Читать книгу Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray - Страница 9

6

Оглавление

Hulle sit om die kombuistafel toe sy binnestap, koffer in die hand. Daar heers ’n verbaasde stilte.

Dis Rosalie wat eerste opspring. “Salome!” Die twee vroue omhels mekaar, dan staan Rosalie terug. “Hoekom het jy nie laat weet jy kom nie, jou skelm! O, Jan, is dit nie ’n heerlike verrassing nie!”

Jan staan ook op. Hoewel hy en sy suster die afgelope jare weggegroei het van mekaar, bly hy lief vir haar en dis goed om haar weer te sien. “Hallo, sus. Baie welkom.” Sy stem verraai sy blydskap.

“Dankie, Jan.” Salome kyk na haar ma. “Middag, Ma.”

“Ja, middag, Salome.” Sy kry ’n klapsoen. “Waar val jy uit?” Ook Bessie Truter is bly om haar dogter te sien, dit kan Salome dadelik agterkom.

Salome sit haar koffer op die kombuisvloer neer, merk dat alles nog net so witgeskrop is soos sy dit onthou. “Ek het net vir die naweek kom oë wys, Ma. Ek moet môreaand weer terug.”

“So gou?” kla Rosalie teleurgesteld, maar lag dan dadelik weer. “O, wel, dis beter as niks! Kom sit en kom eet saam. Ek gaan haal ’n bord.” Haar oë is skielik skerp. “Jy is so maer soos ’n kraai. Hoekom het jy so maer geword?” Sy wag nie op ’n antwoord nie. “Jy moenie so hard werk nie, Salome. Dis nie nodig dat jy jou gesondheid moet benadeel nie.”

Salome se oë sak skuldig en sy antwoord ontwykend: “Dis nou die mode om maer te wees.”

“Ag, nee! Nie só maer nie! Hier is jou bord. Ek skep vir jou genoeg in. Jan, gee aan die vleis.”

Salome weet nie hoe sy die bord kos gaan inkry nie. Daar is ’n knop in haar keel en ’n ysterklip waar haar maag moet wees. Hoe dierbaar is Rosalie nie. Hoe gaan sy dit regkry om hulle te vertel?

“Hoe smaak ’n stukkie Karoovleis ná so ’n lang tyd?”

Sy kyk haar broer aan, dwing ’n glimlag na haar lippe. “Vorentoe! Ai, daar kom darem niks by Karoovleis nie.” Haar oë versag. “Dankie, Jan, vir die biltong en droëwors wat jy so getrou gestuur het.”

Hy lyk verleë. Dis al wat hy gehad het om te stuur. Geld het hy nie. “Ag, dit was niks. Jy kan nou weer ’n klompie saamvat.”

“Ek het vanoggend ’n baksel beskuit geknie. Onthou dat ek vir jou in ’n blik sit,” sê Bessie ook gul.

Emosie wil Salome oorweldig. Tot Ma is so gaaf! Sy kyk weg, betrap Rosalie se ondersoekende blik op haar, probeer weer glimlag, maar slaag nie regtig nie. Sy weet ook dat Rosalie dit sien en wonder.

“Was jy siek, Salome?”

Die reguit vraag laat Salome skrik, duidelik ongemaklik lyk. “Nee, hoekom?” Sy lag senuweeagtig. “Lyk ek só vreeslik?”

“Nee, net nie gesond nie. Jy lyk of jy uit ’n siekbed opgestaan het. Ek het weke laas ’n brief van jou gehad.”

Weer laat Salome haar oë skuldig sak. As Rosalie maar weet hoeveel briewe sy die afgelope tyd geskryf en nooit gepos het nie. “Nee, ek … was net baie … besig.” Sy skuif haar bord weg, lyk verleë. “Julle moet my verskoon. Ek kan nie meer so ’n groot bord boerekos opeet nie. Maar dit was baie lekker, dankie.”

Rosalie se blik rus vlugtig op die kos waaraan skaars geëet is en dan begin sy sonder ’n woord afdek.

Salome staan ook op. “Ek sal help was.”

