Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 8 - Elza Rademeyer - Страница 7
4
ОглавлениеSy’s oorbluf toe hy haar skielik wegstoot. Dan hoor sy dit … stemme. Hoe sy so vinnig uit die hut gekom het, sou sy later nie kon sê nie. Maar haar wange voel nog soos gloeiende kole toe Jan en ’n paar van die ander mans hul verskyning van agter die bome maak en by haar in die bokkraaltjie kom aansluit.
“Waar loop jy so alleen rond?” vra Jan. “En kyk net hoe rooi is jou gesig van die son! Hoekom het jy nie ’n hoed opgesit nie?”
Sy weet nie of sy haar stem kan vertrou nie, en is dankbaar toe Peet vanuit die hut te voorskyn kom en hulle aandag van haar aftrek deur met ’n niksseggende gesig in ’n doodnormale stem te vra hoeveel visse hulle gevang het.
“O, hier is jy ook. Man, jy moes daar gewees het! Drie net sulke grotes,” beduie Jan met sy arm van die grond af tot by sy heup.
“Waar is hulle dan nou?”
“Terug in die water. Dit was ongelukkig almal barbers.”
Toe die mans aan die lag raak, maak sy dat sy wegkom. Wat het haar besiel! vra sy haarself af. Hoekom het sy hoegenaamd toegelaat dat hy haar soen? Sy moes geweet het haar emosies gaan handuit ruk! Wat nou vorentoe? Wat van Bets? Of was dit maar net sy manier om haar te laat boet? Ja, natuurlik, hy’t mos gesê hy gaan haar laat boet! En wat maak sy? Sy gedra haar soos ’n goedkoop flerrie!
Hy was so koel en beheers toe Jan-hulle daar aangekom het. Asof botter nie in sy mond kon smelt nie. ’n Duidelike teken dat hy die hele tyd in beheer was. Hoe lekker moet hy nie nou in sy mou lag nie!
Toe Bets en die ander stappers terugkom, sit sy op ’n kampstoel voor die tent, oënskynlik besig om ’n boek te lees. Sy krimp ineen. Hoe gaan sy haar vriendin ooit weer in die oë kyk? Wat op aarde het sy aangevang?
“En nou, as jy so alleen hier sit?” vra Bets. “Waar is al die ander?”
“Ek weet nie,” sê sy skuldig, te bang om haar blik van die boek af op te lig.
“Sjoe, ek is nou lekker dors. Ek gaan nou eers vir my koeldrank haal. Wil jy ook hê?”
“Nee, dankie, nie nou nie.”
Sy glo nie haar gewete sal haar toelaat om normaalweg te gesels toe Bets terugkom en langs haar op die kombers kom lê nie. Dus veins sy ’n hoofpyn en vlug tent toe met die verskoning dat sy ’n pil gaan drink en ’n bietjie wil rus. Dis egter so moordend warm in die tent dat sy oplaas maar weer buitentoe gaan om te gaan swem.
Die koel water is dan ook ’n lafenis. Dit gee ook ’n bietjie normaliteit aan haar denkvermoë. Peet is net so skuldig soos sy, dink sy by haarself. Nog méér as sy, want hy het Bets verkul. Sy het ten minste niemand verkul nie. Maar hoe sy die saak vorentoe gaan hanteer, weet sy nie. Veral nie terwyl Peet onder die indruk verkeer sy gaan gewillig wees om die speletjie te hervat waar hulle daarmee opgehou het nie. Iets wat hy baie maklik sal glo, danksy haar ontvanklike reaksie …
Wat ’n gemors! Die vakansie het kwalik begin, en kyk wat het sy aangevang. Hoe gaan sy dit regkry om vorentoe normaal op te tree? Om hom en Bets in die oë te kyk, en te maak asof niks gebeur het nie? Daar is maar net één manier, besluit sy oplaas. Sy sal haar Jan se attensies moet laat welgeval. Al haar aandag op hom moet toespits en dit sodoende onder Peet se aandag bring dat die boetedoening haar glad nie geraak het nie. Dat haar terugsoenery ook maar net ’n tergery was.
Toe sy op pad terug kamp toe sien die mans het teruggekom, kry sy lus om om te spring en weg te hardloop. Maar sy staal haarself. Die een of ander tyd sal sy tog weer vir Peet in die oë moet kyk. Hoe gouer, hoe beter.
