Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 8 - Elza Rademeyer - Страница 9

6

Оглавление

Die aand langs die kampvuur het sy moeite om haar blik van hom af weg te hou. Hy lyk weer soos iemand wie se gedagtes op ’n ver plek is. Kan drie jaar gelede se dinge nou nog so ’n invloed op hom hê dat hy sukkel om dit te bowe te kom? Dit was tog nie regtig sy skuld nie. Sý loop nie elke keer om haar motor om te sien of daar iets voor of agter is nie. Aan die ander kant, as dit sy was wat ’n kind doodgery het … Die blote gedagte stuur ’n koue rilling teen haar rug af. Nee, sy kan verstaan dat dit ’n prentjie is wat hom vir die res van sy lewe voor oë sal bly.

Hulle het dan ook kwalik klaar geëet, of sy verdwyn ongemerk tent toe. Sy kan eenvoudig nie in die ander se pret deel nie. Nie ná sy belydenis teenoor haar nie. Sou Bets weet dat hy voorheen hier in die Richtersveld was? Of het hy dit ook nie teenoor haar laat val nie? Hoekom het hy sy hart vir háár oopgemaak?

Sy weet nie hoe laat Bets kom slaap het nie. Toe sy wakker skrik is dit al dag buite, en is daar groot bedrywighede buite om die kostafel. Dit laat haar onthou dat Jan en twee van die ander mans die vorige aand aangebied het om vir almal ontbyt te maak. ’n Groot taak, as jy in ag neem dat dit twintig mae is wat hulle moet voed. Sommige kampeerders is reeds aan die smul. Haar blik val op Peet waar hy ook met ’n bord in die hand staan, en sy steek vas. Dit raak skielik stil in haar. ’n Snaakse lighoofdige stilte. Sy staar hom verstar aan. Haar hart gee ’n ruk. En nog ’n keer toe die verblindende wete haar tref dat sy hom liefhet. Dat haar gevoel vir hom veel meer as net fisieke aangetrokkenheid is. Sy wil by hom wees, deur dik en dun, deur storms en stilte, vir altyd en altyd …

Hy kyk plotseling op, sien haar staan en kom reguit na haar toe aangestap. Sy staan vasgenael, haar bene te lam om hom te probeer ontwyk.

“Goeiemôre. Het jy lekker geslaap?”

“Ja …” Haar stem is so hees dat sy eers moet keelskoonmaak. “Ja, dankie. En jy?”

“Baie lekker. Kan ek vir jou iets gaan inskep?”

“Ek kan self …”

“Dit sal vir my lekker wees om iets vir jou te doen,” onderbreek hy haar sin. “Sit hier op die stoel, ek bring vir jou ’n bord kos.”

Haar bene sou haar in elk geval nie tot by die tafel kon dra nie. Toe hy omdraai en wegstap, neem sy verward en ontsteld op die stoel plaas. Sy’t geweet sy speel met vuur. Dat daar iets met haar aan die gebeur is wat nie mag nie. Tog het sy gedink sy sal dit kan keer. Dat daar iets sou gebeur wat sal verhoed dat sy haar hart verloor …

“Haai, hoekom het jy my nie wakker gemaak toe jy opgestaan het nie?”

Sy sukkel half om Bets in fokus te kry, al staan sy reg voor haar. “Jy’t nie gesê ek moet jou wakker maak nie.”

“Nee, natuurlik nie. Of verwag jy ek moes vir jou gesê het: haai, maak my wakker, sodat ek jou kan vra om my wakker te maak? Ek mompel nie in my slaap soos jy nie.”

“Wat het ek gemompel?” vra sy bekommerd. “Kon jy hoor wat ek gesê het?”

“Ja, maar dis dalk beter as jy nie weet wat ek gehoor het nie. O, hier kom Peet aangestap met twee borde in sy hande. Lyk my hy’t solank vir ons gaan kos haal.”

“Môre, Bets,” groet Peet toe hy by hulle kom. “Jy beter vinnig vir jou gaan skep as jy wil eet, want daar is nie meer baie kos oor nie.” En tot Alet: “Hier, ek hoop jy eet lekker. Ek mis net my mieliepap vanoggend.”

“Bets is nou vies,” sê sy toe sy sien hoe dié opgeruk van hulle af wegloop.

“Waaroor?”

“Oor jou houding. Sy’t gedink jy bring vir haar ook kos.”

