Читать книгу Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray - Страница 13

7

Оглавление

__

Sy kry die jong man innig jammer. Sy hou van Juan. Don Alonso wou wel voorgee dat hy ’n klein losbol is, veral wat vroumense betref, maar sy is oortuig daarvan dat sy gevoel vir Miranda opreg is. Die seerkry in sy oë is te eg om vals te wees.

“Juan, het jy al met Miranda gepraat oor jou gevoel? Hoe weet jy sy beantwoord dit nie miskien nie?”

Hy lag humorloos. “Ons storie loop al lank, Andrea. Dis nie van gister af dat ek dol is op daardie meisiekind nie. Ons ontmoet mekaar gereeld êrens in Europa en ons het al baie wonderlike tye saam beleef. Wanneer ons bymekaar is, is sy seker dat ons vir mekaar bedoel is. Maar sodra ons geskei is, pak die twyfel haar beet. Sy twyfel nie oor haar gevoel vir my nie, maar oor die wenslikheid van daardie gevoel. Ek is ’n arm man in vergelyking met Alonso. Ons finansiële posisie is nie eens vergelykbaar nie. Ek kan wel in duisende praat, maar Alonso praat net in miljoene.” Hy glimlag wrang. “’n Mens durf Miranda seker nie kwalik neem dat sy met haar verstand dink nie.”

“Twak, Juan! Waar kan geld liefde koop? Liefde het nie ’n prys nie!”

Hy kyk haar dankbaar aan, en sê met deernis terwyl hy sag oor haar hare en wang streel: “Jy kan dit sê, want jy is ’n doodgewone mens soos ek. Miranda kan jou nie napraat nie, want sy ken nie swaarkry nie, wat nog te sê baklei vir wat jy in die lewe wil hê. Dis ook nie haar skuld nie; die De Vitorias het haar so grootgemaak. Maar dis ’n feit wat ek onder oë moet sien: liefde alleen gaan Miranda nie gelukkig hou nie. Daar moet meer as genoeg geld by wees, anders gaan daardie liefde rampspoedig eindig.”

Andrea frons en sê dan op haar reguit manier: “Ek dink nie ek hou veel van hierdie Miranda van jou en Alonso nie. Ek dink nie sy is jou liefde waardig nie, Juan. Is jy seker jy het haar opreg lief? Is dit nie dalk ’n geval van iets begeer wat jy goed weet jy nie kan kry nie?”

“As dit maar so was! Ek het my bes probeer om los te kom. Daar was ’n tyd toe ek elke vroumens wat voorkom, uitgeneem en getrakteer het in die hoop dat ek van Miranda sal genees. Ek het daardeur nogal ’n reputasie opgebou, hoor ek.”

“Hm. Nou verstaan ek hoekom ek so teen jou gewaarsku is.”

“Gewaarsku?”

“Ja. Don Alonso het my vertel jy het ’n oog vir ’n mooi dame en dat ek moet wegbly van jou af!”

Hy skud sy kop en glimlag.

“Wat het jy geantwoord?”

“Dat ek nie ’n dame is nie en nog minder mooi, dus bestaan daar geen gevaar dat jy by mý sal wil vlerksleep nie!”

Hulle lag saam en hoewel die man met die verkyker nie die geluid kan hoor nie, kan hy hul bewegings duidelik sien, soos hy die streling van Juan se hand oor Andrea se hare en wang ook duidelik kon sien.

Maar hulle is salig onbewus daarvan dat iemand hulle hier op die rotse dophou. Die ligter oomblik versober weer dadelik.

“Jy moet Miranda nie te kras oordeel nie, Andrea. Sy is maar net die produk van die manier waarop sy grootgemaak is.”

Andrea gee ’n spotlaggie. “Ek sou nooit kon dink dat ek ooit dankbaar sou wees dat ek nie in oorvloed grootgeword het nie. Ek het soms weelde begeer . . . Vandag is ek dankbaar ek het so gemiddeld grootgeword. Dis nie goed om alles in die lewe te kry wat jy wil hê nie. Dis nodig om te leer om nee te kan aanvaar. En jou Miranda ken nie daardie woord nie.”