“Waar was jy al die tyd?” wil Bets weet toe sy eindelik genoeg moed bymekaar skraap om buitentoe te gaan nadat sy ’n bloes en kortbroek in die tent gaan aantrek het.
“Ek het gaan swem.”
“Ek dag jy’t van hoofpyn gekla.”
“Ek het ’n pil gedrink en ’n rukkie gaan lê. Maar dit was te warm in die tent.”
Peet laat sak die tydskrif. “Is jou hoofpyn beter?”
Sy sal haar kop op ’n blok sit daar dans lagduiweltjies in sy oë toe sy vlugtig na hom kyk. Maar sy hou haar ongeërg. “Ja, baie beter, dankie.”
“Kom lê hier langs my,” nooi Jan. “Ek sal al jou pyne vir jou wegstreel. Skuif op, Bets, dat ons vir haar kan plek maak.”
“Sy kan maar die hele kombers kry,” sê Bets. “Ek gaan ook nou eers swem.”
“Hoe praat jy my dan nou ook in ’n ding in,” sê Jan. “Ek is ook nou lus vir swem. Kom jy saam, Peet?”
Toe Alet sien hy skud sy kop, spring sy haastig weer orent. “Ek gaan saam.”
“Jy’t dan nou net klaar geswem,” sê Bets.
“Ek bedoel, ek sal saamstap en daar op die oewer by julle sit.
“Ben sê ons gaan môreoggend verder ry tot by De Hoop,” vertel Bets nadat hulle geswem en by haar op die gras kom sit het. “Hy sê die kampplek daar is ook langs die rivier, maar dis nie so mooi daar nie, so ons gaan net een nag oorslaap.”
“En daarvandaan?”
“Gaan ons Richtersberg toe. Die pad daarheen is glo vreeslik sleg, maar hy sê dis die heel mooiste kamp in die Richtersveld. Dan gaan ons glo ook nog by Kokerboomkloof en De Koei ook kamp.”
Alet betrap haarself dat sy weinig inneem van Bets se geselskap. Dat sy besig is om te wonder wat Peet nou so alleen daar by die tente doen. Genade ons, hoe gaan sy die dae vorentoe verduur? Hoe besweer ’n meisie haar aangetrokkenheid tot ’n man? En hoe leef jy met jou gewete saam as die man tot wie jy aangetrokke voel – en boonop gesoen het – jou beste vriendin se toekomstige man is!
Die aand om die kampvuur gaan dit weer jolig. Gelukkig was sy nog nooit ’n voorbok wanneer dit by saamgesels kom nie, dus hoop sy niemand kom agter sy is stiller as gewoonlik nie. Sy weet nie of sy haar dit net verbeel nie, maar dis of Peet ook stiller is. Sy kom soms agter hy probeer haar oog vang, maar sy kry dit reg om sy blik elke keer betyds te ontwyk. Daar is van die toerlede wat kla dat die dae te vinnig verbygaan, maar sy wens dit was liewer al huistoegaantyd. Toe Jan haar hand in syne neem, val dit haar by van haar voornemens om haar sy attensies te laat welgeval. Sy trek dus nie haar hand terug nie, en spits haar aandag met mening op hom toe. “Dit lyk my jy begin my darem nou so stadigaan vertrou,” sê hy dan ook later die aand toe dit slaaptyd raak. “Ek het nie verniet vir jou gesê jy gaan dalk gouer ’n gevoel vir my kry as wat jy dink nie!”
Sy glimlag maar net. Dog, dis nie so maklik om aan die slaap te raak nie. Bets slaap lankal, toe lê Alet nog en wonder wat Peet van die soen dink. Of hy dit ook geniet het soos sy, en of dit sy gewoonte is om meisies wat hom terg, met ’n soen te laat boet.
Die een of ander tyd moes die slaap haar tog oorweldig het, want toe sy wakker skrik en met die flits op haar horlosie lig, is dit drie-uur die oggend. Bets se matras is leeg, kom sy agter. Waar sou sy dan wees? Seker maar ’n draai gaan loop. Maar toe sy terugkom is dit al vieruur.
“Waar was jy?” vra sy toe Bets op haar matras klim.
“Ek het sommer ’n draai gaan loop.”
