Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer - Страница 4

1

Оглавление

’n Misnoegde uitdrukking verskyn op tant Betta Mulder se gesig toe sy op die balkon van die miljoenêrswoning uitstap en afkyk op die jong mense langs die swembad. Dit was natuurlik die lawaai van hul aankomende motors wat haar uit haar middagslapie kom steur het, dink sy gegrief. Hoor net hoe hard is die musiek – as ’n mens dié geblêr musiek kan noem!

Haar gesig plooi nog suurder toe sy Julia Saunders uit die kleehokkie aangestap sien kom. Wat Rudolf darem aan dié meisiekind met haar wulpse lyf en opgesmukte gesig . . . Haar gedagtes breek ineens stomp af en haar oë rek. Kan dit wees? Die meisiekind se bolyf is dan poedelnakend kaal! Sou sy vergeet het om haar baaikostuum aan te trek?

Julia se sierlike duik in die swembad ontgaan tant Betta heeltemal. Sy kyk geskok hoe die blondekop uit die swembad klim en haar skaamteloos langs Rudolf op ’n handdoek gaan neervly asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is. En hy sit net daar. Haar broerskind draai waaragtig nie eens sy kop weg nie!

“Behoede my!” prewel sy gebelg. “Wat word van die wêreld? Sou dit dan nou mode geword het om . . .”

“O, hier is mevrou,” laat ’n stem haar ruk van skrik.

“Katryn!” raas tant Betta. “Vir wat bekruip jy ’n mens so?” En dié mevrou-sêery! Vir haar, nog al die jare ongetroud . . .

“Haai, mevrou, ek het jou nie bekruip nie. Ek het maar net vir mevrou tee gebring,” sê Rudolf se huishoudster sedig.

“O . . . e . . . ek sien. Nee, maar ek weet nie of ek nou lus voel vir tee nie, Katryn. Ek sal dit in ieder geval nie hier afgesluk kry nie! Vat dit liewer kombuis toe.”

Katryn loer ook oor die balkonmuur. “O, hulle hou weer partytjie. Wat vier hulle dié keer, mevrou?”

“Hoe sal ék weet wat hulle vier?” vra tant Betta ergerlik. “Ek word mos nie geraadpleeg oor dinge in dié huis nie. Rudolf maak mos net soos hy wil!”

“Ek sien juffrou Julia volg nou ook die nuwe mode na,” merk Katryn op.

“Dan is dit so! Nou van wanneer af is dit mode dat ’n jong meisie kaal swem, Katryn?”

“Sy is darem nie heeltemal kaal nie, mevrou. Sy het mos ’n broekie aan.”

“Maar bo is daar dan niks nie! Skaamtelose klein flerrie! As ek in my jong dae in so min klere voor ’n man moes verskyn, het die kerk my summier onder sensuur gesit. Dis vreeslik, Katryn!”

“Ag, mevrou Betta, alles is deesdae anders. Die wêreld het baie verander vandat ons twee kinders was. Vat nou maar die musiek van vandag. Ons verstaan daar niks van af nie. Vir ons klink dit net na ’n geblêr. Die dae van Elvis se mooi rock ’n’ roll en die Beatles is vir goed verby.”

“Dit was ook maar ’n gemors,” brom tant Betta. “In my jongdae het die sangers ordentlike goed gesing. Goed soos ‘Tannie met die rooi rokkie’ en liedjies wat ’n storie vertel het. Jy kon hóór wat hulle sing. En jy kon ordentlik daarop dans. Dit was nie ’n gerondpluk soos twee besems wat op ’n koek seep rondgly nie. Dis duiwelsgoed, hierdie nuwe soort musiek, Katryn, duiwelsgoed! Alles Satan se werk. Kyk hoe lyk dit daar onder . . . dit op ’n Sondag! Ek laat my nie vertel dis gemmerbier wat hulle so uit die blikkies sit en drink nie. Dis drankwinkel-bier!”

“Mevrou se tee gaan koud word,” sê Katryn paaiend. “Kom, ek vat dit vir mevrou kombuis toe.”

Toe Katryn die huis binnegaan, werp tant Betta die jolige jongklomp ’n vernietigende blik toe voordat sy kopskuddend agter Rudolf se huishoudster aanloop. Haar oorlede halfbroer draai in sy graf om as hy moet weet watter soort lewe sy seun lei, dink sy by haarself. Of is dit maar hoe ryk en gesiene mense leef?