“Nee. Ongelukkig nie.” Hy sug weer. “’n Ruk gelede het ek hoop gekry. Miranda het besef dat ons geheime verhouding nie vir ewig kan voortgaan nie en dat Alonso ook nie vir ewig op haar kan wag nie. Sy moes kies, en eindelik het sy besluit dat sy na San José sou kom en met donna Teresa en Alonso sou praat. Maar toe sy daar aankom, het haar moed haar weer begewe. Sy het my die aand gebel en gesê sy sien nie kans om hulle te vertel nie. Ek het die eerste vliegtuig hierheen gehaal om hulle self in te lig, maar toe ek Miranda ontmoet, was sy skielik vir my ’n vreemdeling. Sy het my verbied om hulle te nader en hulle te vertel dat ons mekaar liefhet. Sy het ook baie reguit gesê dat sy ’n fout gemaak het en dat sy besluit het dat sy beslis met Alonso gaan trou.”

Andrea kyk hom ontevrede aan. Haar dunk van daardie danige Spaanse dametjie daal al laer. “Dit moes ’n groot skok gewees het.”

“Dit was, en ek verstaan nou nog nie wat die dramatiese verandering veroorsaak het nie.”

Sy lippe pers opmekaar en hy belewe weer daardie oomblik van ontnugtering. Hy kon sy ore nie glo nie.

“Jy sê jy het mý lief, maar dat jy met ’n ánder man gaan trou!”

“Ja.”

Dit was bitter in hom. “Hoeveel is jou liefde dan werd, Miranda?”

Die donker oë het na hom geflits. “Ons huwelik sal nie slaag nie, Juan. My nugter verstand sê dit vir my. Teen die einde gaan ons mekaar haat. Ek gaan liewer met Alonso trou, soos dit van die begin af bedoel was.”

Hy het sy trots gesluk en met pleitende, oop hande voor haar gestaan. “Sê my net wat jou so skielik van besluit laat verander het! Jy het hierheen gekom met die uitdruklike doel om hulle te vertel dat jy mý liefhet. Wat het gebeur . . .?”

“Wat maak dit saak, Juan? Aanvaar dit nou, asseblief. Dit is my finale besluit. Ek gaan met Alonso trou – en hoe gouer, hoe beter.”

Toe hy hom weer kom kry, was hy reeds by donna Teresa se voordeur. Tot sy verbasing is hy gul ontvang en binnegenooi.

“Jy kom asof jy gestuur is, Juan! Ek het jou hulp dringend nodig.”

Hy het swyend geluister na wat donna Teresa te vertelle gehad het van ’n vreemde meisie op wie Alonso skielik smoorverlief geraak het. Beter nuus kon hy nie ontvang het nie. En toe donna Teresa se versoek: Hy moet saam Kokos toe om die vreemde meisie af te rokkel! Hy kon hardop lag! Donna Teresa was nie bewus daarvan dat Miranda reeds in San José aangekom het nie. Hy het besluit om hierdie feit te verswyg. Hy het nóg iets besluit: Hy sou saamgaan na Kokos en alles in sy vermoë doen om Alonso se liefde nog hoër aan te blaas. Eindelik was daar vir hom lig op die horison.

Maar Andrea is so ’n heel ander mens as wat hy hom voorgestel het sy sou wees. In sy kop het hy ’n prentjie van ’n opperste fortuinsoeker gehad, en dis allesbehalwe wat hy hier aangetref het. Trouens, die meisie oor wie Alonso so kop verloor het, is die soort meisie wat hy graag sou wou hê Miranda moet wees. By haar tel geld en vertoon glad nie. En sy het geen valse trots en valse waardes nie. Sy is nie skaam om te erken dat sy nog altyd moes werk vir haar bestaan nie. As Miranda maar soos hierdie meisie tot die besef kon kom dat geld nie geluk kan koop nie. Dit maak jou net gerieflik ongelukkig. As Miranda en Andrea mekaar maar kon leer ken het. Miskien sou Andrea haar tot ander insigte kon laat kom . . .

