Читать книгу Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray - Страница 9
3
Оглавление__
Sy staar fronsend na haar hopie klere wat sy sommer op die bed uitgebondel het. Sy beter iets “meer formeel” prakseer, anders kry sy dalk nie kos vanaand nie. Haar grimmigheid het ongelukkig geen effek op haar eetlus nie. Sy is rasend honger!
Sy pluk ’n donker, noupassende rok uit die bondel. Om dit meer “formeel” te maak, sal sy ’n spleet aan die kant bewerkstellig. Hoe kaler die rok, hoe meer formeel is dit mos. En die señor verwag iets meer formeels. Dan kry hy dit . . . en ’n goeie stuk been op die koop toe.
Daar is nie veel van die halfuur oor wat sy gegun is nie, en ná ’n paar vinnige hale lipstiffie en oogskadu maak sy stiptelik haar opwagting in die eetkamer wat vir haar meer soos ’n raadsaal lyk.
Terwyl sy oor die lengte van die vertrek aanstap, begin sy bedenkinge kry oor haar ingewing met die spleet. Daar is opsigtelik skok en daarna duidelike ongemak op haar pa se gesig. En die señor, wat hou van formele aandetes, lyk, na sy geslote gesig te oordeel, geensins beïndruk met háár smaak vir formele drag nie. Sy koel blik vertel haar hulle gaan môreoggend op ’n inkopietoer na San José se boetieks.
Of is dit nie die rok wat hom pla nie? Skort daar altemit iets met die been wat die aantreklike Spaanse rower sien? Voordat sy haar kan bedink, kyk sy af na haar been. Sý dink nie dit lyk te onaardig nie . . .
“Jy hoef nie my aandag so pertinent op jou anatomie te vestig nie. Ek kan dit nie miskyk nie,” sê hy bedaard.
Sy sluk. Op dees aarde, níks stel hierdie man tevrede nie! Is sy toe van bo tot onder, is dit nie goed genoeg nie. Is sy halfpad oop, is dit ook nie reg nie. Miskien het sy hom verkeerd verstaan. Maar sy het nie.
Ysig kom dit: “Ek het gesê jy moet gaan vérklee – nie óntklee nie.”
Sy kners op haar tande. ’n Mens kan jouself seker ter wille van etlike miljoene beteuel . . . Maar nie vir ’n sent minder nie!
Sy kry dit reg om tot twee te tel, maar toe moet dit uit: “Waar jy darem ’n vrou gaan kry om jou klein seerowertjies in die wêreld te . . .”
“Andrea, my kind . . .”
“Hulle sal almal met nagrokke tot by hul tone gebore word.”
“Dis genoeg, señorita!”
“Dis nou te sê as hulle ooit gebore gaan word. Die óóievaar sal hulle moet bring, anders gaan jy nooit babas hê nie!”
Hy stap met lang hale na haar toe en sê met sy hand onder haar elmboog: “La comida esta’ en la mesa!” Die woorde word deur stywe lippe afgebyt.
“Wat sê hy, Pa?” vra sy onrustig. Dit voel vir haar sy word summier gevonnis.
“Hy sê die kos is op die tafel. Kom eet . . . En gebruik asseblief jou mond om mee te eet en nie te praat nie, Andrea! Jy gaan ons twee nog op straat laat beland!”
Ten spyte van die ysige beer aan die bopunt van die kolossale tafel, geniet Andrea die ete terdeë. Een ding is seker: Die man moet ongelooflik ryk wees om só weelderig te kan leef.
Sy tel ingedagte ’n kandelaar op. “Dis antiek, nè?”
Die ysbeer antwoord: “Ja. Dit is al geslagte lank in die De Vitoria-familie.”
Sy sit dit versigtig neer. “Ek begryp.”
“Jy begryp niks nie, señorita. Ek het gesê in die De Vitoria-familie, nie die Bonito-familie nie.”
“Was hulle ook seerowers, die De Vitorias?”
Dries Smit versluk hom amper aan sy wyn. Daar begin sy al weer!
