Читать книгу Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray - Страница 7

4

Оглавление

Te midde van die matriekeindeksamen laat roep juffrou Dunn haar leerling. “Ek het fantastiese nuus vir jou, Salome,” vertel sy met ’n breë glimlag. “Ek het met my ou musiekprofessor gepraat en hy het ’n goeie woordjie vir jou gaan doen by Madame Campagni. Ek het jou reeds van haar vertel.”

“Madame Campagni? O ja, juffrou. Sy was wêreldberoemd.”

“Ja. Sy is nou oud en nie so gesond nie, maar gee nog sangonderrig aan leerlinge wat sy dink die moeite werd is. Sy keur haar leerlinge self. Wel, professor Roux het haar van jou vertel. Sy is bereid om jou ’n oudisie te gee. Dit alleen is al ’n besondere eer, dit moet ek jou sê.”

“U bedoel …?”

“Ja. Sy wil jou hoor sing en sal dan besluit of sy jou as leerling sal neem. Ek het vandag ’n brief van professor Roux ontvang. Jou afspraak is vandag oor ’n maand om vieruur die middag. Jou eksamen is dan al klaar, nie waar nie?”

“Ja, juffrou. Ons maak oor veertien dae klaar,” antwoord Salome oorstelp.

Juffrou Dunn glimlag trots. Dis ’n eer vir haar dat Madame Campagni bereid is om na ’n leerling van haar te luister.

“Wel, Salome? Jy gaan seker, nie waar nie?”

“O ja, juffrou! O, ek kan dit nie glo nie!”

Rosalie se oë skitter soos diamante toe Salome daardie middag vir haar die wonderlike nuus vertel. Dan knik sy. “Dis die begin, Salome. Ek wéét dit. Ek weet net dat Madame Campagni jou as leerling sal neem. Natuurlik moet jy vir die oudisie gaan.”

Weer is daar die praktiese sy. “Ek moet stad toe. Dis ’n treinkaartjie en alles. Dis weer ekstra geld wat waar vandaan moet kom?”

“Daar is nog ’n paar rand oor in my spaarrekening. Dit behoort genoeg te wees.”

Salome kry trane in haar oë. “O, Rosalie, jy laat my so sleg voel. Jy wil nou jou laaste paar sente ook vir my gee!”

“Ek doen dit met ’n oop hart, kindjie. Ek weet dis geld wat nie vermors sal word nie.”

Salome se stem is skor toe sy fluister: “Eendag … eendag, Rosalie, sal ek jou elke sent terugbetaal – met rente. Ek belowe dit!”

“Natuurlik sal jy. Eendag wanneer jy ’n beroemde sangeres is! O, ek wens ek kan met hierdie Madame Campagni kennis maak. Ek het gehoor sy is ’n baie besondere mens.”

“Maar hoekom gaan jy nie saam nie? Ag, toe, Rosalie! Dit sal wonderlik wees as jy saamkom. Ek is bang om alleen te gaan. Ek is bang ek verdwaal!”

“Moenie laf wees nie! Nee, jy moet alleen gaan. Jy moet leer om selfstandig te wees. Wanneer jy op die stasie aankom, kry professor Roux jou en hy sal sorg dat jy betyds is vir jou afspraak met Madame. Ná jou onderhoud neem hy jou direk terug na die stasie en jy haal die eerste trein terug.”

Toe sy enkele weke later op die stasie afskeid neem van Rosalie, is haar oë groot en bang, maar Rosalie glimlag opgewek. “Jy hoef nie bang te wees nie, Salome. Maak net jou oë toe en verbeel jou jy is by die rivier en dan sing jy soos jy altyd sing.”

Die volgende dag staan en kyk Salome die imposante woning met ontsag aan toe die professor haar aflaai.

