Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 8 - Elza Rademeyer - Страница 11
8
ОглавлениеToe hulle eindelik voor haar ouerhuis stilhou, sê Bets verlig: “Dankie tog ons is veilig hier. Ek het gewonder of ons heelhuids hier gaan aankom.”
“Ja,” sê Jan, terwyl hy die deur vir Alet oophou om uit te klim. “Ek het nie gedink hierdie voertuig van Peet kan so vinnig loop nie.”
Die twee mans help om haar tasse aan te dra voordeur toe. Sy haal die voordeursleutel uit haar handsak, en draai na hulle toe. “Baie dankie vir alles. Ry maar, julle is moeg. Ek sal regkom.”
“Moet ons nie eers jou bagasie binnetoe neem nie?” vra Jan.
“Dis nie nodig nie, dankie. Ek sal dit later indra. My ma rus seker op die oomblik. Ek wil nie hê ons moet haar steur nie.”
Peet tree na vore en druk ’n kaartjie in haar hand. “Hier is my telefoonnommer. Bel my sodra jy nuus oor jou pa het.”
“Bel my ook,” groet Jan. “Hier is my nommer.”
“Ek sal so maak,” sê sy. “En nogmaals baie dankie vir alles.”
“Ek sal wag dat jy eerste bel,” sê Peet. “Anders pla ek jou dalk op ’n ongeleë tyd.”
As sy nie so sonder gevoel was nie, sou sy kon lag oor sy oënskynlike besorgdheid.
“Nou ja, kom dat ons ry,” jaag Bets die ander aan. “Ek voel so taai en vuil dat ek aan niks anders as ’n bad kan dink nie. Ek sal jou môre bel om te hoor hoe dit gaan.”
Toe hulle ry, sluit sy die voordeur oop, en sien die sitkamer is leeg. Dit laat haar onthou van die trekkery, en skielik raak dit ligter in haar. Die trekkery kon nie op ’n meer geleë tyd gebeur het nie. Nie een van hulle het haar nuwe adres nie. Hulle het ook nie haar selfoonnommer nie, want sy’t dit juis laat verander toe Wouter haar so gepla het. Toe frommel sy die kaartjies wat Peet en Jan vir haar gegee het op, gaan gooi dit in die vullisblik in die kombuis, en loop kamer toe om haar ma te gaan soek.
“Is dit nou die tyd om hier aan te kom!” raas haar ma nadat hulle gegroet het. “Jou pa kon al dood gewees het.”
“Ons het so vinnig gery as wat ons kon. En ek hét Ma mos gesê watter tyd om ons te verwag.”
“Wat gaan van my word?” raak haar ma skielik weer tranerig. “Wie gaan na my kyk as jou pa doodgaan?”
“Moenie aan so iets dink nie, Ma. Pa sal nie doodgaan nie.”
“Kind, ek het lankal ’n voorgevoel gehad dat iets verskrikliks met hom gaan gebeur. En die gesig wat ek voorverlede nag gehad het …”
“Og, is die ou doemprofeet al weer besig om jou ook te probeer oortuig dat jou pa gaan sterf?” kom tant Stien al pratende die vertrek binne. “Dag, my kind. Hoe gaan dit met jou? Eintlik onnodig dat ek vra, want kyk net hoe bruingebrand en gesond lyk jy!”
“Naand, tannie Stien. Baie dankie dat tannie vir Ma kom bystaan het.”
“Jong, ja, hoe jou pa dit uithou met hierdie suster van my, weet ek nie aldag nie. Sy begin my ook al graf toe praat met haar voorbodes en dinge. Maar wag, ek het lekker vars koffie gemaak. Jy’s seker dors, of hoe?”
“Dankie, tannie, dit sal lekker smaak. Ek wil net gou my tasse in die kamer bêre.”
“Ek help jou gou daarmee,” sê haar tante. “Dan kom drink ons koffie agterna.”
“Hoe siek is Pappa regtig, tannie?” wil Alet weet toe hulle buite hoorafstand van haar ma is.