“Nee, señorita. Hulle was gesiene handelaars en grondbaronne. My grond hier op Costa Rica en op Kokos het ek van hulle geërf.”
Sy kyk onskuldig na hom op. “Wanneer het die . . . e . . . vermenging toe plaasgevind? Dit moes ’n groot skok vir die De Vitorias gewees het.”
“Vermenging?”
“Die samesmelting van ’n respektabele familie met dié van ’n seerower.” Sy glimlag skielik in sy ontevrede gesig op. “O ja, ek verstaan. ’n Bonito-seerower het natuurlik ’n De Vitoria-meisie ontvoer! Van die land af gegryp en op sy skip weggevoer! Dis verskriklik romanties!”
Hy kyk haar met openlike afkeer aan. “Jy kyk na te veel onsinnige Amerikaanse films, señorita. Daar was niks van die aard nie. Sy het heeltemal vrywillig met hom saamgegaan.”
Haar oë val byna uit haar kop. “Met ’n seerower? Weg van al hierdie dinge?” Sy beduie oor die tafel. “’n Verfynde meisie, van adellike afkoms, vrywillig saam met ’n vuil, barbaarse seerower?”
“Ag, Andrea, tog!”
“Señorita, ek het nooit gesê die De Vitorias is van adellike afkoms nie. Ons is nie. Maar hoe kan jy beweer Bonito was vuil en bar . . .?”
“Alle seerowers lyk mos so!”
“Het jy al een gesien?”
“Ja. In die films is hulle altyd bebaard en vuil en vol littekens.”
Haar pa sluk gespanne aan sy wyn. Geen mens sit aan so ’n deftige tafel, met sulke puik kos voor jou, met die beste wyn in geslypte glase, met die silwer skitterend om jou, en praat van vuil baarde nie!
Dit lyk asof die don sy lippe skaars van mekaar kan kry. “Films! Ek het gesê jy kyk na te veel Amerikaanse snert! Daar was seerowers én seerowers. Wat van die Engelse boekaniers soos Cox, Davis en Morgan? Daar was die Fransman Sieur de Grammont en ook Pierre le Grand. Daar was kaptein Mansvelt, die Hollander . . .”
“Maar hulle was boekaniers, nie seerowers nie.”
“Wat de duiwel is ’n boekanier anders as ’n seerower?” Sy vuis kom so hard op die tafelblad neer dat die silwersoutpotjie wip.
“Die een was beskaaf en skoon en die ander nie.”
“O, genade!” Dries Smit vou maar solank sy servet op.
Die stilte kan met die swaar tafelmesse in vierkantige blokkies gesny word. Andrea se lippe gaan oop om olie op die golwe te probeer gooi, maar haar pa se stewige greep op haar pols laat haar haar mond weer toeklap. Wat gesê is, is klaar gesê.
“Señorita, señorita De Vitoria was ’n hoogs verfynde dame wat haar nooit ooit vrywillig aan ’n vuil, stinkende, beswete, bebaarde seerot sou gee nie. Verstaan jy dit?”
Sy maak eers liggies keelskoon. “Ja, señor.”
“As julle klaar is, kan ons maar opstaan.” Don Alonso voeg die woord by die daad en sy gaste volg noodgedwonge sy voorbeeld. Hul gasheer het klaarblyklik alle smaak verloor vir die romerige nagereg wat nog onaangeraak staan, en met ’n verlangende blik neem Andrea ook maar afskeid van hare. Don Alonso is nou regtig kwaad en sy moet liewer nie haar geluk verder beproef nie.
By die deur word daar op baie formele wyse van hulle afskeid geneem. “Buenos noches, señor, señorita.”
Dit lyk asof haar pa haar oor sy knie wil trek toe hulle hul slaapkamers bereik. “Nee, regtig, Andrea! Kan jy nie die man uitlos nie?”
“Maar ek weet nie hoe dit gebeur het nie!” verweer sy heftig, hoewel half skuldig. “Ek het net gevra of die goed op die tafel egte antieke goed is en . . . toe ek my kom kry, is ons aan die stry!” Sy trek haar skouers agteroor. “En hy het woorde in my mond gelê wat ek nooit gesê het nie! Dis hý wat van stinkende seerotte gepraat het! Nou’s dit skielik ek!”
