Читать книгу Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray - Страница 11

8

Оглавление

Sy verskyn, soos die vorige keer, stil in die kombuisdeur. Net, hierdie keer, het sy nie ’n koffer in die hand nie. Dié staan nog buite op die skoon werf waar die huurmotorbestuurder dit neergesit het. Hierdie keer het sy ’n wit bondeltjie in haar arms.

Daar is geen blye uitroep van herkenning nie. Dis stil in die klein kombuisie, die kos voor hulle vergete.

Hulle staar haar onbeholpe aan terwyl die ou wekker op die kombuisrak die lang sekondes aftik.

Toe kom Jan orent, maar bly op dieselfde plek staan, asof sy bene nie die bevel van sy brein wil gehoorsaam nie. Maar eindelik beweeg hy, loop met swaar pas nader en die hand wat hy uitsteek om die kombersie voor die gesiggie weg te trek, bewe merkbaar.

Sy sien hoe hy verbleek en toe hy eindelik vraend en met ontsetting in sy oë na sy suster opkyk, knik sy. “Ja. Dis hoekom ek hom ook Karel noem.”

Dan stap sy bedaard by hom verby, om die tafel, lê die kosbaarste kleinood in Rosalie se leë arms en kyk teer op die bleek gesig af.

“Hy is joune.” Vlugtig kyk sy na haar broer. “Julle s’n.” Dan rus haar blik op die slapende gesiggie, en sy weet dat sy haar skuld aan hierdie vrou vandag met haar eie vlees en bloed betaal. “Ek het hom vir julle gebring. Ek sal hom nooit weer van julle terugeis nie.”

Rosalie kyk weg van die bondeltjie in haar arms, ontmoet die bruingroen oë wat so opreg in hare afkyk. Twee vrouesiele reik na mekaar uit, begryp mekaar volkome. Tussen hulle lê daar geen skuld meer nie. Dis betaal. Op hierdie oomblik heeltemal vereffen … met rente. Dan staan Jan langs sy vrou, sit ’n sterk arm om die skraal skouers en sy groot liggaam begin ruk. Onbeskaamde trane loop oor sy wange.

Stil kyk Salome na haar broer en skoonsuster. Flip, jy het jóú skuld ook betaal. Jy hoef nie meer skaam te wees omdat ’n onbekende vrou jou van kos en medisyne voorsien het nie. Jy skuld haar van hierdie oomblik af niks meer nie. Ook jóú rekening is volkome vereffen.

Rosalie staan op, staan ’n oomblik onseker en toe doen sy iets wat niemand ooit sal vergeet nie. Sy stap na Bessie Truter en sê: “Hier is Ma se kleinseun.” Sy lê die bondeltjie in die sterk arms neer en sien hoe die groot hande dit byna heeltemal toevou. “Kyk, Ma. Hulle sê hy lyk nes oorlede Karel.”

Bessie Truter se gesig vertrek toe sy die bondeltjie sommer met die een hand teen haar groot boesem vasdruk, terwyl haar ander hand soekend uitgaan na dié van haar skoondogter en dit in ’n pynlike greep vasvat – so asof die skraal hand die leiding moet neem en krag moet gee om die grootheid van die oomblik te kan dra.

Toe draai Rosalie om, reik uit na Salome en omraam haar gesig met haar skraal hande en soen haar innig. Dan skud sy haar kop en sê beslis: “Hy is joune, Salome. God het hom vir jou gegee. So ’n offer kan ek nie aanvaar nie.”

Salome antwoord nie, sê nie dat haar skoonsuster hierdie keer verkeerd is nie. Hy is nie hare nie. Hy is maar net aan haar gegee om weg te gee aan die regte mens, dié mens wat hom móét hê.

“Hoekom het jy ons nie laat weet nie? Nooit eens ’n aanduiding gegee dat … dat hy op pad is nie?” verwyt Rosalie.

