Читать книгу Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray - Страница 10

7

Оглавление

Madame sien haar by die voorhekkie instap en daar kom ’n vreemde stilte in haar hart. Salome … Sy het aanvaar hulle sal mekaar nooit weer sien nie. En tog was daar ook diep in haar hart die hoop dat hulle nie finaal afskeid geneem het nie.

Dis of haar bene meteens onder haar wil knak en sy gaan sit in haar geliefde ou stoel, kyk met stil oë toe die jong vrou in die deur verskyn.

Oor die lengte van die groot vertrek ontmoet hul oë.

Madame trek haar asem stadig, pynlik in. Dis ’n vrou wat in die volle vuurgloed van lyding staan wat sy voor haar sien. ’n Vrou wat diep teue geneem het uit die beker van smart. Salome, my kind … my arme, arme dogter!

Toe, soos een maal tevore, snik Salome al haar hartseer teen Madame se boesem uit. En Maria Campagni het geen woorde nie. Sy kan maar net stil kyk na die ingedoke wange en die weggesonke oë met die swart skaduwees daaronder. Madame Campagni kyk tot diep in die siel van hierdie vrou, besef dat die jong meisie wat sy die eerste keer gesien het, ook die jong meisie wat sy deur die jare leer ken en liefkry het, vir altyd agtergelaat is. Salome is nou ’n vrou … vir altyd ’n gebroke vrou.

’n Kille woede jeens Flip Grimbeeck kom in die ou dame op, bars oor haar lippe. “Hy was jou nie werd nie, kind. Geen man is ’n vrou ooit werd nie. Hy is inherent selfsugtig. Hulle is volmaakte egoïste wat net aan hulself dink, net aan hul eie begeertes en drange en wat vir húlle pas! O, ek kan daardie man …”

“Ek het hom liefgehad, Madame. Het hom nóg lief. Ek sal hom altyd liefhê. Ek sal hom nooit vergeet nie.”

“Ek weet.” Madame se stem is meteens bitter. “Dis die ironie daarvan, dat sulke dinge altyd met sielvolle vroue gebeur. Dit gebeur altyd met mense wat van hul emosies lewe, vroue met ’n fyn siel. Hoekom is dit so?”

Salome sak terug op die mat waar sy netnou op haar knieë voor Madame neergeval het. Sy skud haar kop, staar voor haar uit. “Ek weet nie, Madame. Ek … vra nie meer vrae nie. Dit … help nie.”

Madame kyk op haar af. Nee. Dis beter om liewer nie te vra nie. Die Godsplan bly onverstaanbaar vir die menslike verstand. Hoekom moes die tragedie juis Salome tref? Hoekom moet juis hierdie vrou met die mooi siel, met die sterk karakter, wat in haar wese volwaardig vrou is soos God dit bedoel het, hoekom moet sý juis vandag hier op die mat sit, gebroke?

Of miskien moet dit juis sý wees, dink Madame peinsend. Hý weet dat Salome die smart kan dra, en nie net dra nie, maar selfs sterker, mooier, meer verhewe bo die smart sal kan uitstyg. Die swakker vrou sal ten gronde gaan. Maar Salome se inherente krag sal haar aanspoor na hoër hoogtes.

Dikwels breek die lewe van sy mooistes en sterkstes, nie om hulle te verpletter nie, maar juis om ál die potensiaal wat daar in hulle is los te breek …

Sy staan op, hou haar hande na Salome toe uit en trek haar van die vloer af op. Sy glimlag deur haar trane. “Nou is net jou sang oor, Salome. Smart het geen ware kunstenaar nog ooit geknak nie. Van ons grootste komponiste was blind, of doof en sieklik. Baie het nooit die vervulling van die liefde gesmaak nie. Dit het hulle juis laat uitstyg. Sonder daardie beperkings sou hulle miskien nooit die pieke bereik het nie.

“Ek weet dit kan op hierdie oomblik vir jou geen troos bied nie. Daarvoor is alles nog te rou, te stukkend. Maar jy het nie alles verloor nie, my kind. Daar is een ding wat nog joune is, net joune, en dit sal altyd joune bly: jou stem. Van nou af gaan jy sing, Salome! Jy gaan sing soos jy nog nooit gesing het nie, want ek glo dat die hoogste kuns uit pyn gebore word. Kom.” Sy trek haar na die vleuelklavier toe. “Sing! Sing net wat jy wil. Sing so lank jy wil.”

