Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 8 - Elza Rademeyer - Страница 4
1
ОглавлениеDie onvergenoegde uitdrukking op die vrou in die rolstoel se gesig maak dat Alet nader loop en haar arm om haar ma se nek sit. “Dis net tien dae wat ek van die huis af gaan weg wees, Mamma. Dis mos nie so lank nie.”
“Nee, dis reg,” sê Truida Britz sarkasties. “Pak jou tasse. Vandat ek in die rolstoel vasgekluister sit, het ek tog geen sê meer in hierdie huis nie. Gaan flenter maar rond saam met die klomp vreemde mense, en moet jou nie oor my bekommer nie. Ek sal regkom.”
Alet trek haar arms terug en gee ’n suggie. “Dis darem nie net vreemde mense nie, Mamma. Bets gaan ook saam. En die ander meisies wat saamgaan, is almal kollegas van haar.”
“En die mans? Het Bets dan nie gesê daar gaan mans ook saam nie?”
“Bets en die ander meisies se kêrels gaan ook saam, ja. En Bets se vriend is ’n dokter. So, as iemand siek word, gaan ons sommer hulp byderhand hê.”
“Bets is ’n loskop. ’n Mens kan nie op haar staatmaak nie. En haar vriend het ons nog nooit met ’n oog gesien nie.”
Haar pa loer gesteurd oor sy koerant. “Vrou, los tog die kind. Sy was drie jaar laas ’n bietjie weg van die huis af. Gun haar die ou vakansietjie.”
“Ja, jy’s gou om te sê sy moet met vakansie gaan. Maar wat van my? Wanneer laas was ék met vakansie?”
“Twee maande gelede,” herinner Hans Britz sy vrou ongesteurd. “Of het jy vergeet van die tien dae wat ons twee by Montagu se swembad deurgebring het?”
“Wat vir ’n vakansie was dit? Die muskiete het ons amper opgevreet. En die gestaar van die mense … ’n Mens sou sweer hulle het nog nooit iemand in ’n rolstoel gesien nie!”
Die volgende oomblik is daar ’n klop aan die deur, en kom Bets die kombuis soos ’n warrelwind binne. “Ek was eers by die voordeur, maar toe hoor ek julle stemme hier in die kombuis. Hallo, tannie. Hallo, oom. Alet, ek het gou daardie lys saamgebring van alles wat ons moet saamneem Richtersveld toe.”
Alles sommer so in een asem, dink Alet by haarself. En net op die regte oomblik om ’n argument tussen haar ouers te verhoed. “Dis gaaf. Kom ons gaan sit daar langs die tafel, dan werk ons dit gou deur.”
“Hoekom lyk tannie so bekaf? Vra Bets ongeveins toe sy vir haar ’n stoel onder die tafel uittrek.
“Bekaf, ék?” vra die ouer vrou oënskynlik verbaas. “Jy verbeel jou seker. Ek het nou net vir Alet gesê ek is so bly jou doktersvriend gaan ook saam. Dit laat my sommer gerus voel.”
Alet en haar pa knipoog vinnig vir mekaar. Hulle het al gewoond geraak aan Truida se manier om haar woorde te verdraai. Dis omdat sy van Bets hou, weet hulle. Maar erken sal sy dit nie maklik nie. Sedert die motorongeluk waarin sy die gebruik van haar bene verloor het, is sy voortdurend swartgallig en pruttelrig. Dis omtrent net Bets wat dit regkry om haar soms uit haar kokon van selfbejammering te laat kruip.
“Julle sal Peet môreoggend ontmoet wanneer ons Alet kom oplaai,” sê Bets. “Hy is die wonderlikste, mees fantastiese man in die hele wêreld!”
Alet glimlag maar net. Daar was al vele sulke wonderlike, mees fantastiese mans in haar vriendin se lewe. “Kom, dat ons begin met die lys.”
“Ek kan nie verstaan hoekom julle so in die boendoes wil gaan vakansie hou nie,” begin Truida weer. “Sê nou julle word aangeval of vermoor!”
“Dis baie veiliger in die Richtersveld as hier in die stad, tannie. Die mense wat daarheen gaan, is natuurliefhebbers, nie boewe nie.”
“Wie gaan nou almal saam?” vra Alet se pa. “Hoeveel mense gaan julle wees?”
