Читать книгу Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray - Страница 5
2
ОглавлениеSalome is besig om die klein voorhuis af te stof toe haar ma se stem uit die kombuis opklink.
“Is Jan dan nou nog nie terug van die dorp nie? Waar bly hy so lank?”
Sy weet haar ma verwag nie werklik ’n antwoord nie en sy gaan voort met haar taak, haar gedagtes nie by die karige meubels en deurgetrapte linoleum nie. Gedemp neurie sy die nuwe trefferdeuntjie wat sy gisteraand oor Jan se radio gehoor het. Dis pragtig! Sy wens dis al vanmiddag, dan kan sy rivier toe loop en dit daar uit volle bors sing.
Sy hou nie op met afstof toe die dreuning van Jan se bakkie opklink nie. Dis eers toe ’n tweede deur toeklap dat sy haar kop lig en in die rigting van die kombuis beweeg. Sy kom in die deur tot stilstand net toe Jan, met ’n vreemde vrou aan sy sy, in die buitedeur van die kombuis verskyn.
Bessie Truter kyk om van die swart stoof en verstrak.
Dan druk Jan, duidelik ongemaklik, die vreemde vrou dieper die kombuis binne.
“Wie is dit dié, Jan?” vra sy ma op haar kenmerkend ongepoleerde wyse.
Salome sien hoe die skraal gestalte verstrak, sien die vrees in die blou oë van die vaal gesiggie en sy gee instinktief ’n tree nader.
“Dis … Rosalie, Ma. Ons is vanoggend getroud.”
Dit is grafstil in die beknopte kombuisie. Skielik knetter die vars stompe in die stoof en dis asof almal uit ’n eienaardige droom gewek word.
“Wat? Getroud?” Dan gooi die groot vrou voor die stoof haar kop agteroor en lag brutaal. “Getroud – met háár? Wat wil jy met so ’n armsalige stukkie mens maak?” Bessie Truter stap nader, beskou haar skoondogter asof sy na ’n ooi kyk en al haar goeie en slegte eienskappe in een oogopslag waarneem. “Kyk hoe lyk sy! Net vel en bene! Sy sal jou met niks op die plaas kan help nie en kinders sal sy jou nog minder kan gee.”
Jan bly hulpeloos staan, heeltemal weerloos teen sy ma, net soos sy pa voor hom, en dis Salome wat skielik vorentoe tree en glimlag: “Hallo.” Haar oë flits opstandig na haar ma. “Sy hoef nie te werk nie, Ma! Ek sal haar deel ook doen.” Sy hou haar hand na die vreemdeling uit. “Jy hoef nie bang te wees nie. Ek en Jan sal na jou kyk. Kom.”
Jan se bruid glimlag bewerig en Salome kan die dankbaarheid in haar oë lees. Sy volg Salome gewillig, en moeder en seun bly alleen in die kombuis agter. Daar is geen geamuseerdheid op Bessie Truter se gesig meer te bespeur nie. “Waar kom jy aan haar?” vra sy dreigend.
Jan se oë is bot op die witgeskropte kombuistafel gerig. “Sy het in die poskantoor gewerk.”
“Dié dat jy deesdae so knaend in die week ook moes dorp toe vir goed wat skielik opgeraak het. Wie is sy?”
“Sy is ’n weeskind.” Net ’n oomblik lank flits sy oë in sy ma s’n op. “Sy is ’n goeie mens, Ma.”
’n Onbeskaafde snork volg op dié opmerking. “Goed dood ook, lyk dit vir my. Geen wonder jy het haar tot op die laaste weggesteek nie.” Sy draai terug na die stoof. “Nou ja. Gedane sake het geen keer nie.” Een van die groot hande swaai deur die lug. “Gaan jou gang. Deur skade en skande word ’n mens wys. Jy sal wel jou fout agterkom. Moet net nie by my kom huil nie.”
Daarmee is die saak blykbaar afgehandel, en Jan vlug dankbaar om sy bruid se koffers na die buitekamer te neem.
In die buitekamer beskou Salome Jan se vrou goed. Sy is te maer, te kort, te vaal. ’n Instinktiewe beskermingsdrang neem van haar besit. Eintlik is hierdie vrou nie vir Jan bedoel nie. Jan behoort ’n sterk vrou te hê, ’n vrou wat haar man teen Bessie Truter sal kan staan. Maar hy het hierdie enetjie gekies, die meisie met die stil-blou blik. Nietemin, sy wat Salome is, sal die jong bruid beskerm.