Salome sak moeg langs die tafel neer, glimlag verdrietig. “Dit was ’n pad wat ek alleen moes stap. Daar kom tye in elke mens se lewe dat diegene wat naaste aan jou is nie naby moet kom nie. Daar is op elke mens se lewenspad lang ente waarlangs jy en jou God alleen moet aanstap.”

Sy vee verwese oor haar oë. Dit is ’n lang ent wat afgelê is … ’n baie eensame pad wat oor maande gestrek het. Maar nou het sy die einde bereik. “Ek was darem nie heeltemal alleen nie. Toe ek uitvind ek is swanger, het ek die woonstel opgesê en by Madame gaan intrek. Karel is in haar huis gebore. Sy was baie goed vir my – oneindig goed vir my.” Nog ’n rekening wat betaal moet word. Sal sy ooit die einde van die pad bereik? Sal sy ooit uit die skuld kom?

Sy kyk op na haar ma en broer. “Dankie vir al die geldelike hulp die afgelope maande.” Sy kyk weer na Rosalie. “Ek het darem nie heeltemal niks gedoen nie. Ek het intensief aan my stem gewerk tydens my verblyf by Madame. Ek is gereed om my sangloopbaan in alle erns aan te pak wanneer ek teruggaan.”

“Wanneer gaan jy terug?”

“Ek is net vir die naweek hier. Ek het lank genoeg leeggelê. Ek moet nou begin werk. Ek het volgende week al my eerste openbare optrede ná byna ’n jaar.” Sy glimlag effens. “Ek wonder of die publiek my ooit nog sal onthou!”

“Natuurlik sal hulle,” laat Bessie Truter hard hoor. “Die mense vra my heeldag wanneer ek op die dorp kom wanneer daar dan ’n plaat van jou verskyn.”

Sy glimlag teenoor haar ma wat nog steeds met die klein bondeltjie lewe in haar arms sit terwyl sy saggies heen en weer wieg. Vreemd, sy en haar ma het eers nader aan mekaar gekom toe sy weggegaan het. Hoe eienaardig tog dat ’n mens soms eers op ’n afstand moet wees voordat jy helder kan sien. Sy sien vandag haar ma vir die ongeslypte diamant wat sy is. En sy is trots op haar, dankbaar dat Bessie Truter haar ma is. Want een ding weet sy – solank daardie twee groot hande kan werk, sal Karel nooit gebrek ly nie. Sy toekoms is veilig in daardie twee hande. Ook in dié van Rosalie en Jan. Sy hoef geen vrese te hê om haar kosbaarste besitting op aarde by hierdie drie mense agter te laat nie.

Sy kyk teer na haar broer. Hy het weer sy emosies onder beheer, maar sy kan sien hoe die knopperige vingers styf inmekaar geklem is, sy oë ononderbroke op die bondeltjie op sy ma se skoot. Sy glimlag vir hom. “Jan, my koffers staan nog buite op die werf.”

“O.” Hy staan onbeholpe deur se kant toe, ’n skaam glimlaggie om sy lippe en iets in daardie glimlaggie tref Salome baie diep.

Die res van die dag word daar vir die eerste keer sedert die Truters die base van hierdie plaas is nie juis gewerk nie. Alles kom tot stilstand. Alles is gekonsentreer op die bondeltjie lewe wat Salome by die agterdeur ingedra het.

Bessie Truter se oë bly op die klein gesiggie wat haar so baie aan dié van haar lieflingseun herinner. Rosalie kan nie uitgepraat raak oor die perfekte skoppende beentjies en die baba se pragtige oortjies nie. En Jan … telkens word Jan se bonkige wysvinger deur ’n klein handjie vasgevat, sien Salome die bewoëndheid op die stil gesig.

Bessie Truter kry Jan om die bababedjie op die solder te gaan haal, en skropborsel in die hand word klein Karel se slaapplek vir vanaand skoongeskrop.