Onder op die grasperk slaak Rudolf ’n verligte suggie toe sy tante van die balkon af padgee. Nie dat hy hom aan haar preutsheid steur nie, maar dit is nie lekker om te weet sy staan daar met haar suur, onvergenoegde gesig nie. Hy het juis moeite met sy oë. Dit is nie aldag dat ’n meisie bostukloos voor hom op ’n handdoek lê en sonbrand nie.

“Jou tante het die aftog geblaas,” sê Julia met ’n laggie. “Sy het ons die hele tyd daar van die balkon af gestaan en dophou. En jy moes haar gesig sien!”

Rudolf glimlag ietwat verleë. Hy’t gehoop dit was net hy wat tant Betta daar sien staan het.

Julia draai haar op haar maag en kielie hom onder die ken met ’n grassie. “Hoe hou jy dit in een huis met haar uit?”

Rudolf kyk so half skuins langs haar gesig verby. “Ag, ek steur my nie aan haar gepredik nie. Partykeer kan ’n mens nogal lag vir haar.”

“Ek sal darem nie daarvan hou om te weet iemand hou my bewegings gedurig dop nie.”

“Ek sê jou mos ek steur my nie daaraan nie. Sy hét darem al geleer om my uit te los. Voorheen sou sy sommer hier aangesit gekom het om vir ons te kom vertel hoe lui en sleg vandag se jong mense is. Sy weet egter nou dat ek dit nie meer duld nie. Maar kom ons gesels liewer oor aangenamer dinge.”

“Soos wat?” vra sy guitig.

“Ons gesels liewer oor jou. Jy het mos vandag ’n grootmens geword.”

“Ek moet jou nog bedank,” sê Julia. “Dit is ’n groot geskenk, hierdie partytjie wat jy vir my mondigwording hou. Ek weet nie hoe ek jou kan bedank nie.”

Sy blik verskuif eers na haar gesig en dan versigtig laer. Hy raak skielik moedswillig. “Ek sal jou sê hoe jy my kan bedank.”

“Hoe?”

“Deur saam met my Muizenberg toe te gaan vir ’n ritjie op my motorboot!”

“Wanneer?” vra sy.

“Hoekom nie sommer nou nie?” vra hy met ’n gevoel van opgewondenheid en dink: Dit sal maklik wees om voor te gee die boot se masjien het gestol. Daar is beddegoed in die kajuit. Daar behoort ook nog een of twee bottels vonkelwyn te wees.

“Sal dit nie snaaks lyk as ons die ander net so los en alleen hier verdwyn nie?” vra Julia oënskynlik effens bekommerd, maar hy kan sien dit is net ’n blufspel.

“Ag, hulle sal ons nie eens mis nie. Kom, kry jou goed bymekaar. Ek gaan net gou my motorsleutels in die kamer haal en iets droogs aantrek.”

In sy kamer steek Rudolf voor die spieëltafel vas. Hy kyk na sy goed geboude sonbruin liggaam in die spieël en glimlag selfvoldaan. Vanaand is die aand, flits dit deur sy gedagtes. Dit is tog lankal duidelik dat Julia meer as platoniese vriendskap van hom verwag! Nie dat hy daaraan dink om ’n vaste verhouding met haar aan te knoop nie. O nee, daarvoor is die lewe te lekker. Hy gaan hom beslis nie aan een vrou verbind nie. Maar so ’n bietjie pret met haar kan nie skade doen nie. Hulle ken mekaar mos darem al twee weke. Lank genoeg om verder te gaan as handjies vashou.

Op die onderpunt van die trap op pad terug swembad toe, hardloop hy so byna vir tant Betta van haar voete af. Hy gryp haar net betyds vas. “Sjoe, dit was amper. Ekskuus, hoor.”

“En waarheen is jy nou so haastig op pad?” vra tant Betta toe sy haar asem terugkry.

“Ons gaan ’n ent op my motorboot rondry.”

“Wie is jou ons? wil tant Betta skaamteloos weet.

“Ek en Julia.”

“Gmf! Moes dit kon dink. Jy gaan jou vasloop, Rudolf. Julia is daarop uit om jou aan te keer. Pas op dat sy jou nie verlei nie. Sy is baie wêreldwys en . . .”

“Mooi bly,” knip hy haar kort en verdwyn vinnig by die deur uit sodat sy nie kans kry om vir hom ’n verdere preek af te steek nie.

’n Rukkie later, terwyl hy wag vir ’n verkeerslig om na groen oor te skakel, loer hy ongemerk na Julia hier langs hom in die motor. Die jakkie oor haar baaikostuum het oopgeval en vertoon ’n volmaakte been. Hy kan die versoeking nie weerstaan om sy hand op haar knie te plaas nie. En tot sy verbasing laat sy sonder protes toe dat hy sy hand selfs ’n bietjie hoër opskuif. Sy vly net haar kop teen sy skouer en plaas ook haar hand op sy been.