Hy glimlag nou skuldig en bieg: “Ek is jammer. Ek moes nie gesê het wat ek gesê het nie. Dis sommer net die mismoedigheid wat my oorval het. Ek is net bang dieselfde lot gaan jou tref, Andrea, en ek sal nie graag wil hê dit moet gebeur nie. Jy is te ’n gawe en opregte mens om deur Alonso in die steek gelaat te word. Nee, ek het ook nie die reg om so iets te beweer nie – hy bedoel dit opreg met jou as hy die moed gehad het om donna Teresa oor jou te konfronteer. Hy het in elk geval meer moed aan die dag gelê as Miranda,” eindig hy weer bitter.

Andrea swyg. Sy kan dit nie oor haar hart kry om hom oor die ware toedrag van sake in te lig nie. Dis ál hoop wat Juan het: dat Alonso verlief is op ’n ander meisie. Hoe kan sy so wreed wees om hom te vertel dis alles skyn? ’n Voorspel tot die huwelik tussen Alonso en Miranda – waarna laasgenoemde gou sal besef wie baas in die huis is.

Sy lê haar hand simpatiek op sy voorarm en sê bemoedigend: “Hulle is nog nie getroud nie, Juan, en solank hulle nog nie getroud is nie, is daar hoop.” Sommer om hom moed in te praat, vervolg sy manhaftig: “Laat ek jou nog iets vertel. Ek laat nie my kêrel sommer los en vas afrokkel nie. O nee! Alonso is mý kêrel en dit gaan hy bly totdat ék besluit dis die einde van die pad.”

Hy glimlag, plaas sy arm om haar skouer en gee haar ’n dankbare drukkie. “Dít wil ek vir jou sê, Andrea. Ek is lief vir Miranda, maar as Alonso gaan toelaat dat jy deur sy vingers glip, is hy ’n dwaas!”

“Ditsem! Dis die gees! Ons baklei hulle tot by oom Daantjie in die kallerhok!”

Sy gee hom ’n klapsoen . . .

Don Alonso draai weg van die venster en lê die verkyker hard neer.

Donna Teresa kyk vraend op. “Wat skort, Alonso?”

“Waar is Miranda op dié oomblik?”

Sy kyk hom skerp aan. Begin hy verlang? “Sy was laas nog in Switserland. Hoekom?”

“Wanneer kom sy terug?”

“Sy behoort eintlik al terug te wees. Hoekom vra jy?”

Daar is ’n besliste trek om sy mond. “Ek dink dis tyd dat sy by ons aansluit.”

“Jy bedoel . . . sy moet ook hierheen kom? Kokos toe?”

“Dis presies wat ek bedoel, donna Teresa.”

Sy kyk hom peinsend agterna toe hy met lang hale uitstap. Dan verlig haar frons. Dis ’n puik plan! Sy moes self daaraan gedink het. Met Miranda ook hier sal Alonso opmerk hoe hemelbreed die twee meisies van mekaar verskil. Dan sal hy besef wie die regte vrou vir hom gaan wees!

Sy staan op. Sy moet Miranda dadelik in die hande kry.

Andrea en Juan stap rustig en gesellig terug. Hulle het blykbaar vergeet hulle wou gaan draf, dink iemand ergerlik terwyl hy op hulle afpyl.

“’n Gewone mens kan nie teen die De Vitorias baklei en wen nie, Andrea,” sê Juan skielik weer pessimisties.

Sy klik haar tong. “Ag, wie is hulle nou so danig? Hulle het net ’n bietjie geld, dis al.”

“’n Bietjie geld! Dis miljoene! En Alonso is ’n uiters aantreklike man, selfs al kyk ’n mens nie na hom deur verliefde oë soos jy nie.”