“Twintig altesaam,” sê Bets, en knipoog vir Alet. “Ek het jou nog nie gesê nie, my broer Jan gaan ook saam. Ek het hom oplaas kon ompraat.”
Dis nuus vir Alet. Bets hét genoem dat sy haar broer wil saamvra as maat vir haar, omdat sy die enigste meisie sonder ’n mansvriend gaan wees. Maar sy’t nie geweet Bets sou haar plan uitvoer nie. “En sê nou ons twee kom nie oor die weg nie? Dit kan deksels ongemaklik raak as twee mense wat nie van mekaar hou nie, tien dae lank mekaar se geselskap moet verduur.”
“O, ek twyfel nie daaraan dat julle van mekaar gaan hou nie. Julle sal dadelik kliek. Om die waarheid te sê, ek ruik al klaar romanse in die lug.”
“Jy moenie sulke dinge sê nie,” sê Truida onthuts. “Alet kan nie nou aan trou dink nie. Wat moet dan van my word?”
“Haai, tannie kan mos nie Alet vir altyd aan tannie se rokpante vasbind nie. Sy’s al ses-en-twintig! Tannie wil tog nie dat sy op die rak beland nie!”
“Na wie aard jou broer?” vra Truida. “Aard hy na jou?”
“Nooit nie! Ons twee verskil hemelsbreed. As ek so sedig soos hy moet wees, sal ek sweerlik krampe kry.”
Alet sluk haar lag terug. “Hoe gaan ons ry?” vra sy. “Ek bedoel, wie ry saam met wie?”
“Jy en Jan ry saam met my en Peet in Peet se motor. En so van Peet gepraat, hy gaan in die Richtersveld verjaar. Wat dink julle kan ek vir hom koop?”
“Jy sal mos beter as ons weet wat om vir jou kêrel te koop,” sê Alet. “Ek sal jou net aanraai om nie ’n té duur geskenk te koop nie. Netnoumaar is hy ook ou nuus, en huil jy weer lang krokodiltrane oor jy jou geld op hom vermors het.”
“Nooit! Hierdie keer is dit vir ewig en altyd. Ek het hom liewer as die lewe self! Hy’s heeltemal anders as die ander ouens met wie ek uitgegaan het. Regtigwaar! Het ek julle al vertel hoe ons ontmoet het? Hoe ek by ’n pasiënt se bed gestaan, hy daar ingestap het, en ek nooit geweet het hy’s die nuwe dokter …”
“Jy hét ons al vertel,” knip Alet haar kort. “Ek is nie lus om die storie nog ’n keer te hoor nie. Sê liewer hoe laat julle my môreoggend kom oplaai.”
“So halftien se kant. Ons gaan nie met die gewone hoofpad ry nie, maar op alternatiewe grondpaaie. Peet sê ons moet ’n ander deel van die land ook sien.”
Toe hulle klaar is met die lys, voel Alet hoe die opgewondenheid haar ook eensklaps beetpak. Tot dusver wou sy nog nie glo sy gaan met verlof nie, want sy was nog maar altyd bang haar ma gaan weer ’n stokkie daarvoor steek. Maar dinge is nou besig om tot ’n punt te kom. Daar kan darem seker nie na die volgende dag toe iets gebeur wat haar sal verhoed om te gaan nie.
“Haai, ek beter waai as ek nog vir Peet ’n geskenk wil koop,” sê Bets. En terwyl Alet saam met haar motor toe stap, wonder sy weer hardop: “As ek tog net geweet het wat om vir hom te koop.”
“Speel hy gholf?”
“Ja, hy speel glo af en toe, wanneer hy ’n kansie kry.”
“Koop dan vir hom ’n paar gholfballe, of ’n strooihoed. Ek sien dis deesdae mode dat die mans ’n strooihoed dra wanneer hulle gholf speel.”
“Dankie, man. Ek dink dis wat ek gaan doen. Vir hom ’n hoed en ’n paar balle koop. Ek was nog nooit in my lewe so gelukkig soos vandat ek Peet ontmoet het nie.” Sy steek skielik vas om Alet skerp aan te kyk. “En hy’s nie Wouter nie, hoor. Ek krap jou oë sonder gewetenswroeging uit as jy probeer om hom ook van my af te vry.”
