Читать книгу Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray - Страница 6

3

Оглавление

Dis Rosalie wat dit daardie aand op haar neem om die res van die familie in te lig oor die jongste gebeure. Salome sit met neergeslane oë terwyl Rosalie haar moeder en broer verwittig van die groot talent wat al die jare onder hul dak verberg is.

Bessie Truter is geensins beïndruk nie. Sing? Almal kan sing. Sy self sing hartlik en bulderend in die kerk Sondagoggende. Wie kan nou nie sing nie?

Jan lyk ietwat verslae, maar hy besef darem dat Rosalie iets groots aan die vertel is, hoewel hy nie die omvang daarvan besef nie. Hy weet daar is sing én sing en sy kleinsus kan blykbaar síng.

Rosalie wag dat wat sy gesê het eers insink, en toe vervolg sy: “Juffrou Dunn, die musiekonderwyseres, wil Salome graag klas gee. Dit sal noodwendig in die namiddag moet geskied.”

Jan se kop lig. “Wat sal dit kos?”

“Niks nie.” Sy vrou kyk pleitend na hom om begrip. “Sy wil niks hê nie, maar … Salome sal middae dorp toe geneem moet word.”

Jan skud dadelik sy kop. “Dis onmoontlik, Rosalie. Die bakkie kan nie twee keer op ’n dag dorp toe loop nie. Ek het dit buitendien op die plaas nodig.”

“Dis net drie keer per week,” pleit sy vrou, maar voordat Jan kan antwoord, kom daar nog besware van ’n ander kant.

“En wat van haar werk middae hier op die plaas?” wil Bessie Truter weet. “Die hanslammers en kleinbokke is haar werk. Wie gaan dit altemit doen as sy op die dorp staan en sing?”

“Ek sal dit doen, Ma.”

Bessie gee net ’n snork as antwoord daarop, en gee daarmee te kenne dat die kleinste hanslam hierdie maer skoondogter van haar uit die grond sal loop. Rosalie wend haar weer tot haar man. “Asseblief, Jan!”

Jan lyk skuldig, maar sê beslis. “Ek is jammer, Rosalie, maar dit kan nie gebeur nie. Dit gaan te veel kos en ek het die bakkie nodig.” Sy oë gaan half skuldig na Salome. “Jy verstaan dit mos, Salome?”

Sy knik net, hou haar brandende oë stip op die wit tafelblad en sluk swaar. Rosalie lig haar kop uitdagend op en vir die eerste keer kom Bessie en Jan agter dat Rosalie koppig kan wees. “Salome gáán daardie klasse bywoon al stap sy dan dorp toe!” Sy kyk na Salome. “Jy kan soggens vir jou toebroodjies saamvat en wanneer die skool uitkom, daar by die skool wag tot dit tyd is vir jou klas. Dan kan jy daarna die vier kilometer uitstap plaas toe. Jy kan mos, Salome? Jy móét!”

Salome kyk vinnig op, nuwe hoop in haar swemmende oë. “Natuurlik kan ek! Wat is vier kilometer nou? Dis ’n wonderlike plan, Rosalie!”

Rosalie glimlag. “Goed. Dan maak ons so. Ek sal die middae wat jy klas het, na die hanslammers en kleinbokke kyk. Maar jy gaan daardie klasse loop, al gebeur wat ook al!”

Jan en sy ma het niks verder te sê nie. Solank die hanslammers en kleinbokke versorg is en daar nie onnodige geld op ’n singery uitgemors word nie, is hulle tevrede. Laat Rosalie en Salome dan maar aangaan met hul lawwigheid. Watse geleerdery is dit om te kan sing? ’n Mens kan sing of jy kan nie.

In die weke wat hierop volg, gaan ’n nuwe wêreld vir Salome oop en kry die lewe vir haar nuwe betekenis.

Gereeld word Rosalie in die fynste detail vertel wat sy die dag geleer het. Saterdagmiddae, onder by die omgevalle wilger, sing Salome vir haar en hoor Rosalie hoe die jong stem al hoe sterker, al hoe vaster en suiwerder word. Saam droom hulle dan drome.