“Só lank! Jy’s dan al voor drie-uur hier weg.”
“Ag, ek het ’n rukkie langs die rivier gesit en die wêreld bekyk.”
“Asof jy nou veel kon sien in die donker.”
“Dis nie só donker nie. Die maan skyn darem so effens. En bly nou stil. Ek wil slaap.”
Tot haar verbasing is Bets vroegoggend weer op en wakker en aan die gang. “Toe, jy moet jou ook lig,” raas sy met Alet. “Onthou Ben wil nie later as nege-uur ry nie, en dis jou beurt om ontbyt te maak.”
“Ag, nee, man. Dit voel dan vir my ek het nog niks geslaap nie.”
“Dit wil ek glo! Want jy’t netnou weer so gekreun en rondgerol in jou slaap dat ek glads wakker geskrik het daarvan. Toe, staan nou op. Peet het gister gesê hy’s lus vir pap en wors. Ek weet nie hoe maak ’n mens mieliepap nie, so jy kan dit vanoggend vir hom maak.”
Mieliepap en wors vir Peet, maal dit deur haar gedagtes toe sy later die oggend die pap staan en roer. As hy haar man kon geword het, sou sy elke oggend vir hom pap en wors gemaak het. Sy sou dit vir hom op ’n skinkbord kamer toe geneem het. Sy sou selfs sy skoene en sokkies vir hom regsit … Nee, sy moet ophou om aan sulke verspotte dinge te dink. Wat wil sy met so ’n ontroue skepsel maak? Arme Bets. Miskien moet sy Bets waarsku en vir haar sê om haar oë oop te maak. Maar nee, dit sal nie werk nie. Bets sal wil weet hoekom sy so sê. Sy sal haar buitendien nie laat voorskryf nie. ’n Ligte siddering gaan deur haar lyf toe sy dink hoe ver dit dalk kon gegaan het as Jan-hulle nie opgedaag het nie. Haar verstand het nie meer normaal gefunksioneer nie.
“Jou pap brand, hoor.”
Sy skrik so groot dat sy amper die pot pap van die gasstofie afstamp. Sien dan dit ís so. Die pap het onder haar neus gestaan en aanbrand.
“Draai kleiner die vlam.”
Sy begaan weer eens ’n flater deur dit groter te draai in plaas van kleiner, en toe sy boonop die paplepel laat val, vat hy haar om die heupe en stoot haar opsy. “Gee liewer vir my. Dit lyk my jy is besig om te droom. Ek hoop net dis van my, en nie van Jan nie.”
Sy laaste sin maak dat sy as ’t ware van hom af wegvlieg om aan die ander kant van die tafeltjie te gaan staan. “Dis oor sekere mense nie wil eet wat ander mense eet nie, dat ek moes pap maak. Toe verbrand ek dit met opset,” ignoreer sy aspris die laaste deel.
“So? Wel, jou geluk is uit, want ek hou van pap wat effens aangebrand is.”
“Maak jy vir jouself kos?” vra sy nadat sy hard moes dink aan iets om te sê.
“Nee, net af en toe wanneer my tannie by wie ek woon, by haar kinders gaan kuier.”
“Jou ouers, waar woon hulle?”
“Hulle is oorlede in ’n motorongeluk nog voor ek my verstand gekry het. Ek het by ’n suster van my oorlede ma in Pretoria grootgeword.”
“Is dit waar jy gebore is?”
“Ja. En skoolgegaan het. Ook waar ek my universiteitsopleiding ontvang het. Maar jy beter kyk na jou wors. As jy my vra, is dit ook besig om te brand.”
Dit is sowaar so, sien sy tot haar ontsteltenis. En glo haar wange dreig al weer om aan die brand te slaan toe sy hom hoor lag. Maar dan kom Jan na hulle toe aangestap, en kan sy met ’n bietjie meer gemak asemhaal.
“Sjoe, maar dit ruik lekker hier by julle,” sê hy toe hy langs haar kom staan. “Nogal pap en wors. Ek vrek mos oor pap.”
“Alet het hierdie pap spesiaal vir my gemaak,” sê Peet tot haar verleentheid. “Jy sal maar moet wag en kyk of daar vir jou ’n bietjie gaan oorbly.”
“En wie is Peet sodanig dat jy spesiaal vir hóm pap maak?”