“Ja, ek weet, maar . . .” Haar pa gee sy kenmerkende hulpelose armswaai en skud sy kop. Al genade is dat Andrea bedags saam met hom sal moet gaan wanneer hy op Kokos aan die werk spring. Hy kan dit nooit waag om haar hier by don Alonso in die palacio te laat bly nie. Daar sal moord wees voordat die skat gevind is.
Die volgende oggend vind Dries Smit sowel as don Alonso ’n baie bedeesde jong dame aan die ontbyttafel. Sy het vir haarself lang, lang preke lê en afsteek in die groot dubbelbed waar sy die vorige nag soos ’n verdwaalde in ’n woestyn gevoel het.
Haar pa het reg, het sy haarself vertel. Wat het sy uit te waai met don Alonso en sy voorouers? Ja, wat het sy met hom uit te waai? Sy sal haarself nie weer laat uitlok nie. Haar pa kan maar die skuld op haar pak, maar sy het die gevoel dat elke rusie tot dusver deur die Spaanse heer veroorsaak is. Hy lok haar elke keer uit, maar sy gaan nie toelaat dat hy dit weer regkry nie.
Met hierdie vaste en goeie voorneme ontmoet sy die twee mans met ’n vriendelike glimlag aan tafel. Sy wil-wil haar net vererg vir die agterdogtige blik in don Alonso se oë. Dié man het darem nie ooghare vir haar nie. Sy verseker haarself die gevoel is wederkerig toe sy plaasneem sonder dat sy ’n toegeeflike glimlag van hóm ontvang. Hier doen sy haar bes om lief en minsaam te wees, en wat kry sy daarvoor terug? ’n Speurende blik wat haar deurboor asof hy wil sien of al haar binnegoed nog op die regte plekke is. Hy kan vanoggend regtig nie oor haar kleredrag kla nie. Sy is pottoe. Daar is nie eens ’n stukkie been te sien nie, want sy het ’n gemaklike langbroek aangetrek. Hulle gaan mos eiland toe, en dis gemakliker in en uit ’n bootjie met ’n langbroek. Maar aan die blik wat oor haar heupe gegly het, kon sy ewe goed kaal gewees het. Ag, die man maak haar moeg!
“Wanneer vertrek ons?” wil sy weet.
Hy antwoord stug: “’n Uur na ontbyt . . . sodra jy vir jou ’n rok aangetrek het.”
Dries Smit frons. Die man moet darem nie aanhou met Andrea bodder nie. Sy lyk vir hom heel ordentlik in haar langbroek.
“Is daar iets verkeerd met my broek?” vra Andrea op die daad opstandig.
“Ek verkies dat dames wat in my geselskap gesien word, rokke dra. Ek hou niks van die moderne vrou se gebroekdraery nie.”
Genugtig, hier begin dit al weer! Net betyds keer sy wat sy regtig wou sê. Dit is asof sy letterlik voel hoe sy die leisels van haar tong styf intrek toe sy sê: “Maar, señor, niemand sal my tog op ’n bootjie op die oop see sien nie. Ek het juis die broek aangetrek omdat ek gedink het dis . . . e . . . ordentliker met die inklim- en uitklimslag.”
Sy frons is kwaai. “Ag, onsin! Hoekom sal ons met ’n boot eiland toe gaan?”
Sy kyk haar pa en don Alonso beurtelings aan. “Ons gaan nié met ’n boot nie? Hoe kom ons dan op Kokos? Met ’n ballon?”
“Baie snaaks, señorita. Ek moet erken, ek vind jou opmerkings soms ’n bietjie kinderagtig.”
Sy voel haar nekhare rys. “Ek het net ’n eenvoudige, ordentlike vraag gestel. Pa . . .?”
“Ons vlieg daarheen, Andrea.”
“Vlieg? O! Met ’n vliegtuig?”
Dries Smit kyk don Alonso verskonend aan. “Ek dink nie sy weet presies waar Kokos lê nie, señor.”