Alet gee maar net ’n suggie toe Bets wegdraai en in haar motor klim. Sy’t al lankal opgehou om haar vriendin te probeer oortuig dat sy heeltemal onskuldig is wat Wouter aanbetref. Dat sy die vent se opdringerige attensies nie kon verdra nie, en al haar dae gehad het om van hom ontslae te raak. Maar Bets wil haar nou maar eenmaal nie glo nie. Sy verkies om te dink Alet het haar kêrel van haar afgerokkel.
Dit was so byna of hul jare lange vriendskap was daarmee heen ná die Wouter-episode. As dit nie was dat Bets kort daarna vir Peet ontmoet het nie, sou sy seker nooit weer haar voete hier by hulle aan huis gesit het nie. Want dis nou een ding van haar vriendin, jy moet nie eers skeef kyk na ’n kêrel van haar nie, laat staan nog in haar slaai krap!
Toe haar motor om die straathoek verdwyn, glimlag sy nogtans. Hulle twee kom al ’n lang pad saam. Saam op skool gewees, en saam op universiteit. Bets se geaardheid maak dat jy nooit lank vir haar kan vies wees nie. Waar sy gaan, vrolik sy die lewe op. Op universiteit was sy voortdurend in die sop oor die dinge wat sy aangevang het. Soos om in die middel van die nag aan ’n laken by die koshuisvenster uit te hang om avokadopere van ’n boom af te pluk. Of perskes uit die dekaan se tuin te gaan steel. En al het hulle ná universiteit by verskillende hospitale gaan werk, kuier hulle nog gereeld oor en weer.
Die volgende oggend daag Bets-hulle omtrent ’n uur vroeër op as wat sy gesê het. Gelukkig het Alet klaar gepak. Toe sy die voordeur oopmaak en die twee mans sien, glo sy dadelik sy weet wie is wie. Die aantreklike blondekop sal Peet wees, en die minder opvallende man met die vaal hare Bets se broer, Jan. Groot is haar verbasing dus toe Bets hulle aan haar voorstel en sy moet hoor dis net andersom. Dat Jan die aantreklike een is. Nie dat Peet uitgeskel kan word as lelik nie, dink sy by haarself, maar in teenstelling met al Bets se vorige kêrels, lyk hy baie gewoon.
“Wil julle eers koffie drink, of is julle haastig?”
“Ek het nog nie kans gehad om koffie te drink nie,” sê Jan. “Dankie, ons sal beslis van jou aanbod gebruik maak.”
Eintlik het sy gehoop hulle wil liewer nie binnekom nie. Want met haar ma in die nabyheid, weet jy nooit wat sy alles gaan kwytraak nie. Hulle is dan ook skaars aan haar ma voorgestel, of sy sê reguit vir Jan hy moenie trouplanne in sy kop kry met Alet nie. “Sy’s my enigste kind. Die man wat haar wil hê, sal moet wag tot ek dood is, want wie gaan vir my sorg as sy uit die huis moet trek?”
“Vrou, hou op nonsens praat,” keer haar pa. “Wie kyk bedags na jou wanneer Alet in die hospitaal werk?”
“Ja, maar jy kan nie álles vir my doen nie.”
“Hoe is dit dan dat tannie in ’n rolstoel is?” vra Jan.
“Nee, dis hierdie hardkoppige man van my se skuld! Ek het vir hom gesê ons moet by my suster op Worcester oorslaap toe dit begin sneeu. Maar hy wou nie na my luister nie, toe loop foeter hy met die motor van die bergpas af, en hier sit ek nou. ’n Volslae invalide.”
“Die motor het aan die gly geraak op die sneeu,” verduidelik Alet ongemaklik. “En my ma is darem nie ’n volslae invalide nie. Sy’t net die gebruik van haar bene verloor.”
“Wat is dit anders as ’n invalide? Ek kan niks meer doen wat ek voorheen kon doen nie.”
Alet verwens haarself dat sy hoegenaamd ’n koffiedrinkery voorgestel het. Wat moet die vreemde mans van haar ma se houding dink? Gelukkig neem haar pa die res van die tyd die geselskap oor. Sy voel nogtans verlig toe Peet ná die koffie sê hulle moet dadelik vertrek, want die res van die toergeselskap wag vir hulle buite die stad.