“Ek is nog net volgende jaar op skool. Wat gaan dan gebeur?” wil Salome een Saterdagmiddag weet nadat sy gesing het tot sy die trane in Rosalie se oë sien blink het.

“Met die tyd kom raad. Ons sal wel ’n plan beraam. Dis vanselfsprekend dat jy ná matriek gaan studeer.”

“Maar dit kos baie geld, Rosalie. Juffrou Dunn sê so.”

“Ons sal ’n plan maak,” belowe Rosalie egter op haar rustige, vasberade manier wat die Truters al skeef laat opkyk het. En Salome is tevrede. Sy glo Rosalie. Daar is niemand aan wie sy so glo soos aan hierdie skoonsuster van haar nie. As Rosalie sê sy sal ’n plan beraam, sal sy. As Rosalie sê sy sal verder studeer, sal dit gebeur. Die gedagte dat Rosalie haar belofte nie gestand sal kan doen nie, kom nie by haar op nie.

Dit word bekend dat die Truter-dogter pragtig sing en Salome word dikwels gevra om by funksies en troues op te tree. Dis Rosalie wat haar so te sê dryf om die uitnodiging te aanvaar.

“Ek sal sterf om voor so ’n klomp mense op te tree, Rosalie,” protesteer Salome toe sy die eerste keer gevra word om by ’n groot troue te sing.

“Dit sal jou selfvertroue leer, Salome. Jy moet nóú al leer om voor mense op te tree. Ek hoop nie jy het nee gesê nie.”

“Nee, ek het gesê ek wil eers by jou hoor.”

Want so is dit. Rosalie moet altyd eers sê, want Salome het ’n onwrikbare vertroue in Rosalie se oordeel. Sy doen niks voordat Rosalie nie eers geraadpleeg is nie.

“Wel, sê môre vir hulle jy sal op die troue sing.”

“Goed. Ek sal vir hulle sê.”

Rosalie kyk die onseker gesiggie ondersoekend aan. “Is daar nog iets verkeerd?”

“Nee …” Die groenbruin oë lyk skaam. “Dis net, ek het nie juis iets om na so ’n deftige geleentheid aan te trek nie. Ma sal nooit vir my ’n rok koop net omdat ek moet gaan sing nie.”

Maar Rosalie het weer raad en hulp. “Jy sal ’n mooi rok hê, moenie bekommerd wees nie. ’n Pragtige, deftige rok.”

“Waar sal dit vandaan kom?”

“Jy is te nuuskierig, Salome. Maar ek belowe jou, jy sal uitblink op die troue.”

Salome frons. “Ek gaan nie toelaat dat jy jou bietjie spaargeld op my mors nie. Nee, Rosalie.”

“Dis mý spaargeld, asseblief, en as ek dit wil mors op ’n pragtige rok, dan is dit mý saak, jonge dame.” Toe leun sy vooroor en soen Salome op die wang. “Ek doen dit ook vir myself, besef jy dit dan nie? Ek is so trots op jou. Ek spog so graag met jou. Gun jy my dit nie?”

“O, Rosalie, jy maak my skaam!”

Maar Rosalie glimlag. “Nee, Salome. Dis nie nodig nie, want ek weet ek sal my nooit vir jóú hoef te skaam nie. Jy sal my nooit teleurstel nie. Ek weet. Jy gaan nog ’n geliefde sangeres word en jy gaan die wêreld aan jou voete hê. Dit gáán gebeur! Jy, kindjie, gaan nog beroemd word!”

Rosalie hou weer haar belofte. Die dag met die troue het Salome ’n pragtige rok om aan te trek. Sy sing pragtig en kry talle komplimente – openlik en verskuil: “En dan is sy nogal ’n mooi kind ook, nè? ’n Mens sal nooit sê sy is ou Bessie Truter se kind nie”, en: “Laat ou Bessie haar ma wees, maar daardie kind kan sing!”

Ná die troue is die hele kontrei dit eens: Salome Truter sing soos ’n engel.