“Bets het gesê ek moet vir hom maak,” sê sy hopeloos te vinnig.
Maar gelukkig kom Jan niks agter nie, en begin hy oor ander dinge gesels. En toe hy ná ’n rukkie weer verkas, praat Peet ook oor ander goed. Hy vertel haar van die motorongeluk waarin sy tante van Pretoria onlangs was. “Ek voel eintlik ’n bietjie skuldig dat ek eers kom vakansie hou het, en nie dadelik weg is na haar toe nie. Maar aan die ander kant, sy is nog in die hospitaal, so ek sal nie veel van haar sien nie. Ek sal liewer gaan kuier wanneer ons teruggaan. Miskien is sy teen daardie tyd al ontslaan.”
“Hoe ernstig is sy beseer?”
“’n Gebreekte arm, gekraakte rib en dan het sy ook ’n ernstige longbesering opgedoen.”
“Hoe oud is sy?”
“Sy was ’n maand gelede tagtig. Ek is nie bekommerd oor die arm of die gekraakte rib nie. Maar vir iemand van haar ouderdom kan so ’n longbesering fataal wees. Sy was ’n week lank aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel.”
Bets bring ’n einde aan hul gesprek toe sy Peet kom roep om Jan te gaan help met die afslaan van die tente. “Ben is haastig dat ons moet ry, so gaan pak maar eers op. Julle kan kom eet as julle klaar is daarmee.”
“Ek is nuuskierig om ons volgende kampplek te sien,” sê Alet om ’n gesprek aan die gang te sit. Haar skuldgevoelens maak haar lugtig om oor Peet of Jan te gesels.
Maar dan sê Bets uit die bloute: “Ek weet nie wat met Peet aangaan nie. Hy’s in die laaste tyd so afsydig soos ’n ysbeer. Hy’t nie dalk iets teenoor jou laat deurskemer dat hy vies is vir my nie?”
Alet skud haar kop ontkennend. “Nee.”
“Sal jy my ’n guns doen? Wanneer julle twee ’n slag alleen is, vra vir hom of hy kwaad is vir my. Sal jy?”
“Hoekom vra jy nie self nie?”
“Ek is bang hy sal dink ek neul. Vra jy hom liewers.”
“Hoekom sal hy dink jy neul?”
“Omdat hy nie soos ander mans is nie. Ek het lankal agtergekom ek sal nie op sy kop kan sit nie. Om die waarheid te sê, ek is half skrikkerig vir hom, want ek glo hy sal my maklik na my peetjie stuur as ek iets doen wat hom nie aanstaan nie.”
Op pad na die volgende kampplek by De Hoop, kom die konvooi tot stilstand sodat die toerlede ’n halfmensboom van naby kan besigtig. Dis ’n steil helling wat hulle moet uitklim om die boom te bereik. Ondanks Alet se konsentrasie om nie skeef te trap of te gly nie, gebeur dit tog dat ’n klip onder haar tekkie uitskuif en sy so amper haar ewewig verloor.
“Oppas,” klink Peet se stem agter haar op. “Onthou, jy gaan hier baie harder val as op die gras by De Mond.”
Sy kan aan niks dink om te antwoord nie. Begin net half oorhaastig verder klim, baie bewus van die stywe denimkortbroek wat sy aanhet. Hy sal regtig begin glo sy’s die lompste mens op aarde. En toe sy die boom bereik, stoot sy vir haar ’n pad tussen die ander deur om in die heel voorste ry te gaan staan, weg van Peet af. Maar toe sy weer sien, staan hy aan die ander kant van die boom, regoor haar.
“Die legende lui dat die halfmensboom eens op ’n tyd lid van die voortvlugtende Njama-stam was,” vertel Ben. “Uitgedryf deur die Koi- en Sama-stamme, het hulle omgekyk en versteen. Vandaar die rede dat die bome se koppe almal noord kyk. Die pienk-perserige blomme …”
Ben se stem vervaag toe sy opkyk. Peet staan vir haar en kyk. Oop en bloot, asof hy nie omgee wié dit sien nie. Die hut se gebeure kom so fel terug na haar dat sy onwillekeurig mik om haar kop weg te draai sodat hy nie moet sien sy bloos nie. Maar dan besluit sy anders. Sy sal terugkyk. Hom dwing om eerste weg te kyk. Hy doen dit nie. Al wat gebeur is dat daar ’n sweempie van ’n glimlag op sy gesig verskyn. Baie effens, maar genoeg om haar te laat glo hy weet sy wil hom dwing om eerste weg te kyk.
