Читать книгу Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray - Страница 12

9

Оглавление

Soos soveel keer tevore sien Madame haar weer in die deur van die musiekkamer verskyn en weer is die ou dame stom. Sy het die vorige keer gedink sy sien die volmaat van smart in daardie groenbruin oë. Maar vandag draai Madame haar kop weg, wend haar oë af.

Salome gaan staan langs die vleuelklavier en die ou dame neem steeds woordeloos op die klavierstoeltjie plaas. Vanself soek haar vingers die note.

“ … Ich liebe dich! Ich liebe dich in Zeit und Ewigkeit!” sing Salome.

Toe sy die lied klaar gesing het, kyk Madame vraend op, maar Salome skud haar kop. Sy gaan nie weer sing tot haar bene onder haar knak nie. Net hierdie een lied … haar afskeidslied aan ’n bitter verlede.

Van daardie dag af kan niks haar meer stuit nie. Niks kan haar ster langer onderdruk nie. Fenomenaal skiet dit op, al hoër … hoër … tot dit die hoogste hoogte bereik. Die naam Salome is op almal se lippe. Haar land is trots op haar. Sy is die beste, die eerste. Salome is beroemd; die een CD ná die ander verskyn en verkoop soos soetkoek. Sy kan nie voorbly met optredes nie … maar haar lewe hou sy privaat. Sy bly steeds by Madame – wat haar soos ’n eie moeder beskerm teen nuuskierige joernaliste. Watter duur prys sy vir haar roem betaal het, weet niemand nie. Al wat die wêreld en haar bewonderaars weet, is dat sy ’n plaasdogter van die Karoo is, dat sy sangopleiding by die wêreldbekende Madame Campagni ontvang het en dat sy nou die toppunt van die leer bereik het. Sy staan baie selde onderhoude toe en bly sing onder haar voornaam alleen.

Maar selfs die enkeles wat die hele verhaal ken, besef nie dat haar roem maar ’n skamele kompensasie is vir die prys wat daarvoor betaal is nie.

Dit is net sy en haar Skepper wat weet wat in haar hart omgaan wanneer sy Brahms se wiegeliedjie so gevoelvol vertolk; uit watter ervare hart die klanke kom wanneer sy so weemoedig sing van die liefde – en die kortstondigheid daarvan. Net sy, alleen tussen al die duisende luisteraars, weet wat sy beleef wanneer sy so ontroerend van die verganklikheid van geluk sing.

Oor een ding het Madame Campagni egter dikwels gewonder: Hoekom moet ’n blom eers gekneus word voordat jy sy volle geur kan inadem? Sy het dikwels na die pragtige vrou voor haar op die verhoog gekyk, besef dat die uiterlike skoonheid ’n stukkende siel verberg … en haar verwonder aan die wonderskone klanke wat uit die seer hart kom. Salome sou nooit só kon sing as die lewe haar nie eers gebreek het nie. Die kruik moes eers stukkend val …

Drie jaar gaan verby voordat sy haar mense weer besoek nadat sy daardie nag so skielik vertrek het. Drie jaar, want sy kon nie vroeër gaan nie. Sy was eerlik genoeg om aan haarself te erken dat sy te bang was om te gaan.

Maar sy verskyn ná drie jaar weer in die kombuisdeur. Hierdie keer kom sy nie weer met ’n huurmotor van die stasie af nie. Sy het met haar eie motor gekom, want geld is nou nie meer ’n probleem nie.

Sy bly nie lank nie, net ’n naweek, maar toe sy vertrek, is haar hart weer rou – asof ’n haakyster die ou rowe brutaal afgeruk het. Maar die balsem op daardie seer is grenslose dankbaarheid, en die wete dat sy drie jaar gelede nie verkeerd gedoen het nie.