“Ek weet nie wat om vir jou te sê nie, my kind. Met beroerte weet ’n mens mos nooit. Ek en jou ma kom nou net van die hospitaal af. Hy’t nog nie sy bewussyn herwin nie, maar hoofsaak is dat hy nog lewe. Ons kan maar net bid vir hom.”
“Ek wil net gou koffie drink, en dan dadelik hospitaal toe ry.”
“Jy’t dan so ’n lang pad agter die rug. Moet jy nie eers ’n bietjie rus nie? Daar is tog nie veel wat jy in hierdie stadium vir hom kan doen nie.”
“Ek sal nie tot rus kom voor ek hom nie self gesien het nie.”
“Nou goed, maak klaar dat jy kan ry.”
Alet skrik toe sy by die hospitaal kom en haar pa sien. Hy is beslis baie siek. Haar beroep het haar geleer dat daar enigiets in so ’n geval kan gebeur. Maar sy wil nie aan die dood dink nie. Sy moet net bid. Aanhoudend bid, want as hy sterf of verlam is … Hoekom het sy nie haar vakansie liewer by die huis deurgebring nie? Hoekom het sy dit in die Richtersveld gaan vermors, boonop haar hart op die spel geplaas deur met ’n man soos Peet deurmekaar te raak? Die selfverwyt sal haar verteer as haar pa moet sterf, as sy nie eens vir hom kan sê sy’s jammer sy was nie daar toe hy siek geraak het nie …
Die son is amper op toe sy huis toe ry. Haar ma en tannie Stien is dadelik by om te hoor hoe dit met hom gaan.
“Sy toestand is nog dieselfde as gistermiddag. Ons moet net geduldig wees.”
“Sien, ek het jou gesê,” wend haar ma haar na haar suster. “Hy gaan dit nie maak nie. Wat gaan van my word?”
“Hou op met jou treurmares, Truida. Jy sal hom doodpraat soos jy aangaan.” Sy rig haar tot Alet: “Hier het iemand met die naam Peet gebel. Hy’t gevra dat jy hom moet bel sodra jy terug is van die hospitaal.”
“Ek sal later. Hoe laat verwag julle die treklorrie?”
“Seker so teen nege-uur. Maar moet jou nie bekommer nie, alles is ingepak, dis net vir oplaai. Kom eet gou ietsie, dan slaap jy tot hulle hier is. Ek het vir jou ’n bed opgemaak op ’n enkelbedmatras op jou kamervloer.”
Tannie Stien is nie iemand wat van teëstribbeling hou nie. Alet is in elk geval so tam dat sy sommer regop kan staan en slaap. Sy val dadelik weg in ’n diep slaap, en dis reeds tienuur toe tannie Stien haar kom wakker maak.
“Die treklorrie is weg met die laaste goed. Dis net jou beddegoed en tas wat agtergebly het. Dié kan ons sommer in jou motor laai. En o, ja, hier het ’n hele paar mense gebel. Weer Peet, en Jan en Bets ook. Ek het vir hulle gesê jy slaap, maar dat jy sal terugskakel sodra jy wakker is.”
“Dankie, tannie Stien.” Maar sy glimlag wrang toe haar tante die vertrek verlaat. Laat hulle maar lui. Dis nog net ’n rukkie voor hulle nie antwoord gaan kry nie. Niemand sal haar weer kan verpes tot sy terug is by die werk nie.
Maar net toe hulle die huis wil verlaat, lui die telefoon in die gang. “Dit sal vir jou wees,” sê tannie Stien, “gaan antwoord gou.”
Sy weifel, maar dink dan daaraan dat dit die hospitaal kan wees. Dit is egter Peet se stem wat in haar oor opklink. “Voel jy darem nou beter, nadat jy ’n rukkie geslaap het?”
“Baie beter, dankie.”
“Kan ek daar na jou toe kom?”
“Ongelukkig nie nou nie. Ons is ’n bietjie besig met … e … ander dinge.”