“Ek het mos nie geweet sy gaan hier wees nie. En in elk geval is ek nie van plan om háár te bederf nie. Sy kan haar eie kos inskep.”

“Jy’s nou lelik.”

Hy antwoord nie. Sleep net met sy een hand vir hom ’n stoel nader om langs haar te kom sit. “Ek weet nie wat Jan-hulle alles in hierdie konkoksie het nie, maar dit smaak nie sleg nie. Nou nie naastenby so lekker soos jou mieliepap en wors nie, maar nou ja, smaak verskil. Die ander sal dalk nie elke oggend mieliepap wil eet nie.”

“Dit gaan weer ’n warm dag word,” wyk sy van die onderwerp af, oorbewus van haar ontdekking van flussies én dat Bets kort-kort in hul rigting kyk van waar sy by die kostafel staan.

“Hmm. Ek verkies die hitte bó die donderstorm wat ek beleef het toe ek laas hier was. Dit was hoogs aanskoulik, maar een keer was genoeg. Jy kan nie dink hoe nietig voor die Skepper dit my laat voel het nie.”

“Het dit gereën ook?”

“Gegiet, asof dit met emmers van bo kom.”

“Was jy nie bang jy reën vas nie?”

“Dit het gelukkig net so vinnig as wat dit losgebars het, weer opgehou. Maar die pad wás sleg verspoel. Ek moes op party plekke eers klippe in die gate rol om te kon oor.”

Toe sy Bets na hulle toe aangestap sien kom, staan sy vinnig op. “Jy kan hier op my stoel sit. Ek het klaar geëet, so ek gaan nou eers tent toe om my bed op te maak.”

“Jy’t dan amper niks geëet nie,” sê Peet.

“Ek is nie honger nie.” Dis waar, dink sy toe sy wegloop om die oorskiet in die vullissak uit te krap. Daar is geen lus vir kos in haar nie.

Kort ná ontbyt slaan almal weer ’n koers in. Sy besluit om saam met Jan-hulle te gaan visvang. Maar later die oggend begin dit haar verveel en toe Peet en Bets ook daar aankom, gebruik sy weer ’n hoofpyn as verskoning om terug te gaan kamp toe.

“Het jy nie ’n hoofpynpil vir haar by jou nie, Peet?” wil Jan weet.

“Nee, ongelukkig nie. Maar ek sal saam met haar stap en vir haar iets gaan gee.”

“Dis nie nodig nie,” keer sy onthuts. “Ek hét hoofpynpille in die tent.”

“Drink sommer twee pille,” sê Jan.

As ’n mens ’n pil kon kry wat jou liefde vir ’n man in die kiem kon smoor, sou sy ’n bottel vol daarvan gedrink het, dink sy wrang toe sy vinnig van hulle af wegloop. Ongelukkig bestaan daar nie so iets nie, dus sal sy dit self moet doen: oombliklik haar liefde vir hom soos ’n vuur blus voor dit opvlam en haar hele menswees verskroei.

By die tent aangekom, trek sy haar swemklere aan en stap terug na die swemgat. Maar die koelheid van die water kan nie haar hart binnedring nie. Ook nie haar skuldgevoel teenoor Bets wegvat nie. Hoekom wou Bets haar nie vertel wat sy in haar slaap gemompel het nie? Het sy nie dalk Peet se naam genoem nie? Iets verklap van die ongeluk nie? Bets is nie dom nie, en sy was al voorheen suspisieus. Sy sal maklik twee en twee bymekaar kan tel.

Die ergste is om nie te weet hoe Peet oor haar voel nie. Soms wil sy glo hy het vir haar ook ’n dieper gevoel. Dat dít die rede is hoekom hy met haar oor dinge gesels waarvan Bets nie weet nie. Maar dit mag ook wees dat hy net besef het sy het ’n gewillige oor vir ontboeseming. Dis nog glad nie te sê hy is nie lief vir Bets nie.

“Hoe gaan dit met die hoofpyn?”

Sy’t hom nooit sien kom nie, en skrik haar lam toe sy hom op die oewer sien sit. Kouende aan ’n grassprietjie, asof hy al lank daar sit. “Dis beter, dankie.”

“Hoe lank is jy al in die water?”

“’n Hele rukkie. Hoekom?”

“Klim uit en kom sit hier langs my. Ons moet praat.”

Haar hart mis ’n slag. “Waaroor?”

“Oor ons twee en die toekoms.”

