Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 8 - Elza Rademeyer - Страница 5

2

Оглавление

“Wat dink jy van Jan?” wil Bets weet toe hulle laatnag in die tweemanstentjie lê wat hulle deel.

“Wel, hy’s heel gaaf. En hy kan baie mooi kitaar speel.”

“Jy klink nie baie entoesiasties oor hom nie,” kla Bets.

“Wat verwag jy? Ek ken hom dan nog net ’n paar uur.”

“Ek het gedink julle gaan dadelik verlief raak. Met die eerste aanblik, soos ek en Peet.”

“Mense verskil van mekaar. Almal is nie soos jy en Peet nie.”

“Wat dink jy van Ben, ons toerleier?”

“Dat hy maklik die aantreklikste man in die toergroep is,” sê sy eerlik.

“Hmm. Ek wonder wat sien hy in daardie ou vaal kleurlose meisietjie van hom?”

“Elsie? Wel, sy lyk vir my heel gaaf. Miskien het sy ’n mooi geaardheid.”

“As jy nie van Jan hou nie, moet jy dalk jou flikkers vir Ben gooi,” gaan Bets voort. “Jy sal hom met gemak van háár kan afvry.”

“Skaam jou. Ek koester nie daardie soort gedagtes nie.”

“Jy’t nie geskroom om Wouter van my af te vry nie.”

“Bets, asseblief, daardie storie is al holrug gery. Hoeveel keer het ek nie al vir jou gesê daar was nie ’n greintjie gevoel in my vir die vent nie? Jy kan in elk geval dankbaar wees jy’s ontslae van hom, want …”

“Toemaar,” onderbreek Bets haar sin. “Ek huil lankal nie meer oor hom nie. Maar bewaar jou siel as jy dieselfde met Peet probeer doen. Hy is myne, en myne alleen. Onthou dit maar net.”

Alet bly liewer stil. Niks sal Bets tog ooit van die waarheid oor Wouter oortuig nie. En Peet … Sy sal Bets se waarskuwing ter harte neem en so ver moontlik van hom af wegbly. Want of sy dit wil erken of nie, hy hét ’n manier om haar te ontstel.

Die volgende oggend toe sy uit die tentjie kruip, is die eerste ding waarteen sy vaskyk die stewige sitvlak en twee fris sonbruin bene van ’n man in ’n kortbroek wat gebukkend staan en tentpenne uit die grond trek. Toe hy orent kom en in haar rigting kyk, duik sy vinnig terug in die tent. Peet! Wat het haar laat dink hy’t maer bleek bene?

Sy maak eers seker dat hy weg is voor sy weer uit die tent kruip om haar na die ablusieblok te haas. Maar daar aangekom, is al die storte reeds beset, en moet sy noodgedwonge wag vir een van die ander meisies om klaar te maak. Terwyl sy wag, kom Elsie ook daar aan. “Ons twee is te laat, lyk dit my,” knoop sy ’n geselsie met haar aan. “Al die storte is beset.”

“Ek gee nie om om te wag nie,” sê Elsie met ’n glimlag. “Want die meisies wat eerste klaar is, sal moet ontbyt maak. So hoe langer ons twee draai, hoe minder werk gaan ons hê.”

Sy kan nie dink hoekom Bets sê Elsie is vaal en kleurloos nie, kom dit by haar op terwyl hulle staan en gesels. Sy’t pragtige oë en ’n natuurlike blos op die wange. Sy het eenvoudig nie grimering nodig nie.

In hul gesprek kom dit uit dat Elsie ’n fotografiese model is, en dat sy saans ander modelle oplei. Alet wonder wat Bets se reaksie daarop gaan wees. Dog, die enigste kommentaar wat sy daarop lewer toe sy haar van hul gesprek vertel, is dat dit niks verander aan haar kleurloosheid nie. “Sy bly vaal, Alet. Ek kan nie glo sy is Ben se meisie nie.”

“Jy beter jou roer,” jaag Alet haar aan. “Amper al die tente is afgeslaan, en jy’t nog nie eens begin pak nie.”