Sy glimlag spontaan. Die werklike besef van wat gebeur het, dring nou eers tot haar deur. Hier is nou nog ’n vrou in die huis. Dis wonderlik! Hier is nou iemand om mee te praat. Dit sal nie meer so alleen wees nie. Jan is gedurig buite doenig met die boerdery. Met haar ma het Salome nog nooit gesels gehad nie; hulle het nog nooit iets vir mekaar te sê gehad nie. Maar die nuwe inwoner …
“My naam is Salome. Kan ek jou maar Rosalie noem?”
“Natuurlik!”
“Dis ’n mooi naam. Ek hou daarvan. Rosalie. Ek is bly jy is hier, en ek hoop jy sal nog baie gelukkig wees hier by ons.” Sy sien die twyfel in die blou oë en dwing met jeugdige moed en hoop haar eie bedenkinge terug. “Jy moet jou nie aan Ma steur nie. Sy is maar so. Jan is ’n goeie ou. Hy sal vir jou goed wees.”
“Ek weet.” Vir die eerste keer lag die nuwe bruid. “Ek hoop ons twee sal groot maats word.”
“O, ons sal. Hier is jou koffers.” Salome kyk berekend na haar broer. “Jan, jy moet Ma se dubbelbed hier inbring en dié twee enkelkatels in Ma se kamer inskuif.”
Jan kyk sy sussie onseker aan. “Ma sal nie daarvan hou nie.”
“Sy het nie ’n dubbelbed nodig nie. Ek sal vir haar gaan sê.”
Rosalie tree vinnig tussenbeide, die angs helder in haar oë. “Asseblief, Salome, hierdie katels is heeltemal goed vir ons, nè, Jan? Ons wil nie jou ma verontrief nie. Ons sal regkom.”
Maar Bessie Truter se bloed vloei ook in haar dogter se are. Salome neem net skielik oor en reël sake só beslis dat haar broer hom skoon verwonder. “Natuurlik moet julle die dubbelbed kry. Alle getroude mense slaap op dubbelbeddens. Dit hoort so,” laat sy wysneusig hoor en die twee pasgetroudes kyk mekaar verleë aan. “Sleep solank hierdie beddens uit, Jan. Ek gaan vir Ma sê.”
In die kombuis kyk Bessie Truter haar vasbeslote dogter met misplaaste geamuseerdheid aan. “Dink jy die dubbelbed sal help?”
Haar dogter verras haar egter ook. Ook Bessie Truter vind vandag uit dat haar dogter ongemerk grootgeword het en dat sy ’n wil van haar eie het. Die groenbruin blik is reguit en sonder enige verleentheid. “Dit sal minder help met twee enkelbeddens.”
Salome kry haar sin. Daardie aand slaap Bessie Truter met haar groot liggaam op die smal ysterkatel, al brommend en ontevrede oor die ontydige trouery van haar seun en die wittebroodspaartjie verdwaal amper in die groot ledekant wat byna die hele buitekamertjie vol staan.
Daar is ’n sagte glimlag om Rosalie se lippe toe sy vinnig tussen die silwerskoon lakens inglip wat Salome self kom oortrek het. Toe Jan oomblikke later binnekom, is dit skielik sy wat aan die groot, verleë man moet leiding gee; wat hom moet laat tuis voel in dié kamertjie waarin hy al jare lank slaap, maar wat vanaand skielik ’n vreemde plek vir hom geword het.
“Ek hou verskriklik baie van Salome, Jan. Sy is ’n oulike kind en baie ryp vir haar ouderdom. Ons sal goed klaarkom.”
Jan se oë bly onseker. “Ja, sy is … gaaf. Ons is baie na aan mekaar. Ek en Karel, my oorlede broer, het haar maar tussen ons grootgemaak. Ma …” Hy aarsel. “Jy moet jou nie veel aan Ma steur nie.”
Rosalie behou steeds die mooi glimlaggie, haar oë vol liefde op die groot man gerig. “Ons sal regkom. Jy sal nog sien. Ons het net te vinnig op haar afgekom.” Sy hou haar hand na hom uit en trek hom nader en hy is weer die onbeholpe seun op wie sy verlief geraak het. “Moenie bekommerd wees nie, my man. Ons gaan almal lekker saambly hier.”