Hoe lank hulle na mekaar gestaan en kyk het, weet sy nie. Eers nadat hulle klaar by Richtersberg kamp opgeslaan het, sal sy uitvind dit was té lank. Toe Bets ongeveins vra: “Het jy en Peet ’n ding aan die gang?”
“’n Ding? Waarvan praat jy?”
“Moenie dink ek het nie gesien hoe julle mekaar in die oë gestaan en staar het daar by die halfmensboom nie! En Peet se aanhoudende geloerdery in die truspieël van die voertuig agterna, daar was nie eens ’n voertuig agter ons nie.”
“Jy verbeel jou dinge,” sê Alet, skynbaar ongeërg, maar met die sametrekking van ’n knop op haar maag. “Ek kan nie eens onthou dat ek vir hom gekyk het nie. As dit so is, was dit toevallig.”
Tot haar verligting lyk dit of Bets haar glo, want sy begin dadelik oor ander dinge gesels. Maar dit maak dat Alet met haar hele hart wens die einde van die toer was al in sig. Alles raak net moeiliker en moeiliker. Sy’t gehoop haar aangetrokkenheid tot hom sal oorwaai. Dat dit sal taan en verdwyn. Maar presies die teenoorgestelde is besig om te gebeur. Hoe harder sy probeer om haar gedagtes oor hom op die agtergrond te skuif, hoe sterker dring dit na vore.
Nadat die mans die tente opgeslaan het, kom vra Jan haar weer oudergewoonte of sy nie saam met hom wil gaan visvang nie. En anders as die vorige kere stem sy hierdie keer gretig in. Enigiets om weg te kom van Peet af, én om van haar gedagtes te ontvlug. Tot haar verbasing geniet sy dit dan ook. Veral nadat Jan haar aangemoedig het om self ’n vis te probeer vang.
“Wat maak ek nou?” gil sy hardop toe sy ’n pluk aan die lyn voel.
“Nou katrol jy hom stadig in,” sê Jan, en kom staan agter haar om haar te wys hoe dit gedoen moet word.
“Help!” skree sy benoud toe die vis met die lyn begin wegswem.
“Doen net wat ek sê,” sê Jan. “Moenie hom laat wegkom nie, dis ’n grote. Gee eers bietjie skiet, dan bring jy hom weer nader.
Dis nie lank nie, of die ander manne wat saam met hulle gekom het, staan ook nader om haar aan te moedig en raad te gee. “Gee skiet, bring hom nader, katrol hom in,” refrein dit in haar ore.
“Ek kan nie meer nie, my arms is morsaf!”
“Hou uit, jy gaan hom nou-nou op die wal hê.”
En daar vang sy, wat nog nooit tevore ’n visstok in die hand gehad het nie, sowaar die grootste vis van die dag! Dis die lelikste vis wat haar oë nog aanskou het. Nogtans laat dit haar nie min trots voel nie. “Wat maak ek nou met hom?” wil sy weet.
“Ons gooi hom terug,” sê Jan en maak die hoek los uit die vis se bek.
“Terug in die rivier! Dit sal die dag wees! Ek gaan hom vir ons gaarmaak!”
“Dan gaan jy alleen aan hom eet.”
“Hoekom?” vra sy, en wonder hoekom almal lag.
“Omdat dit ’n barber is. Dis nie ’n baie skoon vis nie. Hy vreet alles wat hy onder oë kry.”
“Sies! Hoekom moes ek dan al die moeite doen om hom te vang?”
Jan gryp haar onverwags om die lyf en tol haar in die rondte. “Dit kon net sowel ’n eetbare vis gewees het, my meerminnetjie.”
Sy woorde herinner haar onmiddellik aan Peet wat haar ’n waternimf genoem het by Potjiespram se swemgat. Maar sy forseer haar gedagtes dadelik in ’n ander rigting. “Sit vir my aas aan die hoek. Ek wil weer probeer.”
