Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer - Страница 7

4

Оглавление

“Gee pad hier van my af!” gil suster Jo verskrik. Maar Rudolf is te moeg en verslae om ’n poging aan te wend om haar te bevry. Sy kyk na sy gesig en dink vlietend aan ’n ander aand, lank gelede . . . Dit gee haar krag om hom met hernude woede met die vuiste by te dam.

Hy kon nie op sy voete bly nie, sink dit by hom in. Hy is werklik verlam. Haar vuishoue teen sy skouers voel hy skaars. Hy, Rudolf Mulder, sal nooit weer kan loop nie. Hy sal nooit weer sport kan beoefen nie. Nooit weer tennis, krieket of rugby kan speel nie . . .

“As jy nie padgee nie, byt ek jou!” dring haar gespartel tot sy benewelde verstand deur.

“Dis jou eie skuld dat jy hier vasgevang lê,” sê hy. “As jy my gehelp het soos ek gevra het, was ek nou op my voete. Ek wéét ek kan loop. My bene is nie leweloos nie. Hulle het vroeër vanaand vanself beweeg.”

“Dit was ’n spierspasma, jou aap!” snou sy hom buite haarself van skone skrik toe, en roep beangs: “Bossie . . . Mynhard!”

Maar sy weet dit is nodeloos. Hulle sal nog nie terug wees van ete af nie, en die nuwe verpleegster sal ook nie hoor nie, tensy sy gil. Sy begin van nuut af spartel om haarself te bevry, sonder enige tekens van dankbaarheid dat hy sy gewig op haar probeer verlig deur met sy hande weerskante van haar op die vloer te druk, en so stadigaan vererg Rudolf hom.

“Wat de drommel wriemel jy so, vroumens? Dink jy dalk ek wil jou verkrag?”

Sy woorde skok haar tjoepstil. Sy staar hom verbyster aan. Deur haar benewelde verstand dring dit tot haar deur dat sy moesie verdwyn het. Op sy linkerwang was daar ’n moesie. Dieselfde moesie as dié van Anton. Hoekom het hy syne laat verwyder?

Rudolf kry ’n bekommerde fronsie tussen sy oë toe hy sien hoe sy hom aanstaar. Die geskokte uitdrukking op haar gesig het plek gemaak vir vertwyfeling en sy lyk nou verwonderd.

Hy lyk skielik vir haar anders. Hy is nog bekend, maar hy’t beslis vinnig ouer geword. Daar is selfs al ’n teken van grysheid langs sy slape.

Die besonderse groen kleur van haar kykers val hom op. Hy sien nou van naby hoe mooi sy werklik is. Haar lang swart hare het los geraak van haar gespook om los te kom. Dit val krullerig en sag om haar gesig. Sy blik beweeg na haar mond. Dit is ’n mond wat vra om gesoen te word . . .

Saam met die onsinnige gedagte dring die besef van sy magteloosheid weer tot hom deur. Dit wat hy gedink het lewe is, was toe maar net ’n spierspasma. Die fisioterapeut het wel verduidelik dat hy spierspasmas sal kry, maar hy’t so gehoop . . .

Suster Jo sien met verbasing hoe hy sluk en sluk. Sy moet uitkom onder hom! flits dit weer eens deur haar gedagtes. Haar verraderlike hart moet hom nie nou staan en jammer kry nie. Hy was nie vir haar jammer toe . . .

Hy byt magteloos op sy tande om die golf van selfbejammering te stuit. “Ek is jammer,” mompel hy gesmoord. “Ek sal my probeer omrol, kyk of jy kan loskom.”

“Lê net stil,” sê sy vervaard die oomblik toe sy bevry is. “Ek gaan hulp soek.”

Sy verdwyn in ’n oogwenk by die deur uit en ander verpleegsters kom plaas hom terug op die bed. Vir suster Jo sien hy nie weer met ’n oog daardie nag nie.

Die volgende oggend breek daar vir hom ’n nuwe era aan, soos een van die verpleegsters dit stel. Hy gaan sy eerste treetjie na onafhanklikheid betree deur in ’n rolstoel te klim. Sy beseerde ribbekas se herstel was sodanig dat hy dit nou kan waag.