Jan kyk na die vrou voor hom, sien nie die klein, kleurlose gesiggie met die muisvaal haartjies raak nie. Hy kyk in haar oë, sien die mooi siel wat daarin weerkaats lê. Dís wat hom die eerste keer getref het: haar oë en die sagtheid daarvan. Meteens is sy selfbewustheid weg, weet hy dat hy, ondanks sy ma se donker voorspelling, reg gekies het. Die té maer lyfie en die eenvoudige gelaatstrekke maak nie saak nie. Hy het vir hom ’n vrou gekies met ’n mooi siel – en dis van belang. Want Jan, op sy stil manier, weet dat ’n man moet saamlewe met die vrou binne-in die vrou. Jare gelede was Bessie Truter ’n mooi vrou. Dit bewys die foto in die ou familieraam teen die voorhuis se muur. Stil Jan is deur Bessie se mooi gesig en stewige jong liggaam beïndruk en hy is met haar getroud. Jare later het Stil Jan ontdek dat daar niks binne-in sy vrou is waarmee hy kan saamlewe nie. Die sensitiewe man, ingestel op die fyn en mooi dinge van die lewe, moes saamleef met ’n onverfynde vrou wat haar uiterlike skoonheid baie gou verloor het.
Sy seun het hierdie dinge raakgesien en by homself gesweer dat hy eendag nie dieselfde fout as sy pa sal begaan nie. Hy sou eers soek na die vrou ágter die uiterlike, eers kyk of hy met háár die lang pad van die huwelik sal kan saamstap voordat hy na die uiterlike sou kyk. Hy het die vrou na wie hy gesoek het in Rosalie se sagte blou oë gevind. Hy het, voordat hy haar nog goed beskou het, geweet dat hy met die vrou met die sagte, mooi oë ’n lang pad sal kan saamstap. Hy het nog iets geweet. Sy sou nie verander nie. Sy sou nie, soos sy ma, later net mooi op ’n foto wees nie.
Hy kyk nou in haar oë af en sê op sy beheerste manier: “Ek het jou lief, my vrou.”
Haar vingers knel die breë skouers vas en in die blou oë lê daar sterre. “En ek het jou lief, my man. Vir altyd … en altyd.”
In haar kamer lê Salome ook wakker. Sy is te opgewonde om te slaap. Vir haar is Jan se troue en die vrou wat hy so onverwags plaas toe gebring het, ’n groot gebeurtenis in ’n andersins saaie bestaan. Ook sy was oombliklik getref deur Rosalie se oë. Sy het instinktief aangevoel dat sy en hierdie vrou baie na aan mekaar sal kom, nader as wat sy en haar eie ma ooit was. Daar is nou iemand op die plaas met wie sy kan gesels, vir wie sy dinge kan vertel, haar drome en ideale, haar vrese en begeertes. Iemand wat sal verstaan.
Haar ma se optrede het haar beskermingsdrang wakker gemaak, en waar sy met oop oë na die blinkwit sterre van die Karoonag lê en staar, sweer sy dat sy Rosalie sal beskerm, dat Rosalie gelukkig sal wees hier.
Dat die vrou wat Jan vandag so onverwags by die agterdeur ingebring het nog ’n oorheersende rol in haar toekoms sou speel, het die jong Salome op hierdie oomblik nie kon raai nie.
In die weke wat volg, toon Bessie Truter duidelik dat sy nie haar opinie van haar skoondogter sal verander nie, hoe Rosalie ook al probeer om haar skoonma tevrede te stel. Die skoonmoeder verseg woordeloos om haar plek in die huis af te staan aan haar seun se vrou en die dae gaan maar so verby. Solank Bessie Truter lewe, sal Rosalie ’n loseerder in die buitekamer bly. So duidelik is elkeen se gebied afgebaken dat Bessie dit selde nodig vind om haar skoondogter direk aan te spreek, en ’n vreemde, permanente swye heers tussen skoonmoeder en skoondogter.