Salome kom langs die klavier staan en sy onthou … onthou hoe sy as kind afgehardloop het rivier toe, nie net wanneer sy gelukkig was nie, maar veral wanneer sy hartseer was en hoe sy daar, met die stil Karoovlaktes om haar, haar hartseer uitgesing het. Saggies begin sy neurie en haar leermeester snap dadelik die melodie en dan begin Salome sing. Sy sing met ’n oorgawe wat Madame nog nie voorheen gehoor het nie.

Du mein Gedanke, du mein Sein und Werden!

Du meines Herzens erste Seligkeit.

Ich liebe dich wie nichts auf diese Erden,

Ich liebe dich! Ich liebe dich!

Ich liebe dich in Zeit und Ewigkeit!

Salome sing tot haar bene van uitputting onder haar knak. Madame lei haar na ’n stoel en laat haar daarin neersak. Sy is gedaan, dit kan haar leermeester sien. Madame gooi ’n kombers oor haar bene en gaan haal iets om te eet, maar toe sy binnekom, sien sy dat Salome aan die slaap geraak het. Sy gaan sit stil in haar eie ou stoel. Wanneer Salome wakker word, sal die krisis verby wees en Madame weet dat sy dan weer die lewe sal kan aanpak. Haar sang sal haar staande hou.

Madame se ou blou oë rus lank op die slapende gesig. Daardie eerste dag het sy gesê dat sy nog nie kan sing nie, maar dat sy eendag sal kan sing – wanneer sy, Madame, en die lewe met haar klaar is. Haar leermeester kan haar nou nie veel meer leer nie, maar sy sal nog die aansporing wees, die padwyser wat weer rigting sal gee.

Wat Madame Campagni op hierdie oomblik nie weet nie, is dat die lewe maar pas met sy vormingswerk begin het. Die beker is nog lank nie leeg nie. Maar die lewe het tyd, baie tyd. Hy is nie haastig nie. Hy maak van tydsame prosesse gebruik, omdat dit wat hy doen, wat gedoen móét word, deeglik gedoen word.

Toe Salome laat daardie aand wakker skrik, kyk sy Madame verskonend aan. “O, Madame, dit spyt my! Het ek tog nie aan die slaap geraak nie? En kyk hoe laat is dit al!”

“Maak dit saak, my kind? Jy het goed gerus. Ek is bly. Jy het dit nodig gehad. Nou gaan ek vir jou kos haal. Bly sit net waar jy is.”

“O, Madame!” Die groenbruin oë is vol dankbaarheid. “U is te goed vir my.”

Madame kyk haar leerling met deernis aan. “Is ek, Salome? As jy maar weet … as jy maar weet hoe jy warmte in ’n ou mens se koue lewe gebring het! Nee, my kind. Ek kan nooit te goed vir jou wees nie, want jy is die dogter wat God my eindelik gegee het.”

Sy stap uit en Salome se oë rus strak voor haar. Nog iemand se dogter …

Madame is dankbaar om te sien dat sy al haar kos opeet en toe Salome klaar is, vou Madame haar beringde hande op haar skoot saam. “Wat is jou toekomsplanne, Salome?”

Die donker kop skud heen en weer. “Nee, Madame, ek dink nie aan môre nie. Ek wil vir eers net graag met sanglesse voortgaan.”

“Dis vanselfsprekend.” Sy glimlag. “Nie dat ek jou meer veel kan leer nie, maar ek kan dalk leiding gee. Van nou af, liewe kind, wil ek geen betaling meer hê nie.”

“Nee, Madame!” Salome lyk ontsteld.

“Geen fooie meer nie. Jou sangklasse sal van nou af vir mý meer beteken as vir jou, Salome. Ek het jou reeds gesê jy het soos ’n eie dogter geword.” Die ou oë pleit. “Gun my die voorreg, asseblief? Ek het net vir jou. Gun my ’n deel van jou.”

Salome se lippe bewe, maar sy veg dapper teen die emosies, sê dan stil: “Eintlik het ons nou net vir mekaar, nie waar nie? Wat sou ek sonder u gedoen het? Dankie, Madame. Baie dankie.”

Die ou vrou knik en sê dan saakliker: “Wat van die openbare optredes en die kontrak met die platemaatskappy – jy moet hulle nou weer opvolg. Dit was dwaas om destyds kop uit te trek.”

