Читать книгу Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray - Страница 8

2

Оглавление

__

“Hasta la vista, señorita. Ek hoop julle kry die skat waarna julle kom soek!”

Andrea glimlag die lieflike meisie, ’n pragvoorbeeld van die Latyns-Amerikaanse skoonhede wat ’n mens in hierdie wêrelddeel aantref, breed toe. “Adios, señorita! Dankie vir u goeie wense. Geniet u vakansie.”

“De seguro! Natuurlik!”

Met ’n wuif van die hand stap die Smitte se medepassasier weg. Hulle het so pas op die lughawe El Coco in San José, hoofstad van Costa Rica, geland.

Terwyl Andrea haar pa na die ontvangtoonbank volg, kyk sy geïnteresseerd om haar rond, en sy moet weer haar pa bewonder. Sedert hulle uit Suid-Afrika weg is, het sy geleer om meer respek vir hom te kry. Dikwels het sy skaam gevoel. In die verlede het sy, om heeltemal eerlik te wees, altyd maar met ’n bietjie minagting aan haar pa gedink. Maar die afgelope dae dat sy pal in sy geselskap was, het sy ’n ander Dries Smit leer ken.

Soos die wêreldreisiger wat hy inderdaad is, het hy alle reëlings selfversekerd getref en hulle met gemak van die een land se lughawegebou na die ander deurgevoer. Wat baie gerieflik is, is dat hy – soos sy tot haar verbasing moes uitvind – ses tale magtig is.

Haar benoudheid om na die ander kant van die aardbol te reis, het ná die eerste dag sommer verdwyn. Met haar pa aan haar sy sou sy om die aardbol reis, wetende dat sy haar pad na Suid-Afrika sou terugvind. As sy op eie houtjie haar land moes verlaat het, sou sy só weggeraak het dat hulle haar nooit weer sou opspoor nie. Vir die meisie wat nog maar altyd in ’n klein wêreldjie geleef het, is dit ’n besondere ervaring om soos ’n wêreldburger te voel.

Ook vind sy in hierdie dae uit dat haar pa nie net ’n berese man is nie, maar dat hy met gesag oor baie onderwerpe kan praat. Hy is nie ’n geleerde man nie, maar hy is intelligent. Dikwels kom die gedagte by haar op dat dit ’n jammerte is dat hy nooit die geleentheid gehad het om verder te studeer nie. Sy kyk met ander oë na hom. Dit is so maklik om te oordeel en te veroordeel . . . Haar pa was een van agt kinders uit ’n arm gesin. Hoewel haar pa graag wou leer, moes hy uitspring en gaan werk om geldelik te help met die sewe ander kinders. Al wat hom gegun was, was drome . . .

Opreg bid Andrea nou dat hy hiérdie keer sy droom verwesenlik sal sien. Soos sy haar pa beter leer ken, weet Andrea nou dat sy skattejagtery nie soseer gaan om die materiële sy van die saak nie, maar eerder om iets te bereik; om erkenning te kry.

Terwyl haar pa na hul bagasie omsien, staan sy na die bedrywige menigte om haar en kyk. Sy sien die donker señorita wat langs haar gesit het deur die hoofuitgang verdwyn. Sy het heelwat inligting oor hierdie wêrelddeel van haar gekry.

Die Costa Ricaners is oorwegend van Spaanse afkoms, aangesien dit oorspronklik ’n Spaanse kolonie was. Natuurlik het daar intussen vermenging plaasgevind, oorwegend met Amerikaners, en hier is ook heelwat Wes-Indiërs. Die taal wat meestal gebesig word, is Spaans, met natuurlik Amerikaanse Engels wat ook baie gehoor word. Die señorita, baie duidelik van Spaanse afkoms, het Andrea vertel dat daar wel nog suiwer Spaanse families is – iets waarop hulle baie trots is. Ook is die band met Spanje nog baie sterk in hierdie families.

Andrea het vertel dat sy en haar pa op pad is na ’n Spanjaard met die naam Alonso en dat hulle op die eiland Kokos gaan bly. Die dametjie het haar vreemd aangekyk en Andrea het gevra: “Ken u dalk hierdie Alonso?”

Haar antwoord was ietwat droog: “Hierdie Alonso, señorita, is Alonso Juan Bonito de Vitoria – en almal in dié wêrelddeel weet wie hy is. Terloops, ’n mens praat nie sommer net van Alonso nie.” Haar oë het gevonkel. “Ek dink nie hy sal baie daarvan hou nie!”