Want klein Karel is die middelpunt van die huishouding. Hy het alles onherkenbaar verander. Die somberheid het uit die huis verdwyn en Jan se oë blink. Rosalie het nou altyd die onbeskryflike teer glimlag van ’n moeder om haar lippe. Sy troetel en vertroetel hul kosbaarste kleinood en gee openlik uiting aan haar vol moederhart. En Bessie Truter, die vrou wat so hard en weerbarstig teenoor haar eie kinders was, het sag geword, sag soos klei in die handjies van haar kleinseun. Terwyl Salome hul verskillende gesigsuitdrukkings dophou, vind sy vertroosting in die besef dat sy drie jaar gelede die Plan reg gelees het. Sy glimlag toe sy besef dat haar sukses as sangeres ’n groot bron van vreugde en trots vir haar familie is – maar dat hul vreugde en trots in klein Karel dit oneindig ver oortref. Toe weet sy dat haar skuld aan hulle ongetwyfeld vereffen is. Sy skuld haar mense voorwaar niks meer nie.

So kom en gaan die jare. Die verlede sink al verder in die vergetelheid weg en as daar soms nog gesigte uit die verlede in die hede kom spook, weet niemand daarvan nie. Flip Grimbeeck se naam word nooit weer genoem nie. Wat Salome presies nog vir hom voel en of hy nog ’n plek in haar herinneringe inneem, waag niemand om te vra nie. Selfs Madame het geleer dat daar dinge is waaroor jy met Salome kan praat … en dat daar dinge is wat jy nie durf aanroer nie.

Sy en Salome het vreedsaam in die groot ou huis gebly, want Maria Campagni het nooit uitgevra nie. Salome sou, wanneer sy weer ’n slag vir ’n seldsame naweek plaas toe was, vertel van klein Karel – hoe hy gegroei het, dat Jan vir hom sy eie perd gekoop het, dat hy al kan bokke melk en een van die dae sal moet skool toe gaan. Dan het Madame die weemoed in haar stem gehoor en geweet dat daar wonde is wat nooit werklik genees nie, maar dat ’n mens kan leer om daarmee saam te lewe. Maar oor Flip Grimbeeck wou Salome nooit praat nie en Madame het baiekeer gewonder … Sou dit wees omdat hy niks meer vir haar beteken nie – of was dit omdat dit nog te seer gemaak het om oor hom te praat? Die antwoord kon sy nooit peil nie, want Salome het geswyg.

Totdat Salome op ’n dag doodsbleek, haar oë weer soos dié van ’n gemartelde dier, tuis kom. Madame se hart ruk. Wat sou gebeur het? Sou klein Karel iets oorgekom het?

“Salome! Kind, wat is dit? Is dit klein Karel? Het hy …?”

“Nee. Hy makeer niks nie. Dis … nie hy nie.” Salome probeer baie duidelik om haar reg te ruk, haar oë ontwykend. “Hier is ’n brief van Rosalie. Karel se eerste week op skool het baie goed afgeloop. Hy spog vreeslik met sy nuwe skoolklere en die boektassie wat ek vir hom gestuur het. Hy laat weer dat, sodra hy kan skryf, hy self vir my ’n brief sal skryf en dankie sê.”

Sy sluk hoorbaar en sit die brief voor Madame neer sodat sy, soos dit hul gewoonte is, ook al die nusies oor klein Karel – want daaruit bestaan Rosalie se briewe – self kan lees. Maar Madame se oë bly op Salome gerig. Dis nie die nuus dat haar seun vir die eerste keer skool toe is wat haar so ontstel het nie. Sy weet die moederhart pyn en verlang om hom te kan sien in sy eerste skoolklere. Maar dis ’n pyn waarmee Salome geleer het om saam te leef. Dis nie dit wat haar so ’n gemartelde uitdrukking gee nie.

Sy vra stil, die wyse ou oë sag: “Wat is dit, Salome? Wat het jou so ontstel?”

Salome kyk weg, sug swaar, vee oor haar oë en sê dan gedemp: “Ek kan ook niks vir u wegsteek nie, nè? U ken my te goed.”

“Ja, ek ken jou, Salome. Maar ek wil nie indring nie. As jy my nie wil sê nie …”

“Dis nie dat ek nie wil sê nie, Madame. Dis net …” Sy beduie met haar slanke hande en kyk dan dapper op. “Ek kan u maar sê. Dis nie … iets vreesliks nie.” Sy maak eers haar lippe nat voordat sy vervolg: “Daar is oor drie weke ’n uitstalling in die stad. Ek het vandag ’n plakkaat gesien wat dit adverteer.”