Die antieke weelde vervul die Karoomeisie met verwondering en bewondering. Sy is onbewus daarvan dat sy goed beskou word, totdat ’n potsierlike figuur skielik uit die diepte van ’n groot Victoriaanse stoel opstaan en op haar afstap.

Die eienares van al hierdie weelde is ’n ewe verstommende verskynsel vir die jong meisie. Madame Campagni is in ’n lang rok geklee wat haar nog korter laat vertoon. Die hare wat rooi gekleur is, groei uit op die kopvel en lyk onversorg. Die gesig is swaar gegrimeer, met byna skokkende rooi lippe. Die vrou is van oorringe en halssnoere en armbande behang en Salome kan haar net verslae aangaap.

Een swartgekurfde wenkbrou trek omhoog. “Wel, wat het jy verwag?”

Die vraag kom krakerig uit en Salome se tong slaan teen haar verhemelte vas.

Die blou ogies onder die kunswimpers glinster. Sy lag skielik hartlik.

“Ek is seker jy doen dit doelbewus, Maria,” het ’n ou vriend eendag vies gesê en met opsetlike misnoeë na haar uiterlike voorkoms gekyk. “Jy geniet dit om mense te skok …”

Sy het net goedig gelag. “Mag wees, maar my juwele en my klere gee my groot plesier, dit verseker ek jou.”

Hy het haar afkeurend aangekyk. “Jy kan nie werklik ernstig wees nie. Jou spieël moet jou vertel hoe belaglik jy lyk.”

“Ek kyk al meer as tien jaar lank nooit in ’n spieël nie, Eric. Ek kyk nie na verlore glorie nie. Jy weet ek is ’n optimis.”

Nou sien sy weer die skok in die jong oë wat na haar kyk, en sy besef dat haar vriend Eric tog gelyk gehad het. Sy geniet dit! Die jong oë is ongelowig op haar gerig.

“Toe maar. Dis net die eerste keer! Die tweede keer weet jy darem al wat om te verwag en van die derde keer af raak jy dit gewoond,” sê sy gemoedelik.

“Ek … ekskuus, Madame?” vra sy versigtig.

’n Klein pofferhandjie wat lyk asof dit by die pols gaan knak van al die swaar ringe, swaai in die lug en dan gaan sit Madame weer. Die blou oë is nou skerp en deurdringend.

“Wat laat jou dink jy kan sing?”

Salome is eers stom. Dan lig sy haar kop op. “Ek wéét ek kan sing.”

Weer trek die strepieswenkbroue omhoog. “O? Baie seker van jou saak, nè? Jy is nog bloedjonk – wat weet jy?” Salome staan maar stil. Dan vervolg die krakerige stem. “Nou toe. Sing.” Salome kyk haar verward aan en die ou vroutjie met die vosrooi haartjies beduie weer ongeduldig met haar hand. “Ek sê sing. Dis wat jy hier kom maak het, nie waar nie? Sing dan.”

Salome aarsel onseker, kyk vlugtig na die vleuelklavier hier langs haar, kyk dan terug na die ou vroutjie wat haar stip aankyk. Die krakerige stem verbreek weer die stilte. “Sonder begeleiding. Ek weet hoe klink ’n klavier. Ek wil hoor hoe klink jý. Sing, kind.”

Salome trek haar asem in en skielik is Rosalie by haar, hoor sy haar sê: Maak jou oë toe en verbeel jou jy is by die rivier en sing soos jy altyd sing.

Toe die lied eindig, maak sy stadig, bang haar oë oop. Madame sit met toe oë, die vet handjies op haar maag gevou en dit lyk asof sy slaap. Maar sy slaap nie.

“Ek het nie gesê jy moet ophou nie. Jy sing tot ék sê jy moet ophou. Sing!”