“En wat laat jou dink . . .” Sy maak haar mond vinnig toe. Sy is veronderstel om verlief te wees op hom. Sy verander haar sin haastig: “En wat laat jou dink jy is minder aantreklik? Moet jouself nie verkleineer en onderskat nie, Juan! Jy kan verseker by hom kers vashou.”

Maar nie heeltemal nie, moet sy heimlik erken. Want die seerower is deksels aantreklik, selfs wanneer hy boos is. En boos is hy wel, besef sy toe hy skielik voor hulle verskyn. Wat sou tog nou weer oor sy Spaanse lewer geloop het?

“Ek verstaan julle het oefening nodig en het gaan hardloop.”

Die beskuldiging kom op die man af en Juan blik vlugtig sywaarts met die boodskap: Ek het mos gesê hy is jaloers!

“Ons hét gehardloop, maar . . .”

“Toe besluit julle daar is genoeg oefening in hofmakery.”

Albei se monde val oop.

“Hofmakery?” Sy spreek dit uit asof sy nog nooit in haar lewe dié woord gehoor het nie en nog minder die vaagste benul het wat dit beteken.

“Ja, of wat noem jy die oefening wat julle daar op die rotse sit en doen het?”

“Op die rotse?” Sy kyk vraend na Juan. “Wat het ons op die rotse gedoen? Ek kan nie onthou . . .”

Juan voel lus om te lag, maar hy weet die duiwel sal dan behoorlik los wees. Hierdie man kan slange vang. Kragtie, hy ís dolverlief!

“Ek het oor jou hare gestreel en jy het my arm ’n slag aangeraak. Dis al.”

“Dis nie al nie! Wat van die soen?”

“Ons het nie . . . Haai, ja, ek het jou gesoen, Juan!” Haar blik vlieg beskuldigend en blitsend omhoog. “Is jy besig om my af te loer?”

“Ek het die volste reg om te weet wat my meisie doen wanneer sy met ’n ander man die bosse in verdwyn.”

“Ja, maar ek het nie . . .” Sy moet weer vinnig swyg. Dis nou sý wat kan slange vang. “Hoe durf jy insinueer ek is ’n meisie van swak karakter? En noem jy dit wat jy gesien het hofmakery? Liewe mens, dan weet jy mos glad nie wat hofmaak is nie. En laat ek jou nóg iets vertel. As ek lus voel vir ’n hofmakery, met wié ook al, sal ek beslis nie rotse soek om dit op te doen nie! O, jy is . . .” Haar woordeskat skiet te kort en sy stamp een van haar klein voetjies en dit lyk asof sy die man voor haar gaan stormloop.

Juan tree vinnig tussenbeide. “Ek is jammer, Alonso. Ek verseker jou dat daar geen bybedoeling was by wat jy ook al gesien het nie.”

“As ek gedink het daar was, sou jy nie nou nog hier gestaan het nie, my goeie neef.”

Dit voel vir Andrea asof haar vel dreig om te kraak, so na aan ontplof is sy. “Nou waaroor is die groot bohaai dan?”

“Juan se gedrag is verskoon, nie joune nie. As daar een ding is wat by my ’n absolute vereiste is in ’n verhouding, dan is dit getrouheid. Verstaan ons mekaar, Andrea?”

“Met ander woorde, jy is besig om my te beskuldig dat ek in die bondel vry. Dís wat jy eintlik wou sê!”

Ten spyte van die erns van die situasie, kan Juan sy lag nie hou nie en gee liewer pad. Die verliefdes moet maar self verder die saak uitstryk. Sjoe, ’n oomblik lank het hy gedink sy neef gaan hom te lyf.

“Daar was geen oomblik so ’n gedagte in my kop nie, señorita!” laat hy ysig hoor. “In alle billikheid moet jy erken dat ek rede het om ontevrede te voel!”

“O? En watter redelike rede voer jy aan?”