“Jy’s nes Peet. Altyd aan die werk. Gun niemand tyd vir ontspanning nie.”

Alet loop draaie om Peet terwyl hulle ontbyt nuttig en oppak, en sy verwens Bets se wantrouige geaardheid. Want dis juis dít wat maak dat sy bewus van hom bly en nie natuurlik teenoor hom kan optree nie.

Toe hulle gereed is om verder te ry, stap sy vooruit om solank in die motor te gaan klim. Haar handsak glip egter uit haar hand toe sy die deur wil oopmaak, en die volgende oomblik lê die inhoud daarvan uitgestrooi oor die gras. Sy buk en begin haastig om alles op te tel toe sy sien Peet is in aantog. Maar toe sy haar hand uitsteek om die laaste buisie handeroom raak te vat, sien sy te laat hy het sy hand ook daarna uitgesteek. Haar vingers brand soos ’n kooltjie vuur toe sy aan hom raak, en sy pluk haar hand so vinnig weg dat sy amper haar balans verloor. Boonop klink haar stem vir haar nes die gepiep van ’n hees hoender toe sy noodgedwonge moet dankie sê toe hy die buisie room na haar uithou.

Hy maak die deur vir haar oop om in te klim, en gee ’n laggie toe haar sandaal van haar voet glip met die inklimslag. “Toemaar, ek sal dit optel.”

Sy bloos onwillekeurig toe sy die skoen by hom neem en vlugtig na hom opkyk. Wat het haar gisteroggend toe sy hom die eerste keer gesien het, laat dink hy is ’n vaal ou mannetjie? Hy’s alles behalwe vaal. Eintlik het hy ’n baie besonderse gesig. ’n Sterk manlike gesig.

’n Rukkie nadat die voertuig in beweging gekom het, vly Jan onverwags sy kop teen haar skouer. “Gee jy om as ek jou as kopkussing gebruik? Ek het verlede nag omtrent nie ’n oog toegemaak nie.”

“Wat het jou dan uit die slaap gehou?”

“Jy, wie anders,” sê Jan. “Ek het myself gelê en verwyt oor ek so ’n gek was om nie vir Bets te wou glo toe sy my vertel het watter oulike meisie jy is nie.”

Bets kyk agtertoe en glimlag breed. “Ja, jy kan dankie sê iemand anders het haar nie lankal voor jou neus weggeraap nie. Hoeveel maande sukkel ek nie al om julle bymekaar uit te bring nie?”

“Tien maande,” sê hy lakoniek.

“Wel, ek hoop nie jy verspeel langer jou kanse nie. Onthou, die mans draai soos vlieë om haar.”

“O, gits, dan sal ek moet oppas,” sê Jan en lig sy kop om na Alet te kyk. “Jy sal nie my hart breek nie, sal jy?”

Alet bloos vuurrooi. Die wind is uit haar seile. As Peet nie daar was nie, sou dit makliker gewees het om saam te skerts. Maar sy teenwoordigheid maak haar onverklaarbaar lugtig.

“Hoekom antwoord jy my nie?” dring Jan aan. “Laat ek jou heeltemal koud, of is jy net skaam om voor die ander te sê hoe gek jy oor my is?”

“Jy’s verspot, man. Kyk liewer na die natuur. Jy mis alles daarbuite.”

“O, nee,” sê Jan. “So maklik gaan jy nie my vraag ontwyk nie. Ek wil hê jy moet my hier, met Peet en Bets as getuies, plegtig belowe dat jy my ’n redelike en billike kans sal gee om jou hart te verower.”

“Jy praat baie nonsens vir ’n man wat ’n slaaplose nag agter die rug het,” skram sy weg. “Bly liewer stil en haal jou verlore slaap in.”

Hy kyk na haar en glimlag. “Mits ek met my kop op jou skoot kan lê.” Hy wag ook nie op ’n antwoord nie, maar voeg die daad by die woord. Blykbaar onbewus van haar snaarstyf gespanne liggaam, selfs ná hy aan die slaap geraak het.