“Uitstalling?”

“Ja. ’n Uitstalling van die skilderye van … Flip Grimbeeck.” Dis baie stil. Dan staan sy op, ’n senuweeagtige laggie op haar lippe. “Dis maar al. Is daar iets te drinke?”

Madame weet op daardie oomblik nie wát om te sê nie, maar haar hart bloei vir hierdie dogter van haar.

Terwyl Salome snags rusteloos en gespanne in haar bed rondrol, bid die ou dame maar net vir haar. Dit is al wat sy kan doen, want sy kan raai wat in hierdie dae in Salome se hart omgaan.

Daar is ’n diepe onrus in Madame oor hierdie nuwe wending. Dit is nou agt jaar lank wat Salome haar eensame pad loop. Die pad na roem en sukses het sy alleen afgelê, sonder om een keer by ’n man betrokke te raak. Die publiek het dit eienaardig gevind dat so ’n pragtige, talentvolle vrou so koud teenoor die mansgeslag staan. Skinderrubrieke het veelseggend daarop gewys dat Salome met haar sang getroud is en dit selfs gewaag om haar eksentriek te noem. Salome het nooit kommentaar gelewer nie en die oppervlakkige publisiteit van haar afgeskud asof dit haar werklik nie kan skeel wat mense van haar dink nie.

En nou verskyn Flip Grimbeeck weer.

Dan lewe hy nog, dink Salome vir die hoeveelste keer. Soms het sy gewonder of hy nie al dood is nie. Hy was maar altyd sieklik. Daardie lastige kuggie van hom … Maar hy lewe nog en hy gaan ’n uitstalling in hierdie stad hou, die stad waarvandaan hy weggevlug het. Hy moet van haar weet … Daar gaan nie ’n dag om dat haar stem nie oor die radio of televisie opklink nie. Sal hy haar kom opsoek?

Sy rol rusteloos in haar bed rond. Hoekom sal hy? Om darem net te kom groet? Net om haar te verseker dat daar geen kwade gevoelens is nie? Om haar te kom sê dat hy darem ook ’n mate van sukses behaal het – natuurlik nou nie so oortuigend soos sy nie, maar darem.

Toe sy een aand ná ’n vertoning tuis kom, wag Madame haar in.

“Het u tog nie vir my gewag nie?” vra Salome verbaas.

“Nie spesifiek nie. Ek wou my boek lees. Daar is nog warm tee as jy wil hê.”

“Dankie.” Toe sy met haar koppie tee gaan sit, kyk sy op. “Daar is sprake dat ek die hoofrol gaan kry in ’n TV-reeks.” Sy glimlag. “Hulle moet my net eers toets om te kyk of ek darem speeltalent ook het!”

“Jy sal dit kan doen. Ek weet,” sê Madame met oortuiging.

Salome se blik verteder. Dierbare, lojale Madame!

Dis nou die ou dame se beurt om op te kyk, haar oë skerp. “Ek het toe vandag na Flip se uitstalling gaan kyk. Jy kan gerus ook gaan. Dis goed. Ek oorweeg dit om een van sy skilderye te koop.”

Salome se gesig is meteens onleesbaar. “Hoekom? Wil u … dit hiér hang?” en sy kyk afwysend om haar.

Madame glimlag. Die liewe kind! Soms lyk dit amper asof sy nie veel van haar Madame se intelligensie dink nie. ’n Flip Grimbeeck in hierdie huis waar dit heeldag onder Salome se oë sal wees! Sy is darem nie só ongevoelig nie.

“Nee. Ek wil dit vir klein Karel koop.”

“Vir … Karel!”

“Ja.” Die ou oë kyk onskuldig terug. “Of koop ’n mens nie ’n skildery vir ’n sewejarige seun nie? Ek kan natuurlik vir hom ’n fiets ook koop. Maar ’n skildery is ’n belegging; ’n fiets is tweedehands die oomblik dat jy hom klaar gekoop het. Of … hou jy nie van die gedagte nie?”

Salome se oë is ontwykend. “Nee, ek … dis soos u wil, Madame. Dit maak nie aan my saak nie.”

