Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer - Страница 9
6
ОглавлениеDokter Bertus Simpson is op pad terug van sy ouerhuis op Swellendam toe hy skielik rem trap en in sy motor se truspieëltjie kyk. Hy sal sy kop op ’n blok sit dit is suster Jo se motor hier agter hom langs die pad. Hy skakel sy motor se noodligte aan en ry vinnig agteruit tot regoor haar venster. Maar haar hare hang los sodat hy nie haar gesig kan sien nie.
Hy ry nog ’n entjie terug en hou dan agter haar stil. Maar toe hy haar venster nader, sien hy met ’n ligte skokkie dat sy huil. Snaaks, flits dit deur sy gedagtes, hy het nooit gedink sy is die huilerige soort nie. Iets drasties moes gebeur het. Sou haar motor gebreek het?
Hy voel onseker oor wat hy moet doen. Hy weet instinktief sy gaan nie daarvan hou dat iemand haar sien huil nie. Maar los kan hy haar tog nie, sy het dalk hulp met haar motor nodig.
Haar hare swiep soos sy haar kop swaai toe hy aan die venster klop. Sy staar hom ’n paar oomblikke lank oorbluf aan. Toe sien hy hoe sy sluk en haastig met haar mou oor haar traanbenatte oë vee voordat sy half traag die venster oopmaak.
“Het jy probleme, Jo?” vra dokter Simpson simpatiek.
“Pro- . . . probleme? Nee, watse probleme sal ek hê?”
“Ek het gewonder of jou motor dalk onklaar geraak het.”
“Nee, my motor . . . Ek het sommer ’n entjie gery . . . toe hou ek hier stil.”
Sy opwagting blyk ongewens te wees, dink dokter Simpson, maar durf hy haar los en wegry? As hy net kon weet waaroor sy huil. As dit oor ’n man is . . . Hy weet so min van haar af.
“Het jy nie vir my gesê jy sou tot vanmiddag by jou vriende op Worcester gaan kuier het nie?”
“Ja, ek . . . sou, maar hulle . . . Ek kom eintlik nou van hulle af. Ek bedoel, ek is nou op pad terug huis toe, want hulle moes skielik Transvaal toe vertrek. My vriendin se ma het ernstig siek geword,” dis sy onsamehangend ’n noodleuen op.
“Is jy seker alles is wel?” vra dokter Simpson. “Moet ek nie maar agter jou ry tot by jou huis nie?”
Suster Jo snuit haar neus en wonder hoekom hy haar so deurdringend aankyk. Weet hy sy lieg? “Nee, dis glad nie nodig dat dokter agter my ry nie,” verras sy hom plotseling met ’n glimlag. “Dié dat ek gehuil het, dit was sommer oor ’n boek wat ek gesit en lees het. So ’n ou hartseer storietjie. Ons vroumense raak mos maar partykeer so verspot.”
Hy weet sy jok vir hom. Daar is nêrens ’n boek of tydskrif in haar motor te bespeur nie. En ’n mens skrik in elk geval nie jou asem weg as iemand jou betrap dat jy oor ’n storie sit en huil nie. Maar sy laat hom geen keuse as om te maak of hy haar glo nie.
’n Oomblik kom daar ’n begeerte by hom op om haar wang aan te raak, maar hy onderdruk die drang vinnig. Sy is nie die soort meisie met wie jy sulke dinge waag nie.
“Staan ons afspraak vir die vleisbraaiery by my oom nog?” vra hy.
“Ja . . . natuurlik. Ek sal sorg dat ek seweuur gereed is wanneer jy my kom oplaai. En baie dankie dat jy stilgehou het.”
Sy wag totdat hy klaar weggetrek het voordat sy haar motor aanskakel. Hoekom het sy nie nou die kans aangegryp en vir hom gesê sy kan nie meer saam met hom gaan nie? dink sy spytig. Sy kon gesê het sy is ontsteld oor haar vriendin se ma se siekte of iets. Maar dan skud sy haar kop. Nee, een leuen lei net tot ’n verdere leuen en op die ou end draai jy tog maar vas. Sy is buitendien nie een wat baie oortuigend leuens kan vertel nie. As dit nie senuweeagtigheid is wat haar verraai nie, is dit haar blosende wange. En sy, wat glo sy is ’n Christin, mag nie leuens vertel nie, want dan sondig sy.