In die motor kom sy gou agter Bets was reg toe sy gesê het Jan is ’n maklike mens om oor die weg mee te kom. Sy voel van die begin af tuis in sy geselskap. Sedig is hy bepaald nie, daarvoor lag en gesels hy te lekker. Maar oor Peet is sy verwonderd. Van waar sy agter hom sit, kan sy ongemerk sy gesig in die truspieël bestudeer. Sy oë bly op die pad, sy gesig uitdrukkingloos. Hy is beslis nie die geselserige soort nie. En die trekkie om sy mondhoeke wanneer sy en Bets dit uitskater van die lag vir Jan se snaakse sêgoed, sou sy beswaarlik ’n glimlag noem.
Nadat hulle buite die stad by die res van die groep aangesluit het, en oor en weer aan mekaar voorgestel is, sit hulle die reis voort. Die man wat as Ben aan hulle bekendgestel is, en wat as toerleier gekies is omdat hy al voorheen in die Richtersveld was, trek eerste weg. Peet se motor is laaste in die konvooi. Toe hulle ’n grondpad bereik, en Peet stadiger ry sodat hulle nie onder die vier motors voor hulle se stof toegegooi moet word nie, wil Bets weet hoekom Peet nie die ander verbysteek sodat hulle voor kan ry nie.
“Ek is mos nie die toerleier nie.”
“Toerleier se voet! Hoekom is Ben beter as ons? Ons is mos nog lank nie in die Richtersveld nie. Hierdie stof maak my klaar. Ek sal hooikoors kry! Toe, steek hulle verby!”
Hy trap skielik rem en vra duidelik vererg: “Moet ek jou by die huis gaan aflaai? Want dis al waarop jy die volgende tien dae gaan ry. Stofpaaie.”
Sy steek vinnig haar hand uit om hom agter in sy nek te kielie. “Moenie so gou omgeëllie raak nie, man. Ry maar, ek sal dit darem seker oorleef.”
Algaande deur die dag is Alet meer en meer verstom dat Bets so verlief is op Peet. Haar vorige mansvriende was almal ekstroverte. Die soort wat aandag trek, grappe vertel, jolige ouens. Peet is presies die teenoorgestelde. Amper sonder tong en blykbaar geen sin vir humor nie. Maar nou ja, dis seker juis hul verskillende geaardhede wat hulle na mekaar toe aantrek. Sy, Alet, sal maar wyd om hom hou. Sy’s nie lus om haar vakansie te laat vertroebel deur ’n kortgebakerde mansmens nie.
Toe sy op ’n keer weer in die truspieël kyk, word haar blik op heterdaad betrap. Sy draai haar kop so vinnig weg dat sy haar verbeel sy hoor nekwerwels klap. Dit ís so dat hy besonderse oë het. Wakker oë, en lang swart wimpers wat enige meisie hom sal beny, maar netnou glo hy sy beloer hom opsetlik en raak nog boonop iets kwyt daaroor.
“Waar slaap ons vanaand?” vra Jan op ’n keer.
“By De Mond, langs die Doringrivier,” gee Peet antwoord.
“Wanneer gaan ons die Richtersveld binne?”
“Oormôre. Ons slaap môreaand op Springbok.”
Teen laatmiddag draai die voertuie voor hulle af na links op ’n smaller grondpad.
“O, aarde,” sê Bets. “’n Nóg slegter pad!”
Alet hou haar asem op. Vir wat sê Bets so iets? Dis mos moeilikheid soek! Maar tot haar verbasing hoor sy Peet ewe besadig sê dis darem net ’n klein entjie. Hulle is amper by De Mond.
By die kampeerterrein aangekom, kyk Alet verras om haar rond. “Wat ’n lieflike plek! ’n Ware oase, ná al die vlaktes en dorheid waarlangs ons gekom het,” sê sy, menende dat dit Jan is wat skuins agter haar kom staan het.
“Ja, dis mooi hier,” gee Peet egter antwoord. “Jy moet sien hoe mooi is dit in die aand wanneer die maan se strale oor die rivier val.”
Ben kom sluit by hulle aan. ’n Atleties geboude, baie aantreklike man. Sy kan nie anders as om dit raak te sien nie. En so tussen die geselsery deur, kom sy agter hy was al ’n hele paar keer in die Richtersveld, nie net een keer nie. Sy meisie, Elsie, is lank, skraal en vriendelik. ’n Mooi gesig ook, dink Alet by haarself, al dra sy nie grimering nie.
