Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 8 - Elza Rademeyer - Страница 8

5

Оглавление

“Moet niemand praat oor Peet se verjaardag nie,” sê Bets ’n ruk later terwyl hulle aantrek. “Ek gaan maak asof ek dit vergeet het en wag tot ons almal bymekaar is om hom geluk te wens. Dink net hoe verras gaan hy wees.”

Dis dan ook terwyl almal buite die tente ontbyt nuttig dat Bets luidkeels sy verjaardag aankondig, en die pakkie aan hom oorhandig. “Spesiaal vir jou uitgesoek, my skat. Vir die dierbaarste, wonderlikste man in die hele wêreld! Ek hoop jy hou daarvan.”

Alet draai haar kop weg toe Bets se arms om sy nek glip, en ’n loodsware klip kom lê in haar binneste. Dan hoor sy ’n lawaai, en sien sy hoe die ander meisies almal nader gaan om hom met ’n soen geluk te wens. Dit sal snaaks wees as sy dit nie ook doen nie, dus loop sy ook huiwerig nader. Steek dan eers vas. Gee ’n treetjie vorentoe, en steek weer vas. Hy word so verdring deur die ander, wie gaan agterkom sy’t hom nie gelukgewens nie? Niemand sal mos weet nie.

“Maak oop jou pakkie, ons wil ook sien wat dit is,” sê iemand uit die bondel wat om hom saamdring.

“Net wat ek nog altyd wou gehad het,” sê hy nadat hy die geskenk oopgemaak het. “Nou kan die son maar bak op die gholfbaan. En die balle is net so handig. Baie dankie, Bets. Kom hier, dat ek jou ’n klapsoen gee.”

Alet draai weer eens haar kop weg, en kyk vas in Jan se blik. Sy skrik. Hoekom staar hy haar so peinsend aan? Het hy agtergekom sy’t nie vir Peet gelukgewens nie? Wonder hy dalk daaroor? Maar dan kom hy glimlaggend nader. “Bets het my vertel dit was jou idee dat sy vir Peet ’n gholfhoed moes koop. Toe wonder ek, speel jy ook gholf?”

“Nee, ek weet bitter min van die spel af. My pa is die gholfspeler. En oor hy altyd gekla het die son brand sy kop, het ek vir hom so ’n hoed gekoop. Sy tevredenheid daarmee het my laat dink enige gholfspeler sal so iets waardeer.”

“O, ek het gedink miskien speel jy ook. Ek wou jou nooi vir ’n potjie wanneer ons terug is by die huis. Neem jy aan enige ander sportsoort deel?”

“Ek speel ’n bietjie tennis wanneer ek die kans kry, maar dit gebeur nie baie nie. Ek gebruik my vrye tyd maar meesal om my pa te help met my ma se versorging sodat hy ook rus kan kry.”

“Sal jy darem eendag ’n tydjie kan afknyp om saam met my te gaan tennis speel?”

“Dit sal nie gou wees nie, want wanneer ek teruggaan moet ek help inpak. Ons trek binnekort na ’n ander huis toe.”

Toe hulle ’n rukkie later gereed is om te vertrek, sorg Alet dat sy op die sitplek agter Bets gaan sit. Dat dit dalk vir die ander snaaks kan wees, skeel haar min. Ten minste sal Bets nie weer kan sê Peet loer vir haar in die truspieëltjie nie. Maar dit verhinder haar nie om steeds aan hom te dink nie. As sy net geweet het wat sy bedoelings met haar is. En of hy Bets liefhet of nie.

Wat dan? vra sy haarself af. Al het hy ook nie vir Bets lief nie, is dit nog nie te sê hy’t vir háár lief nie. Sy moet ophou om verwagtinge te koester. Die feit dat hy haar nie ná die bokwagtershut-episode ignoreer nie, en dit lyk asof hy steeds toenadering soek, beteken tog net dat hy glo hy kan verder met haar mors.

Dis nie ver van De Hoop na die Richtersberg-kamp nie, maar daar is ’n hele paar plekke waar die konvooi tot stilstand kom om iets te besigtig. Soos by ’n hoop gruis waar daar eens op ’n tyd vir diamante gedelf is. Almal krap ewe ywerig tussen die klipgruis rond, kamma op soek na ’n diamant. Totdat Ben skielik opspring en skree: “Ek het hom! Ek het hom! Die grootste diamant in die wêreld!”

