Читать книгу Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray - Страница 3

Оглавление

Ena Murray se 21ste omnibus, waarin drie van haar gewildste stories byeengebring is, bied ’n leesavontuur propvol liefdesintriges en heerlike hospitaalhumor.

Señor die seerower

Toe verpleegsuster Andrea Smit ’n allemintige bedrag in ’n blokraaiselwedstryd wen, het sy nooit kon droom hoe ingrypend dit haar lewe sou verander nie. Sy was aanvanklik vas van plan om met haar beroep voort te gaan, maar toe haar kollegas bly lol om geld te wil leen, raak die hospitaal vir haar te klein.

Toe haar swerwerpa kort daarna op haar drumpel verskyn en haar nooi om hom op een van sy avontuurtogte te vergesel, willig sy in – min wetende dat haar pad op ’n tropiese eiland met dié van ’n aantreklike Spanjaard sal kruis; dat sy ’n skynverhouding met hom sal aanknoop en sodoende in allerhande onmoontlike situasies sal beland . . .

Die vreemde weë waarop geld, die sug na roem en veral die liefde ’n mens se lewe kan lei, is die tema van hierdie lekkerleesverhaal.

Junior in saal 7

Leerlingverpleegster Louwrinda Kemp is siek en sat van haar manmal kollegas se aanhoudende geterg omdat sy nie ’n vaste kêrel het nie. Sy besluit om hul monde eens en vir altyd te snoer – met ’n foto van Oumatjie se kleinseun wat sy aan hulle voorhou as haar sleep wat in die buiteland studeer. Toe die mooie man op die foto egter kort daarna in lewende lywe voor haar staan as die nuwe professor in verloskunde, weet sy nie hoe om haar uit dié benarde situasie te wikkel nie.

Binne ’n dag versprei die nuus soos ’n veldbrand deur die groot stadshospitaal dat die junior in saal 7 ’n verhouding het met die uiters aantreklike professor Len Landman. Hoe Louwrinda ook al die vlamme probeer doodslaan, dit help alles niks. En kort voor lank besef sy dat daar ’n ander soort vuur haar binneste begin brand het . . .

Junior in saal 7 is ’n speelse hospitaalroman vol heerlike komiese momente.

Kaalvoet Katryntjie

Katryn Klem sou ná haar pa se dood veel eerder saam met die klein haasbek Poens op Skaars-van-als verhongerde katte en honde wou vet voer, afpoot-duiwe vertroetel en meerkatte uit slagysters red, maar haar hovaardige voog, Festus Dumas, het ander planne. Met die intrapslag dring hy daarop aan dat sy by hom in sy deftige stadshuis moet kom bly – want, meen hy, dié kaalvoet mensie wat nie ’n dag ouer as sestien lyk nie, het vaderlike toesig nodig.

Sommer vir die grap laat Katryn toe dat Festus dink sy is ’n blote kind. Maar dié grap boemerang sodat sy later glad nie meer kan erken dat sy nie ’n giggelende tiener is nie, maar ’n gekwalifiseerde verpleegster van twintig. Sy moet die rol van kaalvoet Katryn bly speel, en met ’n hart wat pyn van haar onverklaarde liefde, moet sy toekyk hoe die listige Shirley Rossouw haar voog probeer verlei . . .

Kaalvoet Katryntjie is ’n verhaal wat mens plek-plek laat skater, maar wat die leser ook diep sal laat nadink oor die dinge wat werklik waarde het in die lewe.

Ena Murray Omnibus 21

Подняться наверх