Gelukkig wil dit voorkom of hy van sy verspottigheid vergeet het toe hy ná ’n ruk orent kom. Maar sy bly op haar hoede, knaend bang hy begin weer met sy grappies, of bang haar blik dwaal per ongeluk weer in die truspieël se rigting. Dié dat sy verlig voel toe hulle eindelik by die hotel op Springbok aankom. Dis makliker om haarself te wees tussen die ander toergangers.

Sy sorg dan ook dat sy en Jan deel word van Ben en Elsie se groep toe hulle die aand voor aandete in die sitkamer vergader. Maar toe hulle aan die etenstafel gaan sit, beland Peet en Bets regoor haar en Jan. Dit maak dat sy hom nie kán ignoreer nie, en noodgedwonge moet deelneem aan die geselskap. Maar sy kies haar antwoorde versigtig wanneer Peet haar iets vra, want sy bly deurentyd bewus van Bets se jaloerse geaardheid.

Ná ete ontmoet almal weer in die sitkamer. En sy wil amper glo dis uit pure moedswilligheid dat hý, en nie Bets nie, op die leë stoel langs haar kom sit. Sy het die tergliggies in sy oë opgemerk toe hy haar blik op hom betrap. Dit help nie ’n snars sy probeer haarself oorreed hy is ’n doodgewone man, en hy kan sit waar hy wil sit nie. Sy bly oorbewus van hom langs haar. Gelukkig is almal in ’n jolige luim, en sy sorg dan ook dat sy heerlik saamlag vir Ben se grappe, al voel dit naderhand of haar mond skeef gaan bly staan.

Teen halfelf staan Peet op. “Ek weet nie van julle nie, maar ek gaan nou slaap.”

“Ag, nee man,” gooi Bets wal. “Die aand is nog jonk. Ek is nog nie vaak nie.”

“Ek sê nie jý moet gaan slaap nie. Onthou net, môreoggend is dit weer vroeg opstaan.”

’n Rukkie later staan Alet ook op. “Ek gaan ook nou inkruip. My oë wil nie meer oopbly nie.”

“Ja, ek dink dis vir my ook slaaptyd,” sê Jan. “En jy, Bets?”

“Nee, gaan slaap julle maar. Ek kuier nog heerlik.”

Op pad na hul kamers loop hulle Peet in sy kamerjapon in die gang raak, sy hare nog nat van die stort wat hy geneem het. “Waar is Bets?” vra hy. “Is sy nog in die sitkamer?”

“Ja, sy kuier nog lekker saam met die ander,” sê Jan voordat hulle mekaar ’n goeie nagrus toewens en hy saam met Peet verder loop na die kamer wat hulle deel.

Dit help nie om dit te ontken nie, dink Alet by haarself toe sy in die bed klim. Peet maak iets in haar wakker. Sy sal versigtig moet wees, want Bets is ’n fyn waarnemer. Dit kan net tot moeilikheid lei as sy toelaat dat haar emosies met haar die loop neem.

Sy raak gou aan die slaap, maar skrik dadelik wakker toe die kamerlig aangaan. “Waar kom jy nou vandaan?” vra sy verstom vir Bets met haar oog op die horlosie wat wys dis amper drie-uur in die oggend.

“Wat traak dit jou waar ek was?” vra Bets met ’n tong wat sleep. “Ek is nie van plan om my vakansie om te slaap soos jy nie!”

’n Verslaentheid oorval Alet toe sy sien Bets struikel oor haar tas op die vloer. Sy het sweerlik te veel gedrink! Dis die eerste keer dat sy haar vriendin só sien. Maar sy weet instinktief dis nie nou die tyd vir berisping nie, dus keer sy haar rug op Bets sodat dié moet glo sy slaap verder.

Opstaantyd is dan ook ’n stryd om haar wakker te kry. Al kreunende en protesterende sit Bets darem later regop in die bed. “Het jy nie iets vir my kop nie? Dit voel of dit wil bars!”

“Hier is vir jou twee hoofpynpille. Drink dit. Ek hoop jy’t jou les geleer.”

“Dankie, jong. Wat sou ek sonder ’n vriendin soos jy gemaak het?”

“Hopelik jouself nie aan drank oorgegee het nie.”