“Jou geheue is baie kort, señorita Smit. Gisteraand het jy gedreig om my aan te rand as ek jou weer soen. Vanoggend deel jy jou soene baie vrygewig uit, terwyl die man wat veronderstel is om ’n verhouding met jou te hê, jou nie mag aanraak nie.” Hy kyk vas in haar kwaai oë. “’n Baie redelike rede tot grimmigheid vir elke minnaar wat sy sout werd is.”

Sy voel soos ’n ballon wat geprik is. Deksels, soos hy dit stel . . . Maar dis alles onsin. “Jy is nie rêrig my minnaar nie . . .”

“Juan ook nie.”

Sy trek haar asem in. G’n mens kan met ’n seerower redeneer nie.

Hy kom nader. “Jy sal my daardie soen moet teruggee.”

“Wat?”

Skielik vonkel sy donker oë. “Dit sal jou onverantwoordelike gedrag van vanoggend kanselleer en dan vergeet ons daarvan.”

“Wag ’n bietjie . . .” Sy begin padgee. “Alonso, jy gaan nie . . . Ek gaan nie . . .”

Sy sien sy gaan verloor. Hy kom vasberade nader. Sy vlieg soos ’n blits weg huis toe, hardloop Juan byna uit die aarde en vlieg by die voordeur in.

’n Glimlaggende don Alonso kom val langs die verbaasde Juan in. “Sy het mos gesê sy kort oefening,” laat hy droog hoor. “Ek rig haar maar net af!” Dan sê hy terloops: “Ek gaan in die week vir Miranda haal. Wil jy saamkom?”

Juan besef dis nie ’n uitnodiging nie. Dis ’n bevel. Hy, Juan, gaan nie alleen by Andrea op Kokos agterbly nie. Hy glimlag effens, knik net en dan versomber sy oë. “Kom sy ook hierheen?” vra hy onnodig.

“Ja. Ek het gedink sy kan gerus by ons aansluit. Dan het jy ook geselskap.”

Juan kyk sy neef agterna toe hy voor hom by die deur uitstap. Hy weet nie of hy moet lag of huil nie.

Toe Andrea verneem dat Miranda ook binne die eersvolgende dae by hulle op Kokos gaan aansluit, kan sy haar gevoelens self nie verstaan nie. Dis die beste ding wat kan gebeur, vertel haar nugter verstand haar. Hoe gouer don Alonso Miranda haar lessie leer en wys wie is baas, hoe gouer sal hul verhouding regkom en sal hulle trou en sal hierdie klug tot ’n einde kom. Dis logies en verstaanbaar dat don Alonso die Spaanse meisie hier wil kry. Hoe sal sy haar les leer as sy in Europa rondflenter? En tog . . . tog vind Andrea ’n groot teësinnigheid in haar om van aangesig tot aangesig met hierdie meisie te kom. Sy wens dit was nooit nodig om haar te sien nie. Sy maak haarself wys dit is ter wille van Juan dat sy die vroumens nie hier wil hê nie.

Sy word nie saamgenooi toe die geselskap van drie twee dae later, baie vroeg die oggend, na San José vertrek nie. En sy is dankbaar daaroor. Twee dae lank kan sy darem asem skep sonder om gedurig in haar pasoppens en op die verdediging te wees. Dit is uitputtend, dié toneelspelery.

Sy gaan krap in haar kas en kry haar kuitbroek weer beet. In hierdie twee dae van grasie gaan sy saam met haar pa op sy soektog uit. Hoe gouer daardie skat gevind word, hoe beter, dink sy grimmig.

Teen laatmiddag bereik sy en haar pa die kus en sy gaan sit moeg op die rotse. Sy is besig om heeltemal onfiks te raak op hierdie eiland.

“Weet Pa, ek dink Pa soek heeltemal verkeerd.”

Hy kyk haar goedig aan. “Waar sou jy gesoek het?”