“Laat ons net eers dank.” Soos voorheen word die hande uitgehou en Salome lê hare in dié van Jan en haar ma, en sy rustige stem gaan voort: “Dankie Vader, vir wat ons kon eet. Maak ons opreg dankbaar daarvoor. Amen.”

Rosalie haal ’n voorskoot van die haak agter die kombuisdeur af. “Jy is te deftig aangetrek vir skottelgoed was. Hier, sit dit aan.”

Terwyl hulle besig is, probeer Salome hard om ’n gesprek aan die gang te hou, vra uit oor die plaas, die toestand van die veld en die vee, of hier nog hanslammers is, watter nuus die dorp het … maar al die tyd laai die spanning op, word die gesprek al traer.

Later is hulle heeltemal stil. Salome hang met senuweeagtige vingers die vadoek terug aan sy hakie, draai haar om en sien drie pare oë onseker, afwagtend op haar gerig.

“Nou ja, julle moet my verskoon. Ek wil nog na die dragtige ooie in die onderste kamp gaan kyk,” sê Jan uiteindelik en staan op.

Bessie Truter staan ook op. “Ja. Ek is aan’t seep kook buite.”

Salome sluk, wil hulle keer. Sy moet hulle nou vertel terwyl sy nog die moed het. Met elke verbygaande minuut word haar moed minder. Maar hulle is reeds by die deur uit en dis net Rosalie wat agterbly … Rosalie met die stil, vraende blou oë.

Wat is verkeerd, Salome? vra die blou oë. Maar die vraag word nie hardop gestel nie. Die ou vrymoedigheid is skielik nie meer daar nie. Want Salome het ’n volwasse vrou geword. Sy is nie meer die jong matriekdogter wat drie jaar gelede hier weg is nie. Sy is selfs nie eens meer ’n jong meisie nie, besef Rosalie terwyl sy na haar kyk. Salome het ’n vrou geword … ’n byna vreemde vrou na wie sy moet tas vir ’n aanknopingspunt; met wie sy nie meer spontaan kan gesels nie.

Sy vertel haarself dat sy verspot is. Dis nog dieselfde Salome, dieselfde kind wat daardie eerste dag so diep in haar hart gekruip en wat met die jare ’n eie dogter geword het. Dis nog dieselfde Salome met wie sy saam lugkastele gebou het, vir wie sy aangespoor het, gewerk het, opgeoffer het … Sy is nog êrens onder die vreemde uiterlike. Wat het sy dan ook anders verwag? Natuurlik sou Salome verander. Die wêreld waarin sy nou beweeg, die soort lewe waaraan sy nou ’n aandeel het, sal noodwendig sy stempel op haar afdruk. Maar in wese is dit nog die ou Salome. Sy glo dit. Sy wéét dit.

Salome glimlag, ’n onpeilbare weemoed in haar. “Ek kan skaars glo dat ek werklik hier is.” Haar blik dwaal deur die bekende vertrek, sien die bekende dinge raak – en tog is dit vreemd asof sy dit nie meer onthou nie.

Dis ’n lang namiddag. Die twee skoonsusters gesels oor alles, gryp na enigiets om oor te praat, maar oor Salome se sang word daar niks gesê nie. Salome praat nie self daaroor nie en, vreemd genoeg, Rosalie vra nie uit nie. Daar is ’n verligting in albei toe dit tyd is om die hanslammers te gaan kos gee.

“Ek sal kom help.”

Maar Rosalie skud haar kop. “Nee. Jy gaan jou net besmeer.”

“Goed. Dan stap ek ’n bietjie af rivier toe.” Salome begin ook sommer dadelik aanstap, stuur doelbewus na die omgevalle ou wilger. Haar skoonsuster se oë volg haar totdat sy verdwyn.

Daardie aand, ná aandete, toe die witgeskropte kombuistafel kaal tussen hulle staan, weet Salome die uur het aangebreek. Dis weer stil – asof almal wag op iets.

“Ek … ek het eintlik hierdie naweek met ’n spesifieke doel hierheen gekom.”