“Luister, ’n mens is net een keer in jou lewe jonk. Ek hoop nie jy gaan vir die ander vertel ek was dronk nie!”

“Hoe ken jy my? As ’n skinderbek?”

“Nee, ek sê maar net.”

Alet kan haar maar net verwonder oor Bets. Want aan die ontbyttafel is sy weer net so sprankelend soos altyd. Vrolik en vol kwinkslae dat jy beswaarlik sal glo sy’t weinig meer as drie uur se slaap agter die rug. En so lieftallig teenoor Peet dat Alet haar gewaar word van ’n tikkie afguns. Hy blyk nie so lieftallig teenoor Bets te wees nie, maar nou ja, dis nie alle mans wat hul gevoelens vir ’n meisie openlik wys nie.

Hulle is kwalik in die voertuig en op pad, of Jan se tergery dwing Alet om aan ander dinge te dink as aan Bets en Peet se danigheid met mekaar. Want hy skuif ineens tot teenaan haar, en wil kamma weet of enigiemand haar al vertel het hoe mooi sy is.

“Nee, nog nooit!” speel sy lugtig saam.

“Dan wil ek die eerste wees om dit vir jou te sê. Jy’s nie mooi nie, jy’s sommer pragtig!”

“Dankie vir die kompliment.”

“Hoe is dit dan dat jy nog nie getroud is nie?” wil hy weet. “Het jy ’n liefdesteleurstelling gehad?”

“Nee. Ek het maar nog net nie ’n man raakgeloop wat my wil hê nie.”

“Sy jok,” antwoord Bets van die voorste sitplek af. “Sy kon lankal getroud gewees het as sy minder puntenerig was, en haar ma nie so ’n kwaai tannie was nie.”

“Nou wat verwag jy dan eintlik van ’n man?” vra Jan.

“Niks. Ek soek nie ’n man nie.”

“Nie eens so ’n gawe ou soos ek nie?”

“Nee, beslis nie. Jy’s te laf en verspot.”

“Wat dan van ’n sedige ou soos ou Peet?”

Sy kyk half onbewustelik truspieël toe, en verbeel haar weer eens sy hoor haar nekwerwels kraak toe sy haar kop wegruk van die paar laggende oë in die weerkaatsing van die spieël. “Ag, stop nou jou lawwe praatjies, man. Ek sê jou mos ek soek nie ’n man nie.”

Sy gekorswil met haar hou egter aan totdat Peet hulle daarop attent maak dat hulle nou Helsekloof binnegaan. Dis ’n nou paadjie en sleg verspoel. Alet kan nie help om Peet se bestuursvermoë te bewonder toe sy sien hoe behendig hy die slegte slaggate mis nie. Op ’n plek hou hulle ook eers stil om die petrogliewe langs die pad te bekyk.

“Dis ’n soort Boesmankuns,” verduidelik Peet aan haar toe hulle by die plat klippe met die graverings gaan staan. Sy weet nie hoe dit gebeur het nie, maar Bets en Jan het skielik tussen die ander toergangers weggeraak. Om alles te kroon kry hy haar onverwags aan die hand beet en trek haar nader om langs hom te hurk. “As jy mooi kyk, sal jy sien hierdie gravering lyk na ’n donkie.”

“Ja, ek sien,” sê sy en trek vinnig haar hand uit syne.

“Hierdie een lyk na ’n bobbejaan.”

“En daardie een is ’n voël of iets. Seker ’n volstruis,” raak sy ook geïnteresseerd.

Toe hulle ’n rukkie later terugklim in die voertuig, kyk sy vinnig na haar hand. Sy was nie naby ’n vuur nie, maar dit brand soos warm kole. Heng, sy sal versigtig moet wees. Die mansmens is besig om haar verstand te bekonkel.

“Is ons nou naby die Richtersveld?” vra Bets toe hulle weer op die vlaktes kom.

“Nee,” sê Peet. “Dis nog ’n hele paar uur se ry voordat ons die Richtersveld binnegaan.”

“Dan gaan ek nou eers ’n uiltjie knip.”