Soos Bessie Truter die eerste dag voorspel het, word daar nie kinders uit Jan en Rosalie se huwelik gebore nie. Vir hulle albei is dit ’n swaar slag. Jan dra dit op sy stil manier. Rosalie ook. Maar Salome, wat so na aan die lieftallige vrou gekom het, weet van die smart wat so stilswyend gedra word.
Toe die jare die een na die ander verbyrol en dit duidelik word dat Bessie se donker voorspelling bewaarheid gaan word, het Salome ongemerk daardie leë plek begin inneem. Salome het die kind geword wat weggebly het, en Rosalie het die moeder geword na wie Salome al die jare gehunker het.
Dit was ook Rosalie wat ontdek het dat Salome ’n besondere stem het.
Vreemd, dit was een ding wat Salome haar nie vertel het nie – dat sy in die geheim by die rivier gaan sing om uiting aan haar gevoelens te gee.
Rosalie ontdek dit toevallig toe sy op ’n dag ’n entjie gaan stap. Dit is weer een van dáárdie dae waarin die antipatie van haar skoonmoeder haar wil verpletter. Soos altyd wou sy haar maar weer gaan terugtrek in die buitekamer, maar die witgekalkte mure het haar só vasgedruk dat sy na buite gevlug het. Sy het instinktief ’n koers ingeslaan, in die rigting van die rivier begin stap.
Nou kom sy in haar spore tot stilstand, verstomming in haar oë. Iemand is besig om te sing. Pragtige, suiwer note vul die stilte by die rivier. Sy staan doodstil, luister eers tot die laaste noot van die lied wat met soveel oorgawe gesing word, wegsterf. Dan stap sy versigtig nader.
Toe sy om die omgevalle stam van die wilgerboom stap, sien sy Salome voor haar, haar kop agteroor gegooi, haar oë op die blou uiteindes van die hemel gerig, haar donker hare swaaiend om haar skouers. ’n Volgende lied begin, Brahms se wiegeliedjie, en Salome staan weer stil … stom.
Daar is trane in haar oë toe sy eindelik nader loop. Salome swaai verskrik om toe sy die voetval agter haar hoor.
Hulle staan en kyk mekaar net swyend aan. Dan hou Rosalie haar arms oop en die jong dogter hardloop in haar omhelsing in, lê haar kop op die skraal skouer en voel ’n bewende hand oor haar kop streel.
“Hoekom het jy my nog nooit vertel nie?” Haar stem is innig, vol ongeloof.
Salome skud haar kop, weier om dit op te lig omdat sy skielik nie die moed het om in daardie pragtige traangevulde oë op te kyk nie. Rosalie het vandag haar grootste geheim ontdek.
“Ek … weet nie. Ek … sing sommer net.”
“Jy sing nie sommer net nie. Jy sing pragtig!” Sy druk Salome ’n entjie weg en die blou oë kyk haar opsommend aan. “Jy het ’n waarlik besondere stem, Salome. Besef jy dit?”
Die jong meisie glimlag selfbewus en skud haar kop, haar oë eerlik. “Nee, ek … weet nie. Ek sing maar net omdat ek graag wil … omdat ek moet. Dis vir my lekker.”
Die glimlag van ’n trotse moeder is om Rosalie se lippe. “Van wanneer af sing jy?”
“O, vandat ek maar kan onthou.” Salome gaan sit op die ongevalle stam. “Kom ons sit ’n rukkie hier.” Hulle gaan sit langs mekaar en Salome begin eindelik praat oor dít waaroor sy tot dusver nie kon praat nie, ook nie met die mens naaste aan haar nie. “Ek het maar altyd gesing, hier by die rivier kom sing. Ek onthou …” Sy aarsel, vervolg dan met ’n tikkie bitterheid in haar stem: “Ek onthou toe ek eendag in die huis gesing het. Ek was nog klein. Ma het my stilgemaak, gesê ek moet ophou met die getjank. Ek het daarna nooit weer in die huis gesing of enige plek waar iemand my sou kon hoor nie. Ek het hierheen gekom om te kom sing.” Sy glimlag weer effens, maar dis ’n glimlag met ’n vreemde volwassenheid daarin. “Ander kinders, as hulle ongelukkig is, huil hulle. Of as hulle bly is, lag hulle en borrel daarvan oor. Ek sing net … Soos met Karel se dood. En toe jy gekom het. Ek was bly dat jy gekom het. Toe het ek ook hierheen gekom en kom sing.”