Salome keer toe Rosalie haar wil wegskeur van die kleintjie om na die hanslammers te gaan omsien. “Ek sal dit gaan doen. Regtig, ek wil graag, Rosalie. Ek was altyd lief vir die hanse. Bad jy solank vir Karel en dan gaan gee ek die hanslammers kos. Jy weet mos hoe.”

Rosalie lyk onseker, maar sê tog gretig: “Ek … weet nie, Salome. Ek het baie babas in die kinderhuis gebad, maar …”

“Nou ja, dan weet jy mos hoe. Babas verander nie. Al sy goedjies is in sy tas. Skree maar deur die venster as jy vasbrand.”

Salome stap vinnig die kamer uit en man en vrou kyk mekaar half bang aan.

“Nou toe, vrou. Begin hom solank uittrek. Ek sal die badkommetjie gaan haal en die water bring,” sê Jan kamma dapper en in beheer.

Rosalie glimlag. “Nou toe. Maar pasop vir te veel warm water, Jan. Ons moet hom nie verbrand nie! En was die badkommetjie baie goed uit voordat jy die water ingooi, hoor?”

Jan verdwyn by die deur uit en eindelik is Rosalie alleen met die baba. Sy tel hom op, druk hom innig teen haar vas en vir die eerste keer in haar lewe gee sy uiting aan haar honger moederhart. Waar Salome buite voor die venster staan, net om seker te maak dat hulle regkom, voel sy hoe die trane vir die eerste keer in baie maande in haar oë opwel. Sy loer versigtig na binne en sien hoe haar skoonsuster die klein gesiggie en handjies met soene bedek, hoor die gefluisterde liefdeswoordjies wat vir haar kind geuiter word, en sy weet dat sy reg gedoen het, dat sy die Plan reg gelees het.

Sy stap geluidloos weg in die rigting van die klipkraal waar die hanslammers reeds luidkeels aankondig dat hulle honger is. Terwyl sy hulle voer, gaan haar lewe soos ’n rolprent voor haar oë verby. Toe sy die laaste hanslam wegstoot, weet sy dat sy vandag nog ’n fase van haar lewe finaal afsluit – dié van vrou en moeder.

Daar is nou niks meer oor van Flip en haar kind nie. Niks meer oor van die vrou in haar nie. Voortaan is sy sangeres. God het darem iets vir haar laat oorbly.

En daar in die ou klipkraaltjie met die hanslammers om haar, sak Salome op haar knieë op die Karoo-aarde neer, vou haar hande en sluit haar oë. “Dankie, God, dankie dat U iets vir my laat oorbly het. Dankie … vir my stem.”

Ongemerk draai Bessie Truter weg van die kraalmuur, en as Salome haar opgemerk het, sou sy haar ma vir die eerste keer in haar lewe sien huil het.

Jan se oë is baie stil toe hy sy suster gewaar waar sy uit die rigting van die rivier aangestap kom. Toe sy by die kamer instap, vra hy nie waar sy so lank rondgedwaal het nie.

Daar is ’n glimlag om Salome se lippe toe sy nader stap, ’n glimlag wat al haar selfbeheersing verg. “Reggekom?”

“O ja! Ag, en hy is so soet! Het nie eens een keer gehuil nie! En hy het al sy melk uitgedrink ook!” spog Rosalie.

“Gaaf! Hy is ’n soet baba. Ek het nog nooit met hom gesukkel nie.”

Bessie Truter roep uit die kombuis. “Jan, jy kan maar die bedjie na Salome se kamer toe neem.”

Salome gaan staan in die kombuisdeur: “Ma, ek het gewonder …” Sy kyk haar broer en skoonsuster beurtelings aan. “Ek dink ons moet die bedjie hier indra. Julle sal mos nie omgee om ’n nag of twee na hom te kyk nie? Dan kan ek darem weer ’n slag verlore slaap inhaal.”

Rosalie se oë blink. “Natuurlik gee ons nie om nie. Ons sal met graagte na hom kyk, nè, Jan?”