Andrea was verbaas. “Word hy dan elke keer voluit aangespreek?”

“Nee, natuurlik nie. Maar hy is ’n belangrike man, van hoë aansien in Costa Rica. Nee, almal ken hom as don Alonso en so word hy ook deur almal aangespreek. Dis ’n eerbiedwaardige aanspreekvorm wat ons Spanjaarde het.”

“O, dankie dat jy my reggehelp het, señorita. Ek kon dalk ’n groot flater begaan het!”

Die meisie het vriendelik geglimlag, steeds met die vonkeling in haar donker oë, asof sy iets amusant vind. “Ja, en don Alonso is nie ’n man vir flaters nie. Hy is nog van die ou garde. Baie gesteld op wat mag en nie mag nie. Baie tradisievas.”

“O? Wel, ek sal gelukkig nie veel met die vername heer te doen kry nie. Dis hy en my pa wat sake gaan doen.”

“Watse soort sake?”

Andrea het gelag en vrymoedig vertel: “My pa gaan op versoek van A . . . ekskuus, don Alonso na die seerowerskat van Bonito op die eiland Kokos soek.”

Die Spaanse señorita was diep geïnteresseerd. “En jy? Waar pas jý in die prentjie?”

“Ek is glad nie in die prentjie nie,” het Andrea haar laggend verseker. “Ek is met vakansie en drentel sommer net saam met my pa. Bly jy ook op Costa Rica?”

“Nee. Ek is ook met vakansie.”

Sy hoor haar pa se naam word genoem en toe sy omkyk, sien sy ’n motorbestuurder voor haar pa staan. ’n Rukkie later ry hulle in ’n luukse motor deur San José en dan kies die voertuig koers na die buitewyke van die hoofstad. Eerlank ry hulle tussen koffie- en piesangplantasies deur en sy verneem van haar pa dat dit die twee belangrikste uitvoerprodukte van die land is. Soos dit wil voorkom, is don Alonso – op navraag van haar pa aan die motorbestuurder – een van die groot grondeienaars op Costa Rica. Die ou man moet skatryk wees, dink Andrea toe sy ’n rukkie later die Spaanse huis tussen die lowerryke bome sien verskyn. Dit lyk nie asof hy ’n seerowerskat nodig het nie. Maar . . . hoe meer die mens het, hoe meer wil hy mos hê. Hy is dus by al sy bekonkeldheid, soos die Spaanse señorita haar op die vliegtuig gewaarsku het, nog boonop ’n ou gierigaard.

Die Spaanse huishoudster ontmoet hulle by die voordeur en Andrea kan die verrassing op die vrou se gesig nie miskyk nie. Sy glimlag en volg haar pa deur die luukse voorportaal na ’n besonder breë dubbeldeur met pragtige houtsneewerk. Sy kyk verbaas om haar rond. Sy weet weinig van meubels, maar selfs sý kan sien dat dit kosbaarhede is wat om haar staan. As hy dit nie geërf het nie, moes die ou vrek al sweerlik vantevore op ’n seerowerskat afgekom het. Sulke goed is seker net in museums en oliesjeiks se paleise te sien.

Die dubbeldeur swaai oop en die huishoudster staan opsy sodat hulle kan binnestap. Dan gaan die deur weer geluidloos agter hulle toe. Ver voor hulle, ’n saallengte ver, staan ’n massiewe lessenaar. Die ou gierigaard staan op . . . en Andrea se bene weier meteens om haar nader aan hom te dra.

“Señor Smit? Baie welkom. U het veilig gereis?”

“Ja, dankie, don Alonso. Ek . . .”

Die donker oë kyk oor Dries Smit se skouer. “En wie is dit dié?” vra hy streng.

“O . . . e . . . dis my dogter, Andrea. Ek . . .” Hy kyk teen die man se donker frons vas. “Ek hoop nie u gee om dat sy saamgekom het nie . . .”

“Om wat hier te maak?”

Dries Smit kug. “Wel, sy het nou vakansie en ek het voorgestel dat sy my vergesel. Ek moes u seker . . .”

“Hoe lank duur haar vakansie?”

Andrea begin haar stadigaan vererg, noudat die egste skok verby is.