Rosalie swyg vol begrip en Salome voel dit aan. Hier is iemand wat verstaan, wat nie lag omdat sy sing wanneer sy gelukkig of hartseer is nie. Hier is iemand wat weet dat dit vir haar baie moeilik is om ’n kind te wees in die klein witgekalkte huisie. Ja. Rosalie begryp hoekom sy rivier toe kom om te sing – waar niemand haar kan hoor nie.
Rosalie verbreek eindelik die stilte. “En die skool? Het niemand, nog nie een van jou maats of jou onderwyseresse al agtergekom dat jy mooi sing nie?”
Salome skud haar kop. “Ek het nie juis maats nie. Niemand weet ek sing nie. Ek neurie maar so saam in die sangklas.”
“Maar hoekom, Salome?” vra Rosalie ontevrede.
Salome se donker kop sak vooroor. “Ek is … Bessie Truter se kind.”
Rosalie skud haar kop. Sy wag, maar Salome sê niks verder nie, asof hierdie enkele sin genoeg verduideliking is. “Ek begryp nie, Salome.”
Die swart kop ruk omhoog. “Nie? Hoe kan jy nie verstaan nie? Ek is Bessie Truter se kind en Bessie Truter se kind stoot haarself nooit voor nie. Hulle sal vir my lag.”
“Hoekom?” wil Rosalie verslae weet.
“Omdat hulle vir Bessie Truter lag. Ja, ek weet hulle spot met haar, praat oor haar groot lyf, haar hande wat soos ’n man s’n lyk, haar manier van praat, haar … alles. Ek weet wat dink hulle van haar, van ons almal. Ek bedoel, nie van jou nie, maar van ons … ons Truters, veral my ma en ek.”
“Salome!”
“Dis waar, Rosalie!” Die groenbruin oë is uitdagend; sy praat met selfkastydende eerlikheid. “Ek sien hoe hulle vergelyk wanneer daar ’n funksie by die skool is en almal se ma’s is daar. Die ander ma’s lyk altyd so … so rég. Ma …” Sy glimlag wrang, skaamte in haar oë. “Jy weet hoe lyk sy as sy dorp toe gaan. Die plathakskoene met die dik kouse, die oorbekende Sondagrok, die stywe bolla, die … die alles! Ek maak maar of ek dit nie raaksien nie, maar ek sien hoe hulle vir mekaar kyk, agteraf lag en knik. En as Ma eers daardie harde lag van haar laat hoor, op daardie harde manier praat sodat almal binne ’n kilometer haar kan hoor …”
Rosalie besef dat sy hier met iets groots te doen het, iets wat miskien te groot is vir haar om te hanteer. Maar daar is niemand anders om die arme kind balans en perspektief op haar probleem te gee nie. Dis net sý wat aan Salome leiding kan gee. Sy begryp Salome se probleem, maar sy besef ook dat Salome dit heeltemal uit verband het. Sy sal haar uit hierdie groef waarin sy verval het, moet kry, want selfs as leek besef Rosalie dat die Vader Salome op ’n besondere wyse uitgesonder het.
“Jy stel my baie teleur, Salome. Ek het gedink jy is baie volwasse vir jou ouderdom. Die Vader het jou ’n wonderlike talent gegee en jy versteek dit vir almal omdat jy Bessie Truter se kind is. Elke mens is ’n mens uit eie reg, Salome. Jy gaan nie eendag, wanneer jy verantwoording moet doen vir die gawes wat God aan jou gegee het, met daardie verskoning verbykom nie, weet jy? Want dis geen verskoning nie. Die talent is aan jóú gegee, nie aan jou ma nie. Weet jy wat dink ek? Ek dink jy gebruik jou ma as verskoning omdat jy nie genoeg moed het om hierdie wonderlike talent wat jy ontvang het, te ontgin en tot volle wasdom te bring nie.”
“Rosalie!”
“Ja. Ek dink so. Ek sal jou ook vertel wat ek nóg dink. Ek dink jy ly aan ’n onnodige minderwaardigheidskompleks omdat jy Bessie Truter se kind is. Ek wil jou vandag iets sê, Salome, iets wat ek hoop jy altyd sal onthou: Uiterlik en op die oog af is jou ma eenvoudig en steek sy af teen jou maats se moeders. Maar ek het lank in die poskantoor gewerk en ’n mens hoor daar baie dingetjies.