Die een lied volg die ander op terwyl Madame Campagni oënskynlik aan die slaap in haar outydse stoel sit. Eindelik lig ’n handjie omhoog en Salome laat haar stem wegsterf. Die blou ogies gaan oop en as Salome hierdie groot dame van weleer goed genoeg geken het, sou sy die opgewondenheid en tevredenheid daarin gelees het. Maar al wat sy hoor is: “Jy weet nog niks nie, kind. Jy kan nie sing nie – maar jy sal kan sing wanneer Madame Campagni en die lewe met jou klaar is.” Die ringe glinster weer. “Gaan huis toe en kom oor twee maande terug.”

Só begin Salome se sangloopbaan. ’n Loopbaan wat mettertyd baie groot hoogtes sou bereik.

Toe sy twee maande later weer voor Madame Campagni staan, ontmoet sy ’n ander vrou. Haar vreemde uiterlike is nie meer so skokkend nie en Salome het nou te doen met die leermeester, die perfeksionis. Madame is net met die beste tevrede. Sy dryf jou soos ’n slawedrywer tot jy in trane uitbars van frustrasie en uitputting. Dan vra die krakerige stem, wat eens die mooiste tone voortgebring het, kortaf: “Wil jy sing? Ordentlik sing?” As jy dan knik, kom die bevel: “Wel, dan vee jy daardie trane af en staan op jou voete en jy sing soos ék vir jou sê!”

Daar is geen genade nie. Die onervare Salome weet nog nie dat Madame tiranniek optree teenoor húlle van wie sy die meeste verwag nie, en Salome is dié een onder haar uitgesoekte leerlinge wat die swaarste kry.

Behalwe vir die geweldige eise wat Madame stel, is dit die eerste keer dat Salome so ver van die huis af weg is en daardie eerste maande van haar lewe in die stad is vir die jong plaaskind ’n geweldige aanpassing. Sy leer wat eensaamheid beteken, want waar is ’n mens meer verstote as te midde van ’n onverskillige skare?

Baie dikwels kyk sy saans neer op die woelende menigte in die straat onder haar, die sterre bleek en dof, oorglans deur die helder ligte van die groot stad, en dan verlang sy so intens na die stilte van die Karoo en sy helder sterre dat sy wens dat sy iemand het om mee te praat, enigiemand. Sy besef in hierdie eensame ure ’n groot waarheid: hoe eenvoudig jou tuiste en jou mense ook al mag wees, dis joune en niks op hierdie aarde kan hul plek inneem nie. Arm en eenvoudig, maar daardie witgekalkte huisie met sy skoongeveegde werf is háár huis, haar tuiste en sy wens hoevele male met traangevulde oë om terug te wees daar. Sy verlang selfs na haar ma, want hier in die stad, hier in die eensaamheid, kry Bessie Truter se groot gestalte en haar growwe hande skielik ’n nuwe betekenis. Dit spel nou sekuriteit en veiligheid. Ja, noudat Salome weg is van die huis, besef sy eers dat sy nooit onveilig of bang gevoel het te midde van hul armoede nie.

Maar sy verlang veral na Rosalie, haar geestesmaat met wie sy alles kon deel. Haar briewe huis toe is lank, meestal opgeruimd, maar soms tog swartgallig, veral wanneer Madame die dag weer ekstra foutvinderig was. En gereeld kom Rosalie se briewe terug: bemoedigend en opbouend. Steeds bly sy, hoewel honderde kilometer ver, die dryfkrag.

Elke maand, klokslag, is Rosalie se tjek in die pos en dit is hierdie gereelde tjekkies wat Salome elke maand weer opnuut laat vasbyt. Sy kan, sy durf hierdie offervaardige vrou nooit teleurstel nie. Haar gevoel vir Rosalie groei tot ’n soort heilige dankbaarheid, iets wat byna aan aanbidding grens. Haar sang en haar skoonsuster is onafskeidbaar verbonde, ineengestrengel tot ’n geheel wat vir Salome die belangrikste faktor in haar lewe word.

So gaan drie jaar verby waarin Madame haar leerling stelselmatig vir roem voorberei, haar alles leer wat sý weet. Maar een ding ontbreek.