“Hoe gaan dit met jou pa?”
“Nie goed nie.”
“Ek is jammer om dit te hoor. Is daar enige kans dat ons mekaar binnekort kan sien?”
“Wanneer gaan jy vir jou tante in Pretoria kuier?”
“Daar is geen haas nie. Ek bly eers hier, vir ingeval jy my nodig kry.”
“Jy hoef nie. My pa se toestand kan baie lank onveranderd bly. Dis dalk beter as jy ry.”
“Is jy seker?”
“Ja.”
“Goed, maar ek wil jou graag eers kom groet.”
Sy moet keer dat hy niks agterkom van die trekkery nie, flits dit deur haar gedagtes. “Miskien moet jy my maar vanaand tydens besoektyd by die hospitaal kom groet. Of wou jy vroeër ry?”
“Nee, dis reg so. Ek sal dan môreoggend ry. Is jy seker daar is nie iets waarmee ek jou intussen kan help nie?”
“Nee, niks nie, dankie.”
“Goed, dan sien ek jou vanaand.”
Sy verwens haarself dat sy nie sommer vir hom oor die telefoon gesê het sy is nie van plan om verder met haar te laat mors nie. Maar met haar ma en tannie Stien wat binne hoorafstand vir haar gestaan en wag het, kon sy dit nie doen nie. Die laaste ding waarvoor sy lus is, is ’n lot verduidelikings. “Sluit die voordeur, dat ons sommer die sleutel by die nuwe intrekkers gaan afgee,” sê haar ma toe hulle ’n laaste keer by die huis uitstap.
Sy sorg dat sy self die bos sleutels vir die nuwe intrekkers gaan gee. Gelukkig vra hulle nie wat hul nuwe adres is nie, anders sou sy noodgedwonge ’n witleuentjie moes vertel het, dat sy nog nie die nuwe woonadres kan onthou nie.
Die aand toe hulle regmaak om hospitaal toe te gaan, draai sy opsetlik sodat hulle eers ’n hele ruk ná besoektyd daar opdaag. Maar haar hoop dat Peet se geduld sou opraak, is tevergeefs. Toe hulle stilhou, kom hy dadelik na hul motor toe aangestap.
Sy kan nie anders as om te verstyf toe hy spontaan sy arms om haar vou en haar op die mond soen nie. Haar ma en tannie Stien se nuuskierige blikke forseer haar om hom aan hulle voor te stel. Dan sê sy vinnig: “Dankie dat jy kom groet het. Maar jy sal ons nou ongelukkig moet verskoon, ons is klaar laat. Ek hoop jou reis Pretoria toe verloop voorspoedig.”
Hy frons. “Ek sal hier vir jou wag tot jy terugkom van jou pa af.”
“Ons gaan lank by hom bly.”
“Gaan groet hom gou, dan kom jy terug. Ek wil met jou praat.”
“Wat wil jy met haar praat, wat jy nie voor ons ook kan sê nie?” vra haar ma ewe goedsmoeds op ’n vyandige stemtoon.
“Oor dinge wat net ons twee raak, tannie.” En tot Alet: “Toe, loop eers, ek wag hier vir jou.”
“Wie is dié man?” wil haar ma weet toe hulle die hospitaal binnestap.
“Dis Bets se vriend, onthou Mamma hom dan nie?”
“O. Ek wou sê hy lyk vir my bekend. Maar hoekom soen hy jou dan asof hy jou wou opvreet?”
“Dis sommer Ma se verbeelding. En praat sagter, ons is in ’n hospitaal.”
Haar pa se toestand is nog maar dieselfde. Sy wik en weeg lank of sy moet teruggaan na Peet toe. Besluit dan oplaas dit sal nie help om hom te ontwyk nie. Hy het vasberade genoeg gelyk om die hele nag daar buite op haar te wag.
“Ek het ’n draai by jou pa gemaak, en met sy dokter gesels,” sê hy toe sy buite by hom aansluit. “Hy sê daar is verbetering. Gering, maar genoeg om hom te laat glo jou pa sal dit maak.”