Andrea frons. Sy word nou agterdogtig. “Lê die eilandjie dan nie sommer net hier om die draai nie?”
“Dis omtrent tweeduisend kilometer van die kus van Costa Rica af.” Sy oë spot. “Wou jy róéi daarheen?”
“Tweeduisend kilometer! Maar Pa!”
“Wat is dit? Hoekom is jy so ontsteld daaroor? Wat maak dit saak waar die eiland lê?” wil haar pa weet.
“Dis darem baie ver.”
“Ver van waar?” wil haar gasheer weet.
“Van die beskawing af.”
“Waarvoor is jy bang?”
Sy kyk hom fronsend aan. Daar is nie weghardloopplek nie, wil sy graag sê. Sy het die gevoel dat solank hierdie man in die omtrek is, sy altyd êrens ’n agterdeur moet oophou. En ’n eiland het nie juis ’n agterdeur nie. Sy sal moet swem as sy wil wegkom.
Maar dié ontsnaproete word ook met sy volgende woorde afgesny: “Kokos is nie ’n primitiewe, afgesonderde eilandjie nie, señorita. Wees gerus. Dit word gereeld deur toeriste besoek. Al wat daar primitief is, is die haaie.”
“O? Haaie, sê jy?”
Hy begin vriendeliker lyk. Hy hou blykbaar baie van die eiland. “Ja. Maar om te vergoed daarvoor, is daar geen slange, muskiete, rotte of muise op die eiland nie. Wat daar wel is, is wildevarke, ’n aantal beeste, ape en duisende voëls. Dis ’n voëlparadys en ’n oord vir jag – op die wildevarke, natuurlik – en dit is veral bekend vir sy wonderlike hengelplekke. Amerika se president Roosevelt het die eiland dikwels besoek om daar te gaan hengel. Stel dit jou meer gerus dat jy nie heeltemal uit wat jý die beskawing noem, gaan padgee nie?”
Sy is geensins gerusgestel nie, maar sy knik. Hoekom het sy so te kere gegaan toe hy haar wou terugstuur Suid-Afrika toe? Nou sal hy haar nooit laat gaan nie, al is dit bloot uit suiwer seerower-hardkoppigheid.
Hy sien die onsekerheid in haar oë en vra: “Of is daar ’n ander rede hoekom jy nie so ver wil weggaan nie?”
“Nee, watter rede kan daar wees?”
“Miskien ’n ou kêreltjie wat jy daar anderkant gelos het op wie se briewe jy wag? Dan kan ek jou ook . . .”
“Ek is nie maansiek nie, señor.”
“O? Dan het jy nie eens ’n spesiale vriend nie? Hoe oud is jy?”
Sy kyk hom waarskuwend aan. Hy moenie weer begin lol nie! “Hoekom?”
“Ek vra maar net. Jy lyk vir my oud genoeg om al getroud te gewees het met minstens ’n kind of twee.”
Haar humeur dreig. “Señor, ek is twee en twintig. En ons Suid-Afrikaanse vroue laat ons nie as broeikaste gebruik nie. Hoe oud is jý?”
“Twee en dertig.”
“’n Mens sal dit nie sê nie.”
“Wel, wat beteken dit? Ek kan dit kwalik as ’n kompliment aanvaar, komende van jou, señorita,” sê hy vererg.
“Nee, ek . . . bedoel maar net . . . Ek het aanvanklik aanvaar jou señorita bly seker op Kokos en jy hier.” Daar is so ’n halwe snorklag van haar pa se kant af, maar sy lig haar oë onskuldig na die hoof van die tafel op. “Maar later – toe ek hoor wat jy van vroumense dink – het ek geweet ek moet verkeerd wees. Jy het blykbaar nog nie daarin geslaag om ’n nooi te kry wat kans sien om net plesier en broeikas te wees nie.”
Sy gesig is onleesbaar. “Verkeerd, señorita. Ek hét iemand in die oog. Ek is nog net besig om haar te leer . . . om haar plek te ken.”