Maar Rudolf sien geen vreugde daarin om in ’n rolstoel te sit nie. Sedert hy van die bed afgeval het, vier swartgalligheid en bitterheid hoogty in sy gemoed. Hy weier om uit die private vertrek te gaan en sit net by die venster en uitstaar sonder om enigiets werklik raak te sien.

En toe Julia hom kom besoek, is hy skaam-kwaad omdat hulle haar by hom toegelaat het. Hy wou nie gehad het sy moet hom só sien nie. Die rolstoel is net ’n toonbeeld van sy onvolmaaktheid.

Maar Julia het met ’n doel by hom besoek kom aflê. Sy besef dat hy heel waarskynlik nooit weer volledig man sal wees nie, maar hy het geld. Sy sal steeds nie omgee om mevrou Mulder te word nie. Om met Rudolf te trou kan vir haar baie voordele inhou. Sy sal in die kollig kom, des te meer omdat sy bereid is om met ’n gestremde te trou. Sy sal alles kan koop wat haar hart begeer en haar finansiële bekommernisse sal iets van die verlede wees. Maar om dit te bereik, weet sy, sal sy baie subtiel te werk moet gaan.

Later sou Rudolf nie meer mooi kon onthou hoe hul gesprek daartoe gelei het nie, maar toe sy hom inlig dat sy aan die einde van die maand haar woonstel moet ontruim, is dit hy wat aanbied dat sy haar intrek in sy huis neem tot tyd en wyl sy weer met ’n woonstel geholpe raak. Dit is vir Julia voorlopig genoeg. Sy beskou dit as die eerste tree om ingewortel te raak in sy lewe. Stap vir stap sal sy haar onmisbaar maak. Die dag dat hy uit die hospitaal ontslaan word, sal hy agterkom hy het ’n ware steunpilaar in haar.

Suster Jo se dag by die huis verloop ook nie te goed nie. Sy kan om die dood nie aan die slaap raak nie. Haar gedagtes bly by daardie oomblikke toe sy vasgeval onder Rudolf gelê het, en sy verag haarself omdat sy hom ’n oomblik jammer gekry het. Daar mag nie ’n weekheid oor haar kom teenoor die vervlakste mansmens nie. Sy mag nie vergeet wie en wat hy is nie!

Dit is nie al wat haar pla nie. Die Van Zyls se eienaardige gedrag die dag toe sy Anton weer na haar verlof by hulle gaan aflaai het, slaan haar ook dronk. Sy kan haar vinger op niks spesifieks lê nie . . . dit is net dat hulle so agterdogtig voorgekom het. Amper asof hulle haar glad nie vertrou nie. Asof hulle glo sy sal dalk met Rudolf Mulder versoen raak. Wat ’n onsinnigheid! Sy haat die man!

Nee, dink sy, nie haat nie. Haat is ’n lelike ding. Sy voel net niks vir hom nie. Hy is vir haar soos ’n vreemdeling. Sy kan amper nie glo dat sy ooit op hom verlief was nie. Kyk net sy weerbarstige ontevredenheid met alles. Goed, sy weet sy moet sy siektetoestand in ag neem, maar nogtans.

Die aand net nadat sy aan diens gekom het, verskyn tant Betta in die deur van die dienskantoor met ’n arm vol blomme. “Naand, sustertjie. Wil jy my nie gou help nie?”

“Goeienaand, mevrou,” groet suster Jo terug en stap nader om die blomme by haar te neem, terwyl sy wonder waarheen hulle met al die blomme moet gaan. Rudolf se vertrek is reeds so oorlaai van die ruikers.

“Nee,” keer tant Betta toe sy haar hande uitsteek, “dis nie wat ek bedoel nie. Ek wil hê jy moet Rudolf gaan oortuig dat hy my in sy vertrek moet toelaat. Hy’t my al weer skoon verskree toe ek net my voet by die deur wou insit. En nou dreig hy my glads met die polisie as ek dit weer waag om my voete naby hom te sit. Net gister nog was hy heel gaaf teenoor my. Ek verstaan hom nie!”