“Nee, sy het onbepaald vakansie. Ek bedoel . . .”

“Wat my vader bedoel, señor, is dat ek op die oomblik nie werk het nie en dus saam met hom gekom het vir die volle tydperk wat hy hier sal wees.” Koel ontmoet haar blik syne oor die lengte van die saalagtige vertrek. “Gee u om?”

“Ja.” Stilte. Die een hand wink na ’n stoel. “Sit, señor.” Hy gaan ook sit en ignoreer Andrea waar sy nog steeds by die deur staan asof sy geplant is. Hy spreek haar pa aan asof sy nie teenwoordig is nie. “U dogter sal onmiddellik moet teruggaan.”

Dries Smit lyk verleë en ongemaklik. “Sy . . . sy sal nie lastig wees nie, señor . . .”

“Daar bestaan nie ’n vrou wat nié lastig is nie. Ek ken hulle.”

Andrea sluk. Sou die mansmens wil beweer dat sy dalk lastig met hóm sal raak? Sy voel die bloed na haar kop toe styg.

“Die soektog na Bonito se skat word in die grootste geheim gedoen. Vanselfsprekend was net ons twee veronderstel om daarvan te weet.”

Dries Smit se oë sak. “Ek is jammer. Ek het nie besef . . . dis só ’n groot geheim nie.”

Die vraag kom skerp: “Ek hoop nie jy het meer mense daarvan vertel nie – dat jy spesifiek na die skat kom soek?”

“Nee. Nee! Ek weet darem van beter, maar . . .”

“Jou dogter het jy wel vertel. Dis jammer. Daarom moet sy dadelik teruggaan na waar sy vandaan gekom het.”

“Hoekom?” werp Andrea die vraag vinnig tussenbeide.

Hy bly haar steeds ignoreer en antwoord haar vraag asof haar pa dit gestel het: “Vyf en sestig miljoen dollar is nie kleingeld nie, señor. Veral as iemand uitvind dat dit ék is wat na die skat laat soek, gaan dit geweldige belangstelling wek, veral plaaslik. Ons gaan toegesak word deur nuuskieriges en belangstellendes – mense wat sal wil aas indien die skat gekry word. Veral leeglêers wat nie werk het nie, wat nie geregtig is op die skat nie . . . Voordat jou dogter haar mond verbypraat, moet sy liewer terug.”

Haar bene dra haar ’n paar treë nader. “Maar ek kan my mond in Suid-Afrika ook verbypraat.”

Sy oë bly op haar pa. “In ’n ander land sal dit afgemaak word as ’n grap; ’n fabel wat nagejaag word. Hier in Costa Rica en op Kokos weet ons dis geen fabel nie. Die skat ís daar; dit moet net gevind word.”

Dries Smit kyk sy dogter verskonend aan, kyk dan half pleitend op na sy gasheer. “Maar as sy belowe dat sy haar mond sal hou . . .”

“Daar bestaan nie ’n vrou wat haar mond kan hou nie, señor Smit. Dit behoort die lewe jou darem seker al te geleer het. Dit sal my nie verbaas as sy dit reeds uitgebasuin het nie. Vra haar gerus.”

“Andreatjie, jy . . . jy het mos niemand op pad hierheen vertel wat ons hier kom maak het nie, het jy?”

Andrea sluk. Ag, wel, die Spaanse señorita op die vliegtuig tel nie. Sy is maar net ’n toeris wat ’n paar dae hier kom vakansie hou. Sy het seker al klaar vergeet wat sy op die vliegtuig gehoor het.

“Natuurlik nie! Pa ken my . . .” Haar blik gaan woedend na die man agter die lessenaar. “Die hele ding is maar net dat don Alonso bang is ek is ook teen die einde van dié wat wil aas, een van die leeglêers wat nie geregtig is op die skat nie. Ek wonder net hoeveel reg het hý daarop.”

“Andrea!”

Vir die eerste keer kyk die don direk na haar. “Ek is die enigste een wat werklik reg daarop het, señorita. Ek is ’n direkte afstammeling van Bonito.”

“Die seerower?”

“Die seerower, señorita.”

“Maar dit was ook nie sý eiendom nie, was dit? Dit was alles gesteelde goed, dan nie?”

“Andrea!”

“Laat haar gerus klaar praat, señor. Ja, señorita? Jy wou sê?”