Die mans raak doenig met die tente se opslaan, en toe hulle daarmee klaar is, hoor Alet Peet sê hulle moet ’n entjie gaan stap. Menende dat hy met Bets praat, neem sy op ’n kampstoel plaas sodat sy die uitsig oor die rivier kan bewonder.
“En nou?” vra Peet. “Kom jy nie saam nie?”
“Ek? O, ek het nie geweet jy praat met my ook nie. Waar is Jan? Gaan hy ook saam?”
“Ja, hy gaan saam. Hy’t net gou iets in die tent gaan haal.”
Toe hulle die kampeerterrein verlaat, merk sy Peet is een van die weinige mans wat ’n langbroek aanhet. Sy wil glo hy sal seker maar skaam wees om ’n kortbroek te dra, en sien in haar verbeeldingsoog twee maer bleek bene. Syself het ook ’n langbroek aan, maar dis oor sy nie gedink het die dag gaan so warm word nie.
Hulle bevind hulle spoedig op ’n rowwe terrein langs die rivier. Die mans moet kort-kort handgee wanneer sy en Bets van die een rotsblok na die ander moet spring. Toe sy weer ’n keer teen ’n steilte moet uitklouter, kom sy agter Bets en Jan is hulle vooruit en dis Peet wat sy hand na haar uithou. Sy aarsel ’n oomblik, sien dan dat sy nie alleen gaan regkom nie, en laat half onwillig toe dat hy haar help.
Toe hulle verder loop, wonder sy of haar verbeelding haar parte gespeel het, en of daar regtig iets soos lag in sy oë was toe hy haar boontoe getrek het? So asof hy haar huiwering gesien het en weet sy’s lugtig vir hom. Wel, sy’t goeie rede om skrikkerig te wees. In die eerste plek oor sy kortgebakerdheid, en in die tweede plek oor Bets se jaloerse geaardheid. Sy wil tog nie iets doen of sê wat haar gramskap op die hals gaan haal nie. Die episode met Wouter was eens te erg.
Terug by die kamp steek die mans dadelik die braaivleisvure aan. En spoedig is die hele toergroep in ’n ontspanne, gesellige luim. Wel, die meeste van hulle, dink Alet in haar enigheid toe sy sien hoe Peet in die vuur sit en staar, asof onbewus van die dinge wat om hom aangaan. Hy en Bets het aan die ander kant van die vuur plaasgeneem, regoor haar en Jan, dus kan sy hom nie bra miskyk nie.
Hoe later, hoe joliger raak dit om die kampvuur. Jan het ’n kitaar te voorskyn gebring waarop hy vrolike deuntjies tokkel terwyl die ander saamsing. Tussendeur word daar grappe vertel, gelag en geskerts vir ’n vale. Ben is die voorbok wanneer dit by die vertel van grappe kom. Toe almal dit weer uitskater van die lag vir een van sy grappe, kyk Alet na Peet en sien hy glimlag darem effens. Maar die blikkie bier in sy hand is nog onoopgemaak asof hy daarvan vergeet het. Dit laat haar wonder waar sy gedagtes dan is. Of is hy maar net verveeld met die geselskap?
Toe haar selfoon plotseling begin lui, staan sy op om ’n entjie weg te loop van die lawaai langs die vuur. “My kind, hoe gaan dit met jou?” klink haar ma se stem in haar oor op.
“Baie goed, dankie, Mamma. Ek hét vroeër gebel en vir Pappa gesê ons het veilig hier by De Mond gearriveer. Het hy nie vir Ma gesê ek het gebel nie?”
“Ja, hy’t vir my gesê, maar … Ai, kind, ek is tog so bekommerd oor jou.”
“Mamma hoef regtig nie bekommerd te wees nie. Ek is blakend gesond, en vol lewe.”
“Dis juis wat my pla. Ek het vanmiddag so ’n nare gesig gesien toe ek ’n bietjie op die bed gaan rus het dat ek vannag nie ’n oog sal kan toemaak nie.”
“Watse gesig het Mamma tog hierdie keer gesien?” vra sy met ’n suggie.
“Ek het jou sien huil, my kind. Daar was ’n man in die droom. Jy moet tog oppas vir die mans wat daar saam met jou is.”