“Werklik?” Sy wens hy wil stilbly. Sy wil niks van sy vrysake af weet nie. Dis seker so droog soos die ou wyn wat hy gisteraand vir hulle geskink het. Maar sy sal graag wou sien hoe lyk die mal señorita – want mal móét sy wees – wat don Alonso in die oog het.
“Kry jy darem al iets uitgerig? Is sy darem vatbaar?”
“Andrea!”
“Vatbaar vir die lésse, Pa!”
“Dit sukkel maar ’n bietjie, maar ek sal haar wel regkry.”
“Foei tog. ’n Bietjie dom, hm?” Of sommer gewoon onnosel om met jóú deurmekaar te raak, voeg sy swyend by.
“Ek hoop nie so nie, señorita. Sy moet vir my eendag ’n hele klompie kinders gee,” antwoord hy gelykmatig.
“Ja, natuurlik. Maar jy moenie te lank wag nie, señor. Jy weet, ’n mens se tyd gaan verby vir sulke dinge.”
Hy knik ernstig. “Ek sal onthou, señorita. Wyse raad. Dankie.”
“Ek neem aan sy is ook uit die een of ander adellike familie?”
“Hoekom adellik? Dis nie ’n vereiste nie.”
“O, nee, ek het maar gedink . . . daar is nou al seerowers en status gekruis. Julle kort nou nog net ’n kroon.”
“Andrea . . .”
“Pa, wie het hiermee begin? Wie het eerste uitgevra oor ouderdom? Wie het eerste gepraat van behoort getroud te wees en behoort al ’n dosyn kleintjies te hê en . . .”
Sy kyk die man boosaardig aan toe hy skielik hardop lag en sy donker oë vonkel van die pret – pret ten koste van háár, weet sy.
“Señorita, jy hét hoë aspirasies. Jy sal ook moet begin. ’n Mens se tyd gaan verby vir sulke dinge. Hierdie goeie raad het iemand my onlangs gegee.”
“Ag, gaan bars!” skel sy onderlangs op Afrikaans en haar pa kyk hul gasheer vinnig aan.
Dié knik net, met die lag weg uit sy oë. “Ek weet nie presies wat dit beteken nie, maar ek kan my voorstel. Jou dogter se opvoeding laat veel te wense oor, señor Smit.”
“Ek is jammer. Sy het meestal alleen by haar ma grootgeword . . .”
Andrea voel sy kan ontplof. Voordat sy egter haar pa oor sy gebrek aan lojaliteit kan beetkry, laat don Alonso met oortuiging hoor: “Dit sal egter reggestel word. Voordat sy Kokos verlaat, sal sy ’n dame wees.”
“Wie sê?”
Dan is die glimlag weer daar. “Dit sal vir my ’n plesier wees om jou ’n lewensles of wat te leer.”
“’n Seerower gaan vir mý leer?”
“Daar is báie dinge wat jy sal moet leer. Is julle klaar? Dan kan ons gaan. Solank ek en die señorita inkopies doen, kan jy solank Costa Rica verken, señor. Ek glo jy sal dit geniet.”
Dries Smit glimlag. Ver en vreemde plekke is sy kos en grootste vreugde. “Sekerlik, señor.”
“Inkopies?” wil Andrea weet.
“Ja, señorita. Jou eerste lesing is voor die deur: Hoe om soos ’n dame aan te trek. Kom.”
Sy kyk hulpsoekend na haar pa, maar kan geen hulp uit daardie oord verwag nie. Hy staan hom en verkyk aan die kroonkandelaar bokant hul koppe, asof hy dit nou die eerste keer opmerk.
“Señor, ek sal nie toelaat dat jy vir my klere koop nie! Dis onbehoorlik.”
“Onbehoorlik?”
Haar wange is warm. “Ja. Ek is geleer ’n . . . ’n dame laat nie toe dat ’n vreemde man vir haar klere koop nie. Dis . . . swak smaak, swak opvoeding . . . e . . .”
“Ek gaan nie vir jou klere koop nie, señorita. Ek gaan jou maar net leiding gee om sélf die regte klere te koop. Jy gaan ook self daarvoor betaal.” Sy oë tart uitdagend. “Jy is mos vol geld, dan nie? Kan mos selfs vir mý uitkoop . . .”