Op ’n dag kyk Madame haar leerling goedkeurend aan en glimlag. “Ek dink ons kan hier ophou. Kom sit hier langs my, kind.”

Salome gehoorsaam en kyk onseker op. “Is daar iets verkeerd, Madame?”

Die ou oë, swaar van grimering, kyk die jong meisie teer aan. Sy het lief geword vir hierdie dogter wat die afgelope jare ’n vuurproef deurstaan het sonder dat sy daarvan bewus was. Madame het haar een van die kosbaarste lesse van die lewe, maar veral van die vermaaklikheidswêreld geleer: Jy moet hare op jou tande hê. Jy moet kan vasbyt en deurbyt. Deursettingsvermoë is jou behoud. Maar Salome was ’n voortreflike leerling. Sy het haar leermeester nie teleurgestel nie. Nou het hulle die punt bereik waar Maria Campagni haar kwalik nog iets kan leer. Maar een ding ontbreek …

“Ja, kind. Daar skort iets. Wanneer raak jy dan verlief?”

Salome kyk haar verslae aan. In die verlede, hoevele kere, het Madame haar herhaaldelik verseker dat daar nie tyd is vir kêrels en verlief raak nie. Sy het ook gesórg dat daar nie tyd is nie. En nou vra sy so iets. “Madame …?”

Die ou dame lag en klap die een hand wat sy in hare geneem het, goedig. Hierdie kind is ’n leerling so na haar hart. Sy het haar hart en siel in haar opleiding gewerp. Daarbenewens het sy die regte persoonlikheid, bou en lengte om nie net ’n goeie sangeres te wees nie, maar om ook indruk op die verhoog te maak. Die ou dame glimlag skeef teenoor haarself: Sý het altyd ’n bietjie verspot op die verhoog gelyk. Sy het geen indrukwekkende persoonlikheid nie en haar té kort gestalte was maar altyd ’n probleem. Wanneer sy haar mond oopgemaak het, het die mense egter vergeet wat hulle sien en net geluister. Maar hierdie Salome-kind, die mense sal na haar kýk ook.

“Kind, jy sing pragtig en jy weet ek sê dit nie vir enigiemand nie. Maar jy sing … sonder siel. Jy sal nooit werklik sing soos wat ek weet jy kán sing voordat jy nie ook bemin het nie, my dogter – en voordat jy nie gely het omdat jy bemin nie.” Sy kyk na die jong meisie voor haar, sien dat die vrou in Salome nog sluimerend lê. “Ek het jou nou alles geleer wat ek kan. Al wat jy eintlik nou nog nodig het, is ’n man om jou in sy arms te neem en die betekenis van wat ek jou geleer het, te laat verstaan.”

Op daardie oomblik het Salome nie begryp wat die wyse ou dame bedoel nie. Maar ’n paar weke later sou sy presies weet waarvan sy gepraat het.

Dit is die eerste Kersfees wat sy alleen moet deurbring. Die vorige twee jaar het sy kon huis toe gaan, maar vanjaar is dit nie moontlik nie.

Die eensaamheid en verlange na haar eie mense dryf haar op Oukersaand na buite om met die ander eensames op die sypaadjie te meng. Eindelik gaan sit sy by ’n tafeltjie van ’n opelugkafee om na die bewegende mensdom te kyk, weer eens ’n intense verlatenheid in haar.

Toe staan hy meteens voor haar – ’n lang, maer man met ’n bleek gesig, en ewe bleek kuif. Dit is net die helderblou oë wat kleur aan sy gesig verleen.

“Mag ek hier sit, asseblief? Al die ander tafeltjies is beset.”

Sy knik instemmend en hy neem plaas. Saam sit hulle na die vrolike menigte voor hulle en kyk.

“Is jy alleen?” vra hy dan met ’n skuins blik van onder sy kuif.