“Ek sal versigtig wees. En Mamma hoef regtig nie bekommerd te wees nie, hier is nie ’n enkele man aan wie ek my sal steur nie.”
“Ek wou maar net sê …”
Sy voel omgekrap nadat die gesprek beëindig is. Dis tipies haar ma om haar vakansie te bederf met dié soort oproep. Waar haar pa sy geduld met haar ma vandaan kry, weet sy nie. Want sy is voortdurend morbied en iesegrimmig, óf sy raak so tranerig wanneer sy agterkom sy gaan nie haar sin kry nie, dat ’n mens hare op jou tande moet hê om nie kwaad te word nie. En nes jy glo iemand geniet die lewe, sien sy ’n sogenaamde gesig – die een of ander ongeluk wat daardie persoon gaan tref. Asof daar al ooit enigiets van gekom het!
Terwyl sy weg van die vuur is, kan sy net sowel ’n draai by die ablusieblok gaan maak, besluit sy. Dit sal haar sommer kans gee om weer kalm te raak. Hoe verder weg sy van die vuur af beweeg, hoe donkerder raak dit. Dus moet sy behoorlik voetjie vir voetjie haar weg vind, want sy weet nie hoe ongelyk die grasperk is nie. Dié dat sy nie die persoon van voor af aangestap sien kom nie, te laat wegkoes, oor ’n graspol struikel, en soos ’n os op die grond neerslaan.
“Pasop!” hoor sy Peet te laat sê. En voel hoe sy hand eers haar been raak vat, en toe haar heup, voordat hy haar aan die arm beetkry en ophelp. “Het jy nie ’n flitslig saamgebring nie?”
“Dit lê in die tent. Ek het vergeet om dit te vat. Maar jy’t dan ook nie ’n flits nie!”
“Ek het ook vergeet om myne saam te bring. Kom, dan stap ek saam met jou.”
Sy wil sê dis nie nodig nie, sy sal regkom, maar besluit daarteen toe hy haar summier aan die arm neem en in die rigting van die ablusieblok stuur. Hy hoef nie te weet sy’s bang vir hom nie. Sy’s bly toe hy uiteindelik haar arm laat los toe hulle die gebou bereik. Sy wonder hoekom dit so branderig voel daar waar hy aan haar gevat het. Moet seker maar nog van die vuur wees.
Toe sy weer buite kom, is sy verbaas om te sien hy’t vir haar gewag. Buite die lig van die lamppaal neem hy haar weer aan die arm. “Versigtig nou. ’n Mens se oë moet eers gewoond raak aan die donker.”
“Die klomp is jolig,” probeer sy ’n gesprek aanknoop om haar ongemak te verberg.
“Ja,” is al wat hy kwytraak.
Naby die vuur steek sy vas en probeer haar arm bevry. “Dankie, ek sal nou regkom.”
Hy laat los nie haar arm nie. “Is jy seker?”
“Ja, een honderd persent seker.”
“Jy twyfel nie eens een persent nie?”
Daar is ’n onmiskenbare lag in sy stemtoon. Dit en die stikdonkerte om hulle is nie goed vir haar senuwees nie. Sy is skielik dom, en kan aan geen antwoord dink nie. Dus rem sy maar net weer om haar arm te bevry, en loop vinnig weg toe hy dit laat los. Sy is al ’n geruime tyd terug langs die vuur voordat hy sy verskyning maak en langs die vuur kom buk om ’n rooster by een van die ander braaiers oor te neem.
“Waar was jy die hele tyd?” hoor sy Bets vir hom vra.
“Ek was maar hier rond, hoekom?”
“My glas is lankal leeg.”
“Hoekom skink jy nie vir jou ’n drankie nie?”
“Omdat ek gewoond is daaraan dis ’n man se werk.”
“Vra dan vir een van die ander mans. Ek is besig om te braai.”
Alet sien hoe Bets vererg na hom kyk voordat sy haar oë oor die ander laat dwaal en op Ben afpyl met haar leë glas. Alet kan kwalik ’n glimlag onderdruk. Dis goed Peet dans nie na haar pype nie, dink sy in haar enigheid. Dis dan seker ook hoekom hul verhouding werk. Want al sal Bets uit haar pad gaan om ’n man om haar pinkie te draai, raak sy net so gou verveeld met hulle wanneer dit gebeur. Tog, sy is so mooi, en beskik oor soveel oorredingsvermoë, dat dit seker nie lank sal wees voor Peet ook oor sy voete tuimel om haar gelukkig te hou nie.