“Natuurlik, ja, as Salome regtig …”

Sy beduie met haar hand. “Dankie. Dis gaaf van julle. Dit sal wonderlik wees om weer ’n nag ongesteurd te kan slaap!”

So word die bababedjie waarin drie Trutertjies grootgeword het, in die stoepkamer ingedra en styf langs die dubbelbed van Rosalie en Jan vasgeskuif.

Met vaardige hande maak Bessie die bedjie op. “Daar’s hy, ouma se kind. Nou kan hy lekker slaap. Net môre sal ouma vir hom ’n splinternuwe matras vir sy bed gaan koop, hoor? Ouma se liefste dingetjie.”

Toe die kleintjie rustig in sy nuwe slaapplek lê en slaap en Jan en sy ma noodgedwonge hul aandpligte moet gaan uitvoer, bly die twee skoonsusters alleen in die kamer agter.

Hulle kyk mekaar eers stil aan en dan wink Rosalie met haar hand. “Kom ons sit sommer hier op die bed. Ons het nog nie eens gesels nie.”

Hulle neem plaas en Salome wag op die vrae wat moet kom. “Wat van … Flip, Salome? Weet hy?”

Sy skud haar kop. “Nee.”

“Gaan jy hom laat weet?”

“Nee.”

Dis ’n rukkie stil en dan kyk Rosalie bekommerd op. “Het hy nie ’n reg om te weet nie, Salome? Dis tog sy kind ook.”

Haar stil gesig is beslis. “Die dag toe hy uitgestap het, het hy van al sy regte afstand gedoen. Nee, Flip het geen regte meer nie.”

“Maar hy het nie geweet nie, Salome! Jy het eers uitgevind dat jy swanger is nadat hy weg is, nie waar nie?”

“Ja, maar ek is bly dit het so gebeur. Ek is dankbaar dat ek eers van Karel se koms uitgevind het toe Flip reeds uit my lewe verdwyn het. Anders het ek daardie dag die grootste fout van my lewe gemaak.”

“Hoe kan jy so sê, Salome? Watse fout sou jy begaan het?”

“Ek sou hom seker probeer behou het, en dit sou ’n tragiese fout gewees het.” Sy skud haar kop stadig heen en weer en kyk haar skoonsuster vas aan. “Ek wil nie ’n man hê wat by my bly net omdat daar ’n kind op pad is nie, Rosalie. ’n Huwelik wat op plig berus, sal op die duur nie slaag nie.”

Rosalie skud haar kop. “Ek … weet nie wat om te sê nie. Jy het hom tog liefgehad, nie waar nie? Dis nie net die kind …”

“Ja. Ek het Flip baie liefgehad. Ek het hom vandag nog lief. Ek is ook oortuig dat hy mý liefgehad het. Maar liefde is nie genoeg nie, Rosalie. Twee mense moet ook by mekaar pas.” Sy gee ’n klein glimlaggie. “Flip het dit reeds vir my vóór ons huwelik gesê. Toe het ek dit nie begryp nie. Vandag weet ek wat hy bedoel het. Twee mense moet ook by mekaar pas.” Sy sien die verwarring in Rosalie se oë en vervolg: “Dis moeilik om te verduidelik. Ons talente het ons geskei. My werk, die uiting van my kuns, lê in konsertsale en tussen mense en in stede met hul fasiliteite. Flip se kunsuiting lê in die stilte om hom, weg van mense, weg van stede, weg van sy vrou af.”

“Maar die kind, Salome! Hy is en bly die vader!”

“Ek het sedert Flip uit my lewe gestap het – nou byna ’n jaar gelede – nog nooit weer iets van hom gehoor nie, behalwe dat hy deur ’n prokureur laat weet het ek kan hom dagvaar vir kwaadwillige verlating en dat hy die egskeiding nie sal teenstaan nie. Dis al.”

“En is julle nou geskei?”