’n Oomblik dink Rudolf daaraan dat hy nie baie respek vir ’n maklike meisie het nie, maar die opwinding is groter as eerbare gedagtes. Hy verskuif sy hand van haar been na haar nek om haar kop nader te trek.

“Jy moet in die pad kyk,” waarsku sy hom effens hees toe sy haar oë ná die soen oopmaak.

“Ek kyk in die pad, moenie bekommerd wees nie,” sê hy oënskynlik gelykmatig en laat glip terselfdertyd sy hand voor by haar jakkie in. Sy gryp sy hand vas om te keer, maar hy kom gou agter sy keer nie regtig nie. Haar kamtig protesterende geluidjies soen hy sommer dood.

Rudolf beskou homself as ’n goeie motorbestuurder. Maar selfs die beste bestuurder kan nie altyd vinnig genoeg reageer as hy toelaat dat sy gedagtes deur hartstog verswelg word nie. Toe die knalgeluid van ’n motorband wat bars in sy ore opklink, is hy te stadig om die motor onder beheer te bring. Dit tref die randsteen en vlietend verbeel hy hom hy hoor Julia gil terwyl dit vir hom voel asof hy self deur die lug geslinger word. Dan is alles swart om hom.

Van motors wat stilhou, geskokte omstanders en ’n ambulans met loeiende sirene weet hy niks nie.

Tant Betta het genoeg gehad van die partytjiegangers. Kort na Rudolf en Julia se vertrek gaan sy buitentoe en verwilder hulle summier van die landgoed af. Nee a, dink sy toe die laaste motor vertrek, so kan dit nie aangaan nie. Rudolf se geld sal so nooit as te nimmer hou as elke Jan Rap en sy maat so op hom teer nie. Kyk net die drank alleen. Sewe leë bottels. Sewe! Dit is buiten die bier en die vleis en die ander kos. En wie betaal vir dit alles? Rudolf! Nie een van sy sogenaamde vriende sal ’n komkommer bydra om dit vir hom ligter te maak nie.

Met ’n diep sug kyk sy moedeloos om haar rond. Kyk net die gemors! Vuil papierborde, glase en nat handdoeke lê die hele werf vol. En hierdie motorbootryery saam met Julia kan ’n verkeerde ding afgee. Julia Saunders is net op een ding uit, dink sy, en dit is om Rudolf in die hande te kry. Op verlede week se teeparty is daar oor haar gepraat. En die dinge wat van haar gesê is, is nie mooi dinge nie. Maar Rudolf is mos stiksienig. Hy kyk niks verder as na ’n meisie se gesig en figuur nie!

’n Rusteloosheid vat in tant Betta pos. Sy is skaars buite die huis, of sy is weer binne. Dit is of iets haar rondjaag. Selfs Katryn kom dit agter. En toe tant Betta die soveelste keer die potte se deksels in die kombuis oplig sonder om agter te kom die patats brand aan reg onder haar neus, kan Katryn haar ongeduld nie langer beteuel nie.

“Nee a, kom sit nou hier op die stoel en kom tot ruste. Wat is aan die gang dat mevrou so rondskarrel?”

Tant Betta gehoorsaam met ’n suggie. “Ai, Katryn, dis of my moed aan die taan is. Ek voel sommer ek beteken niks nie.”

“Nou wat laat mevrou dan so voel?”

“Hoe lank bly ek nou al hier by julle, Katryn?”

“So drie maande, dink ek. Maar hoekom vra mevrou so?”

“Drie maande, en ek het nog niks ten goede met Rudolf uitgerig gekry nie.”

Katryn frons. “Hoe bedoel mevrou dan nou?”

“Kyk, vier maande gelede, toe Rudolf se pa so onverwags daar op Malmesbury by my opgedaag en gevra het ek moet tog na Rudolf omsien as hy, Herman, dalk iets oorkom, het ek hom hand en mond belowe ek sal. Maar dis ’n baie moeiliker taak as wat ek gedink het. Rudolf steur hom hoegenaamd nie aan my teregwysings en dinge nie. Kyk, hy’t dan wraggies sy werk as rekenmeester gelos.”

“Ag, mevrou, hy’t mos nie nodig om te werk nie. Hy is dan ’n multimiljoenêr.”