Saterdagaand, toe dokter Bertus Simpson sy das voor die spieël strik, kyk hy krities na sy beeld. Hy kan daar geen fout mee vind nie. Behalwe dat hy dalk ietwat deftig aangetrek is vir ’n vleisbraaiery, maar hoe anders gaan hy suster Jo beïndruk? Dit is die eerste keer in ’n baie lang tyd dat hy weer ’n metgesel gaan hê. Na sy gewese verloofde se ontrouheid het hy gedink hy is klaar met vroumense. Maar suster Jo prikkel lankal sy belangstelling.
Hy het eers kwaai daarteen geskop, maar die afgelope tyd het dit al moeiliker geraak om nie soms aan haar te dink nie. Hy is nie net nuuskierig omdat hy niks van haar private lewe af weet nie, daar is ’n ander gevoel vir haar in hom aan die ontwikkel. Na vanaand sal hy hopelik weet waar hy met haar staan en of sy hom sal toelaat om haar van nader te leer ken.
Suster Jo draal ook senuweeagtig voor die spieël in haar kamer rond. “Mattewis, hoe lyk ek?” vra sy vir die half-aan-die-slaap kat op haar bed. Maar Mattewis strek net lui sy twee voorpote en trek sy kop stywer teen sy nek vas.
Dit is eintlik haar heel eerste afspraak met ’n man, dink suster Jo. Sy het dit nog al die tyd reggekry om enige man se belangstelling in haar in die kiem te smoor voordat dit op ’n afspraak kon uitloop. Nugter weet hoekom sy haar deur dokter Simpson laat ompraat het! Waaroor gaan sy die hele aand met hom en die vreemde mense gesels? Dit waarvan haar gedagtes vol is, durf sy nie opper nie. Haar vriende se verraad moet sy vir haarself hou, anders gaan Rudolf Mulder op ’n manier te wete kom hy het ’n kind. ’n Kind by die vrou wat hy nie eens kan onthou nie, dink sy wrang. Want as hy haar wel onthou, is hy die beste toneelspeler wat sy nog teengekom het.
Toe die voordeurklokkie lui, wip sy soos sy skrik. Sy stap senuweeagtig voordeur toe en sien skaars raak hoe indrukwekkend dokter Simpson lyk, want sy weet nie of sy hom eers moet binnenooi of nie.
“Wat van ’n koppie koffie voor ons ry?” vra sy nadat hulle gegroet het.
“Dit sal lekker smaak,” gryp hy dadelik die geleentheid aan en dink: Dit sal help dat ons darem nie soos twee algehele vreemdelinge daar by my oom opdaag nie. Ek weet dan nie eens wat haar voornaam is nie!
Toe suster Jo met die koffie terugkeer sitkamer toe, skrik sy haar yskoud toe sy hom voor Anton se portret sien staan.
Hy kom neem die skinkbord by haar en wag dat sy haarself moet help. Maar sy weet hy gaan gewis sien hoe sy bewe as sy nou suiker in haar koffie moet gooi, dus nooi sy hom om die skinkbord op die tafeltjie neer te sit sodat die koffie kamma eers kan afkoel. Maar dit verhoed nie dat hy haar oor die portret uitvra nie.
“Familie van jou?” vra hy met sy blik op die foto.
“Ja, ek . . . ek bedoel eintlik, nee. Dis sommer vriende van my se kind. Ek is sy peettante.”
Hy wonder hoekom sy so onoortuigend klink en toe hy na haar kyk, merk hy dat haar wange bloedrooi en haar blik ontwykend is. Dit laat hom wonder . . . Hy besluit om liewer die gesprek te verander. Die laaste ding wat hy nou wil doen, is om haar sommer met hul eerste afspraak in die verleentheid te stel. Dit sal veiliger wees om oor hospitaalsake te gesels.
“Ek kom agter Rudolf Mulder se gemoedstoestand is uiteindelik aan die verbeter vandat hy in ’n rolstoel is. Die dagpersoneel sê hy het al vriende gemaak met oom Hansie Boonzaaier.”
Suster Jo sit stom geskrik. Hoekom verwys hy nou na Rudolf? wonder sy agterdogtig. Het hy die ooreenkoms tussen die foto in die portretraam en die pasiënt gesien, of praat hy maar sommer toevallig van Rudolf?