Aan die begin van Salome se matriekjaar begin Rosalie daadwerklik planne maak vir haar toekoms. Sy slaag uiteindelik daarin om ’n beurs vir Salome te kry. Dit help, maar is nie voldoende nie.

Rosalie lê snags en rondrol. Iewers vandaan moet ekstra geld kom. Salome móét net gaan studeer.

Die jaar snel egter onrusbarend vinnig na sy einde en Rosalie is bewus van Salome se oë wat dikwels bekommerd en vraend op haar rus. Sy lees die onuitgesproke vraag in die groenbruin oë: Het jy al aan ’n plan gedink? Dan glimlag sy net gerusstellend. Daar sal ’n plan kom.

Die aand in die bed laat Jan, sy geduld te ver beproef, geïrriteerd hoor: “Wat gaan deesdae met jou aan, vrou? Jy lê die nagte en omrol.”

Rosalie besluit dat dit tyd is om die bul by die horings te pak. “Dis Salome, Jan.”

“Wat van haar?”

“Jy weet goed waarna ek verwys. Die beurs wat sy kan kry, is nie voldoende nie.”

“Dan kan sy nie gaan nie, Rosalie. Asseblief, vrou, moenie dat ons weer hieroor begin redeneer nie. Ek het jou gesê dat ek nie die geld het om by te dra nie. Jy weet self dat dit bars gaan om net ’n bestaan te maak.”

“Maar sy móét gaan! Jan, jy en jou ma besef nie hoe groot Salome se talent is nie. Dit sal die verskriklikste onreg wees om haar nie te laat gaan nie.”

“Maar ons het nie die geld nie, vrou! Waar moet ons dit vandaan haal?”

Hulle is nie bewus daarvan dat hulle in die hitte van die woordestryd harder as gewoonlik praat nie en dat Salome, in die kamer aangrensend aan die buitekamer, hulle nou duidelik kan hoor nie.

“Maar Salome móét sing, Jan! God het aan haar ’n wonderlike talent gegee. Jy en jou ma probeer nie eens verstaan nie!”

“Luister hier, Rosalie! Ek kan nou al klaar sien wat gaan gebeur. Daar gaan ’n klomp geld op Salome bestee word en dan, net wanneer sy klaar is, of amper klaar is, trou sy en vergeet van ’n singery.”

“Ek glo dit nie! Salome lewe vir haar sang, Jan, asseblief, probeer tog verstaan! Salome kan nie net hier sit en … hanslammers kos gee en bokke melk nie …” Sy swaai haar hande in ’n magtelose halfsirkel, probeer weer. “Salome sal bly sing, al trou sy ook later. Dis iets wat in haar is wat móét uitkom, al gebeur wat ook al. Die geld wat op haar bestee word, sal nie vermors word nie. Salome ken haar verpligtinge.”

“Verpligtinge? Watter vrou dink aan verpligtinge wanneer sy verlief raak? Jy was besig met ’n korrespondensiekursus toe jy op my verlief geraak het. Wat het van al daardie geld geword wat jy daarvoor betaal het?”

Toe sê die stil Jan ’n wrede ding, só wreed dat Salome die trane branderig in haar oë voel opdam. Hy sê dit juis omdat hy skaam en gefrustreerd voel, juis omdat hy voel hy skiet te kort, nie net teenoor sy kleinsus wat so talentvol is nie, maar ook teenoor sy vrou aan wie hy nie meer as net ’n blote bestaan kan gee nie. “Miskien sou dit anders gewees het as ons kinders gehad het. Dan sou jou geleerdheid nie so verlore gegaan het nie. Jy sou hulle kon leer, jou kennis met hulle kon deel. Maar soos dit nou is, dien al jou geleerdery vóór ons troue geen doel nie, beteken jou lewe hier eintlik niks nie.”

Rosalie draai haar kop weg van haar man, haar gesig so wit soos die kussingsloop onder haar kop en binne-in haar verdiep die leed wat sy al so lank swyend dra, tot iets wat haar wil verteer. Eindelik verbreek sy weer die stilte, sê gesmoord: “Miskien het jy reg, Jan. Maar met Salome sal dit anders wees.”