“Hoekom was jy by my pa?” vra sy, ietwat oorbluf oor sy belangstelling.
“Om te kyk hoe dit met hom gaan. Kom ons gaan sit daar op die bankie onder die boom. Ek het iets vir jou saamgebring.”
Sy laat haar willoos daarheen lei, en kyk fronsend na die pakkie wat hy uit sy baadjiesak diep en na haar toe uithou. “Wat is dit?”
“Maak oop en kyk.”
“Is dit … ’n geskenk?”
“Ja. Net om dankie te sê dat jy saam was Richtersveld toe. Sonder jou sou die vakansie nie dieselfde gewees het nie.”
Sy glimlag wrang. “Ja, sonder jou sou dit ook nie dieselfde gewees het nie.”
“Maak oop die pakkie, en kyk of jy daarvan hou.”
“Dankie, maar ek wil niks van jou hê nie.”
Hy kyk haar deurdringend aan. “Hoekom nie?”
“Jy behoort te weet hoekom nie.”
Hy frons. “Verbeel ek my, of is daar iets verkeerd? Hoekom is jy so afsydig? Is dit net jou pa se beroerte wat jou pla, of is daar iets anders?”
“Ag, Peet, moenie langer aan my torring nie. Vat jou pakkie en gaan gee dit vir jou volgende minnares. Ek wil dit nie hê nie.”
Hy kyk haar onthuts aan. “Wat op aarde bedoel jy?”
“Presies wat ek sê.”
“Ek verstaan nie waarvan jy praat nie. Minnares … wat bedoel jy daarmee?”
“Dat die speletjie tussen ons twee nou verby is.”
“Speletjie!” Hy staan vinnig van die bank af op. “Wat bedoel jy met ’n speletjie?”
“Ek praat van die dinge wat tussen ons gebeur het. Die flankeerdery. Vakansieromanse, of wat jy dit ook al wil noem.”
“Alet …?” Hy trek sy asem skerp in. “Wil jy vir my sê dit was vir jou net ’n speletjie?”
“Natuurlik! Wat anders?”
“Ek kan my ore nie glo nie.”
Sy kan die ongeloof in sy stem hoor, en verbaas haar oor sy goeie toneelspel. “Jy’t tog nie gedink ek is besig om op jou verlief te raak nie, het jy?”
Hy skud sy kop. “Is jy ernstig, Alet? Bedoel jy wat jy kwytraak?”
“Ek is jammer as jy anders geglo het.” Sy haal haar skouers op. “Maar dis soos dit is. En nou moet jy my asseblief verskoon. Ek wil na my pa toe gaan.”
“Net voordat jy gaan: is daar iemand anders?”
Haar gedagtes flits terug na die staptog in die Richtersveld waar sy vir Jan die leuen opgedis het oor ’n getroude man in haar lewe. “Ja, daar is.”
“Wie is hy?”
“Wat traak dit jou wie hy is?”
“Sê my wie dit is. Ek daag jou uit om vir my te sê wie hy is.”
“Ek is nie bereid om vir jou te sê wie hy is nie.”
Hy kry haar onverwags aan die skouers beet. “Sê! Sê vir my wie is die vent!”
Sy heftigheid laat haar skrik. “Nee!”
“Hoekom is jy bang om vir my te sê wie hy is?”
“Omdat hy getroud is.”
Hy laat haar so skielik los dat sy amper van die bankie afval. Sy oë raak kil, en by sy mondhoek spring ’n spiertjie. “In daardie geval het ons niks verder vir mekaar te sê nie.”