“Ja, en jy?” sê sy spontaan.

Hy gee ’n skaam glimlag wat haar dadelik aan haar oorlede broer Karel laat dink. “Soos jy sien. Sal jy saam met my ’n koppie koffie drink?”

Daar oor die koffie leer hulle mekaar ken, vind hulle tot hulle vreugde uit dat hulle albei Karookinders is en dat albei vanaand deur verlange na daardie lieflike bossiewêreld straat toe gedryf is.

“My ou kamertjie se mure wou my vanaand vasdruk,” erken hy ruiterlik.

“En my woonstelletjie se mure wou mý vasdruk,” sê sy en kyk op, ver verby die wolkekrabbers om hulle na bo. “Die Karoo se sterre is so helder. Hulle voel so naby … asof ’n mens hulle kan nader trek.”

“Ja. En as jy Oukersaand op die Karoovlaktes is, kan jy die engele hoor sing,” voeg hy sag by.

Sy kyk na hom en instinktief weet sy dat haar Kersgeskenk vanjaar iets besonders is, dat sy op hierdie Oukersaand ’n sielsgenoot gevind het. Hulle sien nie meer die menigte om hulle nie, maar leer mekaar ken.

Sy naam is Flip Grimbeeck, ’n Karooseun wat maar met sy gesondheid sukkel vandat hy in die stad bly.

“Wat doen jy?”

Hy gee weer sy skaam laggie. “Ek skilder – altans, ek probeer.”

“Skilder? Werklik?”

“Ja, maar ek was tot dusver nog nie juis suksesvol nie. Dis … of ek deesdae nie kan koers kry nie.” Hy kyk apologeties na haar. “En jy? Wat doen jy in hierdie groot stad?”

Sy lag. “Ek sing – altans, ek probeer.”

Só kom die liefde op ’n vreemde manier en onverwags op hierdie Oukersaand na Salome. Dit begin soos ’n sagte, teer melodie wat algaande harder word en tot ’n jubelende klimaks opwerk. Toe sy middel Januarie weer Madame se musiekkamer binnestap, sien die ervare ou dame onmiddellik dat iets gebeur het, en toe Salome begin sing, is sy in ekstase.

“Jy is verlief! Dis die wonderlikste ding wat kon gebeur het! Nou sal jy wáárlik sing, my kind, want nou het jou hart wakker geword!”

En Salome síng en sy kom self die verskil agter, want nou sing sy met haar hart. Haar eerste liefde – wat ook haar groot liefde sou bly – het haar laat oopkelk soos ’n blom. Tog neem haar sang vir die eerste keer in haar lewe tweede plek in.

’n Jaar later roep sy eendag teenoor Madame Campagni uit: “Ek het hom lief, Madame! So verskriklik lief! Wat … wat moet ek doen?”

Madame glimlag. “Wat doen twee mense wat opreg liefhet? Hulle trou natuurlik!”

“Trou?” Die vreugde demp in haar oë. Dit word skielik baie stil in haar en sy hoor haar broer Jan se stem opklink; hoor die voorspelling wat hy daardie aand teenoor sy vrou gemaak het. “Flip sukkel nog om sy voete as skilder te vind en ek … ek is nog nie bo nie, Madame.”

“Bo?” Die ou dame glimlag weemoedig. “Waar is bo, kind? Bo het nie ’n plafon nie. Dit strek tot in die oneindigheid. My dogter, moenie dieselfde fout begaan as wat ek begaan het nie.” Salome kyk haar vraend aan en sy vervolg: “Ek wou ook eers bó kom en ek het die man wat ek met my hele hart bemin het, weggestuur. Hy moes wag. En toe ek uiteindelik bó genoeg was na my sin, toe moes ek vind dat hy nie so lank kon wag nie. ’n Mens is net een maal jonk, Salome. Jy sal altyd kan sing, maar miskien nie altyd kan liefhê nie. Bemin solank jy kan, solank daar tyd voor is. Die eensame, liefdelose jare kom vanself … en tog so gou.”