Haar hart mis twee slae. “Wat is daar om te sê?”

“Dis nie iets om oor ligtelik te wees nie. Ek is ernstig. Klim uit dat ons gesels.”

“Jy hoef nie bang te wees ek sal vir Bets sê jy was al voorheen hier nie, of vir haar van die ongeluk vertel nie,” stamel sy oorstuurs.

“Dis nie waaroor ek met jou wil praat nie. Kom, klim nou uit.”

“Jy moet liewer loop. Netnou maar sien sy jou hier, en dan …”

“Goed, as jy nie wil uitklim nie, kom ek na jou toe.”

Haar hart gee ’n ruk toe hy die daad by die woord voeg en met klere en al in die water spring, tot by haar kom en albei haar hande in syne neem. “So ja, nou kan jy nie weer vir my weghardloop nie. Moenie jou kop wegdraai nie, Alet. Kyk vir my.”

Hy klink so ernstig dat sy nie anders kan as om te gehoorsaam nie. “Wat wil jy sê?”

“Weet jy nie?”

Haar kop duisel van die intensiteit in sy oë. Sy skud haar kop ontkennend, want haar stem, weet sy, is weg.

“Ek het gedink my verbeelding speel my parte daar in die bokwagtershut. Maar jou optrede agterna het my daarvan oortuig dat jy nie onverskillig teenoor my staan nie. Net soos wat ek ook nie onverskillig teenoor jou staan nie.”

Sy maak haar blik moeisaam los uit syne. “Dit mag nie.”

“Hoekom nie?”

“Omdat … Bets jou baie liefhet. Ek sien nie kans om haar seer te maak nie.”

“Bets sal nie ’n enkele traan stort nie. Jy bekommer jou verniet oor haar.”

“Jy’s verkeerd. Sy was nog nooit so erg oor ’n man soos oor jou nie. Ek weet, want ek moet elke dag hoor hoe lief sy jou het.”

“Werklik?”

“Dis nie nodig om skepties te klink nie. Jy weet net so goed soos ek sy’t jou lief.”

“En as ek aan jou bewys dat sy my nie liefhet nie?”

“Hoe gaan jy dít regkry?”

Hy kyk oor haar skouer en gee ’n suggie. “Ons gaan nie langer alleen wees nie. Kom ons gaan gesels op ’n ander plek.”

Sy skrik, maar toe sy omkyk sien sy dis gelukkig nie Bets nie, maar van die ander kampeerders wat in aantog is.

“Kom,” sê Peet, en help haar uit die water. “Ons gaan klim sommer daardie kop uit. Hopelik sal niemand ons daar bo op die kruin kom pla nie.”

Maar die ander is toe juis op soek na Peet. “Jy sal moet kom help,” sê Jaco. “Mary-Ann het ’n lelike sny op haar been opgedoen. Sy sal steke moet kry.”

Peet kyk na haar. “Ons gesels weer later.”

Sy knik net haar kop en drentel stadig agterna toe die ander hulle terughaas kampeerterrein toe. Haar kop voel lig en vry, want Peet hét ’n gevoel vir haar. Dis net die feit dat Bets gaan seerkry wat haar vreugde vertroebel.

Peet is nog besig om Mary-Ann se been te dokter toe Bets-hulle terugkom. Dit maak dat hulle nie verder kan gesels nie, want Bets kom met twee rakette en ’n balletjie te voorskyn, en sy kan nie weier toe sy gevra word om saam met haar te speel nie. En toe hulle moeg gespeel onder die boom wil gaan sit, kom roep Jan hulle om te kom help met die was van Peet se motor.

“Ben het van sy kop af geraak,” kla hy. “Hy wil nou skielik hê al die voertuie moet gewas word, want hulle lyk kwansuis soos iets wat op ’n skrootwerf hoort. Wat sal dit help ons was hulle? Hier’s nie teerpaaie in die Richtersveld nie. Twee dae, en hulle gaan weer net so vuil wees.”

“Hou op kerm, Jan,” sê Bets. “Ben is reg. Die goed lyk aaklig.”

Alet het self ook al gewonder of hulle nie die voertuie ’n slag kan was nie. Al gaan hulle nie vir lank skoon bly nie, sal dit darem verhoed dat die stof nóg dikker op hulle aanpak. Daar word soveel opmerkings en kwinkslae kwytgeraak toe almal aan die werk spring, dat dit spoedig in ’n aangename speletjie ontaard. Toe sy op ’n keer met ’n emmer rivier toe wil draf om skoon water te gaan haal, neem Peet onverwags die emmer uit haar hand. “Gee vir my, ek sal gaan skep. My toekomstige vrou kan nie so swaar dra nie,” sê hy ewe luiters voordat hy wegstap met die emmer.