Salome slaap daardie nag nie. Haar jong hart bloei vir haar skoonsuster wat soveel vertroue in haar stel. Sy neem ’n eed dat sy, as sy wel eendag ’n sangeres van faam word, Rosalie sal vergoed en haar grenslose vertroue nooit sal skok nie.

Maar Salome is nog jonk, baie jonk. Sy sal nog leer dat ’n mens se toekoms nie in jou eie hande lê nie en dat jy nie so maklik moet sweer oor dinge wat nog in die verborge toekoms wag nie.

Vir die eerste keer in haar lewe maak sy kennis met die wreedheid van ’n man. Dit skok haar dat die stil broer vir wie sy nog altyd so lief was so venynig kan wees. Sy leer dat selfs die sagste, stilste man baie wrede dinge kan sê.

Sy loop haar broer die volgende oggend by die beeskraal raak en kyk na hom met nuwe oë. Hierdie geliefde broer van haar is dieselfde man wat verlede nag sy vrou die wreedste van wrede houe geslaan het. Kan daar iets wreder wees as om ’n onvrugbare vrou haar kinderloosheid te verwyt!

Jan voel selfbewus onder die reguit aanstaring. Dis lankal dat hy nie meer op sy gemak in haar teenwoordigheid voel nie, lankal dat hy besef dat Salome grootgeword het en dat sy dinge in haar omdra wat bokant sy begrip en aanvoeling is. Salome het reeds van hom en sy ma begin wegbeweeg, besef hy vanmôre opnuut.

“Jan …”

“Ja?”

“Ek wil met jou praat …”

“As dit oor die singery is, moet ek jou net weer sê dat ons nie die geld het nie, Salome. ’n Mens kan nie bloed uit ’n klip tap nie. Ons hét dit nie. Uit en gedaan. As jy meer geld nodig het as wat die beurs beskikbaar stel, is dit tot daarnatoe.”

Salome knik en daardie gevoel van magteloosheid teen die werklikheid van die lewe wat sy van kindsbeen af ervaar het, veral teen die werklikheid van armoede, wil haar weer verswelg. Party het te veel. Ander te min. Hoekom? Sy ruk haar reg. Teen hierdie tyd weet sy dat dit futiel is om daardie vraag te vra. Daar is geen antwoord nie.

“Maar ás ek daarin kan slaag om te gaan, sal jy en Ma my laat gaan?”

Jan sug, beduie met sy hand en tel die emmer stomende skuimmelk op. “Ek het geen besware nie. Ek sal hoor wat Ma sê. Dit kan nie kwaad doen om te vra nie.”

Skielik is sy driftig. “Nee, jy het reg, Jan. Daar kan nie juis veel meer kwaad gedoen word nie, kan daar?”

Hy kyk haar verward aan, onseker oor die rede vir hierdie onverwagse aanval. Salome kyk terug, nog te jonk om die regte woorde te vind om haar broer te vertel hoe sy kwetsende woorde die teer siel van sy vrou verwond het. Wat sy op hierdie oomblik voel, lê alles in die groenbruin oë gekonsentreer – hartseer, ontnugtering en selfs veragting en ’n tikkie haat – maar Jan is maar net ’n doodgewone man wat nooit werklik die broosheid en weerloosheid van ’n fyn vrouesiel sal kan begryp nie.

“Wat bedoel jy?”

Salome begin wegstap. “Laat staan maar. Jy sal tog nie verstaan nie.”

Hy kyk haar fronsend agterna tot sy by die kombuisdeur in verdwyn, trek dan sy skouers op. Hy weet nie dat sy woorde van die vorige nag in die verre toekoms nog ’n baie ingrypende nasleep sal hê nie. Toe Rosalie een middag van die dorp af kom, loop sy Salome glimlaggend tegemoet. “Ons probleme is opgelos. Jy kan nou gerus slaap. Daar sal genoeg geld wees om verder te gaan studeer.”

Salome se oë val byna uit haar kop. “Waar sal die geld vandaan kom?”

Rosalie glimlag. “Ek begin oor twee maande weer in die poskantoor werk.”