Sy staan vinnig op. Nee kyk, wat te erg is, is te erg! “Dis mý geld, en jy gaan nie sommer mý geld rond en bont uitgee nie!”
Dries Smit tree tussenbeide. “Moenie so hardkoppig wees nie, Andrea! Ek dink dis ’n goeie plan. Gaan koop vir jou ’n paar mooi goedjies. Dis nie elke meisie wat aan die ander kant van die aardbol inkopies kan gaan doen nie. Gaan kry vir jou iets wat jy kan saamneem huis toe as ’n aandenking.” Hy sug toe hy haar bot gesig sien. “Ek sal jou alles terugbetaal sodra ek my aandeel kry. Ek belowe!”
“Hmpff! Daardie aandeel sal ek glo wanneer ek dit sien.” Sy aarsel. Haar pa het ’n punt beet. En al dink hierdie danige Spaanse señor daar skeel so baie áán en mét haar dat sy kwalik as ’n vrou bestempel kan word, ís sy een. Sy het nog nie veel aan haarself bestee nie. Sy kan gerus ’n paar stukkies klere bykry . . .
Sy moes voet by stuk gehou en hom na sy peetjie gestuur het, besluit sy ’n hele rukkie later. Om saam met die don inkopies te doen, is geen plesier nie. Met alles wat vir haar mooi is, vind hy fout.
“Jy wil van my ’n Spaanse dame maak en dit sal ek nooit wees nie!” protesteer sy later briesend.
Die antwoord is ewe koel: “Sulke hoë aspirasies sal selfs ék nooit hê nie, señorita. Nee, ek wil jou net sover kry dat jy darem gangbaar is.” Sy arendsoog het die rooi bikini wat sy onder die rokke ingedruk het, klaar raakgesien. “Daardie ding koop jy nie. Sit dit terug.”
“Dis mý geld . . .”
“En dis mý dak waaronder jy sal vertoef. Jy sal nie so iets daar aantrek nie.”
Andrea sluk en gooi dan maar om vredesonthalwe die stukkie swemklere eenkant toe. Sy wonder klaar wat die verkoopsdames dink. Don Alonso is ’n baie bekende persoon in San José.
Pak onder die arm staan sy eenkant toe don Alonso betaal. Sy het hom net een kyk gegee en prontuit gesê: “Dis jóú klere hierdie. Jý het dit uitgesoek. Jý betaal daarvoor.”
Hy het met ’n glimlaggie gehoorsaam en die verkoopsdame het breed geglimlag. “Kom gerus weer, don Alonso. Dis altyd aangenaam om u tot diens te wees.”
“Dankie, señorita. Adios.”
Andrea kyk skuins op na hom toe hulle terugry. Sy weet sy moet nie, maar sy kan die vraag nie keer nie: “Doen jy hierdie soort ding gereeld?”
“Watter soort ding?”
“Om klere vir vroue te koop. Ek het die indruk gekry jy is ’n ou en gewaardeerde klant in daardie dameswinkel.”
Hy werp haar ’n skuins blik toe en antwoord ernstig: “Ja. Ek tel dikwels goed daar vir my ouma op.”
Sy kyk vinnig weg. Ouma! Hy moet dink sy is onnosel. Sy is nie genoeg van ’n dame vir hom nie, maar hy is ’n ander soort “heer”. Koop klere vir vroue, en dring agterna seker op “betaling” aan. Die kamtige heer sal natuurlik nou betaling van haar ook wil hê . . . op sý voorwaardes. Maar hierdie keer gaan hy hom vasloop, besluit sy. Laat hom net iets probeer . . .
“Regtig, señorita, as jy so gaan aanhou, gaan jy ’n plooi tussen jou oë hê so diep soos die Grand Canyon voordat jy drie en twintig is. Lag tog ’n slag!”
Sy draai haar gesig weg van sy speurende blik en mompel vererg: “Ek voel g’n lus vir lag nie. Waarvoor moet ek?”