Sy kyk verwilderd om haar rond om te sien of iemand hom nie gehoor het nie. Maar gelukkig is Bets en Jan aan die voorkant van die voertuig en die ander almal so hard aan die gesels dat hulle hom nie sou kon hoor nie. Haar hart bons in haar keel. Sy toekomstige vrou. Dis ’n oorweldigende gedagte.

Die skemer sak toe sonder dat hulle kans kry om hul gesprek van vroeër die dag voort te sit. Maar dit bekommer haar nie. Die een of ander tyd sal hulle wel weer ’n geleentheid kry om alleen te wees. Dog, toe die kampvure brand, en sy sien hoe Bets haar stoel langs dié van Peet aan die oorkant van die vuur staanmaak, knaag die onsekerheid weer skielik aan haar. Peet het baie optimisties geklink toe hy gesê het Bets sal nie ’n traan oor hom stort nie. Sy beslistheid daaroor het háár ook half oortuig dat Bets nie regtig so erg oor hom is as wat sy dink nie. Maar nou weet sy nie. Die manier waarop Bets hom pamperlang … vir hom bier aandra, tent toe draf om vir hom ’n sakdoek te gaan haal, haar stoel nader skuif aan syne …

Peet was verkeerd. Bets ís baie lief vir hom. En sy, Alet, is bereid om haar geluk te verongeluk. Om hul jare lange vriendskap tot niet te laat gaan. Hemel, wat moet sy doen? Haar liefde vir Peet prysgee ter wille van haar vriendin, of moet sy voortgaan en vir die res van haar lewe met ’n skuldige gewete rondloop?

Jan gaan haal sy kitaar, en dis nie lank nie, of daar heers weer groot vrolikheid om die vuur. Net Elsie, sien sy, sit afgetrokke voor haar in die vuur en staar. Ben sit by Peet en Bets. Dit lyk nie of haar ongelukkigheid hom pla nie. Hy vertel ’n grap wat Bets laat skater van die lag. Peet lag nie, maar hy’t waarskynlik nie die grap gehoor nie. Sy aandag is by die rooster en die vleis op die vuur. Toe hy op ’n keer opkyk, glimlag hy vir haar, maar toe vat die vleis vlam van die vet op die kole en moet hy vinnig weer sy aandag daarby bepaal.

Slaaptyd verskyn hy skielik langs haar. “Jy moet lekker slaap, hoor.”

“Jy moet ook lekker slaap.”

Maar sy kan nie aan die slaap raak nie. Sy’s bang sy praat dalk weer in haar slaap. Dis eers in die vroeë oggendure dat sy eindelik indommel.

Bets is voor haar op die volgende oggend. Nadat sy by die tent uit is, besluit sy om ook maar op te staan. Sy duik egter vinnig terug onder die beddegoed toe Peet ineens in die tentopening verskyn. “Is jy wakker?”

“Ja. Ek het nou net wakker geskrik.”

“Kan ek vir jou koffie bring?”

“Ek sal sommer daar buite kom drink. Ek was nou net van plan om op te staan.”

“Goed, maak net gou. Ek wil vir jou iets wys.”

Toe sy buite kom, stap hy haar tegemoet met ’n bekertjie koffie in die hand.

“Dankie, dit was nie nodig nie. Wat wou jy my wys?”

“Kyk,” sê hy en beduie in die rigting van die hoë berge. “Die oggendson se strale daar teen die Richtersberg. Is dit nie mooi nie?”

“Dis pragtig.”

“Ek het gedink jy sal daarvan hou om dit te sien,” sê hy en sit doodluiters sy arm om haar lyf om haar nader te trek.

Sy tree verskrik weg. “Moenie! Hulle gaan ons sien!”

“Maak dit saak as iemand ons sien?”

“Natuurlik! Kan jy dink wat Bets sal doen as sy ons hier so saam sien? Dit sal die hele vakansie beduiwel!”