“Wat gaan jy daarmee maak?” vra iemand.

“In ’n ring laat monteer vir my meisie, wat anders?”

“O, jy gaan ’n ring kry, Elsie,” sê iemand anders.

Toe Alet na Elsie kyk, is daar geen glimlag op haar gesig nie. Net ’n hartseer uitdrukking om haar mond. En skielik daal daar ’n doodse stilte neer. Almal staar Elsie aan en Alet sien die traandruppel oor haar wang biggel. Dan spring sy op en hardloop in die rigting van die voertuig. Alet sien hoe Ben huiwer, die stukkie glas uit sy hand laat val, en eindelik koers kies agter haar aan. Almal by die gruishoop lyk ewe verslae. Haar oë dwaal half onbewustelik na Peet. Ook hy staar Ben en Elsie fronsend agterna, voordat hy sy kop laat sak en weer tussen die klippies begin krap.

“Hulle twee moet maar hulle eie dinge uitsorteer,” sê Ben se neef, Jaco, oplaas. “Ek gaan definitief nie toelaat dat hul onenigheid mý vakansie bederf nie!”

Dis dan ook nie lank nie, of die gelag en grapmakery gaan voort. En toe hulle by ’n volgende plek stilhou, wil dit voorkom of alles weer reg is tussen Elsie en Ben. Hulle loop hand aan hand, besigtig hier en daar ’n plant en verdwyn ewe goedsmoeds agter ’n struik waar die ander hulle nie kan sien nie. Daar word dan ook goediglik met hulle die spot gedryf toe hulle weer hul verskyning maak. “Ouens, dis nie lank nie, dan gaan ons bruilof hou.” En: “Elsie, het jou ma jou ooit vertel waar babatjies vandaan kom? Jy moet versigtig wees om sommerso die veld in te verdwyn saam met Ben.”

Alet weet nie of sy haar dit net verbeel nie, maar Elsie se glimlag lyk nie vir haar eg nie. Dit laat haar wonder of sy werklik gelukkig is, en of sy nie net hard probeer om haar gelukkig voor te doen nie.

“Mense kan darem laf wees!” sê Bets in ’n gegriefde stemtoon waar sy ’n entjie weg van die ander langs Alet staan. “Jy sou sweer hulle het net seks op die brein.”

“Ag, hulle terg die twee sommer. Hulle was dan kwalik vyf minute buite sig. Ek is net bly hulle het weer opgemaak. Dit sal die atmosfeer vir ons almal bederf as hulle vir mekaar moet vies wees.”

“Het jy toe al met Peet gepraat? Hom gevra of ek iets verkeerd gedoen het?”

“Nee. Maar ek kan nie sien hoekom ék dit moet doen nie. Ek kan nie agterkom dat hy snaaks is teenoor jou, of jou enigsins anders as vroeër behandel nie.”

“Hmm, miskien verbeel ek my maar dinge. Kom, ons moet gaan inklim. Daar wink Jan.”

Nadat hulle die tente by Richtersberg opgeslaan het, besluit sy om saam met Jan en ’n paar van die ander manne te gaan visvang, want sy’t klaar gehoor Peet het gesê hy wil nie saamgaan nie. Maar die mans het vergeet om drinkgoed saam te vat, dus word sy ’n paar uur later opgekommandeer om vir hulle bier by die tente te gaan haal. En op pad tente toe, kom Peet in die paadjie voor haar aangestap. Wegkruip kan sy nie meer nie, dis te laat. Dus stap sy hom oënskynlik ongeërg tegemoet, en vra, asof terloops: “Waarheen is jy op pad?”

“Ek het ’n paar biere vir die manne by die viswater kom wegbring,” sê hy en beduie na die pakkie in sy hand.

“O, dis gaaf. Jan het my juis gestuur om vir hulle te gaan bier haal.”

“Wel, ek is meer as halfpad daarmee onderweg, so nou kan ons eers hier onder die boom se skaduwee ’n blaaskans vat, of hoe?”

“Nee, ek moet loop. Ek bedoel, ek wil vir my ook gaan koeldrank haal.”