Daardie aand herhaal sy Madame se woorde teenoor Flip en die groenbruin oë pleit openlik en skaamteloos. Flip Grimbeeck besef opnuut hoe kinderlik hierdie meisie nog is, ondanks die roem wat sy al begin inoes het.

“Sy het reg, Flip. Niemand weet wat die toekoms inhou nie. Ons is net seker van vandag. Ons het mekaar nóú lief. Ons het mekaar nóú nodig. Hoekom sal ons wag?”

Hy skud sy kop, trek haar in sy arms in, hou haar styf teen hom vas, sluit sy oë en bid vir krag, want dis so maklik om ja te sê, om saam te stem. Hy het in sy wildste drome nooit kon droom dat hy die liefde van ’n meisie soos Salome syne sal kan noem nie.

“My bokkie, ons het al so baie hieroor geredeneer. Ek het jou mos al gesê …” Hy sug, hou haar ’n entjie van hom af weg, die blou oë teer, die mond egter vasberade. “Ek is ’n sukkelende skildertjie wat kwalik my eie gees en liggaam aanmekaar kan hou. Jy is ’n opkomende ster. Jy gaan dit nog ver bring.”

“Maar, Flip …”

“Dis nie maar nie, liefling. Dis feite wat ons in die oë moet kyk. Ek gaan ’n meulsteen om jou nek wees.”

“As jy dit wéér sê …” Die groenbruin oë is seergemaak.

Maar hy staan sy man. “Dis nodig dat ek dit weer sê en ek sal dit bly sê. Ek kan nie ’n vrou onderhou nie, Salome. Ek kan myself skaars onderhou. Jy weet dit.”

“Maar ek verdien al genoeg vir ons albei. Eendag, wanneer jy ’n beroemde skilder is, sal ek agteroorsit en ons kinders grootmaak. Dan kan jy weer sorg. Maar nou … O, Flip, dis net jou trots wat in die pad van ons geluk staan!”

“Wil jy dan ’n man sonder trots hê?” vra hy stil. “Dis dan al wat ek het – net my trots. As jy dit van my wegneem, is daar werklik niks oor nie.”

Sy bars in trane uit. “Ek kan jou maklik haat as jy jouself so verkleineer. Jy het meer, véél meer as die meeste ander mans. Jy het ’n wonderlike talent. Tinus-hulle sê as jy net die regte kans kan kry, gaan jy ’n groot deurbraak maak.”

“Tinus is ’n lojale vriend soos wat jy ’n lojale meisie is, my liefste. Ons het mekaar lief, Salome – maar dis nie te sê dat ons by mekaar pas nie.”

Hy weet hy maak haar seer; hy weet hy sê nou dinge wat sy nie heeltemal begryp nie, maar hy weet ook hy móét dit sê. Hy is ouer as sy en hy weet sy het lief soos alleen ’n vrou kan liefhê – met hart en siel.

“En wat van Rosalie?”

Sy kyk vinnig op. “Rosalie?”

“Ja. Jy weet wat ek bedoel. Wat van haar? En wat van jou broer Jan? Onthou jy nie wat hy gesê het nie?”

Sy kyk weg. “Ek is spyt ek het jou ooit daarvan vertel.”

“Ek is bly jy het. Iemand moet jou aan hulle herinner. Wat van hulle?”

Sy is op die verdediging. “Wat van hulle? Ek gaan mos nie ophou met sing nie.”

Hy kyk haar vas aan. “Salome, jou sang het reeds begin skade ly. Erken dit nou maar. Jy bestee die afgelope weke meer tyd aan my as aan jou sang. Jou sang is nie meer eerste nie. Jy stel nie meer sulke hoë eise aan jouself soos aan die begin nie.”