“Nee.” Sy sug, wens dat hierdie ondervraging al verby is, maar sy besef dat Rosalie ’n reg het om te weet. “Ek het toe verwag en gedink ek sal maar daarmee wag tot … tot die baba gebore is. Ek sal sake seker maar na ’n punt toe moet voer wanneer ek nou teruggaan.”

“Weet jy waar hy bly?”

“Nee. Glad nie.” Sy lag wrang. “Die wye Karoo het hom ingesluk. Ek veronderstel sy prokureur is al een wat sal weet.”

Rosalie sug ook, laat haar blik terugdwaal na die bedjie hier by haar. “Dan is dit eintlik ’n hopelose saak?”

“Ja. Dis ’n hopelose saak. Wat my betref, ’n afgehandelde saak. Flip Grimbeeck behoort aan die verlede – en die verlede is finaal verby. Wat verby is, is verby, Rosalie. Dis een les wat die lewe my die afgelope tyd geleer het. Om oor gister te huil, bring jou nêrens. Om na gister te bly hunker, bring net hartseer wat kon gebly het. Gister is gister. Hoe gouer ’n mens dit aanvaar én daarin berus, hoe gouer is daar ’n moontlikheid dat jy weer vir jou ’n toekoms kan skep. Maar as jy aan gister bly vasklou, dan word die verlede ook die hede en die toekoms. Jy kan probeer soos jy wil, maar jy sal en kan nooit weer hitte uit gister se dooie asse haal nie.” Sy skud haar kop. “Ek is moeg van gister, Rosalie. Ek gaan die verlede nou agterlaat en met dít wat oorgebly het, vir my ’n nuwe toekoms skep. Ek móét.”

Daar is trane in die ouer vrou se oë toe sy haar hand uitstrek en Salome se hand teer druk. “Ek begryp, Salome. Jy het in ’n kort tyd ’n leeftyd se smart leer ken. Ek kan net bid dat dit van nou af net goed met jou sal gaan en dat jy eendag tog die geluk sal vind wat jy verdien.”

“Ek reken nie op geluk nie, maar op sukses. Van nou af gaan ek konsentreer op my sang, Rosalie.”

“Maar jou kind is nog daar, Salome!”

“My kind.” Salome kyk liefdevol na haar baba, draai haar kop dan vinnig weg. “My kind is nog ’n onbekende faktor, maar van my sang is ek honderd persent seker. Verder sal die tyd en die lewe maar moet leer. Ek het ook al geleer om nie te ver in die toekoms te probeer beplan nie, Rosalie. Dis selde dat ons menslike plannetjies en God se Plan ooreenstem. Dít weet ek ook al teen hierdie tyd.”

Sy staan op, glimlag sag op Rosalie af. “Ek wil vir jou dankie sê, Rosalie, baie dankie vir alles wat jy vir my gedoen en beteken en opgeoffer het van die eerste dag wat jy by hierdie huis ingestap het tot op hierdie oomblik. Ek het jou nie verdien nie.”

Rosalie skud haar kop heftig. “Salome! Jy was nog net altyd ’n bron van vreugde en geluk vir my.”

“Was ek, Rosalie?”

Hul oë ontmoet en albei weet dat dit nie waar is nie. Want dit is nie hoe die pad van liefde loop nie. ’n Mens maak hulle wat jy die liefste het altyd seer.

“Ek gaan gou vir Ma die tafel dek. Jy kan maar nog ’n rukkie by Karel bly as jy wil,” sê Salome en stap uit.

Kort ná aandete gaan Bessie op haar gewone tyd kamer toe en Rosalie maak ook verskoning. Dis of sy haarself nie kan toelaat om vir te lank uit daardie kamer weg te bly nie.

Salome betrap haar broer se blik op haar.

“Wat hinder jou, Jan?” vra sy reguit, wetende dat hulle twee ook nog ’n ope gesprek sal moet hê voordat sy weer weggaan.

Hy sug en lyk eers ongemaklik, kyk dan reguit op. “Baie dinge, Salome. Ek weet nie hoe om te begin nie. Ek wil nie in jou persoonlike lewe indring nie.”