“As ek vroeër geweet het wat ek nou weet,” sê Jan langs haar, “het ek lankal in Kaapstad kom werk.”
“Hoekom? Wat weet jy dan nou?” vra Alet ingedagte.
“Jy vra nog! Wat ek bedoel, is dat ek nie soveel tyd sou vermors het om jou te leer ken nie.”
Sy bloos toe sy snap wat hy bedoel, en kyk vinnig anderpad toe sy sien op watter manier hy na haar kyk. Dis nie dat sy nie van hom hou nie, flits dit deur haar gedagtes, maar hy moet haar nie staan en oorweldig met sy attensies nie. Want dis nog lank nie te sê sy hou meer van hom as van enige van die ander mans saam met hulle nie. Gelukkig kom sluit Ben by hulle aan en toe hy hom weer na haar draai, begin sy vinnig oor ander dinge gesels.
’n Rukkie later terwyl hulle besig is om aan die braaivleis te smul, kyk sy op en skrik so groot toe sy Peet se blik op haar betrap, asof hy haar al lankal dophou, dat sy summier in ’n stukkie roosterbrood stik. Jan slaan haar op die rug en gee haar wynglas aan. “Hier, neem ’n slukkie.”
Sy gehoorsaam en waag dit eers weer veel later om na Peet se kant toe te kyk. Hy sit nog steeds na haar en staar, en lyk so geamuseerd dat sy haar oombliklik vererg. As hy dink hy kan haar ontsenu, maak hy ’n fout, sê sy vir haarself en hou haar blik in syne. Maar die paar sekondes wat hulle in mekaar se oë staar, voel spoedig na minute. Dit noodsaak haar om eerste handdoek in te gooi, want sy glo haar wange is besig om bloedrooi te verkleur.
“Jy’t dan amper niks geëet nie,” sê Jan toe hy haar bord by haar neem om dit by die ander vuil skottelgoed te gaan voeg.
“Ek was nie honger nie,” jok sy. Welwetend dat sy so honger soos ’n wolf was tot sy Peet se blik op haar betrap het. Nugter weet hoekom hy haar so ongemaklik laat voel.
Sy waag dit dan ook nie om weer na sy kant toe te kyk nie. Maar toe dit slaaptyd raak, en van die ander reeds weg is om te gaan stort, verskyn hy eensklaps voor haar stoel. “Kom, ek wil jou iets wys.”
Haar hart mis ’n slag. “Wat?” vra sy en maak asof sy nie sy uitgestrekte hand raaksien nie.
“Kom,” sê hy weer. “Jy moet buite die ligkring van die vuur staan om dit te waardeer.”
Haar blik vlieg rond om te kyk waar Bets en Jan is. Dan val dit haar by Bets is saam met ’n paar ander meisies weg om te gaan stort. En Jan staan daar eenkant met Ben en gesels. Toe laat sy maar huiwerig toe dat hy haar aan die hand agter hom aantrek.
“Dis waarvan ek vanmiddag gepraat het,” sê hy toe hulle buite die ligkring staan. “Is dit nie mooi nie?”
’n Oomblik of wat vergeet sy van haar ongemak toe haar blik op die mooi prentjie van die maanstrale oor die rivier val. “Dis asemrowend mooi,” sê sy verruk.
“Ek het gedink jy sal dit waardeer.”
Sy wonder vlugtig hoekom hy dink sy sou dit waardeer, en hoekom hy haar uitgesonder het om dit voor te wys, maar sy is te bang om ’n gesprek met hom aan te knoop. En skielik té bewus van sy nabyheid.
“Dis feitlik al wat ek onthou van die vorige keer toe ek hier was.”
“Ja, dis iets om te onthou,” sê sy voordat sy wegdraai en tent toe loop om haar flits en handdoek te gaan haal.
Dalk het sy te veel wyn gedrink, flits dit deur haar gedagtes op pad wasgeriewe toe. Dié dat sy wil glo Peet neem meer notisie van haar as van die ander meisies. En al is dit ook so, dan is dit tog maar net oor sy Bets se vriendin is. Sy moenie vergeet hy’s Bets se kêrel nie. Sy moet dit vir geen oomblik vergeet nie!