Salome slaan haar oë neer. “Ek … ek wil liewer vir die eerste ruk net op my sanglesse konsentreer. Ek sien kans vir niks meer nie.”

Madame knik begrypend. Salome wil nie dat die wêreld haar smart sien nie. Sy moet eers haar hartseer afmessel.

“Miskien moet ons ons die volgende paar maande hoofsaaklik op afrondingswerk toespits. Miskien is dit goed dat jy jou ’n ruk lank onttrek – en dan kan ons die wêreld daarna behoorlik verras … ’n volwasse, perfekte sangeres!”

Die volgende dag skryf Salome ’n brief huis toe. Sy skryf dit besonder maklik; nie soos dié wat sy nooit klaar geskryf kon kry en nooit gepos het nie.

Dis Jan wat die brief stadig voorlees waar hulle om die kombuistafel sit.

“Flip is weg. Ek gaan voort met my sang. Vir die volgende paar maande gaan ek geen openbare optredes aanvaar nie. Ek het met Madame gepraat en sy stem saam dat ons eers intensief afrondingswerk gaan doen.

“Madame is dierbaar vir my. Sy wil van nou af geen geld vir my sanglesse hê nie. Dus sal ek nie meer daardie uitgawe hê nie, maar ek sal ook geen inkomste hê nie.

“Ek het niemand anders om my na te wend behalwe julle nie, veral jy, Rosalie. Dis vir my bitter swaar om dit te vra, maar ek moet noodgedwonge my trots in my sak steek en weer ’n bedelhand uithou. Sien jy kans om my te bly help tot ek op my eie bene staan? Dit sal nog net ’n paar maande wees. Daarna sal ek jou elke sent met rente terugbetaal. Ek hou noukeurig boek van alles wat ek ontvang.

“Indien jy nie daarvoor kans sien nie, moenie huiwer om so te sê nie. Ek sal verstaan. Jy het alreeds meer as wat van enige mens verwag kan word, vir my gedoen. Ek sal Madame dan vra om my te help. Om die waarheid te sê, sy het reeds aangebied, maar ek het gesê ek het nie geldelike probleme nie. Ek kon haar net nie die waarheid vertel nie. Sy weet nie Flip se siekte het my heeltemal bankrot nie.

“Ek hoop dat dit nie meer lank sal wees voordat ek julle sal kan terugbetaal vir alles wat julle vir my gedoen en beteken het nie. Moenie dink ek vergeet één dingetjie nie. Ek gaan ’n beroemde sangeres word. Dit belowe ek julle. Ek sal julle nie teleurstel nie.”

Bessie Truter kyk gedetermineerd op. “Die kamtige Madame hoef haar nie te help nie. Ons kan na ons eie mense kyk … Ou ryk Neels de Jager het nou lank genoeg gekerm oor my stoetbul. Hy kan hom nou koop – teen my prys, natuurlik. Ek sal die ou vrek laat betaal. En daar is ’n klompie jong hamels wat net die veld verniel wat ook maar kan gaan.”

Rosalie spreek haar skoonma direk aan – iets wat baie selde gebeur. “Dis nie nodig nie, Ma. Ek werk mos. Dit sal genoeg wees om Salome aan die gang te hou.”

Maar Bessie Truter skud haar kop. “Jy het genoeg gedoen. Dis tyd dat ek en Jan oorneem.”

Jan val byna van sy stoel af. Dan kyk hy sy vrou teer aan. “Ma het reg, Rosalie. Jy het al meer as genoeg gedoen en soos Ma sê, ons kan na ons eie mense kyk. Die korinkies lyk mooi vanjaar. Sodra die oes af is, sal ek ook vir Salome geld stuur.”

Maar Rosalie hou voet by stuk. “Nou goed dan. Elkeen doen waarvoor hy kans sien, maar ek bly my salaris vir haar stuur. Wat te veel is, kan sy spaar.” Sy skud haar kop en die blou oë blink soos van ouds. “Dis wonderlik om te dink sy gaan nog beroemd word!” Dan versober haar gesig en sy kyk haar man bekommerd aan. “Sy sê niks verder van Flip nie. Net dat hy weg is. Dis al. Ek hoop tog nie … Jan, dink jy sy het haar man laat gaan ter wille van … ons?”