Sy aarsel, kyk hom dan ook reguit aan. “Nee, dis waar. Maar ek is vrou, dán sangeres. Ek wil baie eerder jou vrou wees as ’n beroemde sangeres.”

“Salome, jy … jy weet nie wat jy sê nie!”

“Ja, ek weet!” Sy kyk hom byna koorsagtig aan. “Goed. Ek erken ek het ’n plig teenoor my talent en almal wat my gehelp het om te kom waar ek vandag is. Maar ek het ook ’n plig teenoor myself, het ek nie? Daar is nie net ’n stem binne-in my nie, Flip! Daar is ook ’n vrou hier binnekant! Wat van háár? Het sy nie ook ’n reg nie?”

Hy kyk haar verslae aan. Wat moet hy daarop antwoord? Want sy het reg. Sy is nie net stem nie. Sy is ook vrou. “Bokkie …”

“Nee, Flip. Ons moet mekaar vandag goed verstaan. Een ding sê ek vir jou: as jy my gaan verstoot, dan is my sang ook verby. Ek het baie dinge opgeoffer vir my sang, maar een ding sal ek nie opoffer nie en dit is jy. Ek gaan jou nie op die altaar van my kuns lê nie. Met jou, weet ek, sal ek die hoogste hoogtes bereik. Sonder jou wil ek niks bereik nie.”

Hy kyk weg, sy bleek gelaat bleker as gewoonlik, die blou oë vlammend in die wit gesig. “Jy lê ’n geweldige verantwoordelikheid op my, Salome.”

“Die verantwoordelikheid van ons liefde, ja.”

Hy begin kug, hoes later totdat hy uitasem is en sy kyk hom bekommerd aan, sê dan stil: “Dis een van die redes hoekom ek wil hê ons moet dadelik trou – sodat jy ’n sorg kan hê. Jy eet nie reg nie en jy sorg nie dat jy altyd warm genoeg aangetrek is nie. O, Flip, my liefste, ek wil so graag na jou kyk, jou vertroetel en versorg en liefhê! Jy is siek …”

“Ek is nie siek nie!” sy stem klink amper bars en sy kyk hom ondersoekend aan. Flip is liggeraak oor sy gesondheid. As sy net na daardie lastige kuggie verwys, is hy onmiddellik kwaad. Sy té maer liggaam vertel haar egter dat haar geliefde nie gesond is nie en die onrus in haar neem toe. Flip bly in ’n koue kamertjie en maak kastig vir homself kos, maar sy weet dat daar baie dae omgaan dat daar selfs gebrek is. Maar hy is koppig én trots, hierdie man wat sy so liefhet.

Hulle redeneer nog baie in die komende maande – totdat Flip uiteindelik teen sy beterwete ingee. Salome, met haar sterk persoonlikheid, haar vasberadenheid en haar oorweldigende liefde, wen die stryd.

“Julle trou hier uit my huis, uit hierdie vertrek,” besluit Madame opgewonde toe Salome haar kom vertel dat Flip eindelik ja gesê het!

So gebeur dit dan ook. Salome en Flip trou in Madame se musiekkamer. Gedurende die seremonie sit Madame kliphard en huil van vreugde! Salome kyk na die bleek, gespanne gelaat langs haar en haar hart wil in haar oopbars van liefde. Hy lyk siek, flits dit weer deur haar. Maar van nou af sal sý na hom kyk.

Langs haar staan Flip Grimbeeck en die liefde in haar oë maak hom bang. Hy sluit syne ’n oomblik en dink byna koorsig: ek weet dis nie reg nie. Ek weet ek behoort nie met haar te trou nie, maar ek het haar lief, so oneindig lief!

Flip raak die naweek ná hul troue baie siek en die dokter se bevinding is dat hy dubbele longontsteking het. Salome kanselleer al haar afsprake. Daar is nie nou tyd om aan iets anders te dink nie. Flip is siek, baie siek. Dis al waaraan sy kan dink. Noudat hy uiteindelik haar man is, staan hy op die rand van die graf.