“Ek ook,” sê Jan.

Alet wonder wat haar te doen staan. Sy is niks vaak nie, maar as Jan en Bets albei slaap, sal sy ook maar maak of sy slaap. Dog, op ’n keer toe sy in die truspieël loer, en Peet haar blik vang, sê hy dadelik: “Ek het gedag jy slaap nie. Jy beter met my gesels, anders raak ek ook aan die slaap en ry van die pad af.”

“Ek het nog nie klaar geslaap nie. Jy kan mos sing om jou wakker te hou.”

Hy lag. “Ek sal sing as jy saamsing.”

“Ek is vals.”

“Ek glo jou nie. Hulle sal nie vals mense in ’n kerkkoor laat sing nie.”

Sy frons. “Hoe weet jy ek sing in ’n kerkkoor?”

“Bets het my vertel.”

“Dit was sommer toevallig. Voor hulle uitgevind het ek is vals,” sê sy, blosend oor die leuen.

Sy lag, en die wete dat hy in die spieël na haar kyk, laat haar blos verdiep. Dié dat sy dankbaar is toe Jan wakker word. Sy help hom amper hardhandig om regop te sit. “Dis omtrent tyd dat jy wakker skrik. Wat gaan jy vannag doen as jy die hele dag lê en slaap?”

“Vir jou uit die slaap hou,” sê Jan. “Jy beter ook slaap, sodat jy nie vannag onder die opsitkers aan die slaap raak nie.”

Peet bring eensklaps die voertuig tot stilstand. “Jou beurt om te bestuur,” sê hy vir Jan. “En my beurt om te slaap.”

“Ja,” sê Jan. “Dit verbaas my nie dat jy moeg is nie. Jy was mos laas nag meer in die badkamer as in jou bed.”

“Moes seker maar iets gewees het wat ek geëet het,” mompel Peet toe hy sy deur oopmaak en uitklim om sitplekke te ruil.

Met die inklimslag op die agterste sitplek langs haar sien Alet hoe hy vlugtig na haar skoot kyk, daar waar Jan met sy kop gelê het, en tergend vir haar glimlag. Haar hart tuimel. Nooit! Sy gaan dit nooit oorleef as hy Jan se voorbeeld volg nie! dink sy ontsteld. Maar dan tel hy ’n kussing op, rangskik dit agter sy kop en sluit sy oë.

Die gespannenheid wat sy nabyheid teweeggebring het, is net besig om weg te sypel toe Jan swenk vir ’n gat in die pad, en Peet se kop met kussing en al na haar kant toe kantel. Sy keer instinktief, maar toe sy die kussing probeer wegskuif, is dit vloek of sy dit kan regkry. Inteendeel, hy strek sy bene en nestel deur die slaap sy kop gemakliker teen haar skouer aan. Wat moet sy nou doen? wonder sy vervaard. Hom wakker maak? Maar hy’t dan nou kwalik aan die slaap geraak! Wat sou sy gedoen het as hy enigiemand anders was? vra sy haarself af. Toe besluit sy om hom maar te los. Vir ’n rukkie altans. Tot Bets wakker word, of tot hy vanself wakker skrik.

Ná wat vir haar soos ’n ewigheid gevoel het, gee hy ’n kuggie en lig sy kop van die kussing af om slaperig na haar te kyk. ’n Glimlaggie sprei oor sy gesig. “Dankie. Ek verstaan nou hoekom ek so lekker geslaap het,” sê hy sag.

Haar hart tamboer kliphard in haar ore toe hy tydsaam terugskuif na sy sitplek. Dis sy oë, dink sy by haarself. Daar is ’n magnetiese krag in hulle wat haar heelhuids wil insluk, wat haar sinne so bedwelm dat sy glad nie rasioneel kan dink nie. En dis tog maar die begin van hul vakansie. Hoe gaan sy dit regkry om die hele tyd normaal op te tree, om nie te laat blyk hy verwar haar nie?