Maar hy skud sy kop stadig. “Nee, my vrou. Salome weet ons wil hê dat sy gelukkig moet wees. Nee. Ek dink daar het iets gebeur. Ek het al die gevoel gekry dat alles nie pluis is tussen haar en haar man nie. Miskien het sy besef dat hul paadjies nie kan saamloop nie. Wat die rede ook al mag wees, Salome het gekies en sy het ons nou nodig. Nou moet ons by haar staan.”

Rosalie knik. “Ja. Meer as ooit tevore.”

En dit doen hulle, in so ’n mate dat hulle Salome amper ongelukkig maak.

“Ma het nou al tot haar pragbul waarop sy so trots was, verkoop!” vertel sy Madame ontsteld. “Hulle stuur te veel. Ek het nie so baie nodig nie. Ek kan nie toelaat dat hulle hulself so uitmergel vir my nie.”

Maar Madame glimlag kalmerend. “Hulle is lief vir jou, Salome … en trots op jou.”

“Maar hoe gaan ek hulle ooit terugbetaal? Soos dit is, is ek al so diep in die skuld dat ek nie weet hóé ek hulle ooit sal kan vergoed nie.”

“Ek dink nie hulle dink ooit aan vergoeding nie. Maar jy kan vergoed deur ’n gewilde sangeres te word. En jy gáán beroemd word. Daarvan is ek nou meer oortuig as ooit tevore. Jou stem het net daardie spesiale iets bygekry wat van jou ’n uitstekende sangeres gaan maak.”

Maar teen watter prys, dink Salome bekommerd. Net God alleen weet watter prys sy daarvoor betaal. Net Hy alleen weet van die eensaamheid, die verlange, die hunkering. Net Hy weet hoeveel nagte sy haar nog aan die slaap huil, hoeveel ure sy nog op haar knieë deurbring. Net Hy weet hoe die vrou in haar sterf.

Aanvanklik het Madame bly aandring dat sy permanent by haar moet intrek; die huis is so groot en leeg … Maar Salome wou nie. Uit daardie klein woonstelletjie sou niks en niemand haar kry nie, want daar het haar herinneringe geleef. So dikwels het sy hom sien staan voor die esel by die venster, só helder en lewenswaar dat sy haar hand wou uitsteek en hom aanraak. En wanneer die herinnering soms wou vervaag, het sy na die kas gestap en die deur oopgemaak. Dan het sy sy klere aangeraak, sy geur in haar longe ingetrek en dan was hy weer lewend.

Sedert die dag dat hy verdwyn het, het sy nooit weer van hom gehoor nie. Sy het net ’n prokureursbrief ontvang waarin sy meegedeel is dat haar man ’n egskeiding nie sou teenstaan nie, sou sy hom dagvaar vir kwaadwillige verlating. Sy het nie op die brief gereageer nie.

Dat die lewe en sy meule nog lank nie met haar klaar is nie, vind sy uit drie maande nadat Flip haar verlaat het.

Madame sien dadelik dat daar iets skort en sommer groot ook.

“Wat is dit, kind? Flip …?” vra sy gedemp.

Salome trek haar asem diep in en die vreemde uitdrukking in haar oë laat Madame wanhoop. Ag, wat kan hierdie arme kind dan nou nóg tref?

“Ek verwag ’n kind, Madame.”

“Salome!”

“Ek kom nou van die dokter af. Ek het gedink dis maar net senuwees … spanning, maar hy sê daar is geen twyfel nie.”

Die ou vrou tas na die naaste stoel; haar bene kan haar nie langer regop hou nie. Sy kyk Salome verslae aan. “En nou?”

“Nou? Nou niks nie. Nou moet ons maar net wag, Madame.”

Die ou dame sluk. Here, is dit regtig nodig? “My dogter …”

“Gelukkig weet baie min mense van my troue. Die paar wat weet, sal nie praat nie.”

“Wat praat jy, kind? Dis juis belangrik …”

“Nee, Madame. Dis goed dat die wêreld nooit sal weet dat ek ooit getroud was nie.”

“Maar jy verwag, Salome!” roep Madame ontsteld uit en kyk die jonger vrou bekommerd aan. Sou al die skokke hierdie pragtige mens se verstand al begin aantas het? “Wat gaan die mense sê?”

“Niks nie, Madame. Niemand sal weet dat ek ’n kind verwag nie, net so min as wat hulle weet dat ek getroud was. Dit sal net ek en die dokter en u wees wat sal weet. En later …”

“Flip?”