Toe hy met haastige treë na sy motor loop, spring sy op en hardloop die hospitaal binne. Maar dis onmoontlik om na haar pa toe terug te gaan, want die trane wat al so lank agter haar ooglede brand, begin oor haar wange stroom. Sy haal ’n badkamer net betyds voordat ’n rou snik oor haar lippe bars. Toe huil sy vir die eerste keer. Oor alles wat kón gewees het as hy die man was wat sy gedink het hy is. Oor hy nié so is nie; oor hy kans sien om nog verder met haar te mors; oor hy nie eens berou toon dat hy haar so afskuwelik bedrieg het nie; oor sy so ’n gek was om te glo hy’t haar lief; en oor sy verkies het om eerder ’n leuen te vertel as om hom met die waarheid te konfronteer oor sy en Bets se dinge in die Richtersveld.
Dit neem ’n tydjie om tot haar sinne te kom, haar gesig af te spoel en haar grimering op te knap. En toe sy eindelik by haar pa se kamer instap, heers daar groot opgewondenheid om sy bed. “Hy’t sy oë ’n slag oopgemaak,” fluister haar ma. “Die suster sê dis ’n goeie teken, al het dit nie gelyk of hy my eers raaksien nie.”
Soos die nag vorder, word dit duidelik dat daar wel tekens van beterskap is. Elke fladdering van haar pa se ooglede, elke suggie wat hy gee, laat die hoop in haar groei dat hy besig is om sy bewussyn te herwin. Toe hy uiteindelik ure later sy oë oopmaak en fronsend staar na haar ma, tannie Stien, en toe na haar, wel daar trane op in haar oë van blydskap. “Hallo, Pappa.”
Sy mond gaan oop, maar hy sukkel om te praat. Dis net ’n effense mompeling wat oor sy lippe kom.
“Pappa is in die hospitaal,” verduidelik sy. En beantwoord al die vrae wat sy dink daar by hom kan wees, sonder dat hy hoef te praat. “Nou moet Pappa net rus sodat jy gou gesond kan word. Ek en Mamma en tannie Stien gaan ook nou rus, maar ons sal gou weer kom kuier.”
“Hoekom het jou pa nie met ons gepraat nie?” wil haar ma weet toe hulle die hospitaal verlaat. “Gaan hy nou vir die res van sy lewe stom wees? Hoe kom ’n mens met ’n stom mens oor die weg?”
“Ma moet asseblief onthou Pappa het pas by die dood omgedraai. Dit gaan lank neem om gesond te word.”
“Hmm, lyk my jou ma wil liewer ’n dooie man hê as een wat stom is,” sê tannie Stien op haar reguit manier. “Pleks dat sy dankbaar is dat hy leef!”
In die dae wat volg, toon haar pa goeie vordering. Sy spraak kom ook vinnig terug, maar die gedeeltelike verlamming aan die een kant van sy lyf is sodanig dat hy nie sonder hulp oor die weg kan kom nie. Dit plaas Alet in ’n penarie, want saam met haar pa se beterskap het sy koppigheid ook teruggekeer. Hy wil opsluit hê dat sy haar werk moet los en by die huis bly om hom en haar ma te versorg.
“Maar, Pappa, ek kan nie sommer net wegbly van my werk af nie. Ek sal ’n kennismaand moet uitwerk. Ek kan ook nie op julle teer nie. Ek moet tog ’n eie verdienste hê.”
“Jy weet ek is vermoënd genoeg om jou dieselfde salaris te betaal as wat jy by die hospitaal kry. Gaan praat met die matrone en verduidelik die omstandighede aan haar. As jy dit nie wil doen nie, sal ék dit doen. Of verwag jy ’n wildvreemde mens moet my in die badkamer help? Of dat ek my lewe by vreemdelinge in ’n motor moet waag wanneer ek vir fisioterapie moet gaan?”
“En as Pappa gesond is, sit ek sonder werk.”
“Jy sal altyd weer werk kry. Toe, gaan praat met die matrone. Die dokter het gesê ek kan oormôre huis toe gaan.”
“Ek moet oormôre op diens wees. My vakansie is verby, Pa. Ek sal eers nog ’n maand daar moet werk voor ek kan huis toe kom.”
Maar die volgende dag toe sy haar pa gaan besoek, het hy voorwaar self die matrone geskakel en die probleem met haar uitgeklaar. “Sy sê sy’s spyt hulle moet jou verloor, maar sy verstaan die omstandighede.”