“Laat ek sien . . .” Sy beskou die wêreld ’n rukkie. “Sê nou maar ek is ’n seerower en het ’n klomp skatte wat ek veilig wil wegsteek. Ek sal nie die goed kilometers ver land in gaan begrawe nie. Dis in die eerste plek te swaar. Kiste vol kosbaarhede en muntstukke . . . kollektegeld wat uit kerke gesteel is . . . Dit bly ’n skande!”

Haar pa glimlag. “Waar sou jy dit dan weggesteek het?”

“Teen die see. In die see, as dit kon.”

Dries Smit kyk sy dogter skerp aan. “Wat bedoel jy?”

Sy lyk opgewonde. “Pa, ek dink ek het iets beet! Grotte . . . Grotte teen die see! Is hier nie grotte teen die see nie?”

“’n Paar, maar almal weet van hulle.”

“Maar ’n geheime grot . . . een wat niemand nog ontdek het nie,” hou sy vol.

Haar pa glimlag geduldig. “Ek twyfel of hier ’n grot is wat nog nie ontdek is nie, my kind. Dis ook baie onwaarskynlik dat Bonito sy skat daarin sou kon wegsteek.”

“Hoekom?”

“Hoe sou hy dit daar ingekry het? Kom ons veronderstel daar is ’n grot, selfs ’n ondersese grot. Hoe sou hy al die swaar goed tussen die magdom haaie deur daar gekry het? Hulle sou met die swaar kiste tot in die grot moes geswem het en lank voor hulle die grot bereik het, sou die haaie hulle verslind het. Jy weet self hierdie see is vervuil van die haaie. Kyk daar. Daar sien jy duidelik weer een sommer naby die strand swem.” Hy sien die teleurstelling op haar gesig en sê troostend: “Dis nietemin iets om in gedagte te hou. Ek sal tog daaroor dink. Dit kan net wees dat jy op ’n spoor is.”

Sy knik, haar oë peinsend op die rotsriwwe gerig. “Ek het net die gevoel dat die skat in die water lê, nie onder die grond nie.”

Haar pa kyk haar tergend aan. “Miskien het jy gelyk, my kind, en in daardie geval sal ons ons stamboom moet laat navors.”

Sy kyk hom verward aan. “Hoekom?”

“Dan moet daar iewers seerowerbloed in die Smitte se voorgeslagte ook vloei!”

Sy lag hartlik en antwoord gevat: “Aikôna! Dis die Van Helsdingens se bloed wat só werk! Hulle was almal heldersiende!”

’n Rukkie later, toe sy en haar pa moeg en vuil by die palacio se voordeur instap, wens sy in haar hart dat sy wel van die heldersiende Van Helsdingens afstam. Dan sou sy beslis vooraf gewaarsku gewees het. Maar ongelukkig kan sy nie deur mure sien nie en sy loop haar trompop in die ellendes vas.

“Wat maak jy hier?” vra sy asof die palacio nie aan hom behoort nie.

“Ons het al ’n halfuur gelede tuis gekom.”

Ag nee! “Julle sou dan eers môre . . .”

“Ek het besluit om onmiddellik terug te kom.” Sy vernietigende blik laat haar wonder hoekom die arme kuitbroek nie daar en dan in vlamme opgaan nie. “Jy is heeltemal onbetroubaar, Andrea. Die oomblik as ek uit sig is, soen jy ander mans en die oomblik wanneer ek my rug draai, klim jy in daardie afskuwelike broek!”

Haar ken ruk op. “Ek kan altyd onmiddellik daaruit klim, as jy so sterk daaroor voel!”

“Dan, señorita Smit, is ek glad nie verantwoordelik vir my dade nie! Kom ontmoet Miranda.”

“Ek gaan eers . . .”

“Nee, jy gaan jou nie eers netjies maak nie. Dis jou straf. Jy kom nes jy is.”

Sy word onder sy blad ingetrek en haar voete moet net saamloop . . . en sy wonder of moord wat net in ’n mens se gedagtes gepleeg word ook eendag as ’n doodsonde teen jou gehou gaan word . . .

“Jy kan my maar los. Ek sal self regop bly.”