Sy weier dat hy hospitaal toe gaan. Sy versorg hom self dag en nag. Weke van spanning en kommer volg, weke waarin dit wil voorkom asof die ster wat so skielik op die toneel verskyn het, weer net so onverwags verdwyn het. Hul troue is geheim gehou en daar is sorg gedra dat die pers nie daarvan te hore kom nie omdat Salome die nuus eers self aan haar mense wil gaan vertel voordat dit algemeen bekend gemaak word. Die nuwe vonds, Salome, is skielik net nie meer beskikbaar vir optredes nie en die mense bespiegel oor die oorsaak.

Toe sy die einde van die maand weer Rosalie se tjek ontvang, voel Salome verskriklik skuldig. Sy het gedink dat sy haar skoonsuster hierdie maand sou kon verras deur haar tjek vir haar terug te stuur met die nuus dat sy nou selfonderhoudend is. Maar met Flip se siekte, en die afsprake wat gekanselleer moes word, het sy geld nou dringend nodig.

Flip word baie stadig beter en Salome vergeet al die hoë ideale wat sy en Rosalie saam gedroom het daar by die ou wilgerboom langs die rivier. In haar lewe is daar nou net plek vir Flip. Sy bemin hom met totale oorgawe en haar liefde vir hom lê soos ’n fisieke pyn in haar. As Madame in hierdie weke bekommerd is, is sy die enigste bekommerde mens. Vir Salome is die hemel oop.

Toe sy weke later weer in Madame se musiekkamer verskyn, is die ou dame se ontvangs koel.

“Ek het aanvaar jy sal nie weer kom nie.”

Salome lyk skuldig. “Dit spyt my, Madame, maar Flip was baie ernstig siek. Hy is darem nou weer beter.”

Madame se oë is peinsend. “Dis jammer. Dis baie jammer dat dit juis nóú gebeur het. Dis ook jammer dat jy al jou afsprake gekanselleer het.”

“Ek kon nie ander nie, Madame. Ek kon Flip nie alleen laat nie. Ek sal ook nie gou weer afsprake kan maak nie, want hy is nog glad nie gesond nie. Ek is baie bekommerd oor hom. Daar is iets verkeerd. Hy neem te lank om te herstel.”

Madame praat nie verder nie, maar stap na haar vleuel-klavier en neem stelling in. “Goed. Ons begin waar ons laas opgehou het.” Maar ná ’n halfuur gee sy die stryd gewonne. “Salome, jou aandag is nie hier nie.”

Salome is byna in trane. “Madame, ek is jammer, maar …”

“Maar jou gedagtes is by jou siek man.” Sy sug en staan op. “Ons sal niks uitgevoer kry nie. Gaan terug na jou man en kyk dat hy gesond word en kom dan weer terug.”

Salome se oë is dankbaar. “Dankie, Madame. U verstaan mos?”

Die ou dame knik. “Ja, kind. Ek verstaan.” Toe sy uit is, kyk die ou vrou haar deur die venster agterna en daar is onrus en hartseer in haar. Gewoonlik laat liefde die kuns tot volle bloei kom … maar dit kan die kuns ook doodmaak.

In die weke wat volg, sterk Flip egter so aan dat hy weer op die been is, hoewel hy nie ontslae kan raak van die bekende ou kuggie nie. Salome probeer telkens om die regte woorde op papier te sit om haar mense te laat weet van haar troue. Elke keer beland die brief maar weer in die snippermandjie – briewe wat platgestryk word en peinsend gelees word wanneer sy inkopies gaan doen.

Salome konsentreer so op haar man se daaglikse behoeftes dat sy nie dadelik agterkom dat Flip al hoe stiller word nie, dat hy baie dikwels verby haar na iets onsigbaars kyk nie.

Ena Murray Omnibus 22

Подняться наверх