Dis steeds stil. Vlugtig vang haar oë dié van haar broer; dan laat sak Jan sy blik, sy gesig onleesbaar. Bessie Truter kyk haar dogter reguit aan, maar op ’n wyse wat sê dat sy luister, maar nie juis belang stel nie. Rosalie sit en kyk haar net met stil-blou oë aan.

“Ek is ’n paar maande gelede getroud.”

Drie paar oë staar haar aan. “Ek wou julle laat weet, maar … maar dit het so vinnig gebeur en toe word Flip baie ernstig siek. Dit was pas ná ons troue en …” Sy kyk pleitend van die een na die ander. “Toe het ek besluit ek sal liewer self hierheen kom en julle kom vertel.” Haar stem sterf weg, want sy sien geen begrip in die drie paar oë wat na haar kyk nie. “Hy … Flip Grimbeeck is sy naam … hy skilder.”

Bessie Truter toon die eerste teken van belangstelling. “Jy bedoel hy teken prentjies?”

“Ja, Ma.” Haar mond trek wrang. “Hy teken prentjies – of probeer, altans.” Moedig kyk sy op, ontmoet Rosalie se blik. “Hy was tot dusver nie baie suksesvol nie. Hy het talent. So sê almal, maar … hy kry nie in die stad geskilder nie. Hy moet wegkom daar. Hy is ook ’n Karookind en hy wil hierheen terugkeer. Hy sê hy sal hier kan skilder. Die stad versmoor hom. Hy móét daar weg.” ’n Stram stilte volg en Salome wend haar desperaat tot haar broer en sy vrou. “Verstaan julle? Flip is my man. Ek het hom lief! Ek moet saam met hom gaan. Ek is sy vrou. My plek is by hom. Julle … julle moet dit tog kan verstaan?”

Jan kom half orent, steun met sy kneukels op die tafel. “Wat presies wil jy vir ons sê, Salome?” Toe sy net na hom kyk, val sy stem hard tussen hulle neer. “Dat jou singery op ’n end is? Dat jy saam met jou skilder in die Karoo gaan kom sit en dat jou sangloopbaan verby is?”

“Jan …” probeer Salome wal gooi.

“Is dit dít wat jy ons kom vertel het, Salome? Is dit?”

“Ja.”

Toe lag Bessie Truter – hard en smalend. Sy lag dat die trane oor haar wange loop – en die ander drie kan net na haar sit en kyk. Dan verander die geluid, word rou, rukkerig. Lamgeslaan sien hulle hoe die gesig vertrek, lelik word. Twee groot, ruwe hande word oor die vertrekte gelaatstrekke gedruk en die trane, opregte trane, tap teen die bewende ken af. Bessie Truter verdwyn by die middeldeur in en dit word weer baie stil in die klein kombuisie.

’n Lang oomblik vang broer en suster mekaar se oë vas. Hy praat nie. Maar sy oë … hierdie stil broer van haar kyk met hatige oë na haar. Dan, sonder ’n woord, asof hy permanent van sy spraak beroof is, staan hy op en stap in die Karoonag uit … en die kombuisdeur klap hard agter hom toe.

Dan is dit net hulle twee – sy en Rosalie.

Verstar sit en kyk Salome hoe ’n mens voor haar oë stadig sterf. Sy sien hoe die lig stadig wegsypel en die blou oë dof word, uitdrukkingloos. Dis of sy kan sien hoe alles binne-in die vrou hier voor haar wankel, dan stadig begin wegkrummel … totdat daar niks meer oor is nie. Dis of Rosalie op hierdie oomblik selfs fisiek kleiner word, inkrimp, wegkwyn – asof alle lewensbloed uit haar wegdreineer.

“Rosalie … Rosalie! Asseblief!” Dit voel vir haar asof sy die woord uitgil, maar dis net haar lippe wat beweeg: klankloos, smekend.