“Hier,” sê hy en haal ’n blikkie uit die sak. “Ek hét darem aan jou ook gedink.”

“Dankie,” sê sy ná sy die blikkie by hom geneem het, maar hy kry haar aan die arm beet toe sy verder wil stap.

“Moenie weghol nie. Kom ons gesels eers ’n rukkie hier onder die boom terwyl jy jou koeldrank drink.”

Hy laat haar geen keuse as om te gehoorsaam nie, want sy hand bly op haar arm totdat sy haar sit gekry het. Gelukkig neem hy nie té na aan haar plaas nie, want sy’s seker hy sal die wilde galop van haar hart kan hoor. ’n Skuldgevoel neem egter weer van haar besit toe sy aan Bets dink. Dit maak dat sy vra waar Bets is.

“Sy’t saam met Ben-hulle gaan stap.”

“Hoekom is jy nie saam nie?”

Hy loer na haar kant toe en glimlag effens. “Jy weet mos teen hierdie tyd van die voorgevoelens wat ek so van tyd tot tyd kry.”

“Jy’s laf,” sê sy en voel hoe haar wange weer verkleur.

“Ek is nie laf nie. Ek hét aan die moontlikheid gedink dat ek jou iewers alleen kan raakloop.”

“En noudat dit gebeur het?” Toe hy nie antwoord nie, kyk sy vlugtig na sy kant toe, en skrik vir die intensiteit waarmee hy na haar staar. Maar toe glimlag hy skielik.

“Nou kan jy vir my sê hoekom jy my nog nie gelukgewens het met my verjaardag nie.”

“Ek hét,” sê sy en verwens die blos wat al weer haar onthutsing verraai. “Sommer so oor die ander se koppe.”

“Die ander meisies het my almal gesoen.”

“Daar was so ’n samedromming om jou, ek kon nie tot by jou kom nie.”

“Wel, hier’s nou geen samedromming om my nie.”

Sy wil opspring en weghardloop maar hy moes bedag daarop gewees het, want voor sy orent kan kom, vat hy haar weer aan die arm. “Ek het gedink jou vrees vir my het verdwyn. Ek meen, daar in die hut was jy tog nie bang vir my nie, was jy?”

“Vergeet van die hut-besigheid!”

“Hoekom moet ek daarvan vergeet?”

“Ek het mos nou klaar geboet. Dis mos nou verby.”

“Gewoonlik sit iemand hom teë as hy beboet word. Hoekom het jy jou nie teengesit nie?”

“Omdat …” Sy soek wild na woorde. “Ek wou maar net sien …”

“Wat wou jy sien?”

Sy verbeel haar daar slaan sweet oor haar lyf uit. “Niks. Ek wou niks sien nie.”

“Sê vir my wat jy wou sien,” sê hy met sy gesig so naby dat sy selfs die spikkeltjies in sy oë kan sien.

Sy sluk, want agter haar ooglede raak dit eensklaps warm. “Sien of jy …”

“Of ek wat?” dring hy aan.

“Of jy … ’n man is,” stamel sy verbouereerd, voordat sy tot haar skande in trane uitbars.

Hy skuif nader en trek haar kop tot teen sy bors. “Toemaar, jy huil onnodig. Jy is nie alleen verantwoordelik vir wat daar gebeur het nie. Dis ’n mag buite onsself wat ons na mekaar toe dryf.”

Sy is nie seker wat hy bedoel nie. Sy sou bitter graag wil glo die “mag” waarvan hy praat, is iets soos aangetrokkenheid, selfs liefde. Maar dit kan ook ’n ander betekenis hê. Dat hy so teer oor haar hare streel, kan net beteken dat hy haar sag wil maak. Wil hê sy moet weer haar inhibisies oorboord gooi. Dit maak dat sy vinnig van hom af wegskuif, snuif en haar hele gesig met sand bemors toe sy die trane van haar gesig probeer wegvee met haar hand. “Ons moet loop. Jou biere word warm, en ek wil by die tent kom.”

Maar hy hou haar weer terug toe sy mik om op te staan en begin dan die sand van haar gesig met sy sakdoek wegvee. En toe hy die sakdoek terugdruk in sy broeksak, begin sy oë ondeund vonkel. “Sê my, twyfel jy nóg aan my manlikheid?”