Die vreugde demp in die groenbruin oë. “Maar dis jóú geld. Ek wil nie …”

“Reg. Dis mý geld en ék besluit wat daarmee gedoen word.”

Salome skud haar kop. “Rosalie, dis dierbaar van jou, maar Jan sal nooit toestem dat jy op die dorp gaan werk nie.”

“Jan gaan nie ’n sê hê nie. Ek het klaar besluit.”

Rosalie se stem het nog nooit só vasberade geklink nie en Salome voel die onrus in haar roer. Sy kyk haar skoonsuster bekommerd aan. “Ek wil nie moeilikheid maak tussen jou en Jan nie, Rosalie.”

“Moenie verspot wees nie, Salome. Daar sal geen moeilikheid wees nie.”

Soos Salome voorspel het, is Jan duidelik nie ingenome met Rosalie se voorneme nie, maar dit is ’n vreemde, vasberade Rosalie teen wie hy hom vasloop.

“Dit spyt my, Jan, maar ek gaan in die poskantoor werk. Soos jy self gesê het, beteken ek nie juis iets hier op die plaas nie. Jy was natuurlik heeltemal reg. Die hanslammers kan ek nog altyd kom versorg wanneer ek middae van die werk af kom. As ek in die poskantoor gaan werk, sal ek darem effens van nut wees, want dan kan Salome die opleiding kry wat sy verdien.”

Jan se mond gaan oop, maar sy spring hom weer voor. “Ek weet wat jy wil sê, maar daardie probleem is ook reeds opgelos. Ek gaan maak soos Salome die afgelope jaar en ’n half gemaak het. Ek sal soggens saam met jou dorp toe ry wanneer jy die room en eiers wegneem en ná werk stap ek terug plaas toe. Ek sal vir my ’n fles koffie en toebroodjies saamneem om middae sommer daar in die kantoor te eet. My werkery sal jou nie ’n sent kos nie.”

Jan frons diep. “Dis deesdae net Salome voor en Salome agter. Wat gaan met jou aan, vrou? Dis of jy vyandig is teenoor my. Ek kan nie help …”

“Jan.” Sy sluit haar oë, dink by haarself: Ek is nie vyandig nie, ek is net diep seergemaak. Dis al. Tyd sal dit weer regmaak.

Sy sê dit egter nie hardop nie. Toe sy praat, is die effense harde toon uit haar stem, sien Jan weer die vrou voor hom wat hy altyd geken het. “Dis die enigste manier waarop ek Salome kan help. Ek doen dit vir jóú suster, Jan. Gun jy haar nie ’n beter toekoms as wat sy hier kan hê nie?”

Jan sug. “Natuurlik, maar … Nou goed dan. Maak soos jy wil. Jy sal self later besef dat jy te veel wil opoffer, veral as die wintermaande eers kom en jy hierdie ent pad deur wind en kapok en hael moet afloop.”

Rosalie antwoord nie daarop nie, maar vra stil: “Sal jy dan met Ma praat?”

Hy knik net, swyg liewer verder. Rosalie sal nog haar fout agterkom, vertel hy homself. Sy sal nog sien dat dit nie betaal om ’n mens so af te sloof vir ’n ander nie. Te dikwels al het hy in sy lewe gesien ondank is wêreldsloon. Maar Rosalie, sy stil, beskeie vrou, sal nie nou na hom luister nie. Sy, en so Salome, moet maar hul koppe stamp.

Bessie Truter het nie veel te sê toe sy van haar dogter se toekomsplanne verwittig word nie. As sy dan wil gaan sing, moet sy maar gaan sing. Dis in elk geval die eerste keer in haar lewe dat sy hoor ’n mens gaan leer om te sing en dan kos dit nog so ’n klomp geld. Maar solank dit ander mense se geld is wat hulle so wil uitmors, het sy niks te sê nie. En as haar skoondogter weer wil gaan werk om die geld vir Salome te gee, dan is dit haar saak. Sy is tog nie van veel hulp hier op die plaas nie. Dit sal haar eintlik beter pas as sy dié armsalige mens minder onder haar oë en voete het.

Ena Murray Omnibus 22

Подняться наверх