Rosalie staar na daardie mond, na daardie lippe. Sy het vir hulle gelewe, gewerk, opgeoffer. Niks was te veel of te groot vir haar nie … solank daardie lippe net kon sing. Haar offer aan hierdie vrou se sang was vir haar ’n dure, heilige plig … ’n plig wat sy elke dag, mooiweer of reën, storm of sonskyn, getrou nagekom het. En nou is dit verby … Jan het dit voorspel. Jan het haar gewaarsku. En nou het dit gebeur. Daar is niks meer oor nie.

Sy kyk vas in die groenbruin oë wat so smeek, so pleit om begrip, maar sy is stom. Sy het niks te sê nie.

“Rosalie, jy is ook ’n vrou. Jy het ook ’n man lief. Ek het gedink jý sal verstaan, begryp dat ek … nie anders kan nie.” Haar stem is skor van emosie. “Hy is my man. Ek het hom lief! Verstaan jy dan nie? Sonder hom is my lewe, ook my sang, vir my niks werd nie. Verwag jy werklik dat ek die man wat ek so oneindig liefhet, moet prysgee?”

Eindelik beweeg die bleek lippe. “Nee. Ek verwag dit nie. Ek … verstaan.”

Salome reik huiwerend uit oor die blad, soek na daardie hand wat haar deur soveel jare so getrou gelei het. “Rosalie … Werklik? Verstaan jy werklik?”

Rosalie trek haar hand stadig terug, sê stil: “Ek verstaan, Salome.”

“En jy is nie vir my kwaad nie? Is jy, Rosalie? Jy verstaan en is nie kwaad nie?”

“Nee. Ek is nie kwaad nie.” Die stram lippe probeer glimlag. “Ek hoop julle sal … baie gelukkig wees.”

“Dankie.” Dit voel vir haar sy kan op haar knieë voor hierdie vrou neersak, maar al wat sy kan doen, is om deur traannat oë na haar te kyk. “Dankie, Rosalie.”

Dan staan sy op en stap by die agterdeur uit waardeur haar broer enkele minute gelede die nag in verdwyn het. Ook sý moet uit … na daar waar die sterre so helder en so naby is. Sy stap met haar oë op die swart Karoohemel bokant haar gerig, die trane blink op haar wange.

Dis na hierdie sterre en na hierdie hemel waarna haar man verlang; waarsonder hy nie langer kan klaarkom nie. Sy lig haar kop op en soek deur die sterre heen.

God, het U gesien? Ek het haar vermoor! Ek het hulle al drie vermoor! Het U gesien – die haat in my broer se oë? Die ontnugtering en veragting? En Ma het gehuil! Ma, van alle mense, het soos ’n kind gehuil! Oor my! Vir die eerste keer in my lewe het ek Bessie Truter sien huil – en dit oor my! En Rosalie … Sy het ’n sieledood gesterf! Het U gesien hoe sy sterf – stadig, en sonder ophef? En dis ek … ek … ék.

Toe Salome eindelik weer in die kombuis staan, is die huis stil. Net Jan sit nog langs die kombuistafel, die flikkerlig van die paraffienlamp skaduspelend oor sy gesig. Hy lyk skielik so oud. Arme Jan! Een van die getroue slawe van die lewe – en nooit sien hy waarvoor hy werk nie. Hy hou net kop bo water. Arme Jan, wie se rug al wil breek van vooroor werk; wie se skouers hang van afgeremde moedeloosheid.

Sy neem ook weer langs die tafel plaas, vou ook haar hande op die tafelblad soos syne. Sy merk dat sy een duimnael blou is, dat dik knoppe en harde eelte op sy hande gevorm het – twee hande wat stille getuies is van ’n lewe van harde werk, van ’n man wat kan werk, móét werk.

“Jan …” Hy weier om na haar te kyk, bly net op die tafelblad voor hom staar. “Haat jy my nou, ouboet?”

Sy het begin dink hy gaan haar nie antwoord nie, toe die antwoord kom: “Ek haat nie.”

Sy swyg eers. Nee, Jan sal nie haat nie. Dis teen sy geloof. Jy mag nie haat nie. Jan se geloof is so eenvoudig soos die aarde waarin hy werk. Maar wat voel hy? Wát?