“Die ergste wat kan gebeur, is dat sy effe in haar trots gekrenk sal voel. Maar ek gaan tog netnou vir haar sê hoe sake staan. Dat sy nie langer op my moet steun om …”

“Nee!” keer sy oorstelp. “Sy gaan vreeslik omgekrap wees. Laat dit eers daar. Ons kan later vir haar sê. Daar kom sy juis nou deur die bome gestap. En hier kom Jan ook.”

“Môre, my skat,” word sy tot haar verleentheid deur Jan gegroet. “Het jy lekker geslaap?”

Sy probeer so hard sy kan om ongeërg te klink. “Ja, en jy?”

“Heerlik. Drink jou koffie klaar, dan gaan stap ons ’n entjie.”

Nog voordat sy haar mond kan oopmaak om hom te antwoord, sê Peet: “Ja, dis ’n gawe plan. Ons kan gerus weer ’n entjie gaan stap voor ontbyt.”

As haar gemoed nie so deurmekaar was nie, sou sy kon lag oor sy moedswilligheid. En hoewel sy kan sien Jan is ietwat onthuts oor sy oënskynlike wanbegrip van die uitnodiging, sê hy gelukkig niks. Maar toe Bets opdaag, stel sy voor hulle geniet eers koffie en beskuit vir ontbyt, dan kan hulle almal saam gaan stap, en hoef hulle nie haastig te wees om terug te kom nie.

Hulle stap ver, al met die rivier se oewer langs. “Hier lyk die water beter,” sê Jan op ’n keer. “Ons kan môre hier kom lyn natmaak.” Hy draai na Alet en vat haar aan die arm. “Of hoe sê jy, my skat? Jy gaan mos saam met my kom, of hoe?”

Alet is pynlik bewus van Peet wat na hulle staan en kyk, en verwens sy voorbarige troetelnaam. “Ag, ek twyfel of ek sal saamkom. Met my geluk sal ek tog net weer ’n barber vang.”

Met die teruggaan gebeur dit ’n paar keer dat die mans voor hulle loop. Sy kan nie anders as om haar te verlustig in Peet se ferm sonbruin bene en die ratsheid van sy voete wanneer hy van klip tot klip spring nie. Die buiging van sy lyf, die swaai van sy arms …

“Eina!” Haar gedagtes word plotseling verbreek deur Bets se harde uitroep agter haar. “My voet!”

Almal draai blitsig om na haar toe hulle sien sy’t geval. “Ek dink ek het my enkel verstuit.”

“Hmm, dit wil so voorkom,” sê Peet nadat hy haar voet ondersoek het. “Dit lyk gelukkig nie te ernstig nie, maar jy sal nie op jou voet kan trap nie.”

“Hoe moet ek dan by die tente kom?”

“Jy sal gedra moet word. Kom, klim op my rug.”

Alet wonder hoekom moes dít juis nou gebeur het. En of dit regtig nodig is dat Bets hom so styf om die nek moet vashou. Maar dan knaag die skuldgevoel weer aan haar. Sy het die reg daartoe. Sy, Alet, is die indringer, die een wat haar van haar geluk wil beroof.

By die tent aangekom, wil Bets niks weet van gaan lê nadat Peet haar enkel verbind het nie. “Ek sal met my voet op ’n bankie daar by Mary-Ann gaan sit. Ons twee sal mekaar geselskap hou.”

Toe die ander sien haar voet is verbind, wil almal weet wat het gebeur. “Dis oor jy nie liewer saam met óns gaan stap het nie,” sê Jaco. “Ons het jou gesoek, maar toe was jy skoonveld.”

“Ek het verkies om saam met Peet te stap.”

“Ja, natuurlik! Hoe is dit dan dat ek vergeet het jy’t ’n kêrel?”

“Hoor hier, soek jy my?” vra Bets ergerlik.

“Nee, ek terg sommer,” sê Jaco vinnig. “Klim maar af van jou perdjie, ek sal jou nie verder treiter nie.”

“Jy beter nie, want ek kan van jou ook dinge sê.”

Alet wonder wat die onderonsie tussen die twee beteken toe sy sien hoe vies Bets vir Jaco agterna gluur toe hy wegloop om iets in die vullissak te gooi. Haar blik soek na Peet. Wat dink hy van die situasie? Maar hy gesels ongestoord met een van die ander manne, en het hulle seker nie eens gehoor nie.