Dis eens te erg! Niks kan haar keer toe sy opspring en begin nael nie. Nie sy geroep agter haar aan nie, ook nie die slag toe sy hom in die paadjie agter haar hoor neerslaan nie. Sy hardloop soos sy nog selde in haar lewe gehardloop het.

Gek! sê sy vir haarself toe sy eindelik kort duskant die kamp tot stilstand kom. Dis wat sy van haarself gemaak het, ’n gek. As hy enigsins getwyfel het, gaan hy nou verseker weet sy’t ’n gevoel vir hom. Nou sal hy eers lekker lag! En seker nog harder probeer om haar liggaam te verower. Dis tog al wat hy wil hê. Die nare … veelwywer!

By die tent aangekom, glip sy vinnig in haar baaikostuum en stap terug na die watergat. Dalk sal die koel water haar verstand meer helder maak. Maar die water help nie veel nie. Sy tergende oë met die geel spikkeltjies bly spook by haar. Dit lag en koggel haar uit. Sê vir haar hy het haar net waar hy haar wil hê, en hy weet dit maar alte goed!

Sy moet haar inspan om tot verhaal te kom toe sy Bets na die rivier toe aangestap sien kom. Dít ook nou nog. Hoekom juis nou? Hoekom kan niemand haar alleen laat nie!

“Ek dag jy het saam met Jan gaan visvang,” sê Bets toe sy in die water klim.

Sy noop haar om normaal te klink toe sy antwoord. “Ek was daar, maar het teruggekom om te kom bier haal. Toe kry ek Peet langs die pad, op pad om vir hulle te gaan bier wegbring. Ek was nie lus om al die pad weer terug te loop nie.”

“Die water is heerlik, nè?” sê Bets en plas met haar hande daarin.

“Ja, dis baie lekker. Waar is al die ander mense?”

“Ek weet nie. Ek het ’n entjie gaan stap en toe ek terugkom was daar niemand by die tente nie.”

’n Rukkie later kom sluit nog ’n paar meisies by hulle aan. Alet is bly daaroor. Sy kan nie anders as om op haar senuwees te wees alleen saam met Bets nie. Wat gaan sy sê as Bets oor Peet wil praat? Dan is daar nog haar skuldgevoel ook. Wat Bets se reaksie sal wees as sy ooit moet uitvind wat in die bokwagtershut gebeur het, wil sy liewer nie aan dink nie.

Toe Jan-hulle veel later terugkeer kamp toe, kom steek hy by haar vas waar sy in die koelte op ’n kombers lê en lees. “Hoekom het jy nie saam met Peet teruggekom viswaters toe nie?”

“Ek was te lui om al die pad terug te loop.”

“Dan is jy seker nou ook te lui om saam met my te gaan swem, of hoe?”

“Ek hét al geswem, maar ek sal saamgaan. Laat ek net gou weer my swemklere aantrek.”

Natuurlik, as sy geweet het Peet is al klaar in die watergat, sou sy nooit saam met Jan gegaan het nie. Toe sy hom gewaar, sprei sy vinnig haar handdoek op die oewer oop. “Swem jy maar. Ek sal hier vir jou wag.”

“Die water is heerlik,” sê hy ná ’n rukkie. “Kom swem saam.”

“Nee, ek hét mos geswem. Ek lê liewer in die son.”

“Draai jou dan om en gesels ten minste met ons. Of is die berg soveel interessanter as ons?”

Dit verplig haar om van posisie te verander en na die rivier toe te kyk. “Waaroor wil jy gesels?”

“Gits, as Peet nie hier was nie, sou ek geweet het waaroor om te gesels. Maar die arme man se meisie is nie hier nie, so hy sal net jaloers raak as ek nou oor ons twee se toekoms begin praat. Of hoe, Peet?”

Daar verskyn ’n effense glimlaggie op Peet se gesig. Hy kyk reguit na haar toe hy Jan antwoord. “Inteendeel, ek sal baie graag wil hoor wat julle twee vir die toekoms beplan.”

“Om te trou, natuurlik,” hoor sy Jan sê. “Ek sal net eers by daardie kwaai ma van haar moet verbykom. Dink jy sy sal my as ’n skoonseun aanvaar, my skat?”