“Nee. Flip sal ook nooit weet nie. Liefde kon hom nie by my hou nie, Madame. Ek gaan hom nie deur plig terugdwing nie. Nee, later sal my mense weet … maar nie nou al nie. Nie voordat alles reeds verby is nie.”

“Jy wil alleen deur hierdie ding gaan?” vra die ou dame verwytend.

Dan glimlag Salome, ’n vreemde, stil glimlaggie. “Nee. Ek sal nie alleen wees nie. Dié God wat hierdie Godsplan opgestel het, sal by my wees. En u. U sal my nie alleen laat nie, sal u, Madame?”

“Nee.” Haar stem is tranerig. “Nee, nooit nie, my dogter.”

“Dan sal ek mos nie alleen wees nie. Gelukkig dat ons besluit het dat ek my voorlopig eers uit die openbaar moet onttrek. Nou sal niemand iets agterkom nie. Toevallig, nè?” Dan vererns haar gesig. “Nee, daar is geen toeval nie. Dit was bestiering. Madame, u weet …” Salome kyk peinsend voor haar uit, “ … u weet, dis of ek die vae buitelyne van God se plan met my lewe kan begin uitmaak. Ja, dis of ek dit wil begin verstaan.”

Kommer lê weer helder in die ou oë. “Kind … wat bedoel jy? Waarvan praat jy, Salome?”

“Die plan met my lewe, Madame. Kan u dit nie ook sien nie? Dis nie werklik ’n deurmekaarspul nie. Daar is tog ’n vreemde orde, ’n definitiewe omlyning … en ek kan dit begin sien. Ek sien wel nie die volledige plan nie, maar dit begin meer sin maak. Die smart, die eensaamheid, Flip … en nou ook die baba. Ja, daar is ’n definitiewe plan.”

Madame swyg liewer, vra nie verder uit nie. Salome is ontsteld. Natuurlik is sy hewig ontsteld. Sy staan op en kyk pleitend op. “Nou móét jy na my luister, Salome. Asseblief! Jy móét nou hier by my kom intrek. Jy kan nie meer alleen in daardie ou woonstelletjie bly nie. Jy kan enigiets oorkom en jy moet nou ook aan die baba dink.”

Salome gee ’n madonna-glimlaggie wat Madame nog nooit tevore gesien het nie. Sy plaas haar arms om die kort gestaltetjie en druk haar teen haar vas. “Liewe Madame! Liewe, dierbare Madame! Ook vir u skuld ek so baie! Ek sal kom. Ek sal hier by u kom bly tot … tot alles verby is.”

Madame sug en sluit haar oë dankbaar. Op hierdie oomblik dink sy liewer nie verder nie. Vir vandag is dit eers genoeg. Môre sal hulle weer verder praat, weer begin dink. Maar die kwelvraag los haar nie: Wat gebeur wanneer alles verby is? Maar sy sê dit nie hardop nie. Liewer nie.

Salome neem die volgende oggend afskeid van haar woonstel. Die paar stukkies meubels verkoop sy aan ’n tweedehandse meubelwinkel.

Sy staan uiteindelik met twee koffers langs haar in die middel van die sitkamer. In ’n groot drasak is Flip se klere ingebondel. Daarmee sal sy later ’n plan maak.

Sy kyk deur die woonstel met stil, droë oë. Tot gistermiddag het sy aan hierdie plekkie vasgeklou. Maar die bande met die verlede moet nou verbreek word.Vreemd, maar tot hiertoe het sy nog altyd gebonde gevoel aan Flip. Vreemd dat die wete dat sy sy kind onder haar hart dra, haar meteens van hom losgemaak het. Sy weet Flip sal ’n intense deel van die vrou in haar bly, maar haar verstand het haar gister vertel dat dit net verstandig sal wees om die bande van herinnering waaraan sy nog altyd so naarstiglik vasgeklou het, te knip. Flip sal nie deel van haar toekoms wees nie. Dis verby. ’n Episode wat afgesluit is, finaal beëindig is. Vreemd dat dit juis sý kind moet wees wat haar dit aan die verstand gebring het dat sy haar toekoms alleen tegemoet moet gaan, en gister se bande en dit wat haar aan Flip Grimbeeck bind, finaal moet afgooi.