“Ja, dis nogal snaaks dat hy vir oom Hansie gekies het om mee vriende te maak,” antwoord sy floutjies.
“Wat is jou noemnaam, suster Jo?” vra hy onverwags.
“Hoekom vra . . .?” Sy besef sy klink verskrik en aarsel voordat sy meer besadig sê: “Ag, almal noem my maar Jo. Hoekom vra jy?”
“Ek het maar net gedink ons kan mekaar seker vanaand op die voornaam noem. Ons is mos nie aan diens in die hospitaal waar almal op die van aangespreek word nie. My naam is Bertus, as jy dalk nie weet nie.”
Sy knik en glimlag senuweeagtig toe sy agterkom hy kyk na haar. En sy bloos onwillekeurig toe hy vir haar vertel hoe mooi sy lyk. Nes ’n bakvissie, dink sy vies vir haar onbeholpenheid in sy geselskap. Hy gaan hom vanaand op sy oom se partytjie seker nog morsdood skaam vir haar, want wanneer haar senuwees so op hol is, is sy tot enige sotheid in staat.
Maar die vleisbraaipartytjie is toe ’n groot sukses. Of dit die bietjie wyn is wat haar so ontspanne laat voel, en of dit die aangename atmosfeer is, weet sy nie, maar sy geniet die aand tog, al kan sy nooit regtig vergeet van die Van Zyls se dreigement en die dilemma waarin sy haar bevind nie.
Toe dokter Simpson haar laatnag na haar voordeur vergesel, weifel hy ’n oomblik. Hy buig tog vooroor en soen haar liggies op die mond voordat hy omdraai en in sy motor klim om verder te ry. En ’n rukkie later in haar kamer raak suster Jo half verwonderd aan haar lippe. Sy soen was so vinnig, daar was in elk geval nie tyd om te keer nie.
Wonder bo wonder slaap sy die nag goed. En toe die dag breek, staan sy met nuwe moed op. Dalk het Darius en Sanet al besin. Dalk sê hulle vir haar dit is sommer ’n poets wat hulle haar bak.
Maar na ’n lang telefoniese gesprek besef sy dit was geen grap nie. Hulle het elke woord bedoel. Hulle gee haar ook net twee weke tyd om die nodige vorms in te vul waarin sy geheel en al van Anton afstand doen – of sy sal die gevolge moet dra.
Darius se waarskuwende woorde refrein deur haar gedagtes: “Dis vir jou om te besluit of jy Anton aan ons gaan afstaan, waar hy verseker is van ’n goeie toekoms en baie liefde. En of jy wil hê Rudolf Mulder moet ingelig word omtrent sy bestaan. Jy moet onthou, parapleë trou nie maklik nie en kan ook nie kinders verwek nie. Rudolf Mulder sal seker wat wil gee om ’n erfgenaam te hê, dink jy nie ook so nie? Aan aardse besittings sal Anton seker nie ’n tekort hê nie, maar wat van liefde?”
En na baie mooipraat en trane en later ook dreigemente van haar kant dat sy vir hom en Sanet sal aankla van afpersing: “Doen dit gerus, want dan sal die hof ’n regverdige uitspraak moet lewer. Die hof sal moet besluit of hulle Anton aan ’n werkende ma gaan gee wat nog nooit regtig iets vir hom beteken het nie, aangesien sy nog nooit ’n sent bygedra het tot sy opvoeding, of selfs vir hom ’n dak oor die kop gebied het nie. En of hulle dink hy kom die mense toe wat tot dusver alles vir hom gedoen en hom met liefde oorlaai het.”
Hy het nog baie dinge kwytgeraak, maar sy was te verslae om daarna te luister. Dat mense wat jy so ten volle vertrou het, jou so genadeloos in die rug kan steek!