Op pad terug na die kamp voel sy baie tevrede met haarself, al het sy nie nog ’n vis gevang nie. Ten minste weet sy nou daar is iets wat sy kan doen om haar gedagtes weg te lei van Peet. Visvang gee jou nie tyd om te tob oor dinge wat nie kan uitwerk nie.
Terug by die kamp sorg sy dat sy altyd deel bly van ’n groepie kampeerders. Wanneer die een groep uitmekaar spat, gaan sluit sy vinnig by ’n ander groepie aan. Dit neem haar egter nie lank om uit te vind Peet doen presies dieselfde nie. Sy sal haar kop op ’n blok sit hy doen dit moedswillig. Hoekom treiter hy haar so? Watse bevrediging kry hy daaruit? Of wil hy dalk teenwoordig wees as sy dit sou uitblaker dat hy haar gesoen het sodat hy homself kan verdedig? Dit voel naderhand vir haar asof hulle besig is om wegkruipertjie met mekaar te speel. Dis wat maak dat sy Jan aan die arm vat en vra of hy nie lus is om ’n entjie saam met haar te gaan stap nie.
“Enige tyd. Wie sal dan vir so ’n mooi meisie nee sê.”
Vir ’n breukdeel van ’n sekonde kyk sy na Peet. Sien sy hom effens glimlag, asof hy presies weet wat in haar gedagtes omgaan. Maar dan keer sy haar rug op hom, en haak haar arm deur dié van Jan. “Kom ons loop. Ek voel lus om daardie koppie uit te klim.”
“Sjoe, maar jy kén van,” sê Jan toe hulle die kruin van die kop bereik. “Ek moes my storie ken om by te hou.”
“Maar dit was die moeite werd, was dit nie? Kyk hoe mooi lyk alles van hier af. Die rivier en die tente doer ver.”
“Ek weet van iets wat nóg mooier is,” sê Jan en kyk na haar sonder om te glimlag. “Mooier as enigiets op aarde.”
“Moenie sulke dinge sê nie.”
“Ek kan my nie langer inhou nie, Alet. Jy weet hoe ek oor jou voel.”
“Jy’t gesê jy sal geduldig wees.”
“Ek weet ek het so gesê, maar …” Hy pluk haar onverwags teen hom vas. “Ek kan nie langer my gevoel vir jou onderdruk nie.”
Sy deins nie weg toe hy haar soen nie. Die soen moet lekker raak, dit móét net! As sy vir Jan kan liefkry, is daar nie probleme nie. Bets sal gelukkig en tevrede wees, en sy sal ophou drome droom oor Peet. Dit sal vir almal beter wees.
Hy los haar so skielik dat sy amper omval. “Jou hart is nie in die soen nie,” sê hy teleurgesteld. “Jy’s so styf soos iemand wat ’n laaistok ingesluk het. Kortom, jy sou jou broer met meer gevoel gesoen het.”
Hy lyk so seergemaak dat sy nie weet wat om te sê nie. “Ag, Jan, ons ken mekaar mos nog nie goed genoeg nie.”
“Ek het ’n idee dat jy oor vyftig jaar nog presies dieselfde gaan sê. Vir my voel dit of ek jou my lewe lank ken. Om die waarheid te sê, ek … is seker ek is verlief op jou. Smoorverlief!”
“Moenie onsin praat nie. Ek bedoel, moenie so haastig wees nie. Gee my kans om gewoond te raak aan die gedagte dat jy ’n gevoel vir my het.”
“Sê my liewer reguit: mors ek my tyd met jou? Is daar iemand anders in jou lewe?”
Sy weifel ’n hele rukkie. Sê dan sag: “Daar is iemand van wie ek baie hou, maar daar kan niks van kom nie.”
“Hoekom nie?” Toe sy nie antwoord nie, lig hy haar ken sodat sy hom in die oë moet kyk. “Sê vir my hoekom daar niks van kan kom nie. Is hy … getroud?”
“Ja,” gryp sy vinnig na die verskoning wat hy haar self in die mond lê. Want, dink sy by haarself, dis beter dat hy dít glo, as wat hy haar begin dophou en agterkom dis Peet wat maak dat sy nie lus is vir sy attensies nie.
“Weet hy jy’s verlief op hom?”
“Nee.”
“Woon hy in die stad?”
“Ja.”
“Hoe gereeld sien jy hom?”
“Is ek onder kruisverhoor?”
