Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 8 - Elza Rademeyer - Страница 6

3

Оглавление

“Vertel my meer van jouself,” sê hy.

Sy voel genoodsaak om eers haar keel te skraap.

“Soos wat?”

“Enigiets. Vertel my van jou werk.”

“Wel, jy weet seker ek werk in ’n hospitaal.”

“Ja. Geniet jy dit?”

“Ja, baie.”

“Wat het jou laat besluit om verpleging as beroep te kies?”

“Seker maar oor ek van kleins af siek mense en diere jammer gekry het. En jy? Hoekom het jy ’n dokter geword?”

“Seker maar oor ek ook van kleins af gewens het ek kon mense se lyding versag.”

Hospitaalsake lê haar na aan die hart. En omdat dit ’n veel veiliger onderwerp is, neem dit nie lank voor die geselskap op dreef kom nie. In die begin neig haar blik knaend na die paar mooi welgevormde bene langs haar, maar later kry sy dit reg om bo-oor hulle te kyk. Daarmee saam bring die gekabbel van die water ook ’n rustigheid in haar gemoed. Eers toe hy haar attent maak op die pienk strepe van die sonsondergang teen die horison kom sy tot haar ontnugtering agter hoe vinnig die tyd aangestap het.

“Ons moet kamp toe gaan. Die ander sal wonder wat van ons geword het,” sê sy vervaard.

“Niemand sal voor halfsewe begin wonder nie,” sê hy rustig.

“Dit kan nie meer ver van halfsewe af wees nie.”

Hy korrel na die son. “Dis nog nie eens sesuur nie.”

“Ek wil nog gaan aantrek.”

Hy kom tydsaam orent en help haar op. “Wag hier tot ek onder is.”

Toe hy onder haar staan en sy arms na haar uitstrek, raak sy onbedaarlik aan die bewe by die gedagte dat sy in die kring van sy arms gaan wees. Dit maak dat sy op haar eie van die rots probeer afgly, maar tog maar deur hom gevang word. En skielik raak dit doodstil in haar toe hy sy arms om haar hou nadat haar voete vastrapplek op die bodem van die watergat gevind het.

“Dankie vir jou geselskap, waternimfie.”

Die effense heesheid van sy stem en die vinnige manier waarop hy haar laat los en oewer toe plas, laat haar glo hy is ook geraak. Dat sy hom nie onverskillig laat nie. Dit vul haar enersyds met opwinding, maar ook met hartseer, want dit mag nie! Hy is Bets se vriend, die eerste man wat sy opreg liefhet. Sy, Alet, durf nie in haar vriendin se weg na geluk staan nie. Bets sal dit ook nooit toelaat nie.

Hy hou haar handdoek na haar uit toe sy uit die water klim. “Hang dit om jou skouers, hulle is klaar rooi gebrand van die son. En smeer sonbrandolie aan wanneer jy by die tente kom. Ek gaan daar na die vissermanne toe stap.”

Sy gehoorsaam sonder om na hom te kyk en stap vinnig weg in die rigting van die kampeerterrein. Bets sal méér doen as om haar oë uit te krap as sy moet agterkom sy koester gedagtes oor Peet, dink sy by haarself. Sy sal hom doelbewus moet vermy. Onmiddellik haar aangetrokkenheid tot hom moet besweer. Daar is geen ander uitweg nie. Boonop soek sy nie ’n herhaling van die Wouter-episode nie.

Maar dis nie so maklik om hom te bly ontwyk nie. Veral nie die aand toe almal om die braaivleisvure rondstaan nie. Sy kan hom tog nie die hele aand onder oog hou nie. Nog minder padgee toe hy skielik langs haar vra wat sy van die Richtersveld dink.

“Wel, die berge is ietwat ru, maar mooi. En die sonsondergang vroeër vanaand was pragtig. Hier is ook baie meer plante as wat ek te wagte was. Ek het verwag ek gaan die hele tyd net klippe en kaal berge sien.”

“Maar na die binneland se kant toe is dit taamlik dor en vaal. Dis hoekom dit nie almal se ideale plek is vir ’n vakansie nie.”

“Ek glo dit. My ma is een van hulle. Sy sal nooit kan insien dat dit vir iemand lekker kan wees om die geriewe van ’n gebou te verruil vir ’n tent in die boendoes nie.”

“En jou pa?”