Hoeveel keer het sy hulle nie gesmeek om darem net ’n ietsie by te dra tot Anton se noodsaaklike lewensmiddele nie? Haar hart het partykeer gebrand om vir hom klere te koop, net soos haar hart gebrand het om hom elke dag naby haar te hê. Maar Darius wou nooit toelaat dat sy ’n sent uithaal om aan Anton te bestee nie. Al wat sy mag gekoop het, was speelgoed met sy verjaardae of ander spesiale geleenthede. Darius het gesê sy moet hom nie die voorreg ontneem om vir klein Anton se sorg te betaal nie, want dit is alles uit diepe dankbaarheid vir wat hy vir hulle beteken. Nou verdraai hy die feite om voor te gee sy was ’n hopelose, slegte ma! En hoe gaan sy die teendeel bewys? Sy ken vir Darius. Hy sal sy dreigement uitvoer. Want net so goed en gaaf as wat hy kan wees, net so hardvogtig en onverbiddelik kan hy raak wanneer iemand in sy pad probeer staan. Sy onthou maar alte goed hoe meedoënloos hy in die afgelope verkiesingsveldtog teenoor sy politieke teenstander opgetree het. As hy hom ’n doel voor oë gestel het, gee hy nie om om van minder eerbare metodes gebruik te maak om dit te bereik nie. As sy regtig ’n saak teen hom sou maak, sal sy gewis die slegste daarvan afkom.
Sy trek aan om kerk toe te gaan. Voor die kerkdeur laat haar gemoedstoestand haar egter omdraai. Hoe durf sy die huis van die Here binnegaan met ’n wrok in haar hart teenoor haar eertydse vriende? Ja, en ook teenoor die pa van haar kind, dink sy toe sy in haar motor klim en terugry huis toe. Sy het haar selfs al verbeel sy’t Rudolf vergewe. Want as dit nie vir hom was nie, het sy nie vir Anton gehad nie . . . maar noudat alles so deurmekaar is, koester sy van voor af ’n wrok teenoor hom.
Wat gaan sy doen? vra suster Jo haarself die hele dag af. Sy dwaal van vertrek tot vertrek, vat hier en raak daar, maar kry niks gedoen nie. En die getroue ou Mattewis loop maar al agter haar aan asof hy haar wil laat verstaan sy is nie heeltemal alleen op die aardbol nie. Hy’s darem ook nog daar!
“Katryn,” sê tant Betta terwyl sy haar kerkhoed afhaal en dit saam met haar kerkboeke na haar uithou, “hier, gaan bêre jy dit tog gou vir my in die kamer, want Moos is haastig om my te leer motor bestuur.”
Katryn is al amper by die kombuis uit op pad kamer toe voordat tant Betta se woorde by haar insink. Sy steek in haar spore vas. “Hoe nou?” vra sy. “Het mevrou gesê Moos gaan jou leer motor bestuur?”
“Ja,” sê tant Betta van net buite die kombuisdeur af. “Hoekom vra jy dit so snaaks? Dink jy ek is te dom om te leer?”
“Nooit nie, mevrou. Dis net, wat gaan gebeur as mevrou die motor stamp?”
“En vir wat sal ek nou die motor staan en stamp, Katryn? Moos gaan my mos wys hoe ek moet ry!”
Katryn skud maar net haar kop. Van kosmakery of huis skoonmaak kom daar egter niks nie. Sy draf van venster tot venster om die manewales buite op die werf te aanskou. Dit blyk dat tant Betta vasbeslote is om te leer bestuur, want niks sit haar af nie. Nie eens die verwoeste roostuin of die feit dat die motor in ’n stadium so hittete in die swembad beland nie. Toe sy dus na ’n paar uur selfvoldaan die huis binnekom, het Katryn nie die moed om vir haar te sê sy koester bedenkinge oor haar bestuursvernuf nie.
“Nee, dit lyk of mevrou mooi regkom,” maak sy van haar hart ’n moordkuil toe tant Betta haar prontuit vra wat sy daarvan dink. “Maar hoekom wil mevrou dan bestuur?”
“Jy vra nog! In vandag se lewe móét ’n vrou kan bestuur, Katryn. Rudolf sal my nie meer so rondkarwei soos vroeër nie, onthou. En die taxi’s vra ’n mens se ore van jou kop af! Buitendien, ek is niks slegter as daardie Julia-vroumens nie.”
“So van juffrou Julia gepraat, het mevrou geweet sy glo aan spoke?”
“Spoke?” Tant Betta se stem is vol ongeloof.
“Ja, spoke! Sy vra vanmôre vir my of dit spook in die huis. Sy’t glo laas nag die aakligste geluide gehoor, soos kettings wat oor sinkplate sleep.”