“Ek het net gewonder hoekom alles so in die strengste geheimhouding moet geskied. Het u ’n permit van die regering gekry?” Die gesig is geslote en sy kry nie ’n antwoord nie. Sy vervolg: “Of is dit ’n geval dat u nie die helfte van die skat aan die regering gaan oorhandig nie?”

“U het gelyk. Bonito was mý voorvader en, gesteelde goed of nie, sy skat behoort aan mý. Ek is nie van plan om die helfte daarvan aan die regering te gee nie.”

“Maar dis oneerlik!”

“Ek sien dit nie so nie. En wat u daarvan dink, señorita, kan my nie skeel nie.” Hy wend hom tot haar pa. “U weet nou wat die stand van sake is, señor. Is u nog bereid om na die skat te gaan soek?”

Dries Smit se oë gaan onseker na sy dogter wat hom kwaai aankyk, en hy sê op sy verleë manier: “’n Paar miljoen is ’n paar miljoen, Andreatjie.”

“En tronk is tronk, Pa! Hierdie man gaan Pa in die moeilikheid laat beland. Hy het Pa gekry om die vuilwerk vir hom te doen. Word Pa betrap, sal hy voorgee hy ken Pa van geen kant af nie en Pa sal alleen gaan sit!”

“Ek verseker jou jou pa sal nie in die tronk beland nie.”

“Wat beteken die versekering van ’n seerower? Pa, ek dink . . .”

“Señorita, die oomblik wanneer ’n vrou begin dink, dompel sy almal om haar in die ellende. Jy is nie gevra om te dink nie. Jy is gevra om onmiddellik terug te gaan na waar jy vandaan kom.”

“Ek het op my eie koste tot hier gekom. Jy het geen seggenskap of reg om my hier rond te beveel of weg te jaag nie. Ek sal op Costa Rica bly solank ek wil en as ek so voel, sal ek Kokos toe ook gaan . . . of behoort die hele eiland aan jou?”

“Nee. Net ’n gedeelte. En kan jy my vertel waar kry ’n werklose meisie die geld om halfpad om die aardbol te kom?”

“Sy het . . .” begin haar pa ywerig verduidelik.

Maar sy val hom dwars in die rede en sê uit die hoogte: “Dis mý saak waar ek daaraan kom, maar ek verseker jou ek hét geld . . . én dis eerlike geld én dis baie . . . genoeg om jou dalk te kan uitkoop, don Alonso.”

“Dreatjie . . .”

“Ons het ’n ou gesegde wat sê alles wat blink, is nie goud nie, en hier . . .” Sy kyk met blitsende oë om haar rond. “Hier blink alles net ’n bietjie te veel om waar te wees. Jy is baie gretig dat daardie skat gekry moet word, nie waar nie? Ek wonder nou net hoekom?”

Sy frons is onheilspellend. “Hoekom?”

“Vir ’n man wat oënskynlik so diep in die botter sit, behoort . . .”

“In die botter sit, señorita?”

“Ja, dis ook ’n gesegde in ons taal. Bedoelende: vir ’n man wat oënskynlik só ryk is as wat dit voorkom, behoort ’n ekstra miljoen of twee nie veel saak te maak nie. Jou gretigheid is ’n bietjie uit verhouding; so ook jou teësin om op die wettige manier te werk te gaan.”

“’n Miljoen of twee! Soos alle vroue kan jy ook nie somme maak nie en het nog minder begrip van geld! Besef jy hoeveel geld is hier in die spel? Ek praat van vyf en sestig miljoen dollar!”

“Ek weet. Soos ek uitgewerk het, gaan jy steeds baie miljoene uit die transaksie in jou sak steek nadat jy die regering sy wettige deel gegee het en my pa syne gekry het. Kry ’n seerower nooit genoeg nie?”

“Señorita, hoekom sal ’n mens met minder tevrede wees as jy vyf en sestig miljoen kan hê?”

“Ons het nóg ’n spreekwoord, señor: ’n gulsige hond verbrand sy mond. Jy is gulsig.”

“Wat anders as gulsigheid het jou van die ander kant van die aardbol af hierheen laat kom, señorita?”

“Ek het jou gesê ek hét geld.”

Sy donker oë blink uitdagend. “Veronderstel ek sê vir jou ek sal verdubbel wat jy het . . . gaan jy nee sê en aandring op die helfte?”