“O, hy sou dit geniet het hier. Hy hou van die natuur. Ek dink hy is nogal spyt dat hy ons plaas buite Stellenbosch verkoop het om in die stad te gaan bly.”

“Hoe lank woon julle nou in die stad?”

“Drie jaar. Hulle het stad toe getrek kort ná die motorongeluk. My pa het gedink dit sal beter wees as my ma nader aan die dokters en spesialiste is. Ek het toe ook uit die verpleegsterstehuis getrek en by hulle in die huis gaan bly om hom te help met my ma se versorging.”

“Jy woon dus nou pal by hulle in die huis?”

“Ja.”

“Hoedanig is jou ma se rugbesering?”

“Die hoofsenuwee is beskadig, maar nie af nie. Die spesialiste was van mening dat sy weer sou kon loop as sy voortgegaan het met fisioterapie, maar …”

“Maar?” vra hy toe sy swyg.

“Sy’t summier geweier om daarmee voort te gaan na haar ontslag. Háár rede is dat hulle haar net onnodig wou pynig.”

“Jy glo dis nie die werklike rede nie?”

“Nee, soms dink ek sy wil net my pa …”

“Gaan voort,” moedig hy aan toe sy weer stilbly.

“Wel, ek wou gesê het ek dink partykeer sy wil my pa net straf, oor sy glo die ongeluk was sy skuld. Maar kom ons praat oor iets anders. Dis onnodig dat ek jóú met my ma se geite en grille verveel. Ons is mos buitendien met vakansie om ’n slag weg te kom van ons daaglikse sorge, is dit nie?”

“Jy’s heeltemal reg. En dis goed as ’n mens dit kan regkry om soms van jou sorge te vergeet. Dis net nie altyd so maklik nie.”

“O, hier is julle,” kom Bets op hulle afgepyl. “Peet, Ben wil weet of jy hom sal help met die braaiery. En, Alet, ons meisies moet glo sorg vir die bykosse.”

Tydens die slaaimakery kan Alet nie ophou wonder oor Peet se laaste opmerking nie. Dit het amper geklink of hy sorge het wat hy nie van hom afgeskud kan kry nie. Of wil sy betekenis heg aan iets wat nie bestaan nie?

Die lang rit vroeër die dag maak dat die atmosfeer om die vuur ietwat gedemp word deur die moegheid van die manne, dus gaan soek almal vroegaand die tente op. En die volgende oggend toe hulle opstaan, sê Bets: “Elke voertuig se mense moet mos vir hulself sorg wat ontbyt en middagete betref. So, ek sal vanoggend vir ons ontbyt maak, dan kan jy die skottelgoed was.”

“Hoekom sê jy my nou eers? As ek geweet het jy sal ontbyt maak, kon ek later geslaap het,” korswil Alet. “Nou het ek klaar aangetrek en is my bed ook al opgemaak.”

“Toemaar, Jan wag hier buite vir jou. Hy’t juis vir my gesê ek moet jou kom roep, want hy wil hê jy moet saam met hom gaan stap.”

Sy strek behaaglik uit toe sy buite kom. Die son sit al heelwat hoër was wat sy gedink het. Dis natuurlik oor sy die vorige aand gesukkel het om aan die slaap te raak dat sy nie vanoggend haar oë kon oopkry nie. En wie anders moet die blaam daarvoor kry? Peet, natuurlik! Die verdekselse mansmens wat haar lewe so deurmekaar wil krap.

Die daglig laat haar stukke beter voel. Sy sal sorg dat hy nie weer haar gedagtes bekonkel nie. Maar toe sy vir Jan gaan sê sy is gereed om saam met hom te gaan stap, val Peet ook langs hulle in. Albei mans lyk vars en ruik lekker na naskeermiddel of iets. Tog verbeel sy haar die geur wat aan Peet kleef, is meer aangenaam as dié van Jan. En die kere wat Jan haar aan die hand wil neem om haar oor klippe of slote te help, kom sy gou op haar eie reg, asof skaam dat Peet moet sien sy vat aan Jan se hand. Pure bogtery, sê sy vir haarself. Hy’s tog nie anders as Jan of enige van die ander mans nie. Behalwe … Nee, sy moenie verder dink nie. Sy mag nie!

Hulle stap nie ver nie, want Bets het vooraf gewaarsku dat haar ontbyt binne ’n halfuur gereed sal wees. “Julle is net betyds terug,” sê sy dan ook toe hulle by haar aansluit. “Elkeen kan vir homself skep.”