Sy en Peet kry nie kans om alleen te gesels nie, want daar is altyd iemand wat óf haar óf Peet se aandag opeis. Sy word ook ingespan om te help met die middagete, en daarna voel sy genoodsaak om saam met die ander meisies te gaan swem toe iemand so ’n voorstel maak. Dis net Bets en Mary-Ann wat agterbly. En toe hulle terugkom, het die mans besluit om die aand ’n potjie te maak. Sy moet weer help om aartappels te skil en uie op te kap. Peet blyk ’n bobaaskok van potjiekos te wees, dus hou dit hom besig tot etenstyd.

Ná ete kom trek Jan haar van die stoel af op. “Kom ons gaan stap ’n entjie.”

“Dis dan donker,” soek sy na ’n verskoning.

“Ons kan ’n flitslig saamvat, maar dis amper nie nodig nie. Die maan skyn helder genoeg. Ons kan padlangs stap.”

“Dink jy nie ons het vandag al genoeg gestap nie? Ek voel eerder lus om te gaan slaap.”

“Ons hoef nie ver te stap nie. Net so ’n entjie terwyl Peet Bets se enkel verbind.”

Dis sy laaste sin wat haar laat besluit om tog saam te stap. Kleinlike jaloesie, dink sy by haarself, maar sy is regtig nie lus om te sien hoe Peet Bets se enkel vertroetel nie.

Die wandeling is meer ’n marteling as iets anders. Sy moet bly keer dat Jan se praatjies weer ernstig raak, en verder wil haar gedagtes nie weg van Bets en Peet nie. Om alles te kroon, is Jan nie haastig om terug te gaan nie. “Ons moet darem vir Peet en Bets ook kans gee om saam te kuier. Die toer is seker tot ’n mate ongerieflik vir verliefde paartjies, want hulle kry min kans om alleen te wees.”

Toe hulle eindelik terugkom in die kamp, is Peet die enigste persoon wat nog buite langs die kwynende vuurtjie sit.

“En nou, as jy so alleen hier sit?” vra Jan.

“Ek het maar so pas eers hier kom sit. Dinge het ’n bietjie skeef geloop hier in die kamp nadat julle hier weg is.”

“Hoe so?” wil Jan weet.

“Ag, sommer twee paartjies wat mekaar die hare ingevlieg het.”

“Wie?” vra Jan nuuskierig.

“Mary-Ann en Thinus, en toe ook Ben en Elsie.”

“Was dit ernstig?”

Peet lig sy skouers. “Ek weet nie hoe dit geëindig het nie. Ek het maar liewer ’n ent gaan stap, en eers teruggekom nadat hulle na hul onderskeie tente verkas het.”

“En Bets? Slaap sy al?” vra Jan.

“Ja. Ek het vir haar ’n slaappilletjie gegee sodat sy nie te veel woel met haar enkel nie. Hy behoort binne ’n dag of twee reg te wees as sy hom stilhou.”

“Ek groet julle,” sê Alet. “Lekker slaap.”

“Jy ook,” sê Peet.

Maar Jan laat haar nie so maklik wegkom nie. Hy tree voor haar in en versper haar weg. “Wag ’n bietjie. Ons twee het mos nie rusie gemaak nie. Jy gaan my darem seker ordentlik nagsê, of hoe?” Hy wag nie op ’n antwoord nie, maar trek haar vinnig nader en soen haar vol op die mond. Sy kyk nie Peet se kant toe nie, vlug net ylings in die rigting van die tent toe hy haar los, en ploeg oor die aarde toe haar voet aan ’n tentpen vashaak. Dog, voordat hy naby genoeg kan kom om haar op te help, is sy binne-in die tent.

“Het jy nie seergekry nie?” hoor sy hom besorg buite die tent vra.

“Nee.” Maar ná ’n rukkie kom sy agter daar is ’n nattigheid op haar hand. En toe sy die flitslig aanskakel, sien sy daar is ’n lelike sny op die bokant van haar hand. Hoe dit gebeur het, weet sy nie. Maar die bloed drup op haar beddegoed. Dit laat haar geen ander keuse as om weer buitentoe te gaan nie.

“En nou?” vra Jan toe hulle haar gewaar waar sy na die waterkant toe draf met die flitslig.

“Hier’s ’n sny op my hand. Ek wil net die bloed afwas.”

Albei mans kom nader. “Wat het jy dan gemaak?” vra Jan.

“Ek weet nie mooi nie. Dit was seker toe ek geval het.”

Peet neem haar hand in syne om die wond van naderby te bekyk. “Ons sal dit goed moet ontsmet. Dit kan ’n geroeste tentpen wees wat jou gesny het. Jan, wil jy nie gou my noodhulptassie in die tent gaan haal nie, asseblief?”