“Ja, maar dis nie goed om so niks te doen nie, Katryn. Ledigheid is die duiwel se oorkussing, en erfgeld is swerfgeld. As hy op ’n dag sy oë uitvee, is daar niks oor nie. En hierdie Julia-meisiekind, ek vertrou haar nie. Ek is seker sy is net agter Rudolf se geld aan.”

Katryn antwoord nie. Sy gee ook maar net ’n suggie en raak by die kospotte doenig. En tant Betta se gedagtes gaan terug na die dag in Malmesbury toe sy haar deurklokkie hoor lui en Herman daar op die stoep aangetref het.

Sy’t nie eens geweet hy is haar halfbroer voordat hy dit self vir haar gesê het nie. Die tyd toe haar pa haar ma gelos het om met ’n jong meisie te trou, het sy en haar ma alle kontak met haar pa verbreek. Selfs na haar ma se dood wou sy nooit weer kontak maak met die man wat hulle so skandelik in die steek gelaat het om met ’n skat­ryk meisie te loop trou nie.

Tant Betta onthou met ’n tikkie skaamte dat sy nie danig vriendelik teenoor Herman was toe hy vir haar vertel het hy’s haar halfbroer nie. En dan was hy boonop een van ’n identiese tweeling! Sy wou nie weet van die tweeling wat haar pa by die nuwe vrou gehad het nie. Sy wou niks van halfbroers of haar pa se rykmanslewe weet nie. Herman was egter nie ’n man wat sy sommer kon ignoreer of afjak nie. Sy duur klere en ingevoerde motor het gesag ingeboesem. Sy het hom half teësinnig binnegenooi. Maar nie te lank daarna nie was hulle tog lekker aan die gesels oor ’n koppie koffie.

Herman het haar vertel dat haar pa nie meer leef nie. Hy is kort na sy ryk tweede vrou oorlede. Hy en sy identiese tweelingbroer was die enigste kinders en erfgename uit die huwelik. Maar ook sy broer en dié se vrou leef nie meer nie. Die enigste ware familielid wat hy nog gehad het, het hy haar laat verstaan, is sy wat Betta is.

Later het sy hom maar vir middagete ook genooi. Hy het haar vertel van haar pa se verlange na haar, Betta, en van sy wens om met haar versoen te raak. Voordat dit egter kon gebeur, is hy oorlede. Maar, het Herman gesê, sy naam leef voort, want sy seun, Rudolf, is na hul pa vernoem. En toe sy haar weer kom kry, was haar hart so sag dat sy allerhande beloftes aan haar stiefbroer gemaak het – soos dat sy na Rudolf sou omsien as Herman dalk iets moes oorkom. Min het sy gewis . . .

Hy moes seker ’n voorgevoel gehad het dat hy nie meer lank gaan leef nie, dink tant Betta die soveelste keer. Want net ’n maand na sy besoek aan haar daar op Malmesbury is hy oorsee, waar hy in ’n vliegramp omgekom het.

Sy het egter eers die dag van sy begrafnis daarvan te hore gekom. As sy nie toevallig daardie dag die koerant gekoop het nie, sou sy dit dalk nou nog nie geweet het nie. Sy moes inderhaas reëlings tref en eers drie dae na die begrafnis kon sy met ’n taxi Kaap toe vertrek om Herman se laaste versoek aan haar na te kom – om by Rudolf in die huis in te trek en na hom om te sien. Min wetende dat Rudolf geen tienerseun meer was nie, maar ’n yslik uitgegroeide mannetjie van dertig jaar!

En nou woon sy al drie maande hier by hom in sy miljoenêrswoning sonder om hond haaraf te maak teen die roekelose, onverskillige lewe wat hy lei. Want Rudolf se hele lewe bestaan net uit sport, meisies en partytjies. Aan haar teregwysings steur hy hom eenvoudig nie. Ook nie aan God se gebod nie, want hy het nog nie een keer sy voete in die kerk gesit vandat sy hier woon nie.

Tant Betta staan met ’n suggie op om ’n hoofpynpil te gaan soek. In die sitkamer val haar blik op ’n geraamde foto van Rudolf as klein seuntjie, en sy vertoef eers ’n wyle daar. Die ooreenkoms tussen hom en haar oorlede pa tref haar weer eens. Die appel het beslis nie ver van die boom geval nie. Geen wonder Rudolf lyk vandag nes sy oorlede oupa en naamgenoot nie. ’n Oomblik wonder sy hoe ’n kind van háár sou gelyk het as sy een moes gehad het. Maar dan verjaag sy die lawwe gedagte. Daar was dan nooit eens ’n man in haar lewe nie, watwou ’n kind!