“Watse brousel het jy hier?” vra Jan toe hy die pan se deksel oplig. “Dié dis lyk vir my baie verdag. Sal ons dit oorleef as ons hiervan eet?”

“Vergeet van Jan, en kom skep vir julle,” sê Bets. “Dis sy geliefkoosde gereg. Hy probeer julle maar net omhaal om minder daarvan te eet sodat daar meer vir hom is. Jy moet onthou dat ek die resep vir jou gee, Alet. Jy gaan dit vorentoe nog baie nodig kry.”

Toe Alet opkyk en Peet se blik op haar betrap, voel sy hoe haar wange opvlam. Sy loop vinnig tafel toe om vir haar te gaan skep. Hy sal maak dat sy nog oor haar eie voete gaan val ook, dink sy met onredelike ergernis. Pleks hy hom met ander dinge besig hou. Sy aandag op Bets toespits. Nou bly sy om elke hoek en draai teen hom vaskyk. Hoe moet sy haar aangetrokkenheid tot hom besweer as hy voortdurend in haar gesigsveld is?

Gelukkig vertrek hy en Jan net na ontbyt om saam met die ander manne te gaan visvang. Bets vra haar om saam te stap toe sy later die oggend vir hulle wil gaan bier wegbring, maar sy veins ’n hoofpyn. “Vra liewer een van die ander meisies om saam te stap.”

Die mans keer eers laatmiddag terug. Toe sy hulle sien aankom, gaan verruil sy vinnig haar bikini vir ’n kortbroek en bloes voordat sy weer op die kombers by haar boek gaan lê. Jan kom vly hom langs haar neer en vat die boek voor haar weg. “Haai, wat is die belangrikste? Dat ek na jou verlang het, of ’n storieboek?”

“Ek is by die interessantste gedeelte, man. Gee hier my boek.”

“Sê eers of jy na my verlang het?”

“Ja, verskriklik baie,” jok sy. “Gee nou terug my boek.”

“Gee my eers ’n soentjie om te wys jy’t rêrig verlang.”

“Los jou verspottigheid.”

“Verspottigheid! Hoor jy wat sê sy, Peet? Sy sê my verlange na haar is verspottigheid! Wat moet ek nou doen?”

“Nee, moenie vir my vra nie,” sê Peet. “Ek weet wat ek sou gedoen het as ek in jou skoene gestaan het, maar nou staan ek nie in jou skoene nie.”

“Wat vir ’n raat is dit? Dit help my net mooi niks.”

“Waar’s Bets?” vra Alet om ’n ander wending aan die tergery te gee.

“Nee, ek weet nie,” sê Jan. “Ons het gedag sy’s hier, want sy’s lank voor ons van die viswaters af weg.”

“Kan ek vir julle gaan koeldrank haal?”

“Koeldrank!” sê Jan verontwaardig. “Dink jy ons is babas? Groot manne soos ons drink hierdie tyd van die dag bier, nie vrugtesappies nie.”

“Dis nog te vroeg. Die boeing is nog nie eens oor nie.”

“Hy is, ja. Jy’t hom maar net nie gehoor nie oor jou aandag by die storieboek was. Waaroor gaan dit? Seker maar weer die ewige driehoeksverhouding tussen ’n man en twee vroue?”

“Jy sit die pot mis. Dis ’n godsdienstige boek,” sê sy en staan op om vir hulle bier te gaan haal.

Toe sy Peet se blikkie vir hom aangee, maak hy skielik of dit deur sy hand wil glip. Sy gryp instinktief na die blikkie om te keer dat dit val, en voel hoe haar wange weer eens verkleur toe hy lag en sy agterkom hy het haar vir die gek gehou. Die verdekselse man! Hoekom geniet hy dit so om met haar die gek te skeer! Sy’t net weer op die kombers gaan lê, toe Bets daar aankom.

“O, julle is al hier,” begroet sy die mans toe sy nader kom. “Ek het nie gedink julle gaan so gou kamp toe kom nie.”

“Waar was jy dan?” vra Jan.

“Ek het daardie kop uitgeklim,” beduie sy na een van die nabygeleë koppies. “Ek was tot heel bo. En nou gaan ek swem. Kom jy saam met my, Peet?”

“Ja, ek dink dis ’n goeie plan. Wat van julle twee, kom julle saam?”

“Wat sê jy?” vra Jan vir Alet.