“O nee, señorita. Ek het gesien hoe vinnig jy kan hardloop. Ek sal jou maar liewer persoonlik na die patio begelei.”

Dis nie net Andrea wat onder die palacio se dak aan kaal, koelbloedige moord dink nie. As Juan net nie hier was nie! dink Miranda byna paniekerig. As hy net uit haar lewe verdwyn het! Dit was ’n groter skok om hóm by Alonso en donna Teresa te sien as om te verneem dat ’n ander meisie besig is om in haar slaai te krap. Die gedagte dat ’n ander meisie sal kan verhoed dat Alonso met haar trou, was so belaglik dat sy geensins ontsteld gevoel het nie. En toe sy hoor wie die meisie is, kon sy oor donna Teresa se ontsteltenis lag.

“’n Volbloed-Spanjaard soos Alonso sal dit nooit eens oorweeg om met ’n uitlander te trou nie, donna Teresa.”

Donna Teresa het meteens kalmer gevoel. Miranda het reg. Sy ontstel haar verniet. Daar sal niks van hierdie verliefdheid van Alonso kom nie. Sodra Miranda op die toneel kom, sal sy patriotisme weer die oorhand kry.

“Ja, ek glo ook so. Sy is buitendien net agter Alonso se geld aan. Maar dis in ’n mate jóú skuld dat hierdie ding gebeur het, Miranda. Jy het Alonso te lank laat wag. Hy is ’n man en hy het moeg geword van wag.”

Miranda het gerusstellend geglimlag. “Die einde van sy wagtyd het aangebreek, donna Teresa. Ek het teruggekom om met Alonso te trou.” Toe het sy kortaf gevra: “Wat soek Juan hier?”

“Hy het onverwags vir my kom kuier en ek het hom saamgeneem Kokos toe met die spesiale opdrag dat hy probleme in daardie verhouding moet veroorsaak. Hy het hom tot dusver baie goed van sy taak gekwyt.”

“O, regtig? Vind hy die dame ook onweerstaanbaar?”

“Natuurlik nie, maar hy doen wat ek hom gevra het om te doen. Dit maak in elk geval nie saak of hy regtig verlief raak of nie, solank daar net ’n einde aan hierdie verspotte verhouding kom.”

’n Rukkie later het Miranda daarin geslaag om ’n minuut of twee alleen met Juan te wees.

“Jy moet teruggaan Spanje toe, Juan. Jy het niks hier op Kokos verloor nie.”

Hy het haar koel in die oë gekyk. “Miskien hét ek niks hier verloor nie . . . altans niks wat die moeite werd is nie.”

Haar oë het vuur geskiet. “Beledigings sal jou nêrens bring nie!”

“En die plannetjies wat jy gemaak het, gaan jou ook geen geluk bring nie, querida.”

“Moenie my liefling noem nie!”

“Ek kuier op Kokos op uitnodiging van Alonso. Wag totdat jy wettig sy vrou is voordat jy my die deur wys.” Sy mondhoeke het gesmaal, maar sy oë was bitter. “As jy dit ooit word!”

“Ek laat my nie afskrik deur ’n vaal ou meisietjie nie. Ék gaan met Alonso trou.”

Hy het sy wenkbroue opgetrek. Ook sy skouers. “Wel, die toekoms sal maar leer, maar ek sal nie so selfversekerd wees as ek jy is nie, Miranda. Alonso het die skoot hoog deur . . .”

“Twak!”

“En ek kan verstaan hoekom. Ek is ook half verlief op Andrea. Daar is iets aan, en ín daardie meisie, wat eenvoudig onweerstaanbaar is.”

“Nou regtig!” Haar sarkasme was neerhalend.”Jy draai liefde oop en toe asof dit water in ’n kraan is, sien ek. Goed dat ek dit betyds uitgevind het, nie waar nie?”

Hy het ook geglimlag. “Ja. Goed dat ons mekáár betyds uitgevind het, Miranda.”