“Praat maar, Jan. Ons twee moet mekaar vanaand nog goed verstaan.”

“Wat bedoel jy?”

Sy glimlag weemoedig. “Toe maar. Praat jy maar eerste. Wat is dit?”

“Rosalie het my vertel van … jou man. Sus, is jy seker dat jy … wel, finaal van hom afskeid geneem het? Ek sal hom vir jou gaan soek as jy wil. Die Karoo is nie só groot dat ’n mens sommer net daarin verdwyn nie. En as hy nie hier is nie … Ek sal die hele land deursoek tot ek hom kry.”

“My boetie …” Haar hand vou weg in sy grote en sy sluk. “Dankie, maar nee, Jan. Ek wil nie hê jy moet hom gaan soek nie.”

“Is jy seker, Salome?” Hy kyk haar dringend aan. “Ek wens ek kon weet wat dit is wat jou dit laat sê. Is dit trots? Dan wil ek vir jou sê dis valse trots en ook selfsugtige trots. Dis nie nou meer net jouself waaraan jy moet dink nie. Daar lê ’n kind in die stoepkamer, Salome!”

“Ek weet. Ek weet ook hoe hy in die stoepkamer gekom het.”

Sy oë sak ’n oomblik voor hare. “Ek … ek moet hierdie dinge vir jou sê, sus!”

“Ek weet, Jan. Ek het jou leer ken as ’n mens van min woorde, maar as jy die dag wel iets te sê het, kan ’n mens maar na jou luister. Ek is bly jy sê ook reguit wat in jou hart lê. Maar jy is verkeerd. Dis nie trots nie. Dalk net ’n bietjie selfrespek.”

“Dan kan dit net een ander ding wees,” hou hy vol.

“Ja?”

“Salome, ek het al baie gely ná ons laaste gesprek – daardie aand toe jy so skielik hier weg is. Toe jou brief hier aankom, skryf jy net: … Flip is weg. Dis al. Jy gee geen verduideliking nie. Net daardie drie woordjies. Flip is weg. Salome, het my woorde van daardie aand iets daarmee te doen gehad? Ek het al so baie gewonder.”

Sy kyk dapper op, sien die ongelukkigheid in sy oë en weet dat sy vir die eerste keer in haar lewe ’n blatante leuen sal moet vertel.

“Nee, Jan. Niemand het niks daarmee te doen gehad nie. Dit was net iets wat … beskik was om te gebeur.”

Hy kyk haar lank aan asof hy haar nie heeltemal glo nie, maar dring nie verder daarop aan nie. “Sus, ek is bitter jammer oor die dinge wat ek daardie aand vir jou gesê het. Ek het eers later besef dat ek iets op jou gestapel het wat nie werklik bestaan nie.”

“Wat is dit?”

“’n Verpligting teenoor ons. Jy het geen verpligting teenoor ons nie. Jou persoonlike geluk beteken vir ons drie veel meer as dat jy ’n sangeres moet word. Ons wil jou net gelukkig sien. Dis al. Met of sonder jou sang. As jy voel jy moet ’n beroemde sangeres word ter wille van ons, wil ek jou vanaand vra, asseblief, vergeet daarvan. Ons wil dit nie hê nie.”

Sy staar hom net aan en hy vervolg dringend: “As ek vanaand moet kies: ’n beroemde suster met ’n gebroke hart, of ’n doodgewone suster met ’n gelukkige hart … dan sal ek bid: God, U wat aan haar daardie stem gegee het, maak haar stom!”

“Jan!”

“Ek bedoel wat ek sê, Salome!”

Sy staar hom woordeloos aan en sê dan, haar wange bleek, verbystering in haar stem: “Jy bedoel dit werklik! Ja, ek kan sien jy bedoel dit werklik!” Sy kyk vinnig weg. “Jan, ek wil jou weer vanaand vra …” Sy kyk op, en nog nooit het hy daardie oë só sien smeek nie. “Jy moet my asseblief netnou stasie toe neem. My plek is op die middernagtrein terug bespreek. Ek was nie van plan om tot die einde van die naweek hier te bly nie.”

