësinnig sy voorneme om nooit by die ou siek spul van die saal betrokke te raak nie.

“Visgevang en van die rotse afgefoeter. Daar anderkant naby Rooi-els. En was dit nie vir Dingetjie nie, het ek nog verdrink ook. Maar Dingetjie is ’n vrou wat nie vir die duiwel stuit nie, nefie. Sy’t my daar onder uit die water kom haal en my stoksielallenig die kranse uitgedra tot bo by die pad. En daarvandaan het sy saam met my in die ambulans geklim en tot hier by die hospitaal saamgery.”

Daar is ’n rukkie stilte, net oom Hansie se gepoef aan sy pyp hoorbaar. Dan gaan hy voort. “Sy’t elke dag vir my hier in die hospitaal kom kuier. En die dag toe ek die eerste keer huis toe kon gaan, het sy vir my gesê: ‘Hansie, ek wil nie vir jou woorde in die mond lê nie, maar jy moet onthou jy sal nie alleen kan voortgaan met die lewe daarbuite nie. Jy sal iemand moet kry om jou te versôre.’”

Oom Hansie gee eers weer ’n paar trekke aan sy pyp. “Ek kon eers nie so mooi verstaan nie. Was mos ’n oujongkêrel. Hoe moes ek weet hoe ’n vrou se kop werk? Ewenwel, ons het eers dié kant toe gepraat, en toe daai kant toe, en toe vra Dingetjie maar later die woord, want ek was te dom met sulke dinge. Maar, nefie, een ding kan ek jou sê, ’n beter vrou as my Dingetjie sal jy nergens kry nie. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. As alles goed gaan, sal ek vanaand vir Dingetjie aan jou voorstel. Sy kom elke Saterdagaand vir my kuier.”

Rudolf is vir ’n rukkie sprakeloos na oom Hansie se vertelling. Hy het daar in die saal agtergekom oom Hansie is ’n diabeet en dat hy in die hospitaal is om behandeling te ontvang vir sy bloedsuiker wat te hoog is . . . maar dat hy getroud is!

“Hoe is die lewe buite die hospitaal, oom?” vra hy huiwerig.

“Nie elke dag ewe maklik nie, nefie, maar ’n mens pas jou aan. Partykeers voel ’n mens maar so half of die Here ook van jou vergeet het, maar jy bly maar bid, en naends sal jy agterkom Hy’t jou nie vergeet nie. Hy het maar net so ’n ent vooruit gaan loop om die dorings uit jou pad te vee.”

Dit raak weer stil tussen die twee daar onder die boom. Oom Hansie sit aan sy pyp en pof en Rudolf sit sommer net. Dit is of sy verstand afgestomp is, asof sy hart en siel ook leeg en leweloos soos sy onderlyf is. Oom Hansie het ’n vrou, dink hy. Hy het niks nie. Nie eens vriende nie. Hulle het hom na die eerste week al minder en minder kom besoek. Die enigste van die garde wat nog vir hom omgee, is Julia. Dit is net sy wat hom nog besoek. Sy en . . . tant Betta, onthou hy met ’n skuldgevoel. En nou gaan sy hom seker ook verlaat. Dan is dit net Julia wat oorbly.

Hy besef skielik hy gaan tant Betta mis, haar inmenging in sy lewe ten spyt. Sy het humor in sy lewe gebring. Hy onthou nou nog die dag van haar aankoms by sy huis asof dit gister was . . . sy stomme verbasing toe hy die voordeur oopmaak en haar met die boel tasse daar op sy stoep aantref.

“Is jy Roelfie?” het sy verbaas gevra.

“Ek is Rudolf Mulder,” het hy geantwoord en kaplaks ’n soen op sy mond gekry voordat sy hom op en af bekyk het.

“Genadetjie, Roelfie, jou pa het nooit vir my gesê jy is so ’n uitgegroeide lummel nie! Ek dag jy’s sommer nog so ’n opgeskote ou seuntjie!”

“Wie is u?” wou hy verbaas ná die klapsoen en verwysing na sy pa weet.

“Ek is jou oorle pa se halfsuster, tant Betta.” Sy’t so ’n slag om haar rondgekyk, die sweet van haar gesig met ’n sakdoek afgevee en hom summier beveel om die wagtende taxi-man te betaal en haar tasse die huis in te dra. “Ek loop solank binnetoe, want hier op die stoep gaan die son my harsings tot kaiings brand. As jy klaar my tasse gebêre het, kan jy vir ons koeldrank ingooi en dit sitkamer toe bring sodat ons kan gesels.”