“Gaan jy maar saam met hulle,” sê sy vinnig. “Ek is te lui om nou my kostuum te gaan aantrek.”

“Dan bly ek ook,” sê Jan tot haar teleurstelling. Dog, sy sal eerder sy tergery verduur, dink sy by haarself, as om saam met Bets en Peet in die water rond te plas en teen die rotspunt vas te kyk waarop sy en Peet die vorige dag gesit het.

“Ek hou van jou,” sê Jan nadat die ander twee geloop het. “Ek hou meer van jou as wat goed is vir my hart.”

“Hou op met jou tergery.”

“Ek terg nie,” sê hy ernstig. “Ek bedoel elke woord.”

“Moet net nie verwagtinge koester nie.”

“Hoekom nie?”

“Omdat … Ag man, ons ken mekaar skaars.”

“Dit voel of ek jou al jare lank ken. Maar moenie bekommerd wees nie, ek sal my nie aan jou opdring nie. Ek sal geduldig wees.”

“Jy sal dalk eindelose geduld moet hê.”

Hy glimlag skeef. “Ons sal sien. Dalk kry jy vinniger ’n gevoel vir my as wat jy dink.”

Die aand word daar weer tot laataand om die vuur gekuier. Om te voorkom dat Peet weer haar aandag in beslag neem, lê sy daarop toe om aan die gesels te bly met Jan en die meisie wat langs haar sit. En toe daar van slaap gepraat word, is sy van die eerstes wat tent toe verkas.

Vir ’n wonder raak sy ook gou aan die slaap. Maar vroeg die volgende oggend droom sy ’n aaklige nagmerrie waarin Bets haar met ’n tuinvurk jaag om haar oë uit te steek, en Peet wat laggend staan en toekyk …

“Alet! Alet, word wakker!” dring Bets se stem eindelik tot haar deur. “Wat kreun jy so? Is jy siek?”

“Kreun? Siek? Nee, ek makeer niks. Hoekom?”

“Jy makeer niks! Hoekom gaan jy dan tekere asof ’n ystervark jou bygekom het?”

“Regtig? Ek het seker gedroom.”

“Gedroom! Dit moes ’n verskriklike nagmerrie gewees het. Vertel!”

“Ek kan nie onthou nie. Ek dink dit was van ’n leeu of iets wat my gejaag het,” jok sy haar uit die penarie los.

“Mensig, jy’t my laat skrik. Ek het amper gehardloop om Peet te gaan roep. Gedink jy’t ’n epileptiese aanval of iets!”

Dank die vader sy hét nie vir Peet gaan roep nie, kom dit by Alet op. Want in die droom was sy so teleurgesteld en kwaad vir hom dat sy hom sweerlik iets sou aangedoen het as hy in werklikheid voor haar moes verskyn.

Tot haar verleentheid vertel Bets vir almal van haar manewales in die tent. “En dan kan sy nie eens onthou of dit regtig ’n leeu was wat haar gejaag het nie. Ek hoop nie dit was ’n voorbode nie. Is hier leeus in die Richtersveld, ouens?”

“Ja,” sê Ben dadelik. “Yslike goed wat binne sekondes met jou sal klaarspeel. Groot bekke en sulke yslike goudgeel tande.”

“Hmm. Dan het hulle seker stomp sterte en horings op die kop ook,” spot Bets saam.

Bets se verwysing na ’n voorbode herinner Alet ineens aan haar ma se waarskuwing oor die telefoon die aand by De Mond: Ek het jou sien huil. Daar was ’n man in die droom. Jy moet tog oppas vir die mans daar saam met jou. Onsin! Sy glo tog nie aan sulke dinge nie. Sy’t haar nooit daaraan gesteur nie, hoekom sal sy nou?

Ná ete maak sy die skottelgoed bymekaar en gaan sit by Elsie langs die rivier.

“Gelukkig het ek nie vanoggend baie skottelgoed om te was nie. Almal was sommer tevrede met koffie en beskuit,” sê Elsie vir haar.

“Jy’s gelukkig. Ek sit met ’n hele berg skottelgoed,” gesels sy saam. “Jan het ontbyt gemaak, en kyk net hoe lyk hierdie pan aangebrand. Ek weet nie of ek dit ooit weer gaan skoonkry nie.”

“Was jy al by die bokwagtershut waar ons gister verbygery het?”