“Dis nou die grootste bog waarvan ek al gehoor het!” Tant Betta swyg ’n rukkie en toe kom sy met ’n splinternuwe idee na vore. “Katryn, jy gee my mos nou ’n plan! Hoekom spook ons haar nie hier weg nie?”
“Hoe meen mevrou nou?” vra Katryn verstom.
“Ons máák ’n spook as hier nie een is nie. En dan spook ons haar hier uit die huis uit! Ek sal jou sê wat ons kan doen. Ons maak ’n . . .”
“Sjuut!” maak Katryn haar stil. “Ek het ’n deur hoor klap.”
Dit is Julia wat kom hoor hoe laat daar geëet word, want sy wil Rudolf gaan besoek. En vir ’n wonder is tant Betta vriendelik teenoor haar.
“Die kos sal nou-nou reg wees, Julia. Maar trek vir jou ’n stoel uit, dan gesels ons so ’n paar woorde.” Sy maak of sy glad nie die wantroue op die meisie se gesig sien nie. “Het jy lekker geslaap?”
“Ek . . . was so wakker soos ’n spook. Het julle ook die snaakse geluide gehoor?”
“Snaakse geluide? Hoe het dit geklink?”
“Dit was aaklig! Soos ’n tak wat op die dak skraap, en partykeer soos kettings wat oor sinkplate skuur.”
“O, dit,” merk tant Betta droog op. “Ag, jy moet jou nie daaraan steur nie. Jy sal daaraan gewoond raak.”
“Maar wat is dit?” wil Julia weet.
“Dis maar één van die onverklaarbare verskynsels. Maar dit het darem nog nie skade aangerig nie, nè, Katryn?”
Katryn kan niks anders doen as om haar kop te knik en by die wasbak doenig te raak nie.
“Wag tot die geeste kwaad raak!” gaan tant Betta voort.
“Geeste?” vra Julia bekommerd.
“Ja, Rudolf se voorvadergeeste. As hulle begin stoele gooi en tafels rondstamp, moet jy oppas!”
“Dan spook dit mos regtig hier!” sê Julia verskrik.
“Ag, ’n mens leer om daarmee saam te leef. Jy moet maar net sorg dat jy nie op een van die geeste se tone trap nie,” sê tant Betta luiters, en kyk vererg na Katryn toe dié ’n geluid by die wasbak maak wat soos ’n proeslag klink.
Julia is duidelik verslae. Sy stel skielik glad nie meer belang in middagete nie. Maar tant Betta is die ene onskuld. Eers toe die dreuning van haar motor buite opklink, bars sy uit van die lag.
“Wil jy glo!” lag sy dat die trane loop. “So ’n regte dame, maar sy glo aan spoke! Wel, Katryn, nou weet ek ons gaan binnekort van haar ontslae wees. Wag net tot ek my planne agtermekaar het!”
“Watse geluide sou juffrou Julia gehoor het, mevrou?”
“Ag, dit kan maar net my snorkery wees, Katryn. Rudolf het al gesê ek moet na ’n ander kamer verskuif, of ten minste my venster en deur toemaak in die nag, want ek hou hom elke nag uit die slaap.”
Katryn knik haar kop. “Ja, ek het al gehoor in die middae wanneer mevrou gaan rus. Die eerste keer het ek ook geskrik. Maar ek het nie aan spoke gedink nie, ek was bang mevrou is aan die doodgaan! Gaan mevrou regtig vir juffrou Julia hier wegspook?”
“Hoekom nie?”
“Hoe?”
“Ek het ’n idee, Katryn. Maar gee my eers kans dat ek my planne uitwerk. Die storie moenie boemerang nie.”
Na die Sondagmaal in die hospitaal rus die meeste pasiënte. Maar Rudolf vra vir die verpleegsters om hom te help om in sy rolstoel te klim. Toe gaan sit hy buite in die koel skaduwees van die bome om weg te kom van oom Hansie se gesnork en oom Thysie se gehoes.
Sy gedagtes voer hom terug na die vorige aand. Oom Hansie het toe sy Dingetjie aan hom voorgestel. Hy onthou sy verslaentheid oor tant Dingetjie. Wat hy te wagte was, weet hy nie, maar hy’t nooit gedink iemand met die naam van Dingetjie sou so groot en robuus wees nie. Arme oom Hansie het totaal verswelg geraak toe sy hom omhels. Tog was hul liefde vir mekaar opvallend.