Suster Jo neem tog die blomme by haar en nooi haar om te sit. “Luister nou mooi,” sê sy toe sy weer haar gewone plek agter die lessenaar inneem. “U moet verstaan dat iemand soos Rudolf se gemoedstoestand baie skommelend is. Gestremdes ervaar verskillende fases. Dit begin gewoonlik met ongeloof. Hulle kan nie glo dat dit met hulle gebeur het nie. Dis mos gewoonlik dinge waarvan jy net in tydskrifte lees. Later kom vertwyfeling en opstand. Hoekom moet dit met hóm gebeur het! Selfbejammering, en so gaan die proses aan. Aanvaarding en berusting tree nie oornag in nie. U sal geduld teenoor meneer Mulder moet beoefen. Ons probeer ons pasiënte se wense respekteer, daarom laat ons nie besoekers by hulle toe as dit nie hul goedkeuring wegdra nie.”

“Gmf,” snork tant Betta verontwaardig. “Dis nou vir jou te sê! En waar moet ek geld en dinge kry om Moos en Katryn te betaal as ek hom nie mag besoek om ’n tjek te laat teken nie? Hy’t self gister vir my gesê ek moet sy tjekboek saambring as ek weer kom. Nou wil julle my hier voor sy deur laat omdraai! Nee, sustertjie, hier kry julle my nie vanaand weg voor ek by Rudolf was nie.”

Suster Jo gee ’n suggie. “Maar mevrou, ons . . .”

“Ek is nie ’n mevrou nie,” val tant Betta haar summier in die rede. “Was nooit eens getroud nie. Noem my sommer tant Betta.”

“Goed dan. Maar u moet verstaan, ons . . .”

“Ag, sustertjie, loop praat met Rudolf. Hy sal vir jou luister. Hy kon nog nooit ’n mooi meisie weerstaan nie. En jy is pragtig. As jy hom vra dat ek hom mag besoek, sal hy nooit weier nie!”

“Dis wat tante dink,” ontglip dit suster Jo.

“Ekskuus!”

“Toe maar, ek sal gaan hoor wat hy te sê het. Maar as hy steeds weier om u te ontvang, moet u dit asseblief so aanvaar.”

Daar is ’n traagheid in haar bene toe sy opstaan en na die private vertrek toe loop. Rudolf lê weer eens met toe oë. Sy kyk hom stil aan en skrik vir die mengelmoes van gevoelens wat van haar besit neem. Dit is eienaardige emosies wat hy in haar wek. Afsku, veragting en woede, maar tog ook . . . jammerte en deernis.

Rudolf beloer haar van onder sy lang, syerige oogwimpers. Hy wonder hoekom sy hom so aanstaar. Toe sy haar omdraai om te loop, skraap hy sy keel en sien hoe sy skrik.

“Kan ek help met iets?” betrap hy haar heeltemal onkant deur die vriendelike ondertoon in sy stem.

“Ek . . . wou net kom hoor . . . u tante is hier. Sy wil hê u moet vir haar . . .”

“Ek het my tante so pas duidelik laat verstaan dat sy onwelkom is, suster Jo,” verdwyn sy vriendelikheid. “Ek ontvang geen besoekers vanaand nie, dankie.”

“U tante wil net hê u . . .”

“Ek het klaar gepraat.”

Sy sien die besliste trek om sy mond en ’n roekelose ergerlikheid neem van haar besit. “Julle ryk mense gee my ’n pyn. Julle dink oor julle geld het, kan julle maak en breek soos julle wil! Terwyl jy hier in jou geld lê en stik, traak dit jou nie ’n flenter waarvan jou huismense daarbuite moet leef nie! Solank jy net jou sin in alles kry, kan hulle maar krepeer van ellende! Hulle is mos maar net van die werkersklas. Wat traak dit jou of hulle kos in die huis het om te eet of nie!”

Hy luister verstom na haar uitbarsting. Haar wange gloei en haar groen oë spuug behoorlik vuur. En voordat hy sy asem kan terugkry, is sy uit by die deur.