“Baie van die vroue wat uiterlik so goed vertoon, is van binne verrot. Dis iets wat jy nog in die toekoms sal leer, Salome. Die uiterlike is so misleidend. As ’n mens die uiterlike ignoreer en jy vergelyk Bessie Truter met baie van hulle, dan staan jou ma kop en skouers bokant hulle uit. Ek dink nie een van daardie vroue sou as ’n arm weduwee drie kinders alleen kon grootmaak nie. Met die twee groot hande waaroor jy so skaam is, werk sy om die wolf van die deur te hou en om ’n eerbare bestaan te kan voer. Met haar groot liggaam kan sy harde plaaswerk verrig waarvoor enige ander vrou sal wegdeins.”
Rosalie kyk teer af in die groenbruin oë wat haar half geskok aanstaar. “Jou ma is nooit die kans gegun vir die fynere dinge van die lewe nie, Salome. Sy is die ongeslypte diamant. En omdat daar selde begrip vir háár behoeftes was, indien ooit, kan jy in alle menslikheid nie verwag dat sy begrip sal hê vir ander se daaglikse behoeftes nie. Begrip is iets wat aangekweek word, wat groei. Veral die begrip vir die mooier en fyner en hoër dinge van die lewe. Maar jou ma se hele bestaan wentel om die daaglikse brood en om daardie brood te bekom sonder om iemand ’n sent te skuld. Sy kap die pad vir haar en haar kinders met harde, genadelose werk oop en voer ’n eerbare bestaan.
“Diep in haar wese is Bessie Truter ook ’n vrou, met dieselfde verlange as elke ander vrou. Maar omdat sy haarself geskool het op die pad van plig, het sy afgestomp geraak. Miskien het sy ook verlang na beter dinge; fyner, hoër dinge. Maar die harde werklikheid van die lewe het haar nie die kans gegun om daardie begeertes te troetel nie en omdat die lewe soms ook genadig kan wees, het hy dit binne-in haar laat sterf.”
Salome skud haar kop ongelowig. “Ek kan nie glo dat Ma …”
Rosalie glimlag. “Dit maak eintlik nie nou meer saak nie. Dis jý wat saak maak. Jou talent mag nie verwaarloos word nie, Salome. Met jou stem gaan jy aan die wêreld wys waar Bessie Truter se dogter kan kom … of het jy nog nooit drome oor jou sang gedroom nie?”
Salome bloos, knik dan. “Ja, verspotte goed soos hoe ek die wêreld gaan verower, die juwele wat ek gaan dra, die deftige hotelle waarin ek sal tuisgaan!” lag sy. “Al die onmoontlikste dinge, natuurlik!”
Rosalie se gesig versober. “Dis nie onmoontlik nie.”
Ook Salome se glimlag verstar en sy kyk haar skoonsuster skerp aan. “Jy probeer net gaaf wees.”
“Nee. Ek wéét dis moontlik. Ek weet net dat jy dit sal kan doen; al die dinge waaroor jy al gedroom het, sal kan verwenslik. Jy gáán dit nog doen, Salome. Luister wat ek vandag vir jou sê.”
“Maar … hoe?” Die jong meisie sprei haar hande oop. “Hoe?”
“Ek weet nie.” Rosalie frons. “Ek weet nie nou presies hoe nie, maar jy gaan ’n groot sangeres word.”
Daardie aand om die kombuistafel is dit besonder stil. Nie dat daar juis ooit baie gesels word nie, maar dis of elkeen vanaand dieper as gewoonlik in hul eie gedagtes versonke is. Bessie en haar seun lyk bekommerd. Dis nie moeilik om te raai waaraan hulle dink nie. Die mense in hierdie wêrelddeel dink baie aan een spesifieke onderwerp – reën. As dit nie gou reën nie, gaan daar dikkop uitbreek. Die vroeë reëns was vanjaar betyds en die opslag en jong dubbeltjies staan plaatgroen in die leegtes. Maar as die reën veel langer gaan uitbly, gaan die dubbeltjies verlep en dan weet die geharde boere wat om te verwag.