“Sy sal geen man as skoonseun aanvaar nie. Jy’t gehoor wat sy gesê het. Die man wat my wil hê, sal moet wag tot sy dood is.”

“Was sy ernstig daaroor?”

“Natuurlik was sy ernstig daaroor.”

“Hoe lank dink jy gaan sy nog leef?”

“Luister, jy praat net nonsens. En jy het buitendien vir Peet as geselskap, so ek gaan nou terug tente toe.”

“Ag, jy’s dan nog skaars hier.”

“Ja, maar ek is skielik dors. Ek wil gaan water drink.”

“Oukei, my skat. Ek sien jou nou-nou daar.”

Waar hy aan sy “geskat” kom, weet sy nie. Dit stel haar net in die verleentheid, dink sy by haarself toe sy opstaan en loop. Veral voor Peet. Dis asof hy wil seker maak Peet moet glo daar is ’n verhouding tussen hulle. Asof dit Peet enigsins sou raak indien dit wel so was!

Sy gaan lê weer op die kombers toe sy terugkom by die kamp. Dis ook nie lank voor die vaak haar bekruip nie. Eers toe Jan sy nat arm om haar lyf slaan, skrik sy wakker. “Kan ek maar hier langs jou lê?” wil hy weet.

“Ja,” sê sy lomerig en skuif op om vir hom plek te maak.

“Daar aan die ander kant van haar is vir jou ook plek,” sê hy tot haar konsternasie vir Peet.

“Dankie, maar ek sit sommer hier op die stoel.”

Sy is verlig, maar terselfdertyd wrewelrig oor Peet se antwoord. As hy langs haar moes kom lê het … Nee, sy wil liewer nie daaraan dink nie. Dog, die feit dat hy nie Jan se aanbod wou aanvaar nie, impliseer dat hy verkies om nie voor ander mense naby haar te kom nie. Met ander woorde, sy’s net goed vir afgesonderde watergate, agter bome, en verlate plekkies soos die bokwagtershut!

Ná ’n ruk staan Jan op. “Julle twee gesels my vas aan die slaap,” spot hy oor die doodse stilte tussen hulle. “Ek gaan nou eers ’n bietjie oë toemaak daar in die tent. Miskien hou julle dan op om so te babbel.”

Alet hou haar blik op die boek voor haar, maar neem nie ’n woord in van wat daar staan nie. Sy is oorbewus van die man op die stoel neffens haar. Voel as ’t ware hoe sy blik oor haar skroei. Geen wonder sy raak sommer aan die bewe toe hy sy stoel nog nader skuif en reg voor haar kom sit nie.

“Jy neem tog nie in wat jy lees nie. Kom ons gesels liewer.”

“Natuurlik neem ek in wat ek lees.”

Hy lag saggies. “Jy sal nog leer dit help nie om vir my te jok nie.”

Sy klap ergerlik die boek toe. “Hoekom treiter jy my so?”

“Ek treiter jou nie. Ek soek net geselskap.”

“Nou gesels dan. Ek luister.”

“Jy moet saamgesels.”

“Waaroor?”

“Oor enigiets. Jy kan ’n onderwerp kies.”

“Goed, vertel my dan van die vorige keer toe jy hier was. Hoekom jy hierheen gekom het.”

“Hoekom kies jy so ’n moeilike onderwerp? Moeilik vir my, en iets wat jou nie regtig sal interesseer nie.”

“Van wie of wat het jy gevlug?”

Sy gesig raak ernstig. “Moet ons regtig daaroor praat?”

“Hoekom nie?”

Toe sy oë dwaal, later teen die berge oorkant die rivier vastrapplek vind, en sy ’n spiertjie langs sy mond sien spring, weet sy ineens dis ’n saak van erns vir hom. Dit laat haar sleg voel oor sy so daarop aangedring het dat hy moet vertel. “Toemaar,” sê sy verskonend. “Jy hoef my nie te vertel nie.”

Hy kyk vlugtig na haar en weer terug na die berge toe. “Ek het geglo ek kan van my gewete af wegvlug.”

Dit raak baie stil om hulle. Amper asof die natuur ook wil luister.

“Wat het gebeur?”

“Ek het ’n kind doodgemaak.”