Net duskant die dienskantoor se deur steek suster Jo vas. Sy blaas haar asem met ’n sidderende sug uit. Wat het haar besiel om so tekere te gaan? Maar dit is die gedagtes wat by haar opgekom het wat haar soos ’n feeks laat gal afgaan het, verskoon sy haarself. Hy lê haar dan net daar en aanstaar met sy donker oë die ene onskuld, asof sy ’n heel onbekende persoon is. Onthou hy haar regtig nie? Kan dit wees dat sy so min vir hom beteken het dat hy waaragtig nie onthou hoe hy haar destyds betower en tot oorgawe gedwing het nie? Of beskou hy haar as so ver benede sy stand dat hy haar nie wil ken nie?

Haar wange vlam nog steeds van ergernis toe sy die dienskantoor binnegaan. “Nee, tant Betta, u moet maar huis toe gaan. Meneer Mulder wil u nie ontvang nie.”

“Sustertjie, dis sommer onsin, hierdie giere en geite van Rudolf,” sê tant Betta. “Hy sal nooit oor sy grille kom solank julle hom sy sin gee nie. Hy is ’n mannetjie wat kortgevat moet word.”

“Hy moes lankal kortgevat gewees het . . .” begin suster Jo met haar saamstem, maar dan onthou sy in watter beroep sy staan en sluk die res van haar woorde terug – dat hy nou reeds te oud is om te verander.

Bossie staan onverwags in die deur. “Suster, meneer Mulder sê u kan tant Betta maar na hom toe stuur. Hy sal haar ontvang.”

“Sê vir meneer Mulder hy moet na die duiwel . . .” Sy swyg en gryp haar kop vas. Wat besiel haar! “Goed, dankie, verpleegster Boshoff. Tant Betta sal nou daar wees.”

Dit word ’n verwoestende nag in saal B4. Die verpleegsters ken suster Jo as streng en stiptelik, maar sowat van werk uitkrap en fout soek met alles het hulle nog nooit beleef nie!

“Kyk hoe lyk hierdie waskamers! Verpleegster Mynhard, ek stel jou aan as die verantwoordelike persoon om te sorg dat alles hier blinkskoon is voor die son môreoggend kans kry om sy kop uit te steek.” Haar voete trippel gang op en gang af. “Kyk net die linnekamer! Verpleegster Bruwer, ek hou jou verantwoordelik as hierdie linne nie môreoggend netjies gepak in die rakke lê nie.” Bossie word aangestel om elke glas en skinkbord in die kombuis af te was en blink te vryf. Daar is nie een aan wie nie werk uitgedeel word nie. En om haarself so besig te hou dat daar geen kans vir dink kan wees nie, takel suster Jo die dienskantoor.

Toe die son die volgende oggend sy kop uitsteek, blink saal B4 soos selde vantevore. Maar in suster Jo se siel is daar steeds ’n gedempte pynkol soos ’n ou letsel wat weer beseer is. Van moegheid raak sy darem dadelik aan die slaap, maar toe begin droom sy dat Rudolf Mulder haar vasgryp en soen. Dat sy eers wild spartel om los te kom, maar later stil raak en hom terugsoen. En toe hy met haar klaar is, stamp hy haar van hom af weg, lag haar uit, en dring dit tot haar deur dat hy haar die tweede keer verwerp.

Toe sy van die aaklige nagmerrie wakker skrik, staan sy maar op om koffie te gaan maak. Want slaap, weet sy, sal die res van die dag vir haar taboe wees.

Die aand toe sy weer aan diens gaan, keer dokter Simpson haar in die gang voor. “My oom verjaar Saterdag en hou ’n vleisbraaiery. Ek soek ’n metgesel vir die aand. Hoe lyk dit, wil jy nie saam met my gaan nie? Jy het mos belowe om een aand saam met my uit te gaan.”

“Ek werk ongelukkig Saterdagnag,” sê sy, bly om ’n ver­skoning te hê.

Maar dokter Simpson is slimmer as wat sy gedink het. “Ek het reeds met suster Thompson gesels. Sy is bereid om met jou diensbeurte te ruil.”