“Nee, nog nie,” sê Alet. “Ek wil dit juis nog van naderby gaan besigtig.”

“Jy sal dit interessant vind, die manier waarop hulle die latte gevleg en die bokkraaltjie omhein het.”

’n Rukkie later staan Elsie op om te loop. “Ek sien jou later weer. Ben se neef, Jaco, het belowe hy gaan my vandag leer visvang. Hy wag net dat ek moet klaarmaak met die skottelgoed.”

Jan het al aangebied om haar ook te leer visvang, onthou Alet. Maar sy weet nie of sy daarvan sal hou nie. Dit het nog altyd vir haar na ’n eentonige sportsoort gelyk.

Van die duiwel gepraat, dink sy by haarself toe sy opkyk en Jan en Peet in haar rigting aangestap sien kom. Jan met ’n visstok oor die skouer. Haar verleentheid is groot toe hulle by haar tot stilstand kom en Jan sê: “O, is dit waar my mooie meisie wegkruip?”

Sy hou haar blik op die skottelgoed, wetende dat haar wange verkleur. “Ek kruip nie weg nie, ek was skottelgoed.”

“Was dit dan nie veronderstel om Bets se beurt te wees nie?”

“Ja, maar ek het aangebied dat ons ruil sodat sy saam met die stappers kon gaan.”

“Ek sal wag tot jy die skottelgoed teruggeneem het, dan gaan vang jy saam met my vis.”

“Dankie, Jan, maar ek sal verkies om nié saam te gaan nie. Ek kan nie dink dat dit vir my lekker gaan wees om te sien hoe al die grotes aan die hoek wegkom nie.”

“Wel, jy gee seker nie om as ek gaan probeer om hulle in te katrol nie?”

“Nee, glad nie. Kyk of julle nie iets kan saambring vir die kole nie. Ek sal dit gaarmaak.”

Menende dat Peet saam met hom geloop het, begin sy saggies neurie, en skrik haar skoon oorhoeks toe iemand skielik saam met haar begin neurie. Toe sy omkyk, staan Peet nog net waar hy vroeër gestaan het, en Jan loop al doer! “Gaan jy nie saam met Jan nie?”

“Nee. Visvang is nie een van my geliefkoosde sportsoorte nie.” Toe tel hy een van die skoon vadoeke op en gaan sit gehurkend oorkant haar langs die skottel. “Ek sal jou liewer met die skottelgoed help.

Sy dink wild aan iets om te sê, maar dis of haar verstand nie wil werk nie. Die enigste ding wat deur haar brein spoel, is dat hy nie moet agterkom sy verbeel haar sy’t ’n gevoel vir hom nie. Maar hoe moet sy dit regkry, met hom so naby dat sy maar net haar hand kan uitsteek om hom aan te raak?

“Jy’t dié vurk half gewas,” sê hy en tuimel dit terug in die water.

Sy waag dit nie om op te kyk nie. Sy geamuseerde stemtoon sê vir haar hy hou haar gesig dop. Hoe op aarde verwag hy sy moet die goed skoon kry? Haar hande en hele lyf is dan die ewe bewerasie. Geen wonder een van die borde glip twee keer uit haar hande nie.

“Jy’t te veel seep in die water,” sê hy. “Jy sal maak dat die kos na seep smaak.”

“Ek het nie gesê jy moet die goed afdroog voordat ek dit skoon gespoel het nie.”

“O, ekskuus. Ek het nie geweet jy was van plan om dit eers in ander water af te spoel nie.”

“Ek het buitendien nie jou hulp nodig nie.”

“Haai, ek het nie geweet ’n waternimf het so ’n skerp tong nie! Hoekom is jy nog altyd bang vir my? Ek het jou mos nie gebyt nie, het ek?”

Die lag in sy stem maak haar heeltemal verbouereerd. Voordat sy haar kan bedink, skiet sy hom binne-in die gesig met ’n hand vol skottelgoedwater. Toe sy opkyk en die blertse seepskuim teen sy voorkop en op sy ken sien, bars daar ’n histeriese laggie oor haar lippe. Wat het sy aangevang? Maar toe sy sien hy maak ’n nog groter gemors daarvan toe hy dit probeer wegvee, is dit asof die knoop wat haar emosies in toom moes hou, plotseling meegee. Die lag kom vanself. Al harder en harder totdat sy skaterlag.

“Hiervoor gaan jy boet,” sê hy kamma kwaai toe hulle lagbui bedaar. “Dubbel en dwars!”