Madame sug verlig. “In daardie geval gaan ek vir hom die skildery koop waarop ek my oog het. Ek het klaar met die handelaar gepraat en vir hom gesê hy moet dit vir my hou.” Sy staan uit haar stoel uit op en begin die koppies bymekaar sit. “Die skilder is glo nie self hier nie. Die handelaar sê hy verseg om te kom, sê glo hy is allergies vir die stad. Hy stuur net sy skilderye en hulle moet maar uitstal.” Ongeërg loer sy sywaarts, maar sy word niks wys uit die uitdrukkinglose gesig nie. “Dis al laat. Ek gaan maar inkruip. Sal jy vir ons al die ligte afskakel, asseblief?”

“Ja. Nag, Madame.”

“Nag, my kind. Lekker slaap.”

Daardie nag slaap Salome vir die eerste keer in weke weer rustig. Die volgende dag dra haar bene haar by die kunsgalery in, soos Madame ook verwag het. Sy stap van die een skildery na die ander en daar is ’n onpeilbare uitdrukking in haar oë toe sy eindelik omdraai. Flip lewe en hy skilder … hy skilder pragtig!

Sy lees die resensies oor sy eerste uitstalling in die koerante en haar oë vul met dankbare trane. Daar word groot dinge vir hierdie skilder voorspel. Weliswaar is daar kritiek, maar die kunskenners is dit almal eens: Flip Grimbeeck gaan nog een van dié skilders van ons land word.

Sy sit en staar voor haar uit. Twee paaie … eensame alleenpaaie wat uiteindelik albei op sukses uitgeloop het. Sou hy hierdie suksesloon genoeg ag? Maar sy skram daarvan weg om die vraag ook aan haarself te stel.

Die tyd gaan verby. Salome se lewe is vol en besig. Nuwe CD’s verskyn, daar is oorsese uitnodigings, daar word twee TV-reekse gemaak, daar is al drie toekennings op haar kerfstok. En ’n hele paar maal word uitstallings van die skilder Flip Grimbeeck gehou – en dit word ’n statussimbool om ’n Grimbeeck teen jou muur te hê.

Op ’n dag kom daar ’n brief uit die Karoo. Dis Rosalie se handskrif op die koevert, maar toe hulle dit oopskeur, val ’n kindergeskriffie daaruit. Dis klein Karel wat dankie sê vir al die mooi geskenkies van sy geliefde tannie Salome en ouma Maria.

“Baie dankie, tannie Salome, vir die nuwe fiets en die skooltas. En baie dankie, ouma Maria, vir die mooi prent wat Ouma gestuur het.” In die plek daarvan stuur hy nou ook ’n prentjie terug, een wat hy self geteken het met kryt wat juffrou vir hulle in die skool gee. Hy hoop Ouma en tannie Salome hou daarvan. Baie groete en baie soentjies en Pappa sê hy stuur een van die dae weer biltong en droëwors.

Aangedaan vou Salome die tekening oop.

Dis Madame wat eerste haar stem terugkry. “Dis … ongelooflik, Salome! Kyk hier! Kyk die hansboklam hier voor tussen die gras! Jy kan duidelik sien dis ’n boklam! En kyk daardie boom!”

Salome moet swaar sluk terwyl sy deur haar trane na haar seun se tekening kyk. Haar stem is hees toe sy sê: “En dis ons plaashuis! Kyk, tot die stoep en die trappies!” Daar is ’n snik in haar stem. “Ma het eendag so terloops opgemerk dat Karel so graag prentjies teken, maar ek het nie besef …”

Madame sê niks nie. Wat is daar om te sê? Maar sy stryk die prentjie met haar hand plat en sê in haar hart: Waar bloed nie kan loop nie, daar kruip dit, Salome. Dan kyk sy op. “Mag ek dit maar vir my hou, asseblief?”

Salome skud haar kop, probeer lag. “U is nou net so verspot soos Ma. Maar natuurlik kan u dit maar hou. Wat wil u daarmee doen?”

“Ek gaan dit raam en bokant my bed hang.”

“U is verspot, Madame!”

Maar Madame glimlag net. Is sy? Wat Salome nie besef nie, is dat daar van nou af in hierdie huis ook ’n Grimbeeck gaan hang!

Ena Murray Omnibus 22

Подняться наверх