’n Glimlaggie plooi om Rudolf se mond toe hy aan daardie dag terugdink. Hy het gedink sy pa se halfsuster het net kom kuier. Dit was eers so ’n dag of wat later dat hy agtergekom het sy het gekom om te bly omdat dit sy pa se wens was en so in sy testament staan.

In die begin het dit maar gelol. Sy het sommer die heel eerste dag vir sy vriende vertel hulle is ’n klomp leeglêers en lieplappers en hulle summier van die werf af verjaag. Hy moes sy voet hard neersit voordat dit tot haar deurgedring het dat hý die baas van die huis is en dat sy geen seggenskap oor hom of sy vriende se doen en late het nie.

Oom Hansie bring skielik sy rolstoel in beweging hier langs Rudolf. “Sal ons nie die bal so ’n bietjie vir mekaar rondgooi nie?”

Rudolf sien nou eers die bal wat oom Hansie op sy skoot vashou. “Sal ek dit regkry om raak te vang? Sal my rolstoel nie omslaan nie?”

“Jy sal nooit weet as jy nie probeer nie,” sê oom Hansie. “Hier kom hy, vang!”

En toe is daar nie meer tyd om te dink of te wonder nie. Rudolf moet net gryp en gooi, gryp en gooi . . .

Op die Van Zyls se plaas in die Worcester-distrik pak suster Jo haar tasse met ’n gevoel van afwesigheid in die motor om terug te keer Kaap toe. Daar is trane in haar oë toe sy haar seuntjie soen en styf teen haar vasdruk. Toe klim sy in haar motor om weg te ry sonder om in Darius of Sanet se rigting te kyk.

Eers toe sy die teerpad bereik, spuug sy die woord by haar mond uit: “Verraaiers!”

Maar dit bring nie verligting nie. Niks kan verligting bring as iemand deur afpersing jou kind van jou af wil wegvat nie. Trane dreig weer eens om haar te verblind en sy vee dit met ’n ongeduldige gebaar weg. Haar beste, dierbare, goeie vriende het in verraaiers ontaard! Hulle wil klein Anton vir hulself vat. Hulle verwag sy moet hom weggee soos ’n sleg hond sy kleintjie sal weggooi sodat hulle hom wettig hul eie kan maak! Hoe kan sy so iets doen?

Sy ry roekeloos vinnig van woede en frustrasie. Nóú weet sy waarom Darius en Sanet so teenoor haar verander het! Hulle het daardie tyd toe sy Anton op die plaas gaan oplaai het om Durban toe te gaan al geweet hulle gaan haar emosioneel afpers. ’n Plan wat natuurlik by hulle opgekom het toe hulle die berigte oor Rudolf Mulder se ongeluk gelees het! Daarom dat hulle nou dreig om hom in te lig oor Anton se bestaan as sy weier om hom vir aanneming beskikbaar te stel.

Wat moet sy doen? wonder suster Jo beangs. Sy twyfel nie een oomblik daaraan dat Darius sy dreigement sal uitvoer as sy weier om Anton aan hulle af te staan nie.

Binne-in die Du Toitskloof-tonnel word haar woede plotseling deur hartseer verdring. Hartseer oor die verraad van die mense vir wie sy so lief was en wat sy nog altyd as haar beste vriende beskou het.

Sy hoor haarself hardop snik en skrik. Sy durf nie nou huil nie. Agter haar ry motors. Sy kom agter sy is besig om teen ’n slakkepas te kruip en ry ’n bietjie vinniger. Toe sy weer in die daglig kom, slaak sy ’n suggie. Maar dit is nie van verligting nie. Daar is geen gevoel in haar nie. Net ’n matelose verlatenheid.

By ’n stilhouplekkie trek sy haar motor van die pad af. Sy staar voor haar uit. Hoe sal dit voel as sy die motor se handrem losmaak en oor die afgrond verdwyn? As sy dood is, sal Darius en Sanet gelukkig wees. En Rudolf Mulder sal verseker nooit weet dat daar in die wêreld ’n kind is van wie hy die pa is nie.

Elza Rademeyer Omnibus 6

Подняться наверх