Daar is nie veel tyd in die daaropvolgende weke om oor Peet te tob nie. Haar pa is amper nog meer ’n handvol as haar ma, en sy afhanklikheid van ander mense maak hom ontsettend ongeduldig. Die nuwe huis en tuin en haar ouers se versorging hou haar so besig dat daar nie tyd is vir ander dinge nie. Maar soms betrap sy haarself dat sy wonder of Bets hom toe regtig eenkant toe gesmyt het. En of hy toe vir sy tante in Pretoria gaan kuier het. Dit maak haar kwaad vir haarself. Vir wat verwerdig sy haar nog om aan hom te dink!
Haar pa moet gereeld vir fisioterapie gaan, en tuis moet sy hom help met oefeninge vir sy verswakte spiere. Saans is sy gelukkig so pootuit dat sy aan niks anders as aan slaap kan dink nie. Maar soms droom sy. Van De Mond, die halfmensboom, die bokwagtershut, die swemgate in die rivier … En kreun haarself wakker. Dan verwens sy die seer in haar, oor dit nie wil weggaan nie.
Haar pa herstel merkwaardig vinnig. Drie maande ná sy ontslag dring hy daarop aan om self sy motor te bestuur na die dokter se spreekkamer.
“Net as die dokter sê Pappa mag,” sê Alet ewe koppig. “Ek sal self met hom praat.”
Haar pa hou niks daarvan dat sy hom teëgaan nie, dus sorg sy dat sy eerste by die motor is en self agter die stuurwiel plaasneem.
“Jy maak of ek ’n invalide is,” brom hy onvergenoegd toe sy wegtrek. “Maar praat met die dokter, hy sal jou gou vertel ek makeer niks.” Brom, brom, brom, tot by die spreekkamer. En daar aangekom, laat hy haar nie toe om alleen met dokter Nienaber te praat nie, maar hinkepink vinnig agterna toe sy die ondersoekkamer binnegaan. “Dokter, moet jou nie aan hierdie dogter van my steur nie. Vertel haar watter gesonde man ek is. Sê vir haar ek mag my motor self bestuur. Dis tyd dat sy nou ophou om my soos ’n baba te behandel.”
Dokter Nienaber is nie meer vandag se kind nie. Hy glimlag, en beduie dat hulle in die stoele oorkant sy lessenaar moet plaasneem. Begin toe oor heeltemal ander dinge gesels, totdat Alet agterkom haar pa se bui het heeltemal gesak. En later, nadat hy haar pa deeglik ondersoek het, gee hy hom dan ook toestemming om te bestuur, solank hy voorlopig wegbly van besige strate, soos in die middestad. “Dit sal spanning meebring,” verduidelik hy. “Iets wat jou gesondheid in hierdie stadium meer sal benadeel as bevoordeel. Maar hier rond voorsien ek nie probleme nie. Dis ’n stil voorstad met min verkeer.”
Haar pa is heeltemal tevrede. “Ek het in elk geval niks in die stad verloor nie, so daarmee het ek nie ’n probleem nie.”
Hul afspraak was die laaste vir die middag, dus stap dokter Nienaber saam met hulle na buite. “Jy kan maar sluit,” sê hy vir die ontvangsdame op pad uit. En toe hulle buite kom: “Ek verkeer in ’n penarie. My ontvangsdame het vanoggend uit die bloute vir my kom sê haar man het ’n oorplasing gekry, so sy sal nog net ’n week vir my kan werk. Ek weet nie waar ek so vinnig iemand in haar plek gaan kry nie.”
Haar pa steek vas. “Alet kan vir jou kom werk. Sy’s baie bekwaam. Jy kan die hospitaal bel, hulle het net goeie dinge te sê oor haar.”
“Wag nou, Pappa.” Alet keer vinnig. “’n Mens is nie so voorbarig nie. Dokter sal iemand anders kry. Ek is dan juis by die huis om na Mamma en Pappa om te sien.”