Hoekom weet hy nie, maar hy dink skielik aan suster Jo. Sou sy haar aand saam met dokter Simpson geniet het? ’n Belaglike vraag, erg hy hom vir homself. Natuurlik sou sy dit geniet het. Dokter Simpson is immers ’n aantreklike man, baie sjarmant en fisiek gesond. Snaaks dat hulle twee nie lankal getroud is nie!
Dit is regtig ongewoon dat sy nog ongetroud is, dink hy dan verwonderd. Min meisies van haar ouderdom is nog ongetroud. Sou sy ’n liefdesteleurstelling gehad het?
Sy gedagtes word onderbreek toe ’n paar spelende kinders van besoekers se bal oor die straat gerol kom en langs sy rolstoel tot stilstand kom. Hulle het egter nog ’n bal en niemand steur hom aan die een wat weggerol het nie, behalwe ’n waggelende kleutertjie. Hy is te klein om die gevaar van aankomende motors te besef en begin die bal op onvaste beentjies agternasit.
Rudolf skrik hom yskoud toe hy besef die kind gaan oor die straat kom. Dit is op ’n draai en omdat dit besoektyd is, ry daar aanhoudend motors. Daar is juis weer een aan die kom!
Hy roep na die groter kinders, maar hulle lag en skree te luidrugtig vir mekaar om hom te hoor. Hy sien met angssweet hoe die kleinding gaan lê om met sy magie oor die randsteen te seil. Die aankomende motor ry vinnig. Hy gaan nooit betyds gestop kry nie!
“Ag, Here,” bid Rudolf half onwetend hardop, “keer die kind!” Maar die outjie is al besig om weer waggelend orent te kom. Hy gaan nou die straat oorsteek, en die motor . . .
Daar is nie langer tyd vir aarseling nie. Rudolf leun oor en raap die bal op. “Here,” bid hy weer eens, “help my dat ek die outjie se gang stuit!”
Hy sien die selfvoldaanheid op die kleuter se gesig. Binne-in hom raak dit beurtelings warm en koud van angs. Gooi hy mis, gaan die kind reg voor die motor beland! Hy bid hardop: “Help my, Here! Help my om raak te gooi!” Toe durf hy nie langer weifel nie, en slinger die bal na die kind.
Dit tref die teiken. Die outjie slaan reg agteroor van die slag teen sy bors. En sekondes later skuur die motor rakelings voor hom verby. Terselfdertyd sien van die groter kinders hom daar langs die kant van die straat lê en huil van skrik en verontwaardiging en kom vat hulle hom en die bal weg.
Lank na die voorval sit Rudolf nog versteen van verdwasing. Hy het heel waarskynlik die kind se lewe gered, maar dit wek nie ’n gevoel van verligting in hom nie. Dit is of daar ’n onsigbare mag tussen hom en verligting staan. Amper asof hy nie verlig mag wees nie. En toe dit hom byval dat hy gebid het, is dit of die onsigbare mag sy keel ook wil toedruk. Sweet slaan in sy handpalms uit, dit pêrel op sy voorkop uit en drup af op sy bors. Hy probeer homself wysmaak dit is van skok, maar sy beterwete sê nee, dit is omdat hy nie sy dank teenoor die Here betuig nie!
Hoe moet ek dit doen? vra hy homself af.
Dit is net so maklik om dankie te sê as wat dit vir jou was om sy hulp te vra toe jy dit nodig gehad het, spreek sy gewetestemmetjie hom aan.
Maar dit is nie vir Rudolf so maklik nie. As skoolkind en universiteitstudent het verskeie leierposisies dit soms van hom vereis om hardop te bid. Maar dit was anders. Hy het met sy mond gebid en nie met die hart nie. Daar was nie die gevoel van beklemming in hom om eerlik te wees soos wat daar nou in hom is nie. Dit is dus heelwat later voordat hy na vele wik en weeg uiteindelik op ’n opregte en kinderlike manier sy dank teenoor die Here betuig.
En toe hy na die gebed sy oë oopmaak, raak hy intens bewus van die kwetterende voëltjies in die boom bo sy kop, die lug wat blouselblou bokant hom troon en van al die ander wonderwerke van God se skepping.