“Nee. Ek wil net seker maak of ek darem nog ’n kans staan. Jy sal my leer ken as iemand wat nie sommer moed opgee nie.” Hy bly ’n oomblik stil. “As jy wil, kan ons nou maar teruggaan. Ek voel soos ’n hond wat ’n skop gekry het.”
“Jy’t self vir die skop gesoek. Ek het jou nie aangemoedig nie, het ek?”
“Nee,” sê hy en glimlag skeef. “Jy het nie. Ek moes van die begin af geweet het dis nodeloos om op jou verlief te raak. Mooi meisies soos jy se hart behoort altyd aan iemand anders. Wil jy teruggaan, of sal ons aan die ander kant van die kop afklim en met die kloof langs terugloop?”
“Nes jy wil.”
Op pad terug, toe hy weer met sy grappies en tergery begin, slaak sy ’n sug van verligting. Dit sou haar gepla het as hy hom moes opruk, of haar in die verleentheid geplaas het as hy niks verder met haar te doen wou hê nie. Sy’t so pas agtergekom dis makliker om met hom oor die weg te kom wanneer hy in ’n terglustige luim is as wanneer hy ernstig is.
Daar is niemand by die tente toe hulle daar aankom nie. Elsie is die eerste om op te daag. “Sjoe, dis warm,” sê sy toe sy in die skaduwee van ’n boom langs Alet gaan sit. “Ek het voor die ander omgedraai, want ek het skoon duiselig geraak van die hitte.”
“Jy kan bly wees jy het nie saam met ons gaan stap nie,” tree Jan ook toe tot die gesprek. “Alet stap ’n mens skoon flou. Ek het self in ’n stadium gedink die son gaan my doodbrand toe ons deur die kloof geloop het.”
“Ek was hierdie keer slim genoeg om my hoed saam te vat,” sê Alet. “Maar terwyl julle so kla oor die hitte, hoekom gaan koel ons nie in die rivier af nie?”
“Gaan julle twee maar,” sê Jan. “Ek is halfpad aan die slaap. Ek gaan liewer ’n uiltjie knip.”
Nadat sy en Elsie in ’n watergat geklim het, sê Elsie uit die bloute: “Ek het nie omgedraai oor dit so warm was nie. Ek het omgedraai oor ek en Ben weer stry gekry het.”
“Waaroor het julle gestry?”
“Ag, sommer oor dinge. Ons gaan al vyf jaar lank uit, maar dit lyk my ons verhouding stuur nou vinnig op ’n afgrond af. En hy’s so liggeraak, ek durf nie met hom praat daaroor nie, dan loop hy met ’n dikmond rond.”
“Ek kan dit skaars glo. Ek meen Ben is dan so ’n joviale ou. Altyd vol grappe en aan die lag. Ek het nooit kon dink hy kan dikmond raak nie.”
“Jy ken hom maar net nie. Maar kom ons vergeet daarvan. Die water is heerlik. Ek sal maklik hier in die poel kan bly tot sononder.”
Die ander het dan ook al opgedaag toe hulle weer by die kamp kom. En toe Alet die tent binnegaan om te verklee, kom Bets agterna. “Sjoe, ons het vandag ver gestap,” vertel sy. “Vannag gaan ek soos ’n klip slaap.”
Sy wens sy kon dieselfde sê, dink Alet by haarself. Want sy weet by voorbaat sy gaan weer ure lank wakker lê. Hoe anders met die dilemma waarin sy haar bevind?
“Haai, ek moet onthou, Peet verjaar môre,” onthou Bets skielik. “Ek beter vanaand sy geskenk uit my tas haal en hier tussen ons matrasse sit sodat ek nie vergeet om hom geluk te wens nie.”
Ondanks haar bedenkinge raak Alet tog gou aan die slaap dié aand. Dalk oor sy min van Peet gesien het die vorige aand, dink sy by haarself toe sy die volgende oggend wakker skrik. Die onplesierige windjie wat begin waai het, het gemaak dat almal vroegaand tente toe verkas het, dus was daar nie ’n gekuiery om die vuur nie. Toe sy orent kom, val haar oog op die toegedraaide pakkie tussen die twee matrasse. Peet se verjaardag … Heng, dit gaan moeilik wees om hom geluk te wens sonder om hom in die oë te kyk.