In die vliegtuig op pad terug Kokos toe laat Miranda ongeërg hoor: “Ek verstaan daar is gaste in die palacio, Alonso?”

“Ja, ’n señor Smit en sy dogter Andrea.”

“Wat doen hulle daar – of kuier hulle maar net?”

Dis donna Teresa wat antwoord: “Señor Smit is ’n voëlkundige wat opnames maak en inligting oor die voëllewe van die eiland insamel. Hy is nogal ’n besonder gawe man en baie intelligent. Ek geniet sy geselskap. Maar die dogter . . .”

Sy swyg en dis Juan wat die sin voltooi: “. . . is soos ’n verfrissende seebriesie . . . Of wat praat ek alles, Alonso?”

Alonso kyk met ’n klein glimlaggie na agter. “Ja, en soms soos ’n orkaan wat oor jou uitbars en jou wil verteer.”

Donna Teresa se gesig word ’n suurpruim, maar Miranda lyk geensins ontsteld nie. Sy sê net fyntjies: “Werklik? Sy klink interessant. Ek sal haar graag wil leer ken.”

“Jy sal,” sê Juan met ’n bedekte waarskuwing in sy stem. Dis hoog tyd dat iemand Miranda terugbring aarde toe. Sy is so seker van haarself dat hy lus voel en skud haar!

’n Selftevrede glimlag trek om haar lippe toe Alonso met die “gedroggie” (soos donna Teresa haar aan Miranda beskryf het) onder sy blad op die patio uitstap. Juan, wat met leedvermaak uitgesien het na hierdie oomblik, kan sy teleurstelling nie wegsteek nie. Andrea moes nou soos ’n koningin hier ingestap het. In plaas daarvan lyk sy soos ’n verdwaalde kat wat nou net uit die vuilgoedblik gespring het! Hy vang Miranda se glinsterende blik, lees die boodskap daarin: Seebriesie, het jy gesê?

Aanvanklik is donna Teresa byna net so geskok soos die eerste keer toe sy Andrea ontmoet het. Sy sit terug teen die rugleuning van haar stoel en glimlag ingenome. Sy kon dit self nie beter gereël het nie! Die kontras tussen die twee meisies is oorweldigend. As Alonso se oë nie nóú oopgaan nie . . .

Andrea kom botstil onder Alonso se blad tot stilstand. Dit kan haar nie in die minste skeel wat die res van haar dink nie. Nog minder pla haar onvleiende uiterlike haar. Al gedagte wat registreer toe sy Miranda se geamuseerde blik ontmoet, is dat Miranda die meisie in die vliegtuig was aan wie sy uitgeblaker het waarom sy en haar pa op pad na Costa Rica en Kokos is.

Sy voel skielik weer soos ’n maanreisiger wat terug is op die aarde, en hierdie keer het die feit dat don Alonso se arm haar nog stewig teen hom vashou, niks met die jellierigheid in haar knieë te doen nie. Trouens, sy is dankbaar vir die ondersteuning, want sy sien die herkenning in Miranda se oë. Hierdie meisie sien deur die klug. Alles was verniet. Dis sy en don Alonso wat die gekke is.

Hy gaan my vermoor, dink sy toe die pragtige meisie opstaan en glimlaggend nader stap. Hy gaan my aan ’n skip se maspaal vasmaak en my met ’n sambok laat slaan.

“. . . en dis Miranda,” hoor sy sy stem vaagweg langs haar.

Die meisie glimlag steeds. “Maar het ons nie al ontmoet nie, señorita? U lyk so bekend.” Dan rek haar oë. “O, nou onthou ek! Was ons nie iewers op dieselfde vliegtuig nie? Ja! Ons het dieselfde vlug gehaal! Hoe klein is die wêreld tog, nè?”

Hy gaan my nie met sambokke laat doodslaan nie. Hy gaan sy seerowerskip in die middel van die haaiwater laat anker gooi en my laat kielhaal!

Ena Murray Omnibus 21

Подняться наверх