Sy kyk hom vasgekeer en kwaad aan. “Dis geen argument nie.”

“O so? My oupagrootjie het vir mý deel gewerk, nie die Costa Rica-regering nie. Toe Bonito sy skat op Kokos weggesteek het, het hy dit sekerlik bedoel vir sy nageslag. Dit was immers hý wat sy lewe daarvoor in gevaar gestel het. En ék is sy nageslag.”

“Wat wil jy met so baie geld maak? Jý gaan buitendien nie ’n nageslag hê nie . . .”

“Wat laat jou so dink? Sodra ek trou, sal ek kinders hê.”

“Jou opinie van my geslag, señor, laat my dink jy sal nie ’n vrou op hierdie aarde kry wat goed genoeg sal wees om vir jou seerowertjies voort te bring nie.”

“Andrea, my kind . . .”

Maar tot haar verbystering en haar pa se verligting lag don Alonso skielik hardop. “A, señorita, jy dink al weer verkeerd. Alle vrou is goed genoeg vir daardie doel. Dis tog waarvoor julle geskape is.”

Sy is opreg geskok. “Jy bedoel . . . om babas in die wêreld te bring is al waarvoor ’n vrou vir jou bestaan?”

“Hoe dan anders, señorita? Dis al wat julle kan doen wat ’n man nié kan doen nie. Dis ook ál wat julle goed kan doen . . .”

“En voor goed is?”

Hy glimlag. “En voor goed is.”

“Ek dank jou die duiwel!”

“Andrea . . .” Dries Smit staan vinnig op. Wat in sy dogter gevaar het, weet hy nie, maar hier moet hy haar nou uitkry. “Señor, as u my sal sê waar ek akkommodasie kan bespreek vir die nag en wanneer u wil hê ek Kokos toe moet vertrek . . .”

“Jy het nêrens te bespreek nie, señor Smit. Jy bly hier en ons vertrek môreoggend saam Kokos toe.”

Dries trap rond, kyk weer verleë en onseker na Andrea.

Uit die hoogte sê sy: “Moenie bekommerd wees nie, Pa. Ek sal my weg vind. Ek sien Pa môre op Kokos. Tot siens.”

“Waarheen gaan jy?”

Sy kyk kil in die donker oë terug. “Hotel toe. Een wat nié aan jou behoort nie.”

“Jammer, señorita. Ek het aandele in elke hotel in San José. Vir jou is hulle almal vol. Jy sal van my gasvryheid gebruik maak tot tyd en wyl ek reëlings vir jou terugsending getref het.”

“Jou gasvryheid is oorweldigend, señor – net soos jou goeie maniere.”

“Jou los mond is ontstellend, señorita – net soos jou domastrantheid. As daar een ding is wat ek nie voor my oë kan verdra nie, is dit ’n vrou wat nie haar plek ken nie.”

“Ja, ek weet presies wat jy van jou Spaanse vrou ver-wag – sy moet ’n slavin wees in die kraamsaal. Dank die gode ek is nie ’n Spanjaard nie!”

“Maar solank jy onder hierdie Spanjaard se dak is, sal jy jou soos een gedra.”

Sy wend haar woedend tot haar pa. Dinge is aan die handuit ruk. “Pa, ek gaan nie hier bly nie.”

“Jy het nie ’n keuse nie, señorita Smit. Jy gaan nêrens heen nie. Daar is net een ding op aarde erger as die atoombom – en dis ’n vrou met ’n los mond wat op straat losgelaat is. Galicia sal julle jul kamers gaan wys. Ons ontmoet mekaar oor ’n halfuur in die patio vir ’n skemerkelkie.” Daarmee gee hy ’n stug knik en stap na die glasdeure wat op die veranda met die gietystertraliewerk uitloop. Daar kyk hy vlugtig om. “O ja, señorita. Spaar jou die moeite om jou teen my bevele te verset. Die hekke is klaar gesluit en my twee waghonde word nou uit hul hokke gelaat.”

Met ’n geslote gesig volg Andrea Galicia na ’n kamer wat ook lyk asof dit uit vervloë dae se seerowerbuit gemeubileer is. Sy staan nog onbeslis en wonder wat haar nou te doen staan, toe daar ’n ligte kloppie aan haar deur is.

“Andrea . . .” sê haar pa paaiend toe hy sy kop om die kosyn steek.