Rosalie het net een ding in haar kop – Salome se talent en dat dit nie langer onder ’n maatemmer verberg mag word nie. Sy behoort sangonderrig te ontvang – maar waar en by wie en veral hoe? Dit kos geld – en geld is daar nie. Tog weet sy dat ’n plan beraam móét word. Salome se talent moet ontwikkel word.
Salome sit en kyk op haar beurt haar skoonsuster ondersoekend aan. Sy weet intuïtief waarmee Rosalie se gedagtes besig is en sy bestudeer haar gesig intens. Rosalie sal haar help. Sy weet dit. Sy het ’n grenslose vertroue in haar skoonsuster. Rosalie sal haar nie in die steek laat nie.
Rosalie het vanmiddag drome in werklikhede omskep. Tot dusver was Salome nog altyd tevrede met haar drome. Maar ná vanmiddag besef sy dat eendag onverwags ontstellend naby gekom het. Rosalie se geloof in haar sang het dit nader getrek tot in die hede.
Sy twyfel geen oomblik aan haar skoonsuster se oordeel nie. Sy het, sedert Rosalie deel van hul gesin is, geleer dat Jan se kleurlose vroutjie baie meer in haar het as wat met die blote oog raakgesien word. Rosalie mag ’n weeskind wees wat in ’n kinderhuis grootgeword het en self ook nooit kanse in die lewe gekry het om te toon wat werklik in haar steek nie, maar Rosalie is nie onnosel nie en sy het ’n diepte in haar waaruit Salome met vreugde put.
Salome besef vanaand eers hoeveel ryker haar lewe geword het sedert hierdie vrou in hul huis bly. Die boeke wat Rosalie gereeld by die dorpsbiblioteek uitneem, het ook ’n nuwe wêreld vir Salome laat oopgaan. Die musiekprogramme oor Jan se radio waarna Rosalie haar nooi om te luister, het nuwe perspektiewe gebring. Ongemerk word haar broer se vrou haar grootste en belangrikste opvoeder.
Salome kyk na haar broer en ma en sy dink terug aan die gesprek van die middag. Bessie Truter het nog nooit ’n goeie woord vir haar skoondogter gehad nie, selde enige woord, maar Rosalie het haar vandag teen haar eie dogter verdedig. Salome onthou nou wat Rosalie vanmiddag gesê het van haar ma se groot hande waarvoor haar dogter haar skaam, en skielik styg ’n ander soort skaamte in Salome op. Rosalie was weer reg. Haar ma is die ongeslypte diamant. Waar sou hulle gewees het as hulle nie ’n ma gehad het wat, toe hulle klein was, kon raakvat nie? Waar sou hulle vanaand gewees het as Bessie Truter nie ’n paar groot hande en ’n sterk liggaam gehad het nie?
Haar blik dwaal verder deur die klein kombuisie. Goed, dis eenvoudig; voorsien van net die allernodigste. Geen tierlantyntjies of weelde nie. Maar dis skoon, kraakskoon, van die witgeskropte tafel tot by die witgekalkte mure. En dis betaal. Alles hier om haar is betaal. Daar lê nêrens rekenings wat wag om betaal te word nie. Elke ding wat op hierdie plaas in die mond gesteek word, of aangetrek word, of gebruik word, is betaal.
’n Eerbare bestaan vir haar en haar gesin uitgewerk met eerlike arbeid. Dis Bessie Truter. ’n Ma om jou voor te skaam? Salome se blik sak.
Laat hulle lag. Laat almal maar lag. Diegene wat die hardste lag, kan dit dikwels die minste bekostig om te lag. Sy, Salome, is wel nog ’n kind, maar groot genoeg om, nes Rosalie, allerhande dingetjies te hoor wat in die dorp se strate gefluister word. Sy weet Rosalie het gelyk gehad. Baie van die vroue verberg baie lelike eienskappe onder die pragtige klere en moderne kapsels. Laat hulle dan maar lag vir haar ma se plathakskoene en dik kouse, vir die manier waarop sy soms ’n ding te reguit en taktloos kan sê, vir die lag wat gewoonlik te hard uit die groot bors bars. Laat hulle dan maar liewer oor dáárdie soort dinge lag.
In nederige dankbaarheid besef Salome dat niemand nog vir Bessie Truter se karakter kon lag nie. Niemand het nog ooit die voorreg gehad om oor Bessie Truter te fluister nie. Waar Bessie Truter trap, sit ’n groot spoor, maar dis ’n reguit spoor, besef Salome met ’n knop in haar keel.