“Maar jy is kwaad vir my?” sê sy, haar oë hartseer op die groewe langs sy mond. Hy skud net sy kop heen en weer en sy lê ’n bewende hand oor die gevoudes voor haar. “Sê vir my wat jy voel! Raas met my! Sê my sleg as jy wil, maar sê net iets! Praat met my!”

“Daar is niks te sê nie.”

Sy trek haar hand terug, skud haar kop in radelose hartseer. Hy het ook gesterf. Daar is geen moed in hom oor nie, nie eens meer genoeg lewe om haar sleg te sê nie! Dan raak sy ook stil … stom. Daar is niks meer om te sê nie.

Hoe lank hulle so gesit het, weet sy nie. Dan begin hy skielik praat, sy stem soos dié van ’n ou man.

“Jy was vir haar meer as wat ek was. Jy was haar jeug, haar drome, al die ideale wat sy self nie kon bereik nie. Jy was haar gedagtes, haar lewe. Jy was haar kind – die kind wat sy nooit self kon baar nie. Jy was haar alles. Die begin in die môre … en die laaste voordat sy gaan slaap. Sy het vir jou gewerk, elke dag vir jou opgeoffer. Sy het elke dag vir jou vier kilometer gestap van die poskantoor af huis toe. Soms het die son geskyn; soms het dit gebrand, stilgestaan op die aarde. Soms het dit gemisreën; soms gestort. Soms was daar ysterhael; wou die wind en stofstorms haar van haar voete waai. Soms het die aarde wit gelê van die kapok, het die yswind opgekom en alles kliphard versteen. Soms was sy siek … soos laas winter. Sy was baie siek … kwaai griep … maar sy het gestap, jaarin, jaaruit. Vir jou. Die einde van elke maand het sy haar tjek gevat en net so vir jou gepos, nooit ’n sent teruggehou nie … nie ’n sent nie. Sy het met deurgetrapte skoene en gelapte onderklere geloop … maar nie ’n sent van daardie tjek het sy ooit vir haarself gebruik nie. Dit was joune … net joune. Dit was nie vir haar ’n opoffering nie. Dit was veel meer as dit. Dit was ’n offer wat sy gebring het … blymoedig, en met ’n oop, eerlike hart.”

Salome sit versteen terwyl sy luister. Die trane het droog geword op haar wange, want daar is dinge in hierdie lewe, hoër dinge, waar trane tekortskiet. Al wat sy kan doen, is om met droë oë te luister en te weet dat sy klein en onwaardig gestroop staan, sonder enige verweer … dat sy geweeg en te lig bevind is.

Jan kyk stadig op en dit lyk of sy oë versplinter is van smart – smart vir sy vrou. “Ek kan nie vannag gaan slaap nie, Salome. Ek het nie die moed om by daardie kamer in te stap en in haar oë te kyk nie, te sien hoe sy ly nie.”

“Jan! O, my arme boetie!”

Hulle hou mekaar vas, hoewel albei weet dat hulle te swak is om mekaar te red. Dan praat hy weer skor hier teen haar voorkop waar sy op haar knieë voor hom staan en hy haar styf teen sy bors vasdruk. “En Ma … Ma was so trots op haar dogter.”

Sy kyk stadig na hom op, ongeloof in haar oë. “Ma …?”

“Ja. Dis sy wat gesê het die beeste moet geslag word sodat ons vir jou biltong en droëwors kan stuur. Sy het ook háár offers gebring, Salome – hoe eenvoudig dit ook al in ander se oë mag wees.”

Salome staar haar broer aan. ’n Stukkie biltong. ’n Stukkie droëwors. Wat is dit nou? Maar die beeste was Bessie Truter se trots. Elkeen is van kalwerdae af deur daardie twee groot hande versorg. Bessie Truter se koeie was nog nooit te koop nie. Geen geld kon hulle koop nie. Maar sy het van hulle geslag – want Salome moes wors en biltong kry.