“Ek moet sê ek het lank laas ’n ondankbaarder skepsel as jy teëgekom. Hier sit ons met ’n kattebak vol klere waarvoor ék moes betaal, en jy lyk asof ek jou ’n enkelkaartjie Siberië toe present gegee het. Soveel nuwe klere sal elke ander vrou laat oorborrel van plesier, maar jy . . .”
“Ek is nie elke ander vrou nie, señor.”
“Dit weet ek teen hierdie tyd. Vertel my iets nuuts.”
Regtig, dié man! “Jý het daardie spul klere op my afgedwing. Ek sou dit nooit gekies het nie. Elke mens betaal self vir dit wat hy graag wil hê, dankie. En onthou asseblief: jou voorbarigheid gaan geen voordele inhou nie.”
“Ekskuus?”
Sy bly stil. Sy het weer te vinnig gepraat. Sy het geen bewyse dat die don die soort man is wat op vergoeding sal aandring nie. Sy roer haar skouers ongemaklik onder sy skroeiende blik. Natuurlik moet hy daardie soort man wees! kom sy tot haar eie verdediging. Watter man koop ’n bagasiebak vol klere vir ’n vrou en verwag nie iets in ruil daarvoor nie? Hy moet nog gebore word! Maar don Alonso is lank gelede gebore en sy is self nie van gister af op hierdie aarde nie.
“Jy het gesê, señorita?”
Sy lek oor haar lippe wat skielik droog voel, heilig oortuig hy kan hoor hoe haar gedagtes maal. “Ek wil dit maar net aan jou tuisbring dat ek nie volgens jóú smaak op ’n eiland tweeduisend kilometer van die beskawing af gaan paradeer nie.”
Sy oë, wat nog ’n rukkie stil op haar bly rus, vertel haar dat hy nie so oortuig is dat dit dít is wat sy bedoel nie. Dan besluit hy skynbaar om haar die voordeel van die twyfel te gee en sê net kortaf: “Ek is nou hartlik siek van jou gesanik. Loop dan maar kaal rond as jy so voel!”
Sy laat ’n lang, stadige, onhoorbare sug uit haar gespanne boesem ontsnap. Genade, dit is een ding om parmantig te wees, maar dis ’n ander ding om ’n man sonder bewyse van immorele gedrag of bedoelings te beskuldig.
Sy is hartlik dankbaar om haar pa op die sypaadjie te sien waar hy staan en wuif om hul aandag te trek.
Toe hulle ’n ruk later by die lughawe kom, wag daar nog ’n verrassing. Andrea en haar pa volg maar waar don Alonso lei, wissel net ’n vlugtige blik toe hulle sien hulle is op pad na ’n sessitplek-privaatvliegtuig. Hulle wissel weer ’n blik toe hulle sien don Alonso skuif self agter die stuur in. Natuurlik! Wat kon haar laat dink het dat hy nie sy eie vliegtuig sal hê én dit self sal loods nie? Om vir so ’n man te wil vertel sy sal hom kan uitkoop . . . met driehonderd en vyftig duisend randjies!
“Wat amuseer jou so geweldig, señorita?”
Sy ontmoet sy oë, kyk dan weg, skud haar kop en laat laggend hoor: “Nee, ek dink sommer net, señor.”
“Ek het jou reeds gesê dis ’n gevaarlike ding vir ’n vrou om te doen.”
Sy kyk terug na hom, al die geamuseerdheid weg, en laat waarskuwend hoor: “Moenie weer begin nie, señor!”
Maar dis sý beurt om te lag en sy kop te skud terwyl hy die vliegtuig op die aanloopbaan rig. “Ons begin maar nou eers, señorita.”
“Wat bedoel jy? Señor, as jy so gaan aanhou sukkel met my, kan jy my maar nou aflaai!”
“Te laat, señorita. Ons is reeds in die lug . . . behalwe as jy bedoel ek moet jou in die see afgooi?” Dan versober sy gesig effens, en hoewel die donker oë steeds vonkel, klink sy volgende woorde nie tergend nie, maar eerder na ’n dreigement: “Ons is op pad Kokos toe, Andrea Smit . . . en jy het geen idee wat daar alles op jou wag nie!”