Sy sluk. Rosalie was nog ’n keer reg. Sy sál hulle almal wys wat in Bessie Truter se dogter steek. Sy gaan nie langer by die rivier sing nie. Môre het hulle weer sangklas en dan gaan sy uit volle bors sing en laat dié wat wil lag, lag.
Toeval of beskikking, maar dit gebeur so dat ’n vreemde man die volgende dag die skoolsaal binnestap toe die hoërskoolleerlinge sangklas het. Niemand kan raai wie hy is nie, en tot hul verbasing stap die man ook nie weer uit nadat hy met die sangonderwyseres ’n paar woorde gewissel het nie. Toe juffrou Dunn haar dirigeerstokkie lig en hulle begin sing, stap die man tussen hulle deur.
Salome is half ontsenu deur die man se teenwoordigheid. Dan sê sy in haar gedagtes op egte Bessie Truter-styl: Hy is net nog ’n mens. Toe maak sy haar mond oop.
En Salome sing. Sy maak haar oë toe en sy verbeel haar sy is by die rivier. Om haar begin die stemme die een na die ander verstom stilbly, maar sy sing voort tot die klavier ophou. Dan maak sy haar oë oop om in dié van die vreemdeling vas te kyk. Hy, soos die ander in die saal, kyk haar met verdwasing aan.
“Sing weer! Enigiets! Sing weer!” sê hy intens.
En Salome sing, maar hierdie keer met oop oë, oë wat sien dat almal haar vreugdevol aanstaar. En niemand lag nie! Dis sy wat eerste glimlag, al breër en breër, totdat die lag in haar stem borrel en saam met die suiwer tone jubel. Hulle luister na haar … en hulle lag nie! O, Rosalie! Rosalie! Dankie!
Daardie middag storm Salome op die wagtende bakkie af toe sy gewaar dis Rosalie wat haar vandag by die skool kom haal.
“O, ek is bly dis jy wat my vandag kom haal,” laat sy laggend hoor.
Rosalie kyk haar belangstellend aan. Sy het Salome nog nooit so opgewonde gesien nie. “Het daar iets gebeur?”
“Gebeur?” Salome lag uitgelate. “Ek het gesing vandag! Voluit gesing in die sangklas en … O, Rosalie, jy sal nooit raai nie!”
Rosalie glimlag moederlik. “Niemand het gelag nie!”
Hulle kyk mekaar ingenome aan. “Hoe het jy geweet? Ja, niemand het gelag nie. Die klomp was te verslae! Maar dis nie al nie! Toevallig kom stap die sanginspekteur toe ook vandag die saal binne en hy … hy was werklik baie opgewonde. Hy het my na die hoof se kantoor geneem en vir meneer Gründling gevra of hy bewus is van die vonds in sy skool. Meneer Gründling was net so verslae! Toe het hy, dis nou die inspekteur, sy hand op my skouer gesit en gesê ek gaan dit nog ver bring met my sang. Juffrou Dunn, die musiekonderwyseres, het my ook nou net voor die klok gelui het, laat roep. Sy het my eers gekapittel omdat ek my stem so lank weggesteek het. Sy sê ek staan nog al die jare met my mond vol tande terwyl ek so ’n talent het!
“En toe, en dis die wonderlikste van alles, toe sê sy ek moet kom dat sy vir my klas gee. Sy sê sy het nie veel kennis van sangonderrig nie, maar sy sal my darem die elementêre beginsels kan leer. O, Rosalie, is dit nie wonderlik nie!”
Rosalie knik en die vreugde in die blou oë vertel Salome dat haar skoonsuster ten volle in haar vreugde deel. “Wat sal die sangklasse kos? Ek het juis vandag gekyk hoeveel ek nog in my spaarrekening het. Ons kan daarvan gebruik vir jou klasse.”
Salome skud haar kop, haar oë meteens gevul met trane. Liewe Rosalie! “Nee, dit sal niks kos nie. Ek het juffrou Dunn gevra, maar sy het gesê sy sal my graag help en dit sal niks kos nie.”
“Dis wonderlik gaaf van haar.”
“Ja, maar almal was so gaaf, ís skielik so gaaf. O, dis ’n wonderlike, gawe wêreld, Rosalie!”