“Hoe?” vra sy speels. Haar kop voel lig, soos iemand wat ’n sopie te veel wyn gedrink het.

“Jy sal nog sien. Wag maar.”

“Hoekom moet ek wag om te sien?” treiter sy hom.

Hy loer vlugtig in die rigting van die mense by die tente voordat hy haar blik in syne vasvang. “Omdat ek jou nie in die verleentheid wil stel nie.”

Sy woorde skok haar terug tot die werklikheid, want die uitdrukking in sy oë laat haar glo dat sy weet presies hoe hy haar wil laat boet. Iets wat sy ten alle koste moet vermy. Dis genoeg dat sy klaar baie meer van hom hou as wat goed is. Hy moet haar nie soen nie. Hy moet haar nooit in sy lewe soen nie!

“Is Bets toe weg saam met die ander?” Sy weet nie hoekom sy dit vra nie. Dalk om hom ook terug te skok tot die werklikheid. Dalk oor haar gewete met haar praat.

“Ek weet nie. Hoekom wil jy weet of sy saam met hulle weg is?”

“Ek … wonder sommer net … of sy onthou het om haar hoed op te sit.”

“Hoe lank ken jy en Bets mekaar al?”

“Seker so om en by tien jaar.”

“Eintlik wou ek vra, hoe góéd ken jy haar?”

“Hoekom vra jy so? Ek ken haar so goed soos twee mense wat al ’n paar jaar saamkom.”

“Maar wat nie noodwendig eenders dink en doen en al jul geheime met mekaar deel nie?”

“Nee, natuurlik nie. Ons is mos net vriendinne, nie ’n identiese tweeling nie. En geheime het ons nie.”

Hy antwoord nie daarop nie. Staan net op en skiet die vuil skottelgoedwater op die gras uit. Toe skep hy die skottel vol skoon water, kom sit dit voor haar neer, en sê uit die bloute: “Ek is bly jy dink en doen nie dinge soos Bets dit doen nie,” voordat hy omdraai en wegstap.

Sy staar hom verwonderd agterna en frons. Wat het hy met sy opmerking bedoel? Kan dit dalk wees dat hy nie hou van die manier waarop Bets haar somtyds aan hom opdring nie? Maar hy is dan haar kêrel. Hy’t mos nie nodig om haar kêrel te wees as sy om irriteer nie. Nee wat, na watter kant toe sy ook al sy woorde oordink, dit maak nie sin nie.

Later die oggend sit Peet op ’n kampstoel onder die boom naby die waterkan toe sy wil gaan water tap om vir haar en Bets koffie te maak. Hy roep saggies na haar en beduie dat sy met ’n draai moet loop om agter hom te kom staan. “Het jy al ooit in jou lewe ’n eiesinnige voëltjie gesien? Hou ’n bietjie daardie enetjie dop. Sy ma wil vir hom ’n stukkie appel voer, maar kyk net wat doen hy daarmee.”

“Hy spoeg dit uit,” sê sy verwonderd.

“Kyk nou. Die ma het dit gesien en weer kom optel. Sy gaan dit nou weer in sy bekkie sit.”

Die wyfie het kwalik haar rug gedraai of die kleintjie spoeg dit weer uit.

Peet gee ’n laggie. “Sien jy hoe eiesinnig is hy? Die proses het hom nou al ’n paar keer herhaal. Daar pik die ma dit nou weer op.”

“O, gits, sy’t moed opgegee,” sê Alet toe sy wegvlieg van die kleintjie af.

“Kyk,” sê Peet. “Daar voer sy dit nou vir die ander kleintjie.”

“Hmm, gelukkig is hý sonder fiemies. Maar dis die eerste keer dat ek so iets sien. Ek het nie kon dink ’n voëltjie het ook ’n wil van sy eie nie.”

“Gaan jy vir my ook koffie bring?” vra hy toe sy omdraai om te loop.

“Ja, goed, ek sal vir jou bring.” Maar sy doen dit nie. Sy vra vir Bets om dit vir hom te gaan gee.

“Ai, mans is darem gemaklike goed,” kla dié kamtig toe sy die koffie by Alet neem. “Hy moet net nie dink ek gaan hom so bederf wanneer ons getroud is nie.”

Haar nuuskierigheid kry die oorhand. “Het hy jou al gevra?”