“Dokter, ek ís mos gesond, is ek nie?” En toe dokter Nienaber glimlaggend sy kop effens knik, gaan hy voort: “Daar hoor jy dit nou uit die perd se bek. Ek is gesond. En wie dink jy het al die jare na jou ma omgesien? Ek sal dit weer doen. Jy gaan mos nog saans by die huis wees om te doen waarvoor ek nie kans sien nie.”
“Pappa praat sommer onsin,” sê Alet, maar voel tog hoe die opgewondenheid in haar posvat by die vooruitsig om weer te kan werk. Selfs om ’n bietjie van die huis weg te kom. Want haar ma se gedurige gekla en haar pa se koppigheid maak dat sy al hoe meer op haar tande moet kners om nie ergerlik te raak nie.
“Ek is heeltemal tevrede met jou pa se gesondheid,” sê dokter Nienaber. “Dus, as jy jou weg oopsien om vir my as ontvangsdame te kom werk, sal ek baie verlig wees. Al is dit dan ook net tydelik.”
Sy stry nie langer nie. Dokter Nienaber lyk na ’n gawe man, en sy voel lus vir die nuwe uitdaging. “Goed, ek aanvaar dokter se aanbod. Mits ek ’n dag of twee vroeër kom sodat die huidige ontvangsdame my kan touwys maak. Ek het nog net in ’n hospitaal gewerk, so van die verpligtinge sal vir my vreemd wees.”
“Jy’s welkom om enige dag te kom. Ek sal mevrou Sieberts laat weet.”
Die dae spoed ineens verby, en toe sy haar weer kom kry, neem mevrou Sieberts van hulle afskeid, en is sy alleen in beheer van ontvangs. Hoewel die werk nie heeltemal dieselfde is as waaraan sy gewoond was nie, het sy vinnig geleer, en sy geniet die nuwe omgewing.
Die volgende dag toe ’n lenige donkerkopman die spreekkamer binnestap en by die toonbank kom vassteek, neem sy aan hy is een van dokter Nienaber se pasiënte. “Goeiemôre, meneer. Waarmee kan ek help?”
Hy glimlag stadig en leun luiweg teen die toonbank aan. “Is dit hoe my pa se nuwe ontvangsdame lyk?”
“As u bedoel dokter Nienaber se ontvangsdame, ja.”
“Ek het nie geweet hy’t sulke goeie smaak nie. Mag ek my pa sien? Ek wil net hoor of hy gou vir my ’n paar rand kan leen.”
“As u bereid is om te wag totdat hy klaar is met sy huidige pasiënt, ja.”
“Ek sal wag.”
Toe hy op ’n stoel in die wagkamer plaasneem, beloer sy hom onderlangs. Hy is ongetwyfeld baie aantreklik. Maar nie so jonk dat hy nog nie self ’n verdienste kan hê nie. Dit beteken net een ding: hy is van dié soort wat te lui is om te werk en op sy pa se inkomste teer. Wat ’n jammerte, dat so ’n sterk jong man so ambisieloos is.
’n Rukkie later, op pad uit, kom steek hy weer voor die toonbank vas. “Dankie dat jy my gou laat deurglip het,” sê hy en druk ongeërg ’n bondel note in sy hempsak. “My pa het gesê, as jy ja sê, mag ek jou vanaand uitvat vir ’n fliek. Hoe lyk dit?”
“Nee, dankie,” sê sy misnoegd. “Ek het beter dinge om te doen.”
“Soos wat?”
“Ek versorg my ouers, meneer. Hulle het my nodig.”
“My naam is Jasper. Goed, dan maak ons dit ’n ander keer. Wanneer jy in ’n beter bui is.”
Sy gluur hom behoorlik agterna toe hy buitentoe loop. Wat dink hy van haar? Verbeel hy hom sy sal van hom notisie neem oor hy aantreklik is? Dat sy boonop saam met hom sal gaan fliek, en dit met geleende geld!