“O, ek . . . dan weet ek nie,” sê sy ietwat verslae.

“Afgespreek,” lag hy haar toe. “Ek kom laai jou Saterdagaand seweuur op.”

Rudolf lê en luister hoe hul voetstappe weg van sy kamerdeur beweeg. Ja, dink hy wrang by homself, as hy gesond was, sou hy dieselfde as dokter Simpson gedoen het. Hy sou seker ook planne gemaak het om hierdie mooi sustertjie met die skeermestong beter te leer ken. Maar ’n gestremde persoon . . . Vir hom bly daar niks oor om voor te leef nie. Die dood sal beslis genadiger wees as om sy lewe in ’n rolstoel te slyt.

Daarvan wil Bossie niks weet nie toe hy sy hart teenoor haar uitpraat. “Jy weet net nie hoe dit is om dood te gaan nie,” preek sy vir hom, asof sy self so iets deurgemaak het. “En buitendien, jy’t nog baie om voor dankbaar te wees. Jy’t immers nog die gebruik van jou arms en hande. Daarby het jy nog ’n gesonde verstand en baie geld ook. Jy kan vir jou ’n battery-aangedrewe rolstoel koop waarmee jy allerhande toertjies en dinge kan uithaal. Ek wil nie weer hoor dat jy van doodgaan praat nie!”

Dit is vieruur in die môre en sy is vies vir hom oor hy nie die koffie wil drink wat sy vir hom gebring het nie. “Drink nou jou koffie, man, anders gaan jy my verplig om vir suster Jo te gaan sê jy weier om vloeistowwe in te neem. Jy móét baie drink, anders kan jou niere moeilikheid gee.”

“Dit sal gaaf wees as my niere loop staan. Dan beswyk ek aan nierversaking,” hou Rudolf hom moedswillig.

“Jy moenie dink dit sal so maklik gaan nie. Voor jy kan beswyk, sal ons vir jou aarvoeding gee. En as dit nodig is, koppel ons jou weer aan ’n masjien om jou aan die lewe te hou.”

“Hoekom doen julle so baie moeite? Dis nie altyd ten goede nie, weet jy. Die dood sou vir my baie saliger gewees het.”

“Jy behoort jou te skaam! En sê bietjie vir my, waar sou jou siel heen gegaan het as jy dood was?”

“Wat traak dit jou wat van my siel sou geword het?”

Bossie skud haar kop meewarig. “Jy is ’n harde man, weet jy. Klipsteenhard. Ek bejammer die meisie wat jou eendag as man gaan kry!”

Sy mond trek op ’n suur plooi toe sy by die deur uit loop. Ek bejammer die meisie wat jou eendag as man gaan kry, verbeel jou! Asof daar ’n meisie is wat na ’n verlamde man sal kyk! Behalwe . . . miskien Julia? Sy het nog geen teken getoon dat sy minder aangetrokke tot hom voel nie. Inteendeel, sy is baie vrymoediger teenoor hom sedert hy hier lê as voorheen. Maar aan die ander kant, sy glo seker nog dat hy weer gesond gaan word.

Sy gedagtes word onderbreek deur suster Jo wat in die deur kom staan. “Ek verneem dat u weier om vloeistowwe in te neem?”

“Ja, en wat daarvan?”

“Dis belangrik vir u liggaamsorgane dat u . . .”

“Ag, los tog daardie ou storie,” val hy haar in die rede. “Ek het nie honger óf dors nie. Gaan pamperlang maar jou ander pasiënte en los my uit. Hoe gouer ek van honger en dors omkom, hoe beter, anders sal ek dalk ander planne moet maak om dood te gaan.”

Toe sy weer stil verdwyn, wonder hy wat hom makeer het om sulke kaf kwyt te raak. Aan die ander kant, is dit die moeite werd om as ’n halwe mens deur die lewe te gaan? Sal die dood nie werklik baie genadiger wees nie? speel hy weer met die gedagte wat al meer na vore kom soos sy hoop taan om weer soos ’n normale mens te leef.