“Nog nie in soveel woorde nie. Ons gaan darem nog net drie maande uit, onthou.”

Toe sy sien hoe liefderik Bets oor Peet se kop streel voordat sy die koffie vir hom aangee, vergeet sy skoon van haar eie koffie. Die geel monstertjie op haar skouer lag so dat sy sommer ’n koers inslaan weg van die tente af, en eers tot stilstand kom toe dit voel asof die son haar harsings verskroei. Nadat sy ’n rukkie in die skaduwee van ’n boompie gesit het om af te koel, stap sy stadig terug. En toe sy sien sy is nie ver van die bokwagtershut nie, swenk haar voete asof vanself daarheen.

Daar aangekom, bekyk sy eers die bokkraaltjie langs die hut. Dit moet ’n baie eensame lewe wees, dié van die bokwagters, loop en dink sy by haarself toe sy die hut binnegaan. Net ’n enkele siel en ’n paar bokkies. Dan stol haar gedagtes toe haar blik op ’n figuur in ’n donker hoek van die hut val, en sy hyg verskrik.

“Waar loop jy rond?”

Peet se stem keer net betyds dat sy omspring en weghardloop. “Sjoe, hoe laat jy my skrik! Ek het nie ’n mens hier verwag nie.”

“Ek het dan juis probeer om jou nié te laat skrik nie. Dis hoekom ek so vinnig gepraat het toe ek jou gewaar.”

“Wat maak jy hier, so alleen in die hut?”

“Kom kyk hier,” sê hy en sak weer af op sy hurke in die hoek van die hut. “Hier staan iets geskryf op die stuk sinkplaat wat hier lê. Kan jy uitmaak wat hier staan?”

Sy loop instinktief nader. “Potj,” spel sy die onduidelike geel letters uit. “Dit moet Potjiespram wees wat hier staan. Dis mos die naam van die kamp. Die bokwagter het dit dalk as naambord vir sy hut gebruik.”

“Moet seker wees,” sê Peet toe hy orent kom. “Dit kan nie altyd maklik vir die bokwagters wees om so in afsondering te leef nie. Een van hulle het my eendag vertel hy sien sy gesin net elke derde week, wanneer hulle vir hom kos bring.”

“O. Waar het jy met hom gesels? By die hospitaal?”

Hy bly ’n rukkie stil. “Nee, hier in die Richtersveld.”

“Was jy dan al voorheen hier?” vra sy verbaas.

“Ja, lank terug.”

“Ek het nie geweet nie. Jy’t nog nooit genoem dat jy al hier was nie.”

Hy roer sy skouers effens. “Niemand het my gevra of ek al voorheen hier was nie.”

“Dis tog seker nie ’n geheim nie?”

“Nee, maar ek het verkies om daarvan te vergeet.”

Haar kop knik. “Ek verstaan. Jy’t hier ontvlugting kom soek. Seker ná ’n … liefdesteleurstelling.”

Hy glimlag effens en kom staan so na aan haar dat sy wonder hoe haar hart dit moet hou. “Jy’s verkeerd. Dit was iets anders.”

“O.” Haar hart tamboer ineens tot in haar ore. Die manier waarop hy na haar kyk … Daar daal ’n amper tasbare stilte oor hulle neer. ’n Weekheid spoel oor haar. Haar verstand sê sy moet vlug, dat sy besig is om met vuur te speel. Maar haar hart weier halsstarrig om na haar verstand te luister. “Wil jy daaroor praat?”

“Nee, nie nou nie,” sê hy effens hees en lig sy hand om saggies met sy vinger oor haar ken te streel.

Sy kan nie padgee nie, al wil sy ook. Sy oë hou haar vas, trek haar nader. En toe sy arms om haar vou, dink sy nie meer met haar hart óf verstand nie. Die hele wêreld kom tot stilstand. Al wat tel, is hulle twee en die skemerte van die bokwagterhut. Sy vingertoppe beweeg vlindersag oor die kontoere van haar gesig. Toe soen hy haar. So talmend en met soveel selfbeheer dat sy, voorheen altyd so versigtig om nie onbeteuelbare emosies in ’n man aan te wakker nie, ineens die drang ondervind om dit te laat gebeur. Dis dan ook sy wat haar inhibisies oorboord gooi, en hom terugsoen met dié soort drif wat nie anders kan as om hartstog in hom te ontsluit nie.

Elza Rademeyer Omnibus 8

Подняться наверх