“Salome!”

Sy knik. “Ja, Jan. Ek gaan weer vannag weg – nes die vorige keer.”

“Maar hoekom?”

“Omdat ek moet. Omdat ek wil. Ek … gaan alleen terug.”

“Jy bedoel …?”

“Ja. Karel bly hier. Hy is julle s’n. Ek het hom net vir julle gebring. Nou moet ek weer terug. Ek gaan nie terug om julle onthalwe nie. Ek skuld julle niks nie … nie meer nie. Ek gaan terug omdat dit ál is wat vir my oorgebly het. Verstaan jy, Jan?”

“Nee.” Sy stem is skor. “Nee, ek verstaan nie.”

Sy skud haar kop. “Moet dan nie probeer nie. Aanvaar net my woord daarvoor. Ek moet teruggaan. Dis die enigste toekoms wat ek het. Ek het nog nie my koffer uitgepak nie. Ek was ook nie van plan nie. Ek sal dit gaan haal.” Hy sit op dieselfde plek toe sy weer binnestap. Net – Bessie Truter staan ook groot en lomp daar in haar vormlose kamerjas.

“Ek het gedink Ma slaap al.”

“Nee, ek het lê en wag.”

“Wag? Waarvoor?”

“Tot jy wil ry. Jy wil nou ry, nè? Maar jy gaan nie weer weg sonder ’n eetdingetjie nie. Ek het vanmiddag al die beskuit en wors en biltong ingepak. Dis in die melkkamer. Ek sal dit gaan haal.”

Sy verdwyn by die agterdeur uit en broer en suster kyk mekaar verslae aan.

“Waar sou sy daaraan kom? Of het sy afgeluister toe ons gepraat het?” wonder Salome.

“Ek weet nie. Miskien voel sy dit maar net aan. Sy is ook ’n ma, Salome. Jou ma.”

Salome lyk verdwaas. “Ek het nooit gedink dat Ma so baie in my sake belang stel nie. Sy …”

“Jy sal jou verbaas, Salome. Ma het ’n fyner aanvoeling as wat enige mens sou droom om by haar te kry. Sy steek dit maar net weg – soos ons almal maar dinge wegsteek.”

Sy oë vang hare vas, maar sy weier om uitgelok te word. “Sal jy my stasie toe neem, Jan?”

“Sal dit enigsins iets aan die saak verander as ek weier?”

“Nee. Ek is bevrees nie.”

Hy staan op, neem haar tas woordeloos by haar en stap na buite. By die bakkie kom staan Bessie Truter voor haar dogter, vou haar groot hande om die skraal gesig en soen haar innig – vir die eerste keer wat Salome kan onthou. Dan kyk hulle diep in mekaar se oë in die flou glans van ’n opkomende maan.

“Tot siens, my kind. Kyk goed na jouself. En … moenie bekommerd wees nie.”

Salome kyk op na haar, sien die groot vrou voor haar. Dis jou ma, Salome. Jou ma wat begryp … jou ma wat beter as Jan verstaan. Dan lê sy teen haar ma se groot boesem, voel hoe die sterk arms haar omsirkel, hoe die groot hande oor haar hare streel en vir die eerste keer in haar lewe snik sy haar uit teenoor dié ma wat sy eers so laat in haar lewe werklik leer ken en waardeer het. Ma verstaan. Sy verstaan heeltemal.

“God seën jou, my dogter. Ek was nog nooit so trots op jou soos vanaand nie.”

Sy strompel-val by die bakkie in, hoor die deur agter haar toeklap. ’n Groot hand vou oor hare.

“Kyk mooi na hom, Ma! Kyk baie mooi na hom!”

“Ons sal, my kind. Ma sal na hom kyk. Ma belowe!”

Ena Murray Omnibus 22

Подняться наверх