“En vandag, Salome, het ek haar vir die eerste keer in my lewe sien huil. Ek het nie geweet Ma kán huil nie.” Hy stoot haar weg, staan op, kyk op haar af. “Sy het nie by Pa se graf gehuil nie. Van ons drie kinders was sy die liefste vir Karel, maar sy het ook nie by sý graf gehuil nie. Maar vandag …”

Hy wil weer by die agterdeur uit verdwyn, toe sy opspring en hom terugroep. “Jan!”

“Ja?”

“Sal jy my asseblief stasie toe neem – nou?”

“Nou?”

“Ja. Daar is om middernag ’n trein terug.”

“Terug?”

“Ja.”

Hy kyk vraend na haar. “Wat bedoel jy?” Sy skud haar kop, en hy kom nader. “Sus …?”

“Asseblief, Jan. Moenie dat ons verder praat nie. Daar is genoeg gesê. Alles is gesê. Neem my net stasie toe, asseblief.”

Hy kyk haar fronsend aan. “Ma en Rosalie lê al …”

“Ek weet. Ek sal hulle nie nou steur nie. Jy moet maar vir hulle baie groete sê.” Haar oë soek na haar koffer waar dit nog onuitgepak in die hoek staan. “Hier is my koffer. Ons kan sommer dadelik ry.”

Hy lyk onwillig. “Ek verstaan nie, Salome …”

Sy glimlag dapper deur haar trane. “Moenie probeer nie … nie nou al nie. Begrip kom met die tyd. Ek het ook eers nie verstaan nie. Nóú verstaan ek.” Sy stap na haar koffer, tel dit op, draai terug. “’n Mens moet ook nie alles verstaan nie … liewer nie … Kom ons ry.”

Flip kyk verbaas op toe sy die woonstel binnestap. Sy sit die koffer neer en kyk op – en sy gesig verstil.

Hulle groet nie. Die oomblik is te groot vir fisieke kontak.

Sy neem plaas op ’n stoel. “Hulle verstaan nie.” Sy sluk. “Jan het my aangekyk asof … asof hy my haat. Hy sê hy haat my nie, maar Jan het nog nooit gehaat nie. Ek dink nie hy besef dat hy my haat nie.”

Toe sy lank stilbly, vra hy gedemp, bleker as gewoonlik: “En … Rosalie?”

“Sy het net daar gesit … asof sy besig was om stadig te sterf. Later het sy my verseker sy verstaan, het selfs gesê dat sy hoop ons sal baie gelukkig wees, maar …” Skielik is daar trane in Salome se oë. “Jy moes haar gesien het, Flip. Sy het net daar gesit – dood, haar oë leeg … asof alle sin en doel in haar lewe gesterf het. Ek het soos ’n moordenaar gevoel.”

Sy staan op, begin rusteloos deur die vertrek dwaal terwyl haar man se blik haar volg. “Jan het my vertel hoe sy elke dag die afgelope jare daardie ent pad van die dorp af plaas toe gestap het, deur wind en reën en koue, kapok en hael en moordende son, met deurgetrapte skoene en gelapte onderklere.” Sy byt haar onderlip hard vas. “En nie ’n enkele sent van haar salaris het sy vir haarself gehou nie. Nog tot verlede maand, nou die dag, het haar tjek getrou hier aangekom … om mý ideale te verwenslik, sodat ék kan sing. Ek het daardie geld die afgelope maande gebruik om … om vir ons kos te koop.”

Daar kom ’n pyntrek oor sy gesig. Sy stem is laag. “Jy … jy het my nie vertel nie.”

“Nee. Ek het nie. Ek het geweet jy sou nie daarvan hou nie, te trots wees.” Sy sien sy oë en kyk hom peinsend aan. “Flip, moenie kwaad wees nie!”

Hy draai sy kop weg, buk effens vooroor en kreun asof hy werklik in fisieke pyn verkeer. “Liewe Vader in die hemel! Jy stroop my van my laaste bietjie trots en jy sê ek moet nie kwaad wees nie!” Sy oë is soos twee blou vlamme. “Toe jy my omgepraat het dat ons moet trou, toe het jy gesê dat jý vir ons sal kan sorg. Dit was al vir my erg genoeg om deur my vrou onderhou te word. Maar nou moet ek hoor die kos wat ek die afgelope tyd geëet het, het my skóónsuster vir my betaal – ’n vrou wat ek nog nooit eens ontmoet het nie, wat nie eens van my bestaan geweet het nie!”