Haar intrek in die miljoenêrswoning was nie soseer ’n uitkoms nie, dink tant Betta. Maar sy was moeg van sukkel om kop bo water te hou. Na haar ma se dood was sy te oud om te trou en moes sy klere en gordyne maak om aan die lewe te bly. Hier bly sy darem gratis, want dit was haar halfbroer se wens. ’n Wens wat hy selfs in sy testament vermeld het. Ook maar goed, want anders het Rudolf haar seker lankal uit die huis gesmyt. Dit is duidelik dat hy haar maar met moeite hier duld.

’n Rukkie later sien sy Katryn buite, en dan stap sy ook uit om te gaan help met die opruimingswerk, want die gejaagde gevoel wil haar net nie verlaat nie. Dit is amper soos ’n voorgevoel van die een of ander onheil, dink sy toe sy buk om ’n glas van die gras af op te tel.

“Kyk net hoeveel glase het hulle gebreek!” kla sy teenoor Katryn. “Ek wonder hoe lank gaan Rudolf se erfporsie hou as dit so aangaan.”

“Hy sal seker maar aanhou tot hy niks oor het nie, mevrou.”

“Daar sal ek ’n stokkie voor moet steek. Ek sal ’n plan moet bedink om hom tot inkeer te bring. Sy pa sal my bitterlik verkwalik as ek nie iets aan die saak doen nie. Ek’s g’n verniet sy voog nie!”

“Sy voog?” vra Katryn tong in die kies. “Maar is meneer Rudolf dan nie lankal mondig nie?”

Tant Betta hou niks van die wending wat die gesprek nou neem nie. Sy mompel iets onverstaanbaars en begin ywerig papierborde bymekaar maak. Voog of nie, sy sal ’n stokkie voor sy spandabelrigheid moet steek, dink sy. Hy kan nie sy hele lewe deur jollifikasie hou nie. As hy so aangaan, sal daar een van die dae niks van sy miljoene oorbly nie. Geld gaan baie vinniger uit as wat ’n mens dink. Sy sal moet keer voordat hy alles uitgemors het op daardie klomp leeglêers en lieplappers wat hy sy vriende noem. En Julia . . . aan haar wil sy liefs nie dink nie. Die meisiekind lyk verniet so sedig, al die vroue op die teeparty het maar te goed van haar dinge geweet.

“Dit sal maar moeilik gaan om meneer Rudolf te laat verander,” sê Katryn. “Mevrou moet weet sy ma het hom van kleins af gruwelik bederf. Vir haar was daar nie ’n soeter en mooier kind as meneer Rudolf nie. Hy’t in alles sy sin gekry. En na sy ma se dood het sy pa hom sy gang laat gaan. Meneer Herman was so besig om sy miljoene aan te vul dat hy hom weinig aan Rudolf gesteur het.”

Tant Betta gooi met ’n suggie die laaste rommel in die vullisblik.

Dit is al skemer buite toe tant Betta besluit om te gaan bad. Sy is kwalik in die bad of Katryn kom klop angstig aan die badkamer se deur.

“Mevrou, kom gou! Daar is ’n suster van die Conradie-hospitaal op die telefoon. Meneer Rudolf was in ’n motorongeluk!”

“In ’n ongeluk! Katryn, wat sê jy tog daar?”

“Die suster hou aan, sy wil met mevrou praat.”

Tant Betta spring uit die bad. Haar vingers is dom met die vasmaak van haar kamerjas. “Ek kom, Katryn. Ek kom dadelik! Ag, genadetjie tog, Rudolf, wat het jy aangevang! Daardie vinnige motors van jou . . . Ek het almelewe gesê jy gaan nog verongeluk!”

Dinge gebeur halsoorkop. Toe tant Betta weer tyd kry om te dink, is sy en Moos al op pad hospitaal toe. Die suster se woorde eggo deur haar gedagtes: Meneer Mulder se toestand is ernstig. Hoe ernstig weet sy nog nie. Sy’t so groot geskrik dat sy nie eens daaraan gedink het om die suster uit te vra nie. Sy’t net belowe om dadelik hospitaal toe te kom. En so ver as wat hulle ry, stuur sy die een gebedjie na die ander na bo. Ag Here, gee dat dit nie werklik ernstig is nie. Gee dat hy sal bly lewe. Ag, Here, ek weet hy was maar ’n wilde kind, maar spaar tog sy lewe. Ag, Here . . .

Elza Rademeyer Omnibus 6

Подняться наверх