Haar ingewande ruk van skok. “Tog seker nie opsetlik nie?”

“Nee, nie opsetlik nie. Maar deur nalatigheid.”

“Tydens ’n operasie?”

“Nee. Ek het oor haar gery met my motor.”

“Het sy voor jou ingeloop?”

“Nee.”

“Wat het dan gebeur?”

“Ek het by vriende op hul plaas gaan kuier. Die middag by hulle geëet. Daarna het ek in my motor geklim en weggetrek …”

Sy wens sy kon haar hand na hom toe uitsteek. Dit oor syne lê. “Jy’t nie geweet sy is voor die motor nie?”

Hy skud sy kop. “Nee. Nee, ek het nie geweet nie.”

“Waar was haar ouers?”

“Hulle het my op die stoep afgesien en weer die huis binnegegaan. Ek moes klop, en vir hulle gaan sê …”

“Was sy op slag dood?”

“Ja.”

“Hoe oud was sy?”

“Twee jaar.” Dis lank stil voor hy weer praat. “Kan jy jou indink hoe dit gevoel het om vir my vriende te sê ek het hul enigste kind doodgery? ’n Kind vir wie hulle nege jaar lank gewag het. Die enigste wat hulle sou kon hê.”

“Nee, ek kan my dit nie indink nie,” sê sy sag. “Maar wat ek wel weet, is dat hulle ook agtelosig was. ’n Mens laat nie ’n tweejarige kind toe om alleen buite te speel as jy weet daar is ’n voertuig op die werf wat gaan ry nie.”

“Hulle het my aangekla van strafbare manslag. Volgens hulle sal ek altyd die moordenaar van hul kind wees.”

“Dis ook nie reg nie. Hoe lank terug het dit gebeur?”

Hy lig sy skouers effens. “Drie jaar gelede. Ek kan myself nie verskoon nie, Alet. Ek moes om die motor geloop het, gekyk het of dit veilig was om weg te trek.”

“Wie van ons doen dit ooit?”

“Ek het geweet daar is ’n kind in die huis. Sy het minute vantevore nog op my skoot gesit en met die penne in my hempsak gespeel.”

“Haar ouers het nie geweet sy’s buitentoe nie. Hoe moes jy dit geweet het? Dit was ’n ongeluk, Peet.”

“Dit was die hof se bevinding, ’n ongeluk … nalatigheid … Almal sê dit was ’n ongeluk. Maar …”

Toe hy ineens opstaan en met lang treë en geboë hoof op die bome afpyl, lê sy ’n paar oomblikke besluiteloos op die kombers. Maar dan vlieg sy op. Sy kan hom nie só los nie. Nie met soveel hartseer en pyn in hom nie.

Sy kry hom tussen die bome, op sy hurke met sy rug teen ’n boomstam. Haar hande steun op sy knieë toe sy voor hom kniel. “Peet …? Ek is jammer.”

Dit neem ’n rukkie voordat hy sy kop lig. Toe steek hy sy hand uit en streel saggies oor haar wang. “Dankie dat jy geluister het.”

“Ek is jammer dat ek die storie uit jou getrek het.”

“Moenie jammer wees nie. Dis goed dat dit gebeur het. Ek kon nog nooit met iemand daaroor praat nie.”

Sy raak eensklaps bewus van sy hand teen haar wang, en van haar hande op sy knieë. “Voel jy ’n bietjie beter?”

Hy glimlag skeef. “Ek voel beter, ja.”

Sy trek haar hande terug en kom orent. “Wil jy nog ’n rukkie hier bly?”

Sy kop knik. “Ja.”

“Goed. Dan … dan loop ek nou maar.”

Veel later trek sy die boek weer nader. Maar sy kan nie konsentreer nie. Hy’t gesê hy het nog met niemand daaroor gepraat nie. Ook nie met Bets nie? Hoekom nie? Was hy bang sy sal hom veroordeel? Teen hierdie tyd moet hy haar mos goed genoeg ken om te weet sy sal nie so iets doen nie. Of is hy bang sy sou dit te ligtelik opneem en nie verstaan watter teer saak dit vir hom is nie? Hoeveel fasette is daar nóg in sy lewe waarvan sy niks weet nie?

Elza Rademeyer Omnibus 8

Подняться наверх