“Maar sy verstaan …”

“Het sy verstaan, Salome? Dat die geld wat sy so swaar verdien het na jou armsalige man se maag toe gegaan het?”

“Flip, asseblief! Sy sal nie omgee nie. Ek ken Rosalie!”

“Jy ken Rosalie! Jy dínk jy ken haar! Want soos jy dink sy is, so móét sy wees – ’n soort heilige, ’n soort aardse engel wat nie van vlees en bloed is nie! As ek daardie vrou is …” Sy stem laat hom in die steek en hy stoot sy maer vingers woedend deur sy blonde hare. “Ek is arm. Ek was my hele lewe lank arm. Maar ek was ook nog nooit by ’n ander mens in die skuld nie. Ek het nog nooit gebedel nie; om aalmoese gevra nie. En vandag moet ek hoor ek is diep in die skuld by ’n vreemde vrou, vir my kos, vir my bestaan!”

“Flip! Jy ruk dit uit verband uit!”

“Nee, Salome. Dis feite – naakte feite!” Sy stemtoon daal weer. “Mag God my help … mag Hy my help om my skuld eendag aan hierdie vreemde vrou vierdubbeld terug te betaal.”

Salome sluit haar oë, haar mond verwronge. “En ek dan? Hoe sal ék haar ooit terugbetaal?”

Weer ontmoet man en vrou se oë, voer hulle ’n woordelose gesprek.

Dan knik Flip. “Daar is net een manier … die enigste manier.”

’n Vae vlam van hoop flikker in die groenbruin oë. “Dan verstaan jy? Jy begryp dat ek hulle, en veral vir haar, nie kan teleurstel nie?”

Hy knik weer, sy gesig soos ’n masker. “Ja. Ek begryp. Ek begryp ook dat ék moet gaan.” Daar is ’n onwrikbare finaliteit in sy stem. Sy sit roerloos, marmerwit. Die laaste vlammetjie van hoop gee ’n floue flikkering … sterf dan. Dis verby. Dis die oomblik van afskeid. Sy kyk terug in haar man se oë, kyk na hom asof sy hom vir die eerste keer sien – maar ook asof sy vir die laaste maal na hom kyk.

Toe die voordeur agter hom toegaan, gee sy haar oor aan die hartverskeurende trane. Flip is ongelukkig in die stad. Hy kan nie hier skilder nie. Soos sy, het hy ook ’n plig teenoor sy kuns. Was hy ’n alledaagse man wat gewone kantoorwerk kon doen, sou hy hier kon bly en hulle sou gelukkig kon wees. Maar Flip is ’n kunstenaar soos sy. Dit wat binne is, móét uiting kry. En om vir hom te sê om op te hou met skilder, is dieselfde as om vir háár te sê om op te hou met sing.

En weet sy dan nie self dat die mens en die kunstenaar een geheel uitmaak nie? Jy kan hulle nooit skei nie. Probeer hulle skei en jy sal op die ou end net met twee gebroke halwes sit, want God het hulle een gemaak. Vir haar lê die beproewing van haar kuns hier in die stad. Vir Flip lê dit in die oop vlaktes van die Karoo.

En tog …

Daardie aand bly sy roerloos lê toe hy eindelik van buite af inkom. Dis reeds baie laat. Sy vra nie waar hy was nie. Dit maak nie meer saak nie. Sy raas nie met hom omdat hy nie sy baadjie teen die koue wind aangetrek het nie. Ook dit maak nie meer saak nie. Môre, oormôre sal sy nie meer daar wees om toe te sien dat hy na homself kyk nie. Môre, oormôre sal hy na homself moet kyk. Die straatlig voor hul woonstel gee genoeg lig in hul slaapkamer sodat hy nie die elektriese lig aanskakel nie. Sy lê en kyk hoe hy uittrek, sien dat hy vergeet om sy hoesmedisyne te drink, maar herinner hom nie daaraan nie. In die toekoms sal hy self moet onthou of daarsonder bly.