Tot Alet se ontsteltenis raak sy heel aan die bewe toe Jan wegloop. Sy en Peet alleen bymekaar in die donker is niks goed vir haar senuwees nie.

“Dinge moet nou na ’n punt toe kom,” sê Peet toe Jan wegloop. “Ek wou vanaand met Bets praat, maar toe sleep sy Mary-Ann saam na julle tent toe. En dié het nie van beter geweet as om by Bets te bly sit tot sy aan die slaap geraak het nie.”

“Dis goed jy’t nie met haar gepraat nie. Sy gaan die wêreld vir ons vuurwarm maak.”

“En Jan moet ophou om soveel aandag aan jou te gee,” gaan hy voort. “Kan hy nie vervlaks ophou om jou te skat en te liefie nie? Dan nog te soen ook boonop?”

Sy kan nie help om te glimlag nie. “Wie moet hy soen? Al die ander meisies het ouens.”

“Jy ook. Ek is jou ou. Dit lyk my ons sal vannag soos diewe uit die tent moet sluip om …”

“Sjuut,” maak sy hom stil. “Hier kom Jan terug.”

“Hier,” sê Peet vir Jan toe hy klaar is met haar hand. “Gaan bêre die tassie. Ek sal saam met Alet stap en sorg dat sy nie weer oor ’n tentpen val nie.”

Toe Jan ewe gedwee na hulle tent toe stap met die tassie, doen hy presies wat Jan gedoen het. Hy trek haar vinnig teen hom vas en soen haar vol op die mond. Maar sy bevry haar vinnig. “Nag, Peet.” Toe glip sy soos blits deur die tentopening.

“Wat het jou hand oorgekom?” is Bets se eerste vraag toe hulle die volgende oggend opstaan.

“Gisteraand hier buite oor ’n tentpen geval.”

“Hoe ernstig is dit?”

“Ag, sommer net ’n snytjie. Ek weet nie hoekom Peet so ’n allemintige pleister opgesit het nie.”

“So, hý het vir jou die pleister opgesit.”

Die manier waarop Bets dit sê, is té beheers. En sy kan aanvoel dat haar gesigsuitdrukking dopgehou word, dus span sy haar in om normaal te klink. “Ja, hy’t die pleister opgesit terwyl Jan vir hom met die flits gelig het,” verduidelik sy vinnig. “Hoe voel jou enkel vanoggend?” soek sy na ’n ander onderwerp.

“Baie beter. Ek kry net seer as ek skeef trap met my voet.”

Toe hulle buite by die mans aansluit, wil Peet ook weet hoe haar hand voel. “Piekfyn, dankie.”

“En jou enkel?” vra hy vir Bets.

“Ook piekfyn, danksy jou helende hande. En dankie dat jy gisteraand by my gebly het tot ek aan die slaap geraak het.”

“Ek en Peet het besluit ons twee gaan vandag die Richtersberg takel,” sê Jan. “Gee julle twee dames om om alleen hier agter te bly?”

“Nee, glad nie,” sê Bets. “Ons sal wel iets vind om ons mee besig te hou.”

“Onthou net om vir julle hoede en water saam te vat,” sê Alet. “Dit gaan weer ’n moordende warm dag word.”

Nie lank nadat die mans weg is nie, sê Bets sy gaan stap.

“Met daardie seer enkel van jou?”

“Hy’s nie seer nie. Ek sal omdraai as ek voel hy begin pyn.”

“Moet ek saam met jou stap?”

“Nee, dis nie nodig nie. Ek hou daarvan om partykeer alleen te wees.”

Alet kyk haar fronsend agterna toe sy tent toe loop om haar hoed te gaan haal. Bets was nog nooit iemand vir alleen wees nie. Iets pla haar. Dis ook nou al ’n hele rukkie dat sy agterkom Bets is by tye nie meer so vrolik soos vantevore nie. Weet sy dalk meer as wat sy wil laat blyk? Sy moes tog al agtergekom het Peet is nie liefderik teenoor haar nie. Sy kyk na die berg se kant toe. In haar verbeelding sien sy hoe Peet teen die kranse uitklouter. Hy moet tog net nie val of iets nie. En Jan ook nie, kom dit as ’n nagedagte by haar op.

Elza Rademeyer Omnibus 8

Подняться наверх