Toe Peet en Jan aan die gesels raak, haal sy ’n tydskrif uit haar handsak om haar mee besig te hou. Maar dis nie lank nie, of hulle betrek haar ook by die gesprek. Daar word oor baie dinge gesels. Sport, landsake, selfs boerdery. En toe hulle by Sendelingsdrif, die grenspos na die Richtersveld, stilhou om brandstof in te gooi, voel sy baie meer op haar gemak. Sy is nogtans bly die mans is reeds uit die motor toe Bets wakker skrik.

Peet neem weer agter die stuurwiel plaas toe hulle verder ry. Almal is op en wakker, nuuskierig om te sien hoe die Richtersveld lyk. Die konvooi hou dan ook kort voor lank by ’n boom stil. Ben tree na vore en verduidelik dat dit ’n witgatwortelboom is, en wys hulle op die wortels wat so verdik het dat dit ’n soliede rotsblok oopgekloof het op soek na water.

Op die een of ander manier het Alet langs Elsie te lande gekom, en hulle loop dan ook saam om ’n plant effens weg van die boom af te gaan besigtig. Op pad om weer in die voertuie te gaan klim, kom sluit Bets by hulle aan. “Wat loop julle twee so eenkant en skinder?” vra sy laggend.

“Ons het nie geskinder nie,” sê Elsie. “Ons het ’n plantjie gaan besigtig en van die ruheid van die berge gepraat. Vir sommige mense mag die natuur hier na niks lyk nie, maar vir my en Ben is dit besonders. Ons kom maak elke jaar ’n draai hier.”

“Ja,” sê Bets. “Ek gaan vir Peet vra dat ons ook weer hierheen kom. Dalk sommer vir ons wittebrood. Sal jy ons strooimeisie wees, Alet?”

“Nee, beslis nie. Ek is gans te oud daarvoor,” sê sy glimlaggend. Maar dis net haar mond wat glimlag. Op haar skouer het eensklaps ’n geel monstertjie kom sit wat kekkelend lag.

Toe hulle Potjiespram bereik, die kamp waar hulle van plan is om twee of drie nagte oor te bly, is dit gelukkig so ’n gewoel en gewerskaf om die tente op te slaan en dinge reg te kry vir die aand se braai, dat sy nie kans kry om oor geel monstertjies te tob nie. Maar aan alles kom daar ’n einde. Met almal wat help, is die werk spoedig afgehandel, en tree Ben eers na vore om hulle die leviete voor te lees.

“Onthou, geen vullis word agtergelaat nie. Nie ’n blikkie of ’n lekkergoedpapiertjie nie. Alles kom in die vullissak wat aan daardie boom hang. Andersins, doen net waarvoor julle lus is. Julle kan in die rivier gaan swem, of visvang, of gaan stap. Sorg net dat almal teen halfsewe terug is wanneer die braaivleisvure aangesteek word.”

“Wat gaan ons doen?” vra Alet vir Bets.

“Ek gaan saam met die ander stap.

Alet kyk verlangend na die rivier. “Kan ons nie eers gaan afkoel nie?”

“Jy kan gaan swem as jy lus is, maar ek gaan stap.”

Menende dat Peet saam met Bets gaan stap, gaan trek Alet haar baaikostuum aan. Jan, het sy gesien, is saam met ’n paar ander mans weg om te gaan visvang hoër op langs die rivier. Sy gooi haar handdoek oor haar skouer en begin tydsaam al met die rivieroewer langs loop. Vind dan uiteindelik ’n poel agter ’n rotsblok wat veilig genoeg lyk om in af te koel. Sy los haar handdoek op die oewer en loop versigtig die water binne om nie op die gladde klippe te gly nie.

Die water is ’n heerlike lafenis ná die snikhete dag, en sy geniet dit terdeë om in die poel rond te plas. ’n Rukkie later besluit sy om op haar rug te dryf. En sink eensklaps soos ’n klip onder die water van skrik toe haar blik op Peet val waar hy doodluiters op die punt van die groot rotsblok sommer hier neffens haar sit. Toe haar kop proestend bo die water verskyn en sy sien hoe geamuseerd hy lyk, is sy onmiddellik vies. “Wat soek jy hier?”

Sy wenkbroue lig. “Is ek dan op verbode terrein?”