In die maande wat volg, wonder Madame dikwels oor hierdie nuwe, vreemde, kalme Salome. Dikwels verwonder sy haar aan die kalmte waarmee sy elke dag aanvaar en deurleef. Daar is ’n onpeilbare berusting in haar; daar is nooit opstand nie. Sy kla ook nooit nie. Soos die maande vorder, neem Madame se onrus toe. Sy kan dikwels nie haar hartseer en medelye wegsteek nie. Dan is dit Salome wat haar vrese wegpraat, wat sonder vrees die groot gebeurtenis afwag.

Vandag kan Madame nie langer stilbly nie. “Ek verstaan jou nie, kind. Jy maak asof dit iemand anders se kind is wat gebore gaan word en nie joune nie. Asof dit met iemand anders gaan gebeur, nie met jou nie.”

Salome glimlag net weer daardie stil glimlaggie van haar, maar haar oë bly onpeilbaar. “Miskien is dit presies wat gaan gebeur, Madame.”

“Wat bedoel jy, kind? Jy praat so in raaisels. Ek verstaan jou nie aldag nie.”

“U sal binnekort verstaan. Dis nie nou meer lank nie.”

Madame skud haar kop mismoedig. Salome laat haar kriewelrig voel. Dis of die kind van dinge praat, van dinge weet, wat Madame geen benul van het nie.

Steeds het Madame nie die moed om die groot vraag te vra nie: Wat gaan ná jou kind se geboorte gebeur?

Salome se seuntjie word op Oukersaand gebore – die pragtigste baba in die hele wêreld, volgens Madame.

In die klein gesiggie is daar geen teken van sy vader nie, en die moederoë wat elke gelaatstrekkie fynkam, is hartseer én bly daaroor.

Dis beter dat hy nie na Flip lyk nie, maar veel eerder na haar geliefde boetie, Karel, wat so vroeg gesterf het.

Die bevalling vind in Madame se huis plaas en Salome weet dat haar geheim veilig is by haar geneesheer en Madame. Niemand sal ooit weet dat Salome nie net volwaardig vrou was nie, maar ook volwaardig moeder.

Ses weke lank veroorloof sy haarself die weelde van moederskap. Toe breek die tyd aan om die besluit uit te voer wat sy die dag geneem het toe die dokter haar vertel het sy is swanger. Dit sal wreed wees om dit langer uit te stel, ook teenoor Madame.

Dié is soos ’n trotse grootmoeder gedurig om die wiegie en Salome se hart breek om te dink dat sy haar van daardie vreugde en geluk moet ontneem.

Sy sal Madame se oë nooit vergeet toe sy, met haar baba in haar arms, van haar afskeid neem nie. Die ou dame is stukkend, heeltemal stukkend.

“Madame …”

“As jy dan moet, gaan dadelik, Salome. Vat hom weg – nóú!”

Met ’n onpeilbare gesig gehoorsaam sy en stap na die wagtende huurmotor. Sy kyk nie een maal terug nie, druk net die wit bondeltjie styf teen haar vas en wonder hoekom sy juis altyd dié mens wat sy die liefste het, so wreed moet seermaak. Maar ten spyte van die leed, sien sy nog die patroon duidelik voor haar en weet dat dit so beplan was … en dat sy nie daarvan sal ontkom nie.

Die ou dame staar die verdwynende motor deur traangevulde oë agterna en ook sý wonder … wonder hoekom so baie smart een mens se deel moet wees; wonder hoekom sy self op haar oudag ook weer so seer moes kry.

’n Paar weke lank het God aan haar getoon wat haar deel sou gewees het op die ander pad … die pad wat sy nie gekies het nie. En toe sy die voordeur agter haar toetrek, is sy sekerder as ooit tevore dat sy jare gelede die verkeerde pad gekies het.

Maar Salome … sý het die ander pad gekies, maar dis of alles meewerk om haar terug te dwing op die eerste pad, op die pad van plig, die pad wat teen die einde net vergane roem sal oplewer. Arme Salome. Daar is namens haar gekies en al wat sy kan doen, is om maar moedig voort te stap op daardie pad … so moedig soos wat sy netnou hier uitgestap het. O, Vader van genade, gee haar krag! Staan haar by, want wat nou van haar gevra word, is meer as wat ’n mens van vlees en bloed kan verduur.

En dit is al wat Madame Campagni in hierdie oomblikke kan doen – om vir Salome te bid.

Ena Murray Omnibus 22

Подняться наверх