Sy voel hom langs haar in die bed inklim, maar sy draai nie haar kop nie. Sy weet, sonder om te kyk, dat hy teen die kussings oplê, arms agter sy kop gevou.

Die nagure gaan verby, een vir een. Hulle slaap nie. In die vroeë oggendure voel sy hom langs haar beweeg, weet dat hy op sy een elmboog leun en na haar afkyk.

“Salome …”

Sy antwoord nie, draai net haar kop, kyk na hom op, sien hoe besonder bleek hy in die kunsmatige lig vertoon wat by die venster instroom. Hy was maar altyd bleek, ook die dag toe sy hom die eerste keer gesien het. Sy onthou nog. Dit was Oukersaand …

Dan, asof die keerwalle wat hulle om hul gevoelens gebou het nie meer teen die groter geweld kan standhou nie, is hulle in mekaar se arms, klou hulle mekaar vas soos twee drenkelinge wat in die stormwater van die lewe beland het, twee mense wat weet dat hulle in twee verskillende rigtings gaan uitspoel.

Toe hulle die volgende oggend wakker word, ontwyk hulle mekaar se oë soos twee jonggetroudes wat mekaar pas ontdek het.

“Ek gaan net gou ’n paar goedjies koop,” sê sy ná ontbyt.

“Goed.”

Sy stap uit, wetende dat verlede nag verby is. Sy besef dat dit niks aan die besluit wat geneem is, sal verander nie. Verlede nag was net ’n wanhopige afskeid. Hulle was vir die laaste keer man en vrou.

Sy is nie werklik verbaas toe sy met haar tuiskoms die woonstel grafstil vind nie. Sy het nie doelbewus aan die moontlikheid gedink toe sy netnou hier uitgestap het nie, maar sy weet toe sy die voordeur agter haar toedruk en die stilte teen haar vasslaan, dat hy weg is – vir goed weg. Sy esel en kwasse staan nie meer voor die venster nie. Sy sit die twee pakke kruideniersware op die vloer in die middel van die sitkamer neer, stap dan vinnig na die slaapkamer, hoewel sy weet sy hoef nie in sy kas te gaan kyk nie. Dit sal haar niks meer vertel as wat sy reeds weet nie.

Tog maak sy sy kasdeur oop, kyk vas teen die half leë spasies. Alles is nie weg nie. Net die goedjies waarmee hy hier ingetrek het. Die ander, die jas en die warm onderklere, ook die paar nuwe skoene en die snoesige woltrui wat sy vir hom ná hul troue gekoop het, lê voor haar.

Hy het maar min aardse goed van sy eie gehad. Daarom kon hy so gou padgee. Sy skildergereedskap was die belangrikste. Die paar stukke klere kon binne ’n paar minute in ’n koffertjie gegooi word. Daar was regtig nie baie nie, want dít wat met ander mense se geld gekoop is, het hy agtergelaat.

Sy skud haar kop stadig. My trotse man, my arme trotse, dwase man!

Sy maak die kasdeur versigtig toe, stap terug na die sitkamer, kyk onseker om haar rond en stap dan tog na die venster toe en kyk af op die straat. Hoekom weet sy nie. Hy sal nie daar wees nie. Hy sal nooit weer in hierdie stad se strate gesien word nie.

Sy voel iets onder haar hand, kyk ingedagte af, tel dit op. ’n Verfkwassie. Haar vingers knel daarom totdat haar kneukels wit deurskyn … so wit en bleek soos sy gelaat verlede nag was toe hy oor haar gebuk het.

Toe sak sy stadig af op haar knieë, die skilderkwassie nog in haar hand vasgeknel, gryp na die vensterbank maar vang dit mis. Sy val plat op die vloer, sien hoe haar trane voor haar op die mat tap en sy kyk daarna asof sy na iemand anders se trane kyk, half verwonderd – asof sy werklik wonder hoe ’n hart dan moet lyk waaruit sulke trane kom.

Ena Murray Omnibus 22

Подняться наверх