“Ja! Ek bedoel, nee … Ek bedoel, het jy dan nie gaan stap nie?”

Hy glimlag. “Ek hét tot hier gestap.”

“Ek bedoel, hoekom is jy nie saam met die ander stappers weg nie?”

Sy glimlag verbreed. “Dalk het ek ’n voorgevoel gehad hier gaan ’n waternimf verskyn.”

“Bets het gaan stap,” sê sy ontsenu.

Hy antwoord nie. Sy stilswye en die manier waarop hy na haar kyk, stuur ’n rilling langs haar ruggraat af. Sy plas met haar arms in die water om haar ongemak te verberg, en probeer onopsigtelik kant toe beweeg. Maar dan kom hy orent en steek sy hand na haar uit. “Kom, ek help jou om hier op die rots te kom.”

“Ek gaan liewer terug kamp toe. Ek het nou klaar afgekoel.”

“Is jy bang vir my?”

“Nee, hoekom sal ek bang wees vir jou?” hou sy haar braaf.

“Omdat ek die indruk kry jy wil weghardloop.”

“Weghardloop? Ek skrik nie vir koue pampoen nie!” Sy kan eenvoudig aan niks beter dink om kwyt te raak nie. Dis of haar verstand tot stilstand gekom het.

Hy steek weer sy hand uit. “Kom, ek help jou om tot hier bo te kom.”

As sy langer wegskram, gaan hy net agterkom sy is bang vir hom, flits dit deur haar gedagtes. Bang vir die beroering wat hy in haar teweegbring. En dalk is dit ’n goeie ding as hulle gesels. Dalk doen of sê hy iets wat haar ’n weersin in hom sal gee. Wat haar verspotte gedagtes oor hom onmiddellik in die kiem sal smoor.

Die sitplek op die rots is min. Hulle moet gans te na aan mekaar sit na haar sin. Sy is oorbewus van hul halfnaakte lywe in die baaikostuums, en verwens haarself dat sy ’n bikini aangetrek het. Sy twyfel ook sterk of dit net die son is wat haar so warm laat kry, en soek naarstig na iets om die stilte te verbreek. “Die berge daar oorkant die rivier is in Namibië, nè?”

“Ja. Die rivier is die skeidslyn.”

“Om te dink ’n mens kan net deur die rivier loop, dan is jy in ’n ander land.”

“Ek sal jou aanraai om dit nie te probeer nie. Tensy jy beter kan swem as wat dit netnou wou lyk.”

Die lag in sy stem en die feit dat hy na haar kyk, laat haar vinnig anderpad kyk. “Ek kán swem. Dis oor jy my laat skrik het dat ek amper verdrink het.”

“Ek het jou mos nie skrikgemaak nie.”

“Ja, maar hoe moes ek weet jy sit hier? Ek kon jou nie van die oewer af sien nie.”

“Ek kon seker gehoes het of iets om jou te waarsku, maar dan het jy dalk die hasepad gekies en was ek nou sonder geselskap.”

“Ek het jou net kom pla. Jy wou seker alleen gewees het.”

“Nee, jy pla nie. Inteendeel …”

“Hoekom voltooi jy nie jou sin nie?” vra sy lugtig, sonder om hom in die oë te kyk.

“Omdat ek bang is jy val in die water as ek jou sê.”

“Wel, ek het jou pas gesê ek kan darem swem.”

Dit voel of haar liggaam versteen toe hy ’n haarsliert uit haar gesig vee om dit agter haar oor in te druk en saggies lag. “Ek sal liewer op ’n ander dag jou nuuskierigheid bevredig. Dis vir eers genoeg dat ek jou geselskap kan geniet.”

Dis of al haar woorde weg is. Haar asem ook. Sy weet sy durf nie praat nie, want haar stem sal net ’n hees gekras wees. Die waarskuwingstemmetjie in haar agterkop is net so vaag. Sy weet dat daar onteenseglik iets met haar aan die gebeur is. Iets wat nie moet gebeur nie, maar wat feitlik onafwendbaar is.

Elza Rademeyer Omnibus 8

Подняться наверх