Suster Jo loop half ingedagte terug dienskantoor toe. Miskien is dit so dat Rudolf Mulder sy sin in te veel dinge kry, dink sy. Miskien moet hulle ’n slag van sy miljoenêrskap en vernaamheid vergeet en hom dwing om met doodgewone mense om te gaan. Dit kan hom dalk laat besef hy is nie enig in sy dilemma nie. En wanneer hy sien watter vaardighede die ander parapleë al aangeleer het, kan die wil dalk in hom groei om iets vir homself te doen.

Toe gaan bel sy dokter Simpson om sy toestemming te kry om Rudolf na die algemene saal te verskuif.

Rudolf is skoon verstom toe Bossie en Mynhard ’n ruk later van sy persoonlike besittings uit die private vertrek begin dra.

“Waarheen gaan julle met my goed?” vra hy fronsend toe hulle ’n tweede drag begin bymekaar maak.

“Ons vat dit na die groot mansaal toe,” sê Bossie.

“Om wat daarmee te gaan doen?”

“Jy verskuif soheentoe. Ons sal jou ook nou-nou kom haal.”

“Verskuif? Bedoel jy ek moet dáár gaan lê?”

Tot sy konsternasie knik sy haar kop. “Ja, jy gaan daar lê sodat jy geselskap kan hê.”

’n Ruk lank is hy skoon verbyster. “Maar wie’t gesê ek moet daar gaan lê? Ek is tevrede hier. Ek wil nie hier uitgaan nie.”

“Dan moet jy dit maar vir suster Jo gaan sê. Sy’t gesê ons moet jou na die groot saal toe vat.”

“Oor my dooie liggaam!” grom hy verwoed. “Wie is sy om te kom sê waar ek moet lê?”

Maar al sy protes val op dowe ore. Toe hy hom weer kom kry, word hy met bed en al na die algemene mansaal verskuif.

Boonop het Bossie die vermetelheid om te sê: “So ja, nou het jy baie geselskap. Kyk, hier links van jou lê kolonel Verster. Regs is oom Thysie Strydom en daar regoor jou lê oom Hansie Boonzaaier.”

Rudolf gee min aandag aan die bekendstelling. Eers na ’n lang ruk loer hy versigtig om hom rond. Die kolonel lê en boek lees, asof dit hom niks pla dat hy verlam is nie. Sy blik verskuif na die bed regoor hom. ’n Tandelose ou mannetjie sit kiertsregop in die bed, sy bolyf kaal sodat jy net ribbebene sien, en sy yl haartjies staan soos ystervarkpenne in die lug.

Toe hy agterkom die snaakse ou mannetjie kyk na hom, kantel hy sy kop na die bed regs van hom, en ’n oomblik lank dink hy amper hy kyk teen ’n geraamte vas. Maar toe begin die maer liggaam van die man wat hom aan ’n krimpvarkie laat dink, ruk van ’n hoesbui. ’n Dun armpie met ’n blou beaarde hand kom uit die komberse te voor­skyn om ’n bekertjie van die bedkassie af te haal. En voordat Rudolf sy kop kan wegruk, sien hy hoe die ou man van sy slym ontslae raak in die bekertjie.

Hy sidder van afgryse en trek vinnig die laken oor sy kop. Hemel, dink hy, hoe aaklig! Hier bly hy nog nooit!

Suster Jo se gesig is uitdrukkingloos toe sy langs sy bed vassteek en sien hoe hy met sy kop onder die laken wegkruip. “Ek hoop u geniet die dag, meneer Mulder. Tot siens.”

Dit dring eers tot hom deur dat suster Jo met hom gepraat het toe dit te laat is. Toe hy die laken van sy gesig af trek, sien hy net ’n puntjie van haar uniform voordat dit ook by die saal se deur uit verdwyn.

Hy swets gedemp en byt magteloos op sy tande van woede. Hy sou haar bitter graag ’n ding of twee wou vertel. Sy moenie dink hy is ook soos die verpleegsters vir haar bang nie!

Elza Rademeyer Omnibus 6

Подняться наверх