Sy sug en gaan sit op die kant van die imposante bed. “Ek is jammer, Pa. Ek . . . het Pa amper ’n paar miljoen gekos.” Sy glimlag grimmig.

Haar pa kyk haar bekommerd aan. “Maar wat het in jou gevaar, my kind? Jy was aan die baklei binne die eerste minuut!”

Sy voel skaam en skuldig, maar nog steeds kwaad. “Dis hý . . . Dis alles sy skuld!”

Haar pa frons. Hy wou ’n paar keer ’n hartaanval kry oor die dinge wat sy vir die don gesê het! En die maniér waarop sy dit gesê het! “Hoe so, Andrea? Wat het hy gedoen?”

“Eerstens is hy toe nie ’n stokou, gierige vrek nie, maar ’n bloedjong, gierige vrek!”

“Wat?”

“Wel, ek . . . ek het ’n ou man met ’n grys kop en ’n kierie verwag. En hier staan die grootmeneer toe op en lyk soos die koning van Skeba . . . en net so hooghartig ook!”

Dries Smit is nou heeltemal in die duister. Die man kan mos nie help hoe hy lyk nie! En hoekom het dit sy dogter so ontstel? “Daar was net ’n koningin van Skeba,” sê hy verdwaas.

“Almiskie! En toe is hy nog boonop ongeskik. ‘En wie is dit dié?’ En daardie kyk wat hy my gegee het! ‘Om wat hier te maak?’ Wat dink hy? Ek het beslis nie agter hóm aan Costa Rica toe gekom nie! En die manier waarop hy my teenwoordigheid geïgnoreer het en my met Pa bespreek het asof ek nie in die vertrek is nie! En hy nooi Pa om te sit en hy laat my, ’n dame, daar hoog en droog staan! En . . . die dinge wat hy toe teen my geslag kwytraak! Ons is onbetroubaar en dom. Net goed genoeg vir slawewerk en voortplant – soos ’n dier.”

“Andrea!”

“Hy is n chauvinistiese misbaksel en ek vind hom afstootlik!”

Haar pa kug. Hy het nie geweet sy dogter kan só heethoofdig raak nie. “As jy regtig só ernstig daaroor voel, kan . . . kan ek hom maar sê ek sal hom nie help nie en . . .”

“Sodat die gulsige ding met nóg meer kan wegkom? Beslis nie! Pa kan vir hom gaan sê Pa wil ’n dubbele fooi hê omdat Pa hom onwettig moet help.” Sy sien haar pa se oë en verduidelik vinnig: “Dis net reg! Hy wil hê Pa moet sonder permit en die medewete van die regering na die skat soek sodat hy meer in sy eie sak kan steek. In daardie geval behoort hy Pa te vergoed daarvoor. Pa waag mos dan ook.”

Hy skud sy kop. “En jy beskuldig don Alonso van gierigheid en gulsigheid? Nee, my kind.”

“Dit gaan nie om die geld nie, Pa. Wat my betref kan Pa al die geld in die see gaan gooi wanneer Pa dit kry. Dis net . . .”

“Ja?”

“Dis net dat daardie man nie sommer net sy sin in alles kan kry nie.”

“Maar jy het niks met hom te doen nie, Andrea. Ons is net ’n rukkie hier en dan skei ons paaie weer.”

“Ja, ek weet, maar . . . maar nietemin! En een ding is seker: Hy gaan my nie soos ’n onoopgemaakte pakkie terugpos Suid-Afrika toe nie . . . en dit nogal op mý koste. Dis nou duiwels seker!”

Haar pa is stom. Hy draai stil om en gaan na sy kamer. Hy het nooit besef dat Andrea so ’n vurige geaardheid het nie. Hy het amper simpatie met don Alonso se siening van die teenoorgestelde geslag. Hulle kan nie argumenteer nie en hul tonge is te los. Andrea se vinnige tong het hom nou amper ’n paar miljoen gekos. As die Spaanse heer hom regtig vererg het, kon hy hulle op die plek die deur gewys het. Hy voel spyt dat sy dogter dadelik sal moet teruggaan, maar hy besef dat sy en don Alonso nooit sal stryk nie. Andrea se optrede het net daartoe bygedra om die don se opinie van die vroulike geslag te bevestig. En haar antagonisme teenoor hul gasheer se lewensuitkyk sal nie wyk nie. Daar is dus nêrens ’n ligstraal nie . . .

’n Halfuur later word hulle deur die goedige Galicia na die binnehof gelei waar hul gasheer reeds op hulle wag. Hy staan dadelik op toe hy hulle gewaar.

Natuurlik die goeie maniere ter wille van Pa, nie van my nie, dink Andrea spytig en vererg haar sommer weer opnuut. Met ’n seerower as oergrootjie behoort hy glad nie so ’n koninklike houding te handhaaf nie. As sý ’n seerower in haar voorgeslagte gehad het, sou sy haar geskaam het. Maar hy staan daar met sy donker kop trots op sy breë skouers, en sy hemp wat laag oopgeknoop is, vertoon ’n sonbruin vel. Sy vind hom afstootlik, het sy haar pa vertel. Maar sy moet erken – teësinnig, natuurlik – dat hy uiterlik ver van afstootlik is. Haar frons verdiep. Dit is waarom hy so ’n dunk van homself het en so meerderwaardig teenoor die vroulike geslag is.

“Señorita, jou frons sal hierdie voortreflike Spaanse wyn laat versuur. Sluk die frons weg voordat dit gebeur.”

Sy neem die glasie, proe aan die wyn en knik, probeer haar nek só hou dat sy hoop sy vertoon ook hooghartig. “Nie sleg nie, maar dit kom nie naby mý land se wyne nie. Ons wyne is van wêreldgehalte.”

Sy is gereed vir ’n bytende antwoord, maar hy glimlag en knik goedkeurend. “Ek kan altyd lojaliteit bewonder, selfs in ’n vrou.”

Hy het die wind uit haar seile en haar “Dankie” klink glad nie so sarkasties as wat sy dit wou gehad het nie.

Dries Smit besluit: Hoe minder hierdie twee in mekaar se geselskap is, hoe beter. “Ek brand om op Kokos te kom. U het nie miskien ’n kaart van die eiland nie?”

“’n Baie volledige kaart waarop presies aangedui is waar en wanneer en deur wie daar al gesoek is na die skat.”

“Is jy seker dit is nog daar?”

Die don kyk Andrea aan asof die kat haar ingedra het. Andrea behou haar meerderwaardige toon: “Ek het maar net daaraan gedink . . . julle is miskien nie die eerstes wat in die geheim na die skat soek nie. Is dit nie vreemd dat daar nog nooit deur enigiemand iets gevind is nie?”

“’n Mens kry net iets as jy op die regte plek soek, señorita. Niemand het nog op die regte plek gesoek nie.”

Sy voel soos ’n onnosel kind en vra opnuut vererg: “En weet jý waar die regte plek is, señor?”

“Nee, señorita. Dis hoekom u vader hier is. Hý moet die regte plek kry. Maar die skat ís op hierdie eiland.”

“Het jy bewyse?”

“Ek het nie bewyse nodig nie. Ek wéét net dit is hier.”

Sy glimlag stadig. “Intuïsie, señor? Ek dag dis net vroue wat daaraan ly.”

Hy ontmoet haar blik waterpas. “Dis reg. Vroue het intuïsie. ’n Man het iets beters – ’n sesde sintuig.” Hy staan op. “Sal ons na die kaart gaan kyk, señor?” Hy buig beleef in haar rigting. “U kan u solank gaan gereed maak vir aandete, señorita. Ons eet oor ’n halfuur.” Hy moes die verwarde knip van haar oë gesien het, want hy vervolg droogweg: “Ek verwag dat dames saans formeel moet verklee vir aandete. Dis tradisie.”

Sy staar hom ongelowig aan. “Jy bedoel . . . jy bedoel . . . ek moet ’n aandrok aantrek?”

“Nie heeltemal só formeel nie. As jy nie iets pasliks het nie, sal ek jou vanaand verskoon. Ons kan die sakie môre regstel voordat ons Kokos toe vertrek.”

“Voordat . . .? Maar ek gaan mos nie saam met julle Kokos toe nie. Jy het mos gesê . . .”

“Ek het van opinie verander. Ek het besluit jy gaan saam.”

“Nou regtig! Hoekom?”

Hy glimlag vir haar, maar sy donker oë glimlag nie saam nie. “Om jou onder oog te hou, señorita. Wat anders?”

Ena Murray Omnibus 21

Подняться наверх